Titel: Al wat tel
Skrywer: Irma Venter
ISBN: 9780624094838
Uitgewer: Tafelberg
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.
Irma Venter se nuutste krimi Al wat tel begin met ’n sterk seksuele spanningslyn wat slegs deur ’n sterker misdaadstorie oortref word.
Die telefoonoproep van kaptein Dennis Kgomotso kom net betyds.
Toe Ami by die misdaadtoneel aankom, weet sy dis nie ’n gewone misdaadtoneel nie. Want hoekom is die Valke daar? Sy staan op die rand van die toneel en neem soveel in as wat sy kan. Joernaliste is immers die minder welkome mense op ’n moordtoneel. Is dit een van die Rolex-moorde? Is dit ’n sluipmoord? Wie is die slagoffer? ’n Fotograaf wat van ’n gebou se dak foto’s neem, openbaar nog ’n paar leidrade. Wat het die speurder opgetel en in sy sak gedruk? Wie is hy?
Ami ontmoet die Duitse joernalis Marc Göttler. Nog ’n hele paar raaisels duik op. Buiten die sluipmoord, is daar nog ’n moord, geldwassery en ’n satelliet neem foto’s van gebeure in Mosambiek wat Marc dink verband hou met die moord.
Soos Ami die leidrade volg, raak die raaisel rondom Roger se moord groter. Die motief kan enige iets wees: jaloesie, geld of woede! Dit kan een van sy besigheidsvennote, sy minnares, sy derde vrou of sy seun wees.
Ami gaan saam met Marc Noord-Kaap en daarna Mosambiek toe. Hulle maak ’n grusame ontdekking in Mosambiek en Ami en Marc moet vlug vir hul lewens. Wat maak dat Ami so onverskrokke en vreesloos optree?
Met hulp van buite word nog ’n paar leidrade aanmekaar verbind en geleidelik word die groter prentjie openbaar. Dis verrassend, glo my!
My gunsteling-aanhaling in die boek is: “Dis nie my werk om mense te kry om my te like nie. Ek moet net seker maak dat almal se stories gehoor word. Dis al wat tel” (bl 355).
Wie het die weddenskap gewen? Ami of Geo? Is die een se wen die ander se verloor? Jy sal Al wat tel blitsig in die hande moet kry as jy wil weet.
Ek het slegs vier van Irma se S-reeks gelees – Skoenlapper, Sondebok, Sondag en Sewe-en-veertig. Vanaf haar debuut, Skoenlapper, is dit duidelik dat ons hier te doen het met ’n skrywer met insig en mensekennis. ’n Skrywer wat weet hoe om ’n spanningslyn op te bou wat die leser enduit boei. Die temas is nie sommer net lukraak uit die lug gegryp nie en word beslis geïnspireer deur werklike gebeure. Venter se deeglike navorsing gaan ook nie ongesiens verby nie. Die ontwikkeling van die sterk vroulike karakters in die S-reeks laat my baie uitsien na hoe Ami Prinsloo verder gaan ontwikkel.
Al wat tel volg op Minder as niks en Die verkeerde vrou. Elke boek kan losstaande gelees word, maar om Ami se eie storie beter te verstaan sal dit goed wees om by die eerste een te begin.
Ek was onlangs by Exclusive Books in Tygervallei by die boekgesprek tussen Susan Booyens en Irma Venter. Dit was interessant op sigself en ek reken Irma sal selfs haar hand kan waag aan ’n humoristiese boek met haar pittige humorsin. Dit was beslis lekker om te hoor dat Irma alreeds besig is met die vierde Ami Prinsloo-boek en ek wag in spanning om veral te lees oor wanneer Ami en Geo hulle vriendskap verder gaan wat.