Agtergrond van onderstaande brief deur Steward van Wyk
Steward van Wyk, sameroeper van die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs, reageer op hierdie skrywe:
Hoe word ontvangers van die omstrede Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs gekies?
asook op hierdie een:
"Miskien is dit tog goed": Rabie-Wallace-beurs se aansien deur Valda Jansen as ontvanger gered
Hier volg Steward van Wyk se reaksie:
Heindrich Wyngaard en Jason Lloyd se kwaadwillige skrywes (Miskien is dit tog goed: Rabie-Wallace-beurs se aansien deur Valda Jansen as ontvanger gered en Hoe word ontvangers van omstrede Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs gekies?) is teksboekvoorbeelde van drogredenasies. Hulle gaan so te werk: skep ’n vals premis, basuin dit ’n paar keer uit en as dit onbetwis gelaat word, word dit as die “waarheid” aanvaar en gebruik as aksioma in ’n sirkelargument vir verdere valse, selfs lasterlike aantygings.
Voorbeeld 1 van sodanige drogredenasie: Marjorie Wallace (en Jan Rabie) se bedoeling met die bemaking aan die UWK was dat ’n beurs geskep word om ’n opkomende, behoeftige (lees arm, bruin) skrywer te help.
Wyngaard en Lloyd het dit of eerstehands by Wallace gehoor of op goeie gesag verneem van iemand wat na aan die egpaar was of dit is volgens hulle voor die hand liggend, gegewe Rabie en Wallace se sentiment ten opsigte van die bruinmense.
Hierdie aanname is nêrens in Wallace se testament opgeteken nie. Haar testament is immers die enigste dokument wat die UWK kon gebruik om ’n reglement vir die beurs op te stel. Net vir die rekord, stel Wallace se testament die volgende:
Die opbrengs van die erflating moet aangewend word vir ’n beurs wat elke tweede jaar toegeken word ... Die idee is om aan die skryfkunstenaar die geleentheid te gee om vir ’n tydperk (van ’n jaar) skeppende werk te lewer vry van die bekommernisse om ’n inkomste te genereer ... Die Universiteit moet ook ’n komitee van 3 lede wat kundig is in die Afrikaanse skryfkuns aanstel om die kandidate wat aansoek gedoen het te oorweeg op ’n wyse wat hulle goed dink en die beurs aan die suksesvolle kandidaat (wat volgens die komitee ’n verdienstelike kandidaat moet wees) toe te ken.
Met die opstel van die reglement het die bestuurskomitee die mening ingewin van die prokureur, Wikus Riekert, wat Wallace se testament opgestel het, asook verskeie skrywersvriende met wie Wallace gepraat het oor haar voorneme. Almal was dit eens met die komitee se interpretasie van wat Wallace in die vooruitsig gestel het.
Daar is niks wat hoegenaamd aandui dat die beurs aan ’n bruin skrywer toegeken moet word nie. In die lig van Rabie se volgehoue stryd om Afrikaans te bevry van eng rasbeheptheid, sou dit ’n erge mistasting wees om die beurs vir een ras/kleurgroepering te reserveer. Sy toegeneentheid tot sy bruin taalgenote strek hom steeds tot eer en hy sou waarskynlik tevrede voel dat die beurs al hoe meer die volle inklusiwiteit van die taalgemeenskap weerspieël. Lank nadat ek en die res van die bestuurskomitee nie meer betrokke is nie, sal die beurs kragtens Wallace se testament nog aan ’n verdienstelike skryfprojek toegeken word.
Na die ongeoorloofde kritiek op die toekenning van die beurs aan André P Brink in 2010 is ’n regsmening in 2011 aangevra van die universiteit se regsadviseurs, die hoogaanskrewe DLA Cliffe Dekker Hofmeyr. Senior advokaat Van Rooyen het in ’n regsmening die volgende bevestig:
- Die bedoeling van die testatrise Wallace kan slegs vasgestel word uit die bewoording van die testament en versweë bepalings kan slegs ingelees word indien dit ’n noodsaaklike implikasie is. As ’n reël is dit ontoelaatbaar om die bedoeling van die testatrise te vind in ekstrinsieke getuienis en die menings en ideologieë van die kritici van die eerste toekenning van die beurs is irrelevant.
- Daar is geen basis waarop enige oorweging anders as verdienstelikheid (meriete) ingelees kan word nie.
Om telkens die holruggeryde voorbeeld van Brink op te rakel as bewys dat die beurs “omstrede” is, is gewoon kwaadwillig. Die twee gegriefdes gee self toe dat die onlangse boeke deur Brink se weduwee Karina Szczurek en Leon de Kock inderdaad onthul dat hy nie ’n vermoënde skrywer was ten tyde van sy aansoek nie en die geld nodig gehad het vir die navorsing om te skryf aan Philida, ’n slaweroman. Dit bevestig bloot die twee misnoegdes se sinistere argumentvoering.
Om die verhouding tussen Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal by te sleep as rede om laasgenoemde te diskwalifiseer, is swak smaak en lyk eerder na suur druiwe. Die feit is dat die die meriete van die aansoek die deurslaggewende faktor was in die onderskeie beurskomitees se eenparige besluit op ’n wenner.
Drogredenasie 2: Die UWK is die universiteit vir behoeftige bruinmense en moet daarom voorrang aan hierdie groep gee.
Dit is tog ironies en selfs aanmatigend dat die twee “verontregtes”, wat self nog nie vir ’n enkele module aan die UWK geregistreer was nie, hulle uitlaat oor dit waarvoor die universiteit behoort te staan. Elke Bushie (die geliefde term vir UWK-alumni) weet dat die UWK al sedert die tyd van proff Richard van der Ross in die laat sewentigerjare en later Jakes Gerwel, aktief die ras- en etniese identiteit verwerp wat die apartheidsbewindhebbers op haar probeer afdwing het, en haar as ’n nasionale universiteit posisioneer en beywer vir die toegang van alle landsburgers. In die strewe om toenemend ’n internasionaal gerekende navorsings- en onderriginstelling te wees, bly die UWK bewus van haar geseteldheid op die Kaapse Vlakte en het daarom verskeie programme ingestel om die omliggende gemeenskappe te bemagtig.
Gerwel se tipering van die UWK as “Intellectual home of the left” was en is steeds deel van die kritiese en anti-hegemoniese etos van die instelling, maar dit behels nie dat die akademiese gesprekvoering gehalte moet inboet vir ’n polities-maatskaplike projek nie. Die UWK se huidige leuse, “A place of quality, a place to grow, from hope to action through knowledge”, bevestig die verbintenis tot gehalte onderrig en navorsing om verandering teweeg te bring.
As Marjorie Wallace vertroue gehad het in die universiteit om ’n komitee van kundiges aan te stel om die keuring van inskrywings te doen, dan moet mens sekerlik die universiteit vertrou om hierdie taak met die grootste integriteit uit te voer. Dit lyk egter of die twee gegriefdes meen hulle kan dit beter doen as die lys vooraanstaande lede uit die Afrikaanse skrywersgemeenskappe wat al in die beurskomitee gedien het. In alfabetiese volgorde was hulle: Chris Barnard, Abraham de Vries, Anastasia de Vries, EKM Dido, Diana Ferrus, Elias P Nel, Alida Potgieter, Alfred Schaffer, Anneri van der Merwe, Hein Willemse en Ingrid Winterbach.
Die voorsitter van die Departement Afrikaans & Nederlands is kragtens Wallace se testament die enigste konstante lid van die keurpaneel in ’n gegewe ronde van die beurs se toekenning sowel as die bestuurskomitee aan wie die keurders hul keuse moet verantwoord. Net vir die rekord, Antjie Krog was nog nooit ’n beoordelaar of keurder nie, maar het as lid van die eerste bestuurskomitee ’n reuse aandeel in die vestiging van die beurs gehad. Die rede waarom die name van die keurders nie bekend gemaak word nie, is nie om ’n geknoeiery te verdoesel nie. Dit is juis om die betrokkenes te vrywaar van die gifpenne van gegriefdes.
Die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs is ’n gesogte beurs waaruit twee wenromans voortgekom het wat bykans elke literêre prys verower het, insluitende die Hertzogprys en die kykNET Rapport-boekprys.
Die gedenklesings wat die beurswenner moet lewer, is ’n literêr-teoretiese dokument wat skerp insigte lewer in die literêre landskap van die betrokke tyd. Onteenseglik is die beurs iets wat ’n skrywer se lewe onherroeplik verander. Dit sou dwaas wees om dit toe te ken aan iemand sonder ’n skryfrekord.
Ten slotte, as ’n mens om den brode moet skryf en polemies wil skryf, soos Jan Rabie meermale gedoen het, kan jy gerus sy voorbeeld volg: sober skryfwerk van die hoogste gehalte.
Steward van Wyk, Universiteit van Wes-Kaapland
Lees ook:
Persvrystelling: Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs 2018 toegeken
Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas
Onderhoud met Fanie Naudé, beurshouer van die Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs 2014
Heupvuur: André P Brink oor die Jan Rabie en Marjorie Wallace Beurs
"Miskien is dit tog goed": Rabie-Wallace-beurs se aansien deur Valda Jansen as ontvanger gered
Hoe word ontvangers van die omstrede Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs gekies?