|
Sêgoed van Helena Gunter Is skryf vir haar ’n soort beswering? “Ja, maar ek weet nie wat iemand daarvan sou sê op ideologiese vlak nie – dis genadiglik nie my werk om ’n ideologie-kritiese ontleding van my skryfsels te doen nie. Dit is ’n manier van beswering om te kan sê: Só was dit. Dit is belangrik vir my om dit te probeer kommunikeer – ’n soort beswering, wat ook belydenis is.” (Die Burger, 26 Mei 2008) Hoe kry haar stories vorm? “Dis gewoonlik ’n sintuiglike waarneming of insig wat aan my bly krap totdat ek dit neerskryf; daarna kom karakters en gebeure by en die verhaal kry sy loop.” (Die Burger, 26 Mei 2008) “Die kortverhaal is nét so kompleks (soos die roman); ’n mens moet meer gedronge skryf. In my verhale is beskrywing nie net beskrywend nie. Er staat niet altyd wat er staat. Saam met die wildesonsoekertjies het ook onheil gebot, en dit is verwoord.” (Die Burger, 26 Mei 2008) “Die struktuur van verhale is die faset van skryf waaraan ek die hardste werk.” (Die Burger, 26 Mei 2008) “Geskiedenis is belangrik. Dit bied die konteks waaruit jy kom en waarvandaan jy moet voortbeweeg. André P Brink het gesê die ingryp in die geskiedenis deur middel van die fiktiewe metafoor, die verbeeldingryke begrip, is nodig vir die normalisering van die gemeenskap. Ek kan nie die gemeenskap normaliseer nie, maar ek kan probeer om vanuit ’n sekere perspektief die ingewikkeldheid van mense se saambestaan te kommunikeer. Ek probeer geskiedenis fiksionaliseer, veral maatskaplik-sosiale geskiedenis.” (LitNet, aan Haydee Morgan-Hollander) “Dis onprakties om in ’n land soos Suid-Afrika te woon en ’n eksklusiewe, bevoorregte witmansverlede te romantiseer. Net so is dit vir my totaal prematuur om ’n prentjie van ’n idilliese reënboognasie voor te hou asof daar geen ongelyke verlede was nie.” (LitNet, aan Haydee Morgan-Hollander) “Ek het met my eerste skryfwerk gedoen wat Jakes Gerwel iewers so mooi gesê het. Hy het gesê jy skryf eintlik jou bruinmens vas in ’n soort rolpatroon. Maar iemand soos ek wat op ’n plaas grootgeword het en in daardie bedeling, dink mos dit ís so. Jy sien nie die foute nie, nie die rassisme nie, jy sien nie jou eie bevoordeling en die benadeling van ander mense nie.” (Die Burger, 19 April 2008) “Ek is half verbyster as mense steeds sê ons hoef nie ons apartheidsverlede te bely nie. As jy sê jy moenie bely nie, dan moet jy vir my die trauma wat mense onder apartheid deurgemaak het, definieer, want ons wat in dié bevoorregte posisie sit, soos ek hier sit, kan nie daardie trauma beskryf nie. Ons kan dit nie definieer nie. As jy nie daardie definisie kan gee nie omdat jy nie weet hoe dit was nie, hoe kan jy sê jy moet ophou bely? As ’n vrou deur haar man verneuk word, dáárdie trauma, hoe lank neem dit om dit te verwerk? Jy kan nie regtig ’n tyd daaraan koppel nie. Óns kan nie sê wanneer dit verby is nie. Óf vir mense sê: ‘Ons is nou klaar bely, dis nou die nuwe Suid-Afrika, ons moet nou vergeet wat gebeur het en aanstap’ nie. Daar is nog te veel dinge wat bely moet word. Die sogenaamde reënboognasie kan nie vir my bestaan voordat die verlede nie erken word, uitgeskryf word nie. Jy kan nie vandag in ’n bevoorregte posisie sit en sê jy was teen apartheid nie; indien jy gebaat het by apartheid, is jy ’n vennoot in die onreg daarvan.” (Die Burger, 19 April 2008) “Indien die leser die skrywer in my fiktiewe verhale soek, speel hy nie regverdig nie. Die skrywer van ’n fiktiewe verhaal skuld sy leser slegs ’n geloofwaardige verbeelde werklikheid. Ek skryf fiksie, nie outobiografiese fiksie nie.” (LitNet, aan Haydee Morgan-Hollander) Oor waarom sy laat in haar lewe gedebuteer het: Is die besef van ouer word ’n belangrike dryfveer of maak dit haar benoud om te dink aan die boeke wat nog wag om geskryf te word? “Beide. Dit is ’n dryfveer omdat ek nie soveel tyd oor het soos op 20 nie. Dis ’n irritasie as jeugdigheid as ’n soort voorwaarde gestel word vir nuwe publikasies.” (LitNet, aan Haydee Morgan-Hollander) “Ek werk realisties, maar realisme is steeds ’n estetiese konstruksie. Hoewel die fiktiewe ruimte, karakters en gebeure die illusie van ’n nagebootste ‘werklikheid’ kan skep, is die nabootsing nie naïef nie; ek poog om ‘’n nuwe waarheid te lieg’.” “Ek fokus graag op die humoristiese in situasies wat daarom vra. Dis oplugtend. Ek hoop dis vir lesers ook so.” (LitNet, aan Haydee Morgan-Hollander) “Solank die menseras moet voortplant, sal vroue vorentoe beur in verhoudings, so glo ek, binne die konstruksies wat daargestel word om dit te beveilig.” (LitNet, aan Haydee Morgan-Hollander) “Ek het die rassisties-nasionalistiese ideologie met moedersmelk ingekry en as bevoordeelde wit kind tydens apartheid grootgeword, en skryf vanuit daardie soort agtergrond. My belewenis is dat my voormense (lees wittes) hulle sedert 1652 nie altyd soos welvoeglike gaste gedra het nie; hulle het mense ontheem en aan verontmenslikende politieke bestelle onderwerp. In die titelverhaal probeer ek Afrika se vergelding fiksionaliseer en waag ek ’n voorspelling vir Eurosentriese waardes.” (LitNet, aan Haydee Morgan-Hollander) “Woorde en stories het kleur, ja. Ek hoop dat die sosiaal-politieke kleur van woorde soos Potberg, Klimmeidjie, witmensstoep en suurlemoene net so duidelik in my leser se kop opgeroep word as blou, bruin of geel. Verskeie sintuiglike en insigtelike ervarings word gelyktydig geaktiveer wanneer ek skryf; dit loop saam, hou verband, werk in op mekaar, hopelik in ’n soort harmonie wat ’n esteties-bevredigende prent vir my leser teken.” “Verhale wat ’n mooi verlede wys, is nodig en moet beslis opgeteken word, soos wat verskeie knap skrywers doen, maar dis ons problematiese geskiedenis en die gevolge daarvan wat my interesseer. Mense wil daardie geskiedenis wat nou ‘verby’ is, te maklik afmaak. Die stelsels is wel weg, maar die skadelike gevolge daarvan is nie. Jy kan nie ’n spieël voor skade hou en maak asof die beeld iets anders is nie, dan skryf jy feëverhale.” (LitNet, aan Madri Victor) Wat inspireer haar? “Die omgewing inspireer my. Vandat ek kan onthou was dit so – die begeerte om myself op ’n afstand te plaas en gebeure dan kommentariërend te rapporteer, nie veel anders as wat ’n eiewys skinderbek maak nie. Dis veral die ‘klein’ vroulike lewe teen die groter magstrukture en sisteme, hoe hulle daardeur stuur en dit oorleef, wat my interesseer.” (LitNet, aan Gerdus Senekal) Wat is vir haar die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei? “’n Kortverhaal het gedrongenheid, dit fokus skerper op ’n enkele (maar nie simplistiese nie) aspek. Ek hou van ’n kortverhaal wat deur die gegewe (karakters, milieu, situasie, emosie, dramatiese verloop) ’n argument voer wat tot ’n slotsom (dikwels in die kop van die leser eers) lei.” (LitNet, aan Gerdus Senekal) Wat is die beste skryfraad wat sy ooit ontvang het, of die grootste slaggat wat skrywers (van kortverhale) moet vermy? “Gaan sit soggens voor jou rekenaar en werk; dis al hoe jy ’n storie geskryf gaan kry. Moenie te kritiek-sensitief wees nie. Vertel jou storie vreesloos en in die styl wat vir jou gemaklik is. Daar gaan altyd kritici wees wat nie ordentlik lees of geïnteresseerd is in wát jy te sê het, of hóé jy dit sê nie. Jy skryf vir lesers wat wil lees hóé mense leef, nie vir literatore en hul strukturele vereistes of vir pryse nie.” (LitNet, aan Gerdus Senekal) Oor die MA in kreatiewe skryfkuns wat sy onder leiding van Marlene van Niekerk gedoen het: “Dit het my lewe verander. Nie net die kursus nie, maar die mens wat dit vir my gegee het, het vir my ’n nuwe wêreld oopgesluit. Dit was Marlene in al haar glorie en verskrikking. Dis eers tydens my studiejare by Marlene dat ek werklik gekonfronteer is met die ding dat jy nie net gesellige kontreiverhale kan skryf nie; dis nie genoeg vir die tyd waarin ons leef nie.” (Die Burger, 19 Februarie 2011) Watter reaksie wil sy van haar lesers hê? “Ek sou wou hê dat hulle met die verhale kan identifiseer. Maar jy kry Afrikaanse vroue wat dit byvoorbeeld niks vreemd sal vind om Milan Kundera te lees nie, maar hulle vind my werk ontstellend. In jou eie taal is dit miskien te erg. Dis hoe ons grootgeword het – hulle soek die soet storie, die verhaal waarin die ‘mooi’ verhouding tussen die plaaswerker en die ‘Mies’ verheerlik word, en dis nie waarmee ek my bemoei nie.” (Die Burger, 19 Februarie 2011) “Ek skryf oor my belangstellingsveld. Ek fokus op ’n sekere problematiek – as ek skryf, probeer ek verstaan. Ek is deeglik bewus daarvan dat ek ook, soos alle mense, ly aan die sisteme van my tyd. Maar ek voel dit is my plig om onder die vel van die karakter en die onderwerp in te klim, ’n situasie so eerlik moontlik te fiksionaliseer. Dan is dit terapeuties, hopelik vir die leser ook.” (Volksblad, 26 Junie 2018) “Die impetus vir Die hart het sy redes kom uit my grootwordwêreld. Dit was verlange. Na mense, tye en plekke. In my vorige bundels was dit ’n begeerte om my ruimte te verstaan, of ’n begeerte om verstaan te word.” (Huisgenoot, 16 Augustus 2022) “Die plek waar ek grootgeword het en die mense wat my omring het, die ervarings wat ek via die plek en mense opgedoen het, is ingesement in my neurobane. Dis met dankbaarheid dat ek dit benut.” (Huisgenoot, 16 Augustus 2022) |
Gebore en getoë
Helena Gunter is op 19 November 1954 op ’n Rûensplaas, Rhenosterfontein, in die distrik Heidelberg in die Suidwes-Kaap gebore. Die plaas is naby die mond van die Breërivier geleë.
Haar pa, Piet Gunter, was die jongste seun van Christiaan en Elizabeth Gunter. Hy het grootgeword op die plaas Rietkuil naby Suurbraak, waar sy pa ’n bywoner was. Helena se oupa het daarna as bywoner by die Hopleys op Rhenosterfontein gaan werk. Toe die Hopleys uitgeboer het, het haar oupa Chrisjan die plaas gekoop. Piet en sy broers het die plaas uiteindelik afbetaal. Helena se ma, Petrorina Doris Stemmet, was uit ’n vooraanstaande en welgestelde familie van Barrydale. “Piet en Doris was dus ’n ‘mixed couple’ (bywonerseun en rykmansdogter),” vertel Helena aan LitNet, “terugskouend, ’n situasie wat ek vir niks in die wêreld verruil nie, want die mense-dinamiek daaromheen het genadiglik aan my afgeskuur, en is ’n belangrike ‘emosionele mandjie’, waaruit ek put, as mens en skrywer.”
Helena beskryf haar grootwordjare as idilliese en bevoorregte jare, as oudste kind van vier, op die plaas waar ’n “feodale bestel” van wit eienaar en bruin plaaswerkers ’n mikrokosmos van die groter Suid-Afrikaanse werklikheid van die tyd was. (aan Willemien Brümmer, Netwerk24, 7 Augustus 2018)
Sy het twee susters, Elizabeth, ’n visuele kunstenaar en kunsdosent aan die Universiteit van Stellenbosch, en Petro-Rina, verkiesingsprojek-koördineerder vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en gastehuis-eienaar in Bredasdorp, en een broer, Francois, ’n haarkapper op Swellendam en gastehuiseienaar by die strandoord Witsand.
Sy het reeds as kind geskryf, vertel sy aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 19 April 2008). “My opstelle was verskriklik gesellig, kontreiagtig, landelik. As kind het ek MER, Alba Bouwer en Audrey Blignault gelees. My heel eerste kortverhale het ’n groot skoot van die romantiek van hul plaasstories, die plaaslewe, gehad. Daarom moet ek altyd luister en daarop bedag wees dat ek nie daardie soort romantiek verder dra nie.”
Helena gaan skool op Heidelberg, waar sy in 1972 matrikuleer. Haar eerste gepubliseerde werk was ’n opstel wat in haar matriekjaar in Poort gepubliseer is.
Sedert sy kan onthou, was boeke vanselfsprekend. “My pa en ma was lesers. My ma was ook ’n goeie storieverteller – sy kon ’n plot pak sodat jy wou luister tot die einde.”
Wat haar skryfwerk betref, is Helena op skool deur haar onderwysers geïnspireer. Reeds op laerskool het klasonderwysers soos Frikkie Huysamen en Freddie Visser haar talent geïdentifiseer en aangeprys en op hoërskool was dit onderwysers soos JS Labuschagne, Nico Burger en Leon Fouché en onderwyseresse soos Annamarie Venter, Aletta Vermeulen en Nicolene Lamprecht wat haar verder aangemoedig het. (LitNet)
Verdere studie en werk
Na skool is Helena na die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar vir ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en geskiedenis as hoofvakke inskryf. In 1975 verwerf sy haar BA en daarna ’n Hoër Onderwysdiploma. Sy gaan gee Afrikaans en geskiedenis aan die Hoërskole Strand, DF Malan in Bellville en Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch.
In 2002 skryf sy haar in vir ’n honneursgraad aan Unisa in en in 2003 skryf sy hierdie graad agter haar naam. Haar belangstelling in “literatuur as geskiedenis” inspireer haar om nog verder te studeer en sy behaal in 2005 ’n MA in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch onder Marlene van Niekerk, met spesifieke klem op postkoloniale terugskrywing in Afrikaans.
Helena is getroud met Gerrie Smit, ’n opvoedkundige sielkundige. Hulle het twee kinders, Hannes en Petro-Anne Morkel, en sy woon sedert die sewentigerjare op Stellenbosch.
In 1983 verskyn ’n skets van Helena in Die Landbouweekblad en daarna niks nie, tot 2007, toe haar debuutbundel kortverhale, Op ’n plaas in Afrika, by Human & Rousseau verskyn. Volgens Helena skryf sy omdat sy nie anders kan nie. “Dis wat ek kan en wil doen. Deur te skryf, oriënteer ek my in die lewe waaraan ek my permanent verwonder. Die tydperk toe ek nie geskryf het nie – sedert my eerstejaar op universiteit, tydens my onderwysloopbaan en tot nadat my kinders uit die huis uit is – voel nou onwerklik. Toe my kinders destyds gebore is, was niks anders ooit weer belangriker nie. Ek moes en wou – totaal uit my diepte geskrik en verbouereerd – hulle grootkry. Toe op ’n dag is hulle groot (en ek hoop maar hulle ly nie te veel aan hulle ma nie!) en die ma ontdek dat sy dan nog nie geskryf het nie, soos sy eintlik wou nie! En toe begin sy maar.” (LitNet)
In 2009 is een van haar verhale opgeneem in die tydskrif Sarie se 40 Flitsverhale wat deur André le Roux saamgestel is. Van haar verhale is ook opgeneem in 2016 en 2022 se Woordfeesbundels.
Op ’n plaas in Afrika het in 2008 die Eugène Marais-prys gewen vir die beste debuut of vroeë letterkundige werk, en was ook ’n finalis vir die UJ-kompetisie vir skeppende werk. Dit het ook in aanmerking gekom vir die Rapport-Jan Rabie-prys.
Sy vertel aan Willem de Vries (Die Burger, 25 Mei 2008) dat as dit nie was vir wat sy geleer het terwyl sy die MA in kreatiewe skryfwerk gedoen het nie, die stories nie sou uitgewerk het soos dit moes nie. “Ek kon die kritiek en insette assimileer en neem wat ek nodig had, maar ’n student moenie verwag dat ’n mentor die skryfwerk vir hom moet doen nie; niemand kan jou leer skryf nie ...”
Al bied die plaaslewe die agtergrond in die verhale in Op ’n plaas in Afrika, kan ’n mens glad nie praat van gemoedelikheid as jy hierdie verhale beskryf nie. “Die verhale is ontrustend, vergrype word gepleeg,” skryf Willem de Vries.
Abraham de Vries (Die Burger, 22 Oktober 2007) sê: “In die bundel skuif perverte gesagsfigure na plekke van gewaande veiligheid – dis boere, onderwysers en ’n hoogheilige maatskaplike werkster. In die plek van plaasromantiek het plaasmoorde gekom, bloedskande en verminking, betasting en liefdesverraad oor kleur- en geslagsgrense. Haar verhale is ’n draaipunt in die Afrikaanse kortkuns.”
Willem de Vries (Die Burger, 25 Mei 2008) sê Helena se manier van skryf laat hom dink aan die Duitse skrywer Bernhard Schlink se bundel Flights of love, waarin óm die werklike storie geskryf word. “Die terloopsheid waarmee ’n kind snarsies hoor en dinge te wete kom, die storie aan die rand van die karakter se belewing, verg ’n besonderse begrip van hoe stories vertel word. Sy sê die mense van die streek waar sy grootgeword het naby die Breërivier, sal opmerk ‘hoe dikwels is die storie nie vertel nie ...’ Hierdie sin word in die eerste verhaal, ‘Agter die groen deur’ dubbelsinnig – en tekenend van die gelaagde verhale in die bundel.”
Die titel, Op ’n plaas in Afrika, slaan terug na Karen Blixen en Olive Schreiner, asook die liedjie oor Mannetjies Roux, skryf De Vries. “Ek skryf vanuit ’n bepaalde generasie. Die plaaslewe van voor 1994 is immers nie wat talle meen dit was nie.”
Helena vertel aan Haydee Morgan-Hollander (LitNet) dat die titel praat vanuit ’n postkoloniale tyd terug met bogenoemde dames wat uit en oor ’n koloniale tyd geskryf het. “Die bundel poog om die maatskaplike werklikhede op ’n postapartheid ‘plaas in Afrika’ te fiksionaliseer (waar die skrywer dit waag om, dalk erg vereenvoudigend, apartheid te beskou as ’n laaste stuiptrekking van kolonialisme).” En die volgorde van die verhale is doelbewus, gaan sy voort. “Die ouderdomme van die protagoniste verhoog chronologies. Die stemme word verteenwoordigend van die eertydse plaasbewoner wat later in sy lewe verstedelik. Die plaas in Afrika het verskuif na ’n ander ruimte waarby die eertydse plaasbewoner (die kind wat daar grootgeword het) moet aanpas en waar hy/sy (as volwassene) moet oorleef. Die titel resoneer dan uiteindelik ironies.”
Willem de Vries (Die Burger, 25 Mei 2008) skryf dat teen Bernhard Schlink al die kritiek uitgespreek is dat hy op minusieuse wyse aandag en lewe gee aan ’n tyd waaroor volgens sommige eerder nie veel gesê moet word nie, en wil weet of Helena se werk aansluiting vind by dié van Schlink.
“Hy is in 1944 gebore; toe hy een jaar oud was, was die Tweede Wêreldoorlog dus verby. Sy generasie is dus opgevoed deur mense wat Nazi’s was. Vir hom gaan dit oor die spanning om daarmee saam te leef; hy wil die ingewikkeldheid daarvan rapporteer (of liewer die ingewikkeldheid probéér weergee). Soos sý werk, slaan myne op ’n spesifieke generasie. Ons bewuswording van die omvang van onregte gepleeg in Suid-Afrika het vir die meeste mense ná demokrasie gekom, en is vir talle ’n moeilike kopskuif. Ek probeer dit fiksioneel aan bod bring, ter verligting.”
Helena verduidelik aan Haydee Morgan-Hollander op LitNet: “Ek dink ’n mens kan veralgemenend sê dat die wittes van my generasie aan ontnugtering ly. Ons is vir lank die ‘wit mitologie’ gevoer – geleer dat die land aan ons (die wit nasionaliste) behoort, dat ons moet veg daarvoor, dat ons uitverkore en maatskaplik meerderwaardig is, dat ons alle eiendomsreg het, ens. Baie lede van my generasie is ontnugter; hulle vind die kopskuiwe ingewikkeld, soms onmoontlik, en ervaar gevoelens van eensaamheid en uitgeworpenheid. Ek poog om die geskiedenis rondom daardie ervarings lig en lug te gee. Om dit verswyg, om nie die spoke van die verlede oop te skryf nie, om in die naam van vooruitgang onder ’n ‘reënboog’ voort te huppel, sou nie skoonmaak nie, dit sou ontvlug, ons vasvang in ’n ‘patologiese rouproses’.”
Wanneer ’n mens fiksie skryf, kan die spel tussen feit (of werklikheid) en fiksie tot ’n komplekse tipe spanning lei. Helena vertel aan Willem de Vries dat sy en haar suster, Elizabeth, ’n skilder, gesels het oor realisme in hulle werk. “Realisme is nie ’n naïewe nabootsing van die werklikheid nie. Ons albei gebruik beginpunte in die ‘werklikheid’, maar daarvandaan word dit ’n nuwe verbeelde werklikheid wat kommentaar lewer. Die stories het telkens die herkenbare kontrei-gegewe, maar van daar af ‘lieg ek ’n nuwe waarheid’, soos wat André Brink gesê het. De Vries het geskryf ‘stories werk met soos’.”
Op Haydee Morgan-Hollander (LitNet) se stelling dat die voorblad van Op ’n plaas in Afrika ’n illusie van nostalgiese inhoud kan skep wat terughunker na gesellige, landelike ruimtes, reageer Helena as volg: “Dit is doelbewus en dien om my sardoniese aanslag te versterk. Die potensiële leser word uitgelok, want ek wil juis die inhoud – wat verontrustend aandoen – kommunikeer. En ek dink nie dit is onbillik nie, want ek glo aan die geestelike volwassenheid van die Afrikaanse leser. Dieselfde leser wat behoefte het aan gesellige kontreikuns, het waardering vir die terapeutiese waarde van minder gesellige werklikhede wat gekonfronteer moet word.”
Die meeste van die verhale speel af in die Suid-Kaap, daar waar Helena haar kinderjare deurgebring het. Sy deel die Overberg, waar sy grootgeword het, met ’n groot aantal skrywers uit daardie streek, onder meer MER, Audrey Blignault, Alba Bouwer, Con de Villiers, Freda Linde, Wilma Stockenström en Marlene van Niekerk. Morgan-Hollander wou by Helena weet of die feit dat haar omgewing deurweef is met groot geeste en mentors, ’n invloed op haar gehad het. “Hulle is die heiliges wat my leefwêreld bewoon. Uys Krige het byvoorbeeld eendag op my ouma se sitkamerbank sit en werk. Ek het nie geweet wie hy was nie, maar die voordrag van ‘die oom in die wit speedo’, die timbre en ritme van sy stem, het my nog nooit weer verlaat nie. Omgewing en die mense wat dit bewoon, en hoe dit afskuur, is nie toevallig nie, en ewig deel van die balansstaat waaruit ek put.”
In Helena se verhale sal die leser meer as een maal ’n vrou as hoofkarakter of protagonis aantref. En in elke verhaal staan hierdie vroue voor ander probleme in hulle verhoudings of word hulle gekonfronteer met ’n ander “manifestasie van seksualiteit”. Morgan-Hollander skryf op LitNet dat die openingsverhaal, “Agter die groen deur”, soos “Tweespoor”, seksuele molestering as tema het. “Agter die groen deur” vertel die verhaal van Ouma wat lank gelede een nag ’n bruin dogtertjie uit die dam geduik het nadat haar ma, die huiswerker, inderhaas die plaas verlaat het. Maar dan is Ouma nie, soos in die tipiese gesellige kontreiverhaal, die beskermende gesagsfiguur nie ...
“Omdat ek beskermende en koesterende gesagsfigure geken het, staan ek verbyster voor inligting omtrent ander se mishandeling. Watter soort energie word deur ’n slagoffer en die gesagsfiguur in sulke omstandighede opgeklits en hoekom? Dis wat ek wou ondersoek. Enersyds lei en verlei ek my lesers deur hulle te lok met die onskuldige landelike, die mooie, die gedeelde bekende, soos wat dit gefiksionaliseer is in die vroeëre literatuur. En net as hulle gerus is, en saam met my onthou en terugverlang, herinner ek hulle aan die onheil wat saam met die wildesonsoekertjies geblom het en steeds blom (as ek my koerante reg lees).
“Andersyds is ek lief vir die spel met simbole. Dan gebruik ek landelike verwysings as begeleiders. So word die suidoostewind, jerseybul, trane van bloed, hare soos slange, die Karoo-Erinys simbole van iets meer.”
Iets wat Helena tans interesseer, is wat sy die toe-eiening van onderdrukte mense noem, skryf Kirby van der Merwe (Die Burger, 19 April 2008). “Dis iets wat ek probeer verstaan, hoe die mense wat saam met my op die plaas grootgeword het, wanneer ek hulle nou raakloop (en baie van hulle is welvarende beroepsmense wat in Kaapstad woon), vir my sê hul jare op die plaas was die beste jare van hul lewe.
“Ek verstaan dit nie. Want hoe kan hulle – as jy vergelyk waar ek in die groot plaashuis grootgeword het en waar húlle moes oorleef – vir my sê dié jare op die plaas was die beste in hul lewe? Die feit dat hulle dít sien as ‘beste’: die boer-as-humanis, wat vir my ’n skaap gee, meel, kos, met ander woorde troosgawes in die plek van dinge soos eienaarskap, ’n ordentlike salaris, waardige lewensomstandighede – dit is vir my ’n bewys van hoe jy vrede maak met jou benadeling, jou dit toe-eien en die beste van die slegte saak maak. Dís vir my ’n verskriklike ding. En dit is vir my ’n bewys waarom jy nooit kan ophou bely nie, want mense is so verontmenslik, ontheem, verstrooi, kultureel tot niet gemaak.
“Ek wil ondersoek wat daardie soort onderdrukking aan die psige van ’n mens gedoen het ... Jy het saam met ’n ‘klimmeidjie’ op ’n werf grootgeword. Julle het saam vroetangs in die gras gesoek. Julle het saam malvablommetjies vir naels aangesit, maar jy het nooit besef sy het nie ’n naam nie. Maar dit was jul verhouding. Nou as volwasse bevoorregte mens vra ek myself af hoe ek my destyds as dié sensitiewe kind kon uitgee sonder om dít raak te sien?
“Daar’s vir my geen verskoning daarvoor nie; en al wat ek kan sê, is dis hoe dit was. Vir jou as kind was dit nie verkeerd nie. Daarmee probeer ek onder geen omstandighede die verlede vergoeilik nie.”
Morgan-Hollander wou by Helena weet of sy gesprekke met haar karakters voer. “Indrukke (ook sintuiglikes) en insigte praat met my. Sommige is met my sedert ek kan onthou. Dit krap my kop totdat ek dit aanteken, ek droom daarvan, dit pla my. Al manier waarop ek daarvan ‘verlig’ kan word, is deur dit te fiksionaliseer. Die indrukke kry eers lyf (karakter en storie) voor die rekenaar. Die titelverhaal in dié boek het byvoorbeeld begin by die gekraak van ’n vloerplank in my tant Mary se huis op Swellendam.
“Ek neem mense waar, gedurig, só opsigtelik dat my kinders my dikwels maan om ‘nie so te kyk nie’. Ek is elke woord verskuldig aan die mense wat rondom my leef, wat my opgevoed het, wat steeds my lewe deel, wat daagliks die vonke verskaf waarvan ek afleef. Ek kan niks skep of voortbring daarsonder nie. Ek staan voortdurend verwonderd voor die lewe. Ek het nie antwoorde of raad nie; ek kan slegs die spanning wat uit ingewikkeldhede spruit, vanuit my (beperkte) gesigsveld probeer kommunikeer. Die mens se reaksie op sy omgewing, hoe dit in sy gemoedstoestand en gedrag wys, dit fassineer my, in alle soorte menslike groeperings, of dit in familieverband is of nie. Daar is mense en indrukke wat my bybly, dankie tog, maar ek sal die een se neus op ’n ander se gesig by nog ’n ander se maniërismes sit, en so ’n nuwe, verbeelde karakter skep.”
Abraham de Vries skryf in sy resensie (Die Burger, 22 Oktober 2007) as volg oor Op ’n plaas in Afrika: “Ewe merkwaardig as die inhoud is haar fyn komposisievermoë: die geloofwaardige bymekaarvertel van diskrepante, uiteenlopende gegewens en die fyn aandag aan detail om aan toestande ’n mensehart, ’n menslike gesig (Blake) te gee. Gunter se karakters is nie idee-poppe nie, hulle is warm menslike, verlate, woedende, soekende figure in wie se emosies die verskynsels en gees van ons tyd uitspeel.
“Ek noem slegs die meisie in ‘Tweespoor’ met die handtastelike musiekonderwyser en die ma wat altyd met die sleutels in die hand op pad is, ’n jeugkonflik waaruit dan haar vergeefse hunkering groei om die verlate plek in haar menslike verhoudings te vul. En dis tog ’n sonde om die humor van daardie versmade, weerbarstig eerlike vrou van die slotverhaal te mis, veral haar geselsery met die heksebroedsel van kerklike afgodery en gebed wat haar man en sy soetkoek-skelmpie se ‘belangrike werk’ vergoeilik!
“By die verhale ánderkant die plaas – die inklank van Dana Snyman is so bedoel! – was hier nie ruimte nie. Daar’s nog baie redes hoekom Helena Gunter se Op ’n plaas in Afrika so werklik uitstekend, én ’n draaipunt in die Afrikaanse kortverhaal is.”
Op LitNet skryf Andries Visagie dat Op ’n plaas in Afrika ’n werklik indrukwekkende kortverhaalbundel is. Die taalgebruik is “verfrissend suiwer en aanskoulik – moontlik omdat die plattelandse omgewing waarin die verhale gesitueer is, noodwendig vra vir stilistiese keuses uit die ouer en suiwerder woordeskat van Afrikaans. (...) Helena Gunter verkies klaarblyklik om langer verhale te skryf. Af en toe kry ’n mens die indruk dat sy soms te veel gegewens in een verhaal wil opneem en dat haar verhale selfs geslaagder sou gewees het indien sy die gegewens binne die breër opset van ’n roman kon uitwerk. Haar tydsame verteltrant en aandag vir detail skep beslis die indruk dat sy ook as romanskrywer sukses sal kan behaal.
“Op ’n plaas in Afrika is ’n pragdebuut wat lesers terugvoer na die verlede, maar ook uitdagende vrae oor die hede en die toekoms stel. Die ondersoekende leser sal aanklank vind by Helena Gunter se deurdringende ondersoek na die brandpunte in die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing, spesifiek die ontstellende omvang van kindermolestering en die tergende grondkwessie.”
In Rapport (19 Oktober 2007) beskryf Rachelle Greeff hierdie bundel as een van die beste Afrikaanse kortprosa-debute in ’n geruime tyd. Die bundel is tegelyk toeganklik en genuanseerd. “En mens hoop Helena Gunter se uitgewer, Human & Rousseau, koester haar tot in die lengte van haar kreatiewe dae. Een swaeltjie maak nie ’n somer nie, maar dit wil lyk na ’n outentieke nuwe stem. (...) Gunter gee uitstekend gestalte aan haar motto (van Abraham H de Vries): ‘Laat heimwee by ons nie uitvee wat ander juis onthou nie.’ Voorwaar stories wat jy sal onthou.”
Neil Cochrane skryf in Tydskrif vir Letterkunde: “Gunter vlek die kompleksiteite en broosheid van die menslike kondisie tot op die been oop. In verhaal na verhaal ondermyn sy gevestigde kodes, oppervlakkigheid en pretensie. Sy toon aan die leser wat agter oënskynlike normaliteit lê – want niks is soos dit op die oog af lyk nie. Die karakters in haar verhale is voortdurend in konflik met hul eie demone – hetsy hierdie demone te make het met owerspel (‘Alleen ons beste’, ‘Die haarsny’ en ‘Op die spoor van die heilige maagd’), verlies (‘Herfsdae in April’), kindermolestering (‘Agter die groen deur’ en ‘Tweespoor’) of patologiese jaloesie (‘Langs die Breede’). (...) Hierdie leser is hoogs in sy skik met hierdie debuutwerk. Die verhale is intens, onthutsend en eerlik. Dit laat die leser ongemaklik in sy/haar leunstoel rondskuif, want die skryfster laat die leser nie vir ’n oomblik met rus nie – ’n konstante emosionele appèl word gemaak. ’n Uitmergelende, dog hoogs bevredigende leeservaring. Hierdie debuutwerk hou veel belofte in.”
In Desember 2008 sluit Helena se leeskeuse Chris Marnewick se Shepherds & butchers in, asook Thin blue (Jonny Steinberg), Chinchilla (Nanette van Rooyen) en Alles mooi weer (Karin Cronjé) (Die Burger, 24 Desember 2008). Haar gunsteling was moeilik om te kies totdat sy 30 nagte in Amsterdam van Etienne van Heerden opgetel het. “En nie kan neersit nie. Onsensitief, om nóú ’n seksbehepte vroulike karakter so ru-grappig te fiksionaliseer? Nee. Want tante Zan maak – heerlik grotesk – korte mette met al wat gewelddadige ‘knuppel’ is. Sy is soos ’n dawid-worteltjie vir ’n oorhoopte post-apartheid-dikderm. In ’n onlangse koerantartikel is die Afrikaner aangeraai om vir hom voorsate te ‘kies’. Dankie tog vir hierdie tante uit die Karoo; nou hoef ek nie Mantatisi te kies nie.”
Helena vertel op LitNet dat sy trots is daarop om op hierdie ouderdom “uit die kas” te kom met haar skrywery en te sê wat sy sê. “Ek vind die waarde wat aan jeugdigheid geheg word in Afrikaanse literêre kringe ietwat komieklik, indien nie benepe en kortsigtig nie. Soms kry ek die gevoel dat die post-50 stem nie tel nie, asof daar niks te leer is uit die leefwêreld van ’n generasie wat ongelooflike ryk sosiaal-maatskaplike en politieke wisseling in hierdie land deurleef het nie. Ek glo ’n jong, wit, Afrikaanse mens in hierdie land het ’n vennootskap in sy erfenis, en moet deeglik kennis neem van sy geskiedenis. Slegs deur die verlede te verstaan – werklik te ken en te begryp, die goed en sleg – gaan hy sy bagasie reg kan bestuur en ’n ingeligte keuse vir die toekoms kan maak. Die fiktiewe metafoor (’n goeie storie, waarin betekenisvolle lewensdrama fiksioneel opgestel word) is so na as moontlik aan die eerstehandse belewenis. (Mens leer meer uit die fiktiewe ‘verlewendiging’ van ’n geskiedenis as uit ’n geskiedenishandboek.)
“Wat die redenasie betref van ‘ons het nie die wette gemaak nie, so ons hoef nie te weet, of verantwoordelikheid te neem nie’ – in sy erfenis het ’n volgende generasie ’n vennootskap met ’n vorige, teen wil en dank. (Jy kan nie jou mediese graad op Stellenbosch gekry het, nou ’n dokter in Londen wees met ’n huis op die Teems, en nie ’n vennoot in bevoordeling gewees het nie. Of uit ’n wit huis in Bellville kom, en nou aan US studeer, en nie as gevolg van vorige bevoordeling is waar jy is nie, al is jy ná ’94 gebore.) Nog ’n oortuiging wat nie vir my waterhou nie, is dat werk wat die verlede ophaal, ’n ‘gevashou aan die verlede is, in plaas daarvan om vorentoe te gaan’. ’n Literêre bemoeienis met die verlede is nie ‘teruggryp’ of ‘vashou’ nie; dis ’n nodige konfrontasie wat oopmaak en skoonmaak, dit gee geleentheid vir her-oriëntasie, vir beter begrip vir die verlede en hede. Met die komplekse geskiedenis van hierdie land is dit onmoontlik om te kan voortdartel asof die gevolge van 358 jaar se kolonialistiese bestelle, gaan oplos in die ‘reënboognasie’ van 16 jaar. Om feëverhale oor die hede te skryf (in die naam van vooruitgang!), is ontkenning, dit ontduik verantwoordelikheid, en is disrespekvol.”
In 2011 verskyn Helena se volgende kortverhaalbundel, getiteld Met koffer en kaart. “Ek het vir die navorsing van Met koffer en kaart baie baat gevind by die werk van die Sloweense filosoof Slavoj Žižek, oor die sielkunde van Violence (2008),” skryf Gunter. Zižek het navorsing gedoen oor die uitbreek van geweld in Israel en Palestina. Hy redeneer dat subjektiewe geweld tot uiting kom in moord, aanslae en oorlog. Daar is volgens hom ook twee variasies van objektiewe geweld: simboliese geweld uitgedruk in taal en daarby aansluitende vorme en sistemiese geweld met katastrofiese gevolge vir politieke sisteme. (Ongepubliseerde resensie van Carina van der Walt by Helena Gunter gekry.)
Willie Burger het in sy resensie in Die Burger (30 Mei 2011) geskryf: “Gunter is ’n bedrewe verteller wat die verhale elkeen afsonderlik, sowel as die aansluitings by mekaar, slim uitgewerk het. Sy sluit nou aan by die konvensies van die Afrikaanse vertelkuns – nie by die uitdagender voorbeelde van die Afrikaanse kortverhaalkuns nie, maar by die konvensionele kortverhaal. En die swakte van so baie (veral ouer) Afrikaanse kortverhale, die voorliefde vir ’n patosvolle draai naby die einde, is ongelukkig ook opvallend in van hierdie verhale.” En hy sluit af met: “Maar dié pogings slaag nie heeltemal nie. En die rede daarvoor is dat die karakters en die verteller nooit regtig oortuigend hul sekerhede ontneem word nie – byna soos ’n gesprek oor ongeloof by ’n Bybelstudiegroep waar almal byvoorbaat weet dat niemand hulle eie geloof gaan bevraagteken nie.
“Ten spyte van beskrywings van ontnugterende en droewige ervarings in ons land, konfrontasies met geweld en armoede, word dié verhale nooit werklike konfrontasies met ’n nuwe manier van dink óór die ervarings nie. Dit is asof alles bly steek in ’n klein realisme en die ongemak wat deur situasies gewek word (soos die dosent wat haar studente na die township neem vir navorsing, of in die hof gekonfronteer word met die moordenaars van haar seun) word nooit onthutsende konfrontasies wat lei tot ’n bevraagtekening van eie uitgangspunte en verstaan van die wêreld nie.”
Hierop het Carina van der Walt in haar resensie, wat nie gepubliseer is nie, gereageer: “Gunter se verhale eis egter deurgronding, ’n deurgronding wat Willie Burger nie goed onder die knie gehad het nie. Hy het Gunter se kortverhale afgemaak as ‘konvensioneel’. Hy lees nié die elke dag se onsigbare geweld daarin raak nie. Die blindheid van die resensent versterk die vrouekarakters se stiltes. Hy word mede-instandhouer. Wie oë het om te lees, laat hulle herlees.”
In By van 19 Februarie 2011 vertel Helena meer oor Met koffer en kaart aan Willemien Brümmer: “In hierdie bundel het die hoofkarakters die plaas verlaat en intussen stad toe getrek. Voorop is steeds die geweld waarmee Afrika wit indringing vergeld en die gevolge van ’n traumatiese verlede. Dié keer is die plaas egter ’n sluimerende aanwesigheid.
“Die hoofkarakters se reise terug na die landelike en na hul Europese verlede is ’n soort ontvlugting na ’n skynbaar onskuldige jeug; na ’n vals geborgenheid wat verby is. Die geheen-en-weer is ’n simptoom van ’n gespartel, aan ’n behoefte om oor te wil begin.”
“Om oor te begin is ’n behoefte onder baie van my generasie wat wel bewus raak van die skade,” verduidelik Helena aan Brümmer. “Jy wil terugloop op jou spore, en jy wil kyk waar kom dit vandaan. Jy wil ook weer gaan kyk na die Europese leefwyse, want dit gaan deel van jou bly; jy is wit. Ek het byvoorbeeld geen begeerte om myself ’n Afrikaan te noem nie, want ek weet nie of ek welkom is nie. Ek beskou myself as ’n nageslag van mense wat as gaste hiernatoe gekom het – en daardie gaste het hulle wangedra.”
Vir Brümmer kan jy reeds met die lees van die eerste verhaal van die bundel ’n idee kry hoe die res van die bundel gelees moet. Die kunskritikus Lydia staan langs die beeldhouwerk van Christa getiteld “Ons vir jou”, waarmee sy die trauma van ’n aborsie toe sy jonk was, probeer verwerk.
“Deur die heropstelling van herinneringsvoorwerpe word die genealogie van ’n wond ontgin,” verduidelik dié kunskritikus. En later: “Uiteindelik word ’n monument gebou, iets wat die trauma opneem en absorbeer, en die vrywaring daarvan impliseer, en sluiting, ook vir die kyker.”
Op baie vlakke is Helena se Met koffer en kaart vir Brümmer ook ’n monument “wat in die teken wil staan van aanvaarding en vergifnis”.
“Daardie filosofie van Lydia is vir my (Helena) die sleutel om vir jou te sê hoe jy skade kan benader, wat jy daarmee kan doen om dit op te stel as monument. Die kunstenaars Penny Siopis, Judith Mason en Willie Bester se beeldende kunswerke het ’n groot rol gespeel in dié opsig dat hul werk my oortuig het dat die konfrontasie met en optekening van trauma die kyker of leser terselfdertyd vrywaar. Geskiedenis moenie vermy of ontken word nie; dit moet erken en bely word.”
Helena het ’n swart notaboekie waarin sy dinge wat sy wil of moet onthou, aanteken. Daaruit lees sy vir Willemien Brümmer: “Hierso – die kunskenner Jennifer Law het gesê oor Penny Siopis se Sympathetic Magic-uitstalling: ‘Wit Suid-Afrikaners beleef ’n herkomspunt in Afrika as ’n wond wat alles wat volg, versmoor.’
“En dan het Freud gesê suksesvolle rou word materieel in die gedenkwaardige objek, die monument wat die voorval opneem, geabsorbeer. Dit kan die enkeling vrywaar en hom laat aanbeweeg.
“So as jy soos Koos Prinsloo die lelike ding in ’n ‘mooi’ storie opneem, en jy lees dit, dink jy miskien dit traumatiseer jou op daardie oomblik, want dis hoe die meeste mense my stories ervaar, maar eintlik kan jy sê: Dit wás so. Jy’t die erkenning in ’n storie, en jy kan dink: Sjoe, ons moenie dit weer doen nie. Só bied ’n verhaal tog verligting. Tot vandag toe is dit mense wat nie werklik bewus is van die wond wat ons gemeenskappe en ons land opgedoen het nie wat vir jou sê ons moet nou vorentoe gaan, ons moet die verlede begrawe. My standpunt is jy kan nie die wond van die verlede begrawe as jy nie kennis van hom het sodat jy hom kan verstaan nie. As jy dit nie konfronteer nie, dan, soos Freud gesê het, ly jy eintlik aan patologiese rou.”
Met die bekendstelling van Met koffer en kaart het Amanda Gouws, ’n dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, met Helena oor die boek gesels. Die titel van Helena se boek is ’n verwysing na Joernaal van Jorik van DJ Opperman, waarin die kolonis Jorik met sy koffer en kaart in Afrika aankom.
“Op ’n ironiese wyse praat ek terug met Jorik,” het Helena aan Amanda Gouws gesê. Sy wil vir Jorik met haar verhale sê dat ons egter nou in die nuwe bestel ’n “nuwe koffer en kaart moet kry en ons weg in Afrika soek”.
Die koffer kan ook heenwys na die “bagasie van die geskiedenis” wat Suid-Afrikaners met hulle saamdra. “Ek glo dat hoe meer jy jou met die geskiedenis bemoei, hoe makliker verstaan jy die hede,” het Helena gesê. Volgens Gouws kry Gunter dit in haar verhale reg om die verlede op ’n konkrete manier in die hede in te bring.
Gouws was aanvanklik verbaas dat Helena vir haar gevra het om in gesprek met haar te gaan oor die boek, aangesien sy nie ’n letterkundige is nie, maar nadat sy Met koffer en kaart gelees het, het sy ingesien hoe die persoonlike in Helena se verhale verpolitiseer word. Só skryf Gunter byvoorbeeld in die eerste verhaal in die bundel oor ’n vrou wat ’n aborsie ondergaan. Wanneer die “pa” vanaf die Grensoorlog terugkeer, is hy so vasgevang in sy eie verlies dat hy nie haar intense persoonlike verlies raaksien nie.
Vir Gouws sal veral mense wat in hulle 50’s is en gedurende apartheid grootgeword het, aanklank vind by Helena se verhale. Dit is hierdie generasie wat probeer om die verlede te probeer uitpluis en sin te maak daarvan en van die oorgang na demokrasie. Hulle probeer ook om hulle staanplek in die “nuwe” Suid-Afrika te vind.
Daar is tien verhale in die bundel, en in die laaste vier is die hoofkarakter Mara, wat van dié generasie kom, sê Gouws. “Mara is so ’n bietjie rassisties en wil dit nie erken nie. Sy hanteer nie die nuwe Suid-Afrika so goed nie.” Haar “koffer en kaart”, soos ook die res van haar generasie s’n, is dat hulle in ’n Eerstewêreldse en Westerse land grootgeword het en nog steeds is. “Na 1994 moes hulle besef dat hulle eintlik in ’n ontwikkelende land woon en dat hulle voorouers hulle in hierdie land wangedra het.”
Volgens Gouws spreek Gunter “tot die kollektiewe psige van die Afrikaner” en hoewel dit heel dikwels uit ’n manlike oogpunt gedoen is, bied Helena die vrou se belangrike perspektief en stem op hierdie kwessie.
Ook in die tweede afdeling van Met koffer en kaart is daar een sentrale hoofkarakter, naamlik Hanna. In hierdie afdeling, “Triptiek, ink op papier” wissel die verteller van die eerste persoon na die derde persoon. En hier, skryf Madri Victor op LitNet, kom Helena se bekwaamheid sterk na vore. Die drie verhale van hierdie middelste deel vorm saam ’n eenheid. Só ook die verhale in die derde afdeling wat rondom Mara draai. Vir Victor is “Mara se mooi storie” een van die treffendste verhale in die bundel.
Helena Gunter is vir Victor ’n meester van die kortverhaal. “Sy skryf nie ‘mooi kontreistorietjies’ nie, sy skram nie weg van die waarheid nie. Sonder om verontskuldigend te wees, sê sy: kyk hoe lyk dit nou, en dís waar dit vandaan kom. En sy doen dit knap, met humor, groot begrip en deernis. Met koffer en kaart is inderdaad ’n monument vir skade waarin die verlede en hede opgeneem word. Dit is ’n werk wat die leser uitdaag, maar uiteindelik ook ’n roete na aanvaarding en vergifnis suggereer.”
In Rapport van 19 Maart 2011 skryf Marius Crous in sy resensie dat, na die probleme van skuldbesef en wit identiteit, een van die kwessies wat vir hom soos ’n draad deur Helena Gunter se werk loop, dié van die uitbeelding van manlikheid is. Dit kom trouens al voor in Op ’n plaas in Afrika, waar sy vrae vra oor die tradisionele beskouings van manlikheid, en in Met koffer en kaart gaan sy voort hiermee.
“Die mans word uitgebeeld as kwesbaar, emosioneel verwond en uitgelewer aan omstandighede waaroor hulle nie beheer het nie. Daar is die Willem-karakter, die eggenoot van die verteller; of die pa van die ongehude moeder se kind; die Pa-karakter en die mansfigure wat saam huil ná die dood van die jong branderplankryer.
“Laasgenoemde verhaal, ‘Met afstandbeheer, 2010’ is een van die roerendste verhale in die bundel met sy teenmekaarstel van die twee moederfigure. Skreiend is ook die besef waartoe Hanna moet kom dat haar seun ‘langes gerook het, [en] buttons gekoop het’.
“Dit is weer tekenend van die gesplete aard van die wit mens se bestaan in Afrika – ’n problematiek wat Gunter op besonder boeiende wyse in haar tweede bundel probeer deurgrond.”
In Volksblad (23 Maart 2011) sluit Stoffel Cilliers sy resensie so af: “Al is die styl toeganklik, lees die bundel liefs stadig en let op hoe fyn beplan die sinsbou is, hoe raak die woordkeuse, hoeveel beelding pleks van vertelling aangewend word. Ironie, humor en onderbeklemtoning word vaardig ingespan. Dit spreek vanself dat die skrywer as fyn waarnemer klein besonderhede betekenisvol binne konteks weergee.
“Dit is die soort aktuele boek wat die onderskeidende leser sonder veel oorreding ’n tweede keer sal lees, wetende dat ’n weer-lees méér pitkos, méér wetenswaardighede en méér literêre lekkerkry sal oplewer.”
Willemien Brümmer (By, 19 Februarie 2011) merk op dat daar in baie van Helena se verhale gewys word op die “gapende wonde in die bruin gemeenskap”. Helena was lugtig oor wat daar van hierdie tonele gedink gaan word, veral dat mense sal sê dat sy bruin mense as “sleg, dronk en lui” sou teken. Maar, sê sy aan Brümmer, “Wat ek eintlik probeer doen het, is om agtergeblewe mense as slagoffer op te stel, en ek wil spesifiek wat kolonialisme en apartheid gedoen het, uitbeeld. Ek wil die kloof uitlig wat tussen verskillende mense ontstaan het. Die stelsels is nou weg, maar die verskille tussen mense is nie weg nie, en dit is ’n verskriklike problematiek vir my.
“As daar dan ’n rassistiese onderrokkie by my werk uithang, dan vat ek die skuld en ek sê: Goed, ek is hierdie wit vrou van in die vyftig; as ek iewers rassisties was, baie jammer. Maar kom ons kry net hierdie ding oop, sodat ons kan praat oor die verskille tussen mense; hóékom daar verskille is; die skades aan mense.
“Ek glo in die ethics of silence; dat jy jou plek moet ken, dat jy moet stil wees, en jy kan nie beledigend of arrogant wees nie. Jy kan nie sê ’n mens is sleg, hy’s vuil, hy wil nie werk nie. Daar is ’n rede hoekom mense optree soos hulle optree; hoekom daar bendes en plaasmoorde is. Dis my kode dat ek ’n geskiedkundige verband moet lê in my fiksie, anders is dit nie vir my eties korrek nie.”
Sy dink dit is ook nie haar “plek” om die huidige bestel te kritiseer nie. “Ek glo in die ethics of silence wat die hede betref, soos van die Duitse skrywers ná die holocaust. Ek weet ’n mens kan nie apartheid met die holocaust vergelyk nie, maar die ooreenkomste wat daar wel is, maak dat ek nie kan kritiek lewer op wat nou korrup of verkeerd is as ek help skep het aan daardie kwaad nie.”
Helena se volgende bundel, Tweespoor, verskyn in 2018 by Protea Boekhuis in Pretoria. Sy vertel aan AJ Gunter (Volksblad, 26 Junie 2018) dat Tweespoor al by die drukkers was toe sy Fransina, een van die karakters in haar boek, in Christi van der Westhuizen se Sitting pretty herken het.
“Fransina het beslis die kenmerke wat Van der Westhuizen met haar navorsing skets. Ons generasie is so trots op ons white liberal-skap, bely gereeld dat ons nie rassisties is nie, maar dit wat soms in onbedagte oomblikke uitpeul ...
“Die plaas-opset en die verlede is die verwysingsraamwerk wat ek gebruik wanneer ek skryf. Ek skryf nie oor die romantiese konnotasie wat ’n mens aan die plaas het nie. Hoewel dit ook bestaan, is dit nie wat ek belig nie.”
Tweespoor het twee afdelings. In die eerste een word daar gefokus op Tilla, ’n Afrikaanse meisie uit ’n geslote gemeenskap op die platteland. Sy woon saam met haar gesin op ’n plaas, maar die gemeenskap noem hulle “inkommers”. Sy word gekonfronteer met die attensies van ’n skoolmaat se pa, haar ma wat met niks tevrede is nie en spanning tussen haar ouers.
Fransina maak in die tweede afdeling haar opwagting. Fransina is wit en middeljarig wat glo sy is uitgelewer en besluit om te vertrek.
“Ek weet dat ek nie polities korrek skryf nie, dat daar lesers kan wees wat my werk as polariserend kan lees. Ek glo egter rassisme is ’n werklikheid en ’n groter probleem as wat ons wil erken,” vertel sy aan AJ Opperman. “Daarom glo ek ook ’n fiktiewe bekentenis oor die rasseproblematiek van Suid-Afrika kan die kwessie uitlig. Dalk maak dit ’n wond oop wat gedurig met pleisters toegeplak word. Dalk hou Fransina ’n spieël op wat die leser sal konfronteer en lewer dit ’n klein bydrae sodat ons mettertyd minder ontploffings met rassistiese ondertone sal hê.”
In By van 11 Augustus 2018 gesels Helena met Willemien Brümmer en antwoord sy op die vraag of “ons as wittes ons plek moet ken en ons durf kritiseer of moet ons ’n etiek van stilte handhaaf?”
“Dis ’n groot vraag. Die hele kwessie van verwonding en rassisme is moeilik. As jy aangeval word, het jy dan ook nie rede om vergeldend en woedend te wees nie? Maar dan gooi die geskiedenis my altyd terug na waar dit vandaan kom.
“Ek dink nou aan Max du Preez wat geskryf het dat swart mense nie werklik rassisties kan wees nie. Ek stem nie heeltemal saam nie, maar ek verstaan wat hy sê. Maar wanneer jy ’n slagoffer van geweld word, vra jy jouself af of jy nog steeds moet stilbly. Jy moet eintlik nog stilbly, want dit is hoe die geskiedenis hom uitspeel. Jy moet jou pyn en die verskriklikheid wat met jou gebeur het amper verstaan as verdienste – al is dit hóé verskriklik.”
Op die omslag van Tweespoor is ’n afdruk van Paul Klee se “Angelus Novus”, die engel van die geskiedenis. ’n Stuk bruinpapier wat lyk asof dit hom moes bedek, is gedeeltelik afgeskeur. In Rapport van 5 Augustus 2018 skryf Anna Kemp dat Walter Benjamin, Duitse filosoof van die 20ste eeu, in sy negende stelling oor die “filosofie van die geskiedenis” skryf dat hierdie engel terugkyk op die wrakstukke van die geskiedenis van die wêreld, en dat hy, anders as ons mense hier op aarde, nie ’n ketting van gebeure sien nie, maar ’n enkele groot katastrofe.
“Die omslag, tesame met die motto van Dan Sleigh (‘Praat met die verlede, dáár sal jy leer’), bied die leser ’n stewige vastrapplek om mee te begin. Die geskiedenis wat hier ter sprake is, is die Suid-Afrikaanse geskiedenis, die hede en die verlede, die twee spore van die titel.”
Die tweede deel van die bundel vertel die storie van Fransina in vier verhale en hierdie verhale kan, volgens Kemp, elkeen as ’n model vir die kortverhaalgenre dien. “Die leser word teruggevoer na die milieu van die plaas en die platteland, maar van nostalgie en gemoedelike lokale realisme is daar geen sprake nie. Daarvoor is die snykante te skerp, die ironie te skreiend, die humor te wrang. Die klein wrakstukke van die geskiedenis begin reeds ophoop.
“In hierdie vier verhale, elk met ’n subtiel gekose titel, bewys Gunter herhaaldelik haar vermoë om met enkele hale – van kwas én ’n mes – komplekse karakters en fyn genuanseerde strukture te skets en bloot te lê. Deur dialoog en beskrywing (van karakters en die natuur met géén woord te veel nie) en trefsekere tempo-wisseling skep sy ’n wêreld van klein vreugdes en smarte. (...)
“Gunter slaag daarin om by die leser ’n soortgelyke ontroering te ontlok oor Tilla, die gevoelige en skerpsinnige kind, die ‘sport’, die ‘karpatse klein dogtertjie’ (p 13), en alles wat sy sien en beleef. Aan die einde van elk van hierdie verhale staan die ouer Tilla, die een wat op reis gegaan het, wat die spoor van haar geskiedenis gevolg het en terugkyk – soos die engel van die geskiedenis – na die vreugdes en verliese van haar kinderjare. (...)
“Soos oom Flip Kistoor (in ‘Man met tamaties’) se vrugte net met sý handewerk, in hierdie stuk aarde, met hierdie wolke en water en son, en dalk ’n influistering van ’n god, so volmaak kon groei, só kry die leser die gevoel dat die verhale in hierdie bundel uniek is aan die uiters bedrewe (op elke vlak) skrywer, haar geskiedenis en haar híér en nóú.
“Of, op die gevaar af om te veel vergelykings te tref: Elke verhaal skitter op sigself, maar sáám vorm hulle ’n rigtinggewende sterrebeeld in ’n heelal waar die engel van die geskiedenis maar een groot katastrofe sien.”
Vir Frederick Botha (Netwerk24, 23 Julie 2018) is die verhaal van Fransina, “Angelus Novus Africanus” die hoogtepunt van “hierdie knap en deurdagte bundel”. Hy sluit af: “Gunter daag die leser met Tweespoor uit om saam met haar naby die waters van die geheue te beweeg en herinneringe wakker te roer. Die rimpels van die verlede kring dalk net uit tot ’n beter verstaan van die hede.”
Riette Rust (op LitNet) beskryf Tweespoor as toeganklik, maar iets wat ook die leser uitdaag. “Die karakters kom in hul volle glorie – voorkoms, ontnugtering, foute en al – voor jou te staan. Die hantering van die milieu begogel die sintuie: jy sien, ruik, beleef en voel saam met die karakters. (...) Gunter se skryfstyl is gestroop en sy wend die taal vernuftig en beeldryk aan.
“Tweespoor sluit aan by die skrywer se vorige twee bundels. Gunter se bedrieglike fluistering aan die een kant, en haar harde en duidelike stem aan die ander kant, verdien beslis ’n plek binne die literêre wêreld, Hier, en waarskynlik ook internasionaal.”
Tweespoor is verwerk tot ’n drama wat in 2020 en in 2022 tydens die US Woordfees op die planke gebring is. Die dramateks is geskryf deur Inge Crafford-Lazarus wat saam met Nicole Holm rolle in die stuk vertolk het. Die regie is behartig deur Juanira Swanepoel. Tweespoor is in 2020 vir Woordfeestrofees benoem. Nicole Holm het ’n trofee ontvang vir beste vroulike speler.
Helena Gunter se volgende kortverhaalbundel verskyn in 2022 onder die titel Die hart het sy redes en op LitNet noem Riette Rust dit kontreiverhale.
Rust skryf verder: “Die verhale in Die hart het sy redes speel grootliks in die sestigs en sewentigs in die Overberg af. Toe was bell bottoms mode, Fort Cortinas en View-Masters gewild, en Stuttafords se breekware deel van die inhoud van trousseau-kiste.
“In die tweede deel van die bundel kry meer hedendaagse verhale aandag. Soos met Gunter se kortverhale, word haar kontreistories teen ’n plaasagtergrond geskilder. Sy skryf nogmaals weg van die plaasromantiek. Die idilliese bolaag van dié lewe word stukkie vir stukkie afgekrap. (...)
“Die skrywer teken die mikrogeskiedenis van mens en omgewing op, maar terselfdertyd word ’n groter sosiale geskiedenis gereflekteer. Die verhale is, soos met Tweespoor, nie polities korrek nie. Soms wel nostalgies en dikwels onthutsend.
“Die liefde in verskeie vorme maak die hooftema uit. Subtemas sluit in huweliksontevredenheid en -onmin, die femme fatale wat ander se verhoudings ondermyn, huweliksgeluk, vriendskap en aanvaarding, asook ’n liefde vir die omgewing, ’n voorwerp en selfs ’n inkommer. Die invalshoek is vars en bied nuwe insig.
“Die liefdestema sluit aan by Blaise Pascal se aanhaling uit Pensées wat die motto van die bundel is: Die hart het sy redes waarvan die rede niks verstaan nie. (...)
“Selfs al sou jy dalk nie met die plaaswêreld kan identifiseer nie, sal jy jouself heel waarskynlik in die binnewêreld van die karakters herken. Karakterisering is juis die sterk punt van die bundel. Diegene wat die verhale bevolk, word met ’n fyn oog vasgevang; hul voorkoms, uitdrukkings, optrede en die gevoelsmomente tussen hulle. Dikwels skreeusnaaks.
“Gunter se beeldspraak skitter. (...) Die insidente waarby karakters betrokke raak, is dikwels humoristies. Wanneer die dominee preek, loop sy teksverwysings soms ernstig verkeerd. Soos hier: ‘Uit Hooglied 7 verdwaal hy tussen die bruid se nawel en ’n ivoortoring wat na Damaskus uitkyk, haar twee borste lyk soos dadelpalms, hulle is ’n ronde kom met ’n hoop koring waarin die gemengde wyn nie ontbreek nie, haar gestalte hang soos ’n vrugtetros waarop die beminde wil klim en die geur van haard is soos dié van die wingerdstok.’ (...)
“Jy voel jy ken Gunter se karakters. Jy vóél trouens vir hulle. ’n Mens kry groot respek vir die feilbaarheid van mense. Karakters word nie veroordeel nie. Mariet se erge frustrasies met Gielie word só vasgevat: ‘... dis hoogs waarskynlik dat die swakkere vat se ongeduld met die hoof van die huis nie bevorderlik kan wees vir klimaktiese ekstases in die huweliksbed nie.’
“Nog ’n sterk punt van Gunter se bundel is die vars en flatervrye aanwending van Afrikaans. (...) Selfs al word kwessies soos skuld, belydenis en vergifnis in Die hart het sy redes ondersoek, is die 12 verhale nie so swaarwigtig soos baie van dié in Gunter se vorige bundels nie. Die stories is trouens meestal ‘ligter’ en lesersvriendelik. Tog is daar genoeg stof tot nadenke.
“Helena Gunter se Die hart het sy redes sal ’n aanwins wees vir jou boekrak. Die bundel verruim boonop die kontreiverhaalgenre. Moet dit nie misloop nie.”
Jonathan Amid is die resensent vir Netwerk24 (1 Mei 2022) en hy het baie uitgesien na die verskyning van Die hart het sy redesen vir hom het dit gou geblyk dat Helena Gunter met hierdie vierde bundel ook diep spore gaan trap. Amid meld dat die titel uit ’n werk van Blaise Pascal kom, Pensées, wat sy opgeneem het as ’n motto – “Die hart het sy redes waarvan die rede niks verstaan nie” – en hierdie motto is in verskillende grade op die 12 verhale in Die hart het sy redes van toepassing.
Amid gaan voort: “Dalk omdat Tweespoor en sy voorgangers so uitsonderlik was, was my eerste indruk dat die eerste helfte van Die hart het sy redes sterker was as die tweede. Dat die bundel ontsettend sterk begin, vroeg reeds ’n duidelike en gemaklike ritme vind en dan ’n effense insinking beleef met die uitgesponne en herhalende ‘Kindertyd, o saligheid’. Hierin word die konteks van die 1960’s wel oortuigend geskets, maar die rokie en vuurtjie is maar yl. In die tweede helfte neem Gunter meer berekende risiko’s met meer ‘moderne’ stories wat nie ver verwyder is van iets wat jy in een van SJ Naudé se bundels sou kon raaklees nie.
“Talle van die verhale in Gunter se nuutste is juis interessant – en word terugskouend al hoe meer so – namate ’n mens die stories in jou verbeelding jukstaponeer. Party is tematies en stylgewys nader aan haar eerste twee bundels met hul evokatiewe uitbeelding van die platteland en die ontluistering van die plaaslewe; in ander vind jy eggo’s van die vervreemding, isolasie, onsekerheid, ontnugtering en bevraagtekening van die status quo soos in dele van Tweespoor.
“Met ’n herlees en deurslaggewende ‘voorkennis’ word dit makliker om ’n meer ‘vrygewige’ oordeel te vel oor die geheel. Hoewel dit ietwat ‘ligter’ is as Tweespoor en ’n minder vermoeiende leeservaring, gaan elke verhaal in wese oor die uiteenlopende wyses waarop menselewens deur die liefde – en nie deur rede en rasionaliteit nie – gerig word. Die hart het sy redes waarvan die rede niks verstaan nie. (...) Die hart het sy redes is ’n gesofistikeerde, veelvlakkige leesplesier wat lesers se geduld en aandag ryklik sal beloon.”
Helena vertel aan Elna van der Merwe van Huisgenoot (16 Augustus 2022) meer oor die besonderse buiteblad van Die hart het sy redes. Dit beeld ’n man uit wat met ’n hart in sy hande staan: “Dit is ’n foto van ’n porseleinbeeld wat my broer lank gelede vir my ma as verjaardaggeskenk gegee het,” vertel Helena. “Die man (’n dokter) se gesigsuitdrukking is een van radeloosheid. Dit het my herinner aan die uitdrukking ‘om met die hart in die hande te staan’, wat beteken ’n mens het nie raad met of ’n verklaring vir die werkinge van die hart nie. Jy staan telkens verbaas en verbyster oor die uitkomste daarvan. Dit is sprekend van die verhale in die bundel wat bewys ‘die hart het sy redes waarvan die rede niks verstaan nie’, die Blaise pascal-filosofie wat die motto van die bundel is.”
Elna van der Merwe noem aan Helena dat daar nogal ’n hele klompie van die karakters in Helena se kortverhale is wat vir haar soos bekendes voel. “Ja,” sê Helena, “maar hoewel mense, plekke, geografie en voorvalle herkenbaar is, herskep ek dit tot nuwe werklikhede. Daar was byvoorbeeld werklike inkommers wat die dorp ‘soos los blare in- en weer uitgewaai het, met ’n streep gebroke harte in hul sleurstroom’, maar ek gee hulle ander name en milieus as in die werklikheid.
“Daar was regtig ’n skoutoertjie waar ’n man hom lewend laat begrawe en weer opgrawe het, maar sy naam was nie Micky Cellini nie en Elsabé Plattes het nie saam met hom weggeloop nie (wel saam met iemand anders …). Daar was ’n werklike moord weens ’n verbode liefde, maar die verbode liefde was nie tussen ’n balletdanser en ’n apteker nie.”
Helena vermoed ook dat sy die groot gebeure op haar grootworddorp – troues, landbouskoue, sportbyeenkomste, teateropvoerings en liefdesteleurstellings – soos “osmose” opgeneem het. “Mense soos die dorpsverleidster (Marga), balletdanseres en skoonheid (Sarah), kleindorpse wonderkind (Madelein), korrupte prefek (Pikvoet), toneelverslaafde (Herklaas), beskermvrou van inkommers (Mieta), haarkapper (Basie), onskuldige verliefde (Christel), rokjagter (Pietie), ensovoorts het regtig bestaan, maar met ander name en maniërismes as hoe ek hulle fiktief herskep. Dis die sóórt mens of gebeurtenis wat ek uit waardering en tot genot van die leser wil verewig. Sodat die leser herinner word aan soortgelyke karakters in hul wêreld.”
Ook Trisa Hugo is beïndruk met Helena se Die hart het sy redes (Netwerk24, 6 Junie 2022): “Liefde in al sy vorme, nydigheid, nuuskierigheid, onredelikheid, ontkenning, verontregting en elke ander emosie tussen die kontrei se mense word ontgin. Hartseerverhale word met kreatiewe aanwending van taal en ’n goeie skoot humor daarby vertel. Daar is ook plek-plek ’n tipe sensualiteit, selfs skunnigheid.
“Die skryftrant verander in die tweede helfte, asof dit ’n aparte bundel sou kon wees. Die temas van die verhale is steeds kontreiverhale, maar daar is ernstiger besinning oor lewenskwessies soos geborgenheid, magspel, buurmanskap, broederskap en kameraadskap. Hoewel dit kontreiverhale en plaasstories is, verval dit nooit in nostalgie of die stroperigheid en romantiek oor die plaaslewe nie. (...)
“Helena Gunter is een van daardie skrywers wat ’n baie groot lesersmark met wye leessmaak sal tevrede stel. Haar verhale is tydloos soos dié van Dalene Matthee, Eleanor Baker, E Kotze, Chris Barnard en Elsa Joubert. Soos haar vorige werk, is Gunter se werk hier toeganklik, maar terselfdertyd ’n uitdaging vir die leser, vol patos en insig in lewenskwessies. Haar verhale is soos die lewe self, dit verloop nie altyd vlot of na verwagting nie, maar dit ráák jou.”
Helena vertel in 2018 aan Willemien Brümmer dat haar studies onder Marlene van Niekerk in 2004 haar tóé eers tot die besef laat kom het “hoe kompleks die hele Afrikaanse konteks is en dit het gemaak dat ek nou altyd met Susan Sontag se filosofie op my skouer sit: Wanneer jy iets in ’n raam sit, is dit belangrik. Met ander woorde as ek nou ’n jollie storietjie gaan skryf oor hoe ek grootgeword het – dís nie die belangrike werklikheid nie. Die romantiese het óók bestaan, maar dis nie wat ek belig nie. Soos wat Fransina (in Tweespoor) se susters daar sê – as jy dít doen, dan speel jy ringe-rosie terwyl die rook bokant Auschwitz spiraal.”
Publikasies
Publikasie |
Op ’n plaas in Afrika |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
97780798148382 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Met koffer en kaart |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780798152549 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Tweespoor |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
9781485309291 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die hart het sy redes |
Publikasiedatum |
2022 |
ISBN |
9781485313564 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor Helena Gunter
- Bijman, M: Into the mind of an author – Helena Gunter on what motivates her to write. Seven Circumstances, 27 Januarie 2019
- Brümmer, Willemien:
- Seer het nie ’n tydsbeperking nie, sê Gunter. Die Burger, 11 Augustus 2018
- Speel wit mense ‘ringe-rosie’ terwyl Auschwitz brand? Netwerk24, 7 Augustus 2018
- De Vries, Willem: “Hoe dikwels is dié storie nie vertel nie”. Die Burger, 25 Mei 2008
- Helena Gunter
- Helena Gunter
- Morgan-Hollander, Haydee: Oor woorde, woordgevoelighede en woordkunswerke: Haydee Morgan-Hollander in gesprek met Helena Gunter. LitNet, 27 Maart 2008
- Opperman, AJ: Gunter pak “white liberals” in derde bundel. Netwerk24, 3 Julie 2018
- Scholtz, Gerard: Video: Tweespoor deur Helena Gunter bekendgestel – sy gesels met Gerard Scholtz. LitNet, 19 September 2018
- Senekal, Gerdus: Nuwe Stories 2013-onderhoud: Helena Gunter. LitNet, 29 Januarie 2013
- Van der Merwe, Kirby: Hoe kan jy sê jy moet ophou bely? Die Burger, 19 April 2008
Artikels deur Helena Gunter
- (Kaapse) huis. (Portugese) paleis. Rapport, 25 Januarie 2008
- Langs die Breede [kortverhaal]. LitNet, 19 Maart 2008
- Letterliewende Bonnievalers bied heenkome vir skrywers. Die Burger, 20 Mei 2009
- Vir ’n kool vuur. Die Burger, 4 April 2009
Helena Gunter se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2018-09-20 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Was bevrydend om Helena se insigte oor die ongeregtighede van die verlede te kon lees. Ek het grootgeword op dieselfde plaas as seun van plaaswerker van Piet Gunter. Ek het skool gegaan by multigraad skool op die plaas en is vandag amptenaar by Hoofkantoor van Wes-Kaap Onderwysdepartement in Kaapstad. Afgesien van die verontmensliking van die verlede kon ons bo daardie omstandighede uitstyg en ons ontwikkel tot volwaardige volwassenes wat 'n bydrae kan lewer tot die opbou van ons land. Verblywend om te lees dat dit wat vir jare in my gemoed opgesluit lê kom uit die pen van dieselfde "wit kind" met wie ons saam op een plek groot geword het. Afgesien van die negatiewe dink ek tog nog vandag terug met heimwee na die plek. Mis die plek en sy mense met hul gapende wonde.