Nuwe Stories 2013-onderhoud: Helena Gunter

  • 0

Hoe het jy begin (kortverhale) skryf – van waar die inspirasie? Wat was jou eerste gepubliseerde storie en waar het dié verskyn?

Die omgewing inspireer my. Vandat ek kan onthou was dit so – die begeerte om myself op ‘n afstand te plaas en gebeure dan kommentariërend te rapporteer, nie veel anders as wat ‘n eiewys skinderbek maak nie. Dis veral die “klein” vroulike lewe teen die groter magstrukture en sisteme, hoe hulle daardeur stuur en dit oorleef, wat my interesseer.

My eerste verhaal is gedurende die tagtigerjare onder ‘n pseudoniem in Die Landbouweekblad gepubliseer.

Hoe sien die literêre landskap vandag daar uit wat kortverhale aanbetref? Wat het verander sedert jou dae as jong of aspirantskrywer?

Internasionaal is die kortverhaal nie net baie gewild nie, maar word dit hoog aangeskryf. In Afrikaans kom ek onder die indruk dat die meerderheid lesers eerder ‘n “lang storie” verkies. Dog, ek voel gevlei deur wié my werk lees en hulle belewenis daarvan. Ongelukkig kan ek nie jubel oor hoevéél dit lees nie.

Wat verander het, is dat literatuur wat konfronterende onderwerpmateriaal bied, nie meer in skole voorgeskryf word nie; jongmense leer dus nie dié soort skrywers se werk ken nie; voorgeskewe werk neig na polities-korrekte stories wat nie sal “aanstoot gee” nie, of wat die “kohesie van die nasie” weerspieël; die nodige geskiedenis (van kolonialisme en apartheid) word nie fiksioneel ontgin sodat die kind dit op emosionele vlak kan beleef en kan verwerk nie.

Weens die waarde van idool-identifikasie dra die skrywer se persoon, sy selebriteitswaarde, meer gewig as sy werk – iets wat vervlakkend inwerk.

Hoe vergelyk die destydse publikasieproses met vandag se digitale omgewing?

Die digitale omgewing bied opwindende geleenthede. Persone wat wil skryf, kan makliker digitaal publiseer; dit bied geleentheid vir die beoefening en verfyning van die vakmanskap en dit skep ‘n profiel vir die skrywer waartoe baie meer mense toegang het.

Die beskikbare digitale ruimtes voorsien in die leemte wat ontstaan het vandat Afrikaanse tydskrifte nie meer so toeganklik is vir alle skrywers nie.

Voor die digitale era het manuskripte ook soms langer as ‘n jaar by uitgewershuise gelê voordat ‘n skrywer terugvoer gekry het, indien hoegenaamd.

Wat is vir jou die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei?

‘n Kortverhaal het gedrongenheid, dit fokus skerper op ‘n enkele (maar nie simplistiese nie) aspek. Ek hou van ‘n kortverhaal wat deur die gegewe (karakters, milieu, situasie, emosie, dramatiese verloop) ‘n argument voer wat tot ‘n slotsom (dikwels in die kop van die leser eers) lei.

Wat is die beste skryfraad wat jy ooit ontvang het, of die grootste slaggat wat skrywers (van kortverhale) moet vermy?

Gaan sit soggens voor jou rekenaar en werk; dis al hoe jy ‘n storie geskryf gaan kry. Moenie te kritiek-sensitief wees nie. Vertel jou storie vreesloos en in die styl wat vir jou gemaklik is. Daar gaan altyd kritici wees wat nie ordentlik lees of geïnteresseerd is in wát jy te sê het, of hóé jy dit sê nie. Jy skryf vir lesers wat wil lees hóé mense leef, nie vir literatore en hul strukturele vereistes of vir pryse nie.

Het jy enige mentors in die vorm van mens of boek (gehad)?

Uit alles wat ek lees, leer ek. Daarom, net omdat ek móét uitsonder …

Boekmentors in Afrikaans: Abraham de Vries en Petra Müller weens die aard en vernuf van hul kontreigegewe en die struktuur van die kortverhaal. Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden en Eben Venter weens hul woord- en beeldkunstenaarskap.

Mensmentors: Marlene van Niekerk was my studieleier vir my MA-graad in kreatiewe skryfkunde. Ek baat steeds by wat ek onder haar leiding geleer het. Ek en Dana Snyman korrespondeer gereeld oor ons werk; dis vir my van besonderse waarde, omdat ons dieselfde geskiedenis deurleef het, maar dit vanuit verskillende hoeke belig.

My grootste boekmentor is egter die Kanadese kortverhaalskrywer Alice Munro. In haar werk vind ek waarmee ek die gemaklikste is: die “klein” lewe teen die tafereel van ‘n spesifieke landelike en geskiedkundige agtergrond in die realistiese stylvorm. Haar vermoë om ‘n verhaal emosioneel te laai bly vir my ‘n ideaal om na te streef.

Wat is volgens jou die beste kortverhaal?

Die een wat vir my ‘n storie vertel wat ek onthou.

Hoe lyk jou eie skryfroetine/skryfgebooie?

Ek skryf ses uur per dag en vir twee uur, soms langer, lees ek ander mense se werk. Die tyd wanneer ek werk (dag of nag) wissel na gelang van wanneer ‘n gedagte vlamvat.

Skryfgebod 1: Skryf ‘n gedagte/beeld neer soos dit na jou kom; indien jy nie neerskryf nie, kan jy dit nie later herroep nie.

Skryfgebod 2: Vors feite-inhoud deeglik na.

Skryfgebod 3: Werk elke dag. Gaan sit soggens voor jou rekenaar en werk (soos enige mens!) vir ‘n sekere aantal ure.

Skryfgebod 4: Moenie wag vir ‘n muse wat jou sal besoek terwyl jy langs die see stap of in die maanskyn wandel nie. Daar is nie so iets nie. Sou daar so iets wees, verdien jy nie noodwendig ‘n besoek nie; dis die omgang met woorde, die nagevorste feite en jou verwerking daarvan wat ‘n storie genereer.

Skryfgebod 5: Gee aandag aan en reageer op kritiek wat die kreatiewe proses respekteer, wat die invalshoek en wat in die teks belê is, konsidereer; wees versigtig vir kritici wat vooropgestelde (strukturele en ideologiese) eise stel.

Klik hier vir Helen Gunter se profiel in die ATKV-Skrywersalbum.

Klik hier vir nog inligting oor die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013. 

Klik hier vir die kortlys.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter




Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top