Hoe word ontvangers van die omstrede Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs gekies?

  • 8

Vermits dit bekend geword het dat die omstrede Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs aan die bekroonde skrywer en digter, Valda Jansen, toegeken is, kan die beurskomitee gerus moeite doen om die riglyne waarbinne dié beurs toegeken word begryplik aan voornemende aansoekers te verduidelik.

Valda Jansen is die wenner van vanjaar se beurs (foto: verskaf)

Dit sou gepas wees omdat dié skrywersbeurs sedert sy eerste toekenning in 2010 aan die nou ontslape skrywer, André P Brink, in omstredenheid verval het omdat die toekenningsriglyne obskuur omskryf is en nie altyd (na bewering) konsekwent toegepas is nie.

Of kan die reëls van tyd tot tyd geplooi word om ’n bepaalde uitkoms binne ’n spesifieke konteks te voed? Dié vrae moet gevra word omdat ’n sekere persoon wat vertroud is met die keuringsproses laat val het dat ’n sekere aansoeker hom of haar “gebrek aan ’n inkomste” as motivering in ’n aansoek aangebied het.

Kort op die hakke van die dubieuse Brink-toekenning is die land se grootste skrywersbeurs in verdere omstredenheid gedompel omdat dit agtereenvolgens in 2015 en 2017 aan ’n bekende Afrikaanse skrywersegpaar toegeken is. Hulle is die vroulike digter, Ronelda S Kamfer (2015) en haar digterman, Nathan Trantraal (2017).

Die moontlikheid dat die skrywersbeurs in verdere omstredenheid sou verval omdat dit agteenvolgens aan ’n bekende skrywersegpaar toegeken is, moes tog by sekere lede van die beurskomitee opgekom het. Of het die sterkte van die aanbieding of motivering van hul onderskeie skrywersprojekte die deurslaggewende rol gespeel? Of was die agtereenvolgende toekenning van die beurs aan die getroudes blote toeval?

Die skrywersegpaar, Ronelda S Kamfer en Nathan Trantraal (foto's: verskaf)

Die aanvanklike objeksie in 2010 is gevoed deur ’n mening dat die beurs nie aan so ’n gevestigde skrywer toegeken moes word nie. Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), wie se Departement Afrikaans-Nederlands die beurs administreer, het toe verduidelik dat dit binne die Rabie-Wallace-bepalings se reëls toegeken is.

Dié skrywersbeurs – ter waarde van R430 000 – word gefinansier uit die Rabie-Wallace-boedel.

Rabie en Wallace het hulle veral bemoei met Afrikaans as taal van ’n breë gemeenskap en reeds daarom was daar toe ’n gevoel dat die toekenning van dié beurs se testament gelees moet word binne die konteks van veral Rabie se taalpolitieke nalatenskap.

So is daar ook toe die beurs bekend geword het aanvaar, dat veral ’n jong en ongepubliseerde Afrikaanse skrywer wat opkomend is en die geld broodnodig sou hê, wat “ ’n Afrikaanse skryfkuns van ’n nie-akademiese aard” beoefen, die prys sou kry.

Belangriker nog moet dié skrywer (soos die reglement dit uitspel): “vry (wees) van die bekommernis(se) om ’n inkomste te genereer” oor die tydperk waarin die beurs toegeken word. Nog belangriker is dat die reglement geen melding maak dat ’n “gebrek aan ’n inkomste” enigsins as motivering aanvaar sou word nie.

Die verbasing en teleurstelling, veral by kunstenaars, joernaliste, digters, skrywers en ander openbare figure was groot toe Brink – wat toe al meer as vyftig jaar lank ’n gevestigde skrywer was en vermoedelik finansieel baie sterk was – dié beurs gekry het.

André Brink is 'n voormalige ontvanger van die beurs (foto: verskaf)

Gevolglik het wyle Zelda Jongbloed, destyds senior adjunkredakteur van Die Burger, ’n beroep op Brink gedoen om die beurs aan die beurskomitee terug te gee. Dit is nooit gedoen nie. Of Brink hom wel daaraan gesteur het, is ’n ander vraag.

Daar kan ook opnuut vrae gevra word oor wat die werklike rede vir die beurstoekenning aan Brink was.

Jongbloed en andere, wat Brink geïnkulpeer het dat hy in die geld rol, se gevolgtrekking oor spesifiek sy “rykdom” was waarskynlik verkeerd. Veral indien Brink se weduwee, Karina Szczurek, se uitspraak in haar memoire, The Fifth Mrs Brink korrek is dat hulle finansieel swaar gekry het in die tyd toe die beurs aan haar man toegeken is.

Daar was selfs ’n tyd toe hulle bang was hulle verloor hul huis, het sy in Maart 2017 in ’n onderhoud aan Die Burger gesê. Volgens Szczurek wou “niemand glo dat dié geld ons huis tot tyd en wyl gered het nie”.

Die vraag wat nou onwillekeurig by my opkom, is: het die beurskomitee (wat op daardie stadium bestaan het uit Steward van Wyk en die skrywers EKM Dido, Antjie Krog en die nou ontslape Chris Barnard) van Brink se beweerde finansiële verknorsing geweet? Was sy finansiële verknorsing enigsins ’n oorweging in die besluit om die beurs aan hom toe te ken? Of was meriete in Brink se uitgewerkte voorstel die enigste oorweging?

Oor die toekenning van die skrywersbeurs aan Trantaal in 2017, het  Tyrone Pretorius, rektor en vise-kanselier van UWK, in ’n verklaring in 2017 nogal heel ironies geskryf:

“Trantaal is wel nie ’n nuwe stem binne die literêre omgewing nie, maar soos met sy vorige werke sal ook dié een mense laat regop sit."

So daar kan dus aanvaar word, indien Pretorius se verklaring (wat na alle waarskynlikheid deur die Departement Afrikaans-Nederlands vir die rektor geskryf is) reg gelees word en so bedoel is, dat veral ’n jong en ongepubliseerde Afrikaanse skrywer wat opkomend is, die prys sou kon kry of moes gekry het.

Reeds daarom is dit nodig om te noem dat al die vorige ontvangers [Brink, SJ (Fanie) Naudé, Willem Anker, Kamfer en Trantaal] van die beurs nie-opkomende skrywers en ook glad nie nuwe stemme is nie. Dit sluit Jansen in, wat in 2016 met die roman Hy kom met die Skoenlappers (Human & Rosseau) gedebuteer het. Dit is in 2017 met die Jan Rabie-Rapport-prys vir die beste debuutwerkfiksiewerk bekroon.

SJ (Fanie) Naudé (foto: verskaf)

Dit laat dus nog meer vrae as antwoorde onstaan oor die riglyne waarbinne die beurs toegeken word.

Bogenoemde vrae is nodig omdat literêre pryse (of beurse) dikwels omstrede is omdat, ten spyte van die aansprake op die teendeel, dit meestal die belange, oordele en vooroordele van ’n klein groepie keurders (beurskomitees) verteenwoordig.

Dit is reeds om dié redes dat die beurskomitee hul stilte oor die omstredenheid rondom die beurs sedert 2010 moet verbreek en antwoorde op die talle vrae verskaf. Tot op hede het dié komitee hierin gefaal.

Indien dit nie gebeur nie, sal die beurs ongelukkig altyd ’n wrangsmaak in diegene se monde laat wat die Afrikaanse letterkunde hoog op prys stel.

 Lees ook: 

Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2020 toegeken aan Valda Jansen

Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020: ’n onderhoud met Steward van Wyk

  • 8

Kommentaar

  • Jason, Brink was wel gesteur deur die kritiek op die toekenning van die beurs aan hom. Lees maar sy roman "Philida" - die projek wat hy voorgelê het - en kyk hoe venynig hy Zelda Jongbloed en Joan Hambidge daarin bykom. Hulle was die mees uitgesproke kritici.

  • Daniel ek het Brink se roman gelees en ook Jakes Gerwel se resensie oor dit. Ek verwys na Brink se reaksie direk na die kritiek en nie na die inhoud van die roman wat jare na die kritiek verskyn het nie.

  • EK dink dis goed om sulke vrae te vra. Maar omdat EK Nou by UWK is, maar nie in dieselfde departement as Steward - hulle nie, Moet EK vir my kollegas opstaan. EK Wil nie spesifieke na Brink kyk nie- maar daar is omstandighede rondom Valda Jansen wat die wye pubkiek nie verstaan nie. EK weet nie Wie die Ander skrywers was wat aansoek vir die prys gedoen het nie- maar my gut gevoel is - dis die regte besluit. Oor die konsep van sukkelende skrywers. EK weet persoonlik n mens Kan voltydse werk he, maar jy Kan nogsteeds n sukkelende skrywers wees. Tweedens EK besef Baie van die skrywers is nie opkomemde skrywers in die streng sin van die woord nie. Maar daar is wel oorwegende faktore Soos die kwaliteit van die voorlegging. As jy kyk na Al die name van vorige Wenners - mens Kan nie stry nie - it was money well spent. Dalk moet die keurders die publiek in vertroue Neem en n Lys uitgee van Ander skrywers wat in aanmerking was vir die toekenning. Die laaste punt is - dis n helse klomp geld. Nog n faktor Kan wees - hoe goed is die kanse dat die Wenner n manuskrip klaar Gaan kry. Al die vorige Wenners het Goeie track records. EK persoonlik sal net n besluit maak nadat EK gesien het wat was die kwaliteit van Ander meedingers vir die prys

  • Corlia Fourie

    Ek dink net, maak nie saak aan wie die beurs toegeken word nie, daar sal altyd skrywers of voornemende skrywers wees wat nie met die besluit saamstem nie, d.w.s. 'n hele klomp ontevrede mense. Dis waarskynlik omdat die bedrag meer is as wat die meeste skrywers na baie harde werk vir hul boeke ontvang. Die meeste van ons sal dus met ons ontevredenheid moet saamleef - nie dat ek al ooit vir die beurs aansoek gedoen het nie.

  • Darryl David eerstens: miskien moet jy Steward van Wyk toelaat om te reageer op Jason Lloyd se briljante stuk en die vrae wat hy vra. Met respek: jy is nie die persoon om te reageer nie. Hoekom? Of jy het nie Jason se stuk gelees nie of jy verstaan niks waaroor dit gaan nie. Om net ʼn eier te wil lê om jou UWK vriende te beïndruk doen jou beeld net skade aan. Jy verstaan niks wat Jason skryf nie. Of verstaan jy Afrikaans? Dit lyk nie so nie.

  • Helena Lombard

    Ek het nou lekker gelag oor party "beskaafde" antwoorde ...
    "Van die os op die jas": waar kan ek uitvind of oorspronklike "sketse"/ tekeninge van Jan Rabie iets werd is? Hy was selfs in daardie rigting baie talentvol! Baie dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top