Titel: Al wat tel
Skrywer: Irma Venter
Uitgewer: Tafelberg (April 2024)
ISBN: 9780624094838
ePub-ISBN: 9780624094845
Geldwassery, staatskaping en moord nuutste avontuur in Ami Prinsloo-reeks
Thuli Madonsela twiet op 31 Mei dat pres Ramaphosa swaar besluite moet neem na afloop van die verkiesing en voor koalisiegesprekke, en dat sy hoop die keuse is nie om staatskapers met geen respek vir die wet terug te bring nie. “Die land kan dit nie bekostig nie.”
Sy was immers die openbare beskermer wat in 2016 die ondersoek na staatskaping van stapel gestuur het wat uiteindelik tot die Zondo-kommissie gelei het. Staatskaping binne verskeie staatsdepartemente en ondernemings in staatsbesit onder die presidentskap Jacob Zuma is oor en oor bewys, nadat bykans 300 getuies voor die kommissie getuig het. Die kommissie het die land egter R1 miljard gekos, en dis natuurlik al die miljarde wat weens staatskaping gesteel is, buite rekening gelaat. Korrupte politici en sakemanne het ons land verarm, en boonop het sommige mense wat dit gewaag het om die fluitjie te blaas, hul lewens verloor.
Hoe goed pas dit in by die tema van Al wat tel, Irma Venter se derde boek in die krimireeks met die voormalige Olimpiese swemmer, Ami Prinsloo, wat nou ’n gedugte ondersoekende joernalis is vir Nuus360.
........
Die boek volg op Minder as niks en Die verkeerde vrou, waarin die leser Ami en haar geskiedenis baie goed leer ken, maar kan ook alleen gelees word, want daar is ’n goue draadjie wat haar persoonlike lewe verklap, maar nie met die storie inmeng nie.
........
Die boek volg op Minder as niks en Die verkeerde vrou, waarin die leser Ami en haar geskiedenis baie goed leer ken, maar kan ook alleen gelees word, want daar is ’n goue draadjie wat haar persoonlike lewe verklap, maar nie met die storie inmeng nie. Ami worstel steeds met haar verlede, haar verslawing en om die moord op haar suster te verwerk, maar sy bly gefokus en toegewyd tot die waarheid.
Kom ons kyk eers na die beskrywing op die agterblad:
Toe Ami hoor dat ’n man voor haar gim geskiet is, weet sy daar is moeilikheid. En die feit dat die Valke op die toneel is, sê vir haar nog iets: Die man was belangrik. Was dit ’n sluipmoord? Wie is die jong blonde vrou wat saam met die slagoffer was? En wat is dit wat die speurder by die misdaadtoneel optel en in sy sak druk? Voor Ami hierdie raaisels kan oplos, kruis haar pad met dié van ’n Duitse joernalis, Marc Göttler. Hy ondersoek bewerings van ’n ontstellende voorval in Mosambiek, ’n paar kilometer anderkant die grens van Suid-Afrika. Is daar werklik ’n verband tussen die twee stories, soos Göttler vermoed? Die enigste oplossing is om die pad te vat, die wildernis in, waar Ami gedwing sal word om uit te vind wat vir haar die meeste saak maak.
Irma vertel in die erkennings dat die boek deels geïnspireer is deur stories wat nou en dan opduik oor waar die voormalige Libiese leier, Muammar Gaddafi, sy rykdom versteek het, met Suid-Afrika wat soms deel vorm van hierdie ketting van gerugte.
Dis egter die staatskaping, geldwassery en een van die mense wie se name in die Zondo-kommissie opgeduik het, die nagklubeienaar, Gunston Chiwara, wat Ami aanvanklik dieper laat grawe.
Die sakeman Roger Brooks en sy seun is toe baie dieper betrokke by die geldwassery en moord as wat sy ooit kon gedroom het. En waar pas sy derde vrou en die blonde vrou aan sy sy by die gim in? Daar is kinkels en hekkies om te oorbrug, maar danksy die hulp van ’n man vir wie Ami gevoelens ontwikkel, en sy kuberkrakersuster, onthul al die skelms se saketransaksies (sommige so eenvoudig soos kitskosaflewerings) meer as wat hulle wou verklap.
Wat ek aan Irma se boeke geniet, is haar deeglikheid – nie net hoeveel navorsing sy doen nie, maar ook hoe sy, sonder om prekerig te wees, begrippe soos die donker web en geldwassery verduidelik, asook beskryf hoe groepe kuberkrakers skuldiges se (oënskynlik onskuldige) inligting laat lek wat groot misdaadskringe uiteindelik aan die pen laat ry.
.......
Ek wil my verstout om te sê dat benewens die leesgenoet van ’n krimiroman, sy ook haar lesers ongemerk inlig oor presies watter booshede in die land én wêreld aangaan en dat Suid-Afrika allermins ’n eiland is – veral wanneer groot misdadigers speelplek soek.
.......
Ek wil my verstout om te sê dat benewens die leesgenoet van ’n krimiroman, sy ook haar lesers ongemerk inlig oor presies watter booshede in die land én wêreld aangaan en dat Suid-Afrika allermins ’n eiland is – veral wanneer groot misdadigers speelplek soek.
Irma het verlede jaar die ATKV-Woordveertjie in die kategorie spanningslektuur, een van die vinnig groeiendste en gewildste genres in Afrikaans, ingepalm vir Die verkeerde vrou.
Die beoordeelaars, Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen, het gesê: “Ami Prinsloo as hoofkarakter is uiters geloofwaardig en verteenwoordig etiese ouskool joernalistieke waardes, wat die leser nog meer van haar laat hou. Dis verfrissend om kriminele gebeure vanuit ’n joernalis se oogpunt te ervaar. Uiteenlopende gebeure word met mekaar verbind vir ’n boeiende verhaal wat teen ’n vinnige tempo afspeel. Aktuele kwessies, soos polisieoptrede en mediadekking wanneer ’n bekende betrokke is, in teenstelling met wanneer dit ’n gewone lid van die publiek is, of ’n mens geregtig is op wraak, en of jy moet aanhou glo in die regstelsel, word aangeroer. Venter trek al die drade van die vele kinkels in die verhaal aan die einde vernuftig bymekaar.”
En dis presies hoe jy haar nuutste boek kan opsom. Mens raak amper half melankolies oor haar vasberadenheid en deeglikheid en die ondersteuning wat sy van haar redakteur en kollegas geniet. Met die stand van joernalistiek so treurig en oppervlakkig as wat dit tans is, wens ek daar was werklik ’n nuusspeler soos Nuus360 in ons mediamandjie. Daar is enkelinge wat grondverskuiwende joernalistiek beoefen in ons land, maar hulle bly maar in die minderheid.
Lees ook:
Kommentaar
Het eerste 2 boeke reeds gelees. Ongelooflik goed geskryf!
"Al wat tel" reeds gekoop.
Kan nie wag om te begin lees nie!