FMR-resensie: Grietjie se loutering deur Bettina Wyngaard

  • 0

Antoinette Coetzee is ’n medewerker van FMR Boekkeuse olv Amanda Botha.

Uitsaaidatum: 4 Junie 2024


 

Titel: Grietjie se loutering
Skrywer: Bettina Wyngaard
Uitgewer: LUCA (Penguin Random House South Africa)
ISBN: 9780637000741

Soms wanneer ’n mens ’n toneelstuk sien, is daar aan die einde ’n oomblik van gewyde stilte voordat die applous losbars. Dít is die gevoel wat ek ervaar het toe ek Grietjie se loutering gelees het.

Die voorblad berei die leser voor op wat wag. Boaan is die profiel van ’n vrou met toe oë in die houding van iemand in gebed of diep nadenke. In die middel is die titel: Grietjie se loutering. Die woord “loutering” is groter gedruk en beklemtoon reeds wat wag. Dit word ook deur die subteks op die voorblad gesuggereer: “Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.” Dit is ’n aanhaling uit Matteus 5:8. Loutering is ’n proses van geestelike suiwering wat dikwels met pyn gepaard gaan. Die onderste deel van die voorblad toon ’n foto van ’n vrugteboord in bloei met berge in die agtergrond. Slim: hoofkarakter, onderwerp en milieu keurig aangebied.

Bettina Wyngaard is ’n bekende Overbergse skrywer wie se werk reeds bekroon is. Hierdie is egter haar eerste skrywe vir LUCA, ’n onderafdeling van LAPA-uitgewers. Hul fokus is literatuur wat geloof, inspirasie en geestelike groei weerspieël.

Grietjie, die hoofkarakter, is ’n weduwee wat haar inkomste verdien as tydelike huiswerker vir verskeie mense op Grabouw. Die ekonomiese druk is erg, maar haar geloof wankel nie en haar morele kompas is sterk. So ook haar liefde vir haar kinders, Lienkie en Heinie.

Ek het reeds genoem dat dié werk en die emosie wat dit ontlok, mens aanraak soos ’n goeie drama. Dit is dan ook die sterk dialoog wat daartoe bydra dat die leser saam met die karakters ’n pad loop. Veral Grietjie se gedagtes word so beskryf dat dit vir die leser voel asof jy hoor wat sy dink:

Ordentlike mieliepap vat tyd. Eers moet die balans tussen water en mieliemeel reg wees. Te veel water en jy sit met ’n papperasie op hande. Te min en die pap is so stokstyf, jy kan skaars die lepel roer. ’n Stukkie pypkaneel, bietjie sout in die pot en dan roer jy. Jy roer en jy roer ... ’n Stewige klont botter, suiker of heuning, ’n minuut of so terug op die hitte terwyl jy roer, en jy het ’n koningsmaal. Of so glo haar kinders in elk geval van kleins af. (90)

Hierdie woorde is tekenend van Grietjie se ingesteldheid. Sy doen haar bes in alles wat sy aanpak en as enkelouer sorg sy dat haar kinders ’n uitstekende voorbeeld kry. Ons kry te doen met ’n hoofkarakter wat regtig haar geloof uitleef sonder dat daar ’n sweem van pretensie is.

Lienkie, haar dogter, werk in ’n appelfabriek. Sy is ’n aktivis en glo aan reg en verkeerd sonder om haar ma ongemaklik of minderwaardig te laat voel. Op bladsy 102 is sy aan die woord:

Ek het daai case gekyk. Mooi. Sterk. Duur. Baie duur. En sy gee dit weg sonder om te worry waar die volgende een vandaan kom. Generational wealth, Mamma, dis wat daai suitcase represent. Hulle het dit, ons het dit nie. At least kry Heinie nou die kans om die cycle of poverty vir sy kinders te breek.

Haar broer, Heinie, is ’n sagter kind, maar speel uitstekend rugby en word vir ’n provinsiale span gewerf. Ook hy kruip in die leser se hart in. Almal ken so ’n ongekompliseerde matriekseun: “Hallo, Mamma. Hallo, Lienkie.” Hy loer in die pot. “Mielies en boontjiesop. Lekker. My favourite.”

Die mense vir wie Grietjie werk, is uiteenlopend van aard en word geloofwaardig geskets. Onvermydelik raak hulle elkeen op ’n ander manier by haar lewensverhaal ingetrek. Elkeen bly getrou aan hul aard, maar die verhoudings en uitbreiding van die gebeure word so beskryf dat die leser nooit twyfel aan die realiteit van al hierdie moontlikhede nie.

Grietjie se buurvrou is Maggie. ’n Heerlike karakter met wyse raad, sêgoed en lojale vriendskap. Sy is die vriendin en buurvrou wat almal begeer.

Maggie draai Grietjie so dat sy oor die erf en by die hek uit kan sien, na waar haar twee kinders by verskillende groepe staan en gesels.

“Kyk hiesa. Djou kinnes het hulle tribe, soes hulle mos sê. Hulle kan hulle voete onne enageen se tafel instiek, hulle sal ie djou gesigvel aftrek nie. Djy, Grietjie, het hulle reg geraise. Daai’s enough, mee kan djy nie doen nie.”

Grietjie kyk.

“Djy kan hulle nie in watte toemaak ie, al try djy oek. Djou hart loep nou byte djou bôskas ront. Accept it.” (141)

Die proses van loutering veronderstel dat daar bose figure ook gaan wees. In hierdie geval word hierdie karakters en die gebeure wat die pyn veroorsaak, ook geloofwaardig uitgebeeld. Dit is dinge en mense wat elke dag dwarsoor die wêreld mense raak.

Hierdie is ’n oënskynlik eenvoudige verhaal. Die menslikheid wat hier vasgevang word, sal by baie lesers byval vind. In hierdie tyd wanneer leeskringe na werke kyk om volgende jaar te bespreek, verdien Grietjie se loutering ’n plek op die kortlys. Dit is keurig geskryf en die temas wat aangeraak word, sal heelwat bespreking ontlok.

Grietjie se loutering word uitgegee deur LAPA.                      

Lees ook:

Grietjie se loutering: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

FMR-resensie: Twa die tydloper deur Anoeschka von Meck

FMR-resensie: Claremont Daisy deur Willie Hoods

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top