’n Seksuele krisis op die plaas: Helena Gunter se Op ’n plaas in Afrika

  • 0

Op ’n plaas in Afrika
Helena Gunter
ISBN: 9780798148382
Uitgewer: Human en Rousseau

Klik hier en koop Op 'n plaas in Afrika by Kalahari.net

In 2007 het daar ’n hele paar sterk prosawerke van debutante in Afrikaans verskyn. Ek wil dit selfs waag om te sê dat die debutante verlede jaar van die beste prosawerke gepubliseer het en stof in die oë van meer ervare skrywers geskop het. Een van hierdie nuwelinge is Helena Gunter, wat vorendag gekom het met ’n werklik indrukwekkende kortverhaalbundel, Op ’n plaas in Afrika. Die meeste kwessies waaroor Gunter skryf, is weliswaar al vantevore in die Afrikaanse prosa onder woorde gebring – Op ’n plaas in Afrika is dus nie werklik besonder vernuwend nie – maar dit doen nie afbreuk aan die feit dat Gunter ’n debuut van voortreflike gehalte gelewer het nie.

Die bundel sluit alreeds met die titel doelbewus aan by die lang tradisie van die plaasliteratuur in Afrikaans en dit is verder opvallend dat situasies wat te make het met ’n gekwelde seksualiteit feitlik in elke verhaal verantwoordelik is vir die krisis waaromheen die verhaalgebeure wentel. Die ouer Afrikaanse plaasroman is gekenmerk deur die aanwesigheid van ’n stoere vaderfiguur, die boer, wat sy patriargale waardes op sy gesin en sy werkers afdwing. Die norme wat vir die ouer plaastekste gegeld het, is egter hersien; soos wat sosio-ekonomiese verskuiwings in die Suid-Afrikaanse samelewing plaasgevind het, en sedert Etienne Leroux met sy Sewe dae by die Silbersteins (1962) die genre van die plaasroman losgeskud het, het ’n hele reeks tekste gevolg wat ook bevraagteken en uitdaag. Dit is by hierdie tradisie van uitdagende plaastekste dat Helena Gunter se verhale aansluit.

In die openingsverhaal, “Agter die groen deur”, word die plaasgegewe en kwessies rondom seksualiteit met mekaar verknoop om ’n aangrypende verhaal tot stand te bring. Die gegewe van ’n bruin dogtertjie wat in die apartheidsperiode deur wit mense op ’n plaas in die Suid-Kaap grootgemaak word, herinner in baie opsigte aan Agaat van Marlene van Niekerk. Gunter het trouens haar bundel onder die leiding van Van Niekerk voltooi as deel van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk.

Dit is vernuftig van Gunter dat “Agter die groen deur” as openingsverhaal ook in gesprek tree met minstens twee ander verhale in die bundel. Dit is as ’t ware ’n gepaste aankondiging van wat in die res van die bundel gaan volg. “Die haarsny”, maar veral ook “Tweespoor”, die verhaal van die dogtertjie Reana wat deur haar musiekonderwyser betas word, word naamlik ook gewy aan kindermolestering, en die titelverhaal is ’n verkenning van seks en liefde oor die kleurgrens heen, ’n tema wat ook in die openingsverhaal aangeraak word.

Vir die oplettende leser is dit vroeg in “Agter die groen deur” duidelik dat alles nie pluis is op Ouma Elizabeth se plaas waar Klimmeidjie gereeld moes gaan kuier het nie:

Ouma Elizabeth het gereeld ’n geleentheid gestuur om Klimmeidjie te laat haal. Hulle het glo net te veel verlang na haar. Wanneer Klimmeidjie dit gehoor het, het sy op haar bed gaan sit, op haar hande en by die venster uitgekyk tot by die dipgat. Sy wou nie speel nie. Ek het gesoebat om saam te gaan vir ’n kuier anderkant die berg, maar Ma wou niks weet nie (p 14).

Vanuit ’n agternaperspektief kan ’n mens baie aflees uit hierdie paar sinne. Die rede waarom Ouma Elizabeth so na Klimmeidjie verlang het, is waarskynlik dat sy die kind, in werklikheid die buite-egtelike dogter van haar man, van ’n verdrinkingsdood gered het en vir ’n paar jaar by haar aan huis grootgemaak het. Klimmeidjie se strak liggaamshouding en weiering om te speel is uiteraard te wyte aan die seksuele molestering wat sy van haar verstandelik gestremde wit halfbroer, Oom Boet, op Ouma Elizabeth se plaas moes verduur. En, betekenisvol genoeg, Betta se versoek om ook op haar ouma se plaas te gaan kuier, word volstrek geweier – moontlik ’n suggestie dat Betta se ma net soos haar ouma geweet het dat Oom Boet vir Klimmeidjie molesteer, ’n situasie waarteen hulle vir Betta, hulle wit oogappel, wou beskerm.

Klimmeidjie se besluit om haar eie dogter ook te verdrink is ’n besliste skakel met haar eie ma se poging om haar as baba te laat verdrink. Juis daar waar haar ma misluk het, wil Klimmeidjie haar ma se wil nou deurvoer. Met die verdrinking van haar eie babadogtertjie wil Klimmeidjie te kenne gee dat dit beter sou gewees het indien haar ma daarin geslaag het om haar destyds as baba te verdrink. Dit is ontstellend dat Klimmeidjie in werklikheid wil suggereer dat sy spyt is dat sy haar ma se moordpoging oorleef het. As ’n gemolesteerde kind is daar by haar klaarblyklik geen vertroue in die lewe nie, net soos in die geval van Reana in “Tweespoor” wat uiteindelik besluit om ’n aborsie te ondergaan.

Danksy die tussenkoms van Betta se ouers is die moordklagte teen Klimmeidjie laat vaar. Hierdie klaarblyklike manipulasie van die gereg deur invloedryke wit mense vind ’n mens ook in ’n ander verhaal in die bundel oor seksuele geweld, naamlik in “Langs die Breede”. Die welvarende Malherbes slaag daarin om hulle misbaksel van ’n seun, Arnold, by herhaling van vervolging deur die gereg te vrywaar, selfs al is dit feitlik seker dat hy sy vriendin Annabelle verkrag en vermoor het. Na Arnold se uiteindelike dood merk een van die karakters op: “Polieste sal spyt wees; het hulle seker reggemaak om nog jare lank Malherbe-skap te eet” (p 43).

Die manipulasie van reg en geregtigheid word in hierdie twee verhale in die verbygaan genoem, maar dek as ’t ware die tafel vir die titelverhaal, waar ’n lang geskiedenis van onreg uitloop op ’n vergeldingsaksie in die vorm van ’n plaasaanval. Die bruin man Karel beweer in “Op ’n plaas in Afrika” dat sy voorgeslagte lank voor die koms van die wit mense reeds op die plaas Drie Brugge gewoon het: “Ek kan die skaapwagtersboom op hierdie plaas uitwys waar mý mense huis gemaak het, lank voor die witman geweet het van ’n plek soos Akoerabis!” (p 93). Die belofte van Karel se wit jeugvriend en homoseksuele minnaar, Walter, om die plaas saam met hom op ’n gelykevennootskapsbasis te bestuur, word nooit ’n werklikheid nie. Net soos vir die patriarge in die ouer plaasliteratuur word dit vir Walter ’n saak van groot belang om sy grond aan ’n nageslag oor te dra. Wanneer Walter oor sy plaas uitkyk, lees ’n mens dat hy bestek opneem van alles “waarvan hy nou die derdegeslag-eienaar is. Bewyse van hoeveel jaar se arbeid, beplanning, organisasie, bedryf. En ja, hy wil dit nalaat vir iemand, aangee uit erkenning, vir ’n kind, sý kind” (p 89).

Anders as in die vroeër plaasliteratuur is die bruin werker in “Op ’n plaas in Afrika” egter nie ’n stilswyende teenwoordigheid nie. In Helena Gunter se plaasteks is die werker, Karel, bereid om wraak te neem oor die wit baas se dubbele verraad. Aan die een kant neem Karel vir Walter kwalik dat hy met sy huwelik afbreuk gedoen het aan hulle voortgesette liefdesverhouding; aan die ander kant voel hy verontreg omdat Walter nie sy beloftes oor gedeelte grondeienaarskap van Drie Brugge nagekom het nie. Uiteindelik sweer Karel saam met ’n bende plaasaanvallers en ’n aanslag op Walter en sy swanger vrou se lewens volg. Walter oorleef die plaasaanval, maar die woorde van die aanvallers bly hom by: “White pig. Settler. Karel’s white fuck. Traitor. Land thief. Is dit wat hy is – hier op ’n plaas in Afrika?” (p 103).

Die onbetwiste grondbesit van die wit boer in die ouer plaasliteratuur word hier geproblematiseer en gesitueer binne die werklikheid van die eietydse Suid-Afrika waar grondeise en plaasaanvalle gereeld die openbare debat oorheers. Die titel van die verhaal (en die bundel) verwys terug na die Deense skryfster Karen Blixen se woorde: “I had a farm in Africa”. Dit is die woorde van ’n Europeër wat in die koloniale periode slegs tydelik in Afrika vertoef het en is uiteraard nie die woorde van ’n Afrikaner wie se voorgeslagte al eeue lank in Afrika woon nie. Hierdie woorde pas eerder by die afstandelike perspektief van die Duitse toeriste wat Drie Brugge as deel van ’n toer besoek.

In die slot word die perspektief van die wit toeris, soos vasgevang in die titel, en ook die woorde van die plaasaanvallers, deel van Walter se selfondersoek wanneer hy besin oor die legitimiteit van sy aansprake op ’n bestaan as boer en grondeienaar in Suid-Afrika.

Op die oog af het Helena Gunter ’n onoorspronklike titel vir haar bundel gekies, maar na die lees van die titelverhaal besef die leser dat sy dit allermins met die romantiserende bedoelinge van ’n Karen Blixen gekies het. Haar verhaal is ’n ernstige en ontstellende besinning oor die plek en toekomsvooruitsigte van wit mense as volwaardige burgers van Suid-Afrika.

Die taalgebruik in Op ’n plaas in Afrika is verfrissend suiwer en aanskoulik – moontlik omdat die plattelandse omgewing waarin die verhale gesitueer is, noodwendig vra vir stilistiese keuses uit die ouer en suiwerder woordeskat van Afrikaans. In die voorlaaste verhaal in die bundel, “Herfsdae in April”, wat nie in die plaasomgewing afspeel nie, is daar wel karakters (meestal jonger mense) en beskrywings wat met behulp van Engelse uitdrukkings weergegee word. Die depressielyer in “Herfsdae in April” kom byvoorbeeld tydens haar wandeling ’n student teë wat uitroep: “Ek, Johan K. de Boer, het actually in ’n shack geslaap” (p 137). (Nogal ironies dat hierdie taalvermenger De Boer heet!) As die vrou haar begewe na die Engels-gedomineerde wêreld van kitskosrestaurante, word die valse reklametaal van Steers vanuit ’n ironiserende perspektief weergegee: “Die koninklike burgers kry hul lê in skuimplastiek. Dit alles in die well-appointed kitchens where the most important ingredients are impeccable cleanliness and an obsession with hygiene” (p 134). Die Engels word hier gebruik om die hoofkarakter se renons in die onegte reklametaal voor te stel, maar dit vorm ook deel van haar meer oorkoepelende vervreemding van haar omgewing – as depressielyer is sy byvoorbeeld steeds nie daartoe in staat om te aanvaar dat haar man reeds ’n jaar vantevore oorlede is nie.

Helena Gunter verkies klaarblyklik om langer verhale te skryf. Af en toe kry ’n mens die indruk dat sy soms te veel gegewens in een verhaal wil opneem en dat haar verhale selfs geslaagder sou gewees het indien sy die gegewens binne die breër opset van ’n roman kon uitwerk. Haar tydsame verteltrant en aandag vir detail skep beslis die indruk dat sy ook as romanskrywer sukses sal kan behaal.

Op ’n plaas in Afrika is ’n pragdebuut wat lesers terugvoer na die verlede, maar ook uitdagende vrae oor die hede en die toekoms stel. Die ondersoekende leser sal aanklank vind by Helena Gunter se deurdringende ondersoek na die brandpunte in die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing, spesifiek die ontstellende omvang van kindermolestering en die tergende grondkwessie.

Andries Visagie, Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top