Haas en Harriët deur Susan Coetzer: ’n resensie

  • 0

Titel: Haas en Harriët
Skrywer: Susan Coetzer
Uitgewer: Human & Rousseau, 2024
ISBN: 9780798183741
Epub ISBN: 9780798183758

Die stofomslag het ’n foto van ’n klein dogtertjie wat seepbelle jaag. Die lig maak die mooiste patrone deur die belle en omsoom haar lyfie met goud. Die toonbeeld van kinderlike geluk. Daar is ook die woorde dat dit ’n roman is oor ma’s en dogters. Jy het my aandag – ek en my ma het ’n wonderlike verhouding gehad.

Die agterblad bied net genoeg om jou belangstelling te prikkel:

“’n Hartroerende roman oor onvolmaakte ouerskap: twee ma’s probeer hul bes doen vir hul kinders, maar albei maak foute en die wêreld daar buite is soms ongenaakbaar.

“Mila Verster is ’n suksesvolle entrepreneur met twee haarsalonne in Gauteng. In haar vyftigs. Haar dogter, Tami, word eersdaags agtien, en Mila is reg vir ’n nuwe hoofstuk. Sy gaan inskryf vir haar PhD en daarna op ’n lang vakansie gaan.

“Dis ook tyd dat sy en Conrad gesels. Vandat haar man se buitelandse kontrak op die olietuie beëindig is en hulle permanent onder dieselfde dak woon, besef sy opnuut hoe min hulle met mekaar gemeen het. En dan is Harriët, haar ma, ook besig om aan haar te karring om saam met Tami op die familieplaas te kom kuier – veertien jaar nadat Mila alle kontak met haar ma en broer, Fanie, verbreek het…

“Wanneer Tami een middag spoorloos verdwyn, word Mila genoop om die sluier oor die verlede te lig, die gebeure te herbesoek en te ontrafel. Maar al genees tyd sommige wonde, bly die letsels rou en die pad na vergifnis kom teen ’n prys.”

........
Ek weet van onvolmaakte ma-en-dogter-verhoudings; argumente, toegeklapte deure en stilstuipes. Van streng reëls en meningsverskille. Maar ek weet ook van die mooi en spesiale band tussen ma en dogter en hoe baie ek my ma mis.
........

Ek weet van onvolmaakte ma-en-dogter-verhoudings; argumente, toegeklapte deure en stilstuipes. Van streng reëls en meningsverskille. Maar ek weet ook van die mooi en spesiale band tussen ma en dogter en hoe baie ek my ma mis.

Ek het nog nie voorheen een van Susan se boeke gelees nie, hoewel ek baie respek het vir haar skryfwerk in tydskrifte en op ander platforms. Haar Afrikaans sing poëties en dit was lekker om met die boek op ’n leesreis te gaan. Hier en daar was klein jakkalsies wat gekrap het, maar oor die algemeen was ek ywerig om by die boek te kom en my in die storie te verdiep.

Die onheilspellende ondertoon van die boek kom sit egter vroeg-vroeg op die krop van jou maag, hoewel die skrywer aanvanklik nie veel verklap nie. Daar is aspekte van grootword in die sewentigs op klein dorpies, wat só by my aanklank gevind het. Die lang, uitgerekte somerdae waar jy wens die tyd wil vinniger omgaan na iets lekkerder toe; die dameskroeë waar net grootmense kon ingaan en kinders buite melkskommels of koeldrank kon geniet, sonder ouertoesig, want dit was “veilig”.

........
Die onheilspellende ondertoon van die boek kom sit egter vroeg-vroeg op die krop van jou maag, hoewel die skrywer aanvanklik nie veel verklap nie.
........

Daar was ook die onverwagte egskeidings en buite-egtelike verhoudings van maatjies se ouers, hier en daar ’n motorongeluk wat ’n jong pa of ma se lewe geëis het – alles deel van die grootwordjare. Ek onthou die gefluister agter gebakte hande oor wie met wie se man of vrou gelol het en een of twee maal waar kinders die teikens van vroetelende ooms was.

Dit neem ook ’n hele paar hoofstukke voor ek kon uitwerk hoekom Harriët besluit het op haar twee kinders se byname: Hasie Kalbassie en Aapstert.

Deurgaans is jou simpatie by Hasie. Haar ma se oorlewingstryd speel vir my tweede viool en jy is veroordelend oor Harriët, wat van een man na die volgende rondval en klaarblyklik meer aan haarself as haar kinders dink. Ek dink sy misluk jammerlik as ma – bloot omdat sy nie genoeg omgee nie. Ja, sy vertel kinderstories en lees boekies en leer vir Hasie en vertel haar hoe spesiaal sy is, maar sy beskerm haar nie werklik teen die aanslae van die lewe nie.

Dan slaan die werklikheid van Hasie se grootword jou: Hoofstuk na hoofstuk word jy verder afgetrek saam met die eensame reis waarop Hasie gaan. Die grootmense in haar lewe wat na haar moet omsien, misbruik én laat haar in die steek op verskeie maniere; almal so skuldig soos die volgende een, al wissel hul gruwels van mens tot mens.

Niks kan jou voorberei op die seer wat Hasie moet verduur nie. Ek het die boek verskeie male eenkant toe geskuif. Nie bereid om myself verder bloot te stel aan die seer nie. Maar tog hopende dat daar ’n uitkoms sal wees; ’n nuwe begin vir Hasie.

Met ’n paar hoofstukke oor, gee ek heeltemal moed op. Ek kan nie meer lees nie.

Laatmiddag gesels ek heel toevallig met ’n kollega wat sigbaar in skok is. Baie goeie vriende se dogter het pas ’n saak teen haar stiefpa gaan maak, omdat hy haar al vir jare mishandel. Erg genoeg. Maar toe die groter skok: Die ma kies kant teen haar dogter “wat net aandag soek” en skaar haar by haar man.

Dit word ook duidelik dat die dogter oor die jare verskeie male by haar ma gaan kla het oor haar stiefpa se gedrag, maar elke keer moes hoor sy lieg. Die dogter het uiteindelik by ’n juffrou ’n simpatieke oor gekry. Haar lewe is verwoes, maar iemand glo nou in haar.

........
Ek besef dat ek die boek moet klaar lees, want hierdie goed gebeur. Elke dag. Dalk in die huis langs jou; dalk in jou vriendekring.
........

Ek besef dat ek die boek moet klaar lees, want hierdie goed gebeur. Elke dag. Dalk in die huis langs jou; dalk in jou vriendekring.

Ek begin weer lees.

Haas en Harriët ondergaan ’n groot ommeswaai na die einde toe. Daar is trane en vergifnis en nuwe beginne.

Maar hier verloor die boek vir my sy geloofwaardigheid. Kan een mens vir vyf dekades ’n slagoffer wees en dan binne enkele dae en daaropvolgende maande die maanskyn en rose begin ervaar?

Dit voel aanvanklik amper asof Hasie om verskoning moet vra vir die onreg wat haar aangedoen is, nie andersom nie.

Kan vergifnis só vinnig en só diep gebeur?

Miskien moes daar nog ’n paar hoofstukke gewees het waar die ontknoping meer realisties kon wees. Waar die vergifnis ’n dieper reis is en oor meer bladsye kon strek. Dat daar ewewig is met die gruwels van verskeie hoofstukke.

Ek staan verdeeld oor die boek. Dis uitstekende taalgebruik; dis boeiend; die onderwerpe is tersaaklik. Maar dit voel nie soos fiksie nie, eerder soos ’n baie lang nuusberig of dokumentêr – waarvoor ek nie toestemming gegee het nie.

Die boek spook by my. En ek sit op die draad. Maar dat dit nie ontspannende leesstof is vir stranddae nie, is gewis.

Lees ook:

Selma en Louise deur Susan Coetzer: ’n resensie

FMR-resensie: Donkertyd. My naam is Tina deur Mariël le Roux

Donkertyd: My naam is Tina deur Mariël le Roux: ’n resensie

Gebooie deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

Al wat tel deur Irma Venter: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top