Is alle verwysings na erfenis nou taboe?

  • 1

bertus300Alles waarmee mense hulleself besig hou, is kultuur. Die oomblik wanneer ons iets uit die natuur verwerk, voeg ons waarde daarby. Kos en klere maak is net so deel van kultuur as om kunswerke te produseer, en resepte en modes vorm deur tradisie verwysings van wie ons is. Dan is daar ook tipes kultuur wat vir ons meer kosbaar is as ander: ons objektiveer sommige tradisies en erfenisse as simbole van die waardes van ons kultuur. Die Familiebybel, Ouma se resepteboek, Oupa se handploeg en Oumagrootjie se eetservies wat die Anglo-Boereoorlog oorleef het, kry ereplekke in ons huise. Dit word monumente van ons vermoë om oor tyd aan te pas en te oorleef, dikwels téén moeilike omstandighede in. In voorhuise van mense wat besonder patrioties is oor hulle herkoms, sal daar dalk ’n foto hang van ’n ou Boeregeneraal of parlementslid, en in hulle kombuis staan dalk ’n beskuitblik in die vorm van die Voortrekkermonument. Ek het by my oupa twee afdrukke geërf wat in sy eetkamer neffens mekaar gehang het: De Moord van Piet Retief en De Slag van Bloedrivier (albei met Hollandse teks wat die stories vertel). Nou weet ek net nie waar – en of – ek hulle moet hang nie.

Kultuur vorm die dekor waarteen ons leef. Ons meet wat ons doen aan die waardes wat aan ons oorgedra is, en die simbole wat daardie waardes verteenwoordig, word ’n tipe maatstaf vir ons eietydse besluite. Dié wat besonder sterk voel oor hulle geskiedenis, mag selfs gereeld die vraag vra: “Wat sou Oupa / Paul Kruger / Cecil John Rhodes gedink het van die wêreld waarin ons nou leef?” Daarom dalk die behoefte van besonder konserwatiewes om hulle aan standbeelde van helde uit hulle verlede te gaan vasketting – nie om die beelde van sloping te red nie, maar om solidariteit te toon met wat die beeld verteenwoordig, om te wys dat vervloë beginsels in hulle alledaagse lewe steeds geld.

saddamstandbeeld650

Daar is meer as gesprek op die oomblik oor die waarde van sulke ikone vir ons land. Die verwydering van Rhodes se standbeeld by die Universiteit van Kaapstad het my herinner aan hoe Lenin en Saddam se beelde elders in die wêreld moes val. Die gemeenskappe waar die beelde gestaan het, het nie meer die waardes wat deur hulle gesimboliseer is, onderskryf nie. En tog kry die sterkste kapitalistiese land in Europa dit reg om die simbole van kommunisme as deel van hulle erfenis te integreer: in Berlyn pryk enorme beelde van Marx en Engels. Dit herdenk die bydraes wat hierdie twee andersdenkendes tot kollektiewe waardesisteme gemaak het – al is dit nie noodwendig waardes wat die huidige tydsgees in Duitsland onderskryf nie.

Onverdraagsaamheid teenoor (ander mense se) simbole om jou mag dui op ’n onvermoë om geïntegreerd oor die lappieskombers van jou eie verlede te dink. Die selektiewe vandalisme van monumente is waarskynlik ’n aanduiding van ’n animistiese residu by die saakbeskadiger. Toe Ou Israel in primitiewe tye Palestina as grondgebied by ander volke afgevat het, is hulle beveel: “En julle moet hulle altare afbreek en hulle heilige pilare verbrysel, en julle moet hulle heilige pale met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap, en julle moet hulle name uit dié plek vernietig” (Deut 12:3). Die gedagte was dat indien wat van waarde vir die inheemse volkere was, in die nuwer orde opgeneem sou word, dit die gemeenskap kon verlei om ontrou te word aan die jaloerse God wat hulle aanbid en gevrees het. Op soortgelyke manier vernietig ISIS in Irak tans historiese bakens wat vir die ganse mensdom van waarde is. En in Suid-Afrika loop nie net die herinneringe aan argitekte van kolonialisme en apartheid deur nie, maar ook Pessoa en Gandhi. Bid jou dit aan.

Ek verstaan dat mens soms moet huis skoonmaak en ontslae raak van veral wat negatiewe herinneringe of konnotasies verbeeld. Gooi gerus die plak waarmee jou ma jou geslaan het, weg, en kies om haar laaste bril in ’n diepteraam te monteer. Kies ook om nie terug te gaan na ’n huis of buurt waar jy nie gelukkig was nie, en maak as ritueel ’n vuur waar jy dit wel kan wees. Hou maar jou pa se ou Ford-bakkie en stal sy foto in jou eetkamer uit, al onthou jy ook sy foute. Mens meet mense (en beskawings) immers nie aan hoe laag hulle gedaal het nie, maar aan die hoogtes wat hulle bereik het. Ons val almal net tot op die grond, maar sommiges kry dit reg om dekades, en in die geval van Caesar en Socrates, millennia, na hulle dood steeds te inspireer.

Lees ook Undercover Afrikaners?.
Lees ook “Oor monnemente gepraat” en ander mymerings oor gevalle helde.
Lees ook Rhodes-debat: Gister se leiers, vandag se leiers.
Lees ook Rhodes moes val: Gedagtes oor dekolonisering en swart historiese agentskap.

Skryf 'n gedig oor standbeelde en wen R2000!

  • 1

Kommentaar

  • George Bekker

    “Mens meet mense (en beskawings) immers nie aan hoe laag hulle gedaal het nie, maar aan die hoogtes wat hulle bereik het.” Volgens hierdie maatstaf het die vorige regering uitstekend gevaar met sy verdraagsaamheid teenoor 'n koloniale mag wat duisende van sy mense doodgemaak het. Britse simbole, standbeelde en name is grootliks met rus gelaat. Net jammer dat die huidige regering nie die voorbeeld wil volg nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top