
...
Smiddae, buite werksure, het ons dikwels saam geset aan manuskripte, vir ons ’n omslagtige proses met ’n klein setmasjien.
...
Gerrit Olivier is nie meer by ons nie.
In waardering vir ’n baie veelsydige mens staan ek saam met ander vriende hoed in die hand by ’n afskeid.
Gerrit met sy skerp kop, kritiese ingesteldheid en fyn literêre aanvoeling.
Ek moet ver strek om by ons ontmoeting en tyd van noue samewerking uit te kom. In die jare tagtig van die vorige eeu, ná ’n studietyd in Nederland, word hy deel van die Departement Afrikaans en Nederlands by Wits. In die Suid-Afrika waarheen hy terugkeer, was literêre sensuur deur die staat, veral ná die verbod op André P Brink se Kennis van die aand in 1974, ’n ernstige besprekingspunt. En agter hierdie Staatsbeheer van die letterkunde was ’n kragdadige Afrikaner-nasionalisme. Vir die jong Gerrit was so ’n opset ver van ideaal vir die rol van die vrye boek binne ’n gemeenskap. Teen hierdie sensuur het hy standpunt ingeneem en kon gou inskakel by sy nuwe kollegas se alternatiewe maniere om riskante werk self uit te gee en te versprei en sodoende gewone beheerkanale te vermy.
Ons vriendskap was spontaan. Gerrit het by die Miles-gesin huisvriend geword. So ook by die Lindenbergs en by die Ampie Coetzees. Ek onthou, onder veel vrolikheid, Gerrit se aanhalings uit die aforismes van Stanislaw Lec en sy voorliefde vir die werk van Thomas Bernhard. In die vroeë jare het ons ook saam vakansie gehou. So hoor ons toevallig een aand in 1982 oor die radio by Kosibaai se mere dat Breyten onverwags vrygelaat is. Nie een van ons was in die voorafgaande sewe jaar toegelaat om enigsins met hom kontak te hê nie.
Smiddae, buite werksure, het ons dikwels saam geset aan manuskripte, vir ons ’n omslagtige proses met ’n klein setmasjien. En vir ’n tyd lank was twee kamers in sy huurhuis ingerig as uitgewerskantoor en boekstoor.
Anekdotes tersyde. Ek wil een aktiwiteit van Gerrit uitsonder wat van kritieke waarde was vir die meer normale gang van nuwe skryfwerk: sy leidende rol as redakteur van die tydskrif Stet wat deur Taurus geborg is.
Vir bykans 10 jaar het hierdie kwartaalblad onder sy hand geleenthede gebied aan jonger skrywers wat ’n ruimte gesoek het waarin hulle tuis voel. Talle later gevestigde skrywers het op een of ander wyse hier gedebuteer. Die lys is lank, en as ek net twee name op vandag se voorgrond moet uitsonder, is dit Eben Venter en Ingrid Winterbach.
Ook ouer, meer gevestigde skrywers het bydraes vir Stet gelewer.
Nog ’n wins was die geleentheid wat jong skrywers gebied is om hulle ervarings tydens verpligte diensplig te boekstaaf.
Van tyd tot tyd het Gerrit van gasredakteurs gebruik gemaak, wat ’n verbreding meegebring het.
Gerrit se eie bydraes is ook hier te lees. Soos die deeglik beredeneerde antwoord op die sensors se literêre motivering vir die verbod op Looking on darkness.
Ruimte was daar ook vir die haglike werklikheid van armoede en materiële ellende.
Maar boweal was die tydskrif ’n literêr anargistiese verset teen die keurslyf van morele bekrompenheid. Teen versmorende eenvormigheid. Dit was ’n rumoer, ’n burleske, ’n opstand teen politieke dwingelandy. Die gek is geskeer met waardige ampsdraers en akademici se geleerde wollerigheid en hardlywige terminologie.
Anders as die Afrikaanse Skrywersgilde was dit geen poging om van binne te vernuwe nie.
Wat ’n voorreg was dit om Gerrit as gespreksgenoot te kon hê.
My medelye gaan veral uit na die Lloyd-Olivier-familie.
John Miles
16 September 2026, Pampoendag

