Grond: die effek van die Groepsgebiedewet op klein dorpies in die Karoo

  • 13

Danie van Wyk

Een van die gesprekke wat verlede Saterdag as deel van ’n dag lange Jakes Gerwel-herdenkingsviering in Kaapstad aangebied is, het oor grond en geskiedenis gehandel. Die paneel het bestaan uit Andries du Toit van UWK se PLAAS-instituut (PLAAS staan vir Poverty, Land and Agrarian Studies) en Bill Nasson, geskiedkundige van die Universiteit Stellenbosch; die gespreksleier was Henry Jeffreys, onafhanklike politieke kommentator en voormalige redakteur van Die Burger.

Dit het my weer eens getref dat wanneer daar oor “grond en geskiedenis” gepraat word, die fokus gewoonlik op die 1913 Land Act is, waarkragtens swart mense hul tradisionele grond verloor het. Wanneer daar oor stedelike onteiening gepraat word, ’n gevolg van die Groepsgebiedewet, word gebiede soos Distrik Ses voorgehou as voorbeelde van die vernietiging wat deur die wet meegebring is.

Weinig word daar egter gepraat oor die effek van die wet op klein dorpies in die Karoo, waar ek gebore is en grootgeword het. Nóg ’n aspek wat oorgeblaai word, is die rol van kerke in hierdie sensitiewe historiese saak – en hier verwys ek spesifiek na die ou NG Sendingkerk (vandag die Verenigende Gereformeerde Kerk of VGK).

Dit is jammer dat daar nog nie indringende navorsing gedoen is oor watter rampspoedige gevolge die Groepsgebiedewet op bruin gemeenskappe in daardie klein dorpies gehad het nie, met spesifieke verwysing na die ekonomiese en opvoedkundige verwoesting wat dit vir daardie verarmde gemeenskappe in die Karoo veroorsaak het. Dit het permanente skade berokken wat die ergste nalatenskap van apartheid was.

As voorbeeld wil ek verwys na die Karoodorpies Fraserburg, Sutherland, Willowmore en Oudtshoorn. Mense is verskuif van hul grond, hul eiendom is onteien en hulle is op godsverlate vlaktes buite dorpe geplaas, weg uit die oë van die res van die dorp.

Dorpe het die vorm van Karooplase aangeneem – die opstal waar die baas van die plaas gewoon het, en die strooise agter die bult waar die werksvolk hul heil moes vind.

Fraserburg

Ironies was die bruin woonbuurt in Fraserburg, die Erwe genoem. Die woonbuurt was blank verklaar en die inwoners was verplig om na die behuisingskema te verhuis waar viervertrek munisipale huise aan hulle beskikbaar gestel was, asook die barakke wat gedurende die Anglo-Boereoorlog deur Britse soldate gebruik was. Dit was opgeknap en mense moes hul heil daarin vind. Gister se grondeienaars het oornag niks gehad wat hulle kon eien nie. Wat dit nog erger gemaak het, was dat na die ontruiming van hul groot huise, dit gesloop is, en dit was beslis nie krotbuurte nie. In Fraserburg lê daardie stuk grond vandag soos ’n skandvlek wat nie van die aarde verwyder kan word nie. Die erwe van ons vadere kon nie vir hul kinders erwe bly nie.

Die swart mense is verskuif na ’n gebied wat die Witblokke genoem was. Hulle het saam met ons die Sendingskool bygewoon, maar is later na die Transkei verskuif waar hulle geen verbintenis gehad het nie.

Sutherland

Sutherland

Hoe ironies ook dat ’n paar huise waar bruin mense in Sutherland gewoon het, New Town genoem is. Die lot wat New Town ook getref het, was dat die mense verskuif moes word na ’n behuisingskema onder Rebelskop, omdat dit te naby die blankewoonbuurt geleë was. Daardie stuk grond lê ook vandag daar as nog ’n skandvlek van apartheid. Ook in Sutherland is bruin mense en swart mense uit die dorp verwyder. Hulle het aanvanklik in die ou oorblyfsel van ’n Engelse fort gewoon wat ná die Anglo-Boereoorlog aan hulle beskikbaar gemaak was as verblyf.

Met die inwerkingstelling van die Groepsgebiedewet het die destydse munisipaliteit grond van die NG Sendingkerk gekoop teen ’n appel en ’n ei en bruin mense daar hervestig. Daardie woonbuurt, waar mense self hul huise moes bou, staan vandag nog bekend as Kerkgrond. Swart mense is teen die heuwel agter die rivier hervestig en dit was die Lokasie genoem. Hulle het ook die Sendingkerkskool bygewoon en later hul taal verleer en is as “kleurlinge” geherklassifiseer.

Oudtshoorn

In Oudtshoorn is die grond en die buurt waar die NG Sendingkerk en die Sendingskool geleë was, ook blank verklaar. Dit het die woonbuurt Noordeinde ingesluit waar bruin mense huiseienaars was. Die NG Sendingkerk, wat deur die gemeente self gebou was in 1917, is gesloop, asook die skool. Die grond is deur die munisipaliteit in erwe verdeel en aan blanke-inwoners van die dorp beskikbaar gestel. Die predikant was Tommy de Villiers en die laerskool in die bruin woonbuurt Bridgton is na hom vernoem. Die “nuwe” NG Sendingkerk is geleë in Tommy de Villiersstraat.

Willowmore

Willowmore, wat vandag deel van die Oos-Kaap uitmaak, het ’n soortgelyke verhaal. By die ingang van die dorp, vanaf die rigting George, het die woonbuurt Nuwerus gelê. Dit is ook onteien en blank verklaar, en die inwoners is hervestig. Hier was ook ’n geval waar die huise gesloop is en daardie stuk grond tot vandag ongebruik en kaal lê as ’n ander skandvlek wat na geregtigheid uitroep. Die nuwe behuisingskema is Hillside genoem, uit die aard van die saak omdat dit aan die oorkant van die heuwel geleë was. In die volksmond het dit spoedig bekend gestaan as Toplokasie, want dit was hoog geleë.

Die NG Sendingkerk en die Groepsgebiedewet

In die meeste gevalle was die NG Sendingkerk die enigste kerk waar bruin mense aanbid het in hierdie Karoodorpies. Die predikante was Afrikaner-dominees wat gemeentelede van die Moederkerk (die NG Kerk) was, maar in diens van die Sendingkerk. Hulle het in die pastorie, wat in die wit woonbuurt geleë was, gewoon. Ek onthou hoe daar by die pastorie van die Sendingkerk in Prins Albert ’n aanwysingsbordjie was met ’n swart handjie wat aangedui het “Gemeentelede” – dit was ’n aanwysing na die agterdeur van die woning waar gemeentelede vir hul predikant moes wag as hulle hom moes kom spreek het.

Met die koms van bruin predikante is die kerk se geboue en grond onteien en aan die plaaslike munisipaliteit verkoop. Die kerk moes hervestig word in die nuwe bruin lokasies/skemas. Ook moes ’n nuwe pastorie teen groot onkoste in die nuwe woonbuurt gebou word. Van die Sendingkerke is van sloping gered en is vandag museums, soos in die geval van Montagu en Ladismith. In Fraseburg het die Sendingkerk ’n munisipale stoor geword waar die munisipaliteit hul voertuie stoor, en is dit vandag nog in gebruik. Die kerk se fasade is nog ongeskonde, maar agter is dit oopgebreek en sal jy dit nie van voor af waarneem nie.

 

Grondonteiening is vandag ’n hoogs emosionele saak wat tot erge ongelukkigheid lei as die woord net geuiter of gebruik word. Grondberade en paneelgesprekke is aan die orde van die dag en die President het ’n taakspan saamgestel om hom oor die grondkwessie te adviseer en aanbevelings aan hom te maak.

Ten minste is daar vandag ’n Grondwet wat eiendomsreg beskerm en kan die regering hof toe gesleep word weens enige oortreding daarvan; anders as in die dae van die apartheidsregering, toe die regering die wet meedoënloos kon toepas sonder inagneming van enige menseregte.

Laat ons die onregverdighede en ongeregtighede van die verlede aanspreek om ’n begrip te kry van hoe dieselfde foute nie weer in die toekoms herhaal mag word nie. Suid-Afrika het ’n nuwe begin nodig – so spoedig moontlik.

 

  • Danie van Wyk is ’n direksielid van die burgerlike beweging DAK Netwerk wat hom vir die ontwikkeling van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap beywer.

Foto's: Jakes Gerwel-huldeblyksviering 2018

Jakes Gerwel-herdenkingsviering: Die rol en verantwoordelikheid van die intellektueel

Jakes Gerwel Memorial lecture: Imagining a post-apartheid future

  • 13

Kommentaar

  • In Ermelo, Eastern Transvaal, it was the Indian community that was forced out of their business area near the centre of town. The Indian businesses were moved a few kilometers out of town into their 'own' Indian area.

  • Danie van Wyk - ek was tot 2000 'n inwoner van Fraserburg. Vir die rekords: Ek dink die erwe waarna u verwys is die kaal stuk grond oorkant die hoërskool. Ek het grondverskuiwing in die distrik gedoen. Ek en Gerrit Visser - hy lewe nog - 89 jaar oud, het self daardie stuk grond soos dit nou daar is "gratis" so gelyk gemaak vir 'n krieketveld om en by 1977 - dit is die datum wat op my kolf staan. Van die huisies het nog daar gestaan. Dit was nie groot huise nie - beslis nie vier vertrekke nie. Oom Chrisjan Akkerman het in ’n tweevertrekhuisie nog van sy boumateriaal gestoor. Die huisies was van rou bakstene gebou en het sommer verkrummel onder masjiene se wiele. Hier en daar is klippe in fondamente gebruik, die het oom Gerrit weggery met trekker en wa. Miemie - het by my oupa en ouma gewerk - het daar grootgeword, nooit het ek enige bitterheid by haar ondervind nie. Die nuwe huise was ’n verbetering op wat hulle gehad het! Terloops ek het my populariteit, lewenslank prys gegee - om teen die NP te wees!

  • Danie van Wyk

    Jos Cloete. Ek dink ons leef in twee wêrelde. Jy was nooit aan die ontvangkant van apartheid nie. Die huise was beslis nie in 'n krotwoonbuurt geleë nie. Mense was huiseienaars en ek verwys nie na die gebied oorkant die hoërskool nie. Ek weet nie hoe goed jy Fraserburg ken nie. Die huise waarna jy verwys was nie deel van die Erwe nie. Die Erwe was geleë aan die einde van Van Schalkwykstraat in die rigting van die ou landbouskougronde.
    Die gebied waarheen die mense hervestig was, was beslis nie verbetering nie. Ek weet nie wanneer laas jy in Fraserburg was nie. Dit is jammer dat jy jou nooit beskikbaar gestel het om die ongeregtigheid aan te spreek nie. Ek sou baie graag sou weet waarom die gebied nooit weer herontwikkel was nie.
    Die mense in die Erwe het hul eie tuine gehad en was 'n lewendige gemeenskap.
    Terloops: Miemie was my niggie en is 'n paar jaar gelede oorlede. Sy was beslis, soos baie ons almal wat daar gewoon het, ook erg verbitterd oor wat ons moes deurmaak en ervaar het.
    Apartheid het ons ongekende en onberekenbare skade aangedoen. Ook vind ek dit vreemd dat jy erken dat jy apartheid geoppeneer het en lewenslank jou populariteit as gevolg daarvan verloor het.
    Die ongeregtigheid skreeu steeds ten hemele.

  • Wonder waarom was die Indiërwinkels in Pretoria-Noord nie geskuif nie. Het baie keer daar materiaal gekoop as ek my suster besoek het.

  • Hansie Wilson

    Ag hoe lank sal ons nog ploeter in die modder van die verlede ...? Dis reg om terug te kyk en die geskiedenis (die ware weergawe daarvan) te erken. Dit het dringend tyd geword om vorentoe te kyk en die hand aan die ploeg te slaan! Wie is nou nog by ...?

  • Danie de Villiers

    Dankie vir hierdie artikel. Nooit hiervan geweet nie. Dit is belangrik dat dit vertel word. En dat daarvan kennis geneem word. Ons moet ons geskiedenis ken.
    Ek as blanke wil van die onregte van die verlede weet en kennis neem van die verliespyn soos dit die verontregdes ervaar is, die pyn te erken en saam te voel. Ek wil dit weet - kennis neem van ons eie onmenslikheid. Maak nie saak hoe lank gelede die onreg plaasgevind het nie - genesing kan baie geslagte duur. Die pyn verdwyn nie sommer oornag nie. Moet nie die pyn onder die mat vee, dit onderdruk en dan blindelings vorentoe beur nie. Anders gaan die pynsweer bly broei en straks vorentoe nog onverwags oopbars.

  • Dankie Danie dat jy ons inlig ... die pyn en vernedering sal nie vanself verdwyn nie. In ons elke dag se ontmoetings en hoor van mekaar se seer kan ons nuut dink en optree ... met agting en respek.
    Daar is werk vir diegene met eerlike oortuiging dat ons nooit weer mense soos "objekte" sal behandel nie.

  • Dankie Danie dat jy ‘n stem is vir die stemlose, dat jy waarheid tot mag praat. Moet jou nie steur aan die wat maar te graag wil hê dat ons moet aanbeweeg net omdat hulle ongemaklik gelaat word oor die dinge van die verlede nie. Dis fine dat die "holocaust" van hoeveel jaar gelede onthou kan word en so ook die seer van die konsentrasiekampe van hoeveel jaar terug, maar iets wat net meer as 20 jaar gelede gebeur het, moet vergeet word.

  • Apartheid het nie onder die Apartheidsregering begin nie en was daar 'n reeks Apartheidwetgewing lank voor die NP in 1948 aan bewind gekom het.
    'n Mens kan 'n opsomming kry by https://www.sahistory.org.za/article/apartheid-legislation-1850s-1970s.
    Die NP regering is dus voor 'n keuse geplaas. Herroep al die wetgewing of brei dit uit. Daar was meer as 60 stukke wetgewing voor 1948. Hierop het die NP-regering voortgebou met ongeveer 130, wat natuurlik wetgewing en konsolidasie van tuislande ingesluit het.
    Konsolidasie het talle boere werkloos op plase gelaat, want wanneer die plaas vir konsolidasie geoormerk was, het werksaamhede daarop tot stilstand gekom.
    Dit het veral tabakboere in die Brits-omgewing geraak. Baie het geoes en gedroog om aan die lewe te bly.
    Die vergoeding was nie van so 'n aard dat boere rustig kon aftree nie en het baie elders weer van vooraf begin met die moeisame opbou van plase.
    So dit is nie net mense van kleur wat geraak is deur apartheidswetgewing nie.

  • Jeremy-Dao!goasoa

    Baie dankie, Danie vir die uitlig van die wreedaardighede tydens die toepassing van die Groepsgebiede Wet en Geforseerde verskuiwings...
    Ek dink Jos Cloete dra nog so ’n bietjie selfregverdiging op sy skouers en ettiketeer die gedrag van een individu as maatstaf vir die hele “kleurling”-gemeenskap van Fraserburg.
    Ja, in die erwe het ons ’n taamlike groot kliphuis gehad. Daar was ’n groentetuin en vrugte bome. Ons het op warm dae in die skadu van die groot perskeboom in ’n 44-gallon-drom “geswem” om af te koel. ’n Stewige klipkraal het ’n paar skapies en bokke saans veilig gehou. Nagmaaltye het sommige lidmate uit die buitewyke met ’n perde of donkiekar ingery en dan hul diere in die kraal vir die nawerk “ingeboek”. Dit is van die wonderlike dae wat ek nog kan onthou. Ja, die Erwe van ons Vaders in nie meer ons erwe nie ...
    Op 19 Augustus 2019 is ons verontheiligde kerkgebou in Fraserburg aan die gemeente teruggegee. Die groot ingang vir swaar voertuie het in die sy van die kerkgebou soos die wond in Jesus se sy, gegaap. Die gebou was ook gebruik as stoor van Nagvuil-emmers en ’n dienspit vir die voertuie is in die middel van die gebou gegrawe. Die dienspit was tydens die oorhandigingsgeleentheid met ’n stuk plankpaneel bedek ... om te dink dat een Christen het hierdie ontdenkbare teenoor ’n mede-Christen van dieselfde dorp gepleeg... Here vergewe hulle ...( want hulle het geweet) wat hulle doen ...
    Die gebou is deur ons Oom Noekie Steenkamp met sy span werkers, sommiges as lidmate van die kerk, opgerig.

  • Hansie Wilson die tyd dat julle besluit wanneer daar gestop moet word om na die kriminele en onmenslike behandeling van ons mense gekyk moet word is lankal verby. Ons sal besluit wanneer ons reg is sodat ons kinders en hulle kinders nie weer deur die trauma van vernedering en pyn van rasse haat moet deur gaan nie. Dit is nie dat ons trug kyk nie maar sodat die geskiedenis aan ons kinders deur ons self vertel sal word. Sodat ons die raad en wysheid aan ons kinders kan oordra om dieselfde omstandighede gespaar te bly.

  • Gerhard David Fortuin

    Ek wonder hoe het die Groepsgebiedewet die bruin gemeenskap in Beaufort-Wes en distrikte geraak, want ek weet my grootouers het in die dorpsgebied gewoon, die Balie-geslag en Fortuin-geslag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top