Jakes Gerwel-herdenkingsviering: Die rol en verantwoordelikheid van die intellektueel

  • 0

Op Saterdag 10 November het die Jakes Gerwel-herdenkingsviering* in Greatmore-straat 66, Woodstock, Kaapstad plaasgevind.

Paneelbesprekings, voordragte en opvoerings het van die oggend tot die aand in ’n feestelike atmosfeer plaasgevind.

Menán van Heerden gee ’n oorsig van een van die diskoersgesprekke, “Die rol en verantwoordelikheid van die intellektueel” (met Hein Willemse, Mercy Kannemeyer en Imraan Coovadia).

Die fasiliteerder van hierdie paneelbespreking was Heindrich Wyngaard (ook die seremoniemeester vir die dag).

Van links: Imraan Coovadia, Hein Willemse, Mercy Kannemeyer en Heindrich Wyngaard

Die openbare intellektueel

Willemse het die gesprek afgeskop met sy definisie van ’n openbare intellektueel: ’n intellektueel wat met ’n wyer gehoor in gesprek tree, buite die domein van ’n vakgebied en vakspesifieke terme.

Volgens Willemse is die rol van die openbare intellektueel die volgende:

  1. Om die grense vir openbare moraliteit en sosiale waardes af te baken.
  2. Om ’n oop ruimte te skep wat voorheen nog nie verken is nie; om daardie ruimte oop te maak vir betrokkenheid (“engagement”), vir ope diskoers.
  3. Om in gesprek te tree met die idee van identiteitsvorming: Wie is ons as Suid-Afrikaners? Wat beteken dit om ’n “African” te wees?

Bo alles is die algemene rol van die openbare intellektueel om die verlede vir ons almal oop te maak, veral mbt die hedendaagse gevaar van verskanste standpunte (“entrenched positionalities”) binne die Suid-Afrikaanse samelewing. Willemse benadruk dat openbare intellektuele ’n stem kan gee aan mense wat nie een het nie: “Wees ’n draer van hul storie.”

Op hierdie punt beklemtoon Willemse die belangrike rol wat die openbare intellektueel kan speel om ’n prentjie van die toekoms te skep. Deur verder te kyk as “die onmiddellike onbenullighede van die oomblik”, moet die vraag gevra word: Hoe kan alle Suid-Afrikaners deelneem aan die toekoms, die gemeenskaplike toekoms, waar almal se waarde erken word en waar die samelewing deur gelyke deelname en geleenthede gekenmerk word? Hoe word Suid-Afrikaners se gemeenskaplike kenmerke (“commonalities”) bepaal?

Daarmee saam moet die openbare intellektueel ook krities in gesprek tree met die stand van die samelewing en die verbetering daarvan. Hierdie betrokkenheid skep sodoende ’n oop ruimte vir toekomstige gesprekke.  

Regs: visuele kunstenaar Dathini Mzayiya teken ’n portret van Jakes Gerwel

’n Spieëlbeeld van die samelewing

Volgens Kannemeyer is die rol van die intellektueel om insig en kennis te deel, om inligting toeganklik te maak. Die aanspreek van die waarhede van die samelewing deur die intellektueel (“to hold up a mirror to society, to speak the truth”) is baie belangrik, veral mbt die hedendaagse sosiopolitieke konteks. 

Langtermyn-, konstruktiewe denke

Coovadia het die vraag gestel: Watter insigte het die generasie van Jakes Gerwel en Nelson Mandela gehad waarvan ons nie bewus is nie; wat het hulle as intellektuele en politici verstaan wat ons uit die oog verloor het?

Eerstens was hulle in staat om langtermyn te dink, naamlik hoe om oor ’n baie lang periode ‒ itv dekades, nie met die oog op die volgende verkiesing nie ‒ ’n konstruktiewe politieke kultuur en demokratiese toekoms te skep.

In die tweede plek het hierdie generasie besef dat kompromieë (mbt onder andere beleidsvorming) die orde van die dag is. Daarmee saam is langtermynkompromieë ideaal gesproke meer konstruktief as korttermynkompromieë.

Derdens kan Mandela ons leer hoe om binne die omstandighede van rasseverdeling en –ongelykheid op ’n baie oop en konstruktiewe manier langtermyn te dink.

Coovadia het Mandela, Gandhi en Tolstoi as voorbeelde gebruik van intellektuele wat as rolmodelle kan optree. Mens kan byvoorbeeld by hulle leer hoe om nederige leiers te wees en dat almal, van handearbeiders tot mense in magsposisies, gelyk is.

Die werklik uitnemende intellektuele het die vermoë om baie moeilike situasies met wysheid te verduidelik. Hulle dink vir ons op omvattende maniere en ook op maniere wat ons almal kan verstaan.

Politieke leiers vs intellektuele

Wyngaard het die vraag gestel: Hoe word die “spanning” tussen politieke leiers en intellektuele vereenselwig nege maande nadat Cyril Ramaphosa president geword het?

Willemse het onder andere benadruk dat die Zuma-era gekenmerk was deur ’n ekstreme vorm van aktivistiese Afrikanisme (“activist Africanism”) wat deur uitsluiting gekenmerk is.

Vir Willemse is ons besig om onder Cyril Ramaphosa in die rigting van die idee van ’n nierassige toekoms te beweeg: wat ons as Suid-Afrikaners kán wees, waar niemand uitgesluit word nie. Dit is ook belangrik om te dink oor wat nierassigheid behels en wat dit beteken.

Willemse het ook die aard van openbare diskoers in die Zuma-era in Suid-Afrika beklemtoon, naamlik die brutaliteit daarvan. Die “brutalisation of language” het te doen met die taal wat ons met mekaar praat: “Daar is ’n verskriklik veronterende manier van praat met medeburgers” wat moet verander. Tans word daar stappe in hierdie rigting gedoen. Mbt die konsep van “grond”: daar word byvoorbeeld ondersoek hoe dit in die openbare diskoers aangespreek kan word.

“Ek is so oud soos demokrasie”

Wyngaard het vir Kannemeyer gevra om spesifiek vanuit haar perspektief as student in die sogenaamde Fallist-tydvak in Suid-Afrika te praat.

Kannemeyer het hierop gereageer deur te sê dit is ’n verwarrende tyd om ’n “millennial” te wees: sy is in 1994 gebore, maar binne haar leeftyd, tot nou, word die arm mense armer en die ryker mense word ryker.

Daar was baie hoop aan die begin gewees toe Ramaphosa president geword het, maar die dringende kwessies in die land word nie noodwendig aangespreek nie. Mense kyk net wat in die parlement aangaan en lag. Vir wie moet ons stem? Daar is baie wantroue wat jou rol as burger bemoeilik, sê sy.

Wyngaard het ten slotte saamgestem dat wantroue as deel van die diskoers heers.

Rasgedrewe diskoers?

Wyngaard het vir Coovadia gevra of daar, volgens hom, ’n doelbewuste poging is om ’n spesifieke sogenaamde rassegroep in die diskoers uit te lig.

Coovadia het die feit van verskillende soorte rassestereotipering belig.

Maar: binne verskillende gemeenskappe kan daar ook dieselfde idee van ’n vyand bestaan. Die hoofbron van politieke geweld is byvoorbeeld interne ANC-sluipmoorde in KwaZulu-Natal.

Indien rasse-onderskeid vyandskap dryf, word langtermyn-, gedeelde belange nie aangespreek nie.

Volgens Coovadia is Ramaphosa ’n baie goeie intellektueel: hy besef die belangrikheid van ’n langtermynvisie.

Skrywers en kunstenaars binne die intellektuele ruimte

Wyngaard het die paneel gevra wat die rol van skrywers en digters binne die hedendaagse intellektuele ruimte is, veral teen die agtergrond van hul eie werk in die letterkundige wêreld; en daarmee saam, teen die agtergrond van die era van Gerwel (en ander), waar kunstenaars soos musikante, “performance poets” en akteurs baie keer die voortou geneem het.

Kannemeyer voel dat dit belangrik is om eerlik en ’n agent van verandering te wees. Ook, om waardes te vorm en te beskerm. Mbt die dramas wat sy skryf, wil sy mense graag op ’n menslike vlak ontmoet en stories vertel wat ’n ware impak kan maak.

Vir Coovadia bied die literatuur onder andere die geleentheid om, in ’n land gekenmerk deur konfrontasies en vyandigheid, konfrontasies te herlei (“it allows people to be redirected in ways around confrontations”).

Volgens Willemse kan die kreatiewe persoonlikheid onder andere ’n verskillende/ander ruimte verbeel/voorstel. Skrywers, musikante en kunstenaars poog om dieper te probeer verstaan waar ons ons op ’n spesifieke moment bevind. Hulle maak patrone binne ’n samelewing oop en maak nuwe konneksies met ander. 

Die nuwe generasie

Wyngaard het vir Kannemeyer gevra of haar portuurgroep, die toekomstige leiers, ’n waardering vir dieper denke het.

In reaksie op hierdie vraag het Kannemeyer ’n spektrum van betrokkenheid benadruk: aan die een kant van die spektrum behels die bevoorregte standpunt dat dit nie nódig is om betrokke te wees / te raak nie.

Die ander kant van die spektrum is die posisie waar jy die sukkelomstandighede nie meer kan hanteer nie. In sekere opsigte is die ongeduld en die gepaardgaande woede geregverdig. Baie mense lê iewers in die middel.

Kannemeyer het verder benadruk: “Tye verander, dus moet ons verander. Dit is baie belangrik om in te kyk, sodat jy kan uitkyk.”

* Vennote: die Universiteit van Wes-Kaapland, Centre for Humanities Research, Die Wes-Kaapse Regering se Departement van Kultuursake en Sport, Lingua Franca, uKwanda Puppetry Collective

Lees ook

Dare not linger: Jakes Gerwel se onmisbare rol in Suid-Afrika se oorgang

Jakes Gerwel se skrywersnalatenskap

In Memoriam: Jakes Gerwel

Suidoosterfees 2018: ’n onderhoud oor die Jakes Gerwel Stigting se diskoers- en boekgesprekke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top