Oor woorde, woordgevoeligheid en woordkunswerke: Haydee Morgan-Hollander gesels met Helena Gunter

  • 0

Op ’n plaas in Afrika
Helena Gunter
ISBN: 9780798148382
Uitgewer: Human en Rousseau

Klik hier en koop Op 'n plaas in Afrika by Kalahari.net

“Geskiedenis is belangrik. Dit bied die konteks waaruit jy kom en waarvandaan jy moet vooruitbeweeg. André P Brink het gesê die ingryp in die geskiedenis deur middel van die fiktiewe metafoor, die verbeeldingryke begrip, is nodig vir die normalisering van die gemeenskap. Ek kan nie die gemeenskap normaliseer nie, maar ek kan probeer om die fiktiewe metafoor te gebruik om vanuit ’n sekere perspektief die ingewikkeldhede van mense se saambestaan te kommunikeer. Ek probeer geskiedenis fiksionaliseer, veral maatskaplik-sosiale geskiedenis.”

Aan die woord is Helena Gunter, wie se debuutbundel Op ’n plaas in Afrika pas bekroon is met die Eugène Marais-prys.

“Dis onprakties om in ’n land soos Suid-Afrika te woon en ’n eksklusiewe, bevoorregte witmensverlede te romantiseer. Net so is dit vir my totaal prematuur om ’n prentjie van ’n idilliese reënboognasie voor te hou asof daar geen ongelyke verlede was nie.”

Die titelverhaal plaas ’n storie en karakters in ’n bepaalde segment van die samelewing; waar gay-wees aangespreek word, ook plaasmoord en gewapende roof, die hedendaagse problematiek van geweld. Duitse toeriste kom op die moordtoneel af. Porseleinstukke en gebreekte Delft-ware stel die verbrokkeling van (Europese) waardes voor.

En ons waardes?

“Die verhaal gaan onder andere oor die geweld waarmee Afrika wit indringing (kolonisasie) en oortreding (Walter se verraad teenoor Karel) vergeld. Ek het ook gehoop om die afstand tussen hedendaagse Duitsers (toeriste) en Afrikaanses (van Duitse oorsprong) uit te lig. (Ek kan my verluister aan toeriste se romantisering van Afrika en hul totale onbegrip van die kompleksiteit van die menseverhoudings.) Die “ultimate African experience” wat hulle begroet, behoort ’n wekroep te wees tot die verskil tussen hulle wêreld en dié van die Afrikaanse boer.

“Ek het die rassisties-nasionalistiese ideologie met moedersmelk ingekry en as bevoordeelde wit kind tydens apartheid grootgeword, en skryf vanuit daardie soort agtergrond. My belewenis is dat my voormense (lees wittes) hulle sedert 1652 nie altyd soos welvoeglike gaste gedra het nie; hulle het mense ontheem en aan verontmenslikende politieke bestelle onderwerp. In dié storie probeer ek Afrika se vergelding fiksionaliseer en waag ek ’n voorspelling vir Eurosentriese waardes. Wat jou vraag rondom 'ons waardes' betref, ’n teenvraag: Wie is 'ons' en wat is ons eie?”

Die voorblad kan ook ’n illusie skep van nostalgiese inhoud wat terughunker na gesellige, idilliese landelike ruimtes …

“Dit is doelbewus en dien om my potensiële leser uit te lok, want ek wil juis die inhoud – wat verontrustend aandoen – kommunikeer. En ek dink nie dit is onbillik nie, want ek glo in die geestelike volwassenheid van die Afrikaanse leser. Dieselfde leser wat behoefte het aan gesellige kontreikuns, het waardering vir die terapeutiese waarde van minder gesellige werklikhede.”

Die verhale speel meestal af in die Suid-Kaap, die omgewing waar die skrywer grootgeword het. Gunter het in die Overberg opgegroei en val in agter ’n rits skrywers uit daardie streek, onder andere MER, Audrey Blignault, Alba Bouwer, Con de Villiers, Freda Linde en Wilma Stockenström. Hertzogpryswenner Marlene van Niekerk, onder wie Gunter haar meestersgraad voltooi het, het ook ’n tyd daar gewoon.

 

Het dié wete (dat jou omgewing deurweef is met groot geeste en mentors) ’n invloed op jou?

“Hulle is die heiliges wat my leefwêreld bewoon. Uys Krige het byvoorbeeld eendag op my ouma se sitkamerbank sit en werk. Ek het nie geweet wie hy was nie, maar die voordrag van 'die oom in die wit speedo', die timbre en ritme van sy stem, het my nog nooit weer verlaat nie. Omgewing en die mense wat dit bewoon, en hoe dit afskuur, is nie toevallig nie, en ewig deel van die balansstaat waaruit ek put.”

Die skrywer se fyn sintuiglike waarneming is van meet af aan tasbaar in elke verhaal. Woorde soos wildesonsoekertjies in die openingsverhaal roep beelde op van MER se Die tweeling trek saam en Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas; en beskrywings soos dié in die openingsverhaal kan die leser mislei om te dink hier is nog ’n bundel gemoedelike verhale in die trant van die twintigs se rustige plaasstories: "Ek onthou oggendlug teen my wange, trekkers wat aan die gang kom, ’n ratkas se gekrap, ’n manstem wat kla oor ’n verdomde ghriesnippel wat weer stukkend is, ’n bloukraanvoël wat kra-aark! uit sy keel, die vaal streep van die voetpad. En hoe ek terugkyk en weet: alles is reg; teen Potberg staan ons huis soos ’n opstaanprent in my Grimm’s Fairytales, in die kombuis is Ounên doenig voor die Aga, Ma sit voor die klavier in die sonkamer en Pa in sy stoel met die koerant, die rooi stof van Melkhoutfontein aan sy skoene."

Maar dit is ’n illusie. Ontnugtering voer in dié en die ander sewe verhale die botoon, en daarom staan hulle juis in skrille kontras met vroeëre plaasromans en stories.

Die hoofkarakters of protagoniste in Gunter se verhale is meestal vroue wat in elke verhaal met ’n ander verhoudingsproblematiek of manifestasie van seksualiteit gekonfronteer word. Die openingsverhaal, "Agter die groen deur", het, soos "Tweespoor", seksuele molestering as tema en vertel die verhaal van Ouma wat lank gelede een nag ’n bruin dogtertjie uit die dam geduik het nadat haar ma, die huiswerker, inderhaas die plaas verlaat het. Die perverse gesagsfigure het, soos Abraham de Vries skryf, verskuif na ander plekke van gewaande veiligheid: dis boere, onderwysers en ’n hoogheilige maatskaplike werkster. In die plek van plaasromantiek het plaasmoorde gekom, bloedskande en verminking, betasting en liefdesveraad oor kleur- en geslagsgrense.

“Ek dink ’n mens kan veralgemenend sê dat die wittes van my generasie aan ontnugtering ly. Ons is vir lank die 'wit mitologie' gevoer – geleer dat die land aan ons (toe wit nasionaliste) behoort, dat ons moet veg daarvoor, dat ons uitverkore en maatskaplik meerderwaardig is, dat ons alle eiendomsreg het, ens. Baie lede van my generasie is ontnugter; hulle vind die kopskuiwe ingewikkeld, soms onmoontlik, en ervaar gevoelens van eensaamheid en uitgeworpenheid. Ek poog om die geskiedenis rondom daardie ervarings lig en lug te gee.

“Omdat ek beskermende en koesterende gesagsfigure geken het, staan ek verbyster voor inligting omtrent ander se mishandeling. Watter soort energie word deur ’n slagoffer en die gesagsfiguur in sulke omstandighede opgeklits en hoekom? Dís wat ek wou ondersoek. Enersyds lei en verlei ek my lesers deur hulle te lok met die onskuldige landelike, die mooie, die gedeelde bekende, soos wat dit gefiksionaliseer is in die vroeëre literatuur. En net as hulle gerus is, en saam met my onthou en terugverlang, herinner ek hulle aan die onheil wat saam met die wildesonsoekertjies geblom het.

"Andersyds is ek lief vir die spel met simbole. Dan gebruik ek landelike verwysings as begeleiders. So word die suidoostewind, jerseybul, trane van bloed, hare soos slange, die Karoo-Erinys simbole van iets meer.”

Een van die beeldrykste sinne in die bundel is dié een in die verhaal "Tweespoor": "Die Valiant Regal se wiele het oor die grondpad huis toe gesing." Die dogtertjie in “Tweespoor” met die handtastelike musiekonderwyser en die beeld van die ma wat altyd met die sleutels in die hand op pad is, net die punt van haar rok nog sigbaar wanneer sy om die hoek verdwyn. “Tweespoor” word vanuit die perspektief van klein Reana vertel wat as jongmens die plaas van haar kindertyd, Kadieslaagte, herbesoek. In dieselfde verhaal word (bekende) simbole treffend ingespan: "En sy asem ruik na peperment", wat Stef Bos Protestantse kokaïen noem, veral teen vervelige preke. Met verloop van die verhaal simboliseer die reuk sensuur, verdoemenis. Protestantse verdoemenis.

“Die slagofferkind assossieer die musiekonderwyser met die kerk (die onderwyser speel die orrel). Haar vrees vir die duiwel, haar versugting om haar ma te plesier, haar verkeerde toepassing van Mieta se waarskuwing, haar onkunde en verwarring laat haar die assosiasie maak, jaag die dominee en ouderling in dieselfde kamp as haar musiekonderwyser.”

Die titel van Helena Gunter se bundel kortverhale herinner aan die rolprent Out of Africa (oor die lewe van die skrywer Karen Blixen in Kenia) en Olive Schreiner se boek Story of an African farm. "Woordgevoeligheid," sê Abraham de Vries, "met die opkoms van die visuele media, TV, advertensies, strokiesprente, selfs die wêreldgebeure in storievorm, vertellery wat gebeure voor jou oë laat afspeel, karakters toon, is stories eintlik in ons tyd effektief gekaap. As reaksie het die taal, die woord, vir kortverhaalskrywers weer ’n ding en ’n baie mooi ding (Merwe Scholtz) geword."

“Ek dink De Vries bedoel dat die titelkeuse nie toevallig is nie, maar genoemde tekste oproep, ook dat die woordgebruik in die verhale ander tekste ‘wakker maak’ en om dieselfde rede gevoelig is. Die bundeltitel is inderdaad ‘gevoelig’ vir Blixen en Schreiner se titels en beslis doelbewus. Dit praat vanuit ’n postkoloniale tyd terug met die dames wat uit en oor ’n koloniale tyd geskryf het. Die bundel poog om die maatskaplike werklikhede op ’n postapartheid ‘plaas in Afrika’ te fiksionaliseer (waar die skrywer dit waag om, dalk erg vereenvoudigend, apartheid te beskou as ’n laaste stuiptrekking van kolonialisme).”

Die volgorde van die verhale is ook doelbewus, vertel Gunter verder.

“Die ouderdomme van die protagoniste verhoog chronologies. Die stemme word verteenwoordigend van die eertydse plaasbewoner wat later in sy lewe verstedelik. Die plaas in Afrika het verskuif na ’n ander ruimte waarby die eertydse plaasbewoner (die kind wat daar grootgeword het) moet aanpas en waar hy/sy (as volwassene) moet oorleef. Die titel resoneer dan uiteindelik ironies.”

Oor die kaping van stories sê Hennie Aucamp in ’n onlangse onderhoud dat Afrikaans met die dilemma sit dat hy "geen, maar geen, venues vir die langer kortverhaal" het nie. Hy betwyfel dit of langer verhale soos “Die hol krans” van MER en “Ou Vorster” van J van Melle vandag opgeneem sou word in subsidiegenererende tydskrifte. "Wat doen die liefhebbers van goeie populêre verhale nou? Hul wend hul – let wel, uit desperaatheid – tot Engelse verhale, meesal in boekvorm, want ook in Engeland en in Amerika het tydskrifte promosieblaaie geword, met baie vir die vlees, glansender hare en bultender spiere, maar niks wat ? geesteslewe en die verbeelding kan voed nie. In Afrikaans begin tydskrifte as ? spesiale toegewing plek inruim vir kortkortverhale. Talle skrywers van my generasie voel verdwaald in ’n oorgekommersialiseerde wêreld."

Voorts sê Aucamp: "Vir kultuurdinamika binne ’n groep het jy ’n voortdurende gesprek, en soms ook spanning, tussen opperkultuur en onderkultuur nodig. As onderkultuur oorbefonds word en opperkultuur afgeskeep en selfs geïgnoreer word, verval die spanning waarvan so pas gepraat is, en word ’n klimaat geskep waarbinne '’n kudde van dommes' (Duitse begrip) ongebreideld kan gedy. Woordeskat en kultuurgeletterdheid krimp sienderoë in Afrikaans."

Helena Gunter hou blykbaar ook van die langer kortverhaal, soos blyk uit haar debuutbundel.

Waarom het die Afrikaanse boek tien keer meer lesers as kopers en waarom sou ons meer ywerig lees maar minder ywerig versamel?

"Die visuele aanbod veroorsaak dat mense eerder ’n storie 'kyk' as wat hulle dit wil lees. Ek dink die verbruikerswêreld veroorsaak dat mense eerder op materiële produkte fokus as op geestesgoedere. Mense sal in duur viertrekvoertuie by leeskringe opdaag, maar die leesboek sirkuleer in plaas daarvan om elkeen een te koop. Daarteenoor koop Nederlandse en Belgiese besoekers wat praatjies bywoon, een vir elke lid van die gesin. Indien my bundel beskou sou word as ’n waardige bydrae tot die Afrikaanse kortkuns, sal ek trots voel, want, hoewel klein, dink ek Afrikaanse kortkuns beskik oor ’n kosbare, unieke verhaleskat. Dit sou verarmend wees indien toekomstige generasies sou toelaat dat Afrikaanse prosa tot niet gaan, of weer deur een of ander groepering toegeëien en verpolitiseer word.”

Soos Boerneef, het jy eers laat gedebuteer. Is die besef van ouer word ’n belangrike dryfveer of maak dit jou benoud om te dink aan die boeke wat nog wag om geskryf te word?

“Beide. Dit is ’n dryfveer omdat ek nie soveel tyd oor het soos op 20 nie. Dis ’n irritasie as jeugdigheid as ’n soort voorwaarde gestel word vir nuwe publikasies.”

De Vries verwys in sy resensie na die karakters as warm menslike, verlate, woedende, soekende figure in wie se emosies die verskynsels en gees van ons tyd uitgespeel word. Voer Gunter gesprekke met haar karakters? Is daar van hulle wat sy nou, jare later, slegs van kon loskom deur hulle uit haar gedagtes uit te skryf?

“Indrukke (ook sintuiglikes) en insigte praat met my. Sommige is met my sedert ek kan onthou. Dit krap my kop totdat ek dit aanteken, ek droom daarvan, dit pla my. Al manier waarop ek daarvan 'verlig' word, is deur dit te fiksionaliseer. Die indrukke kry eers lyf (karakters en storie) voor die rekenaar. Die titelverhaal in dié boek het byvoorbeeld begin by die gekraak van ’n vloerplank in my tant Mary se huis op Swellendam.

“Ek neem mense waar, gedurig, só opsigtelik dat my kinders my dikwels maan om 'nie so te kyk nie'. Ek is elke woord verskuldig aan die mense wat rondom my leef, wat my opgevoed het, wat steeds my lewe deel, wat daagliks die vonke verskaf waarvan ek afleef. Ek kan niks skep of voortbring daarsonder nie. Ek staan voortdurend verwonderd voor die lewe. Ek het nie antwoorde of raad nie; ek kan slegs die spanning wat uit die ingewikkeldhede spruit, vanuit my (beperkte) gesigsveld probeer kommunikeer. Die mens se reaksie op sy omgewing, hoe dit in sy gemoedstoestand en gedrag wys, dit fassineer my, in alle soorte menslike groeperings, of dit in familieverband is of nie. Daar is mense en indrukke wat my bybly, dankie tog, maar ek sal die een se neus op ’n ander se gesig by nog ’n ander se maniërismes sit, en so ’n nuwe, verbeelde karakter skep. Ek werk realisties, maar realisme is steeds ’n estetiese konstruksie. Hoewel die fiktiewe ruimte, karakters en gebeure die illusie van ’n nagebootste 'werklikheid' kan skep, is die nabootsing nie naïef nie; ek poog om '’n nuwe waarheid te lieg'.

Gunter sê indien die leser die skrywer in haar fiktiewe verhale soek, speel hy nie regverdig nie. “Die skrywer van ’n fiktiewe verhaal skuld sy leser slegs ’n geloofwaardige verbeelde werklikheid. Ek skryf fiksie, nie outobiografiese fiksie nie.”

Party skrywers se ma’s was ’n groot invloed. Daar is vir hulle as kinders voorgelees uit inheemse werk én vertalings. So is daar ook kennis gemaak met wêreldliteratuur. Was dit die geval met jou? Dalk ’n ander volwassene as jou ma?

“Sedert ek kan onthou, was boeke vanselfsprekend. My pa en ma was lesers. My ma was ook ’n goeie storieverteller – sy kon ’n plot pak sodat jy wou luister tot die einde. My skoolhoof, taal- en musiekonderwysers het my spesifieke boeke in die hand gestop.”

Engels- en Afrikaansonderwysers het haar skryftalent op skool geïdentifiseer en sterk aangemoedig. Daarna het sy haar deur verkeerde stemme laat intimideer, dit verwaarloos en in die onderwys gaan wegkruip. “Totdat Marlene van Niekerk my aan die hare uitgesleep het. Ek staan steeds verbaas as mense my vertelsels betekenisvol vind.”

Hoe sou ’n boek soos dié, en Dis ek, Anna, wat vertel van dit wat tussen Stom Anna en haar stiefpa plaasgevind het) vyftien jaar of meer gelede ontvang gewees het?

“Ek het nog nie Dis ek, Anna gelees nie. Omdat ek ook molestasie as onderwerpmateriaal geneem het, was ek bang vir die invloed van haar teks. André le Roux se Sleep vir jou ’n stoel nader was verban. Hierdie boek sou dus ook waarskynlik verban gewees het. Interessant dat die fliek Sybil nie verban was nie; dit het wel ’n ouderdomsperk van 21 gehad. Wat my met die gevolgtrekking laat dat die Calvinisties-nasionalistiese, patriargaal-oorheerste bestel besluit het wanneer hulle volwasse Afrikaanssprekendes sou toelaat om kennis te neem van dié soort vergrype – solank dit ander volke en in ander tale was. ’n Fiksionele aanbod van dié soort onderwerp kan baie maklik sensasioneel aandoen. Daarom is dit belangrik om die spanning tussen die twee kragte – die uitgelewerdheid van die kind (slagoffer) en die manipulatiewe krag van die volwassene (gesagsfiguur) – geloofwaardig te probeer verwoord.”

Ook gee Gunter uitstekend gestalte aan haar motto (van Abraham H de Vries), “Laat heimwee by ons nie uitvee wat ander juis onthou nie”, wat voor in haar boek verskyn.

“Ek het dié gedagtes van die hoofkarakter in die verhaal 'Bouvalle' uit Tot verhaal kom, gelees as waarskuwing vir die eens-bevoordeelde, wit skrywer wat in Suid-Afrika 'tot verhaal' moet kom. Die skrywer kan verval in ’n nostalgiese terughunkering (heimwee) na ’n bevoorregte verlede, waarin sentiment en romantiek die voorregte van ’n kolonialistiese verlede verheerlik en verhef, terwyl dieselfde verlede vir die benadeelde (die ander) in die teken van ontmensliking en ellende staan. Die wit skrywer het ’n verantwoordelikheid om liefs sy geskiedkundige geheue (wat ander juis onthou) in te span en sy skuld oop te skryf.”

Niks in die bundel is toevallig nie. Net soos die diere en landelike verwysings, en die keuse van musiek (in die titelverhaal), word kleur sorgvuldig en met rede gekies, soos in die verhale "Alleen ons beste" en "Herfsdae in April": "Maar dis die kleur van my vel waarmee ek gebore is, wou sy sê, mejuffrou die politieke wetenskaplike, ek kan dit nie help nie. Ek het dit so kom kry, die kleur en die woord."

Watter kleur het woorde vir jou? Woorde soos Potberg, Klimmeidjie, witmensstoep en suurlemoene? Is die kleur reukverband, herinneringsverband of erfenisverband?

“Woorde en stories het kleur, ja. Ek hoop dat die sosiaal-politieke kleur van Potberg, Klimmeidjie, witmensstoep en suurlemoene net so duidelik in my leser se kop opgeroep word as blou, bruin of geel. Verskeie sintuiglike en insigtelike ervarings word gelyktydig geaktiveer wanneer ek skryf; dit loop saam, hou verband, werk in op mekaar, hopelik in ’n soort harmonie wat ’n esteties-bevredigende prent vir my leser teken.”

Die titelverhaal eindig met Beethoven se "Waldstein-sonate", wat ’n tegnies uitdagende komposisie is en wat dagbreek of ’n nuwe begin in Italiaans beteken.

“Ek wou die onmoontlikheid van die situasie deur die keuse bevoorgrond. Die nuwe dagbreek in Afrika vir die wit nageslag met hul Beethoven word geïroniseer. Die afstand wat die verloop van die geskiedenis daar geplaas het tussen die mense (Europese koloniste) wat die musiek oorspronklik hiernatoe gebring het en die nalatenskap, word vooropgestel. Die boer se Beethoven, Delft-porselein en skilderybedekte mure (Europese erfenis) word nietighede voor die aanslag van Afrika. Die 'boeremaal' wat die toeriste gaan begroet, hul onkunde daaroor, hul onskuld daaraan, poog om die tragiek van die situasie in reliëf te plaas.”

Sy sien uit na die donkerte van die teater, waar ’n mens kan sit in die opgestelde werklikheid, afgesluit van alles. (Uit "Herfsdae in April" in Op ’n plaas in Afrika)

Virginia Woolf sê (Engelse) woorde is vol eggo’s, herinneringe en assosiasies: “… they’ve been out and about on people’s lips, in their houses, in the streets, in the fields for so many centuries.” Is dit nie een van die vernaamste probleme met skryf nie? Dié woorde wat gevul is met ander betekenisse, wat in ander kontekste, ander boeke bekendheid verwerf het? Is dit ook so met Afrikaans? Wat is dan die uitdaging om iets bekends nuut te laat klink?

“Die uitdaging lê daarin om die woord te gebruik sodat dit die gewone vervreem; daar moet ’n 'transfiguration of the commonplace' wees, die gewone moet omgetower word tot die buitengewone. Virginia Woolf het ook gesê dat styl ’n eenvoudige kwessie is, dat dit met woorde niks te make het nie, dat dit net ’n geval van ritme is, dat ’n indruk ’n golf in die verstand laat opstaan, en dat dit dié golf is wat reg gevang moet word, en soos die golf in die verstand tuimel en breek, gooi dit woorde uit wat pas. Geen woord mag lukraak of toevallig wees nie. Elke woord moet ekonomies gebruik word. Dit moet reg resoneer, dit moet meer vir die leser wakker maak as die 'ou' betekenis.”

Die bundel is nie sonder humor nie. In "Op die spoor van die heilige maagd" maak die leser kennis met die jesebels, die delilahs, die "soetkoek-skelmpies" van huweliksontrouheid. Slange wat pik en sis in woorde soos niksss, die gedeelde geskiedenis in ’n oogwenk laat verdwyn en jou laat wonder waarom vroue nog vorentoe beur (met verhoudings) …

“Ek fokus graag op die humoristiese in situasies wat daarom vra. Dis oplugtend. Ek hoop dis vir lesers ook so. Solank die menseras moet voortplant, sal vroue vorentoe beur in verhoudings, so glo ek, binne die konstruksies wat daargestel word om dit te beveilig. Helaas.”

Hoe keer ’n skrywer dat hy/sy nie ’n verhaal dwing nie?

“Jy los hom en stap eers weg. Hy’s nie reg vir jou of jy vir hom nie; soos met manvat.”

En die slot van die laaste verhaal (én die bundel): gedagtes wat oorspoel in dialoog, woorde. ’n Ander werklikheid?

“Ja, ek het nie ’n keuse nie; van nou af moet 'elke slot ’n weerbegin (wees)'.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top