Geheim van die gruwelsand deur Zirk van den Berg: ’n onderhoud

  • 2

Geheim van die gruwelsand
Zirk van den Berg

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795710346

Zirk van den Berg praat met Naomi Meyer oor Geheim van die gruwelsand.

Zirk, jy het 'n prettige (en soms gruwelike!) misdaadverhaal geskryf, Geheim van die gruwelsand. Die boek is opgedra aan CF Beyers-Boshoff. Ek sien in die LitNet ATKV-skrywersalbum verwys jy na die Jasper-reeks wat Beyers-Boshoff oor sy sekretaresse se skouer gedikteer het: https://www.litnet.co.za/cf-beyers-boshoff-1926-1989.

Was jy 'n gretige leser van die Jasper-reeks?

Toe ek ’n kind was, het ons twee Jasper-boeke gehad: Jasper die atleet en Jasper die speurder. Ek het albei herhaaldelik gelees.

Ek het Beyers-Boshoff in my twintigs persoonlik leer ken. Ek was toe met sy dogter getroud en tydens my diensplig het ons ses maande by hom aan huis gebly. “Wanneer jy skryf,” het hy vir my gesê, “moet dit wees soos ’n stuk rou lewer wat jy op wit satyn gooi.”

Ek kan nie anders as om oor nog iets van die Jasper-reeks te vra nie. Hy het ook van fantasie gehou, as ek dink aan 'n boek soos Jasper en die ruimtemanne. Jou boek Geheim van die gruwelsand het self 'n fantastie-element daarby betrokke. Dis ook 'n belangrike kenmerk van byvoorbeeld Ek wens, ek wens. Dan is 'n ander raakpunt met jou boeke wat ná Ek wens, ek wens die lig gesien het, die historiese komponent. Die vertes in. Daar is ook misdaad, soos 'n Ander mens. Kombineer Geheim van die gruwelsand 'n verskeidenheid van die genres waarbinne jy al geskryf het?

Ek is traag om die term fantasie vir Geheim van die gruwelsand te gebruik. Dis wetenskapfiksie, want eerder as magiese oorsake is daar ’n poging om wetenskaplike verklarings te gee vir die ongelooflike goed wat gebeur.

Ek wens, ek wens speel wel met die idee van fantasie, maar op die ou end is dit tog in die alledaagse werklikheid geanker.

Wat alles ’n omwonde manier is om by die punt te kom dat ek glad nie van fantasie as genre hou nie!

Die historiese aard van my stories spruit deels uit my belangstelling in geskiedenis, en deels daaruit dat omstandighede my dwing om my Suider-Afrikaanse verhale in die verlede te plaas. Ek is al byna ’n kwarteeu gelede landuit en sou nie ’n oortuigende hedendaagse verhaal kon skryf wat daar afspeel nie, behalwe uit die oog van ’n besoeker.

Jy vra oor die kombinasie van genres. Ek dink nie so planmatig daaroor nie – dis maar net dat my voorkeure my werk kleur. Met Geheim van die gruwelsand het ek begin met ’n idee wat suiwer wetenskapfiksie was, ’n genre waarin ek voorheen net ’n ongepubliseerde kortverhaal of twee geskryf het. Dit het mettertyd vervorm namate die storie kinkels bygekry het.

Omdat die opset uiteraard lig is, het ek my daarin verlekker om ’n storie te skryf wat terugslaan na die populêre fiksie wat ek in my jongdae geniet het – van Frits Deelman tot Temmers van die woestyn.

Tot dusver het ek heelparty historiese boeke geskryf, maar eintlik wil ek my nie tot ’n spesifieke genre beperk nie. ’n Nougesette fokus sou seker kommersieel meer sin maak, omdat lesers dan sou weet wat om te wagte te wees, maar ek wil nie dieselfde soort boek oor en oor skryf nie; ek laat my liewer lei deur idees wat my inspireer, en hulle kom in allerhande gedaantes.

Lesers moet maar met elke boek besluit of dit ’n reis is wat hulle wil meemaak of nie. Met hierdie boek se aanbieding het ons byvoorbeeld baie moeite gedoen om duidelik te maak wat lesers te wagte kan wees, dat dit nie Ek wens, ek wens of Die vertes in se portuur is nie. Ons het selfs die titel ooglopender gemaak. My werkstitel was: Woes, woester, woestyn.

In die eerste hoofstuk (en dan tussendeur in die verhaal) sien mens: Barrabas Dawid Nel is in die moeilikheid. Mens sien dis in die middel-1900's. Jou karakter is gebore in die destydse Duits-Wes-Afrika. Jy het grootgeword in hierdie streek - in Namibië. Maar in 'n gans ander era. Ek het twee vrae hieroor: Keer jy terug na die omgewing omdat jy dit ken, en hoe doen jy navorsing oor alles wat jy nie eerstehands van die omgewing ken of beleef het nie, soos die geskiedkundige tyd waarbinne jou verhaal afspeel?

Omdat die verhaalgegewe so verregaande is, was dit belangrik om dit in soveel werklikheid as moontlik te anker.

My aanvanklike idee was vir ’n storie wat op Mars afspeel, maar toe kry ek die gedagte dat die Namib se landskap nie te doodver van Mars af is nie – ten minste op die oog af. En ek ken die Namib ‘n bietjie. Ek is in Walvisbaai gebore en het in my voorskoolse dae in die woestynsand gespeel.

Die Namib het ’n bekende dimensie aan die verhaal verleen en die historiese agtergrond het verdere verhaalmoontlikhede ontsluit.

Nogtans moes ek navorsing doen – oor die woestyn en oor die historiese tydperk waarin my storie afspeel, naamlik 1942, met El-Alamein en Stalingrad in die agtergrond.

Ek het veral waardevolle hulp by my neef gekry wat ’n joernalis in Windhoek is. Hy het in hulle koerant se argiewe rondgesnuffel en vir my digitale knipsels aangestuur met indertydse plaaslike nuus wat ek in die storie kon inwerk. As ek dus skryf dat Barra vir André Huguenet gaan kyk het, dan is dit omdat die befaamde akteur daardie jaar wel in Windhoek opgetree het.

My ouers was daardie tyd in Windhoek, en ek het ons familiegeskiedenis ook betrek. Barra loseer in dieselfde straat waarin my ouers gewoon het en, soos my pa, speel hy rugby vir Wanderers. Die ou boeremense met wie Barra later in die boek te doene kry, is basies my ouma- en oupagrootjie, by name, op dieselfde familieplaas wat ook in my Duitswes-reeks figureer as Mordegai Guruseb se skuilplek.

Verder goegel mens maar op die internet.

Jy het lank nie geskryf nie, en toe jy weer aan die skryf raak, vloei die woorde behoorlik. Is dit maklik? Is jou idees geliasseer in die tye van stilte? Is skryf nou jou voltydse aktiwiteit in Nieu-Seeland?

Daar is ’n gaping van iets soos 21 jaar tussen Wydsbeen en ’n Ander mens, ’n tyd waarin ek wel twee boeke in Engels uitgegee het. Ek het deurentyd probeer skryf, maar my gesin en oorlewing moes voorrang kry. Menswees kom voor skryf.

Met die publikasie van ’n Ander mens (’n vertaling van een van my Engelse boeke) tien jaar gelede het ’n deur vir my oopgegaan en ek het ’n afsetpunt gekry vir stories waarvan party se sade reeds bestaan het. Gruwelsand se idee dateer byvoorbeeld uit 2006 se koers. Ek het die boek uiteindelik in 2017 geskryf, net na Ek wens, ek wens. Hy is intussen ’n paar keer herskryf. Wee enigiemand wat ’n ontwikkelingslyn deur my werk sou wou trek deur na die publikasiedatums te kyk!

Van idees liasseer weet ek nie so mooi nie; goed lê in my gedagtes en rekenaar rond. Partykeer stof ek van die ou idees af; meermale kom daar niks van nie.

Ek wens ek kon voltyds fiksie skryf, maar dan sou ek finansieel op die ashoop beland – ek, die lappop, ’n gelapte binneband en 'n ou koerant.

Jy skryf in Afrikaans en jy woon oorsee. Twee praktiese vrae hieroor: Kom die Afrikaans vir jou steeds die maklikste en lê dit die diepste en is dit vir jou die mees natuurlike taal waarin jy kan skryf en droom? En hoe beïnvloed dit jou lewe daar? Is dit hoegenaamd 'n mate van inkomste as jy daar elders woon, in 'n land waar jy kan beskou hoe die Suid-Afrikaanse geldeenheid net daal?

Sedert die 1990’s leef en skryf ek grotendeels in Engels. Heelparty van my Afrikaanse boeke is my eie vertalings van goed wat ek eers in Engels geskryf het. Geheim van die gruwelsand was die eerste boek sedert Wydsbeen doer in 1990 wat ek van meet af in Afrikaans geskryf het. Die onsigbare pou was die tweede.

Ek vind dat die boeke se toonaard verskil afhangend van die taal waarin ek werk. Afrikaans lê my nader aan die hart en ek geniet dit meer om met die medium self te speel, die woordspelings en poëtiese moontlikhede. Ek meen dit wys in die prosa van bogenoemde twee boeke, waarin ek ongebreideld in die kultuur en taal kon wroet. Hopelik waardeer party lesers dit.

In Engels is dit vir my makliker om ’n internasionale aanslag te hê. Ek meen my Duitswes-boeke sou byvoorbeeld in Engels of ’n Europese taal kon werk, hoewel niemand oorsee nog juis belangstelling daarin getoon het nie.

Die feit dat ek in Afrikaans skryf, of ten minste in Afrikaans publiseer, affekteer my lewe op talle maniere. Ek is byvoorbeeld totaal anoniem in Nieu-Seeland, en my skrywerskap kom nooit ter sprake nie. Dié dat ek so losbek babbel as ek kans kry om oor my skryfwerk te praat!

Jy noem inkomste. My tantieme die afgelope jaar sou my skaars twee of drie weke in Nieu-Seeland kon onderhou, maar ek is nie seker of dit in Suid-Afrika veel beter sou wees nie. My boeke is nie blitsverkopers nie.

Die romanse en die blink klippies. Dit versoen darem so mooi. Het jy dit vooraf beplan – die slot? Toe jy die elemente van die verhaal vir jouself uiteengesit het?

Omdat die hoofkarakter ’n diamantsmokkelaar is, was diamante van vroeg in die storie af ter sprake. Die rol wat hulle later sou speel, het gaandeweg ontwikkel, en die slotsin is op die ingewing van die oomblik geskryf – ’n heerlike meevaller.

Ek het nou al verwys na die verskillende genres waarbinne Geheim van gruwelsand pas. En tog knoop die drade effektief. Beplan jy die storie? Plot jy dit vooruit? Dink jy na wat in elke hoofstuk moet gebeur en dan ook in die ondervraging-gedeeltes?

Stories ontwikkel vir my grootliks organies, al skrywend. Soos die mimiekules se gediertes het hierdie boek ook uit saadsand gegroei. As ’n lekker moontlikheid hom voordoen, moet ek soms terugkrabbel om voorbrand te maak vir hom. Ander idees loop dood en dan moet ek hulle drade optel en uitwis. Dit kos baie herskryf.

Hoe ’n storie sy loop kry, is ’n nogal misterieuse proses waarin ek op my instinkte staatmaak – ek stel beslis nie netjiese planne op nie. Waaroor ek wel notas hou, is die tydsverloop, sodat daar nie interne teenstrydighede ontstaan nie.

Al my ander boeke het vir my soul – temas of insigte of oomblikke wat my diep raak. Gruwelsand is nie so nie, dis net ’n lekker storie. Nogtans is ek tevrede dat hy vermaaklike draaie kap en netjies aanmekaargesit is. Die ondervragingstonele vervul byvoorbeeld ’n belangrike rol om lesers te begelei, en speel uiteindelik ’n deurslaggewende rol in die plot. En die boek is sorgsaam geskryf, met aandag aan taal en so aan.

Vir my is ’n lekker woord of wending die diamante wat ek probeer ontgin. Soms is hulle opmerklik, soms nie. Daar is byvoorbeeld ’n sin in die boek wat my elke keer opnuut plesier gee as ek hom lees, maar moenie vir my vra hoekom nie: “Om duistere redes ruik die kombuis altyd na neutmuskaat en gebrande vla.”

Waaraan skryf jy nou? Of vertel iets van die lewe in Nieu-Seeland, as jy dalk nie nou iets oor skryfwerk wil verklap nie.

Tans skryf ek aan niks, vir die eerste keer in goed vyftien jaar. Dalk het ek nou my sê gesê, ná agt boeke in tien jaar. Ten minste vir eers.

Hoe ook al, ek vat ’n ruskans en vang bietjie op met Netflix. Ek is veral versot (my vrou sou sê met die klem op sot) op Koreaanse reekse en probeer selfs tussendeur iets van die taal aanleer, aangesien ek in elk geval soveel ure daarna luister.

Daar lê ’n manuskrip by die uitgewers, ’n historiese whodunit. Dis my mees gewaagde (ambisieuse? literêre?) boek sover, en ek wag nog om te hoor wat sy lot sal wees. Hopelik is daar vir lesers wat Gruwelsand te ligsinnig vind, volgende jaar iets stemmiger te lese.

Lees ook:

My jaar van Koreaanse TV, seumnida!

kykNET-Rapport-boekpryse 2020: ’n onderhoud met Zirk van den Berg

Tweegevreet – ’n Aksieverhaal vir fynproewers

  • 2

Kommentaar

  • Dis vir my interessant dat Zirk 'Geheim van die Gruwelsand' aan my pa, CF Beyers Boshoff, opdra. Nou sal ek dit moes lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top