Heupvuur: André P Brink oor die Jan Rabie en Marjorie Wallace Beurs

  • 1

 

 

In Die Burger word jy soos volg aangehaal: “Dié toekenning beteken vir my meer as enige ander wat ek nog gekry het.” Wat maak dit vir jou spesiaal?

Daar is heelwat redes. Om mee te begin, het dit gekom presies op die tydstip dat ek die idee vir die roman reg gehad het om te begin. Daar was egter die simpel maar belangrike praktiese probleem dat ek met soveel finansiële en ander praktiese probleme gesit het dat ek amper nie die tyd gehad het om te skryf nie. Nou skep hierdie beurs die geleentheid om, soos die Woord sê, die tyd (letterlik) uit te koop. En dis ’n wonderlike gevoel van innerlike ruimte. Voeg dan daarby dat die prys van Jan en Marjorie afkomstig is, twee vriende wat feitlik lewenslank vir my baie kosbaar is, met wie ek veertig jaar lank op soveel vlakke soveel kon deel. En dat UWK dit administreer, gee daar ook ’n bepaalde belangrike dimensie aan. Veral sedert Jakes Gerwel se tyd het ek ’n baie besondere gevoel vir UWK en die waardes en wêreld wat dit verteenwoordig. Dit sluit direk aan by die gegewe van die roman wat ek wil skryf. Op dié manier het alles net eenvoudig saamgewerk.

Die beurs sal jou in staat stel om vir ’n jaar lank op ’n spesifieke projek te fokus: jou beoogde roman verhaal die geskiedenis van die slawevrou Philida wat in die 19de eeu in die Franschhoek-omgewing gewoon het. Hoe het jy op hierdie onderwerp gekom, en spesifiek wat daaraan interesseer jou?

Op die onderwerp het ek afgekom danksy ’n baie spesiale persoon, Mark Solms, professor in neuropsigologie en eienaar van die wynplaas Solms Delta tussen Stellenbosch en Franschhoek. Hy het die plaas (aangelê in 1691) gekoop nadat hy Houd-den-Bek gelees het, die boek wat ook die merkwaardige museum geïnspireer het wat hy op die plaas ingerig het. Toe hy – en sy skitterende historiese navorser Tracey Randle - my die dokumentasie gewys het waaruit blyk dat twee van my eie voorouers, Cornelius Brink en sy seun Francois, vroeër die plaas besit het, was daar uit die aard van die saak ’n onmiddellike gevoel van betrokkenheid ... En die verhaal van die slavin Philida, met wie Frans ’n verhouding gehad het, was al wat nog nodig was om iets binne-in my te laat gebeur.

Vind jy dit frustrerend dat daar so min hieroor gedokumenteer is? Of ervaar jy dit as ’n uitdaging om die verbeelding sy loop te laat neem en ’n koherente storie te konstrueer? In hoe ’n mate sien jy die skrywer as geskiedskrywer?

In party opsigte is dit ongetwyfeld frustrerend: ek sou veral graag wou weet wat van Frans en Philida se kinders geword het nadat hulle verkoop is, en waar hul nasate vandag is. Maar net soos wat dit by die skryf van Bidsprinkaan – en vroeër Houd-den-Bek – die leemtes in die opgetekende storie was wat my uiteindelik aan die skryf gesit het, is dit die leemtes in Philida se storie wat my as skrywer uitdaag om met my verbeelding die onbekende elemente te probeer invul. As ’n soort huldeblyk, onder meer, aan die slawe van Suid-Afrika wat vanuit hul naamloosheid en onbekendheid tot vandag toe soveel bly bepaal van wat ons ís en kán wees.

Hoe sal hierdie roman aansluit by Houd-den-Bek wat in 1982 uit jou pen verskyn het?

Dit is die gegewe van slawerny wat my sedert Kennis van die aand al aangryp en wat ek graag vanaf soveel kante en vanuit soveel hoeke as moontlik wil verken. Ek weet daar is mense – veral mense wat nog vasklou aan apartheidsbegrippe oor kleur, oor wit en bruin en swart – wat bedenkinge daaroor het dat ek as “blanke” oor so ’n gegewe wil skryf (en selfs dat ek as “blanke” so ’n prys durf aanvaar het), maar ek sou tog hoop dat my hele lewe en bedryf as skrywer al behoort te gewys het in watter mate my hele skryfwerk uit Suid-Afrika en al sy mense voortkom en tot Suid-Afrika en al sy mense gerig is. Maar bowenal: Philida se storie wil ek skryf omdat haar storie ook my storie is. My eie voorouer was daarby betrokke en is een van die karakters. Ek kan myself nie ken tensy ek ook Philida verstaan en deur my eie bloed en gebeente eien nie.

Hoe lank werk jy al aan die storielyn en wanneer sal ons die eindproduk te lese kry?

Ek is al meer as ’n jaar besig met notas maak en navorsing doen en oefenlopies neem, maar met die skryf self het ek nog net-net tentatief begin. Alles moet dus eintlik nog gebeur.

Sou jy die roman geskryf het indien jy nie die beurs ontvang het nie?

’n Roman word nie van buite af opgedwing nie; dit moet diep uit jouself uit kom. Ek sou dus sekerlik een of ander tyd dié roman aangepak het. Maar die deurslaggewende kwessie is die tyd: ek sou nie nou, dadelik, daaraan kon begin werk het nie, en die skryf self sou waarskynlik oor ’n veel langer tyd moes gestrek het. Die beurs maak dit moontlik om dit nóú te skryf, noudat alles presies reg is daarvoor, noudat die yster warm is en die koors hoog loop.

Wat sou 2010 vir jou ingehou het indien jy nie die beurs ontvang het nie?

Bleddie baie werk aan beuselagtighede en onnodighede, net om die tyd vir skryf te probeer oopskoffel.

Gaan jy enige reise vir navorsingsdoeleindes onderneem?

Ongetwyfeld. Ek wil veral by dokumentasie uit Brittanje se Colonial Office uitkom, rondom die tyd van die slawevrystelling. Want een van die baie dinge wat my boei, is dat Frans vir Philida en hulle kinders verkoop het skaars ’n jaar of wat voordat die slawe vrygestel is. Dit gebeur dus in ’n tyd van oorgang: hulle was reeds vry, maar moes nog vier jaar ingeboek bly. En wat my intrigeer, is hoedat dit aansluit by mense in ons midde – swart, bruin, wit - wat ook vandag nog in ’n “oorgangstyd” vasgevang bly en nie kan, of wil, loskom van die kondisioneringe van apartheid nie.

Daar word van die beurshouer verwag om, naas die publikasie van ’n manuskrip, moontlik ook lesings en optredes by akademiese geleenthede van die universiteit te lewer. Het jy al enige aanduiding van wat dit sal behels?

Dit sal nog ooreengekom word, en ek sien baie daarna uit.

Hoe onthou jy Jan en Marjorie? Watter bydrae het hulle tot die kunste gelewer?

Hul bydrae was onberekenbaar. Deur hul beoefening van hul kuns – literatuur en skilderkuns – maar bowenal deur hul menswees: hulle het dit reggekry om by apartheid verby te leef op ’n tydstip dat die Party nog – na die voorbeeld van die Sowjetunie - almagtig was en ’n vrye, oop denke nog amper uitgeslote was. In klein enklawes, soos Robbeneiland, was ’n Nuwe Suid-Afrika al herkenbaar. So ’n enklawe was ook Jan en Marjorie se Cheviot Place nommer 6, waar veral bruin en wit – soos Van Wyk Louw sou sê – saam kon spel aan die kort sillabe “m-e-n-s”.

Is daar nog iets wat jy wou byvoeg?

Dit sal ek liewer later deur die skryf van die boek probeer doen.

  • 1

Kommentaar

  • Eintlik belaglik dat 'n goed-gevestigde skrywer die beurs ontvang het. (Mag sy siel in vrede rus).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top