Gerrit Olivier: ’n persoonlike huldeblyk

  • 0

Gerrit Olivier was een van die groot letterkundiges in Afrikaans sedert die 1980’s. Vir jare was hy hoof van die Departement Afrikaans by Wits. En hy was ook vir baie jare lank die dekaan van die Lettere Fakulteit by Wits. Hy was een van die min Afrikaanse letterkundiges wat werklik ’n groot impak op die wyer Suid-Afrikaanse literêre terrein gemaak het. As letterkundige en as dekaan het hy baie wyd, oor skeidslyne van tale en vakdissiplines, respek en lof gekry.

Foto: © Hermann, geplaas op 25 Januarie 2021 (Pixabay.com)

Hy was ’n besondere akademikus en het met sy proefskrif (en later boek) oor Van Wyk Louw se opstelle ’n knuppel in die Afrikaanse hoenderhok gegooi. Veral omdat dit vanuit ’n krities-teoretiese standpunt Louw se blindekolle blootgelê het – wat baie mense nie graag wou hoor nie. Later het hy ook, in sy NP Van Wyk Louw-gedenklesing, op ’n wonderlike wyse getoon hoedat Louw se poësie veel verder gereik het as sy prosa, dat die kuns dit moontlik maak om die kunstenaar se beperktheid ver te oorskry.

Gerrit het in die 1980’s ook onder die skuilnaam LI Bertyn rubrieke oor die letterkunde geskryf. Dikwels tong in die kies, snydend, sarkasties, selfs snedig, maar altyd insiggewend.

In die laat 1980’s, toe ek die akademie betree het, was daar verskeie duidelike kampe in die Afrikaanse letterkunde: die ouer, behoudende akademici soos FIJ van Rensburg by RAU, AP Grové by UP, Cloete-Van der Elst by Potch, Smuts by Stellenbosch. En dan was daar die Witsies (Gerrit, John Miles, Edith Raidt, Ampie Coetzee, Ena Jansen, Ernst Lindenberg en later Marlene van Niekerk). Die Witsies het uit ’n sterker teoretiese tradisie gekom, terwyl die ander meer in die close reading-tradisie gestaan het. Die beskuldiging van mense soos Cloete, Grové, Smuts en Van Rensburg was dat Gerrit-hulle “ideologies” is en nie suiwer “met ’n skoon oog” na die kunswerke kyk nie. (Sonder om te besef dat hulle “suiwer” blik natuurlik net so ideologies was.)

In die 1980’s het Gerrit saam met Tienie du Plessis die literêre tydskrif Stet op die been gebring. As PUK-student het Stet vir my laat voel ek lees ’n opwindende, byna verbode blik op die wêreld (byna soos om na die Scope sonder sterretjies te kyk). Corina van der Spoel het destyds enkele uitgawes vir my gegee, en ons het gedink ons is rewolusionêr om dit te lees (en aan die PUK van destyds was dit ook rewolusionêr – my koshuisvader het my ’n “kommunis” genoem).

Omdat ek uit Potch gekom het, waar ek maklik soos ’n Groot Rebel gevoel het met my veilige, baie lojale verset teen die heersende orde, was ek altyd nuuskierig oor die “linkse spul kommuniste” (soos wat sommige van my dosente na Wits verwys het). Ek wou by TT Cloete weet wanneer ons in die honneurs-teorieklas dan ook by hierdie goed soos die kritiese teorie en by Foucault (waarvan ek toe geen begrip gehad het nie, maar waaroor ek in Marianne de Jong se werk gelees het) gaan uitkom. Cloete het gesê dit is modes; ons kan daaroor in boeke lees. Die kritiese teorie kom van die Marxiste. Dis nie vir “ons” nie; dit is ideologies gelaai. Sy afwysing het my natuurlik nog meer nuuskierig gemaak.

Op die Neerlandistiekkongresse aan die begin van die 1990’s kon ek die spanning tussen Van der Elst-hulle aan die gevestigde Afrikanernasionalistiese kant en Gerrit Olivier-hulle as ’n uitdaging van hulle nasionalisme aan die ander kant aanvoel. Teen daardie tyd het ek nader begin voel aan laasgenoemde groep. Maar ek was lugtig vir Gerrit; ek kon sien hy kyk maar taamlik agterdogtig na my, synde ’n produk van Potch se CHO. Dit was eers toe ek in 1998 na Johannesburg gekom het, dat ek vir Gerrit beter leer ken het. Sy manier om met ’n taamlik snydende sin kritiek te lewer het my geïntimideer. Maar ek het ook ’n warmte en medemenslikheid en verrassende oopheid om te luister by hom leer ken. Dit is hy wat vir my gesê het: “’n Mens leer nie by mense wat met jou saamstem nie; jy leer by die mense wat van jou verskil.” Ek onthou ook hoedat hy eendag in ’n debat oor Opperman vs Louw gesê het dat sommige van Opperman se gedigte hom laat dink aan “sulke gegote ysterdrolle”. ’n Beeld wat steeds dikwels by my opkom.

Hy het vertel hoedat hy as nasionale dienspligtige Tristia in die Kimberley-weermagbasis se biblioteek gekry het en dat dit vir hom gehelp het om kop te hou in die uitsiglose weermagbasis. Een keer toe ek skamerig bely het dat ek as skoolkind graag op Sondagmiddae na daardie gedrae voorlesings van gedigte (deur mense soos Anna Neethling-Pohl) oor die radio geluister het, het hy ook erken dat dit eens vir hom, as kind in die Karoo, ander moontlike wêrelde oopgemaak het.

Eintlik het my belangstelling in literatuurgeskiedenis by hom begin – by ’n stukkie in Stet waarin hy Kannemeyer se literatuurgeskiedenis gekritiseer het. Sy uitreiking na my nadat ek na RAU geskuif het, uitnodigings na sy huis vir etes, lang gesprekke oor kuns en literatuur en musiek wat my onbelese en traag van begrip laat voel het, sal ek altyd koester.

Die laaste drie dekades van die vorige eeu was ’n opwindende tyd vir letterkunde. Dit was ’n tyd toe skrywers en digters en letterkundiges soos Gerrit ’n groot invloed gehad het, ook in die breër intellektuele lewe. Dit is droewig om te ervaar hoedat die Grotes van daardie tyd een-een wegraak, en hoe daardie opwindende tyd daarmee saam verlore raak.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top