Tweespoor deur Helena Gunter: ’n resensie

  • 0

Tweespoor
Helena Gunter
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485309291

In Helena Gunter se nuwe kort prosateks word ’n spesifieke Suid-Afrikaanse verlede – dié van die plaas –  teenoor die onstuimige hede gestel. Tweespoor is daarom in twee dele verdeel: dié van Tilla en haar gesin in die tyd van papierpoppe en Cream Soda-floats, en dié van ’n wit, middeljarige vrou wat haar plek in die hede probeer vind.

In die eerste deel probeer die Ferreiras nie net die uitdagings wat boerdery bied te bowe kom nie, maar ook dit wat binne gesinsopset gebeur. Die verhale, “Diefstal”, “Kapokeiers”, “Padkos” en “Ons diamant”, is ietwat langer en meer gedetailleerd as dié van die tradisionele kortverhaal, daarom kan mens dit eerder kort prosatekste noem.

Dit word gou duidelik dat die plaaslewe allesbehalwe idillies is, veral teen die apartheidsdoek. Daarby word temas soos seksuele misbruik, ’n minder as bevredigende huweliksverhouding, ’n ouer se ineenstorting en lyfstraf terselfdertyd ontgin. Ná die lees van hierdie afdeling vra jy: Hoe bevoordeel was dié bestaan – ja, dit was nie lééf nie – werklik?

Die tweede “spoor” van die bundel, “Angelus Novus Africanus”, verwys na Angelus Novus, Paul Klee se skildery wat ook deur die bundeltitel en voorblad weerspieël word. Die skildery én die bundeltitel verwys na die verlede, asook  die “storm” van die hede. Waarskynlik ook na die tweeledige struktuur van die bundel.

Fransina, ’n wit middeljarige vrou, se uitsigloosheid word in hierdie afdeling belig. Sy beskou haarself as “’n gas in Afrika. Een aan wie die misdade van haar voorvaders besoek word”. Fransina pas dus nie in nie, veral wat ouderdom en kultuur betref. Sy probeer sin maak van hedendaagse werklikhede soos geweld, en vra ook: Wat sê die spontane seks met ’n vreemdeling van my? En ook my huweliksverhouding?

Fransina se susters bevraagteken haar politieke en ander sieninge en wil haar ’n bepaalde etiket omhang. ’n Gebrek aan aanvaarding, trauma, depressie en selfdoodgedagtes noop haar om ander ruimtes te verken. Maar lê die antwoord werklik in wegkom, of selfs wegvlug?

Gunter se werk is toeganklik, maar daag die leser terselfdertyd uit. Dis ’n skop teen die kop wat jou dwing om anders kyk. Tweespoor is eerlik en rou. Dae (dalk maande) ná die lees daarvan bly jou gedagtestroom na ongemaklike plekke vloei.

Die swaar gegewe word toepaslik met spatsels humor afgewissel. ’n Man wie se een been korter as die ander is, word byvoorbeeld oom Trapinniegaatjie genoem. 

Die karakters kom inderdaad in hul volle glorie – voorkoms, ontnugtering, foute en al – voor jou te staan. Fransina verteenwoordig en verwoord waarskynlik dit waarmee vele lesers kan identifiseer. Dis ook sy wat vra: Is daar nog plek vir die wit Afrikaner – veral diegene wat in die vyftigs gebore is – in Afrika? Indien wel, hoe moet jy aanpas en ook meehelp tot positiewe verandering?

Die hantering van die milieu verdien vermelding. Dit begogel die sintuie: jy sien, ruik, beleef en voel saam met die karakters. Die atmosfeer – wat jou dikwels met afgryse vervul – dra tot die spanningslyn by. Soos hier: “Sy wag tot haar oë gewoond raak aan die skemerte. Dit ruik na olie en rubberbande. Nes in hulle waenhuis wanneer die trekker se olie afgetap word.”    

Die “Angelus Novus Africanus”-deel van die bundel herinner soms aan ’n drama, soveel dialoog is daar. Fransina, die hoofkarakter, spel daarom dikwels haar denke uit, pleks van om dit te toon (of te “wys”). Hierdie eienskap herinner ook in ’n mate aan die rubriekvorm, eerder as aan tradisionele kortkuns. Soms is dit selfs asof die skrywer vir die leser wil sê wat om te dink.

Hoewel die verhale meestal enkelwoordtitels soos “Diefstal” of “Padkos” het, en dit inderdaad opsom waaroor elkeen op eerste vlak handel, kon die titels dalk meer opwindend gewees het. Neem “Landmyn” as voorbeeld. Hierdie verhaal handel oor die buite-egtelike verhouding van ’n vrou wat haar in ’n minder bevredigende huweliksverhouding bevind. Sou die ironiese “Vir ’n bietjie teerheid” (aangehaal uit die teks) nie dalk meer treffend gewees het nie? Jy kan tog agterkom dat die karakter (en ook die land) haar op “landmyn”-grond bevind.  

Gunter se skryfstyl is gestroop. Dit wat juis nie gesê word nie, sê so baie. Neem hierdie sin as voorbeeld: “As die hele nasie oortrokke is, hoekom sal sy hou by haar reël om nie skuld aan te gaan nie?”

Gunter wend taal vernuftig en beeldryk aan, soos wanneer sy skryf dat “witmenssake ... in ligte laaie woed”. Dis asof elke woord met ’n haartangetjie uitgesoek is. Die “alledaagse” word inderdaad buitengewoon aangebied. Net dít maak reeds hierdie bundel die moeite werd.

Soos Rachelle Greeff, is Gunter bekend vir slotsinne wat jou laat double declutch. Hier gebeur dit egter nie elke keer nie: “Op jou blinkvosperd dan, Fransina, besluit sy en staan nader aan Johan, neem sy hand en glimlag na hom toe” kon sterker gewees het.  

Die naskrif is ’n toepaslike samevatting van die bundel. Dis verrassend en skerp.

Tweespoor sluit aan by die skrywer se bekroonde debuutbundel, Op ’n plaas in Afrika, en haar tweede, Met koffer en kaart. Gunter se bedrieglike fluistering aan die een kant, en haar harde en duidelike stem aan die ander kant, verdien beslis ’n plek binne die literêre wêreld. Hier, en waarskynlik ook internasionaal.      

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top