Gerrit Olivier 1954–2026

  • 0

Een van Gerrit se katte saam met die sagte speelding, die renoster Nikodemus, op sy bed in Barnesweg, omstreeks 1988, sou ek raai. (Fotograaf: Ena)

Gerrit was my vriend.

Hierdie woorde eggo die eerste sin in Hella Haasse se roman Oeroeg uit 1948 wat Gerrit as wyd belese Neerlandikus sou geken het. Sy groot liefde was Nederlandse digters: die Tachtigers, maar veral Leopold. En Hans Lodeizen. Die Nederlandse letterkunde het hy op Stellenbosch leer ken, en dis waar ek hom en sy boesemvriend, van destyds al, Kerneels Breytenbach, vir die eerste keer opgelet het in 1973, dáár in die agterste ry, hoog in ’n saal van die destydse Wilcocks-gebou waar ek, self skaars 22 en besig met my MA oor Karel Schoeman, professor WEG Louw se klasse waargeneem het terwyl hy met langverlof in Amsterdam was.

Ek en Gerrit het mekaar enkele jare later in Utrecht veel beter leer ken. Ek was al besig met ’n doktoraal in teoretiese literatuurwetenskap toe hy Nederlandse letterkunde aan die oorkant van die Ramstraat by Instituut de Vooijs kom studeer het. Digby was ’n huis in die Mauritstraat waar hy saam met ander Suid-Afrikaners gebly het, terwyl ek by ’n knorrige hospita in die middestad was, aan die Catharijnesingel. So gou ons kon, het ons albei Amsterdam toe verhuis, waar ek op die Keizersgracht en hy op die Herengracht gebly het, in die agterhuis van ’n man wat Jamaika se erekonsul en rum-importeur was; ook het Gerrit tydelik die flambojante Neerlandikus Ton Anbeek se appartement bewoon.

Gerrit, Marlene en ek nadat ons in die Vondelpark gaan draf het, omstreeks 1988. (Fotograaf onbekend)

Hier het ons mekaar deur dik en dun meegemaak; die komplikasies gedeel van verliefdhede, selfs vlugtig op mekaar. Saam met Marlene van Niekerk, wat filosofie en antropologie studeer het, en Marius en Irene Vermaak, het ons ’n tyd lank elke middag in die Vondelpark gaan draf, baie oor en weer gekook. Ook uitgebreide Kersetes. Baie gerook, baie wyn gedrink. Sy eksemplaar van Kook en geniet wat sy ma nog vir hom gegee het, het hy later vir my gegee. Voorin is ’n hele rits inskripsies oor en weer.

Gerrit was groot sports, maar ook wys, op ’n manier ouer as sy jare. Hy was tegelyk kalm, altyd radikaal en uitdagend, nie net slim nie, maar ’n denker. Op ’n stadium het ons ’n Wittgenstein-groepie op die been gebring; Andries Gouws uit Utrecht het dit kom versterk. Gerrit het ’n vriendin gehad, Leonoor Oversteegen, wat my studieleier, Jaap Oversteegen, se dogter was. Ek onthou hoe lief Jaap en Suna vir Gerrit was. Ek en Gerrit het vir die Piete, soos ons Peanuts Swanepoel en Pieter Fourie genoem het, in Antwerpen gaan kuier. Ons is na Bob Dylan se konsert in die Feyenoord-stadion in Rotterdam. Hoe ons orals rondgerits het, kan ek nie onthou nie. Met die trein en fietse. Wel was daar ook ’n hele paar Volksies tussen ons vir verder ry.

Gerrit is van ons klomp die eerste terug Suid-Afrika toe, Wits toe. Sy afstudeerpartytjie onthou ek tot vandag. “Broken English” van Marianne Faithfull was net uit en is voortdurend gedraai. Ons was jonk, maar “The ballad of Lucy Jordan” het ons byna desperaat saamgesing:

At the age of thirty-seven
She realized she’d never ride
Through Paris in a sports car
With the warm wind in her hair.

Wat sou ons met ons lewens doen?

Ek het destyds 10 jaar lank in Nederland gebly; wou vanweë die politiek nie teruggaan Suid-Afrika toe nie. Vroeg in 1984 is Anita Lindenberg oorlede en is ek gevra om so gou moontlik te kom. Ek dink Gerrit het baie hiermee te doen gehad.

Ek en Gerrit saam in die tuin van die huisie by Dovetonweg 12, Parktown (Fotograaf onbekend)

Ek is oorreed om na die wildvreemde Johannesburg te gaan, waar ek in Julie 1984 beland het, vasbeslote om net vir ’n halfjaar te bly. Ek kon die tuinwoonstel by die gesin Ahlers in Dovetonweg in Parktown oorneem toe Gerrit sy eerste huis in Sesde Laan, Mayfair gekoop het.

Ek en Gerrit in die tuin van die huisie in Dovetonweg, omstreeks 1985. Ons was albei lief vir tuinmaak. (Fotograaf onbekend)

Ons het voortdurend oor en weer gekuier, gaan fliek en teater toe gegaan, plante gaan  koop en tuin gemaak, tennis gespeel by die Dieretuinmeer se bane, later op Saterdaeoggende op die baan van die huis in Houghton waar Koos Prinsloo met Iris gewoon het.

Ek, Gerrit en vriend Pieter van der Lugt ná tennis in die tuin van Dovetonweg, omstreeks 1987. (Fotograaf onbekend)

Wanneer ek Willie Burger se “In memoriam”-stuk op LitNet lees, besef ek hoe arrogant ons dalk was, dat ons onsself as uitverkore, die beste, beskou het. Daaroor was immers geen twyfel moontlik nie! Ernst Lindenberg was hoof van die departement. John Miles, Ampie Coetzee en Gerrit was die ander letterkundiges; ook John Kannemeyer was daar vir ’n ruk. Later het Marlene van Niekerk bygekom, ook Wilhelm Liebenberg. Edith Raidt was professor in taalkunde. Daar was ook Mari Lätti, Anna Coetzee, Fred Pheiffer vir ’n ruk.

Met teësin, en byna asof ons Troje of Dingaanstat moes betree, het ons ons soms oor die boereworsgordyn Pretoria toe begewe. Alles suid van die Vaal het ons ook met agterdog bejeën, en tog uitstekende samewerking met party kollegas oraloor gehad. By Wits het ek 16 baie gelukkige jare deurgebring, Gerrit het sy hele lewe aan Wits gewy.

Gerrit was my lojale vriend, maar ook my kollega, jonger as ek en reeds meer senior toe ek by Wits aankom. Wie dosent en wie student was, het nooit tussen ons saak gemaak nie.

Gerrit saam met sy voorganger, Ernst Lindenberg, en sy lewensmaat Hazel Moolman. Dit was by die afskeidsgeleentheid vir Ernst in die tuin van my huis in Melville. (Fotograaf: Ena)

Toe Ernst Lindenberg aftree, het Gerrit oorgeneem as jong professor. Vir sy werksonderhoud het ons in Hyde Park vir hom ’n donkerblou Hylton Weiner-pak gaan koop. Deur die jare moes hy steeds meer formele dinge doen en het ek dikwels dasse vir hom gekoop.

Gerrit kon verstrooid wees, maar veral was hy gefokus, selfs stadig. En dit, dink ek, is hoekom hy so baie gedoen gekry het, waarom mense sy aandag vir hulle en hulle tekste so direk ervaar en waardeer het. Ek onthou sy klein, effe bewerige handskrif. Sonder om ooit ’n afkorting te gebruik, nogal omslagtig het ek soms gedink, sou hy presies en puntenerig kommentaar lewer op jou werk. Slow scholarship, slow thinking – dit alles was deel van sy manier van doen. Toe al. Terwyl hy ook blitsvinnig kon tik, met daardie effe krom wysvingers. Veral onthou ek hoe hy Taurus se setmasjien in die agterkamerkantoor op sy erf in Mayfair kon hamer.

Die vier uitgewers van Taurus was almal mans, en almal Wits-kollegas. Voor sit John Miles en ek. Op die foto staan ​​twee Taurus-outeurs aan die kante, Sandra Kriel en Ingrid Winterbach, met Ernst Lindenberg, Gerrit en Ampie Coetzee tussen hulle. (Fotograaf onbekend, omstreeks 1986)

Gerrit was een van die direkteure van Taurus, wat deur sy ouer Wits-kollegas, Ernst Lindenberg, John Miles en Ampie Coetzee, gestig is. (Lees ook John Miles se herinneringe hier.)

Later het dié kromvingergetik gebeur op sy rekenaar in sy geelgeverfde (of was dit rooi?) dekaanskantoor by Wits.

Ek onthou ook hoe hy sy arms kon vou, ’n bietjie opgekrul sit, dink en dan eers begin praat terwyl hy jou stip aankyk, met effens wasige oë. Ja, Gerrit het ’n baie spesifieke lyftaal gehad, wat ek sonder ’n oomblik se aarseling kan oproep, wat ek sal mis. Selfs al het ek hom die afgelope jare min gesien, en daarom ’n tyd lank al begin mis het. Hy was wys, rustig maar ook ongedurig; radikaal maar deurdag; grappig – niemand kon grappe vertel soos hy nie. Hy was uitdagend, ’n ware intellektueel.

Dit was die jare waarin Stet ontstaan het, Markus de Jong nog sy boekwinkel in Braamfontein gehad het, toe Gerrit en hy Libertyn was, toe Vrye Weekblad begin is. Breyten was in die tronk, daar was noodtoestande – so baie was destyds aan die gebeur. Gerrit was nie ’n lid van die ECC sover ek kan onthou nie, ook nie van die Afrikaanse Demokrate nie; hy het nie deelgeneem aan die kabaret wat Marlene van Niekerk, Marianne de Jong, Hanlie Malan, Irna van Zyl, Ralph Rabie, Johannie Pretorius en ek in die Black Sun opgevoer het nie. Met sy entoesiasme en polemiese gees het hy ons ondersteun.

Vir my loopbaan het hy baie beteken. Ons het saam Praktiese Nederlands geskryf, ’n lesboek wat jare lank op universiteite voorgeskryf is. Hy was die ideale begeleier vir my proefskrif oor die Amsterdamse bundels van Elisabeth Eybers. Hy het my gehelp om my werk in Amsterdam te gaan voortsit toe my hart my weer, na 16 jaar by Wits, teruggedryf het Nederland toe.

Rayda Becker, Ena en Gerrit. Ena se afskeidsfunksie by haar huis in Tolipstraat voordat sy na Amsterdam verhuis het, Januarie 2001. (Fotograaf onbekend)

Saam kon hy praktiese planne maak wat sowel my akademiese as my persoonlike lewe in ag geneem en bevoordeel het. Daarvoor is ek hom baie dankbaar. Hy het na my orasie aan die Universiteit van Amsterdam gereis.

Gerrit en Marietjie (regs) het my intreerede in Amsterdam bygewoon. Die foto is geneem by 'n ete daarna. Links is ek en Pamela Pattynama. (11 April 2003, Fotograaf onbekend)

Ek kon hom nooi om te opponeer in proefskrifverdedigings aan die UvA, iets wat hy voortreflik in sy deftige Nederlandse aksent gedoen het. Hy het deeglik voorbereide onderhoude met my gevoer tydens bekendstellings van my boek Soos familie. Ook vir LitNet ’n akademiese artikel daaroor geskryf wat ’n uitstekende voorbeeld is van die deeglikheid waarmee Gerrit alles wat hy aangepak het, uitgevoer het. LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen - LitNet

Ja, Gerrit was my vriend, my kollega en ondersteuner deur dik en dun.

Ons laaste gesprek was toe hy plek help soek het vir ’n Kaapse vriendin wat Johannesburg toe sou trek. Sy laaste woorde was “Dankie Ena” nadat ek hom per WhatsApp op 13 April met sy 72ste verjaardag geluk gewens het.

Sy lewe het tot ’n abrupte einde gekom. Nooit weer sal hy ’n grap vertel of op sy effe verleë manier lag nie. Sy arm om my skouer sal ek altyd onthou. Sy gelate én sy uitgelate lag.

Gerrit was my vriend.

Iets oor Gerrit Olivier die akademikus

Gerrit Olivier is in 1954 op Burgersdorp gebore en het daar skoolgegaan.

Hy is op 12 September 2026 in Keimond oorlede aan ’n hartaanval, nadat hy ’n familielid se bruilof bygewoon het. Hy was 72 jaar oud. Sy afsterwe was volkome onverwags.

Nadat hy aan die Universiteite Stellenbosch en Utrecht gestudeer het, het Gerrit se akademiese loopbaan in alle erns in 1981 by Wits begin. Sy proefskrif en navorsing was veral gerig op NP Van Wyk Louw.

Gerrit was meer as vier dekades verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand. Aanvanklik was hy daar as jong dosent in die roemryke Departement Afrikaans en Nederlands, vanaf 1990 as hoof, waarna hy van 1995 af vir 10 jaar dekaan was, eers van die Fakulteit Lettere en later van die Fakulteit Geesteswetenskappe.

Daarna was hy stigter en hoof van die Departement van Kreatiewe Skryfwerk aan die universiteit. Die begeleiding en steun wat hy aan tientalle aspirantskrywers gebied het, word wyd geprys. Hy het ’n sleutelrol gespeel om skrywers van sowel skeppende as wetenskaplike werk aan te moedig en te ontwikkel. Wits roem die werk wat hy gedoen het deur baie skrywers se manuskripte tot voltooiing en publikasie te help bring.

In 1993 het Gerrit die Recht Malan-prys verower vir sy boek NP Van Wyk Louw: literatuur, filosofie, politiek. Ook word hy gehuldig vir sy werk oor die skrywer Koos Prinsloo, wat in 1994 aan Vigs-verwante toestande oorlede is. Gerrit se mees onlangse gepubliseerde boek is Place of slaughter and other stories (Fourthwall Books, 2022), sy vertaling van 24 van Prinsloo se opspraakwekkendste kortverhale. Gerrit sal ook onthou word vir die kunsboek Penny Siopis: time and again (Wits University Press, 2014), waarvan hy die redakteur was. Die pragboek was in 2017 ’n finalis in die Humanities and Social Sciences Book Awards.

Die vlag voor Wits se Great Hall sal op Woensdag 23 September halfmas hang wanneer sy lewe om 17h00 herdenk word in die Chris Seabrooke Musieksaal in Jorissenstraat.

Die gedenkdiens word op YouTube uitgesaai.

Op die webwerf van Wits is ’n lang berig oor Gerrit Olivier se dood. Hy word daar ’n “distinguished scholar” en akademiese leier genoem.

Die laaste jare

Die afgelope jare, ná sy aftrede by Wits, het Gerrit in die belewing van baie van sy vriende stiller geword, meer afwesig en op ingekeerde paaie waar steeds minder vriende toegelaat is.

Hy was met sy eie dinge besig, skryfwerk wat hy met min mense gedeel het. Gerrit het wel gereeld bydraes gelewer tot Binne+Land, waarin hy dikwels oor persoonlike herinneringe geskryf het, onder meer oor ’n vakansie van die gesin van vyf kinders wat in ’n volgepakte Pontiac Parisienne en wiegende karavaan afgery het Kaap toe. Die Kaapse vakansie was vir sy pa “’n donker nag van die siel waarvan hy nooit herstel het nie; […] die kordate en energieke man […] is vervang deur ’n vrome, bedagsame burger.”

’n Mens kan nie anders nie as vermoed dat Gerrit se eie skeppende skryfwerk deur sy onverwagte dood gefnuik is.

Lees ook:

Gerrit Olivier: ’n persoonlike huldeblyk

Gerrit Olivier is nie meer by ons nie

LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top