Persvrystelling: Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs 2018 toegeken

  • 7

Foto: Amanda Botha

Tyrone Pretorius, rektor en vise-kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), kondig graag aan dat die Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2018 aan Nathan Trantraal toegeken word. Die beurs beloop R400 000 en word toegeken vir ’n skryfprojek. Die toekenning spruit uit ’n bemaking van oorlede Marjorie Wallace ter ondersteuning van kreatiewe skryfkuns in Afrikaans.

“Die Jan Rabie en Marjorie Wallace beurs is die grootste toekenning vir die aanmoediging van skeppende skrywers in ons land en getuig van Rabie en Wallace se visie en ruimhartigheid van gees,” bevestig Pretorius.

Na deeglike oorweging is Trantraal se aansoek eenparig aanbeveel deur die beurskomitee van vooraanstaande skrywers en letterkundiges. Altesame 40 aansoeke is ontvang. Die komitee was oor die algemeen beïndruk met die kwaliteit van die aansoeke wat weereens die lewenskragtigheid en talent binne die Afrikaanse skrywersgemeenskap bevestig het.

Trantraal se deeglik uitgewerkte voorstel behels ’n grafiese misdaadroman wat afspeel op die Kaapse Vlakte en spreek tot kwessies wat relevant is in die breë Suid-Afrikaanse samelewing. Die inhoud en genre is uitdagend, opwindend en vernuwend en het uitgestaan bo ’n aantal werklik uitstekende aansoeke. “Hier is ’n dapper stem,” het een van die beoordelaars gesê, “een wat die grense van die letterkunde verlê.” Trantraal is wel nie ’n nuwe stem binne die literêre omgewing nie, maar soos met sy vorige werke sal ook dié een mense laat regop sit.

  • 7

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    'n Vraag wat die keurkomittee hulle gerus kon afvra, is: Bevorder Trantraal se skryfwerk die soort Afrikaans waarvoor Jan Rabie hom beywer het?

    • Andre Trantraal

      Ja, ou Johannes. Indien Rabie gehoop het dat die Afrikaans wat Nathan Trantraal skryf die Afrikaans verteenwoordig wat die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekers as relevant tot hul eie ervaring en leefwereld beskou. I mean the Afrikaans that Coloured people of the Cape Flats speak, of course.

  • Frederik de Jager

    Veels geluk aan Nathan en alle sterkte met die maak van die boek. Iets nuuts om na uit te sien.

  • Ivonne Coetzee

    Wonderlik, Nathan! Talent soos joune uiteindelik beloon. Sopas "Wit issie 'n colour nie" klaar gelees, gelag en gehuil. Ek is so dankbaar daar is steeds toekoms en 'n nuwe vooruitsig vir jou in jou beroep in die kunste. Dat jy sowaar maar net vir 'n ruk kan skryf sonder die alewige wolf aan die deur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top