Skoon wasgoed: Die verhaal van die verhaal van Oscar Pistorius

  • 5

Die jare toe ek deel was van die klein, onafhanklike uitgewery Queillerie, was van die opwindendste in my loopbaan in die boekebedryf. Daarvoor het ek Hettie Scholtz te danke, wat my betrek het by die saak wat sy met wilskrag, sjarme en sweet geskep het. Ek wens enigeen wat met boeke wil werk so ’n geleentheid toe, mits hulle geduld het met ’n bestaan op die randjie van ruïnasie.

Ek sou dit egter nie weer wou doen nie. ’n Paar jaar na Queillerie het Annari van der Merwe my uitgenooi om my by Umuzi aan te sluit. Ook klein, maar deel van Random House, die grootste uitgewery van algemene boeke ter wêreld. Later was ek ook ’n ruk by Penguin, die tweede grootste, en toe smelt die twee wêreldwyd saam tot een magtige globale uitgewery.

Daar is bepaald nadele aan boeke uitgee in ’n korporatiewe omgewing. Die prosesse is punteneurig, slopend en soms ontmoedigend. In alles wat jy doen, loer die spook van “aandeelhouersbelang” oor jou skouer. As mens vir jou eie rekening boeke uitgee, is jy gewoonlik makliker bereid om ’n waagstuk aan te gaan. Waagsaamheid sit aan die wortel van boekuitgewery, omdat niemand vooraf met volkome sekerheid kan sê of ’n boek gaan slaag of nie.

Omgekeerd gaan ’n mens soms, onder die druk van die omset- en winsteikens van jou begrotingsimperatief, teen jou instinkte in ’n titel uitgee wat jy andersins nie sou wou nie.

Een van die groot voordele van so ’n multinasionale reus is egter dat jy vroeë kennis kry van wat elders in die wêreld uitgegee gaan word, en dat jy as lid van die familie vroeg kan spring om byvoorbeeld vertaalregte vir jou eie gebied te bekom. Dit was vir my by Penguin die geval met Zelda la Grange se hoogs suksesvolle Goeiemôre, meneer Mandela, wat ons Britse kollegas in Engels sou uitgee.

Ek wil egter vertel van ’n ander hoëprofielgeval, een wat by terugskoue ’n diep navrante verhaal word. Iewers in 2008 sien ek, destyds by Umuzi, dat ’n Italiaanse filiaal van Random House ’n biografie van Oscar Pistorius op hulle lys het. Die boek was in Italiaans geskryf en uitgegee.

Dit is moeilik om vandag hierdie beroemde en berugte naam te hoor sonder om deur die prisma van die wêreldwye sensasie van sy moordsaak te kyk. Vir dié wat nog nie verstand gehad het voor dié saak nie, sal dit onmoontlik wees.

Maar daar was ’n tyd toe Oscar een van die bekendste en mees bewonderde mense op die planeet was, die voorwerp van suiwer heldeverering. Hy was op die kruin van sterstatus. In die nag langs snelweë het sy beeld tien maal lewensgroot op advertensieborde onder die kollig geskyn. Hy was die man wat van die grootste prestasies in menseheugenis op die atletiekbaan behaal het.

Die 11 Maart 2013 voorblad van TIME (Voorbladontwerp deur Pieter Hugo/The New York Times Syndicate)

Sonder bene het hy ’n Olimpiese naelloper geword. Meer as die meeste ander sportsterre het daardie mitiese aanskyn van die Olimpiese godedom hom aangekleef. Hy was ’n wonder. “The fastest man on no legs,” het die Londense Times hom genoem, ’n frase wat sedertdien in die spreektaal opgegaan het.

Boonop was – is – Oscar buitengewoon aantreklik, sjarmant, sexy en suksesvol. In Italië was hy ’n sensasie op ’n skaal wat ons ons in Suid-Afrika skaars kan voorstel. Die publiek was holderstebolder dol op hom, besete, versot. Die enigste vergelykbare verering van ’n Suid-Afrikaanse sportster het ek in Indië gesien, waar hulle nie genoeg van Jonty Rhodes en sy vlieënde vangskote kon kry nie. Vir Oscar het dit in Italië neerslag gevind in Pirelli, daardie ikoniese Italiaanse handelsmerk, se skuif om hom hulle publieke gesig te maak.

Dat die eerste biografie oor die man dus in Italiaans verskyn het, moet nie ’n verrassing wees nie. Die boek is deur die groot Italiaanse filiaal van Random House, Mondadori, uitgegee by hulle sagtebanddruknaam Biblioteca Universale Rizzoli. En nogal onder ’n Engelse titel, Dream runner. Ek raai dis ’n naam waaronder Oscar reeds in Italië bekend was. Hy was spreektaal.

Dit is nie die maklikste ding in die wêreld om met Italianers te onderhandel nie. Hulle was veeleisend. Onder meer wou hulle, om redes wat ek nie kan verstaan nie, nie meer as ’n eerste drukoplaag lisensieer nie. Toe die boek flink verby die eerste oplaag verkoop, moes ek bontstaan om betyds ’n tweede oplaag gekontrakteer te kry.

Maar ek spring vooruit.

Daar is nie baie mense wat bevoeg in beide Italiaans en Afrikaans is en boonop ’n slag met taal het nie, maar ek het ’n vertaler gekry. Dié het egter, na hy die boek van naderby bekyk het, besluit hy stel nie belang nie. Ek het ’n bietjie rondgeval, toe kry ek gedagte van iemand wat sedert my kinderjare aan my bekend was.

Ek was nog altyd ’n bietjie van ’n nuus-junkie, en by ons was die radio soggens voor skool sonder uitsondering aan op die Afrikaanse diens se nuusprogram, Monitor. Een van my gunstelinge was die weeklikse verslag uit Italië, met humor en warmte gelewer, en elke keer afgesluit met dieselfde sing-song-infleksie: “Dit is Tossie Lochner, Italië.”

Tossie was volksbesit. Wanneer sy Suid-Afrika besoek het, was sy in die koerant. Baie jare na my skooldae was ek eenkeer in die hyser van Nasperssentrum in Kaapstad, toe ek agter my ’n stem hoor wat ek onmiddellik herken het: dié van die nimlike Tossie Lochner. Min het ek geweet dat ek op ’n dag nodigheid sou hê om haar te bel.

Dit was ’n bietjie van ’n soektog. Ek het verneem sy het intussen permanent uit Italië na Suid-Afrika teruggekeer. Uiteindelik het ek haar opgespoor, en sy was gretig om die taak op te neem.

’n Bietjie méér as ywerig, sou ek uitvind. Ek het verbasend baie Italiaans onthou uit my ses maande van aandklasse jare tevore by die Scuola Italiana in Kaapstad. Genoeg in elk geval sodat ek die vertaling reël vir reël teen die oorspronklike kon deurgaan. Ek kon sien waar die vertaler in haar entoesiasme lekker op die oorspronklike voortgeborduur het, en dit uithaal. No hard feelings – liewer só, met hart en hand, as ’n trae medewerker en ’n asvaal vertaling.

Tersyde: Die skrywer en uitgewer van die oorspronklike het dikwels min of geen beheer oor wat aan die ander kant in ’n vreemde taal uitkom nie. Laat staan nog die roofuitgawes waarvan mens agterna toevallig verneem, in Russies byvoorbeeld. Net soms het ons per toeval agtergekom die een of ander boek is heeltemal wegvertaal van die brontaal af, en teen daardie tyd was die koeël deur die kerk. So gaan dit maar, veral as een van die twee betrokke tale vir die ander heeltemal vreemd is.

Ook oor die wyse van uitgawe het ons koppe gestamp met die Italianers. Formaat en ontwerp is gewoonlik buite perke vir die uitgewer van die oorspronklike. Oor die jare moes ons soms van boeke wat ons uitgegee het, heel, héél vreemde voorblaaie en titels in ander tale sien. Ek het in hierdie rubriek al vertel hoe Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie in Nederlands uitgegee is as Ik zoek een domme man. Een domme titel, as jy my vra, maar die konvensie is dat die uitgewers in die doeltaal hulle gebied se boekkultuur beter ken en mens nie daarmee inmeng nie.

Ons wou op die voorblad een van ’n reeks foto’s gebruik wat die tydskrif DeKat vroeër by ’n artikel oor Oscar gepubliseer het. Hy was toe nog ’n skaars ontdekte ster. Ek onthou nie wie die fotograaf was nie, maar dit was treffende foto’s van Oscar sonder hemp op volspoed. Die allure was onmiskenbaar.

Die Italianers het egter vasgeskop. Die man is nie ’n sekssimbool nie, was hulle beswaar. Ha! Die Italiaanse voorblad was ’n moontlike sleutel tot hoe hulle koppe gewerk het. Daarop kniel Oscar in ’n groen-en-goue kleefbroek en wessie, onder ’n woeste bol blonde krulle, dramaties by ’n luiperd. Heeltemal te barok en hooggestem vir ons smaak.

Ewenwel, ons het ’n ander foto van hom gevind waar hy na ’n oorwinning, medalje om die nek, ’n bos blomme triomfantelik omhoog hou. Heeltemal mooi en treffend. Vir ’n titel het ons gespeel met moontlike Afrikaanse vertalings van wat ons geweet het ons Britse kollegas húlle uitgawe sou noem: Blade Runner. Niks wou egter werk nie. Lemloper vir seker nie.

Uiteindelik het ons besluit sy voornaam, groot gedruk, is genoeg. Almal weet wie Oscar is. Met die eenvoudige ondertitel Die verhaal van Oscar Pistorius daarby. Dit was een van die rare gevalle waarin ons besluit het om die hooftitel in goudblad te druk. Die goue seun het dit geregverdig. (Jy sal jou verbaas oor hoeveel skakerings van goud daar in die katalogus is.)

Danksy Oscar se agent in Suid-Afrika was ons gelukkig genoeg om ’n bekendstelling in Kaapstad te reël op ’n tyd dat hy in die land was en vry om dit by te woon. Daar was ’n sekere energie om die man. Hy het in ’n raam van selfvertroue beweeg.

Sukses – soos ons verneem het ook in sy geldsake – was in sy uitstraling. Hy was gaaf en grasieus, en het sy sterstatus met ’n vanselfsprekendheid gedra, hoewel sonder in die oog lopende ydelheid.

Wat in die boek gestaan het, het die verskynsel wat hy was, net gedeeltelik verklaar. En dit was reeds merkwaardig.

Hoe sy ouers nooit namens hom gekompenseer het nie, hom net soos sy sibbe grootgemaak het en dieselfde van hom as van die ander kinders verwag het. Hy het die afwesigheid van sy bene nooit as ’n gebrek gesien nie, en het van binne uit geglo – gewéét: Wat ander kon doen, kon hy ook. En hy het.

En toe kom die held – die lemloper, die Achilles onder die aanraking van die gode – voor die hele wêreld tot ’n val.

Deur wat sedertdien gebeur het, het hierdie narratief ’n storie binne ’n groter, algeheel somber storie geword. Ons boek het ingebed geword in wat ander boeke ná die moord vertel het. Dit was soos die skitterende kern van ’n swart ster, ’n gravitasiekolk waarvandaan geen lig ontsnap nie.

Lees ook op LitNet Akademies:

S v Pistorius: Ope geregtigheidspleging, mediadekking van hofverrigtinge en die olifant in die kamer

  • 5

Kommentaar

  • Hetta Pieterse

    Dis so jammer dat mense hulle verlustig as ’n held enige fout maak. So asof almal net wag om iemand af te trek tot hul eie saai bestaan. Mense het net simpatie as iemand uiterlike, sigbare wonde het, maar as iemand misbruik word en emosioneel afgebreek word en enigsins reageer as breekpunt bereik word, word hy vir die varke gegooi ... Die enigstes wat gevrywaar is, is onderpresteerders en verkramptes wat in hul saai bestaan ewig soek na iemand om af te breek!

  • Chris Marnewick SC

    Frederik, die sentrale tragedie van die "val" van Oscar Pistorius is gesetel in die onderliggende gebeurtenis, naamlik dat hy vir Reeva Steenkamp doodgeskiet het in die waan dat sy 'n inbreker was. Dit is 'n hartverskeurende tragedie op sy eie, maar 'n scenario wat aan Suid Afrikaners goed bekend is: Ons leef in vrees vir indringers in ons huise, van die nederigste gehuggie tot die paleise van Houghton en Waterkloof. Pistorius is egter die enigste persoon in SA wat in 'n soortgelyke geval aan moord skuldig bevind is na 'n manslag wat te wyte was aan daardie vrees.

    Daarin vind ons die tweede tragedie. Die publiek het die vervolging se belangrikste bewerings aanvaar as die reine waarheid, terwyl die staat se eie getuies elk van hulle as vals bewys het: 1. Daar was 'n bakleiery by Pistorius se huis ('n vrouestem) tussen 02:00 en 03:00; 2. die huis se ligte was aan; 3. 'n vrou het in Oscar se huis geskree; 4. skote het daarna geklap; 5. Oscar het sy kunsbene aangehad toe hy sy wapen gevuur het. Elk van daardie bewerings was vals en is deur die hof verwerp.

    Die finale tragedie is dat die appèlhof wat Oscar se skuldigbevinding na moord verander het 'n regsdwaling begaan het deur op die feite in te meng (volgens 'n later beslissing van die appèlhof self), en met 'n kunsgreep die sentrale geskilpunt in die saak omseil het om 'n beslissing te regverdig wat die land se voorste strafregkenners as foutief beskryf.

    Dit sou interessant wees om uit te vind wat uitgewers en skrywers van die "ander boeke" waarna jy verwys verdien het uit hierdie tragedie. Die een se dood is die ander se brood, nie waar nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top