Selma en Louise deur Susan Coetzer: ’n resensie

  • 4

Selma en Louise
Susan Coetzer
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176569

Susan Coetzer is bekend vir haar Christelike romans. Haar boeke is al bemark as "Fiksie met ’n boodskap", maar Selma en Louise is deur ander resensente as chicklit beoordeel. As resensent het ek besluit om die chicklitboksie te ignoreer en die roman te beoordeel suiwer aan hand van die vereistes vir goeie skryfwerk. Dié vereistes sluit karakterisering, ruimtebeskrywing, plot en konflik in.

Selma-Suzette Barnard is ’n suksesvolle vrou met haar eie televisiereisprogram en toerbesigheid (sy neem klein groepe op reis). Sy woon in die welgestelde Saxonwold en rou oor haar man, Zander, wat vyf jaar vantevore oorlede is. Haar beste vriendin, Louise, woon in die Kaap. Selma is gesofistikeerd, skraal en sjiek. Louise is mollig en borrelend. Sy probeer verbete om Selma aan iemand voor te stel met die oog op ’n romantiese verhouding en kom dan vorendag met Theodor (Theo) Swanepoel, ’n sielkundige woonagtig in Kaapstad. Selma raak stelselmatig aan hom verknog. Ná die eerste paar tonele wou ek Selma aanmoedig om ver weg te hardloop van die simpel vent af: op Whatsapp verwys hy na homself as "die outjie" van die Kaap (hy is ongeveer vyftig jaar oud) wat "geldjies" moet maak.

Selma skop teen seks te vroeg in die verhouding, maar laat hom toe om agter haar rug te kom lê. Dit klink darem nie of haar ordentlikheid in gedrang is nie, want hy wil eers gaan stort en Bybel lees. Dit het nie vir my gerym nie, maar Selma is beïndruk met die feit dat hy so getrou by sy stiltetydprogram hou. Wat my egter meer gepla het, was Theo se kommerwekkende buierigheid. Hier is ’n grondige rede om rem te trap. Die feit dat hy agteraf na sy vroulike kliënte as "vet en middeljarig" verwys, is nog ’n rede om oor hom te wonder. Hy is tog ’n sielkundige, en iemand wat met mense se probleme werk behoort meer simpatiek te wees. Theo Swanepoel het my derhalwe nie oortuig as ’n romantiese proposisie nie en ek voel die skrywer kon meer subtiel met die karakter omgegaan het.

Die roman is redelik lywig, maar lees maklik. Die skrywer is oor die algemeen op haar stukke en haar humorsin is heerlik. Daar is ook pragtige beelde in die boek. Die klein Selma en Louise in hul feetjierokke en -vlerke in die maanlig op die plaas buite Moorreesburg is besonder helder geteken, en so ook die blomkranse wat by die Gangesrivier verkoop word.

Ongelukkig wemel dit van die vergelykings in die eerste helfte – die skrywer kon daaraan gesnoei het. Boonop werk sommige van die vergelykings nie: "Dis al weer die begin van ’n splinternuwe jaar en sy voel steeds gedisoriënteerd soos ’n kar wat sonder brandstof op ’n verlate pad gaan staan het" (21) en "Sy voel vandag weer soos ’n gekweste vy wat aan ’n draadjie aan ’n boom hang en enige oomblik gaan afval" (52).

Die vervreemding tussen Selma en haar kinders na Zander se dood word goed uitgebeeld. Dit herinner aan wat ’n sielkundige aan ’n vriend wie se volwasse kind oorlede is, gesê het: "Ons het X nou verloor; ons moet waak daarteen om mekaar te verloor." Dit is moontlik dat smart ’n mens so diep in ’n gat inruk dat jy nie meer na jou geliefdes kan uitreik nie. Coetzer beskryf dit met besondere aanvoeling.

Susan Coetzer | Foto: Phyllis Green

Wanneer Selma Indië toe gaan, is haar en Louise se vriendskap midde-in ’n krisis. In Indië aangekom, is Louise ook daar. Hier is die vergelykings wat my so gepla het heelwat minder en die skryfwerk vloei goed. Mohamed, hulle gids, neem hulle op ’n uitgebreide spirituele reis deur die tipiese Indië: van Mumbai, verby Nieu-Delhi na Agra en die Taj Mahal, na die toeristiese Goa, die pienk stad Jaipur tot by ’n asjram noord van Mumbai. Hulle beleef selfs die verassing van ’n liggaam op die heilige Ganges. Die skrywer noem in ’n LitNet-onderhoud dat sy nie in Indië was nie, maar indringende onderhoude met Indiërs gevoer het. Die tonele in Indië is oortuigend geskryf en ek kon sommige van Selma en Louise se ervarings aan my lyf voel. 

Deur die loop van die roman word talle geheime ontbloot en begin aspekte wat my aanvanklik gepla het, sin maak. Ek het probeer raai wat die grootste geheim en oplossing gaan wees en is aangenaam verras toe ek nie eers naastenby reg was nie.

Wat die titel betref,  is dit duidelik dat dit eerste gekom het, en die verhaal daarop gevolg het. Daar is nie veel ooreenkomste tussen die bekende film Thelma and Louise en die boek nie. Die mees opmerklike ooreenkoms is die feit dat die twee vroue beste vriende is. Thelma and Louise is ook hul gunstelingfliek.

Selma en Louise is ’n roman wat nie te veel eise aan die leser stel nie, alhoewel daar aspekte is wat wel om nabetragting vra: geweld teen vroue en die aard van vriendskap staan voorop. Ten spyte van hierdie ernstige temas is Selma en Louise ’n genotvolle leeservaring, ideaal vir ’n koue Sondagmiddag onder ’n warm kombers. Ek beveel dit aan vir moderne lesers van Afrikaanse chicklit en reisromans wat nie sal terugdeins vir ’n vloekwoord hier en daar, dwelmgebruik en enkele verwysings na ongebonde seks nie.

  • 4

Kommentaar

  • Jy skryf die volgende: Theo Swanepoel het my derhalwe nie oortuig as ’n romantiese proposisie nie en ek voel die skrywer kon meer subtiel met die karakter omgegaan het.

    Ek het ook so gevoel, maar wat as daar werklik so 'n bisarre karakter bestaan? Dis scary vir elke vrou (mens wat hom/haar ken) daar buite!

    Verder het ek lekker gelees aan die boek ... ek dink elke mens droom van so 'n wegbreek om jouself te vind. Ek weet ek doen.

  • Robbie Kruger

    Ek het die outeur by haar bespreking op Aardklop ontmoet. Ek het die boek aangekoop en onmiddellik die lywige boek begin lees. Plek-plek het ek merkies gemaak met die idee om later weer terug te kom daarna.
    Wat my as Christen gehinder het, was die geweldige oorbeklemtoning van die Hindu-gebruike en die oplossings wat werk wanneer jy hulle rituele begin toepas. Ek weet dat Selma beïnvloed is deur haar dogmatiese Calvinistiese opvoeding. Dit word een of twee maal in die boek genoem. Ja, dit is jammer dat sulke wanopvattings van die Christelike Lewenspad 'n mens se hele spiritualiteit kan beïnvloed.
    Die rit op die trein was kosbaar vir my, maar die gedeeltes waar die lyke oor die Ganges gebrand word, was onsmaaklik en ek kon nie sien hoe dit regtig tot die katarsis van die karakter bygedra het nie. Of was die 'as van Zander' die faktor?
    As man het ek die boek baie geniet en ek dink regtig dat dit 'n goeie boek is wat elke 'n vrou sal waardeer.

  • Marthe Engelbrecht

    Ek het die bespreking by Aardklop bygewoon en wou dadelik die boek koop, maar daar was soveel belangstellendes dat ek moed opgegee het. Nou soek ek die boek oral en kry hom nie in Potchefstroom nie. Wel aanhouer wen en ek sal hom wel iewers kry.

  • Hante Ferreira

    Ek het die boek baie geniet. Lees al haar boeke ... sy het vir my 'n besonderse lekker, lig en humoristiese skryfstyl.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top