Is ons paroolsisteem te vertrou?

  • 1

Oscar Pistorius (Foto: Kaston, WikiMedia CC BY-SA 3.0)

Oscar Pistorius is skaars op parool vrygelaat, of die grappies en meme begin, met tipies Suid-Afrikaanse humor.

Wat is Suid-Afrikaanse humor? Gitswart, galbitter, skreeusnaaks, ’n lag met meer as een traan, maar altyd met vlymskerp insig in wat ook al die onderwerp van die grap is, tesame met insig in die nasionale psige. Terwyl Pistorius in hierdie geval die teiken van die grappe is, word daar ook op dieper vlak kommentaar gelewer op ons regsisteem, ons tronke, hoe moontlik rehabilitasie is, en ons paroolstelsel. Natuurlik is dit moontlik om net te lag oor die grap sonder om dieper te dink, maar is die doel van narre histories nie juis om die gesaghebbers op hul foute te wys sonder om te veel op tone te trap nie? Om dieper in die Oscar-grappe te delf, is dan juis om die tradisie van grap-as-sosiale-kommentaar te eerbiedig.

Sommige van die grappe vra hoekom hulle nie maar tot na Valentynsdag kon wag om Pistorius vry te laat nie. Ander verwys na sy tante wat nou nie meer gerus toilet toe kan gaan nie, of die dogters by die skole waar hy na bewering gaan afrig wat nou maar sal moet knyp tot hulle kan huis toe gaan.

...........
Die dieper kommentaar, so lyk dit my, gaan eerstens om die sensitiwiteit van die paroolraad vir tydsberekening rondom die misdryf. Die paroolraad is veronderstel om elke aspek van die misdryf, die oortreder se rehabilitasie, die slagoffer (of in dié geval die oorblywende familielid) se wense en die gemeenskap se belange in ag te neem.
.............

Die dieper kommentaar, so lyk dit my, gaan eerstens om die sensitiwiteit van die paroolraad vir tydsberekening rondom die misdryf. Die paroolraad is veronderstel om elke aspek van die misdryf, die oortreder se rehabilitasie, die slagoffer (of in dié geval die oorblywende familielid) se wense en die gemeenskap se belange in ag te neem. Kan dit wees dat hulle só eng vaskyk in die kalenderdatum waarop hy vrygelaat mag word dat hulle nie die relevansie van Valentynsdag in die pleeg van die misdaad raaksien nie? Of wou hulle juis bewys dat hulle die letter van die wet gehoorsaam, selfs as dit vraagtekens rondom sensitiwiteit laat?

............
Tweedens dui die grappe op ’n gebrek aan geloof dat Pistorius gerehabiliteer is en nie meer ’n gevaar vir die samelewing inhou nie, ’n sentrale oorweging voordat enige misdadiger op parool vrygelaat word.
..............

Tweedens dui die grappe op ’n gebrek aan geloof dat Pistorius gerehabiliteer is en nie meer ’n gevaar vir die samelewing inhou nie, ’n sentrale oorweging voordat enige misdadiger op parool vrygelaat word. Hy is nie veronderstel om toegang tot enige vurwapens te hê nie, maar wie gaan dit kontroleer? En beteken dit sy oom by wie hy bly, moes enige vuurwapens in sy besit prysgee? Die oom is immers nie aan enige misdrywe skuldig bevind nie.

Pistorius is nie veronderstel om alkohol te gebruik nie. Beteken dit die oom mag nou nie alkohol in sy eie huis aanhou nie? Weer is die vraag wie sal dit nagaan? Dit kos ’n baie brawe, beginselvaste, onderbetaalde staatsamptenaar om die oom se intimiderende R20 miljoen-woning binne te gaan en voorwaardes neer te lê. Ek betwyfel glad nie dat daar sulke amptenare bestaan nie, maar hulle hou gewoonlik nie lank voordat die sisteem, die ingeboude korrupsie in die sisteem en die buitensporige respek vir rykdom hulle die hasepad laat kies nie.

Natuurlik is dit nie net met Pistorius dat hierdie gebrek aan geloof in die stelse kop uitsteek nie. Toe Norman Simons, die sogenaamde Stasiemoordenaar, in 2023 op parool vrygelaat is, het dit tot protesoptogte gelei, want mense wou hom nie in hulle gemeenskappe toelaat nie. Hulle het nie geglo dat hy gerehabiliteer is en nie weer seuntjies gaan sodomiseer, vermoor en in vlak graffies gaan begrawe nie. Anders gestel, hulle het verskil met die paroolraad se bevinding dat hy nie meer ’n gevaar vir die gemeenskap inhou nie.

Dalk heers hierdie gebrek aan vertroue in die besluite van die paroolraad juis omdat die proses in soveel geheimhouding gehul is. Natuurlik kan nie alle inligting wat voor hulle gebring word, openbaar gemaak word nie. Vertroulikheid moet gehandhaaf word. Maar selfs die identiteit van die lede van die paroolraad wat in beide gevalle gesit, het is nie geredelik beskikbaar nie.

............
Sou dit ’n verskil maak indien die publiek geweet het wat die kriteria is waarvolgens gevangenes op parool vrygelaat word? Sou dit ’n verskil maak indien hulle bewus was van die vele suksesverhale waar persone wat op parool vrygelaat is, suksesvol herintegreer is in die gemeenskap?
...............

Sou dit ’n verskil maak indien die publiek geweet het wat die kriteria is waarvolgens gevangenes op parool vrygelaat word? Sou dit ’n verskil maak indien hulle bewus was van die vele suksesverhale waar persone wat op parool vrygelaat is, suksesvol herintegreer is in die gemeenskap? Dit is alreeds moeilik vir enige gevangene wat vrygelaat word om die wêreld in die oë te kyk en om as volwaardige lid van die gemeenskap te funksioneer. Met soveel mediabelangstelling en lede van die publiek wat hulle boonop oor hoëprofielgevalle uitlaat, kan ek net dink dat daar soveel meer druk op die gevangene moet wees.

Die publiek en die media se obsessie met glanspersoonlikhede behoort beslis aangespreek te word, maar dalk het dit ook tyd geword vir die paroolraad om opvoeding rondom hul funksies en prosesse te doen.

Dit sal die gevangene en die publiek help, en die raad die geleentheid gee om te toon dat hulle beslissings op feite en deeglike oorweging gegrond is. 

Lees ook:

Skoon wasgoed: Die verhaal van die verhaal van Oscar Pistorius

Die Staat versus Oscar Pistorius: ’n herbesinning – deel 1

Die Staat versus Oscar Pistorius: ’n herbesinning – deel 2

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Die sentrale issue wat herhaaldelik opdoem in die geval, is die feit dat menige mens voel dat die volle waarheid nooit vertel was nie, en sonder die waarheid, word dan gevra, was daar dan ooit ware skuldbesef en berou?

    As mens egter sien hoe dikwels daar in berigte geskryf word oor die misdadiger se lang lys van vorige veroordelings, dan sukkel mens maar om te verstaan hoekom veral geweldsmisdadigers en seksoortreders dikwels op die oog af so maklik borgtog, parool en vrylatings ontvang. Mens kan nie help om maar daaroor te wonder nie. Jy is reg. Dit sal miskien help as die regering veel meer opvoedkundig en deursigtig kan wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top