Is ’n Bybelvertaling in Kaaps dalk tog nie vêrgesog nie? ’n Perspektief op taalontwikkeling binne die Afrikaanse variëteitebundel

  • 0

Is ’n Bybelvertaling in Kaaps dalk tog nie vêrgesog nie? ’n Perspektief op taalontwikkeling binne die Afrikaanse variëteitebundel1

Sebastiaan J. Floor, Wycliffe Bible Translation / Seed Company

LitNet Akademies Jaargang 19(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Die wêreldwye globaliseringsproses het in die afgelope paar dekades ’n nuwe verskynsel aan die lig gebring, naamlik lokalisering. Die herontdekking en ontwaking van plaaslike waardes, plaaslike kultuur, plaaslike identiteite, en dan ook plaaslike taalverskynsels, is aan die toeneem. Dit is daarom dan ook nie verrassend nie om die nuwe selfbewustheid van Kaaps en Gariepafrikaans (waaronder Namakwa en Griekwa) as niestandaardpraatvariante van Groter Afrikaans waar te neem in byvoorbeeld publikasies soos Kaaps in fokus (2016) en Ons kom van vêr (2016).

Dit gee egter aanleiding tot die volgende vraag: Wat is die spesifieke verhouding tussen Standaardafrikaans en sy sogenaamde niestandaardpraatdialekte? Is hulle regtig dialekte? Indien nie, wat is hulle dan? Wat bedoel ons as ons praat van variante? In hierdie artikel gaan ek kyk na dialektologie en veral na die teorie van taalekologie, om die gesprek oor die aard en wese van die Afrikaanse variëteitebundel verder te voer en om veral te kyk na die onderlinge verhouding tussen die verskillende variante met betrekking tot taalontwikkeling.

Vanuit die benadering van taalekologie probeer ek aantoon dat standaardisering nie noodwendig die uitsluitlike reg en voorreg van één variant hoef te wees nie, maar dat ruimte geskep kan word vir die ontwikkeling van die ander variante binne die taalbundel vir sovêr hulle sprekers dit wil neem. Daar is verskeie maniere om hierdie taalontwikkeling aan te pak. Een moontlikheid is om een of twee van die groter variante te ontwikkel en ’n status van sy eie te laat kry náás Standaardafrikaans. Dit is hier waar ’n moontlike Bybelvertaling in Kaaps dan dalk tog nie vêrgesog sal wees nie. Ek bespreek dan spesifiek die voordele en meganismes van ’n voorlopige orale Bybelvertaling in ’n aanvangsprojek wat ’n direkte aansluiting kan vind by die praattale binne die variëteitebundel.

Trefwoorde: Afrikaans; Bybelvertaling; ekolinguistiek; Kaaps; sosiolinguistiek; taalkunde; taalontwikkeling; taalstandaardisering; taalvariëteite

 

Abstract

Is a Bible translation in Kaaps possibly not far-fetched after all?

In the wider context of globalisation, and in reaction to it, an opposing trend has been observed towards localisation. The rediscovery of local culture, local values and local identities has led to an emergence of local speech varieties as well, and previously ignored or suppressed dialects or variants are increasingly finding their voice. This is the case with Kaaps, or Afrikaaps, around Cape Town, South Africa. Recent publications like Kaaps in fokus (2016), Ons kom van vêr (2016) and Hans du Plessis’s publication of Griekwa-psalms, Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte (2008) are examples. This article will describe the sociolinguistic situation of Kaaps from the perspective of the ecology of language, also called ecolinguistics, with the objective of analysing favourable conditions for the development of Kaaps and, as part of that development, a Bible translation.

The study of the ecology of language, or ecolinguistics, focuses on the study of language as a speech variety in its natural environment without making value statements about any of the variants. Ecolinguistics values any speech form for its own sake without setting boundaries, and desires to study its place in a wider socioeconomic and sociopolitical context, and its relationship with other speech forms.

The analysis of the language ecology of Kaaps points to a historical bias against Kaaps in favour of colloquial and standard Afrikaans. Afrikaans was seen as a properly standardised “language” versus Kaaps as only an inferior “dialect” within the Afrikaans macrolanguage cluster. Influences like language hierarchies, standardisation, first and second language approaches in education, etc., led to Kaaps increasingly becoming a “hidden” language – a language still vital in certain domains like the home and in subcultures, but seen as inferior in the domains of religion, media and education. The complex urban environment around Cape Town involves intense language contact, code switching and even translanguaging (in which multiple speech variants are used in a single utterance). Kaaps is often very much mixed with English words.

The varieties of Kaaps can be placed on a continuum. Muslim Kaaps seems to be the more original variation with more Malay and Khoi lexical items, moving to Cape Afrikaans, colloquial spoken Afrikaans, and then to standard Afrikaans. The distinctive features of each variant of Kaaps are not altogether clear yet and merit further study.

The preferred designation of the speech form by its users seems to be Kaaps, and not Afrikaaps or Kaapse Afrikaans (Cape Afrikaans).

There are several issues in relation to the ecolinguistic situation of Kaaps that are relevant to language development. There is an increased interest in and use of Kaaps in media and entertainment, dictionary making, and calls for the use of Kaaps in education and religion. Initial attempts at Bible translation are seeing the light. However, both external and internal resistance to these developments remain strong: Kaaps is still often perceived as unfit for domains like education and religious publications.

Moving from language development to Bible translation is a logical next step. Communication in a preferred speech form leads to a “feel good” factor because identity needs are being met, but it also leads to more effective communication because speakers of preferred speech forms have more vocabulary and semantic ranges of those vocabulary items at their disposal. Hence there exists a growing interest in language development and scripture translation even for speech variants perceived to be less ideal for such developments.

Bible translation in variants within macrolanguages in Europe casts an interesting perspective on the translation of the Bible in Kaaps. In Spain, translations of the Bible in Galician and Asturian, next to standard Castilian, have seen the light, not to mention publications in Catalan and Basque, which are outside the Spanish macrolinguistic cluster. Similarly, in France, the first Bible in western Europe was translated in Franco-Provençal in south-eastern France by Peter Waldo, founder of the Waldensians, in 1160. A new translation in Occitan was published in 2016. In Switzerland, high German remains the language of government, education and religion, but a translation in Swiss German was published in 1984. In the Netherlands, publications in the Low Saxon variants Tweants and Gronings have come to light, in addition to Frisian, which is significantly distant from Dutch and the other Low Saxon variants in north-eastern Netherlands. In Norway, there are two developed “official languages”, Bokmål and Nynorsk, both with Scriptures published, existing side by side.

In terms of some practical recommendations for Bible translations in Kaaps, it is important to recognise the need for local ownership and local initiative. That has already been observed in the Bible translation work of Elsa Coetzee, the publication of Die Pesalms vi ôse mense by Boezak (2019), and in a recent unpublished draft of the Gospel of Mark. There needs to be sufficient language pride to face the external and internal resistance to any language development in Kaaps. A translation in Kaaps cannot really take root unless religious communities, through their leaders, conferences and synods, endorse such a product. One recommendation is to launch pilot projects in both oral and written translation to experiment, bring awareness and create a need for something more substantial in terms of volume. Oral translations will be able to take advantage of the rich and artistic power of expression in Kaaps and could form a bridge to a printed version.

A Bible translation in Kaaps does not automatically entail the full development of standard Kaaps in all aspects. It also does not mean that a Bible in Kaaps will prevent Kaaps speakers from continuing to use the Bible in Afrikaans and English. Multilingualism is here to stay.

Keywords: Afrikaans; Bible translation; ecolinguistics; Kaaps; sociolinguistics; linguistics; language development; language standardisation; language variants

 

1. Inleiding en probleemstelling

Globalisering het in die afgelope paar dekades ’n nuwe verskynsel meegebring, naamlik lokalisering. Die herontdekking en ontwaking van plaaslike waardes, die plaaslike kultuur, plaaslike identiteite én plaaslike taalverskynsels is aan die toeneem. Dit is daarom geensins verrassend nie om die nuwe selfbewustheid van Kaaps-Afrikaans en Gariepafrikaans (waaronder Namakwa en Griekwa) as sogenaamde niestandaardpraatvariëteite van Afrikaans waar te neem, byvoorbeeld in onlangse publikasies soos Kaaps in fokus (2016), Ons kom van vêr (2016) en in verskeie uitgawes van Hans du Plessis se Griekwapsalms.2 Verder het Bybelgedeeltes in Kaaps al in ’n paar publikasies en in manuskripvorm begin verskyn, soos Willa Boezak se Die Pesalms vi ôse mense (2019), Etienne Pieterse se ongepubliseerde manuskrip van die Evangelie volgens Markus (2022), en natuurlik LitNet se Bybel in Kaaps-kompetisie (LitNet 2018). Verder is daar verskeie artikels, plasings en debatte oor Kaaps op LitNet, onder andere Olivia Coetzee (2020), Carolyn Meads (2020), Tom McLachlan (2020), Gerhard van Huyssteen (2020) en andere.

Teen hierdie agtergrond kom ’n aantal vrae na vore: Waarheen is die taalontwikkeling van Afrikaans op pad met variëteite in die Afrikaanse variëteitebundel? Gaan die variëteite selfstandig ontwikkel naas Standaardafrikaans? Indien dit sou gebeur, in watter rigting gaan hulle ontwikkel? Hoe ver gaan die ontwikkeling plaasvind? Hoe gaan al die ontwikkelinge aaneenskakel en gaan hulle oorvleuel met Standaardafrikaans en selfs met Omgangsafrikaans? As daar in ag geneem word dat daar selfs van ’n herstandaardisering van Afrikaans sprake is (Hendricks 2016:29–30), in watter mate gaan die niestandaardvariëteite ingesluit word in die herstandaardisering? Indien taalontwikkeling van die variëteite as ’n gegewe aanvaar word, is die volgende logiese stap om te ondersoek wát ontwikkel gaan word. Die doel van hierdie artikel is om vas te stel of die ontwikkeling van Kaaps sodanig is dat ’n volledige Bybelvertaling in Kaaps ernstig oorweeg kan word.

Die artikel is soos volg saamgestel: Eerstens word nuwe ontwikkelinge op die gebied van die sosiolinguistiek en dialektologie ondersoek, veral die ekologiese benadering tot taalbestudering. Dit is ’n nuwe en opwindende benadering wat probeer sin maak van intense kompleksiteite in taalgebruik, soos dié van Kaaps op die Kaapse Vlakte. Uit ’n taalekologiese oogpunt sal ek probeer vasstel waar Kaaps vandag staan, in die besonder wat die verband van Kaaps met die Afrikaanse variëteitebundel in sy geheel is en tot watter mate taalontwikkeling in Kaaps geïdentifiseer kan word. Die kwessie van die standaardisering van Kaaps word tweedens onder die vergrootglas geplaas. Die noodsaak om uitsluitsel te kry of Kaaps parallel aan Standaardafrikaans moontlik sy eie Skryfkaapsstandaard kan ontwikkel, word aan die orde gebring. Dat Bybelvertaling as ’n produk van taalontwikkeling beskou word, benadruk hoe belangrik dit is dat daar aan die taalontwikkeling van Kaaps aandag gegee word. Gaan ’n Bybelvertaling in Kaaps vir Kaapssprekendes gewens wees, of gaan die aanvaarbaarheid van so ’n produk net eenvoudig te veel in gedrang kom? Wie moet die werklike meningsvormers en besluitnemers wees? Hierdie sake word almal vanuit ’n taalekologiese of ekolinguistiese perspektief bespreek en geëvalueer. Daarna word, in die derde plek, aandag gegee aan parallelle ontwikkelings in variëteitebundels in Wes-Europa en Noord-Afrika, asook aan die Bybelvertalings wat daaruit voortgevloei het. Ten slotte, as ’n vertaling van die Bybel in Kaaps wenslik en uitvoerbaar is, moet die voorbereidende stappe en die moontlikheid van ’n aanvangsprojek ondersoek word.

In hierdie artikel konsentreer ek op Kaaps omdat Kaaps al ver op die taalontwikkelingspad gevorder het, maar my vrae en stellings oor Kaaps is in ’n groot mate ook van toepassing op Gariepafrikaans (Namakwa-Afrikaans en Griekwa-Afrikaans).

 

2. Nuwe sosiolinguistiese benaderings, onder andere die ekologiese benadering van taal

Wat is die spesifieke verhouding tussen Standaardafrikaans en sy sogenaamde niestandaardpraatdialekte? Is hulle werklik dialekte? Indien nie, wat is hulle? Wat word bedoel met variëteite? Wat is die onderlinge verhouding tussen die verskillende variëteite in die variëteitebundel in taalontwikkeling? En wat is ’n variëteitebundel? In hierdie afdeling ondersoek ek die teorie van taalekologie om te probeer vasstel of die ekologiese benadering van taal antwoorde op hierdie vrae kan bied.

Hierdie taalbenadering is ’n perspektief wat nuwe en nuttige insigte in die onderwerp van die artikel kan bied. Ekologie handel oor die verhouding van spesies tot hulle omgewing, asook die balans in hierdie verhouding. Taalekologie beskryf dus die verhouding van ’n taalvorm tot sy omgewing, asook die verhouding tussen verskillende kompeterende taalvorme in dieselfde omgewing.

Die taalomgewing verander gedurig en baie vinnig. Taalkontak, veeltaligheid, gemengde taalgebruik en ’n vervlegte, grenslose taalsamelewing, veral in stedelike omgewings, is vandag algemeen. Soos wat Charlyn Dyers (2016:59–69) in die sosiolinguistiek en dialektologie aangetoon het, kom konsepomwentelinge ook in die taalomgewing voor. Sekere terme het aanvegbaar geword, byvoorbeeld standaardtaal, taal-dialek-teëstelling, moedertaal, eerste entweede taal, tweetaligheid en taalhiërargie. Terme wat nou eerder aanvaar word, is taaldomeine, diglossia, geheeltale, variëteitebundels, praatvariëteite, taalkontak, veeltaligheid en “translanguaging”.3

In teenstelling met die studie van taal as teoretiese tipologieë, word daar in die taalekologie erkenning gegee aan tale, taalkeuses, taalvoorkeure, taalgebruik, taallewensvatbaarheid en taalkontak as praktiese funksies in gekompliseerde netwerke en omgewings. Elke unieke taalsituasie is die gevolg van baie faktore in ’n spesifieke omgewing. Die taalekologie erken nie net die uniekheid van ’n taalvorm nie, maar ook die onderlinge verhoudings tot ander taalvorme en -omgewings (Bouwer 2017). Einar Haugen (1972:325) stel dit soos volg: “The true environment of a language is the society that uses it as one of its codes.” Hierdie omgewing is dinamies, soos wat deur die konsepomwentelinge hierbo aangetoon is.

Haugen, die vader van taalekologie, ook genoem ekolinguistiek, is ’n Noorse Amerikaner wat in 1972 met sy publikasie The ecology of language dié subdissipline van sosiolinguistiek van stapel gestuur het. Sonder om waardebepalings daaraan te heg, maak Haugen gebruik van tien “ekologiese vrae” gebaseer op onder andere taalklassifikasie, taalvariasie, domeine van taalgebruik, glyskale van interne variasie, kontak met ander tale, taalverlies en taalvermenging. Die klem val daarop dat taalekologie die “natuurlike omgewing” van ’n taalvorm en al die taalvorms waarmee dit in aanraking kom, bestudeer. Dit is versigtig om veral beïnvloeding in al sy subtiele vorms vanuit ’n magsposisie te vermy. Beïnvloeding kan tot uiting kom in taalbegrensing (die beskouing van taal as ’n volledig begrensde, atomistiese eenheid teenoor taal as ’n meer oop, aanpasbare en dinamiese eenheid in aanraking en samevloeiing met ander eenhede), in die waardebepaling van taalvorms en uitinge, in standaardiseringsdwang, in hegemoniseringsdwang4 en taalverdringing, in die hiërargie van tale, van die variëteite van ’n taal of van geheeltale en in negatiewe taalgesindhede.

Haugen (1968:922), wat onder andere aan Harvard Universiteit verbonde was, skryf reeds vóór die publikasie van The ecology of language oor die taal-en-dialek-onderskeid en sê dat definisies en verhoudingbeskrywings basies onmoontlik is. Wat ongelukkig in die praktyk gebeur, is dat wanneer ’n spesifieke taalvorm (of “dialek”) as ’n skryftaal gestandaardiseer word, met ander woorde as ’n dialek ontwikkel, wórd dit ’n “taal”. Dit sou beteken dat Afrikaans ’n “taal” is en Kaaps net ’n minderwaardige “dialek” van Afrikaans. Haugen het hom sterk hierteen uitgespreek in sy 1968-artikel. Dié praktyk kom neer op magstaal en taalhegemonie wat die ongeskrewe taalvorms en onontwikkelde variëteite ’n onreg aandoen. In taalekologie kry minderheidstale, veral skuiltale5 (tale wat deur hulle gebruikers sosiaal geïsoleer word ter wille daarvan om hul taal te laat oorleef), gevolglik heelwat aandag in die vorm van teoretiese beskerming, en word hulle aangemoedig om verder te ontwikkel.

In die konteks van die taalekologiese uitgangspunte hier bo is ook die konsep van ’n variëteitebundel problematies. Op grond waarvan word taalvariëteite saamgebundel en wat is hulle verhouding tot mekaar? Die rede daarvoor is dat die komplekse vraagstuk van taal teenoor dialek hier ter sprake kom, en daarmee saam die problematiek van taalhiërargie (d.w.s. dat een variëteit belangriker as die ander geag word, en dus voorkeur geniet). Die probleem is dat ’n waardebeoordeling en begrensing moontlik aan ’n variëteit toegeken kan word, bewustelik of onbewustelik. ’n Verdere vraag is wat van ’n variëteitebundel ’n variëteitebundel maak. Bied ’n variëteitebundel bloot ’n historiese perspektief op ’n genetiese verwantskap? Is dit ’n perspektief van buite af waarmee die gebruikers aan die binnekant nie werklik kan identifiseer nie? Is dit ’n perspektief wat van bo af afgedwing word deur die sogenaamde mees “gesiene” variëteit as die verteenwoordiger van mag en invloed? Is dit ’n konsep wat vanselfsprekend, onderliggend en niewetenskaplik deur al die gebruikers aanvaar word? Omdat die verhouding tussen Kaaps en Afrikaans, en veral Standaardafrikaans, só sensitief vir bogenoemde nuanses is, sal daar versigtig met die konsep van ’n variëteitebundel gewerk moet word.

In hierdie opsig is die taalekologie waardevol. Dit probeer om afstand te doen van dié soort taalwaardebeoordeling en taalafgrensing. Die doel van ’n taalekologiese benadering is om slegs die verhouding van ’n taalvorm tot sy omgewing te beskryf. Die konsep van ’n variëteitebundel as deel van ’n taalekologiese model het sy plek, solank daar net nie verval word in eensydige waardetoekenning of in grensafbakening vir een of meer van die variëteite nie. Daar word dus gevra: Wat sê ál die eindgebruikers van ál die variëteite oor hulle onderskeie verhoudings tot ál die ander variëteite van dieselfde bundel? Die geskiedenis leer ons dat hierdie gesprek redelik eensydig kan wees, omdat daar perspektiewe van buite en van bo is, maar dat hierdie sienings nie noodwendig die perspektiewe van almal insluit nie.

Dit gebeur dikwels dat dit lyk asof die sogenaamde gemarginaliseerde of “niestandaard-” of “laer-” spraakvormsprekers die benamings en menings van buitestaanders of van dié in sterker posisies aanvaar en vir hulself toe-eien asof dit hulle standpunt is. Dit is egter nie noodwendig die korrekte weergawe van die stand van sake nie. Gelyksoortigheid kan wat taal betref van buite af afgedwing word. Baiekeer word gelyksoortigheid en verstaanbaarheid bloot as ’n historiese aanname vir politieke redes aanvaar, sonder dat die gebruikers van ál die variëteite hulle hieroor uitgespreek het. ’n Voorbeeld is Malgassies in Madagaskar (Bouwer 2005a. 2005b, 2010). Al die tale in Madagaskar is histories in ’n makro-Malgassiese variëteitebundel ingesluit, maar die Merina-variëteit op die hooglande rondom die hoofstad is voorkeur gegee ten koste van ander variëteite as die enigste en beste variëteit in die taalontwikkeling van die land en is dus vir Bybelvertaling gekies. Afgesien van die Ge‘ez in Etiopië, is die Malgassiese Bybel (1835) in die Merina-variëteit die eerste volledige Bybel in Afrika suid van die Sahara. Dit het ’n groot rol in die taalhegemoniseringsproses in Madagaskar gespeel. In die afgelope 15 jaar het dit egter duidelik geword dat die hegemonie van Merina ’n taalvorm op die Malgassiese sprekers afgedwing het wat glad nie in almal se behoeftes voorsien het nie. Dit het daarop uitgeloop dat daar nou taalontwikkelingsprogramme in meer as twaalf variëteite van die Malgassiese geheeltaal is.

In taalekologie kan die volgende taalfunksies in die omgewing van die taalgebruik onderskei word: 1) godsdiensfunksie, 2) huistaalfunksie, 3) onderwysmediumfunksie, 4) mark- en handelmediumfunksie, 5) subgroepfunksie, soos ’n bendetaalfunksie in die misdaadwêreld, en 5) kultuur- en vermaaktaalfunksie. Binne hierdie domeinfunksies is daar ook die behoefte aan dieper kommunikasiefunksies, om dieper en meer effektief te kan kommunikeer. Twee faktore is belangrik hier vir hoër kommunikasiefunksies:

  1. Die “voel goed”-faktor – die taalkodegebruik bring persoonlike en kollektiewe emosionele bevrediging teweeg. Die identiteitsfaktor hang hiermee saam. Sekere taalkodes kry voorkeur as uitdrukkings van die groepsidentiteit van ’n spesifieke groep. Dit is nie noodwendig dieselfde taalkode as die huistaalkode of die onderwyskode nie.
  2. Die “dieper kennis”-faktor – dieper vlakke van kennis word behaal deur ’n effektiewer kommunikatiewe bereik. Dit word verkry deur taalkodes wat hoër vlakke van kennis oordra as die ander kodes wat deur die gebruiker bemeester word. Dit is die gevolg van ’n groter woordeskat en ’n beter begrip van die semantiese velde van woorde, sinne, idiome, ens. wat eie is aan die spesifieke kode van die gebruiker se voorkeurkode vir die spesifieke funksie.

Gewoonlik, maar nie uitsluitend nie, loop hierdie twee faktore hand aan hand. Die godsdiensfunksie kan as voorbeeld gebruik word. Godsdienstige en kunstige literêre taal, veral godsdienspoësie, het vir gebruikers gewoonlik ’n sterk opheffende krag. Twee van die funksies van poësie wat sterk funksioneer, is impak en estetika. Albei speel in op die voel-goed-faktor en die dieper-kennis-faktor.

Godsdiens word nie deur almal in hulle huistaal of in hulle onderwystaal beoefen nie. Die taalekologie leer ons dat taalgebruikers in verskillende domeine verskillende taalkodes kan kies, dat hierdie kodes nie uitsluitend is nie en dat taalkodes gemeng kan word. Daar is geen eenduidige verhouding nie, met ander woorde die voorkeurgodsdienskode kan enigeen van die beskikbare taalkodes wees.

Daar is gewoonlik verskeie godsdiensfunksies waarvoor taal gebruik word, soos byvoorbeeld gemanifesteer word in preke, lofsang en poësie, kleingroepbyeenkomste, evangelisering/uitreike, teologiese opleiding, individuele toewyding en die lees van literatuur, onder andere van die Bybel. Dit is nie noodwendig ’n vereiste dat al die funksies in dieselfde kode deur ’n spesifieke groep vervul word nie. Die veeltalige werklikheid in die taalomgewing skets ’n ander prentjie.

Met hierdie sosiolinguistiese en sosiopsigologiese perspektiewe wat uit die ekolinguistiek verkry is, word daar nou aandag gegee aan Kaaps as ’n variëteit in die Afrikaanse variëteitebundel.

 

3. Geskiedenis van Kaaps as ’n variëteit binne die Afrikaanse variëteitebundel

Verskeie kenners het oor die geskiedenis van Afrikaans en Kaaps gepubliseer: Fritz Ponelis (1994, 1998, 1999),Christo van Rensburg (2012), Hans den Besten (1989), Ernst Kotzé (1983), Achmat Davids (2011) en Frank Hendricks (2012). Christo van Rensburg sien Kaaps as “Vroeë Afrikaans” wat al gepraat is voordat Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het (Hendricks en Dyers 2016:ii). Hendricks (2012:97) skryf dat Kaaps een van die oudste omgangsvariëteite van Afrikaans is en dat Kaapse Moesliemafrikaans uitgewys kan word as die mees prominente subvariëteit van Kaaps. Hy (Hendricks 2016:5) beweer verder dat die Bo-Kaap die historiese bakermat van Kaaps is. Kotzé (Hendricks en Dyers 2016:ii) beaam die stelling. Elders sê Kotzé (2016:37–8, 44–5) dat Kaaps as een van die ontstaansvariëteite van Afrikaans as die matriek van Afrikaans beskou kan word. Hendricks (2016:4) skryf dat Pasar-Maleis en Kreools-Portugees Kaaps beïnvloed het en dat “die invloed van Maleis en Laag-Portugees (as dominante verkeerstale van die slawe) die omvorming van Hollands tot Afrikaans-Hollands in die hand gewerk het, en wel deur die werking van taalbeïnvloeding (ontleding) en taalversteuring”.

Kotzé (2016:43) haal Den Besten (1989:226) aan in sy bespreking van die ontwikkelingspad van Kaaps vanaf die kontak tussen Nederlands, Khoi en die aanleertaal van die slawe (ca. 1660) tot by ’n Nederlandse kreool wat hy Proto-Afrikaans I noem (ca. 1700–40). Teen ongeveer 1850 het daar volgens hom ’n nivellering van Proto-Afrikaans I en Proto-Afrikaans II (wat vanuit Kaapse Nederlands ontwikkel het) plaasgevind. Die resultaat was ’n Afrikaanse koine met dialekvariasie. Onder die invloed van die Eerste Taalbeweging het daar ’n dinamiese taalontwikkeling uit hierdie Afrikaanse koine plaasgevind. Dit het gelei tot Standaardafrikaans, wat saam met sy niestandaarddialekte voortgeleef het. Die historiese ontwikkelingslyn van Den Besten roep geen weerstand op nie (ek is nie ’n kenner daarvan nie), maar vanuit ’n ekolinguistiese oogpunt is die finale gevolgtrekking van ’n enkele standaard omring met ’n paar niestandaarddialekte ongelukkig ’n waardebepaling van Kaaps wat nie noodwendig deur almal voetstoots aanvaar sal word nie. Kotzé (2016:45–7) stip drie verdere punte aan wat hier belangrik is. Eerstens is Kaaps as ’n taalvorm sowel histories behoudend as progressief modern. Kaaps het hoegenaamd nie gestagneer nie; inteendeel, Kaaps was in die tweede plek belangrik in die Moslem-godsdiensbeoefening in die 19de en 20ste eeu. Derdens, Kaaps is geen homogene variëteit nie.

Die historiese oorsig van die ontwikkeling van Kaaps en die waarnemings van Kotzé beklemtoon dat Kaaps ’n ontwikkelende taal in die variëteitebundel van Afrikaans is.

 

4. Taalekologie van Kaaps

In taalekologie is die fokus op die gebruiker, in hierdie geval die gebruiker van Kaaps. Variasie kom voor in die gebruik van Kaaps as huistaal tot straattaal tot godsdienstaal (meesal in die geval van Moslemgebruikers), en onlangs ook in die gebruik daarvan as kultuurtaal en selfs as literêre taal, hoewel baie beperk. Taalgebruikers het voorkeurtale in verskillende taalsituasies en dus is hulle voortdurend besig om ’n taalkeuse tussen die verskillende variëteite te maak.

Carstens (soos aangehaal deur Hendricks 2016:3) meen dat Kaaps die taal van die werkers is: “Dis moeilik om ‘Kaapse Afrikaans’ presies te omskryf. Dit is hoofsaaklik geografies beperk tot die Kaapse omgewing (dus ’n geolek), maar dit vertoon ook kenmerke van sosiale stratifikasie (dus ’n sosiolek).” Hendricks (2016:3, 5) sê dat Kaaps hoofsaaklik ’n werkersklastaalvorm van die Kaapse Skiereiland is; ’n werkersklaskode.

4.1 Benaming en klassifikasie van Kaaps

Die benaming van ’n taalvorm in sy taalomgewing is dadelik ’n aanduiding van sy identiteit, selfbewustheid en relatiewe isoleerbaarheid. Kaaps het verskeie benamings: Kaaps, Kaapse Afrikaans, Afrikaaps, Moesliemafrikaans en ook ’n reeks neerhalende benamings soos Kombuisafrikaans, Kitchen Dutch, Capey en Gammattaal.

Taalbenamings is weergawes van beskouinge van waar ’n taalvorm inpas in die variëteitebundel of in ’n geheeltaal as daar een is. ’n Voorbeeld hiervan is Griekwa. Daar is verskeie metodes waarop hierdie variëteit geïdentifiseer kan word. Een metode neem die vorm aan van ’n glyskaal van taalgesindhede, van die mees negatiewe tot die mees positiewe gesindheid. Die variëteit word gesien as 1) ’n niestandaarddialek van Afrikaans, 2) as Griekwa-Afrikaans en 3) as Griekwa op sigself, dit wil sê as ’n gelykwaardige lid van ’n geheeltaal. Dieselfde glyskaal geld vir Kaaps: van die siening van Kaaps as ’n niestandaarddialek van Afrikaans, tot Kaapse Afrikaans (of Kaaps-Afrikaans), tot Kaaps.

Kotzé (2016:37) skryf oor die benaming Kaaps dat die “benaming deur die sprekers self toegeëien word”. Dit is kort en kragtig en vat die belangrikste identifikasie-eienskap vas. Hendricks (2016:2–3) voer aan dat die benaming Kaaps al van Adam Small af kom en ingeburger is. Kaapse Vernakulêre Afrikaans is ’n ander benaming, ook Kaapse Afrikaans. Hendricks (2016:3) maak ’n belangrike stelling, naamlik dat die benaming Kaapse Afrikaans as wisselbenaming verwarring skep omdat dit in die literatuur as ’n sinoniem vir Suidwestelike Afrikaans gebruik word. Kaaps en Kaapse Afrikaans is waarskynlik nie heeltemal dieselfde nie; hulle lê op verskillende punte op die variasieglyskaal. Oor klassifikasie sê Hendricks (2016:6) die volgende:

Opsommenderwys is Kaaps dus variasietaalkundig te bestempel as ’n variëteit van die dialekbundel Suidwestelike Afrikaans wat as vorm van Omgangsafrikaans histories teruggryp na die sewentiende-eeuse invloed van slawe op die vorming van Afrikaans, wat tans grootliks manifesteer as ’n sosiolek wat met die werkersklas van die Kaapse Skiereiland geassosieer word en wat in terme van sy sprekerskorps as Afrikaanse kleurvariëteit getipeer kan word.

4.2 Kaaps in sy geografies-fisiese omgewing

In taalekologie speel die gebruikers se taalkeuse of taalvoorkeur ’n groot rol. In die veeltalige omgewing van die Kaap is die gebruikers wat voorkeur aan Kaaps gee omtrent 700 000 sterk; ’n skatting gebaseer op die 2011-sensusdata. Dit is egter die onderste grens. Ander skrywers plaas die getal baie hoër, soos Earl Ray Basson (2018) se 2,4 miljoen leerders. Michael le Cordeur noem ’n getal van 3,3 miljoen sprekers (aangehaal in Van Huyssteen 2020). Dit wil sê, dat die oorgrote meerderheid van die bruin bevolking Kaaps of Khoi Afrikaans (Gariepafrikaans) gebruik. Van Huyssteen (2020) skryf egter die volgende: “Ek vermoed Christo van der Rheede hou hom ook by hierdie definisie van Hendricks (wat Kaapssprekers beperk tot die Groter Kaapstad area – SJ Floor), want in sy bydrae in Kaaps in Fokus (2016) skat hy die grootte van die taalgemeenskap van Kaaps op ongeveer 700 000, met die grootste konsentrasie van sprekers van Kaaps in Mitchells Plain en Blue Downs.”

Maar dit beteken nie dat hulle almal Kaaps noodwendig voorkeur gee nie. Dit is onbekend presies hoeveel mense Kaaps as huistaal gebruik. Min of meer 280 000 mense het in die 2011-sensus aangedui dat hulle Kaapse Maleiers is, wat beteken dat hulle ten minste met Moesliemafrikaans bekend moet wees. Die vraag is egter hoeveel meer daar tans is. Volgens die 2011-sensus het die Mitchells Plain-bevolking ’n skuif na Engels gemaak; die helfte van die bewoners dui in die sensus aan dat Engels hulle taal is. Hendricks (2016:27) verwoord die situasie soos volg:

Kaaps word deur sommige van sy sprekers as primêre taalkode gebruik, dus as moedertaal in nagenoeg alle omstandighede. Vir ander (en waarskynlik vir die meeste) is Kaaps tans ’n sekondêre oftewel geleentheidskode, d.w.s. ’n kommunikasievorm gereserveer vir informele verkeer. Bygesê: Kaaps is nie vaspenbaar binne ’n geografies-afgebakende ruimte nie en die gebruikers daarvan is meestal nie eenvariëteitsprekers nie.6

Die aantal gebruikers van Kaaps sal ’n belangrike oorweging wees in die besluit of die Bybel in Kaaps vertaal moet word.

4.3 Verhouding van Kaaps tot die res van die variëteitebundel

Taalekologies gesien is taalvorms en -variëteite nie begrensbare en selfstandige entiteite nie. Hulle is vloeibaar, mengbaar en beweeg op glyskale. Wat taalstatus betref, is Kaaps volgens Hendricks (2016:4) “’n variëteit van Afrikaans – nie ’n taalvorm náás Afrikaans nie”. Dit is ’n vorm van Praatafrikaans en gekoppel aan en in wisselwerking met Standaardafrikaans. Dit is ’n “subvariëteit van die dialekbundel Suidwestelike Afrikaans”. Hierdie posisie is moontlik omstrede. Is Kaaps maar net ’n variëteit van die Afrikaanse geheeltaal, of het dit meer status?7Wat word bedoel met “Afrikaans” en met “geheeltaal”?

Verwysende na Christo van Rensburg (2012), Van Huyssteen (2020), Elvis Saal (2019), ’n SARIE-artikel (SARIE-promosiespan 2018), en die publikasie Kaaps in fokus (2016) se variëteitbenamings, volg hier onder ’n poging om die hoofvariëteitebundel en subvariëteitebundels in ’n tabel uiteen te sit:

Tabel 1: Klassifisering van variëteite (nie ’n volledige lys nie)

Afrikaans / Groter Afrikaans / Algemene Afrikaans / Makroafrikaans / Kaaps-Hollandse Kreool / Kaapse Kreool
Suidwestelike Afrikaans /
Kaapse Afrikaans /
Afrikaaps /
Kaaps
Oranjerivierafrikaans /
Gariepafrikaans /
Afrigariep /
Gariep
Oosgrensafrikaans /
Oostelike Afrikaans /
Standaardafrikaans /
Afrikaans
1. Moesliemkaaps
2. Kaapsevlaktekaaps
3. Weskuskaaps
4. Bolandkaaps
5. Karookaaps
6. Overbergkaaps
1. Griekwa
2. Namakwalands
3. Riemvasmaak
4. Richtersveld
1. Gautengse Afrikaans
2. Vrystaatse Afrikaans
3. KwaZulu-Natal-Afrikaans
4. Oos-Kaapse Afrikaans

 

Die groot vraag is: Wat is die naam van die geheeltaal wat Kaaps sowel as Standaardafrikaans insluit? Is dit Afrikaans, of is dit dalk die oorspronklike Kaapse Kreool? As die geheeltaal Afrikaans is, is die vraag dan: Wat ís Afrikaans? Is Afrikaans dan meer as net Standaardafrikaans en sy omgangspraatvariëteite? Of is Standaardafrikaans en sy praatdialekte dalk saam met Kaaps en Gariep-Afrikaans (Christo van Rensburg se Oranjerivierafrikaans) deel van ’n geheeltaal wat dalk nie Afrikaans genoem behoort te word nie omdat Afrikaans nou ’n nuwe betekenis gekry het in die volksmond as Standaardafrikaans? Wat is dan die beste benaming van die geheeltaal? Algemene Afrikaans (Van Huyssteen se benaming), Makroafrikaans, Groter Afrikaans, Kaapse Kreool of Kaaps-Hollandse Koine? Dit is hier waar die onsekerheid oor die verhouding tussen Kaaps en Standaardafrikaans aan die een kant, en alternatiewe gebruike van die woord Afrikaans aan die ander kant, maklik verwarring en teenstrydigheid kan veroorsaak. Met ander woorde, dui Afrikaans op die geheeltaal, of net op Van Rensburg se Oosgrensafrikaans en vandag se Standaardafrikaans met sy praatdialekte?

’n Verdere onsekerheid behels die presiese betekenis van Kaapse Afrikaans. Dit kan een van drie dinge beteken: 1) dis Kaaps soos gepraat in Groter Kaapstad en veral op die Kaapse Vlakte, 2) dit sluit al die variëteite van Suidwestelike Afrikaans (Van Rensburg se definisie) in, of 3) dit is ’n geografiese dialek van Standaardafrikaans soos dit in die Wes-Kaap gepraat word, meesal beperk tot fonetiese variasies soos /ik/ in plaas van /ek/.

Kundiges, soos hier bo aangehaal, aanvaar grotendeels dat Afrikaans na die geheeltaal verwys, waarvan Standaardafrikaans en Kaaps (en Gariepafrikaans) dan albei gelykstaande variëteite is, en dat ’n herstandaardisering van Afrikaans nodig is om die opkomende niestandaardvariëteite soos Kaaps en Griekwa of ander Gariepafrikaansvariëteite beter te akkommodeer. Die ekolinguistieke probleem met die woord niestandaardvariëteite is alreeds aangeteken. Dit is egter volgens McLachlan (2020) en andere nie so duidelik hóé hierdie herstandaardisering moet plaasvind nie. ’n Alternatiewe benadering is om weg te beweeg van die konsep van herstandaardisering en eerder te kyk na ’n herklassifikasie van die geheeltaal en sy variëteite, wat Suidwestelike Afrikaans of Kaaps, en Oranjerivierafrikaans of Gariep, as meer selfstandig sien en aanmoedig om taalontwikkeling in sy eie reg na te volg, net soos Afrikaans dit met Nederlands gedoen het meer as 100 jaar gelede. Afrikaans het nooit sy verbintenis met Nederlands verbreek nie; dit was nooit nodig nie. Maar albei word vandag erken as twee verskillende tale ten spyte van hulle genetiese geskiedenis en die relatiewe wederkerige verstaanbaarheid.

4.4 Verhouding van gebruikers van Kaaps met Afrikaans en Engels

Hendricks (2012:100) verwys na Small wat hom distansieer van die suggestie dat Kaaps “periferale Afrikaans” of “dalk onafrikaans sou wees”. Elders sê hy (Hendricks 2016:31): “Kaaps is onlosmaaklik deel van Afrikaans.” Hy verduidelik verder:

In samehang met die verspreidheid, mobiliteit, geletterdheidsvlakke en sosialevlakverskille van sy gebruikers figureer Kaaps binne die meertalige opset van die Kaapse Skiereiland in wisselwerking met ander taalkodes, en word talige aspekte daagliks in allerlei lokale en sosiale ruimtes aangesny in ’n uitgebreide kodewisselingpraktyk. Vir sy gebruikers is Kaaps dus ’n taalkode wat weggesit kan word as dit moet, en uitgehaal word as dit moet, en wel ooreenkomstig die norm van situasionele gepastheid. (Hendricks 2016:27)

McCormick (2002:97–103, 107) rapporteer taalgesindhede in Distrik Ses en noem dat hoewel die gesindheid teenoor Afrikaans gedurende die apartheidsjare baie negatief was, dit ná 1994 baie meer gematig geword het. Engels word wel gesien as die taal van opwaartse mobiliteit en in baie gevalle het Engels, afgesien daarvan dat dit die onderwystaal en professionele taal is, ook toenemend die huistaal begin word. Sy sê ook dat hoewel Kaaps (Kombuisafrikaans, soos sy dit noem) deurspek is met Engels (sodanig dat die meeste woorde Engels is), die sprekers hulself steeds as sprekers van Afrikaans sien. Kombuisafrikaans het honderde leenwoorde uit Engels. Sommige Engelse woorde het die Afrikaanse ekwivalente woorde vervang, ander bestaan sáám met die Afrikaanse woorde (McCormick 2002:95).

Taalvermenging en taalkodewisseling is aan die orde van die dag (McCormick 2002:96). Sprekers beweeg van Engels in handelsituasies en die onderwys na Kombuisafrikaans (Kaaps) by die huis en in hul vriendekring, na Omgangsafrikaans in die kerk en moskee, en in aanraking met wit Afrikaanssprekendes – somtyds binne die bestek van ’n enkele sin.

In taalekologie kom die begrippe taalverdringing en taaloorweldiging voor. Aan die Kaap het die invloed van Engels en in ’n mate ook Standaardafrikaans ’n verdringingsrol vervul; desnieteenstaande is Kaaps tot vandag toe nie deur Engels en Standaardafrikaans verdring en oorweldig nie. Kaaps het 200 jaar van potensiële taalverdringing nie net oorleef nie, maar sterk bly staan. Dat daar wel letsels gelaat is, is te bespeur in die sterk populêre gevoel van die ontoereikendheid van Kaaps om meer as net ’n praattaal in ’n spesifieke omgewing te wees.

Taalverdringing is algemeen. Dit het skuiltale tot gevolg. Sekere tale het uitgesterf, maar ander het hulle verskuil om te oorleef. Nie almal is noodwendig soos Tsotsitaal ’n ietwat geheime taal nie, maar in die ekonomiese en politieke omgewing het Kaaps byvoorbeeld al hoe meer op die agtergrond geraak en op hoër vlakke van die samelewing amper vergete geraak. Voorbeelde van ander skuiltale soortgelyk aan Kaaps is Griekwa-/Oranjerivierafrikaans (of Gariepafrikaans), Dihungu in Angola, isiBhaca in die Oos-Kaap, Síphùthi in Lesotho/Oos-Kaap en Noordelike Ndebele en KheLobedu van die Modjadji in Limpopo. Selfs SA Gebaretaal was tot redelik onlangs ’n relatief onbekende skuiltaal. ’n Fassinerende ontwikkeling in Suid-Afrika is die ontwaking van die Oos-Sotho-taalvorme in Mpumalanga en Limpopo. Die opvatting was dat taalvorms Nhlangano, Sepulana, en ook KheLobedu, onder andere, gesien is as tipiese en atipiese variëteite van Noord-Sotho (Kotzé 1995:25–48, wat o.a. verwys van E.B. van Wijk se klassifikasie). Sepedi was byvoorbeeld wel ’n tipiese variëteit van Noord Sotho, maar die eersgenoemde drie atipiese variëteite. Nou is daar Bybelvertalings aan die gang in al drie.

Grondwetlike erkenning van minderheidstale is natuurlik baie belangrik. Die Grondwet van 1996 gee nie net ampteliketaalstatus aan 11 tale in Suid-Afrika nie, maar gee ook erkenning aan ’n verdere 10 tale, waaronder Khoi, isiBhaca, KheLobedu, Síphùthi, Nama, en so aan. Die vraag is nou of daar spesiale erkenning aan Kaaps en ander Afrikaanse variëteite gegee moet word en of dit eerder binne die Afrikaans-variëteitebundel verreken moet word.

4.5 Variasiepatrone in Kaaps

Hendricks (2016:26–7) meen dat Kaaps nie ’n variëteit is wat eenvormig gebruik word nie. Daar is byvoorbeeld registerverskille, soos blyk uit die Kaaps van die Moslems, die Kaaps van Christene en die Kaaps van die skaduwêreld. Hy verduidelik verder: “Kaaps is onderhewig aan die bepalende invloed van veranderlikes soos religieuse oriëntasie, ouderdom, blootstelling aan Standaardafrikaans, en die graad van geletterdheid” (Hendricks 2016:27).

Die variasie in Kaaps kan op ’n glyskaal aangedui word. Die kerndialek blyk Moesliemafrikaans te wees. Van Rensburg sien en hanteer Kaaps as ’n veelsoortige taalvorm met Gariepafrikaans en Kaapse Moesliemafrikaans as die belangrikste “subvariëteite” (Hendricks en Dyers 2016:ii). Die grootste groep, wat Moesliemafrikaans insluit, is Kaaps. Die volgende variëteit wat ingesluit word, is Kaapse Afrikaans, wat al baie meer na Omgangsafrikaans en Standaardafrikaans lyk. Daar is dialektebundels binne dialektebundels, wat inhou dat Kaaps ook sy variëteite het. Die vraag is net hoe vêr Kaaps of Afrikaaps se reikwydte is. Is dit net Groter Kaapstad, of sluit dit die Weskus en Boland in, of dalk die hele Wes-Kaap, of selfs nog verder?

Kenmerkverskille tussen die eenhede op die glyskaal is moeilik bepaalbaar. Nie net is daar dialekvariasie in Kaaps nie, maar Kaaps is talig onstabiel as gevolg van die niestandaardstatus van die taalvorm. Gevolglik is die praattaalvorm van Kaaps – Praatkaaps – aan voortdurende variasie onderworpe. Verder is daar die kwessie van benaming: Kaaps word dikwels met Kaapse Afrikaans vereenselwig as een en dieselfde ding. Die vraag is of hulle een punt of twee verskillende punte op die glyskaal is. Verdere navorsing hieroor sal interessant wees. Hierdie situasie sal uit die aard van die saak in ’n vertaalproses in ag geneem moet word, byvoorbeeld as daar besluit moet word aan watter taalvorm voorkeur as die doeltaal gegee moet word.

4.6 Identiteit en status van Kaaps

“Kombuistaal” het volgens McCormick (2002) “overt low status, but covert high status”. Met ander woorde, in verhouding met buitestaanders dink gebruikers van Kaaps dat hulle taal in vergelyking met Engels en Standaardafrikaans ’n laer status het, maar onderliggend koester hulle ’n diep taaltrots wat aan hul unieke identiteit verbind is.

Kaaps was, en is nog steeds, ’n identiteitsdraer. As gevolg van stigmatisering het Kaapssprekendes hul taal egter toenemend in isolasie begin gebruik. Hierdie selfisolasie van Kaaps is ’n taalekologiese verskynsel. Dikwels wanneer Kaapssprekendes met buitestaanders in aanraking kom, vind kodewisseling na Kaapse Omgangsafrikaans of Engels plaas. En verder, wanneer Kaapssprekendes en Afrikaanssprekendes met mekaar in aanraking kom, vind beïnvloeding hoofsaaklik in een rigting plaas: Afrikaans (dit wil sê Standaardafrikaans) werk op Kaaps in, maar Kaaps werk minimaal op Afrikaans in. Kaapssprekendes kan almal Omgangsafrikaans praat, maar die omgekeerde is nie noodwendig waar nie. Ten spyte van hierdie situasie is dit merkwaardig dat daar ’n toename in die gebruik van Kaaps in die media is, wat bemoedigend vir die onderneming van Bybelvertaling in Kaaps is.

Die verhouding tussen Kaaps en Afrikaans-as-Standaardafrikaans bly egter problematies. Daar is twee moontlikhede wat elk ’n groot impak op die identiteit en status van Kaaps kan hê: Die een is dat Kaaps onder Afrikaans as geheeltaal bly, maar die onsekerheid oor die presiese betekenis van Afrikaans dalk daartoe kan lei dat Kaaps in die skaduwee van Standaardafrikaans bly en as sodanig taalverdringing en hegemoniseringsdwang kan ervaar ten spyte van pogings van ’n insluitende herstandaardisering. Die ander moontlikheid is dat die geheeltaal geherklassifiseer word, Kaaps haarself losmaak van Standaardafrikaans, Kaaps parallel ontwikkel (net soos Standaardafrikaans dit gedoen het langs Nederlands), en Kaaps so langsaan Standaardafrikaans deel is van ’n geheeltaal met ’n effens anderse benaming. Dat hier ’n probleem is, is duidelik. Dit lyk tans of die eersgenoemde opsie vóór hardloop, maar as Kaaps die laasgenoemde pad sou kies, beteken dit ’n parallelle maar alternatiewe taalontwikkeling wat gaan uitloop op ’n standaardisering van Kaaps langs Afrikaans-as-Standaardafrikaans, terwyl albei saam deel is van ’n groter geheeltaal. (Sien onder 5.2 ’n verdere bespreking van hierdie kwessie.)

4.7 Wins van die taalekologiese benadering van Kaaps

Vanuit ’n taalekologiese perspektief is die taalvariëteite van ’n taal met ’n nuwe gesindheid ondersoek. Die waarde van ’n minderheidstaal word beklemtoon en vrywaring van taalhegemonie word bepleit. Daar word aangetoon hoe belangrik dit is dat die taalfunksies in die voorkeurtaalkode van ’n spreker uitgeoefen moet word.

Uit die taalekologiese ondersoek van Kaaps met die oog op ’n moontlike Bybelvertaling blyk dit dat die benaming Kaaps eie aan die taalgebruikers is, dat dit één van die variëteite in ’n variëteitebundel is, dat dit genoeg sprekers het om as ’n voorkeurtaal of ’n gelykekeusetaal te oorleef, dat dit nie wat status betref as ’n taalvorm naas Standaardafrikaans binne ’n geheeltaal beskou word nie, dat dit nie deur Afrikaans of Engels verdring of oorweldig is nie, dat dit ’n lang geskiedenis het en dat dit deur al die jare ’n gebruikerstaal van die werkersklas was.

 

5. Taalontwikkeling in Kaaps

Die doel in hierdie afdeling is om vas te stel watter aspekte van die taalontwikkeling van Kaaps ’n Bybelvertaling sal bevorder en wat nog ontwikkel kan word om so ’n onderneming te vergemaklik.

5.1 Die huidige stand van sake

Kaaps is al lank, en primêr, ’n spreektaalvariëteit, maar mettertyd is dit ook benut as ’n skryfmedium in wat Kotzé (2016:28) die “literêre Kaapse Vernakulêr” noem. Die werk van Adam Small is beduidend in hierdie geval, soos wat deur Hendricks (2012) aangetoon word. Elders meld Hendricks (2016:31) ook dat Kaapse en Khoi-Afrikaanse woorde in die HAT neerslag gevind het en dat Kaapse woorde opgeneem is in die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Vir hom is die volgende stap die totstandbrenging van ’n Afrikaanse grammatikamodel, wat ook die “ryke talige sistematiek van Kaaps” gaan weerspieël. Sodanige ontwikkeling is waar as Kaaps as deel van die Afrikaanse geheeltaal gesien word en ’n herstandaardiseringsproses nagejaag word. Hendricks (2016:27) sê verder oor die gebruik van Kaaps:

Kaaps is ’n funksioneel-toereikende taalkode. Dit figureer reeds lank as godsdienskode onder ’n beduidende aantal Kaapse Moesliems en Christene, as sangkode in moppies en ghommaliedere as genres van Kaaps-Maleise volksang, in musiekuitvoerings soos District Six, The Musical, en Kat and the Kings, in Hip Hop-produksies asook in die sang- en kletsrymproduksies van musiekgroepe soos Brasse vannie Kaap.

Anastasia de Vries (2016:123–36) beskryf die toenemende en suksesvolle gebruik van Kaaps in koerante en tydskrifte soos Son, Son op Sondag en Kuier. Ook in die sakewêreld word Kaaps toenemend as ’n advertensiemedium benut. Le Cordeur (2016:83–100) se pleidooi vir die herstandaardisering van Kaaps en die insluiting van die taal in die skool skets nie net die lang geskiedenis van marginalisering nie, maar ook die ontwaking van ’n nuwe wil om iets heel prakties daaromtrent te doen. Die bestaan van radioprogramme in Kaaps (byvoorbeeld op RKP – Radio Kaap se Punt) is moontlik die mees aanvaarbare vorm van Praatkaaps en kan die grondslag van ’n meer omvattende geskrewe Standaardkaaps vorm. Verder het daar Bybelgedeeltes in Kaaps verskyn, soos aan die begin genoem.

5.2 Verdere taalontwikkeling in Kaaps

Standaardisering is nie noodwendig die uitsluitlike reg en voorreg van één variëteit nie, maar ruimte kan geskep word vir die ontwikkeling van die ander variëteite in die taalbundel so ver as wat hulle sprekers dit wil neem. Daar is verskeie maniere om hierdie taalontwikkeling aan te pak.

Hendricks (2012:29–30) stel ’n keuse tussen twee moontlikhede voor: om die regiolekte (Suidwestelike Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans) as die nuwe standaard daar te stel, of “die huidige standaardvariëteit evolusionêr te hervorm […] gestut deur vernuwende inklusiewe sosio-politieke stukragte”. ’n Derde keuse is om Kaaps apart in die groter makroafrikaanse variëteitebundel te ontwikkel, met ander woorde dit moet in die dialektebundel bly en daardeur beïnvloed word, maar tegelykertyd ’n standaardiseringsbestaan van sy eie begin kry. Dit is hier waar ’n wisselwerking tussen die vertaling van die Bybel in Kaaps (en Gariepafrikaans) en die standaardisering van Kaaps tot stand kan kom. So beskou is Bybelvertaling in Kaaps en Gariepafrikaans moontlik nie so vêrgesog nie, soos uit verskeie voorbeelde van soortgelyke situasies in Wes-Europa blyk (sien hieronder). Om dit egter moontlik te maak, moet Kaaps as ’n “volwaardige kommunikasiekode naas Standaardafrikaans gedy” (Hendricks 2012:30). ’n Kopskuif sal gemaak moet word om Kaaps van ’n minderwaardige variëteit op te hef tot ’n “gelykevlak-perspektief”, en om Kaaps te ondersteun in domeine waar die standaardvariëteit tradisioneel die botoon voer, soos in kerke en moskees, geregshowe en die media, met “erkenning van gebruiksgeldigheid” (Hendricks 2012:30). Van Rensburg (2012:138) skryf in dieselfde trant: “Taalidentiteit het te make met ruimte vir die ontwikkeling van die eie. En selfvertroue om die eie te gebruik waar dit nodig is.” En verder nog in dieselfde trant pos Johann Basson op LitNet: “Hiermee ’n uitdaging aan u en mede-Kaapssprekers om Kaaps verder te ontwikkel tot ’n volwaardige taal in eie reg, onafhanklik van standaard Afrikaans. ‘Just do it.’”8

Waar Oosgrensafrikaans 150 jaar gelede was, is Kaaps nou. Die grootste struikelblok is waarskynlik interne weerstand. Dit is ’n kwessie van selftoestemming, selftoelating en taaltrots. Hein Willemse (2012:iii) soek “die bevordering van die waardigheid van Kaaps en die sprekers daarvan – ’n waardigheid wat histories in gedrang gekom het onder druk van Standaardafrikaans en die magskonstruksie wat daaromheen gebou is.” Hy ondersteun die idee van “sprekers wat die vermoë ontwikkel om ’n verskeidenheid registers te beheers”, en wil sien dat Kaapse gebruikers ”eerder […] put uit ’n wyer letterkundige en retoriese strategie tot beskikking van skrywers, waaronder kenmerkende spraakritmes, idiomatiese taalgebruik, en gepaste beelding”.

Hoe die verhouding tussen twee “ontwikkelde” taalvorme binne één variëteitebundel daar gaan uitsien, is hoogs onvoorspelbaar.

5.3 Standaardiseringsgrense

Afrikaans is net soos Kaaps ’n oorlewingstaal. Sy sterkte kom nie van 1948 of selfs van 1925 af nie, maar reeds van vóór 1875 af. Toe, in die ongunstige posisie waarin dit was, het dit die lang pad van standaardisering aangepak en geslaag.

Is Kaaps tans ’n taal, of net ’n variëteit? Het dit genoegsame taligheid om op sy eie te staan? Die data wys dat dit inderdaad kan, en dit alreeds doen. Die vraag is nie of Kaaps náás Standaardafrikaans hom as ’n ontwikkelde taal kan vestig nie; dit beteken nie dat Kaaps die nuwe Standaardafrikaans kan of gaan word nie (Hendricks 2016:29–30).9 Die vraag is of taalontwikkeling vir sy eie mense ’n funksie het. Wil hulle dit hê? Voel hulle dat dit nodig is? As daardie interne drang vir taalontwikkeling ’n werklikheid is, sal nóg politieke of ekonomiese druk, nóg die sogenaamde lae status dit enigsins kan keer.

Die lae status is van buite af oor twee eeue afgedwing en intern as sodanig aanvaar. Die vraag is egter of daar nou genoeg momentum is vir eietaalontwikkeling. Verskeie tekens dui daarop dat dit beslis ’n werklikheid is. Die onsekerheid het betrekking op die hóé. Moet dit in die groter Afrikaans as ’n verryking van Standaardafrikaans geskied, of parallel met Standaardafrikaans?

Taalontwikkeling vir ’n taal beteken nie noodwendig volle ontwikkeling op die kort of lang termyn nie. Beperkte taalontwikkeling kan ook oorweeg word in soverre die sprekers dit wil aanvaar.

 

6. ’n Bybelvertaling in Kaaps: Is dit tog nie vêrgesog nie?

Taalontwikkeling en Bybelvertaling kan nie voorgeskryf of ingeperk word nie. As daar ’n behoefte daaraan ontstaan, word Bybelvertalings in die niestandaardvariëteite van die geheeltale of variëteitebundels aangepak.

6.1 Voorbeelde van Bybelvertalings in variëteitebundels in ander lande

Wes-Europa is die bakermat van bekende en algemeen gebruikte Bybelvertalings, soos die Engelse King James Version (1611), die Franse Louis Segond (1910) en die Nederlandse Statenbijbel (1637). Hierdie vertalings was die direkte gevolg van die uitvinding van die drukpers en van die Hervorming wat kort daarna plaasgevind het. Dit is te wagte dat daar in Wes-Europa heelwat voorbeelde van Bybelvertalings in niestandaardvariëteite sal wees. Voorbeelde uit Spanje, Frankryk, Switserland, Nederland en Noorweë word hier onder genoem, asook ’n voorbeeld van ’n Arabiese vertaling.

Die variëteitebundel en taalsituasie in Spanje is kompleks. Kastiliaanse Spaans is die grootste taalgroep10 en word algemeen aanvaar as Standaardspaans, maar daar is nou vertalings beskikbaar in Asturies (gepubliseer in 202111) en Galicies (1989), albei variëteite van die geheeltaal Spaans, en albei nou ook amptelike erkende tale. Katalaans (met Bybels wat in 1478, 1993, 2000 en 2009 gepubliseer is) is nie ’n Iberies-Romaanse taal nie; dit is ’n Gallo-Romaanse taal, dus nader verwant aan Occitaans in die suide van Frankryk. Baskies is weer heeltemal verskillend. Daar bestaan nou Bybelvertalings in al hierdie tale wat nie werklik variëteite van die geheeltaal Spaans is nie.

In Switserland bevind die gebruikers van Switserse Duits hulle in ’n diglossiese situasie, met ander woorde Switserse Duits is die praattaal en Standaardduits of Hoogduits is sowel die skryftaal as die praattaal wat gebruik word. Switserse Duits verskil só van Standaardduits dat dit wedersyds feitlik onverstaanbaar is. ’n Vertaling van die Nuwe Testament in Switserse Duits is wel beskikbaar (gepubliseer in 1984).

Ook in Arabies bestaan daar meer as een vertaling. Daar is die vertaling in Klassieke Arabies teenoor die vertalings in meer geografies beperkte Omgangsarabies (soos in Maghreb-Arabies, Tsjadiese Arabies, Soedanse Arabies en Egiptiese Arabies). Arabiessprekendes is (soos die Switserse Duitssprekendes) ook in ’n diglossiese situasie waar die klassieke geskrewe vorm van die Qur’aan in die algemeen gelees kan word, maar waar die behoefte aan vertalings in die streekvorms van Omgangsarabies al hoe groter geword het.

Die situasie in Nederland is ook insiggewend. Hollands is die variëteit van die westelike provinsies van Nederland en het die Standaardnederlands vir die hele land geword, naas die Nedersaksiese variëteite wat tot vandag toe die omgangsvariëteite in die oostelike provinsies is. In die variëteite van laasgenoemde provinsies is daar vandag Bybelvertalings in Gronings en Twents. Daar is ook ’n vertaling in Fries, wat van sowel Hollands as Nedersaksies verskil. In die oostelike en noordoostelike provinsies is daar dus ’n diglossiese situasie: Standaardnederlands is die taal van die onderwys, media, literatuur en kerk, maar die huistaal en die taal vir informele gebruik is soms nog die plaaslike omgangsvariëteite.

In Noorweë kom ’n variasie op die tema voor. Daar is basies twee standaardtale en twee standaardbybelvertalings wat albei algemeen gebruik word. In die suidooste en die noorde is die taal die Deens-gebaseerde Bokmål, wat aanvanklik die enigste standaardtaal was. Die rede hiervoor is dat Noorweë baie lank onder beheer van Denemarke was en eers op 17 Mei 1814 onafhanklik geword het. Bokmål word in die grootste deel van die land gepraat en het gevolglik ’n langer vertalings- en gebruikersgeskiedenis. Daar is egter ook die hedendaagse Nynorsk-standaard wat meer in die suidweste gepraat word.

In Frankryk is daar ook taalvariëteite wat hulle eie Bybelvertalings het. Peter Waldo, die stigter van die Waldensers, het die Bybel in Frans-Provensaals vertaal. Frans-Provensaals word in die suidooste van die land vanaf Lyon in die suide en vanaf die Rhônevallei tot by die Alpe, en in die weste van Switserland gepraat. Dit is die oudste volledige Bybelvertaling in ’n Europese taal en is in 1160 voltooi, meer as 200 jaar vóór John Wycliffe en sy Lombardiërs se vertaling in Engels in 1383. Dit was die Bybel van die Waldensers, die voorlopers van die Hervorming. Occitaans is die groot omgangsvariëteit in die suide van Frankryk, ’n streek wat strek vanaf die Atlantiese kus tot by die Alpe. 12 In Suid-Frankryk het verskeie uitgawes van die Bybel in Occitaans13 verskyn.14

Dan is daar die geval van Portugees. Oor ’n paar honderd jaar het Brasiliaanse Portugees weggeskuif van Kontinentale (Europese) Portugees, op sy eie begin ontwikkel en sy eie literatuur en Bybelvertalings begin kry. As gevolg van getalleoorwig begin Brasiliaanse Portugees die sterker variëteit te word, in toenemende konflik met Kontinentale Portugees, soos dit duidelik geword het met die onlangse debatte rondom die nuwe ortografie. Brasiliaans het langsaan Kontinentale Portugees binne die Portugees-Galiciese geheeltaal sterk ontwikkel. Intussen is Portugees selfs in Afrika aan die verander, met as uitdrukking daarvan die onlangse loodsing van ’n Bybelvertaling in Mosambiekse Portugees.

Die talle voorbeelde van Bybelvertalings in variëteitebundels hier bo versterk die aanname dat ’n Bybelvertaling in Kaaps en Khoi-Afrikaans nie vêrgesog is nie.

6.2 Wat van die Bybel of Bybelgedeeltes in Kaaps?

Vir ’n vertaling in Kaaps is die tafel basies gedek. Daar is ’n oplewing in die gebruik van die taalvorm, ’n geskrewe standaard is stadig maar seker besig om vorm aan te neem en die verskille tussen Standaardafrikaans en Kaaps word toenemend gedokumenteer, van fonologiese en morfosintaktiese tot leksikale en idioomverskille. Die kritieke vraag wat nog beantwoord moet word, is of daar op grondvlak genoegsame belangstelling vir so ’n projek is, en of dit maar net ’n nuwigheid vir ’n handjie vol geïnteresseerdes is. Verder, as daar besluit sou word om so ’n grootskaalse en verteenwoordigende projek in Kaaps aan te pak, gaan dit nodig wees om die keuse van die taalvariëteit vas te pen, wat die (waarskynlik gedeeltelike) standaardisering van daardie variëteitekeuse inhou. Gaan dit Kaaps wees, of Moesliemkaaps, of gaan daar verder op die glyskaal in die rigting van Kaapse Omgangsafrikaans beweeg word? As dit Kaaps gaan wees, sal daar gekies moet word tussen die orale variëteit Praatkaaps en ’n gestandaardiseerde geskrewe Kaaps. Dit is alles kwessies wat wye oorleg en navorsing gaan verg. ’n Bybelvertaling in Kaaps, mondelings of skriftelik, of albei, beteken nie noodwendig dat volle taalontwikkeling vir Kaaps vereis word nie. Daar is baie tale met vertalings wêreldwyd wat maar net ’n gedeeltelike taalontwikkeling ondergaan het.

Daar is egter wel ’n probleem. Bybelvertalings in variëteitebundels of geheeltale naas vertalings in standaardvariëteite is dikwels nie ’n kollektiewe inisiatief nie. Baiekeer is daar ’n vakpersoon wat die taal goed bemeester en dan basies alleen werk. Finansiële beperkings is dikwels ook ’n onderliggende faktor en so ’n projek kan baie lank neem.

Daar is ook verskillende motiverings vir ’n Bybelvertaling wat grondig van mekaar verskil:

  1. Eerstens is daar die vertaling wat iemand doen vanuit ’n persoonlike belangstelling en as ’n vorm van selfuitdrukking. Die vertaler produseer ’n literêre uitdrukking van die Bybel se universele boodskap en die inhoud en taal is van ’n hoë literêre gehalte. So ’n vertaling word nie noodwendig algemeen gebruik nie, hoewel dit soms die geval kan wees.
  2. Tweedens is daar die motivering van ’n kulturele erfenis. Taalgemeenskappe sien graag ’n vertaling in hulle eie taalvorm om hulle taal teen verval en verdwyning te vrywaar. Dit gaan dus oor die begeerte van taalhandhawing, maar so ’n vertaling het nie juis ’n groot godsdienswaarde nie.
  3. Derdens is daar die sterk godsdiensmotivering om die dieper kommunikasiewaarde in die vorm van ’n eie godsdienskode te kan benut. In sulke gevalle is die vertalingsproses gewoonlik ’n kollektiewe proses wat algemeen aanvaar word.

Die waarde van ’n Bybelvertaling in Kaaps lê daarin dat ’n diepbeleefde taalkode ’n dieper en hoër godsdienskommunikasie tot gevolg het, wat kennisverwerwing sowel as kennisuitdrukking betref. Dit sal ’n dieper verstaan van die Bybelse boodskap bevorder. ’n Dieper indringing van spesiale godsdienskennis is in ’n mindere of meerdere mate die gevolg, maar dit kan ’n dieper aanneemlikheid, ’n dieper geestelike belewing en ’n groter genieting en bevrediging van godsdienswaarhede vir die Bybelleser meebring.

 

7. Moontlike pad vorentoe

Vanuit ’n ekolinguistiese verwysingsraamwerk met sy negatiewe standpunt teenoor taalhegemoniese en taalverdringende invloed, kan gesê word dat die eindgebruikers vry is om te kies of so ’n Bybelvertalingsproses wyer gaan uitkring of by ’n kleiner belangegroep gaan bly. Van uiterste belang in die lig van die huidige sosiopolitieke en sosiopsigologiese konteks, sal die inisiatief van Kaapssprekendes moet uitgaan, van binne aangespoor moet word en ’n hoë vlak van eienaarskap aanvaar moet word.

7.1 Watter voorbereidings is nodig?

In die lig van die heersende interne en eksterne vooroordele, wat oor meer as 300 jaar gevorm is, is dit heel waarskynlik dat so ’n inisiatief weerstand gaan ervaar, net soos in die geval van Afrikaans in die tweede helfte van die 19de eeu. Die vraag is hoekom Adam Small se baanbrekerswerk van 50 jaar gelede nog nie werklik posgevat het nie, aangesien geskrewe Kaaps al ’n lang geskiedenis het. Dit is sekerlik weens onderdrukking en negatiewe persepsies, maar desondanks is dit verbasend dat daar nie meer literêre produksies was nie. ’n Proses van selfbemagtiging is dus nodig van Kaaps as ’n godsdienskode in sy omgewing. Drie faktore kan weerstand oproep:

  1. Die vulgêre gebruik van Kaaps kan mense negatief stem wanneer dit by Bybelvertaling kom. Die siening van Kaaps as ’n skeltaal, vloektaal of kragtaal kan baie mense teen die bors stuit. Taalgebruikers kan die siening hê dat Kaaps die beleefdheidsgrense te gereeld oorskry en daarom as Bybeltaal onaanvaarbaar is. Beskouinge van sogenaamde onbeleefde taligheid van Kaaps kan die Bybeltaalontwikkeling van Kaaps belemmer en selfs in die wiele ry.
  2. As so ’n produk deur sommiges, veral buitestaanders, as “oulik” gesien word, maar nie werklik ernstig opgeneem word nie, kan hierdie vermaaklikheidsfaktor die vertalingsinisiatief kniehalter.
  3. Die sogenaamde onsuiwerheid (’n ongewenste waardestelling in die lig van ekolinguistiek!) van Kaaps kan ook ’n struikelblok wees. Die vermenging met Engels werk teen die ongeskrewe verwagting in dat godsdienstaal suiwer moet wees. Suiwer taalgebruik as ’n voorvereiste vir ’n Bybel is ’n teologiese siening dat die Opperwese in suiwer, maar dikwels ontoeganklike en selfs hoogdrawende, amptelike taal benader moet word. Vir diesulkes is die gesproke omgangstaal dus ongeskik vir godsdienstaal. Hierdie stryd woed al sedert die sestigerjare met die verskyning van Eugene Nida (1964; 1969) se dinamiese-ekwivalente vertaalmetode. Dit is dus eerder ’n teologiese en nie meer ’n taalkwessie per se

Die ekologie van taal speel ’n belangrike rol hier. Individuele sprekers maak individuele taalkeuses en groepe taalgebruikers maak kollektiewe taalkeuses. Dit is onvermydelik dat ’n taalkeuse gemaak sal moet word. Bybelvertaling is ’n logiese gevolg van al die aanvanklike tendense. Die volgende gunstige faktore kan reeds geïdentifiseer word:

  1. Kaaps het ’n sterk maar onderliggende en interne identiteit. Daar is tekens van ’n oplewing van taaltrots, ’n belangrike bestanddeel vir suksesvolle taalontwikkeling.
  2. Dit het ’n algemene omgangstaalgebruik, ten spyte van intense taalvermenging en taalkontak.
  3. Daar is ’n onderskeibare taalontwikkelingstrajek: in literêre gebruik, in die media (soos die radio en koerant) en in ander kulturele gebeurtenisse.

Verdere voorbereidende stappe is waarskynlik nodig. Vir enige langtermynproduk soos ’n Bybelvertaling is daar ’n sekere onderbou nodig, baie soos die geskiedenis van die Bybelvertaling in Afrikaans. In 1865 was die omstandighede nog nie reg om die amptelike erkenning van Afrikaans en ’n Bybelvertaling aan te pak nie. Dit moes meer as 50 jaar wag terwyl die Eerste Taalbeweging en die politieke geskiedenis hulle pad geloop het.

Voorbereidende stappe kan die volgende insluit:

  1. ’n Proses van selftoestemming moet geïnisieer word dat so ’n produk gewens en uitvoerbaar is ten spyte van die geskiedenis en ten spyte van negatiewe taalgesindhede.
  2. ’n Talige onderbou moet daargestel word deur ’n woordeboek in Kaaps en ’n Kaapse grammatika saam te stel.
  3. Pedagogiese materiaal vir onderwys moet ontwikkel word.
  4. Kerklike streeksleiers en moontlike sinodebesluite sal die deurslag moet gee. Dit gaan baie belangrik wees dat die kerke sowel uitspraak as inspraak lewer oor die geskiktheid van Kaaps as godsdienstaal. As die Kaapse vertaling uiteindelik nie in die kerke toegelaat gaan word nie, sal die projek uitrafel en eenkant toe geskuif word.
  5. Eksperimentering met aanvangsprojekte in Bybelvertaling en ander taalprojekte moet onderneem word.

In hierdie stadium is dit belangrik dat die Bybelvertalingsagentskappe soos die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Wycliffe Bible Translation, Seed Company en andere hulle rolle verstaan teenoor die eindverbruikers van so ’n vertaling. Eienaarskap deur die eindverbruikers is die sleutel tot enige suksesvolle projek. Met die geskiedenis van Kaaps en die mense wat Kaaps gebruik, is die risiko des te meer akuut. Dit beteken nie dat die Bybelvertalingsagentskappe niks kán of mág doen nie; hulle kan sekerlik die proses van die kantlyn af aanmoedig, maar hulle kan nie op hierdie sensitiewe stadium met die bal hardloop nie.

Opsommenderwys word aanbeveel dat wanneer die behoefte vir kollektiewe aksie vir ’n Bybelvertaling in Kaaps ontstaan, daar ’n gesprek aangeknoop word tussen die potensiële eindverbruikers en hulle godsdienstige en kerklike besluitnemingsmeganismes soos sinodes en kerklike konferensies; ook dat wanneer die gebruikers gereed is, hulle die Bybelvertalingsagentskappe nader vir koördinering en tegniese bystand. ’n Tweede aanbeveling is om as deel van die aanvanklike besluitnemingsproses met ’n aanvangsprojek af te skop wat met moontlike eindprodukte eksperimenteer.

7.2 Moontlike Bybelprodukte

Daar is heelwat pasklaar moontlikhede vir die Bybel. Die vier kernprodukte is 1) die gedrukte Skrif, 2) oudio-opnames gebaseer op die gedrukte Skrif, 3) opnames van orale Skrifvertaling, en 4) dinamiese orale Bybelverhaalvertelling. Veral die laaste twee produkte is ’n nuwe ontwikkeling wat gepaard gegaan het met die herontdekking van oraliteit en orale tradisies in teenstelling met literêre, geskrewe werk. Daar is dus nou ’n nuwe uitdrukkingsmoontlikheid vir die Bybel: oraal-mondeling teenoor literêr-skriftelik. Orale weergawes is nie dieselfde as oudio-opnames nie. Oudio-opnames is basies skryftaal in hoorbare formaat, terwyl orale benaderings die rykdom van praattaal benut. Die gedrukte Bybel is dus nie noodwendig die enigste moontlikheid vir ’n vertaling nie.

’n Orale aanvangsprojek sou baie aktueel wees. Kaaps is tans hoofsaaklik en ten diepste ’n gesproke taal in die vorm van Praatkaaps of Omgangskaaps. Skryfkaaps is nog jonk en ’n groot mate nog ongestandaardiseerd met ’n gebrek aan ’n eie woordeboek, spelreëls en ’n grammatika in eie reg, soos reeds aangetoon is. Terwyl hierdie eie taalontwikkeling tyd nodig het om tot volle uitdrukking te kom, kan ’n orale vertaling intussen op media soos die internet of radio, MP4-opnames, op selfone en ander klankmedia versprei word. ’n Orale vertaling van die Bybel in Kaaps, in Praatkaaps in teenstelling met Skryfkaaps, kan ’n goeie voorloper van ’n Bybel in Skryfkaaps wees. ’n Produk wat op ’n ryk orale tradisie gebaseer is, kan so op ’n Bybel in Skryfkaaps inspeel. ’n Orale produk hoef nie noodwendig ’n geskrewe produk vooruit te loop nie. Dit is net ’n alternatiewe moontlikheid om die rykdom van Praatkaaps te benut.

Niemand is gebind aan ’n volledige geskrewe Bybel vanaf die eerste dag nie. Daar kan verskeie fases wees, elkeen met ’n omvattende evalueringsproses voordat die volgende fase aangepak word. Daar kan, byvoorbeeld, aanvanklik ’n aanvangsprojek wees wat met 50 Bybelverhale en een volledige Bybelboek eksperimenteer. As dit positief geëvalueer word, kan daar ’n paar volledige Bybelboeke volg. As dít ook positief blyk te wees, kan volledige testamente en uiteindelik ’n volle Bybel vertaal word – almal ook oraal-mondeling, of skriftelik, of die een na die ander, of albei tegelykertyd.

Daar is al Kaaps vertalings wat hier en daar verskyn het. Hier onder is vier voorbeelde:

Olivia Coetzee (s.j.a.) se Jesaja 26:20:

Gat huis toe, my mense, gat in julle kames en sluit die deure agte julle. Stiek julleself weg vir ’n kôt rukkie, tot Got se kwaad veby is.

Etienne Pieterse (2022) se eerste konsep van Markus 1:7–8:

7 Hy’t gepriek en gesê “Die Een wat na my kom, is baie kwaier as ek. Ek issie ees wed om te sak en sy skoene se vieters vas te makie. 8 Hy sê toe vi hulle, “Kykie ek gan julle met water doep né, ma Hy ga julle met die Heilige Gees doep”.

Derdens, Psalm 1:1–2 van Willa Boezak uit Die Pesalms vi ôse mense (2019):

1 Hêppie is daais wattie lyste na gangsters ’ie,
Oekie moet merts vrinne maak’ie of moet skinnebekke saam whietie nie,

2 maa wat hulle geluk vang innie Woord vannie Djirre
en ammekaa daa’oo dink, vannie oggend torrie aand.

Die wenner van LitNet se Bybel in Kaaps-kompetisie (LitNet 2018) was Kyle Deon Manuel van Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte met sy vertaling van Genesis 1:1–3:

Aanie begin het God die hiemele enie aarde gemaak. Har’was niks, die aarde was helemal onbewoenbaar. ’It was donker oppie waters, maar’ie Giees van God het oorie water geswief. Toe’et God gesê: “Lat die lig uitstiek!” En skielik toe wa’sa lig.

God het gesien’ie lig was kwai, en hy’t die lig en die donker va’mekaar geseparate. God het toe’rie lig “dag” genoem ennie donker het hy “nag” genoem. Dit het nag geword en’it het dag geword. Nou soe wassie eerste dag gemaak.

Toe’it God gesê: “Laat daar separation wies tussen’ie waters, om’ie waters van mekaar te skei.” Soe herrit gebeur. God het’ie separation gemaak enn’ie waters, bo en onne en alles in die omtes, het liewendig geword. God het’ie boenste omte “hiemel” genoem. Dit het nag geword en’it het dag geword. Dai was’ie twiede dag.

 

8. Ten slotte: voordele en risiko’s van so ’n taalontwikkeling

Die benadering hier bo kan besliste voordele meebring: eerstens, groter erkenning van Kaaps; tweedens, ’n sterker identiteitsmerker vir Kaapse sprekers; en derdens, effektiewer kommunikasie in ’n godsdienskode wat dieper indring. In die taalekologie van die veeltaligheid in die Kaap gaan die behoefte aan die funksie van effektiewe kommunikasie in die domein van godsdiens moontlik die oortuigendste rede vir ’n Bybel in Kaaps wees. Dalk gaan dit daar bly, soos in baie gevalle wêreldwyd. Die vereiste van die standaardisering van Kaaps as ’n godsdienskode (d.w.s. ’n Bybelvertaling, onder andere) om die funksie van effektiewe kommunikasie te bereik, hoef nie te beteken dat nét grootskaalse standaardisering van Kaaps ’n moet is nie.

Risiko’s is die volhoudende negatiewe gesindhede van die kant van nie-Kaapssprekers, ’n swak taaltrots en ’n trae omhelsing van die konsep van taalontwikkeling van Kaaps deur die eindgebruikers self. Die ongewenste spanning tussen die variëteite kan die implementering van ’n Kaapse oraal-mondelinge of geskrewe Bybel teen ’n klipmuur van interne weerstand laat stuit. Wanneer gebruikers van binne en toeskouers van buite die ontwikkeling van Skryfkaaps en die ontwikkeling van Kaaps as godsdienskode as ’n bedreiging van die status quo beskou, kan hulle die vertaalproses in die wiele ry. ’n Vertaling van die Bybel in Kaaps beteken egter nie dat Kaapse eindgebruikers gaan ophou om die Bybel in Engels of Standaardafrikaans te lees nie. Die taalekologiese omgewing van Kaaps sluit hierdie moontlikheid uit. Veeltaligheid het gekom om te bly.

 

Bibliografie

Basson, E.R. 2018. ’n Kritiese ondersoek na die plek van Kaapse Afrikaanse taalkunde en kallitidentiteit in die Afrikaans Huistaalklaskamer aan die hand van Kaapse Afrikaanse idiomatiese uitdrukkings. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Boezak, W. 2019. Die Pesalms vi ôse mense. Kaapstad: DAK-Netwerk.

Bouwer, L.E. 2005a. Language ecologies in Madagascar: An ongoing study. Referaat gelewer by die International Language Assessment Conference, Chiang Mai, Thailand, 7–14 September.

―. 2005b. Ecology of language and language assessment: A case study. Referaat gelewer by die International Language Assessment Conference, Chiang Mai, Thailand, 7–14 September.

―. 2010. Language ecology: An introduction. Referaat gelewer by die International Language Assessment Conference, Penang, Maleisië, 3–10 November.

―. 2017. E-pos aan die skrywer.

Carstens, W.A.M. en M. le Cordeur (reds.). 2016. Ons kom van vêr: Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Naledi.

Chen, S. 2016. Language and ecology: A content analysis of ecolinguistics as an emerging research field. Ampersand, 3(2016):108–16.

Coetzee. O.M. 2017. Waarom die Bybel in Kaaps?  https://www.litnet.co.za/waarom-die-bybel-kaaps (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

_ . s.j.a. Olivia M Coetzee. https://www.litnet.co.za/author/olivia-m-coetzee (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

―. s.j.b. Bybel in Kaaps. https://www.litnet.co.za/category/nuwe-skryfwerk-new-writing/bybelinkaaps (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

Davids, A. 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915. Menlo Park: Protea Boekhuis.

De Vries, A. 2016. Kaaps in koerante. In Hendricks en Dyers (reds.) 2016.

Den Besten, H. 1989. From Khoekhoe foreigner talk via Hottentot Dutch to Afrikaans: The creation of a novel grammar. In Püts en Dirven (reds.) 1989.

Du Plessis, H. 2008. Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte. Midrand: LAPA Uitgewers.

Dyers, C. 2016. Konsepomwenteling in die taalwetenskap: Implikasies vir die studie van Kaaps. In Hendricks en Dyers (reds.) 2016.

February, V.A. (red.). 1994. Taal en identiteit: Afrikaans en Nederlands: Voordragte gehou in die Pieterskerk, Leiden, 23–24 Junie 1992, onder beskerming van die Afrika Studiecentrum. Kaapstad: Tafelberg.

Fransman Jr, W. 2019. Kaapse Afrikaans: ’n Uitdaging, maar ook ’n wonderlike vooruitsig! Referaat gelewer tydens Lenteseminaar, Universiteit van Pretoria, 13 September.

Haugen, E. 1968. Dialect, language, nation. The American Anthropologist, 68(4):922–35.

―. 1972. The ecology of language: Essays selected and introduced by A.S. Dill. Stanford: Stanford University Press.

Hendricks, F. 2012. Om die miskende te laat ken: ’n Blik op Adam Small se literêre verrekening van Kaaps. Tydskrif vir Letterkunde, 49(1):95–114.

Hendricks, F. 2016. Die aard en konteks van Kaaps: ’n Hedendaagse, verledetydse, en toekomsperspektief. In Hendricks en Dyers (reds.) 2016.

Hendricks, F. en C. Dyers (reds.). 2016. Kaaps in fokus. Stellenbosch: SunMEDIA.

Hendricks, F. en C. Dyers. 2016. Inleiding. In Hendricks en Dyers (reds.) 2016.

Jantjies, C. 2017. Kaaps: deel van die standaard?  https://www.litnet.co.za/kaaps-deel-van-die-standaard (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

Kotzé, A.E. 1995. ’n Fonologiese en morfologiese beskrywing van Lobedu. Doktorale proefskrif, UNISA.

Kotzé, E.F. 1983. Variasiepatrone in Maleier-Afrikaans. Doktorale proefskrif, Universiteit van die Witwatersrand.

―. 2016. Die historiese dinamika van Kaaps: Toe en nou. In Hendricks en Dyers (reds.) 2016.

McCormick, K. 2002. Language in Cape Town’s District Six. New York: Oxford University Press.

McLachlan, T. 2020. Oor Kaaps en herstandaardisering: ’n mening.  https://www.litnet.co.za/oor-kaaps-en-herstandaardisering-n-mening (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

Meads, C. 2020 Afrikaans gestandaardiseer, Kaaps misken.  https://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-om-boeke-in-kaaps-te-publiseer (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

Le Cordeur, M. 2016. Kaaps: Tyd dat die taal van die Kaapse Vlakte in die formele skool verreken Word. In Hendricks en Dyers (reds.) 2016.

LitNet. 2018. Bybel in Kaaps-kompetisie: wenners aangekondig. https://www.litnet.co.za/bybel-kaaps-kompetisie-wenners-aangekondig (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

Pieterse, E. 2022. Die Evangelie volgens Markus (manuskrip van ’n ongepubliseerde eerste konsep).

Ponelis, F.A. 1994. Standaardafrikaans in oorgang. In February (red.) 1994.

―. 1998. Standaardafrikaans en die Afrikaanse taalfamilie. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.

―. 1999. Die oorspronge van Afrikaans. http://www.archive.org/stream/rosettaproject_afr_detail-6/rosettaproject_aft-detail_djvu.txt (8 April 2022 geraadpleeg).

Püts, M. en R. Dirven (reds.). 1989. Wheels within wheels: Papers of the Duisberg Symposium on pidgin and creole languages. Frankfurt am Main: Peter Lang.

Saal, E. 2019. Van “brokwa” tot “broodgoed” – op reis met Oranjerivierafrikaans (Gariep-Afrikaans). ATR-komvandaan-seminaar. https://www.litnet.co.za/atr-komvandaan-seminaar-2019-van-brokwa-tot-broodgoed-op-reis-met-oranjerivierafrikaans-gariep-afrikaans (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

SARIE-promosiespan. 2018. Watter Afrikaans praat jy? Loer hier en gesels saam. https://www.netwerk24.com/sarie/myself/ons-lewe/hieroor-praat-mense/ken-jy-afrikaans-se-onmisbare-varieteite-20180803 (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

Van Huyssteen, G. 2020. Sake voortspruitend: ’n Reaksie op Michael le Cordeur se hervormingstrategie vir die Afrikaans-skoolkurrikulum.  https://www.litnet.co.za/sake-voortspruitend-n-reaksie-op-michael-le-cordeur-se-hervormingstrategie-vir-die-afrikaans-skoolkurrikulum (26 Augustus 2022 geraadpleeg).

Van Rensburg, C. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: LAPA Uitgewers.

Willemse, H. 2012. Soppangheid vir Kaaps: Mag, kreolisering, en Kaapse Afrikaans. In Hendricks en Dyers (reds.) 2016.

 

Eindnotas

1 Hierdie artikel is oorspronklik as ’n referaat aangebied tydens die 2017-sessie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Arcadia, Pretoria.

2 ’n Voorbeeld is Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte (2008).

3 Translanguaging is ’n sosiolinguistiese konsep wat verwys na die gelyktydige gebruik van meer as een taalkode in een taaluiting.

4 Sibo Chen (2016:113) skryf oor die “ecolinguist’s anti-hegemonic commitment”.

5 Die term skuiltaal is deur Pieter Engelbrecht gemunt (mondelinge mededeling).

6 Sien ook Hendricks (2012:97) na aanleiding van die opmerking hier bo oor geleentheidskode.

7 Daar kan byvoorbeeld gevra word wat die status van Kaaps in vergelyking met die ander niestandaardvariëteite van Afrikaans is. Is daar ’n universele Gariepafrikaans? Is daar ’n variëteit wat uitstaan? Wat van Griekwa-Afrikaans (of dalk beter, net Griekwa)? Ongelukkig laat die ruimte dit nie toe om verder op hierdie vrae in te gaan nie.

8 https://www.litnet.co.za/kaaps-is-the-future-of-afrikaans/ (2 September 2022 geraadpleeg).

9 Sien Hendricks se eerste opsie vroeër.

10 https://bilingualkidspot.com/2020/09/10/languages-spoken-in-spain-official-language-more (23 Maart 2022 geraadpleeg).

11 Vir meer inligting oor die Asturiese Bybel, sien https://evangelicalfocus.com/culture/11186/first-complete-bible-in-asturian-language-published (23 Maart 2022 geraadpleeg).

12 https://geopoliticalfutures.com/french-languages-dialects (23 Maart 2022 geraadpleeg).

13 Sants Evangèlis, die Evangelies in Occitaans deur Juli Cubaines (Toloza: Societat d’Estudis Occitans, 1931), gevolg deur die nuwe La Bíblia: Ancian Testament, die Ou Testament vertaal in Occitaans deur Fr. Joan Larzac (Toulouse: Letras d’òc, 2013), op sy beurt weer gevolg deur die La Bíblia, Nouveau Testament, die Nuwe Testament in Occitaans, ook deur Fr. Joan Larzac (Toulouse: Letras d’òc, 2016).

14 Daar is selfs verdere subvariëteite in Frankryk met vertalings, naamlik in die Gaskonse en Aranese variëteit. Evangèli segon sant Matèu (Pau: Per Noste, 1995), vertaal in Gaskons deur Miquèu Grosclaude; Nau testament (Val d’Aran: Archiprestat d’Aran-Avescat Urgelh, 2010), vertaling in die Aranese subvariëteit.

 

• Die fokusprent deur Joel Muniz by hierdie artikel is geneem van Unsplash.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top