Is brandweerpersoneel vir 2025 wat verpleegpersoneel vir 2020 was?

  • 0

Foto: Tim Eiden op Pexels

Beeldmateriaal van die buite-beheer-brande wat hele woonbuurte in Los Angeles in puin laat, speel die afgelope paar dae voortdurend op televisie en op sosiale media af.

Daar is die angswekkende beelde van vlamme wat die lug in opskiet, wat huise, besighede en bome vernietig. Daar is die beelde van stukkies brandende vonke wat versprei word, sodat dit lyk of die vuur “spring” en op ander plekke opvlam. Daar is die video’s van hoe buurte voor die brand gelyk het, en wat nou daarvan oor is. Daar is beelde van mense met net die klere aan hulle lyf, met ’n troeteldier in die arms, wat aan die vlamme probeer ontvlug.

Glanspersoonlikhede vra dat mense donasies gee aan verskillende organisasies. Mense stel hulle huise en besighede oop vir ander wat hulle huise verloor het. Gimnasiums stel hulle storte beskikbaar, restaurante bied gratis etes aan, hotelkamers is gratis beskikbaar, selfoondiensverskaffers bied gratis lugtyd aan. Almal help waar hulle kan. Jamie Lee Curtis het $1 miljoen dollar vir welwillendheidsorganisasies geskenk. Ander sterre sal seer sekerlik ook begin geld skenk.

Dan is daar die brandbestryders.

Eers het daar ’n gerug die rondte gedoen dat die burgemeester brandbestryders se begroting met $17,6 miljoen besnoei het om meer geld aan die polisie te begroot. Nou is daar ander gerugte wat dit as vals nuus afmaak. Koppel dit aan Meta se aankondiging dat hulle nie meer feite vir korrektheid sal nagaan nie, en daar is die gevaar van sekondêre skade wat aangerig sal word. En Trump-aanhangers, nooit traag om vals inligting van hul eie te versprei nie, reken die brande is so buite beheer omdat daar nie genoeg wit brandbestryders is nie en omdat die hoof van die brandbestryders ’n beleid van diversiteit, gelykheid en inklusiwiteit in die werkplek voorstaan.

.........
Kalifornië [het] ’n omstrede program waar gevangenes gebruik word om brande te help bestry.
.........

Behalwe dat die brandbestryders hierdie brande moet probeer beveg, het hulle ook nog mense wat hoop hulle misluk vir politieke doeleindes. Verder het Kalifornië ’n omstrede program waar gevangenes gebruik word om brande te help bestry. Volgens ABC News is daar tans na raming sowat 800 veroordeelde gevangenes wat help om die brande te bestry. Maar wanneer hulle hulle vonnisse uitgedien het, mag hulle nie aansoek doen om werk as brandbestryders nie.

In terme van die program waaraan hulle deelneem, is daar ongeveer 1 800 gevangenes wat aan brandbestryding dwarsdeur die staat deelneem.

Beelde van brandbestryders wat mense na veiligheid lei, wat diere red, wat in die vlamme ingaan om dit te probeer blus, speel op ons skerms af. Een video wat my bybly, is van mense wat in ’n kroeg voor ’n groot skerm saamdrom. ’n Vliegtuigie spuit water oor ’n brandende area, en wanneer die vuur geblus word, juig die mense in die kroeg asof hulle gunstelingsportspan punte aangeteken het.

Brandbestryders is die helde van Kalifornië.

Die gejuig in die kroeg het my bygebly omdat dit so sterk herinner het aan die manier waarop ons in 2020, toe die pandemie op sy ergste gewoed het, hande geklap het wanneer verpleegpersoneel gaan werk het. Mense het buite hulle huise gaan staan om hulle toe te juig. Saans was daar ’n spesifieke tyd wanneer almal hande geklap het om hulle waardering te wys.

Die pandemie is skaars oor en daai dankbaarheid is vergete. Het verpleegsters verhogings gekry as blyk van waardering? Moenie laf wees nie. Tree pasiënte nou met meer bedagsaamheid op teenoor verpleegpersoneel? Natuurlik nie – die gevaar is mos oor.

Ek is bevrees dat die groot waardering wat daar nou vir brandbestryders is, dieselfde gang sal gaan. Die brande sal geblus word, mense sal begin herbou. Sommige brandbestryders sal huis toe gaan, ander gaan terug in aanhouding. Rinse. Repeat.

.........
Ek hoop die tyd sal aanbreek wanneer ons nie net kyk na die ryk sakeman in sy blink kar nie, maar dat ons ook die gewone mense sonder wie die samelewing binne dae sal verbrokkel, sal waardeer.
.........

Oor ’n paar maande het almal vergeet van die brandbestryders wat hulle lewens gewaag het, net soos wat ons al vergeet het van die verpleegpersoneel wat alles opgeoffer het om ons veilig te hou.

Ek kan net hoop dat daar, voordat die afgryslike verliese wat nou gely word, vergete is, een of ander vorm van vergoeding beding sal word vir brandbestryders.

Maar meer as dit, hoop ek dat ’n tyd sal aanbreek dat ons die rugstring van ons samelewing, die verpleegsters, die brandbestryders, die ambulanspersoneel, die onderwysers, die skoonmakers, die plaaswerkers, die winkelpersoneel, die sanitasiewerkers, na waarde sal skat. Ek hoop die tyd sal aanbreek wanneer ons nie net kyk na die ryk sakeman in sy blink kar nie, maar dat ons ook die gewone mense sonder wie die samelewing binne dae sal verbrokkel, sal waardeer.

Sela.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Is Amerika op die vooraand van ’n fascistiese toekoms?

Wat sê Bettina? Vroueregte in 2025

Wat sê Bettina? Nobs Mkhize en swart op swart rassisme

Wat sê Bettina? Israel en die Internasionale Strafhof

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top