![]() |
Sêgoed van Ena Jansen Oor Soos familie: "Dit is verhale wat ek aangryp om ’n verhaal van afstand en verbintenis te vertel, met die huiswerker as spilfiguur, tolk en ambivalente kontakpersoon tussen wit en swart, ryk en arm, stad en platteland." (Netwerk24, 17 Mei 2016) Wat was vir Ena die belangrikste aspek van die navorsing vir Soos familie en van die boek self? "Aanvanklik het ek gedink dat daar ’n groot stilte rondom bediendekarakters is, maar in stadsboek na stadsboek het ek ontsettend boeiende karakters teengekom. Selfs al is hulle rolle dikwels klein, is die teenwoordigheid van huiswerkerkarakters dikwels belangrike merkers van vrese in verband met identiteit. Tog word bitter min aandag aan hulle gegee in die kritiek." (Onderhoud met Naomi Meyer op LitNet) "It is important that black African writers be heard - to cover more ground from the time when old literature was dominant to new times where there are important opportunities and an obligation to write." (Free State News, 16 Oktober 2015) "My message to budding writers is that they must listen to the writers such as the author of Native nostalgia, Jacob Dlamini, and the revered author and professor, Njabulo Ndebele. And they must keep a diary of their daily activities. The everyday is important, write about the experiences of your family - literature is an important depository and archive of all these voices and experience." (Free State News, 16 Oktober 2015) "Soos familie is gebore uit ’n behoefte om die stories te vertel van mense wat dekades lank vir wit stedelinge - soos vir my - ’n brug was na 'die ander': ’n ander ras, ander taal, ander kultuur, ryk teenoor arm, voorstad teenoor township. Mense wat dikwels in die herinneringe beskryf word as 'soos familie'. Maar die woordjie 'soos; spreek boekdele." (Rapport, 10 Mei 2015) Het Ena ooit ’n liefde/haat-verhouding gehad met Suid-Afrika of met Afrikaans? ’n Baie twyfelagtige “Hmmm, nee-ee …” lei Jansen se antwoord in. “Ek was baie sterk teen apartheid gekant. Dis hoekom ek destyds nie teruggegaan het nadat ek my studie aan die Universiteit van Utrecht voltooi het nie. Al my kollegas wat saam met my studeer het, het teruggegaan, maar ek wou nie. Totdat ek ’n tydelike pos by Wits gekry het. In daardie tyd was ek saam met Johannesburgse vriende baie aktief in die politiek en kon ek ’n bydrae lewer.” (Onderhoud met Carina van der Walt op LitNet) Ervaar sy tekens van vernederlandsing in haarself? “Ek het absoluut vernederlands, maar ook definitief Afrikaans gebly. Dis lankal dat ek nie meer dink ‘óf ... óf’ nie, maar ‘én ... én’. As ek hiér is, verlang ek Suid-Afrika toe, maar as ek daar is, verlang ek nie eintlik terug Nederland toe nie. Kyk, ons woon fantasties in Amsterdam in ’n heerlike woning digby die Rijksmuseum. Ek kon nie vir ’n lekkerder plek vra om te bly nie. Ons sal maar sien waar ons ons later wil vestig. Dis nie die tipe vraag waaroor ek definitiewe uitsprake kan maak nie.” (Onderhoud met Carina van der Walt op LitNet) |
Gebore en getoë
Ena Jansen en haar tweelingsuster Christine is op 18 Maart 1951 in Natal gebore.
Hulle pa, Johannes Christoffel Jansen (gebore 1924) was ’n boerseun van die plaas Vlakwater in die distrik Viljoenskroon in die Vrystaat. In 2004 publiseer hy sy outobiografie, ’n Weerklank van tagtig jaar 1924–2004. Hy is na Stellenbosch om teologie te gaan studeer en daar het hy in sy katkisasieklas vir Ena (Francina) Myburgh (gebore 1929) ontmoet. Nadat sy as een van Kaapland se topskoliere aan die Engelse meisieskool Rhenish gematrikuleer het, het sy ’n opleiding as spraak- en dramadosent in Kaapstad gevolg by die alombekende Rita Maas en daarmee ’n onderwysdiploma van Trinity College verwerf.
In Desember 1949 is hulle getroud en het die jong predikant met sy bloedjong bruid Natal toe vertrek, waar hy sy loopbaan begin het by die gekombineerde gemeente van Colenso (die kragstasiedorp) en Winterton aan die voet van die Drakensberge. Die tweeling is in Estcourt gebore omdat dit die naaste dorp met ’n hospitaal was.
Toe Ena en haar suster sewe jaar oud was, het die gesin na Utrecht in Noord-Natal verhuis waar haar pa vier jaar lank predikant was voordat hulle na Durban getrek het. Vanaf standerd 3 (vandag graad 5) was hulle in die Laerskool Port Natal en toe na die Hoërskool Port Natal. Christine was hoofmeisie van albei skole.
Die jare op die platteland sowel as dié in die stad was belangrik in Ena se ontwikkeling. In Durban was hulle nie so in die openbare oog soos hulle sou gewees het indien hulle in ’n kleindorpse pastorie tieners was nie: "In die groot stad kon elkeen op haar eie manier ontwikkel."
Hulle ma was ook nie ’n tradisionele predikantsvrou nie. Bo en behalwe dat sy haar eie ateljee gehad en spraakklasse gegee het, was sy ook lid van die destydse NARUK se eerste toneelgeselskap en het baie in radiodramas gespeel. Sy was met mense in die kunste bevriend en die twee dogters het gereeld saam met hulle ouers na toneelstukke en musiekopvoerings in Durban gegaan – in daardie jare was daar ook baie met internasionale kunstenaars.
Ena vertel verder aan LitNet: "My ma het al die boeke van die nuwe skrywers onmiddellik gekoop: Leroux, Brink, Breytenbach, Ingrid Jonker – van standerd 6 se kant het ek alles gelees en is nooit afgeraai of ontmoedig nie. Ook was my ma baie lief vir Elisabeth Eybers, ook vir Audrey Blignault. Ook Engelse digters en natuurlik Shakespeare was op haar boekrakke.
"My oupa en ouma Myburgh het in Durban kom aftree nadat hy jare lank Standard Bank se bestuurder op Darling in die Swartland was. My ma was die enigste kind en ons het baie oor en weer met hulle gekuier. My ma het eers begin studeer toe ons ook universiteit toe is: filosofie en kommunikasiekunde. Die titel van haar MA-skripsie was The concept of dialogue in Communicology with reference to the Platonic dialogue (1981). Sy het ’n hele paar jaar by Unisa en toe op Potch klas gegee terwyl my pa kon gaan boer op Vlakwater. Ons ouers se eie professionele lewens het sekerlik vir ons albei baie selfvertroue gegee om ons eie ding te doen." Christine het later toe sy by die departement Taalwetenskap op Stellenbosch gewerk het ’n MPhil in Antieke Kultuur verwerf.
Ena onthou dat Afrikaanse letterkunde-onderwysers ’n groot rol in haar vormingsjare gespeel het. Sy onthou veral vir Louise Combrink, wat ook ’n vriendin van Ena se ma was en later met die taalkundige Johan Combrink getroud is. Sy het hulle geïnspireer om wyd te lees.
"Op skool was ek ook al dol oor geskiedenis. Ek het byvoorbeeld so ’n Nuusbode-boek wat Anna Böeseken saamgestel het, verslind. Ek was mal oor die ekstra feitjies wat ek teëgekom het in die koerantberigte waaruit die Nuusbode bestaan het en ek dink nog steeds dit was ’n uitstekende manier om ’n oog en oor te kry vir die meer ‘gewone’ nuus en dit te betrek by groter gebeure. Hierdie boek het my ook in die rigting van joernalistiek gestuur. Op skool en tydens my eerste jare op universiteit was ek vas van plan om ’n joernalis te word. Ek was op allerlei skool- en universiteitskoerante en tydskrifte se redaksies."
Ena en Christine matrikuleer in 1968 aan die Hoërskool Port Natal.
Studentetyd in Stellenbosch en Utrecht (1969–1984)
Ná skool is Ena na die Universiteit Stellenbosch waar sy haar ingeskryf het vir ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Duits as hoofvakke.
Oor haar universiteitsjare brei Ena ’n bietjie uit: "Ek het met fassinasie na die ou professore WEG Louw en DJ Opperman gekyk en geluister. Maar eintlik het ek maar naelskraap deur my BA-jaar gekom omdat ek meer op Bikini Beach in Gordonsbaai rondgelê as geswot het. Gelukkig het ek tog gelyk graad gekry saam met my sussie en kon ek inskryf vir Afrikaans en Nederlands Honneurs. Ek het seker nog nooit so hard gewerk as daardie jaar nie. Alles het op sy plek begin val.
"Ek was ook ’n student-assistent en het in absoluut alles begin belangstel, ook baie teater toe gegaan, veral na die Space in Kaapstad waarnatoe ek al van my 2de jaar saam met my goeie vriendin Annelize van Rooyen gegaan het. Ons het dan by haar neef Coert Smit gebly wat langs die groen moskeetjie in Langstraat ’n woonstel gehad het.
"Verder is ek met verloop van tyd ook na formeler plekke genooi, soos na die Louws op hulle plasie ‘Sondraai’ waar ek verstom was oor die ongelooflike skilderye aan hulle mure van mense soos Irma Stern en Maggie Laubscher. Ek was ook ’n paar keer by die Oppermans tuis – groter verskille as tussen dié twee huishoudings kon jy jou kwalik voorstel. WEG Louw het my tydens my MA-jaar gevra om vir ’n semester lank sy klasse waar te neem; ’n groot eer, en dis waar die byna vanselfsprekendheid ontstaan het dat ek later in Nederland sou gaan studeer.
"Ek het my MA-skripsie oor Karel Schoeman (Die karakterisering van hoofkarakters in die verhalende prosa, met verwysing na die werke van Karel Schoeman) geskryf. Ingrid Winterbach en ek het sy aan sy in woonstelletjies in Concord gewoon en aan ons skripsies by DJ Opperman gewerk. Tóé al het ek net gewéét sy gaan ’n groot skrywer word. Haar briewe was ongelooflik. En sy’t die mooiste tekeninge op so ’n geverfde Masonite bord gemaak – enigiets van goggas tot blomkole. Ons het elke dag maalvleis en groenboontjies geëet. En daai dae nog baie gerook. As ek nou daaraan terugdink – ’n wonderlike bestaan so tussen die hoogste toppe van Kerkstraat se ou platane. Met Simonsberg in die verte en die Moederkerk se toring en klokke net so regs van ons." (Direkte e-poskorrespondensie met Ena Jansen)
Voordat Ena met haar skripsie sou begin, het sy’n paar maande by Die Burger as verslaggewer gewerk. Van Desember 1972 tot April 1973 was sy saam met Cas van Rensburg en Paul Alberts in die kunsredaksie se kantoor. Victor Holloway, die redakteur, was lank siek en Ena is as 21-jarige aan die diep kant ingegooi, vertel sy aan LitNet.
Vir haar was die hoogtepunt die Sestigerweek aan die Universiteit van Kaapstad waaroor sy verslag moes lewer: "Ek het elke dag langs Rykie van Reenen aan die perstafel gesit – sy en ek het albei by my tannie en haar goeie vriendin Alba Bouwer in Oranjezicht gebly. Die aand toe Breyten sy 'Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal'-toespraak gehou het, sal ek nooit vergeet nie. Hoe hy vir my die uitgeskryfde toespraak oor Die Burger se politieke joernalis se kop aangegee en ek in die koerant se Volksie afgejaag het met De Waalpad om die storie te gaan tik in Keeromstraat – met Piet Cillié wat oor my skouer loer. Dit het uiteraard die oggend se voorblad gehaal.
"Kort voordat ek in Augustus 1974 in Nederland gaan studeer het, het ek weer vir ’n paar maande (April 1974 tot Julie 1974) by die koerant gewerk. Ingrid Winterbach en Max du Preez en ek was toe saam in die algemene kantoor, Dene Smuts en Annelize van Rooyen was ook daar, Antjie Krog het ook begin. Dit was tye wat my in alle opsigte nuuskierig na die wêreld gemaak het."
In 1974 vertrek Ena na Nederland waar sy in Januarie 1979 haar LittDocts in teoretiese en vergelykende literatuurwetenskap (cum laude) aan die Rijksuniversiteit Utrecht in Nederland verwerf.
Vanaf 1977 tot 1978 was sy assistent vir JJ Oversteegen aan die Instituut voor Theoretische Literatuurwetenskap aan die Rijksuniversiteit in Utrecht. Terwyl sy in Nederland studeer het, was sy ook buitelandse korrespondent vir Suid-Afrikaanse koerante van die Naspers-groep. Nadat sy die doktoraal met haar skripsie oor literatuurgeskiedskrywing behaal het wou sy nie terugkeer Suid-Afrika toe nie en sukkel soms om finansieel kop bo water te hou. Sy werk steeds as buitelandse korrespondent en is ook tydelik biblioteekassistent by die Suid-Afrikaanse Instituut in Amsterdam (1979–1981). Sy doen vertaalwerk en was in dié tyd ook vryskutverslaggewer en -resensent vir onder andere De Volkskrant. Verder doen sy tydelike redaksiewerk by Elsevier Uitgewers in Amsterdam en by Anthos Uitgewers in Baarn. Voor haar terugkeer na Suid-Afrika in 1984 was sy ook ’n rukkie tydelike lektor in Afrikaans aan die Departement van Neerlandistiek aan die Universiteit van Keulen in Duitsland.
In daardie jare het sy baie in Europa en in Midde-Amerika gereis.
Wits (1984–2002)
In Junie 1984 aanvaar Ena ’n pos as dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand se Departement Afrikaans-Nederlands. Sy is gevra om aansoek te doen vir die toe pas-oorlede Anita Lindenberg se pos. "Eintlik wou ek glad nie terugkom Suid-Afrika toe nie; ek het toe al ’n paar keer uitnodigings gehad om byvoorbeeld vir André Brink in te val in Grahamstad en om aansoek te doen vir iets op Stellenbosch – ek het dit sonder enige wroeging van my afgeskuif. Maar Johannesburg was ’n nuwe uitdaging en my ouers het aangehou dat ek tog moes probeer terugkom; al kom ek net vir ’n jaar – ek kon mos altyd teruggaan Amsterdam toe as ek regtig wou. Ek het daarom my Amsterdamse woonplek nog lank onderverhuur, maar later met my hele hart gekies vir Johannesburg.
"Dit was ’n uitstekende beslissing. Die departement was fantasties: die hoof was Ernst Lindenberg en van die ander kollegas was John Miles, Ampie Coetzee, Gerrit Olivier, die taalkundiges Edith Raidt en Anna Coetzee. Marlene van Niekerk, wat ek al goed geken het van ons Amsterdam-dae, het later bygekom. Juis oor die politiek wou ek wegbly uit Suid-Afrika, maar juis die politiek het dit so belangrik gemaak om terug te wees.
"Ek was in daardie tweede helfte van die moeilike jare 80 betrokke by die End Conscription Campaign wat veral met Afrikaanse posters (‘Troepies uit die Township’) ’n breër bewussyn wou skep. Ons het ook ’n Afrikaanse Demokrate-groep gehad en ek was betrokke by die Black Sash. En natuurlik was dit die hoogtyjare van die Vrye Weekblad – toevallig het ek in én die allereerste én die allerlaaste VW ’n resensie gehad. Ook by Die Suid-Afrikaan en De Kat se boekeblaaie was ek baie betrokke – dit was die jare van baie resensies skryf en voortdurend op ’n soort gespanne koord loop.
"Saam met vriendinne Marlene van Niekerk, Marianne de Jong, Irna van Zyl, Johannie Pretorius en Hanlie Malan het ons as reaksie op die noodtoestand maande aan ’n kabaret geskryf en geoefen – dis net een aand in die Black Sun in Hillbrow opgevoer – met die mees waansinnige en uittartende tekste. Een reël wat my bybly is ‘Ou Magnus lig sy rok; Tannie met die rooi, tannie met die rooi, tannie met die rooi rokkie’! Ralph Rabie het toe ook pas opgetrek Johannesburg toe en by Irna-hulle in die Westdene-huis gebly. Hy was die enigste ou wat klavier kon speel – en só het hy by ons betrokke geraak. Later het hy Hillbrow toe getrek en aand na aand het ons in sy leë woonstel geoefen. Kort ná ons kabaret het hy sy werk by Rapport opgegee en voltyds musiek begin maak en as Johannes Kerkorrel beroemd geword. Op sy plaat Eet Kreef (1989) is van die liedjies wat ons vir ons kabaret gemaak het, onder andere Marianne se ‘Ou ou lied van Afrika’."
Ena was lektor tot 1992 en daarna tot 1998 senior lektor in die departement Afrikaans-Nederlands aan Wits. Vanaf 1999 tot Januarie 2001 was sy mede-professor en vanaf 1999 ook die laaste hoof van die departement.
Weer in Amsterdam vanaf 2001
In Februarie 2001 is Ena aangestel as "universitaire docent" by die vakgroep Nederlandse Letterkunde aan die Vrije Universiteit te Amsterdam. 70% van haar tyd sou aan onderwys bestee word en die ander 30% aan navorsing. Later is ’n paar vakgroepe saamgevoeg in die nuwe afdeling Literatuur en Samenleving en kon sy aan die VU steeds meer dikwels ook aspekte van die Suid-Afrikaanse letterkunde by haar onderwys betrek.
In 2002 is die leerstoel Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam heringestel nadat dit in die 1970's, om politieke redes, afgeskaf is. NP van Wyk Louw was professor in die 1950’s en Merwe Scholtz in die 1960’s. Ena is aangestel as die eerste post-apartheid "bijzondere hoogleraar Zuid-Afrikaanse letterkunde" en het dié pos gekombineer met haar VU-werk.
In ’n onderhoud met Ena skryf Gawie Keyser (Die Burger, 10 April 2003) dat die herinstelling van die leerstoel ’n historiese gebeurtenis is. Hy was ook van mening dat dit ’n "hoogtepunt is van die normalisering van kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland". Ena vertel aan Keyser: “Jy kan Afrikaans nou sonder enige skroom oor die wêreld propageer. Dis ’n heerlike tyd om met die leerstoel te begin.” Dit is vir haar belangrik om ’n so wyd moontlike spektrum Suid-Afrikaanse stemme te betrek, dus ook skrywers wat in Engels publiseer. "Aangesien die leerstoel by die vakgroep moderne Nederlandse letterkunde hoort, sal die nadruk op Afrikaanse tekste val. In my lesings praat ek dikwels Afrikaans, maar ek verduidelik wel die moeiliker dinge in Nederlands.”
Ena vertel aan LitNet oor haar jare in Amsterdam:
"Ek het enorm baie tyd en energie aan die leerstoel-aktiwiteite gewy. Dit was vir my heerlik, byna 15 jaar lank van April 2002 tot September 2016. Om in Amsterdam so betrokke by Afrikaans en Suid-Afrika te kon wees, was ’n tuiskoms, dit het wat werk betref my bestaan in Amsterdam nóg sinvoller gemaak as wat dit al was nadat ek agter my hart aangetrek het soontoe. En omdat my ‘partner’ Pamela Pattynama ook ’n bijzonder hoogleraar in Nederlands-Indiese letterkunde aan die UvA geword het, kon ons dikwels kongresse en onderwysreise saam aanpak na verre lande soos Australië, die VSA, Indonesië (waarheen sy steeds dikwels gaan), Suriname en Curacao. Ons reis in dié tyd ook gereeld na Suid-Afrika.
“Ek is ontsettend lief vir die Zuid-Afrikahuis aan die Keizersgracht 141 – ’n plek wat nou weer pragtig gemoderniseer en gerestoureer is. Corine de Maijer wat die bibliotekaris daar is het my deur my jare as hoogleraar in soveel opsigte gesteun, ook die ander mense daar. Die ZAH is naas ons eie huis naby die Rijksmuseum aan die Weteringschans my tweede tuiste in Amsterdam.”
Vanaf 2011 het Ena ’n baie belangrike rol gespeel om te keer dat die Zuid-Afrika Huis in Amsterdam nie verkoop word nie. Haar aksies het tot gevolg gehad dat Naspers by Zuid-Afrika Huis betrokke geraak het, ’n 50%-aandeel daarin verkry het en onderneem het om die gebou te restoureer.
Ena het in ’n toespraak by die Afrikaanse Taalmuseum in Augustus 2015 gesê dat sy elke jaar 20 tot 30 studente het wat die kursusse in Suid-Afrikaanse letterkunde bywoon en daarmee krediete vir hulle graadkursusse verdien. "Wanneer ek in 2016 uittree, sal daar byna 500 Nederlandse studente wees wat op dié manier ’n wye en intensiewe kennis opgedoen het van die Suid-Afrikaanse samelewing en tekste waarin dit uitgedruk word. My promovendi sluit Nederlanders in soos Hanneke Stuit en Annemiek Recourt, maar ook ’n uitstekende Russiese vrou, Ksenia Robbe, wat oor moederskap in die Suid-Afrikaanse letterkunde gepromoveer het. Ook Suid-Afrikaners kom soms in Amsterdam promoveer. Ek is trots daarop dat die jong Hertzogprys-wenner Tertius Kapp by my sy proefskrif wil skryf ." Ná haar aftrede het Ena nog vyf jaar lank promosiereg en sal by die UvA betrokke bly tot 2020.
Sy is sedert September 2016 met emeritaat. "Dit bied ontsettend baie herwonne vryheid: ek voel byna weer voltyds soos ’n student, vryskut. Ek kan kies of ek lê en lees, reis, of navorsing doen. En ek het baie nuwe planne – die grootste werk is eers om my boek Soos familie in Engels te vertaal. Dit sal deur Wits University Press uitgegee word. En ek wil graag Elizabeth Conradie (1903-1939) se biografie skryf. Sy was die grondlegger van die Suid-Afrikaanse biblioteek in Amsterdam."
Ena was deur die jare lid van talle vakverenigings soos die Maatschappij der Nederlandse Letteren (MNL), die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN), die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek (IVN; ook Suid-Afrikaanse verteenwoordiger op die uitvoerende bestuur vanaf 1997 tot 2000), die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap (SAVAL) en die Afrikaanse Letterkunde Vereniging (ALV). Sy is ook lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Van Riebeeck Vereniging (VRV). Sy was aan die ontvangkant van talle beurse, onder andere die Elisabeth Eybers-beurs in 1998.
Publikasies
Nadat sy twee Blokboeke, vertalings en geredigeerde tekste gepubliseer het, word Ena se eerste ‘groot’ boek, Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam in 1995 uitgegee. Hierdie boek is deels gegrond op haar Wits-proefskrif Elisabeth Eybers se "Nederlandse" bundels 1962-1991 (1992). Dit is in 1998 ook in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens en by die bekendstelling van die Nederlandse uitgawe by die Boekhandel Van Rossum het Ena die eerste eksemplaar aan Eybers oorhandig.
In sy toespraak het Pierre Dubois, ’n Nederlander wat ’n Eybers-kenner is, klem gelê op die besonderse rol wat Eybers in sowel die Nederlandse as Suid-Afrikaanse letterkunde gespeel het. "Haar Afrikaans was egter nooit vir Nederlandse kritici ’n rede om haar werk as ontoeganklik te beskou nie." In Ena se toespraak by die bekendstelling het sy gesê: "Daar is wel ’n afstand tussen Eybers en die Nederlandse lesers, maar dit verhoog net die estetiese waarde van die poësie. Liewe Elisabeth, jy bly verbonde met Afrikaanse lesers, ondanks die afstand."
Die eerste vyf hoofstukke van die boek behandel wat Roy Pheiffer in Insig (Junie 1996) "die eksterne geskiedenis van die digter" noem: haar jeugjare en verblyf in Johannesburg, haar besluit om na Nederland te verhuis en haar toetrede tot die Nederlandse letterkundige wêreld, asook die trauma van aanpassing by ’n ander land met al sy nuwe uitdagings.
Pheiffer gaan verder: "Hoofstuk ses sal vir baie lesers die hoofbelang van die boek wees, en nie sonder rede nie, want hier word oor 75 bladsye aandag gegee aan die mens agter die boek. Uit die seldsame onderhoude wat Elisabeth Eybers toestaan, het Ena Jansen stukke wat met mekaar saamhang, gerangskik om tematies sinvolle onderafdelings te vorm , sodat dit ’n deurlopende kripto-biografie vorm, waarin belangrike sake aan die bod kom en die digter se persoonlikheid op ’n simpatieke en sensitiewe manier belig word. Rustig; en weer sonder sensasionalisering. En eerlik."
Hoofstukke 7 tot 10 bevat die meer tegniese aspek van die boek waarin Ena Jansen ’n ondersoek doen na Eybers se tekste om uit te vind wat die essensie van haar digwerk is wat sy beslag in Nederland gekry het. Vir Pheiffer is Afstand en verbintenis ’n bydrae tot die Afrikaanse literatuurgeskiedenis oor ’n hooffiguur waaroor daar nog nie so geskryf is nie.
Op "Vrouefokus" op die destydse Afrikaans Stereo wat op 10 April 1996 uitgesaai is, het Chris van der Merwe gesê dat Afstand en verbintenis vir hom ’n baie lekker leeservaring was. "Dis asof Elisabeth Eybers saam met die boek my huis binnegekom het as ’n gas en ’n vriendin. Dis verpligte leesstof vir elke liefhebber van Elisabeth Eybers en van die Afrikaanse literatuur."
Zandra Bezuidenhout ("Skrywers en Boeke" op Afrikaans Stereo, 16 Mei 1996) sê dat Afstand en verbintenis ’n pragboek is en ’n "besondere verskynsel". "Ek hou veral van die toon en aanslag van hierdie boek: sonder om aan vakkundige integriteit in te boet, vind die skrywer ’n vriendelike, warm stem waarmee sy haar besondere Eybers-verhaal vertel. En tog bly sy ’n gedissiplineerde bemiddelaar. Die leser wat hier op soek is na die sensasionele, of na ’n sentimentele soort heldeverering, sal dit nie vind nie. Dit lyk inderdaad of Jansen daardie selfde balans tussen uiterstes bewerkstellig as wat Eybers so opvallend in haar poësie bereik."
Lucas Malan (Rapport, 12 Mei 1996) noem dit ’n "praguitgawe" en ’n "besondere huldeblyk aan hierdie fassinerende figuur en haar digterskap". Ook JC Kannemeyer het in sy bespreking (Die Burger, 1 Mei 1996) genoem dat Afstand en verbintenis "een van die belangrikste studies is wat onlangs gepubliseer is ". Vir hom is dit die omvangrykste en mees insiggewende studie wat daar nog oor Eybers en haar werk geskryf is. Wat ook vir hom belangrik is, is dat daar baie belangrike biografiese detail, asook ander inligting in die teks is wat belangrik is om Eybers se werk te verstaan.
Ena se intreerede by haar aanvaarding van die pos van besondere hoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde is in 2003 by Vossiuspers van die Universiteit van Amsterdam gepubliseer onder die titel "Eva, wat sê hulle?" Konstruksies van Krotoa in Suid-Afrikaanse tekste. Madeleine van Biljon het in haar bespreking (Beeld, 12 Julie 2004) Ena Jansen as ’n "top-uitvoerproduk" beskryf. Vir haar is Eva fassinerend, veral as die rol wat sy sedert Jan van Riebeeck in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het, in ag geneem word. Die feit dat Krotoa sowel kinderoppasser in die Van Riebeeck-gesin as tolk was, sou later as inspirasie dien by Ena se volgende ondersoeksprojek.
Haar werk as hoogleraar in Nederland het haar baie besig gehou, maar nie so besig dat sy nie tyd vir navorsing gehad het nie. Sy het tientalle kongresreferate gehou en bykans 50 wetenskaplike artikels geskryf.
In 2015 word haar boek Soos familie: stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste by Protea Boekhuis gepubliseer. Op Litnet noem Naomi Meyer dit ’n "verkenning van die rol en betekenis van ongeveer ’n honderd huisbediendekarakters in stadsboeke uit ’n groot deel van die twintigste eeu en daarná". Die sentrale tese van die boek is dat huiswerkers die belangrikste verbindingsfigure en tolke in Suid-Afrika is: tussen wit en swart, stad en platteland, tussen ryk en arm.
Ena vertel aan Naomi Meyer dat om navorsing oor ’n spesifieke onderwerp te doen dikwels ’n persoonlike oorsaak het. "Wat hierdie boek betref, is dit Nomahobe Cecilia Magadlela, wat 25 jaar lank op Donderdae in my huis in Melville gewerk het. Wat ek van haar lewe leer ken het, het my bewus gemaak van die geweldige spanning waaronder vroue leef wat in die stad woon, maar wat steeds noue bande behou met ’n landelike gebied. Ek het ook al hoe meer besef dat as dit nie vir haar was nie, sou ek niks van haar Oos-Kaapse wêreld geweet het nie. Steeds is ons betrokke by mekaar, selfs al woon ek die grootste deel van die afgelope jare in Amsterdam en selfs al is sy laas jaar met pensioen 'huis toe'. Eers toe sy aankondig dat sy wil aftree, het ek my huis in Melville verkoop. In Januarie 2015 het ek vir Cecilia naby Cofimvaba gaan kuier: dit was ’n groot ervaring om haar by haar eie huis mee te maak; om uiteindelik saam met haar rond te loop in die dorpie bestaande uit tipiese heldergekleurde rondawels maar ook moderner huise teen die groen heuwels; die plek wat al die jare die spil van haar bestaan is."
Vir Ena is die sentrale tema van haar boek die volgende: "Skrywers en kunstenaars beeld uit wat hulle waarneem en hierdie voorstellings beïnvloed dan weer die manier waarop ons na 'die werklikheid' kyk en hoe ons ons gedra. Stuart Hall praat van die 'cycle of representation', die sirkelgang van uitbeelding. As Kobie Malan in ’n Maasdorp-boek die bediendes hiet en gebied, vind jy dit normaal juis omdat die skrywer dit so normaal aanbied. Ontwrigtende stories, geskryf deur byvoorbeeld Elsa Joubert, Kopano Matlwa, Zukiswa Wanner en Imraan Coovadia, is egter noodsaaklik omdat dit ons anders laat kyk na die per definisie troubled verhouding tussen werkgewer en huiswerker. Stories soos 'Agterplaas' kan ons leer om ons eie bevoorregting te bevraagteken en om opnuut na te dink oor menswaardigheid en medemenslikheid oor kleur- en klasgrense heen. Soos familie probeer om hierdie moeilike kwessies so onderhoudend moontlik aan die orde te stel." (op BooksLive)
Die UJ-prys vir kreatiewe skryfwerk in Afrikaans is in 2016 vir Soos familie toegeken. By die ontvangs van die prys het Ena gesê: "Onlangs het ’n Nederlandse kritikus geskryf: 'Goede non-fictie behoort tot de literatuur: ook al is er geen jota aan verzonnen.' Volgens die kritikus kan goeie niefiksie net soos ’n goeie roman ’n soektog wees wat die grense van die ek oorskry. Dit kan ’n mentaliteitsverandering teweeg bring en kan die leser ánders na bekende dinge laat kyk.”
Ena: "Die keurpaneel vir die UJ-prys vir skeppende skryfwerk het vanjaar drie niefiksieboeke en twee romans vir die kortlys gekies. Dat julle my boek as wenner gekies het, ’n niefiksieboek waarin geen jota versin is nie, was vir my oorstelpende nuus. Dat julle selfs baie dieselfde kriterium as die Nederlandse kritikus hanteer, het my verras en verskriklik bly gemaak. Julle skryf immers oor Soos familie, en ek haal aan uit die kort keurverslag waarin die nuus van die pryswenners bekend gemaak is, dat Soos familie 'die Afrikaanse letterkunde sowel as die leser se bewussyn verryk, verruim en verdiep'. Dankie vir die oop gemoed waarmee julle Soos familie gelees het en gehoor het wat ek probeer sê. Dit het jare van lees gekos, van soek, van keuses maak, van kombinasies vind om die so bekende Suid-Afrikaanse verhaal wat ek wou vertel, so effektief en toeganklik moontlik oor te dra.
"Dat ek vanaand hierdie prys ontvang, beskou ek as ’n eerbetoon aan die vroue oor wie die boek gaan. Dis ’n eerbetoon aan al die vroue wat in weerwil van baie spanning tog hul kanse aangryp en in stede huiswerk doen. Dis ’n eerbetoon aan die vroue wat oor die drumpels van wit mense genooi word; in die eerste instansie omdat hulle werkkrag so gewens is, maar óók omdat hulle sulke belangrike vertrouenspersone is vir baie wit kinders, gesinne en alleenlopers. Dat hierdie verhouding uiters ambivalent is, dat daar voortdurend onderhandel moet word, besef ek steeds. Dis ’n verhaal met ’n lang geskiedenis. (...)
"Ek sou hierdie boek nie kon geskryf het as ek nie self in Johannesburg gewoon het en so intens in die stad se geskiedenis en die verhale van skrywers oor die stad begin belangstel het nie. Ook die feit dat ek self werkgewer van ’n huiswerker was, is van groot belang.
"Daarom wil ek afsluit deur die een persoon te bedank wat my sekerlik die meeste geïnspireer het om die boek hoegenaamd te kon bedink: Cecilia Nomahobe Magadlela, wat ’n kwarteeu lank op Donderdae in my huis in Tolipstraat hier naby op die grens tussen Melville en Westdene gewerk het.
Sy is een van die duisende Oos-Kaapse vroue wat om den brode Johannesburg toe gemigreer het, 'with just a little bag' onder die arm om haar eie heil te soek, maar ook om te ontvlug aan ’n opgelegde huwelik. Sy is in die stad getroud met London Banda, ’n Malawiese tuinier wat ongelukkig al in 1997 aan ’n hartaanval oorlede is. (...)
"Soos familie is ’n boek oor Suid-Afrika, maar in sy hart is dit ’n boek oor Johannesburg. Oor vroue soos Nomahobe Cecilia Magadlela en hulle dikwels veels te niksvermoedende werkgewers wat deur middel van die opteken en lees van ware én literêre stories tog kan probeer om iets meer te verstaan van die verstrengeldheid van ons almal se lewens. Baie dankie aan die Universiteit van Johannesburg dat julle vanjaar julle belangrike prys toeken aan Soos familie, dat julle Soos familie en sy verhaal wat onder meer so spesifiek oor Johannesburgse mense gaan respekteer en vereer."
Ena verduidelik aan Protea Boekhuis (op BooksLive) hoekom Soos familie vir haar so belangrik is en so na aan haar hart lê: "Die onderwerp het tot ’n aangrypende jarelange ontdekkingstog deur die Suid-Afrikaanse letterkunde gelei en my laat besef dat ’n vergelykende oorkoepelende benadering van literatuurgeskiedskrywing moontlik is waarin temas sentraal staan: 'oral history'-onderhoude, outobiografiese vertellinge en ernstiger letterkunde kan langs mekaar en deurmekaar ondersoek word. Alles vorm saam ’n argief van die gedeelde, maar veral verdeelde Suid-Afrikaanse leefwyse.
"Ek kon vrouekarakters wat vroeër so goed as geïgnoreer is, nou na vore skuif. Dit is ook die rede waarom onderafdelings van hoofstukke nie die titels van skrywers of boeke het nie, maar juis die huiswerker-karakters se name. Voorbeelde is Siena in Etienne Leroux se Die eerste lewe van Colet (1960), Adija in Elsa Joubert se verhaal 'Kaap' (1980), Faith Mbatha in Ingrid Winterbach se Landskap met vroue en slang (1996) en KC Mhaga in Eben Venter se storie 'Bettie' in Twaalf (2000).
"My passie vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis en stadsontwikkeling kon ek tydens die skryf van die boek kombineer met my liefde vir die letterkunde, en laastens, was dit belangrik om in die skryfproses my uitgangspunt bevestig te sien: dat huiswerkers vanweë hulle ambivalente posisie in die kontakgebied tussen ras en klas perfek geposisioneer is om belangrike tolke en vertalers in die Suid-Afrikaanse samelewing te wees: tussen ryk en arm, stad en platteland, wit en swart."
As Ena vyf huiswerkerfigure kan uitsonder wat haar geïnspireer het om Soos familie te skryf, is dit (a) "Nomahobe Cecilia Magadlela (gebore 1950) wat oorspronklik van die Oos-Kaap is en nou weer terug in Cofimvaba met pensioen nadat sy byna 40 jaar lank in Johannesburg gewoon en gewerk het. Sy het 25 jaar op Donderdae my Melville-huis en sy mense versorg; (b) Ou-Melitie – Alie se dierbare oppasser in Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas (1955); (c) Klein Julia – die bekkige 'Joh’burg-nuffie' oor wie Minnie Postma ’n skets geskryf het in Ek en my bediende (1955); (d) Liesbeth – die vrou oor wie Barbara Fölscher ’n aangrypende kortverhaal 'Kinders grootmaak is nie pap en melk nie' in haar bundel Reisgenoot (2002) geskryf het; (e) Eve – wat in 1992 vir die eerste keer in die Mail & Guardian verskyn het in die Madam & Eve-strokies; altyd het sy ’n weerwoord en is sy ’n hoopgewende ikoon van verandering; en dan natuurlik Poppie Nongena (Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert). En Agaat."
In Die Burger van 18 Julie 2015 skryf Jean Meiring dat Soos familie, Ena se “meditasie” oor huiswerkers, "meesleurend en monumentaal" is. Vir hom het dit iets te sê vir alle Suid-Afrikaners, maar veral vir daardie geslag wit Suid-Afrikaners "vir wie die nederige blikbeker en dikwels gekraakte beker onder die wasbak gemeenplaas was."
Meiring meen dat Ena Jansen nooit sentimenteel in haar benadering was nie en die boek is ook nie ’n "waarheids-en-versoeningstranedal" nie. "Tussendeur die mildelike gebruik van tegniese begrippe, soos fokalisator en alwetende verteller, is Jansen se betoog maklik om te volg en aangrypend. (...) Soos familie is ’n gróót en onomstootlike prestasie."
Gerrit Olivier sluit sy bespreking van Soos familie op LitNet as volg af: "Een van die dinge wat literêre ontleding belangrik maak, is die vermoë om ’n mens opnuut te laat dink oor wat as vanselfsprekend geag is, om nuwe perspektiewe te open. Jansen verdien ’n wye leserskring vir die wyse waarop sy insiggewend, genuanseerd en met respek oor omstrede en emosionele aangeleenthede skryf sonder om ooit in sentiment te verval. Dit behaag my om ook te kan sê dat die uitleg en ontwerp van Soos familie, met ’n pragtige en vanpaste buiteblad en die insluiting van werk deur bekende kunstenaars, ten volle reg laat geskied aan die toewyding en sorg wat uit die teks self spreek. Protea Boekhuis se uitgawe toon dat akademiese en intellektuele boeke ook esteties voortreflik kan wees, en lekker om in die hand te hou."
In 2016 het ’n tweede hersiene druk van Soos familie verskyn en was dit op die kortlys van die KykNet-prys vir nie-fiksie. In 2016 en 2017 tree Ena gereeld op (onder meer by die Woordfees, die KKNK en die Suidoosterfees) om oor Soos familie te praat. Ook praat sy oor die Boereoorlogdagboek Ons Japie deur Anna Barry (2016) waarvoor sy die inleiding geskryf het.
Vir Ena is lees, reis, kunsgalerye en museumbesoeke hoog op haar lys van ontspanning, vertel sy aan LitNet. "Eintlik is konsentrasie en fokus op sigself so noodsaaklik dat dit vir my ontspannend is. Ek is baie lief vir rondry en die wêreld sien.
"Ek hou sowel van stede as die platteland. Swem in die Seepuntswembad is belangrik in die Kaap, terwyl fietsry in en om Amsterdam lekker én nuttig is. Koerantlees met een koppie sterk cappucino by ’n vertroude plek ná ’n vroegoggendwandeling is sowel in Amsterdam as Kaapstad ’n voorvereiste vir ’n goeie begin van die dag. Ek werk verkieslik tuis, maar kan ook baie lekker in ’n koffieplek konsentreer. Ek het nie stokperdjies soos valskermspring of koekbak nie. Ek het vroeër baie in die Bolandse berge en die Pireneë geklim, nou stap ek graag op mooi plekke soos onlangs op Robberg."
In April 2017 ontvang Ena die Prestasieprys van die Van Ewijckstigting vir haar ‘voortreflike werk as hoogleraar aan die UvA’. Die Universiteit van die Noordwes ken in Oktober 2017 aan haar ’n eredoktoraat toe vir “haar profiel as uitstaande akademikus, haar rol in die heraanbieding van Afrikaans as ʼn akademiese vak in Nederland en haar bydrae as aktivis om Zuid-Afrikahuis as ʼn monument vir Afrikaans in Amsterdam te behou”.
Publikasie |
Die karakterisering van hoofkarakters in die verhalende prosa met verwysing na werke van Karel Schoeman |
Publikasiedatum |
1974 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Stellenbosch: E Jansen |
Literêre vorm |
MA-verhandeling |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
By fakkellig deur Karel Schoeman – Blokboek |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0949964883 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Studiegids |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
’n Verkenning van aspekte van literatuurgeskiedskrywing – met spesifieke verwysing na dié van die Afrikaanse letterkunde. |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Utrecht: Rijksuniversiteit |
Literêre vorm |
Tesis, LittDocts |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Op ’n eiland deur Karel Schoeman – Blokboek |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Studiegids |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Praktiese Nederlands. Saam met Gerrit Olivier |
Publikasiedatum |
1986 |
ISBN |
9780868742366 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Nederlandse taalkunde |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Inleiding tot De Metsiers deur Hugo Claus |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Studiegids |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Elisabeth Eybers se "Nederlandse" bundels 1962–1991 |
Publikasiedatum |
1992 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand |
Literêre vorm |
PhD-proefskrif |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0627021352 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Biografies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Nederlands 1998; vertaal deur Riet de Jong-Goossens. Amsterdam University Press. |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
“Eva, wat sê hulle?”: Konstruksies van Krotoa in Suid-Afrikaanse tekste: rede uitgesproken bij de aanvaarding van het ambt van bijzonder hoogleraar in de Zuid-Afrikaanse letterkunde aan de UvA op 11 April 2003 |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
9056293060 (sb) |
Uitgewer |
Amsterdam: Vossiuspers UvA |
Literêre vorm |
Intreerede |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Ena Jansen as vertaler
- Hoogeveen, Jan: Briewe uit ou Transvaal. Kaapstad: Human & Rousseau, 1982 [ISBN 0798114525 (hb)]
Ena Jansen as samesteller
- Eybers, Elisabeth: Klinkklaar. Amsterdam, Antwerpen, Kaapstad: Querido en Human & Rousseau, 2008. Bloemlesing met voorwoord en cd “Elisabeth Eybers leest”, 2008 [ISBN 9780798150576 en 9789021435060]
- Eybers, Elisabeth: Uit en tuis. ’n Bloemlesing met Nawoord. Amsterdam: Singel Pocket, 2001 [ISBN 9041300287]
- Boer en Brit: Afrikaanse en Nederlandse tekste uit en om die Boere-oorlog / saam met Wilfred Jonckheere. Pretoria: Protea Boekhuis, 1999 [ISBN 0620238313 (sb)] (Nederlandse vertaling 2001 deur Riet de Jong-Goossens en Ena Jansen)
- Eybers, Elisabeth: Uit en tuis: Afrikaanse verse uit Amsterdam / saam met Hans Ester. Kaapstad: Human & Rousseau en Amsterdam: Querido1995 [ISBN 0798133856 (hb)]
- Lieve vrouw en kinders. Brieven van een Urker onderwijzer op zoek naar een toekomst in Zuid-Afrika. Baarn: Bosch & Keuning, 1983
Ena Jansen as redakteur
- Barry, Anna: Onse Japie: die Boere-oorlogdagboek van Anna Barry. Pretoria: Protea Boekhuis, 2016 [ISBN 9781485306177 (sb)]
- Een rijke bron: over poëzie. Redakteur saam met Ad Zuiderent en Johan Koppenol. Groningen: Historische Uitgeverij, 2004 [ISBN 9065541934 (sb)
- My ma se ma se ma: Zuid-Afrikaanse families in verhale. Saam met Riet de Jong-Goossens en Gerrit Olivier. Amsterdam: Zuid-Afrikaanse Instituut, 2008
- Woorde open die beskouing: Huldigingsbundel opgedra aan prof Ernst Lindenberg by die geleentheid van sy sestigste verjaardag. Mederedakteur. Durban: Butterworth, 1988
Artikels oor en deur Ena Jansen beskikbaar op die internet
- Books LIVE: Vat 5 met Ena Jansen: Soos familie skuif vroeër geïgnoreerde vrouekarakters na vore
- Ena Jansen
- Ena Jansen
- Ena Jansen: Afskeidsgeleentheid byeengebring
- Ena Jansen: DBNL
- Ena Jansen lê tuig neer in Amsterdam
- Jansen, Ena:
- Afscheidscollege, Ena Jansen: "Van Thandi de nanny tot Thandi de madam"
- Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam
- De geschiedenis herhaalt zich – ook aan de Kaap
- Emily Hobhouse (1860–1926) en haar biograwe: Woordfees 2016
- Ena Jansen praat oor Elisabeth Eybers: literêre dubbelburger
- Ena Jansen se toespraak by Ommietafel by die Afrikaanse taalmuseum
- Die honderdste geboorteherdenking van Elisabeth Eybers
- "ik hoop dat je mij toch verstaat": Ad Zuidernet se stemposgedig oor Venda
- Klinkklare weerbaarheid: Elisabeth Eybers (1915–2007) (’n fragment) (Dana Mouton-gedenklesing, 5 September 2008)
- Laudatio by die oorhandiging van Riet de Jong-Goossens se vertalingserepenning
- LitNet Akademies: Ena Jansen in gesprek met Marisa Botha
- Lofrede: "Krotoa/Eva"-penning voor Riet de Jong-Goossens
- POEM: a "new" literature
- UJ-pryse 2016: Ena Jansen se dankwoord by die ontvangs van die UJ-prys 2016
- Van der Walt, Carina: In gesprek met ... Ena Jansen
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
- Direkte e-poskorrespondensie met Ena Jansen
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.