Elisabeth Eybers, die vrou met ’n blou fiets in Amsterdam

  • 12

Immigrant: ’n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers het onlangs by Human & Rousseau verskyn. Melt Myburgh het vir Ena Jansen, samesteller van dié bloemlesing, uitgevra oor die lang pad wat sy met Eybers en haar werk geloop het.

Ena Jansen en Elisabeth Eybers (Foto: Otto Terblanche)

Ena, met Immigrant is dit natuurlik nie die eerste keer dat jy betrokke is by ’n publikasie oor Elisabeth Eybers nie. Voorheen was jy verantwoordelik vir Elisabeth Eybers se "Nederlandse" bundels 1962–1991; Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam; Uit en tuis. ’n Bloemlesing met Nawoord; Klinkklaar en Uit en tuis: Afrikaanse verse uit Amsterdam, saam met Hans Ester. In watter mate was die werk aan Immigrant anders as met die vorige boeke?

Dis natuurlik heel verskillende soorte boeke. Die eerste titel wat jy noem, is die proefskrif wat ek nog by Wits geskryf het. Gerrit Olivier was my promotor en ek kon dit baie voorspoedig tydens my eerste sabbatsjaar navors en skryf, en ek het toe in 1992 gepromoveer. Dit het so goed en gou gegaan omdat ek na my eie gevoel ’n “ideale Eybers-leser” is, iemand wat albei haar wêrelde en die twee tale waaruit sy put, goed ken. Sy is van Johannesburg Amsterdam toe, terwyl ek ná my eerste verblyf van 10 jaar in Amsterdam na die Afrikaans en Nederlands-departement by Wits is waar Eybers self studeer het.

Afstand en verbintenis is ’n monografie oor Eybers, grootliks gebaseer op my proefskrif, maar ek het alles herskryf en hele hoofstukke weggelaat en ander toegevoeg. Dis dus op ’n manier ’n sogenaamde handelsuitgawe van die proefskrif, maar baie “lekkerder”, selfs al is my teorie in verband met “dubbele poëtisiteit” wat ek vir die PhD ontwikkel het, behou – dit bepaal naamlik die manier waarop ek dink Eybers gelees en waardeer word. In die boek is ’n sentrale nuwe hoofstuk wat ’n soort biografie van Eybers vorm – ek het die bykans honderd onderhoude wat met Eybers gevoer is, uitmekaar gehaal en georden om ’n chronologiese beeld te gee van haar gedagtes oor haar jeug, haar ouers, man, kinders en kleinkinders, nuwe ervarings, die politieke situasie in Suid-Afrika, wat sy van Nederland en Nederlanders dink, haar gevoelens oor die liefde, oor ouer-word en die dood. Verder is daar in sowel die Afrikaanse as die Nederlandse uitgawes baie foto’s wat haar wêreld illustreer.

Die ander titels wat jy noem, is al drie bloemlesings – interessant genoeg wou sy tot twee keer toe hê dat die titel Uit en tuis (1995 en 2001) gebruik word. Dié woorde kom voor in haar gedig “Voetjie vir voetjie” waarin sy skryf: “Voetjie vir voetjie word mens immigrant … / Toevallig uit, toevallig tuis.” Klinkklaar (2008) is ’n pragtige bundeltjie met ’n CD waarop Elisabeth Eybers 50 gedigte lees wat ek vir haar uitgekies het. Haar dogter Marita het die inisiatief geneem vir hierdie opname. Die bloemlesing met ’n lang inleiding deur my het eers ná haar dood verskyn.

Hoe het jy en die uitgewer oor die titel van die jongste bloemlesing ooreengekom?

Ek het ’n lange lys met ongeveer 20 moontlike titels gehad, en ek en Nèlleke de Jager van Human & Rousseau het oor baie cappuccino’s week na week gesit en wik en weeg wat die titel moet wees – hier by Manna in Kloofstraat. Baie voorstelle was treffende kort aanhalings uit haar gedigte, maar skielik op ’n dag het ek besef die titel moet Immigrant wees. Dis die titel van die eerste gedig wat Eybers in Amsterdam geskryf het. In 1961. Sy verwoord hierin die ervaring van ’n ontredderde self wie se “katswink hart” en “prikkelbare klier” in Johannesburg agtergebly het en wat sê: “Wie het geweet dat leegte ooit so swaar / sou word en onbelemmerdheid so ’n las?” Dit gryp die leser aan die hart en is die ervaring van baie migrante. As ek dit lees, dink ek altyd aan Milan Kundera se beroemde boek The unbearable lightness of being – van meer as twintig jaar later, 1984. Die middelstrofe van Eybers se gedig lui so:

Om wat verlore is te vergelyk
met die omringende, om klank en lig
te gryp sonder te luister of te kyk
het ek tog nog sintuie aan my gesig.

En dis presies wat sy die volgende 46 jaar tot haar dood op 1 Desember 2007 sou doen: om die nuwe omringende Amsterdamse wêreld sintuiglik te vergelyk met dit wat onwrikbaar in haar agtergebly het.

Amsterdam, 11 November 1998: Ena Jansen aan die woord tydens die bekendstelling van Afstand en verbintenis. In die agtergond is Pierre H Dubois, wat verskeie belangrike artikels oor Elisabeth Eybers geskryf het, en ook by die bekendstellingsgeleentheid gepraat het. (Foto: Pamela Pattynama)

Hoe besluit ’n samesteller watter gedigte moet “in” en watter “uit” wanneer jy met ’n omvangryke oeuvre soos Elisabeth Eybers s’n werk?

Jy soek uiteraard na die gedigte wat jy self as die “beste”, die “interessantste” beskou. Dit was vir my belangrik om ’n balans te vind tussen haar ouer werk – “klassieke” gedigte soos “Maria”, “Jong seun”, “Verhaal” en “Wespark” – en dan met dié wat ek haar Amsterdamse gedigte noem. Die uitgewer se opdrag was ook dat ons moet probeer om nuwe lesers vir Eybers te werf. Die boekie met sy rooi leeslintjie is ook so pragtig, ’n regte geskenkboekie, waarvan ek seker is dat baie ouers en oupas en oumas dit vir hulle oorsese kinders present sal gee. Self op hulle bedkassies sal wil hê om te lees wanneer jy woorde soek vir die groot verlang.

Eybers het ongeveer 900 gedigte geskryf wat in 21 bundels gepubliseer is: sewe in Suid-Afrika vanaf haar debuut in 1936 totdat sy weg is uit Johannesburg in Mei 1961. En toe Balans in 1962 waarin “Immigrant” opgeneem is; dis haar agtste bundel. Hierna sou daar nog 13 bundels verskyn terwyl sy die volgende 46 jaar van haar 92 jaar lang lewe in Amsterdam gewoon het. Toe ek uiteindelik my keuse van 134 gedigte gereed gehad het, was dit baie interessant om te merk dat ongeveer een derde daarvan van voor 1961 dateer en die ander twee derdes dus van daarna. Maar dit was glad nie doelbewus so uitgewerk nie.

Daar is geen twyfel nie dat Eybers werklik een van die grootste digters is wat Afrikaans nog opgelewer het. En die Nederlanders het haar as een van hul eie aan die boesem geneem, soos wat die toekenning van die PC Hooft-prys in 1991 getuig, al het sy in Afrikaans bly skryf. Het jy met die samestelling van Immigrant tot nuwe insigte gekom oor wat Eybers so geliefd vir lesers maak? Sy was immers die eerste vroulike digter om ’n bundel in Afrikaans te publiseer. Wat is jou indrukke oor haar posisie as die enigste vrouedigter onder die Dertigers? Ek is ook nuuskierig oor wat Eybers se persoonlike gevoel was om as ’n Dertiger “geklassifiseer” te word – so saam met die Louw-broers en Uys Krige.

Eybers het WEG Louw sekerlik ook geken en nogal skerp op sy gedig “Drie vensters op die vrees” van 1976 gereageer. Ek kan nie onthou of sy ooit oor Uys Krige gepraat het nie. Sy het veral ’n groot bewondering vir Van Wyk Louw gehad; sy was ook heg bevriend met sy vrou Truida – hulle het tot aan Truida se dood gekorrespondeer. Eybers was, dink ek, altyd verras dat sy so onmiddellik ná die publikasie van haar eerste gedigte in Standpunte reeds so ernstig opgeneem is. Sy was baie ingenome daarmee en haar lewe lank sou sy die skryf van gedigte as haar belangrikste taak beskou, maar sy het haarself nooit so ernstig opgeneem soos wat Wyk, soos wat sy vriende NP Van Wyk Louw genoem het, en later DJ Opperman, dit gedoen het nie.

Opperman het haar in sy proefskrif Digters van Dertig die “vroulike komponent” genoem, as ek reg onthou, en ja, aanvanklik wás haar stem dié van jong meisie, eggenote, moeder. Hoe ouer sy geword het, hoe minder het dit saak gemaak dat sy vrou was – haar perspektief was dié van waarnemer in ’n nuwe land, iemand wat vir haarself kan lag, wat ’n nuwe liefde leer ken, iemand wat vertroud is met heimwee en siekte, wat die grense van die dood aftas. Sy was markante formuleerder van algemeen-menslike emosies, ’n digter van alle tye, vir ons almal.

Toe ek ’n klompie jaar gelede die Van Wyk Louw-lesing by die Universiteit van Johannesburg moes lewer, het ek die verhouding tussen Louw en haar probeer beskryf na aanleiding van ’n nogal raaiselagtige gedig in Tristia wat aan Elisabeth opgedra is. Ek moet trouens my analise van daardie gedig nou regtig spoedig uitwerk vir ’n artikel vir LitNet Akademies! – ek het baie foto’s wat ek van die manuskrip-stadium van die gedig in die JS Gericke-argief van die Universiteit Stellenbosch geneem het.

Die skrywende Elisabeth Eybers (Foto: Wikipedia)

Die titel van die jongste bloemlesing sinspeel natuurlik op Eybers se “dubbele burgerskap” in Suid-Afrika en in Nederland. Wil jy nie ons lesers herinner aan wat aanleiding gegee het tot Eybers se skuif na Amsterdam nie? Ons weet sy het na haar egskeiding van die sakeman Albert Wessels geëmigreer. Sy moes bepaald ’n welaf vrou gewees het, nie waar nie? Hoekom het sy Amsterdam as nuwe tuiste gekies?

Eybers is inderdaad weg uit Suid-Afrika, nie om die “domheid” van die land nie (soos wat sy dit verwoord in verband met byvoorbeeld die gebeure in Maart 1960 by Sharpeville toe 69 betogers teen die paswette deur die polisie doodgeskiet is), maar as gevolg van “eie seer”. Sien haar gedig “Nolens volens” op bladsy 90 in Immigrant. Toe sy 46 jaar oud was, was haar drie oudste kinders al redelik groot: Elisabeth het al in Engeland studeer, Marita was ’n student en Bert was op Grey-kosskool in Bloemfontein. Jeanne was nege jaar oud en het saam met haar ma Amsterdam toe verhuis en woon steeds in Nederland.

Elisabeth se aanvanklike plan was om net vir ongeveer ’n jaar Amsterdam toe te gaan. Sy was baie gevlei deur die aandag van die uitgewer GA van Oorschot wat in 1957 ’n bundel Versamelde gedigte van haar uitgegee het, wat baie suksesvol was. Die feit dat hy haar in Johannesburg gekontak het, het haar sekerlik die moed gegee om so ’n sprong te waag. Sy het besef dat daar Nederlandse lesers is wat van haar werk gehou het.

Die eerste jare in Amsterdam was ondanks hierdie waardering en aandag baie moeilik; sy het aanvanklik klein en redelik beknop op ’n bowe-verdieping in die Beethovenstraat gewoon. Sy het vroeër ook vertaalwerk gedoen: onder meer artikels van Nederlandse akademici in Engels. Later het Albert Wessels finansieel baie goed vir haar en Jeanne gesorg en sy het ’n mooi smal hoë huis in die Van Breestraat naby die Concertgebouw gekoop. Later het sy na ’n gelykvloerse woning in ’n blok aan die Stadionkade verhuis – dis waar sy ook oorlede is. In my boek Afstand en verbintenis is foto’s van al hierdie huise.

Elisabeth Eybers en Ena Jansen in gesprek met Marlene Dumas (Foto: Pamela Pattynama)

Soos almal weet, verdien ’n mens nou nie juis baie geld met die skryf van gedigte nie, selfs al het haar bundels sowel in Amsterdam (eers by Van Oorschot en later by Querido) as in Kaapstad verskyn en daar was dikwels meerdere drukke. Ek vermoed wel dat daar behoorlike tantième-tjeks was, omdat haar gedigte dekades lank in allerlei voorgeskrewe bloemlesings opgeneem is. Sy was ’n geliefde en hoog-gewaardeerde digter met die imago van ’n effense kluisenaar, maar sy was baie gesellig. Haar Suid-Afrikaanse uitgewers, eers Koos Human en later Kerneels Breytenbach, het haar elke jaar besoek as hulle onderweg na die Frankfurt Buchmesse ’n draai in Amsterdam kom maak het.

Ons weet dat Eybers baie privaat was, maar dat sy wel met uitsondering media-onderhoude toegestaan het, onder andere jou wonderlike Sarie-onderhoud met haar in 1975, waaraan NALN ons onlangs weer op LitNet herinner het. In hierdie einste onderhoud skryf jy: “By haar suster in Springs en twee van haar vier kinders sal sy ook weer kan kuier.” Het Eybers Suid-Afrika gereeld besoek ná haar emigrasie? Het sy na haar geboortegrond verlang? Jy het iewers genoem dat jy eenkeer ’n droë winterse graspol van die park by Emmarentia-dam (knap langs die Wespark-begraafplaas) vir haar uit Suid-Afrika saamgeneem het.

Ja! Daai graspol het altyd in ’n glasbakkie op haar vensterbank gestaan. Sy het baie na die blondheid van Hoëveldse winters verlang.

Omdat Jeanne goed aangepas het in die Nederlandse skool, het Eybers besluit om langer as die aanvanklik beplande een jaar in Amsterdam te bly. Die privaatheid, die feit dat min openbare aansprake op haar gemaak is, dat sy nie in dieselfde dampkring as haar eksman beweeg het nie, het beteken dat die Amsterdamse lewe haar goed gepas het. Hoeveel sy ook verlang het. Haar lewe lank.

Ja, sy het ’n paar keer teruggekom Suid-Afrika toe, ’n paar keer om eredoktorsgrade te ontvang (byvoorbeeld in 1972 van Wits en in 1979 van die voormalige RAU) . Die laaste besoek waarvan ek weet, was juis die een in Augustus 1979 – daar is ’n foto van haar met drie kleinkinders in Afstand en verbintenis en ook van die gradeplegtighede. Daarná het sy telkens uitnodigings gekry om literêre pryse in ontvangs te neem, maar sy het elke verskoning onder die son gebruik om nié Suid-Afrika toe te gaan nie! Sy het opgesien teen die reis en al die mense wat sy sou moes sien, en was bekommerd oor haar gesondheid. Haar kinders en talle ander Suid-Afrikaners het haar wel gereeld in Amsterdam besoek.

Ena Jansen se Sarie-onderhoud met Elisabeth Eybers. (Foto: NALN)

Toe jy die Sarie-onderhoud met haar gevoer het, was jy ’n prille 23 en sy was 60. As ek reg verstaan, was dit ook die begin van julle vriendskap wat tot haar dood gestrek het. Hoe ervaar ’n student van die letterkunde ’n vriendskap met so ’n ikoniese figuur?

Aanvanklik het ek glad nie gedink om oor Elisabeth Eybers se werk navorsing te doen nie; ek het dus as student ná my MA by Opperman oor Karel Schoeman se outsider-hoofkarakters (1974) in Utrecht literatuurwetenskap gaan studeer en in totaal ander dinge belanggestel as Afrikaanse poësie.

Ons het dus bloot gebaseer op ’n “hou van mekaar”-manier vriende geraak! Daardie Sarie-onderhoud moes die basis gevorm het, veral omdat ek niks daarin geskryf het van die tog wel baie vertroulike goed wat sy op daardie eerste dag oor haar egskeiding aan my vertel het nie. Sy het ’n keer of wat haar rieme baie styf geloop met mense wat haar situasie vir eie joernalistieke belang uitgebuit het, byvoorbeeld ’n joernalis van Die Transvaler en ander. Haar Suid-Afrikaanse uitgewer was baie ontsteld daaroor; juis omdat sy so ’n private mens was.

In ieder geval: ek en Elisabeth het albei sowel Johannesburg as Amsterdam goed geken. Ons het albei predikant-pa’s, maar was self nogal afvallig en polities-krities; ook ons ma’s was nie tipiese dominee-eggenotes van daai jare nie, maar intellektuele vroue met hulle eie beroepe. Haar ma verjaar nes ek op 18 Maart. Ons het ’n vreemde soort band ervaar as gevolg van al hierdie dinge. Terwyl ek 16 jaar lank aan haar alma mater, Wits, klas gegee het, het ons baie gekorrespondeer en ek het pakke kosbare briewe van haar.

Tussen 1996 (toe ek dikwels vir lang tye in Amsterdam was) en 2001 toe ek weer permanent in Amsterdam gaan woon het, het sy ontsettend baie vir my beteken, ook finansieel, veral aanvanklik toe ek weer my voete in Amsterdam moes vind. Sy het my steeds meer as ’n soort sekretaris beskou wat gehelp het om haar bundels gereed te kry vir haar uitgewers, om te bemiddel met mense wat gedigte wou toonset, bloemlees iewers, haar selfs wou skilder en films neem, onderhoude voer. Dat sy my met al hierdie dinge vertrou het, het baie gemaklik en gemoedelik so gekom omdat dit so lekker was om saam te kuier, meestal weekliks, ook omdat die Stadionkade op my fietsroete tussen die Vrije Universiteit en my tuiste naby die Rijksmuseum was. Die klein swart beursietjie waaraan die stel huissleutels vas was wat sy vir my gegee het, is steeds ’n kosbare besitting. Ek het altyd aangebel en dan self boontoe gegaan.

Ena Jansen het hierdie foto van die digter geneem vir haar heel eerste artikel oor Eybers in die destydse Sarie Marais. (Foto: Ena Jansen)

Ek is ook nuuskierig oor hoe Eybers in Amsterdam geleef het. Het sy fiets gery en in parke gaan stap? Was sy jolig en het sy wyn gedrink?

Ja, dink maar aan haar beroemde gedig “Twee kleuters in die Vondelpark” – sy moes dikwels op ’n bankie gesit en die kindertjies dopgehou het. Ook “Einde van die seisoen” en “Geslote park” is parkgedigte. En ja! Sy het sekerlik fiets gery! Toe ek haar vir die eerste keer in Januarie 1975 ontmoet het, het sy juis vir my haar blou fiets geleen om ’n tweede film te gaan koop vir my Pentax Spotmatic waarmee ek die foto’s vir die Sarie-onderhoud geneem het.

Sy het baie graag gewandel – ek het seker minstens honderd keer saam met haar deur haar buurt gaan stap toe sy al met ’n “rollator” moes loop. En natuurlik toe al lank nie meer fiets gery het nie. Sy het vroeër ook graag uit die stad gery met haar klein silwer Suzuki-karretjie. Sy kentekenbewys/nommerplaat het, behalwe syfers, ’n YN in gehad. Ysbrand Nico, het sy altyd gesê. En sy’t nogal vinnig gery! Ek het ’n hele paar keer saam met haar gery, byvoorbeeld na die Amstel-park aan die rand van die stad en om te gaan “lunch” by Oudekerk. Ook na haar dogter Jeanne wat in allerlei plekke noord van Amsterdam gewoon het, soos Ransdorp en Broek-in-Waterland.

Tydens haar verjaardagnoenmale op ’n Sondag die naaste aan haar verjaardag op 26 Februarie het Jeanne en ander lede van die gesin my altyd saamgenooi vir die middagetes, wat in ’n hotel soos die Hilton of Apollo was. Dit was plesierig en ’n voorreg. Want ja, Elisabeth was inderdaad jolig! Ek ken min mense wat so lekker grappe kon vertel soos sy! Sy geniet dan altyd self die “punchline” en kyk stralend as mens lag.

Op die oggende van haar verjaardag het ek en twee baie goeie ander Suid-Afrikaanse vriendinne, Annemarie Balkema en Bella Goossens, altyd om 10-uur by haar gaan koffie drink en tert eet. En dan was dit altyd vir haar gesellig as ons bly vir ’n drankie. Ook tydens daardie laatmiddae wat ek op pad huis toe by haar langs is, het ons altyd ’n glas of wat wyn gedrink, verkieslik Suid-Afrikaans en rooi. Later het sy gekies vir die rosédooswyn van die Hema, wat vir haar baie lekker was. Haar Suid-Afrikaanse uitgewers het haar ook altyd vir etes genooi en dan is ek dikwels saam; een so ’n aandete was byvoorbeeld saam met Koos in die Krasnapolsy. Haar vriend Pieter Hennipman en haar dogter Marita was ook saam. Die dinee in Den Haag toe sy die PC Hooft-prys ontvang het, was ook uiters plesierig.

Omdat ek in my boek en artikels van Eybers se “tussentaal” praat, bedoelend dat sy ook uit Nederlands put en dit daardeur vir Nederlandse lesers makliker is om haar Afrikaans te volg, het die voorsitter van die PC Hooft-jurie sy huldigingstoespraak begin deur te sê dis danksy hierdie omskrywing van my dat hulle statute dit vir hulle moontlik kon maak om ’n uitsondering te maak en aan haar hierdie belangrikste Nederlandse prys toe te ken. Elisabeth het altyd gesê dis danksy my dat sy hierdie eerbewys gekry het. En dan het ons weer ’n glasie daarop geklink!

Lees op Voertaal hoe die Nederlanders deesdae kop krap oor die toekenning van die PC Hooft-prys aan Elisabeth Eybers:

PC Hooftprijs voor Elisabeth Eybers was tegen de regels, maar iedereen was het ermee eens

Op meer as een geleentheid het jy vertel van Eybers se afsterwe op 1 Desember 2007. Jy het op 30 November jou eerste vyf jaar as hoogleraar met ’n simposium oor Suid-Afrikaanse families in die Suid-Afrikaanse literatuur in die Tropenmuseum gevier. Aan Carina van der Walt sê jy in ’n onderhoud in 2014: “Elisabeth was ’n paar weke daarvóór baie siek en swak. Ek was byna elke dag by haar, behalwe die drie dae voor die simposium. Op die oggend vroeg na die simposium moes ek kies tussen haar éérs besoek en ’n wandeling. Op pad terug van die wandeling af het my selfoon by die tramhalte gelui. Dit was haar dogter Jeanne. Elisabeth was pas oorlede. Ek het dadelik gegaan.”

Ja, dit was baie aangrypend om met haar twee dogters daar in haar woning saam te wees, te wag vir die begrafnisondernemers. En ook so gewoon en goed so. Elisabeth het self baie dikwels so eerlik en sardonies die dood in die gesig gestaar in haar gedigte – iets wat dit makliker vir almal gemaak het. Die familie het my gevra om tydens die begrafnis op Zorgvlied oor haar werk te praat en ook dít was ’n baie groot voorreg. Wat ek toe gesê het, is op ’n paar plekke gepubliseer, onder andere in Tydskrif vir Letterkunde. Ek het haar jare lank verskriklik baie gemis – eintlik nou nog; sy het tot ’n groot mate my lewe in Amsterdam help bepaal.

Toe haar woning reeds in Januarie 2008 ontruim moes word om te verkoop, het ek op versoek van Jeanne daarvoor gesorg dat haar boeke ingepak is om na die nuwe Eybers-kamer in die Zuid-Afrikahuis aan die Keizersgracht te gaan. Ons het later ’n simposium gehou nadat alles gekatalogiseer is. ’n Groot deel van die boekery is later na NALN toe die Zuid-Afrikahuis verbou is en daar nie meer plek vir alles was nie. Ook dít was ’n enorme proses om beslissings te neem oor wat bly in Amsterdam en wat gaan Bloemfontein toe.

In 2015, by NALN se viering van Eybers se 100ste verjaarsdag, het jy die volgende interessante waarneming gemaak: Tydens die kultuurboikot, voordat jy professor in Amsterdam geword het, was “Eybers se hoë profiel in Nederland en Vlaandere immers ’n anachronisme en is niemand se Afrikaanse gedigte behalwe hare en Breytenbach s’n deur Nederlanders gelees nie”. Wat presies was die rede vir Eybers se anachronistiese posisie in hierdie verband?

Eybers het op ’n baie besonderse manier aangesluit by ’n tradisie in die Nederlandse poësie, byvoorbeeld by die werk van M Vasalis, met wie sy ook baie goed bevriend was. Dit het mede daarvoor gesorg dat sy onmiddellik ná die publikasie deur Van Oorschot van haar eerste Versamelde gedigte in 1957 baie Nederlandse lesers gekry het. Dis telkens herdruk en ek weet dat daar tot 1978 6 632 bundels verkoop het!

Na aanleiding van Eybers se sukses het Van Oorschot ’n soortgelyke bundel van Van Wyk Louw gemaak, en ook van Opperman. Ondanks die feit dat Louw ook in Nederland bekend was omdat hy in die 1950’s hoogleraar daar was, is slegs 1 082 van sy bundels verkoop.

Eybers het nie, soos Breyten, ’n openbare politieke profiel gehad nie en is suiwer gelees op grond van haar gedigte, wat tot Nederlanders gespreek het vanweë die universeel-invoelbare emosies wat sy daarin verwoord het. En dít op ’n manier wat sekerlik vervreemdend was, omdat haar gedigte áltyd in Afrikaans geskryf en gepubliseer is, maar vertroud genoeg om te verstaan. Ek het ’n keer ’n artikel geskryf waarin ek Eybers en die skilder Marlene Dumas se besondere plekke in die kultuurlewe van Nederland beskryf het: “Spiegelschrift en Sneeuwwitje in anti-apartheid Nederland” (2008).

Watter bundel in Eybers se oeuvre staan vir jou persoonlik uit, en om watter redes?

Jong, die redes is te baie om op hierdie uitasem-stadium van die onderhoud te formuleer! Ek hou baie van Onderdak uit 1968. Opperman het dit nog met ons behandel toe ek op Stellenbosch was. Dis die bundel waarin haar gedigte al hoe meer sardonies raak, trefseker geslyp en skerp, altyd ook wel ontroerend. Die immigrant-ervaring word daar in onder meer “Ode aan kontroleur de Laar”, “Vandag” en “Tongval” verwoord.

En dan hou ek baie van die bundels wat sy so rondom en ná haar tagtigste verjaardag gepubliseer het: Nuweling (1994), Tydverdryf/Pastime (1996), Verbruikersverse/ Consumer’s Verse (1997), Winter-surplus (1999) en Valreep/Stirrup-cup (2005). Tot op negentigjarige leeftyd skryf sy; die dood word bewustelik geantisipeer. Hier is gedigte wat die leser stem tot huiwering voor soveel moed en vrygewigheid. En bewondering vir hoe sy die grens tussen einde en oneindigheid so nugter beeldend, byna tasbaar verwoord. Ek word nóóit uitgelees aan dié gedigte nie.

Eybers se graf in Amsterdam. (Foto: Ena Jansen)

Ena, na jou uittrede uit die akademie is jy nou in Kaapstad gevestig. Hoe gereeld besoek jy daardie lieflike stad wat jou en Eybers se tuiste vir so lank was? Wie plaas tulpe op haar graf noudat jy nie meer daar woon nie?

Ek het meer as 30 jaar in Nederland gewoon, ongeveer 25 daarvan voltyds in Amsterdam tot in Julie 2018. Die afgelope drie jaar is ek meestal in Kaapstad. Ek gaan wel gereeld terug en was in Februarie 2019 en 2020 self met bossies tulpe daar, maar het op 3 Maart laasjaar teruggekom en was vanweë alle beperkinge in verband met Covid nog nie weer terug nie. My én Elisabeth se goeie vriendin Annemarie Balkema het dikwels saam Zorgvlied toe gegaan en ek is seker sy sal die tradisie voortsit.

 

Lees ook:

Elisabeth Eybers se ATKV|LitNet-Skrywersalbum:

Elisabeth Eybers (1915–2007)

Ena Jansen se ATKV|LitNet-Skrywersalbum:

Ena Jansen (1951–)

Meer oor Immigrant:

Pasverskyn: Immigrant: ’n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers – saamgestel deur Ena Jansen

 

  • 12

Kommentaar

  • Monica Hammes

    Lieflike foto

    Ek lees op die oomblik deur die notules van die Mabel Malherbe-leeskring en kom juis hierdie week af op twee byeenkomste waar Eybers ’n gas was. Weliswaar genoem mev. Wessels (Elisabeth Eybers).

    Die verbasendste was die 15 Augustus 1947 byeenkoms waar ’n sekere mev. Du Plessis twee bundels van Eybers bespreek het: Die vrou en ander gedigte en Die ander dors. Dis nie duidelik wie van dr. Salie du Plessis, mev. L. du Plessis of mev. Virgo du Plessis dié brawe vrou was nie.

    Ek was verstom dat iemand die moed kon hê om in haar teenwoordigheid so ’n bespreking te doen. Wat ewe verbasend was, was dat sy tydens die vraetyd breedvoerig geantwoord het, verse voorgelees het en o.a. opgemerk het dat die sleurwerk van huishouding nogal baie bevorderlik vir die digkuns is – dis die verset teen alledaagse dinge wat haar aanspoor tot poësie. Hierop het een van die huidige lede gesê: “Met Covid behoort die meeste van ons al teen díé tyd aangespoor te wees om 'n digbundel van watter aard ook al te kon skryf ...”

    Op 19 Junie 1959 was sy sowaar weer daar toe mev. Verloren van Themaat die werk van Vasalis bespreek het en Eybers toe vertel het van haar ontmoetings met die digteres.

  • Estelle+Neethling

    Hierdie onderhoud gee 'n diep-deurdagte beeld van 'n merkwaardige mens en digter en haar ikoniese werk. Ek het dit baie geniet

  • In November 2001 reis ek met die 'Intercity' sneltrein van Amsterdam na Goes in Zeeland in die suide van Nederland. Oorkant my sit 'n jongman van so 19 jaar oud. Ons begin gesels oor die 'frost' wat op die landerye lê wat by ons verby flits en allerlei dinge oor Suid-Afrika. Na 'n rukkie vra hy my of ek van Elizabeth Eybers weet aangesien sy in Suid Afrika gebore is en toe ek bevestigend antwoord, blyk dit dat hy haar kleinseun is en in Amsterdam woon. Daarna het ons oor haar gedigte gepraat waarvan hy ten volle kennis gedra het. Klein wêreld? Toevalig? Of speiaal beskik vir my omdat ek haar gedigte vir twee jaar in die Afrikaans Nederlandse klas aan die Universiteit van Natal in diepte Leer ken het. Sulke dinge gebeur net eenkeer in 'n mens se lewe.

  • My wêreld, Adriaan - hoe besonder! Dit klink of dit haar kleinseun Jasper kon gewees het, Jeanne se seun. So 'n lang ou met rooierige hare. Hy sou dalk in Rotterdam afgeklim het. Lees bietjie Eybers se pragtige gedig 'Deesdae' waarin hy as klein knapie met sy ouma in gesprek is.

  • Dis nou baie interessant, Monica! As mens net aan al die stappe onderweg dink; hoe sy sou gery het toe daar nog glad nie 'n snelweg tussen Johannesburg en Pretoria was nie, byvoorbeeld. Dis baie besonder dat die leeskring se notule so volledig is, en dus 'n interessante bron vir biograwe ook. Dankie.

  • Lodewijk Molier

    Wat een mooi artikel over deze Zuidafrikaanse dichteres. En wat fijn dat ik het probleemloos kon lezen zonder enige ervaring met deze taal. Heb alleen twee woorden op moeten zoeken waar ik achteraf ook zelf achter had kunnen komen. Het heimwee van Elisabeth Eybers doet mij aan mijn grootmoeder denken die als 18 jarig meisje met het zeilschip (1898!)van Java naar Nederland kwam. Ze was dus net zoals Eybers ook immigrant en wat heeft ze haar prachtige tropische geboorteland moeten missen! Groeten van haar het Nederland en zijn klimaat nauwelijks missende kleinzoon uit Buitenzorg, voormalig Nederlands Indie.

  • Wat ‘n puik onderhoud, Ena! Ek is opnuut begeester om die Elisabeth Eybers bundels wat ek besit, weer te lees, en geskok dat ek nog nie jou boek "Afstand en Verbintenis" gekoop het nie - maar hoe sien ek nie uit na die lees daarvan nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top