Erkenning aan Canva vir die prente van die kat en die saffraan.
“Skryf tog net soos wat jy praat” en “Moenie windgat skryf nie!”
Dis wat ek in my loopbaan van 50 jaar as joernalis by redakteurs geleer het. En uitgevind dat dit vir die lesers werk.
Goed, daar is ’n groot verskil tussen ’n koerantstorie en ’n boekresensie. Baie resensies (veral fiksie) word deur hooggeleerde akademici en letterkundiges geskryf vir wie ek groot respek het. Mens kan altyd by hulle leer.
.............

................
Maar is ’n resensie dan nie ook ’n stuk skryfwerk wat op sy eie kan staan nie? Het dit (sonder om gatkruiperig te wees) nie ook ten doel om lesersvriendelik te wees en die boekbedryf te ondersteun nie? Moet elke resensent dan nie ook ’n persoonlik styl en aanslag hê nie?
Soos wat ek resensiekunde verstaan, gee jy ’n kort, lesersvriendelike opsomming van die boek, haal interessante dele as lusmakers daaruit aan, voorspel wie dit sal lees en skryf oor dit wat jou gepla het.
In eenvoudige maar ordentlike Afrikaans. Vir die gewone leser.

.................
’n Bekende uitgewer het eenkeer vir my gesê meer joernaliste behoort boeke te skryf, want hulle word geleer hoe om toeganklik te skryf. Dink aan Deon Meyer, Chris Karsten, Marita van der Vyver en Rudie van Rensburg, almal gewese joernaliste.
Die bemarker van ’n ander uitgewery het vir my gesê daar is twee soorte skrywers: dié wat vir boekpryse skryf en dié wat vir die gewone leser skryf. Moet jy nie allereerste vir jou lesers skryf nie?
................
Die bemarker van ’n ander uitgewery het vir my gesê daar is twee soorte skrywers: dié wat vir boekpryse skryf en dié wat vir die gewone leser skryf. Moet jy nie allereerste vir jou lesers skryf nie?
.................
Die onderwerp van onverstaanbare resensies is verlede week op die brieweblad van Beeld bespreek.
Daar is op Facebook en in die brieweblaaie gespot met resensente wat woorde soos “funesties”, “lavranties” en “hilaries” gebruik. Beskrywings waarvan ek soveel weet as ’n kat van saffraan.
Alten Hulme skryf op die brieweblad dat hy baie daarna uitgesien het om ’n sekere boek te lees, maar met hierdie beskrywings byna tou opgegooi het. Hy wil weet waarom mens oor ’n boek wat in gewone Afrikaans geskryf is, in ’n volksvreemde taal lees.
Elize Cerfonteyn bedank Jonathan Amid, een van die heel beste resensente in Suid-Afrika (terloops, hy is ook hooggeleerd), oor sy “heerlike en eerlike” resensies.
Daar is g’n sprake van Oosterse geskrifte en aanhalings van skrywers so ver terug soos Shakespeare en ons eie Langenhoven nie, skryf sy.
Maar daar verskil ek dalk ’n klein bietjie, want daar is soms niks so lekker soos ’n aanhaling van ’n filosoof oor byvoorbeeld ’n onderwerp soos verlies om ekstra stukrag aan ’n resensie te gee nie. Solank dit net in gewone Afrikaans is.
Dana Snyman skryf toeganklik en is seker een van die gewildste niefiksieskrywers in die land. En C Johan Bakkes, wat dikwels vertel dat hy die mees onbekroonde skrywer in die land is, trek vol sale by sy boekbesprekings.
Hoekom? Dis ooglopend.
Skrywer Bets Smith wonder of die woord “hilaries” nie dalk ’n “plein kommin anglisisme” is nie, of is sy onnosel?
Dan Roodt meen mense maak beswaar teen vier byvoeglike naamwoorde in ’n sekere resensie wat te latinisties sou wees. Maar hy dink almal het die betrokke woorde verstaan.
“Deesdae kan mens ook woorde op jou selfoon naslaan of vertaal. Hoekom moet ons dan só eenvoudig of platvloers skryf?” vra hy.
Hy vervolg: “Ek hou ook nie veel van latinismes nie, omdat ek dink dat Afrikaans 'n Germaanse taal is wat verdien om as sodanig te bly voortbestaan. Maar diegene wat beswaar het teen 'n Franse leenwoord of twee (soos ’navrant’ of ’funeste’, wat in elk geval via Nederlands in Afrikaans beland het en reeds jare lank in ons taal bestaan), sê gewoonlik niks oor die liederlike anglisismes wat deesdae gedy soos ’Ek hardloop uit tyd uit’ of daardie Engelse ’doen’ in antwoord op 'n vraag nie: ’Lees jy 'n boek? Ja, ek doen.’
“Of moet ons dalk nie meer ’fontein’ of ’sampioen’ sê nie, want dis ook ’ingewikkelde Franse woorde’?” vra hy.
Ek vind sy verduideliking van die oorsprong van sekere woorde baie interessant.
Hy verwys na die HAT wat agt betekenisse van "eenvoudig" beskryf en ten minste vyf van hulle is negatief: "ongekunsteld, nie van hoë stand nie, onnosel, minderwaardig, sleg", ens.
Bruno Andries, ’n wel ter tale gebore Belg wat ’n vertaler, digter, liriekskrywer en skrywer van kinderboeke is, vind dat party groot name in die letterkunde hulself oorskat.
Dan skryf hy tong-in-die-kies: “Ek kondoneer u erudiete visie aangaande hierdie kwessie van primordiale linguistiese belang.”
Terloops, hy is sewe tale magtig en beskou Afrikaans, wat sy sewende taal is, as sy moedertaal.
Roodt meen mens hoef nie “platvloers” te skryf nie.
Maar is “platvloers” noodwendig die teenoorgestelde van “pretensieus”?
Ek glo nie.
Lees ook:
Kommentaar
Vloektaal wat oral ingesluip het. Selfs by Litnet.
Dis nooit snaaks nie, maar wel altyd platvloers.
Ek versus na windgat, ingeval julle dit miskyk.
Uitstekende artikel.
Dankie Johan.
Verlekker my aan die buiging na my drie eietydse kollegas by (Die) Volksblad: Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg. Dis ook Carla van der Spuy selwers se komvandaan. Gelukkig verdwyn koerante se mense nie saam met koerante nie.
As 'n obsessiewe leser en boekkoper wonder ek of die uitgewers enige idee het van hoeveel boeke nie gekoop word nie, danksy 'n resensent wat die potensiële koper die harnas ingejaag het deur die grootsprakerigheid van enkele werklik breedsprakige resensente. Alhoewel ek hulle vermoëns nie wil afkraak nie, sit dit my as lekeleser so af - veral 'n sekere resensent van digbundels - dat ek sondermeer verder blaai - klaar geresensent (nuwe woord vir u as u een soek). Maak my lus vir die boek en vergeet die eie ego. Dis nie 'n politieke verhoog nie.
Pieta, dis hoekom ek ook graag lesersindrukke op Faceboekblaaie soos Lekkerboekleesrak en Koekemakranka lees.
Hieroor is al so baie gepraat en geskryf. Elke resensent kan 'n eie styl laat deurslaan, maar die resensie moenie oor die resensent gaan nie - daarom moet die resensent nie probeer wys dat hy/sy "ook kan skryf nie", maar in die eerste plek aan die leser vertel hoe die boek opweeg en waarom, watter genre dit verteenwoordig en in breë trekke waaroor dit handel. Relevansie in vandag se lewe en dalk ook hoe die boek by die skrywer se oeuvre inpas, indien daar een is, en/of by soortgelyke boeke van ander skrywers. Die blad waarin die resensie verskyn en die bedolde mark speel ook ’n rol, uiteraard. Op die keper beskou: Sodra die resensent se ego inmeng met sy/haar taak, is dit nie ’n goeie aanbod nie. Persoonlik irriteer dit my ook wanneer resensente die storie (oor)vertel - veral asof die leser van die resensie moet weet wie die karakters in die verhaal is.
Wyle Johan Combrink het beweer ‘n mens kan alleenlik uitsprake maak oor anglisismes as jy Afrikaans ken tot voor die 17e eeu.
Hilaries ‘n anglisisme?
Funeste en navrant staan in woordeboeke en sinoniemwoordeboeke.
Volksvreemde taal? Miskien ken ek net Louis Eksteen se sinoniemwoordeboek goed. En ‘n mens moenie woorde herhaal in ‘n resensie nie.
Luister na hoe mense praat. Maar skryftaal in ‘n resensie stel ander eise.
Platvloers versus pretensieus?
Ek het gepraat van navrant; nie lavranties nie.
En wanneer ‘n mens die boek lees wat geresenseer is, handel dit oor taalmisverstande!
Resensie | Corlia Fourie en Annelize van Rooyen (Samestellers) - Draaie, swaaie en afdwaalpaaie: reisstories | Queillerie, 2024
Oor die sogenaamde faux-pas:
Reis het met altyd taalmisverstande te make. Of met die afwesigheid van taal. In die afdeling Die tale wat ons praat, is daar ‘n subtiele faux pas, hilaries weergegee deur Renée Rautenbach Conradie met ‘n slim slot. Kort en kragtig met ‘n blomnaam met funeste gevolge: spyker-my-by-die-tuinhekkie. Stywerug en tweezerlip Franse in ‘n diplomatieke wêreld word heerlik opgestuur in hierdie snelfiksie.
Dankie vir die taalnavraag. Ons moet seker eers nadink wie is die leser? Daar is sekerlik verskillende soorte lesers?
Joan Hambidge

Werklik interessant oor die opmerking oor Afrikaans tot voor die 17de eeu!
Maar dan verskil die spreektaal soveel van generasie tot generasie.
Ek dink joernaliste het maar net 'n ander manier van skryf as akademici.