Die man wattie kinnes vang, deur Nathan Trantraal
Resensent: Ryan Pedro (Rapport Boeke)
Die man wattie kinnes vang is ’n noemenswaardige boek binne die lys van 2024-publikasies, en sal dit nog geruime tyd bly. Dit is ’n grafiese roman, wat dit binne ander tradisies plaas as dié waarin ’n mens enersyds verhalende lektuur en andersyds geïllustreerde kinder- en jeugboeke plaas.
Ek is geneig om met Mark Siegel van First Second Books saam te stem dat grafiese romans nie ’n genre is nie, maar ’n formaat; ook dat grafiese romans komplekse onderwerpe kan takel en in sommige gevalle binne die groter literêre tradisies gelees kan word. Dis nie sommer net fancy comics nie. Die kritiese hantering van grafiese romans vereis begrip en benutting van die nomenklatuur wat die samekoms van taal en tekening/illustrasie beskryf. In hierdie opsig is Ryan Pedro se resensie van Die man wattie kinnes vang belangrik, gebreke en al – dit definieer die paradigma, en begin ’n nuwe baan in die resensiewese.
Pedro plaas die klem op die vertelling en dié se betekenis voordat hy aandag gee aan die kunselement; met sy interpretasie en kontekstualisering is daar nie fout te vind nie. Hy laat hom minder uit oor die grafiese-illustrasie-element, en is hier op onsekere voet; sy byhaal van Chris Ware is korrek, maar dit is vergesog om Trantraal se kuns te vergelyk met dié van Dennis O’Neil en Hayao Miyazaki. Dit sou meer sinvol gewees het om naas Ware se naam dié van Alison Bechdel te noem, of te wys op die ooreenkomste én verskille tussen Trantraal en Craig Thompson se benaderings tot hul onderwerpe.
Trantraal se sterk punt is die manier waarop hy die verteller assimileer in die kunswerk. Sy keuses van ’n vereenvoudigde realisme dwing sy kykers/lesers om verby die besonder statiese element te kyk en woord en beeld saam te interpreteer. Dit is die moeite werd om te doen, want daar is geweldig baie aan die gang in die boek.
Ryan Pedro het dit wel deeglik in ag geneem; baie van die opmerkings wat hy maak, bevestig dit. Sy ontleding van die tematiek en presies wat Die man wattie kinnes vang beteken is juis, maar ek wonder hoekom hy hom nie uitlaat oor die inleidende gedeelte van die roman oor Oekraïne en Andrei Chikatilo nie. Chikatilo kom tog later in die roman weer ter sprake. Hy swyg ook oor die afsluitingsgedig.
In sy geheel is Pedro se resensie ’n manke. Ek het waardering vir sy heldeverering vir Nathan Trantraal. Dis net jammer dat dit Pedro doof maak vir sy eie veralgemenings. Sou hy “die meeste goeie literatuur vervreem voordat dit beloon” kon verifieer? Ek glo nie. En hoe weet hy dat “wat mense dikwels vergeet, is dat Trantraal ’n suksesvolle stripkunstenaar was voordat hy bekendheid verwerf het as skrywer”?
Die vreemdste is sy kwalifikasie by die opmerking dat Trantraal ’n komplekse verhouding met sy voorgangers gehad het: “Kyk byvoorbeeld hoe hy in Oorlog koppe stamp met Ted Hughes en JM Coetzee.” Vergeet vir eers dat Hughes al in 1998 oorlede is en dat Oorlog in 2020 verskyn het. Mens verwag van ’n resensent (wat boonop ’n digter is) ’n gevoeligheid vir die semantiek. As mens met iemand koppe stamp, impliseer dit ’n twis waarby minstens twee mense in opposisie is en dat daar ’n meningswisseling is; Hughes was al 22 jaar ter siele, en nugter alleen weet of JM Coetzee ooit Oorlog te lese gekry het en gereageer het. Dit sal Pedro baat om in sy resensies meer taalgevoelig te wees.
Die mankheid van die resensie lê vir my daarin dat Pedro nie die grafiese element indringend takseer nie. Op ’n kol verwys hy na die “goeddeurdagte straattonele”. Wat dan van die res? Nie deurgedink nie? Is hy onbewus van die enorme beplanning wat in elke kleinste onderdeel van elke tekeningblok lê? Die visuele tematiek van armoede, so treffend ondersteun deur die styl van tekening en kleur, kan nie oorgedra word sonder die deeglike beplanning van detail nie. Hy vergelyk nie die kleurgebruik in die Oekraïne-deel met dié van die daaropvolgende dele nie. Pedro vra nie vrae oor die afwesigheid van bladsynommers nie; hy spreek hom nie uit oor die papier wat gebruik is vir die boek nie. Hy het geen gedagtes oor die tipografiese vindingrykhede nie, ook nie oor die manier waarop Trantraal doelbewus teen sekere konvensies in werk nie. (Gaan kyk maar na die spraakballonne, die hoekigheid daarvan, die manier waarop die verteller aangewend word versus tradisionele gedagteballonne.)
Hy praat van komposisie en perspektief, van detail en maniere waarop emosie en beweging vasgevang word. Hy verbind daardie dinge via die opnoem van Ware, O’Neil en Mayazaki se name; soos gesê, ’n bietjie vergesog in laasgenoemde twee se geval. Die mees treffende element van Trantraal se komposisies is juis dat daar nie beweging aangedui word met die arsenaal van lyntjies en dinge waarmee dit gewoonlik gesuggereer word nie. ’n Polisiehelikopter in die lug hang staties, met net die buiging van sy lemme wat beweging suggereer. Trantraal gebruik geen speed lines om beweging aan te dui nie. Selfs in tonele waar mense hardloop, is daar ’n gestoldheid-in-die-oomblik. Dít is die styl van die boek, en mens interpreteer dit ook so.
Dis moeilik om te bepaal hoe gou ons weer ’n nuwe Afrikaanse grafiese roman gaan sien. Die man wattie kinnes vang is as projek aangehelp deur die toekenning van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs aan Trantraal, en die publikasie van die boek is moontlik gemaak deur finansiële ondersteuning deur die LW Hiemstra Trust – en steeds kos dit R300.
Die waarde van Ryan Pedro se resensie lê daarin dat hy dit as roman benader het, en die vertelling uitgesonder het vir beligting en evaluering. Belangriker nog: dat hy dit as literêre werk gesien het, nie as strokiesprent nie. 4/10
Sing, Mamma, sing, deur Theresa Papenfus
Resensent: Francois Bekker (Boeke24)
Dit is vir my interessant om Francois Bekker se reaksie op Sing, Mamma, sing te vergelyk met dié van Trisa Hugo. Hugo s’n was ’n emosionele bespreking, en wat sy slim gedoen het, was om nooit in haar resensie te sê presies wat die oorsaak van Theresa en Awie Papenfus se seun Braam se dood was nie. Francois Bekker se reaksie is ’n bietjie meer vanaf ’n persoonlike afstand geskryf, baie bondiger en deeglik gestruktureer. Ek vermoed Bekker het uit die staanspoor gewonder of dit nodig is om te sê wat dit was wat Braam Papenfus sy lewe gekos het; sy besluit mag miskien sensasiesoekers teleurstel, maar hy laat genoeg ruimte vir mense om nuuskierig genoeg te raak oor die boek om dit te wil koop. 6/10
om my kastele in Spanje te sloop, deur Jaco Barnard-Naudé
Resensent: Marius Crous (Boeke24)
Dit raak regtig boring om by alle resensies oor gedigte dieselfde ou ellende op te roep, daarom sal ek dit nie nou doen nie. Marius Crous is ’n resensent wat met groot gesag oor die digkuns skryf; hierdie keer nog meer as vantevore. Té min aanhalings, maar deeglik. Wat my oog gevang het, en waaroor ek my verkneukel het, was die byhaal van Monty Python. Ander mense aktiveer Derrida … 7/10
Portchie. Van Tweeling tot Trafalgar Square, deur Portchie
Resensent: Annelise Erasmus (Rapport Boeke)
Annelise Erasmus op volle toere. Sy het sekerlik haar eie persoonlike evaluering van Portchie se kuns, en sy doen die moeite om Portchie se memoir te respekteer en die eeue oue onderwerp van hoë en lae kuns uiteen te sit. Maar in haar keuse van ’n openingsparagraaf haal sy ’n opmerking aan wat boekdele spreek: “Die ou wat die loket breek met There’s a Zulu on my stoep, terwyl die resensente skree die volk moet gaan Schindler’s list kyk” om Portchie se opvatting dat hy die Leon Schuster van die kunswêreld is te illustreer. Die man wat amper-Afrikaans praat. Die man wat amper-kuns maak? Die ander gedagtestroom wat sy netjies betrek, is dié van geld. Niemand praat so lekker oor geld soos hulle wat onlangs ryk geword het nie. 7/10
Die nege lewens van Mevrou Smit, deur Elizabeth Wasserman
Resensent: Francois Bekker (Boeke24)
Ek het nie die vorige Mevrou Smit-roman gelees nie, maar Francois Bekker het, en ek sal sy woord moet aanvaar dat dit groot pret is. Hy is baie geesdriftig oor die tweede een, en dit is al wat tel. Mens kom gou agter wanneer ’n resensent louerig is oor ’n boek en dit probeer wegsteek. Nie hier nie. So dis nou twee boeke wat ek in die hande moet kry vir die komende beurtkragseisoen. 7/10
Wat sê Bettina? deur Bettina Wyngaard
Resensent: Anschen Conradie (Boeke24)
Bettina Wyngaard se polemiese werk is waaraan ek eerste dink wanneer haar naam genoem word. Dat sy vyftig van haar rubrieke vir LitNet nou kon bundel, is sekerlik ’n baken in haar loopbaan. Omdat ek al self onder Wyngaard se skerpe pen deurgeloop het, het ek Anschen Conradie se resensie aandagtig gelees. Miskien het ek gehoop dat Conradie moerig sou raak oor een van die meningstukke en ons sports op die resensieblaaie sou hê. Sy het kalm gebly en ons vanuit neutrale veiligheid aangeraai om die bundel met vlugsout en sneesdoekies byderhand te lees. Wat goeie nuus is, want dit beteken dat baie van die bydraes nie tyd- of issue-gebonde is nie. Ek het ’n spesmaas die boekhandelaars sou bly gewees het as daar ’n nuwe polemiek uit die resensie kon gespruit het, sou Conradie vir Wyngaard oor een van die onderwerpe getakel het. Soms is dit beter om nie met die ken te lei nie. 5/10
Kommentaar
Oolog, nie Oorlog, Crito.
Hierdie aflewering van Crito verras my, waar dit Marius Crous se resensie aangaan. Crito sê: "Marius Crous is ’n resensent wat met groot gesag oor die digkuns skryf; hierdie keer nog meer as vantevore."
Hierdie wye slotsom is onder begronding. "Meer as vantevore"? Waarmee vergelyk Crito die onderhawige resensie? Watter vorige resensies van Crous is onder die oog gebring?
En wanneer ek Crous se resensie lees, vind ek dit allesbehalwe gesaghebbend. Trouens, die Crous-resensie is 'n reeks opmerkinge oor die bundel wat nie by 'n slotsom of ondervangende waardeoordeel uitkom nie.
Daar is implikasies en insinuasies - die Monty Python-opmerking is verdoemend: dit sinspeel daarop dat die herhaalde verwysing na Spanje laf en verspot is - maar waarom is die heer Crous so bang om sy oordeel duidelik te vel?
Nee, Crito, hier was jou mes so stomp soos 'n bek vol tande.
"sonder begronding"
Ek stem saam met Johanna.
Terloops, ek is nie Johanna Letters nie. Ek plaas my menings onder my eie naam.
Marius Crous skryf belangrike resensies.