|
|||||||||||||
"ik hoop dat je mij toch verstaat” – Ad Zuiderent se stemposgedig oor Venda
Die artikel is ’n kort huldeblyk aan die Nederlandse digter Ad Zuiderent en boekstaaf sy betrekkinge met die Afrikaanse literêre omgewing by geleentheid van sy 65ste verjaardag. Sy gedig “Telefoon uit een thuisland” word ontleed met verwysing na Roman Jakobson se omskrywing van taalfunksies en geplaas in die konteks van pogings om deur poësie aan die Suid-Afrikaanse landskap uitdrukking te gee. Daar word ook na die gesprek tussen die Nederlandse en die Afrikaanse literêre sisteme verwys. Zuiderent se gedig en my vertaling daarvan word ingesluit.
"ik hoop dat je mij toch verstaat” – Ad Zuiderent's voice mail poem about Venda
This article is a short tribute to Dutch poet Ad Zuiderent on the occasion of his 65th birthday, with an emphasis on his links with South Africa and Afrikaans literature. His poem “Telefoon uit een thuisland” is analysed with reference to the functions of language as described by Roman Jakobson, but more specifically by relating it to the echo chamber of discourse regarding poetic descriptions of the South African landscape. Reference is also made to the dialogue between the Dutch and Afrikaans literary systems. Zuiderent’s Dutch poem and my translation of it are included.
Wilfred Jonckheere het in 1996 in Vir vryheid en reg. Suid-Afrika in die spieël van die Nederlandse poësie (1890–1990) oortuigend aangetoon dat min lande so baie emosies in Nederland losgemaak het as Suid-Afrika. Hierdie emosies wissel van ongebreidelde verering van helde van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) tot ’n skerp veroordeling van Suid-Afrika se apartheidsbeleid tydens die jare ’70 en ’80 van die twintigste eeu. Eers het veral P.C. Boutens, Willem Kloos en Albert Verwey ten tye van die Anglo-Boereoorlog uiting gegee aan hulle verontwaardiging oor onreg in Suid-Afrika, terwyl onder andere Lucebert, Bert Schierbeek, Remco Campert en H.C. ten Berge dekades later protesgedigte teen die apartheidsbeleid geskryf het, veral uit solidariteit met Breyten Breytenbach tydens sy gevangenskap. In die periode 1976–1990 was interaksie tussen skrywers uit die Lae Lande en Suid-Afrika so goed as beperk tot die kringe van Breytenbach, terwyl Elisabeth Eybers in afsondering haar unieke posisie in sowel die Afrikaanse as die Nederlandse literêre omgewing behou het met twee skares lesers aan weerskante van die ewenaar (Jansen 1996).
In hierdie artikel sal ek aantoon dat Ad Zuiderent se gedig “Telefoon uit een thuisland” (Zuiderent 2000:39–42) weliswaar duidelike verwysings het na sowel die Anglo-Boereoorlogtyd as die anti-apartheidstryd, maar dat dit ook sterk aansluiting vind by Nederlandse gedigte oor Suid-Afrika wat tussen dié twee tydvakke geskryf is. Jonckheere (1999:96–7) wys immers daarop dat Nederlandse gedigte oor Suid-Afrika in dié tussendekades (’n baie spesifieke soort interbellum) glad nie “geëngageerd of politiek manipulerend” was nie: “Het ging nu eerder om een persoonlijke verhouding van mens tot land of van mens tot medemens.” Tematies kan hierdie tussentyd-gedigte volgens Jonckheere ingedeel word in dié waarin die teenstelling Nederland–Suid-Afrika die onderwerp is, gedigte waarin die Suid-Afrikaanse natuur (of bepaalde stede) sentraal staan, en gedigte wat aan spesifieke persone gewy is. As voorbeelde van teenstellingsgedigte noem hy H.A. Mulder se “Twee landen” (in Het randgebied, 1937) en M. Vasalis se gedig “Luchtspiegeling” (in Parken en woestijnen, 1940). Jan Greshoff (1888–1971), wat vanaf 1939 met enkele onderbrekings tot aan sy dood in Kaapstad gewoon het, het slegs ’n paar gedigte oor Suid-Afrika geskryf (“Veel en niets”, “Heimwee”, “Zuid en noord”, “In de Oranjevrijstaat” en “Uitnodiging tot de reis”), en hy het selde die landskap getematiseer. Die landskap was “eerder veroorzaker van een catharsis bij het lyrisch subject”, soos wat Jonckheere (1999:103) dit beskryf.
“Geruime tijd bestond de perceptie in Nederland dat de (Zuid-) Afrikaanse cultuur een onderwerp was dat vermeden diende te worden” (Jonckheere 1999:126). In Over grenzen/ Oor grense (Foster e.a. 2009) wys Van Coller en Odendaal (2009:35–7) in “Toenadering sedert 1990” op die “invloed van die politieke sisteem” wat ná die ontbanning van politieke bewegings soos die ANC en die eerste demokratiese verkiesing in 1994 bepalend was vir die nuwe verhouding tussen Nederlands/Vlaams en Afrikaans. Nadat politieke omstandighede met die totstandkoming van ’n demokraties-verkose Suid-Afrikaanse regering op 27 April 1994 radikaal verander het, was die weg oop vir Nederlanders om (weer) na Suid-Afrika te reis. Die digter en akademikus Ad Zuiderent was een van die eerstes. Reeds in 1994 het hy vir ’n paar weke klas gegee aan die Universiteit van Wes-Kaapland terwyl Wium van Zyl van dié universiteit in Zuiderent se plek as gasdosent na die Vrije Universiteit in Amsterdam gegaan het. Toe die Nederlandse Taalunie in Januarie 1995 begin het om ná jare van akademiese-boikot-aksies Suid-Afrikaanse akademici se agterstand op die gebied van Nederlandse letterkunde te help inhaal, was Zuiderent een van die eerste groep van vier dosente wat in Stellenbosch en Johannesburg werkswinkels vir dosente aangebied het. Sy lesings het oor die mees eietydse Nederlandse poësie gehandel. Daarna het hy ’n aantal resensies en ’n artikel oor Nederland en die Suid-Afrikaanse poësie geskryf[1] en Suid-Afrika weer besoek om ’n internasionale kollokwium by te woon wat in 1997 op inisiatief van die Nederlandse Taalunie gehou is by Itala, ’n klein wildreservaat in die noorde van KwaZulu-Natal. Dit is ook deur Indonesiese afgevaardigdes bygewoon.
In 1994 het onder andere Johann Lodewyk Marais en Renée Marais ’n sterk pleidooi gelewer vir ’n voortgesette debat tussen Afrikaanse en Nederlandse akademici oor ’n verskeidenheid onderwerpe en voorgestel dat Afrikaans en Nederlands voortaan steeds meer in ’n eenheidsverband en vergelykend ondersoek moes word, mét inagneming van die onderlinge verskille. Dit was in ’n spesiale nommer van die tydskrif Ensovoort wat pertinent aan Elisabeth Eybers en die verhouding tussen Afrikaans en Nederlands gewy is (Marais 2009:201). Kort daarna, in 1997, het Johann Lodewyk Marais saam met Zuiderent die belangrike “eenheidsverband”-bloemlesing Ons klein en silwerige planeet. Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing[2]gepubliseer. Met hierdie bundel het die samestellers konkreet meegewerk aan die hernieude belangstelling vanuit Nederland en Vlaandere vir Suid-Afrika en die Afrikaanse literatuur. Bowendien het hulle blyk gegee van hulle eie belangstelling in landskapspoësie,[3] en in hulle inleidings het Marais en Zuiderent op ingrypende verskille tussen die Suid-Afrikaanse en die Nederlandse tradisies gewys. Ook Jonckheere was ’n voorstander van meer kontak: “Men kan dan ook verwachten dat de interactie tussen (Zuid-)Afrikaanse en Nederlandstalige schrijvers vanwege de taal- en cultuurverwantschap, ondanks de tijdelijke vervreemding, in de toekomst vruchtbaar zal zijn” (Jonckheere 1999:126).
Enkele jare later het Zuiderent (2000a:39–42) “Telefoon uit een thuisland” gepubliseer, ’n besonderse gedig oor ’n reis deur Venda wat inspeel op die aktualiteit van (landskaps-)representasie in die algemeen en terselfdertyd baie spesifiek en persoonlik is. Die gedig verwys kortliks na die Anglo-Boereoorlog-sentiment van ’n vorige generasie (sy pa s’n) en neem standpunt in teen die destydse tuislandbeleid. Die gedig verwoord verder veral ook reaksies en emosies wat herinner aan Jonckheere (1999:96) se tipering van die Suid-Afrikaanse gedigte van ander Nederlandse digters, soos Mulder en Vasalis. ’n Verhewigde ervaring van die teenstelling tussen Suid-Afrika en Nederland wek ook by Zuiderent ’n intense, ontstemmende verlange op. Sy gedig is onlangs tereg beskryf as “Ads weergaloos ontroerende parlando-gedicht” (Boomsma 2009:16).
2. Die reeks “Voice mail”-gedigte in Jij als geen ander
Die poëtiese oeuvre van Ad Zuiderent (gebore 1944) bestaan uit die bundels Met de apocalytische mocassins van Michel de Nostredame op reis door Nederland (1968), De afstand tot de aarde (1974), Geheugen voor landschap (1979), Natuurlijk evenwicht (1984), Op het droge (1988), Op de hoogte van Icarus (1993), Jij als geen ander (2000) en Fietser naar niets (2004). In 1984 is die Jan Campert-prys aan die digter toegeken. In 2008 het sy prosabundel met dagboekstukke getiteld Energieke doelloosheid (2008) verskyn. Zuiderent het meer as dertig jaar lank aan die afdeling Moderne Nederlandse Letterkunde van die Vrije Universiteit van Amsterdam gewerk[4] en hy is as akademikus veral bekend vir sy werk oor Gerrit Krol en literatuur oor die watersnoodramp van 1953 in die provinsie Zeeland.
Belangrike fasette van Zuiderent se identiteit speel mee in “Telefoon uit een thuisland” en die vier ander gedigte in die afdeling “Voice mail” in Jij als geen ander (2002): sy Calvinistiese herkoms, liefde vir sy ouers, reislustigheid en belangstelling in kuns, sy behoefte om verslag te doen van wat hy daagliks meemaak, en sy fassinasie met nuwe tegniek. Hy rig hom in die vyftal gedigte tot sy moeder en gee aan haar instruksies om hom per stempos te antwoord. “Telefoon uit een thuisland” is die middelste gedig in die afdeling. Dit volg op “Voice mail 1”[5] en “Voice mail 2” en staan voor “Voice mail 3” en “Voice mail 4”. In teenstelling met hierdie vier gedigte sonder enige strofeverdeling (elkeen is net iets meer of minder as ’n bladsy lank), bestaan “Telefoon uit een thuisland” uit 28 driereëlige strofes wat oor meer as drie bladsye versprei is in ’n soort slingerende vorm met opvallende inkepings. Die slotreël – “al een hele tijd niets dan mezelf” – staan alleen.
Wanneer die reeks van vyf gedigte saamgelees word, lyk dit aanvanklik asof ’n seun, die spreker in die gedig, “gewoon” probeer om sy ma vertroud te maak met ’n moderne indirekte kommunikasiemiddel. Hóé “voice mail” werk, wat die kommunikatiewe funksie daarvan ter vervanging van meer direkte kommunikasie is, word geduldig aan haar verduidelik. Uit die hele reeks stempos-gedigte is dit duidelik dat dit vir die seun uiters belangrik is om met sy moeder in verbinding te bly, juis as hy weg is uit Nederland, byvoorbeeld wanneer hy in sy vakansiehuis in Frankryk besig is om te “klussen en kwasten’’ (“Voice mail 2”), of in Suid-Afrika as hy “even weg [is], niet zo lang, ma, twee maanden, niet meer”. Die objek van Zuiderent se tevergeefse verlange in hierdie gedigte is die stem van sy moeder en alles wat sy verteenwoordig. Hy besef dit veral besonder sterk wanneer hy in Suid-Afrika baie ver weg van sy geboorteland is.
Soos wat op die internet-ensiklopedie Wikipedia gelees kan word,[6] is “voicemail” ’n vorm van diensverlening ter vervanging van ’n persoonlike antwoordapparaat, “dat zich op een platform in een vast of mobiel telefonienetwerk bevindt. Telefoontjes die niet opgenomen worden, worden doorgeschakeld naar het voicemailplatform, waarna er door de beller een bericht achtergelaten kan worden. Op een later moment kan de gebelde het achtergelaten bericht alsnog horen.” Sisteme om te weet dat ’n berig agtergelaat is, is byvoorbeeld ’n sogenaamde “voicemailmelder” of ’n sms wat na die gebelde gestuur word. Dit is vir hom/haar dus moontlik om gereeld na te gaan, te “checken”, of daar nuwe berigte is.
Wat Zuiderent “prakties gesproke” in sy vyf stempos-gedigte probeer doen, is om aan sy bejaarde moeder te probeer verduidelik dat sy sy nommer moet bel en ’n berig moet agterlaat sodat hy, selfs al is hy nie tuis nie, so nou en dan via die “voicemailplatform” haar stem kan hoor. In die eerste van die gedigte (Zuiderent 2000a:37) verduidelik die spreker: “het is zo eenvoudig: voice mail, ma,/ zeg maar stempost;[7] gemak dient de mens,/ want we zijn wel afwezig,/ maar we zijn in een lichtje stand by, dat we zien/ of er iemand gebeld heeft […]”. In “Voice mail 2” (Zuiderent 2000a:38) verduidelik hy dat hy in Frankryk is. Sy sou direk soontoe kon bel, “maar het is een lang nummer;/ je kunt misschien beter gewoon op de voice mail; zelf druk je op memory 3,/ je zegt wat je zeggen wilt, maakt niet uit,/ het is net zoiets als het vroegere bandje/ maar dit is Engels, nee je kunt echt/ gewoon in het Nederlands.” Teen die einde van die gedig is daar weer instruksies: “je belt ons gewoon als altijd, want/ we hebben een code zodat we (je zou/ het niet zeggen) ook al zijn we er niet,/ kunnen horen of je gebeld hebt; het klinkt/ ingewikkeld misschien, maar het werkt,/ dus vergeet het nou niet, want zo is er toch nog contact.”
Dit is duidelik dat van die ses funksies van taal wat Roman Jakobson (1896-1982) in sy beroemde 1960-essay onderskei het, die konatiewe funksie (’n gerigtheid op die aangesprokene deur middel van vrae en opdragte) en die fatiese funksie (’n gerigtheid op die aangesprokene deur middel van vrae ter bevestiging dat die kontak tot stand gekom het, voortgesit of gestaak word) ’n belangrike rol in die vyf gedigte speel. Ondanks al die aansporing en dreigemente sê die moeder niks terug nie. Teen wil en dank is die gedigte dus as monoloë gestruktureer en die leser begin ’n vreemde vermoede kry dat hier iets eienaardigs aan die gang is. In plaas daarvan dat kommunikasie tussen sender en ontvanger as gevolg van die fatiese en konatiewe taalelemente vergemaklik word, word dit ontsettend ingewikkeld, blyk kommunikasie selfs onmoontlik te wees. Die byna smekende toon van al vyf gedigte se beginwoorde val op: “Ma, je moet het nu toch eens proberen”; “Ma, de stem van je zoon, je jongste”; “Ma, met mij, de stem van je zoon”; “Ma, met mij nog een keer”; en “Ma, als je kan, moet je kijken” (Zuiderent 2000a:37, 38, 39, 43, 45).
In “Voice mail 3” (Zuiderent 2000a:43) word dit baie duidelik dat die moeder haar seun nooit meer sal bel nie. Te midde van die reeds bekende telefoonretoriek, ook in hierdie gedig, kom sinsnedes voor wat geen ruimte laat vir ambivalensie of twyfel nie: “tot het laatst was je helder” en “toen we je spullen verdeelden”. Hieruit blyk dat sy vir altyd onbereikbaar geword het, oorlede is. Die spreker se vraag: “zit je te klooien met sterren/ en hekjes” verwys nou nié slegs na die toetse van ’n telefoon nie, maar veral na die sterre aan die hemeltrans, die hiernamaals aan die anderkant van die hek tussen die lewendes en dooies waar sy moeder haar nou bevind. In “Voice mail 4” (Zuiderent 2000a:45) is haar dood ’n voldonge feit, alhoewel die spreker nog steeds by alle herdenkings van gebeurtenisse wat sy moeder meegemaak het (die vrede van 1918 en die watersnood van 1953), uitreik na haar en verlang om met haar te kan praat. In teenstelling met die ander gedigte vra hy haar egter nie meer, tevergeefs, om hom te bel nie, maar rig hy ’n eenvoudige boodskap: “Ma, als je kan, moet je kijken,/ een documentaire, op BBC 1.” Die dwingende toon het plek gemaak vir berusting.
3. “Telefoon uit een thuisland”
Die kerngedig van die “Voice mail”-reeks is, soos reeds gesê, veel langer en meer spesifieke vorm gegee as die vier ander gedigte. Die 28 tersines is ’n vrye, rymlose toepassing van Dante se terza rima en die interteks wat op dié manier geskep word, is van besondere belang vir ’n gedig wat onder meer oor die Christendom en ’n reisiger handel, en wat bowendien in strofes 4 en 28 na die paradys verwys.[8] Bowendien is dit die enigste gedig waarin spesifiek na Suid-Afrika verwys word.
Dit is bekend dat wanneer skrywers en skilders, uitgaande van hulle eie waardes, style en oriëntasies, ’n vreemde omgewing probeer beskryf wat baie verskil van dié waaraan hulle en hulle lesers gewoond is, hulle te make kry met komplekse representasiekwessies. Skrywers van reisverslae, maar ook digters, probeer dan meestal om eksotiese landskappe, mense, flora en fauna wat hulle lesers nie ken nie, te verplaaslik, vertrouder te maak deur dit te vergelyk met aspekte wat hulle lesers wél ken. Vanaf Jan van Riebeeck se Daghregister (Desember 1651 tot Mei 1662) het Nederlanders probeer om aan tuisblyers te beskryf wat hulle in Afrika meegemaak het. In teenstelling met ander Europese reisiger-digters in Suid-Afrika bedien Zuiderent hom nie van tradisionele media soos ’n metaforiese dagboek, brief of reisverslag as draer van sy poëtiese waarnemings nie, maar “vertel” hy oor sy ervarings per telefoon. Hy sluit so op sy eie manier aan by die pogings van Suid-Afrikaanse én buitelandse skrywers om taal te soek vir die land. Darian-Smith e.a. se Text, theory, space. Land, literature and history in South Africa and Australia (1996) en Brown se To speak of this land. Identity and belonging in South Africa and beyond (2006), is twee relatief onlangse boeke wat op die probleme van hierdie pogings ingaan. Coetzee se beroemde White writing (1988) bly egter steeds ’n bakenteks wat vrugbaar gebruik kan word om ook die vreemdeling Zuiderent se ervarings van die Suid-Afrikaanse omgewing te interpreteer. Volgens Coetzee (1985:165) is die rigting wat die poësie van topografiese beskrywing neem, byna voorspelbaar: "either a more and more frenzied application of European metaphor to Africa in an effort to make it yield its essence; or the abandonment of defeated European categories in favour of a putative naturally expressive language".
Coetzee wys trouens in “Reading the South African landscape” daarop dat verbasend min swart digters hulle aan landskapspoësie gewaag het, en dat die talle pogings van wit landskapsdigters om die land te “lees” dikwels faal; of so het hulle dit self ervaar. Dit bly ’n stryd om die kriptiese tekens te lees van ’n land wat so min “toegee”, so min blootlê: “the poet wrestle[s] with the silence of a landscape that absorbs imagination, reflecting nothing” (Coetzee 1988:177). Keer op keer gee digters dan ook blyke van hulle onvermoë om die land te begryp en te verwoord, asof die land self ’n vreemde taal praat. C. Louis Leipoldt het dit vroeg reeds só uitgedruk: “Hier praat die veld ’n onverstaanb’re taal.” Ook die Engelstalige Guy Butler het blyke gegee van sy verbystering en magteloosheid toe hy ervaar het dat die landskap hom verset teen “vertalings” daarvan. Coetzee wys verder daarop dat baie digters, byvoorbeeld Thomas Pringle, probeer het om die probleem op te los deur Afrika nadruklik te beskryf as nie-Europa, as ’n soort negatiewe weerkaatsing of skaduwee van Europa.
3.1 Venda in terme van Dordrecht
Verplaasliking (“domestication”) is die tegniek wat ook Zuiderent gebruik. Hy probeer om alles wat vreemd is, in terme van die omgewing van Dordrecht te beskryf. Hy “vertaal” allerlei vreemde plekke en dinge om hulle vir sy moeder voorstelbaar te probeer maak, en speel veral in op haar kennis van die sending (bv. in strofes 3 tot 5) wat vanuit Dordrecht ondersteun is. Dat Zuiderent se titel na ’n Suid-Afrikaanse tuisland verwys, word eers in strofe 17 duidelik: “we zitten nu een dag of wat in Venda/ Vendaland” (Zuiderent 2000a:40). Soos wat Suid-Afrikaanse lesers goed weet, is Venda een van die tien voormalige “tuislande” of sogenaamde “Bantoestans” van Suid-Afrika, die “hoekstene” waarop die apartheidsbeleid gesteun het. Op 13 September 1979 is die gebied “onafhanklik” verklaar deur die Suid-Afrikaanse regering, waardeur die inwoners hulle Suid-Afrikaanse burgerskap verloor het. Time Magazine het onder andere ’n ironiese artikel daaraan gewy: “The birth of a new non-state”. Eers op 27 April 1994 is Venda heropgeneem in Suid-Afrika en dit maak nou deel uit van die provinsie Limpopo.
Zuiderent verwys spesifiek na talle geografiese en historiese aspekte van die provinsie, en dit is daarom belangrik om Nederlandse lesers kortliks daarop te wys dat Venda ’n redelik onherbergsame gebied van ongeveer 7 000 vierkante kilometer heeltemal in die noorde van Suid-Afrika is. Die naam beteken “aangename plek om te vertoef” (vgl. Zuiderent se verwysing na ’n Eden in strofe 27). Dit is ’n toeristiese trekpleister vanweë die Reënkoningin se rituele en heilige plekke soos die Thathe Vondo-bos en die Fundudzi-meer. Beroemde Venda-kunstenaars wat vanaf ongeveer 1985 “ontdek” is deur Johannesburgse kunsgalery-eienaars, museums en versamelaars, is onder andere Jackson Hlungwani (na wie in die gedig se dertiende strofe verwys word), Noria Mabasa en Johannes Maswanganyi.[9] Die Vendas is oorspronklik afkomstig uit die gebied wat tans Zimbabwe is en het hulle reeds in die 18de eeu in die streek met sy mitiese Soutpansberg, golwende heuwels, watervalle, tropiese bosse en vrugbare velde gevestig. Mettertyd het die “paradijs” in ’n “woestijn” verander. Baie kremetartbome, “baobabs”, kom ook daar voor, soos wat Zuiderent in die elfde en twaalfde strofes skryf.[10] Zuiderent vergelyk die vrugte van die kremetart met vlapoeding (strofe 12); Petraberg weens die groot hoeveelhede besoekers met ’n Nederlandse “pretpark” (strofe 6); en wagtende mense buite hospitale in Venda met ’n surrealisties-aandoende toneel van piekniekende Hollanders. Hulle kom uit ’s-Gravendeel (die geboortedorp van die digter) en Strien (’n ander digbygeleë dorp met die naam Strijen wat hier volgens die dialekuitspraak gespel word) en vergader op die parkeerterrein van Refaja, die streekshospitaal in Dordrecht.[11] Die naam Refaja het ’n Hebreeuse herkoms en beteken “Die Heer genees”. Zuiderent doen baie moeite om ekwivalente situasies te skep vir dít wat hy in Venda meemaak.
Uit tussenwerpsels (“je hebt vast wel gehoord”; “je zult het niet geloven”) blyk dat Venda egter nie heeltemal onbekend is aan die moeder nie. Sy het “Vendaland” nooit self gesien nie, maar sy “ken” dit kennelik van foto’s op kalenders wat ten behoewe van die sending gepubliseer is en van ander gerigte sendingaksies van Nederlandse kerke. So stuur die Christelijke Gereformeerde Kerk reeds jare lank sendelinge na Venda. Die Reformatorisch Dagblad het nog op 29 Augustus 2002 berig dat die Christelike Gereformeerdes ’n “bloeiende en groeiende kerk” in Venda het.[12] Van kindsbeen af het Zuiderent die voorstellings geken wat vanuit Nederland gemaak is van die “arme heidene” in Venda wat mede danksy Nederlandse Christelike Gereformeerde sendelinge gekersten is. Tradisionele godsdiensvorme sou egter, selfs vir die baie Christene in Venda, steeds ’n belangrike plek inneem.
In sy beskrywing van die sending probeer Zuiderent die vertroude beeld van sy ma (en homself) radikaal kantel deur daarop te wys dat mense in Venda die verre Holland as ’n heidense plek beskou waar die mense van “god noch gebod weten” (strofe 26). Terwyl sy moeder en ander kerkmense in die salige waan verkeer het dat die “tuisland” ’n idilliese plek was, weerlê Zuiderent hierdie opvatting en sluit hom aan by die kritiek wat byvoorbeeld Lucebert en Schierbeek tydens die jare ’80 op Suid-Afrika gehad het. Hy beskryf die voormalige tuisland as ’n “woonwoestijn van veertig jaren droogte” (in strofe 8) en verbind sy kritiek aan ’n topos in sowel godsdiens- as natuurpoësie: voorstellings van Eden, van die paradyslike (strofes 27 en 28). Hy sê vir sy ma dat die sogenaamde tuisland absoluut nie ’n Eden was of is nie. Hy beskryf (veral in strofe 26) die sending as ’n vorm van verowering en toe-eiening. Bekeerlinge is voorgehou dat “die beloofde land” binne hulle bereik sou kom. Zuiderent noem sendelinge “Apeldoornse verspieders” (strofe 5). Dit verwys enersyds na die verspieders wat Moses na Jerigo gestuur het om vas te stel hoe die beloofde land veilig bereik kon word (wat eers ná ’n swerftog van 40 jaar deur die woestyn gebeur het, ewe lank as wat die Nasionale Party-regering aan bewind was). Andersyds verwys die beskrywing na die Nederlandse stad Apeldoorn, waar die teologiese kweekskool van die Nederlandse Christelijke Gereformeerde Kerk steeds gevestig is.
Uiteraard het Zuiderent se “vertalings” van wat hy in Venda sien en meemaak, nadruklik te make met sy pogings om sy ervarings op ’n persoonlike manier aan sy moeder te vertaal. Sy Venda-gedig kan egter ook gekontekstualiseer word – mede met behulp van Odile Heynders (2006:18) se “corresponderende leeswijze”[13] – deur dit in verband te lees met die werk van ander digters wat oor die representasie van die Suid-Afrikaanse landskap skryf. Dit is dan duidelik dat Zuiderent homself invoeg in ’n eggoput van vertoë, van ander magtelose stemme wat ook die “verplaasliking”-tegniek probeer het om die vreemde Suid-Afrika te probeer ver-taal. Veel méér nog as Afrikaanse digters wat die veld en die uitgestrektheid van die land ken, wat die bossies en diere kan benoem en wat binne ’n tradisie van Suid-Afrikaanse landskapspoësie staan – al is dit net danksy die resonansies van “Die stem”! – herinner die “nieuw-komer”-reisiger se gedig “Telefoon uit een thuisland” opnuut aan die ou vraag waarmee Europeërs vanaf die begin geworstel het: "whether the African landscape can be articulated in a European language, whether the European can be at home in Africa (Coetzee 1988:167).
3.2 Geen wegwyser
Zuiderent gaan, net soos baie reisigers voor hom, in Venda en elders in Suid-Afrika op soek na ruïnes en die oorspronklike bewoners van die land, na Boesmans (San) en hulle rotstekeninge, na tekens dat hulle wel bestaan het, maar die mense in die omgewing “wisten van niets […]/ waarschijnlijk had God ze zelf uitgewist” (strofe 9). Ook wil hy na die “Nieuwe Jerusalem” van die kunstenaar Jackson Hlungwani (strofe 15) gaan, maar “het zal zoeken worden trouwens,// want bordjes zijn hier niet.” Verder wil hy na Spioenkop en na Bloedrivier in KwaZulu-Natal (strofe 16). Hier sluit Zuiderent nadruklik aan by die topos van heldeverering wat Nederlanders van sy vader se generasie vir die Boere gehad het: “waar pa als knaap verhalen over las” (strofe 16). Die verwysing is sekerlik na die romans van Louwrens Penning.[14] Hy sien egter nêrens wegwysers nie (“het zal zoeken worden”). Ook die “bijzondere ruïnes” waarna hy wil gaan kyk, “kan niemand wijzen - / het lijkt wel of heel Afrika in God is opgelost” (strofe 18). Sonder ’n goeie gids is dit onvermydelik dat hy in die groot land verdwaal.
Wat dit betref, lyk die spreker steeds meer op die Nederlandse reisgenoot van Elisabeth Eybers wat in Suid-Afrika verlore sou wees. In haar gedig “Terugkeer uit Gelderland” (Eybers 2004:397) kontrasteer sy immers sy koersvastheid binne die afgebakende beperktheid van Nederland (“die lieflikheid van stip gekadastreerde groen”, waar hy presies weet “wat gedoen moet word en hoe gegaan”) met die uitgestrektheid van Suid-Afrika se binneland sonder bakens:
dan dink ek soms
hoe sou jy kyk hoe sou jy lyk
as jy eens naas my op die aardkors staan
van my geweldige vaderland
met geen wegwyser as my hand.
Gelukkig het Eybers se metgesel nog haar hand as wegwyser, maar Zuiderent het geen kundige reisgenoot op wie hy kan staatmaak nie. Die mense wat hy teëkom, kan hom ook nie help nie – asof hulle deur sowel sendingaksies as die tuislandbeleid self koersloos en die weg kwyt is. Alhoewel hy in Europa ’n selfversekerde reisiger is, Dordrecht en die omringende landskap soos sy broeksak of anders van sy kaarte ken, het hy in Venda die grootste moeite om die weg te vind, om die land op dié vlak te lees. Alhoewel hy woorde soos "buurt” en “huisje” gebruik wat geselligheid, selfs vertroudheid impliseer, is hy duidelik nie op sy gemak nie. Wat is eintlik hier aan die gang? Zuiderent het al in sy inleiding tot Ons klein en silwerige planeet (Marais en Zuiderent 1997:17) op Lemaire (1996:120–3) se stelling gewys dat die omgewing en die soort landskap waar ons ons regtig “tuis” voel, waarna ons verlang en waarvan ons droom, meestal nóú verbonde is met die wêreld van ons jeug. Zuiderent skryf daarom in die inleiding oor Nederlandse landskapsgedigte:
[H]et (is) maar de vraag of er in die droom ook plaats is voor de wildernis. Die is immers nooit lieflijk, maar altijd bedreigend. Als wij ons in de wildernis begeven, dan staan daar gidsen klaar, die voor bedreigingen waarschuwen. In een gedifferentieerde wereld kunnen wij alleen onder deskundige leiding natuurmensen zijn. (Marais en Zuiderent 1997:17)
In Suid-Afrika se noordelikste provinsie bevind die digter hom in die “diepste” binneland, en “dus” midde-in die wildernis. In die lang tradisie van Suid-Afrikaanse landskapspoësie het ander digters dieselfde ervaring gehad. Coetzee (1988:49-55) het dan ook oortuigend in sy hoofstuk “The picturesque and the South African landscape” in White writing aangevoer waarom die Suid-Afrikaanse binneland aan die wildernis gelykgestel moet word. Hy verwys onder andere na Francis Carey Slater se gedig “The Karroo”, F.D. Sinclair se “Christmas night 1944”, S. Ignatius Mocke se “Die Vrystaat” en Peter Blum se “Nuus uit die binneland”. Ook Zuiderent begeef hom nou in hierdie wildernis, op ’n terrein waar geen gidse “klaarstaan” nie, waar daar geen bordjies of gidse is nie. Hierdie opmerkings skep ’n (ironiese) parallel met La divina commedia, waarin die digter Dante wel begelei word, eers deur Vergilius en later deur Beatrice. Dat ’n gids ontbreek, is ontsenuend en dit werp die Zuiderent-spreker des te meer terug op herinneringe aan die vertroude Nederlandse wêreld wat hy tydelik verlaat het. Hy sê aan sy moeder: “wees maar blij dat je bent waar je bent.” Dié opmerking is ambivalent. Aanvanklik vermoed die leser hier nog dat sy moeder se woonplek bedoel word. In die konteks van die hele “voice mail”-reeks is dit egter duidelik dat sy al elders, hopelik in die “hemelse paradys”, is.
As leser kry mens die indruk dat die digter nie nét ter wille van sy ma die vreemde probeer terugbring tot herkenbare proporsies nie. Om enigsins koers te hou probeer hy steeds alles wat hy sien en ervaar, verduidelik in terme van die taal en verwysingsveld van sy geboortestreek; herlei hy dit tot die wêreld waarin hy nog ’n kind was onder leiding van sy ouers. Ten slotte gee hy op om antwoorde van die land te probeer kry. Sy moeder swyg ewe voldonge as die land. Ondanks alle konatiewe en fatiese taalfunksies wat in die kommunikasiesituasie van die gedig ingebou is, het die spreker dwarsdeur die gedig geen idee of die kommunikasie met die land of met sy moeder slaag nie. Of hy hoegenaamd gehoor en verstaan sal word, is ’n vraag wat eers in die slotreël beantwoord word wanneer hy in strofe 28 en die alleenstaande slotreël vertwyfeld skryf: “ma, ik leg je nu neer, want ik hoor// al een hele tijd niets dan mezelf.” Uiteindelik hoor hy slegs sy eie stem en is hy nie net gekonfronteer met die stilte van ’n moeder wat nie antwoord nie, maar ook met die stilte van die land wat weerstand bied – ’n ervaring wat soveel digters vóór hom gehad het. Binne “twee maanden, niet meer” (so het hy homself al in die eerste strofe probeer moed inpraat en troos) sal hy gelukkig in Nederland terug wees. Dáár sal hy sy stem weer vind en sal sy gedig tot stand kom, met ’n pragtige slotreël wat alleen staan in ’n stilte van wit.
4. Slotsom en naskrif
“Telefoon uit een thuisland” stel danksy die stempos-metafoor probleme van kommunikasie en kontak aan die orde wat op ’n hele aantal vlakke boeiend is: op interpersoonlike vlak tussen ’n seun en sy bejaarde moeder, met betrekking tot die representasieprobleme van reis- en landskapspoësie, maar ook met betrekking tot die gesprek tussen Nederlandse en Afrikaanse literêre sisteme. Dat Zuiderent so ’n besonderse gedig oor sy Venda-reis geskryf het, kan as ’n bydrae tot hierdie gesprek beskou word.[15]
Alhoewel versigtigheid gebode is by “mens agter die boek”-getuienis, is die inhoud van ’n e-pos wat Ad Zuiderent op 1 Mei 2009 aan my geskryf het, sekerlik ter sake. Dit sluit aan by die speurtog wat ek reeds self onderneem het na die betekenis van die gedig. Zuiderent vertel dat daar twee belangrike Suid-Afrikaanse “kieme” vir die vorm van sy gedig was. “Beide dateren uit 1998, het jaar waarin mijn moeder is overleden. […] Die zomer hoorde ik in de Sint-Bavokerk van Watou het gedicht 'Ma' van Antjie Krog, gelezen door de dichteres zelf (op band, dus met tussenpozen steeds herhaald […] Later die zomer was ik in de Westerkerk bij de uitreiking van de prijzen van het Prins Bernhardfonds. […] bij die gelegenheid kreeg Marlene Dumas de David Roëllprijs uitgereikt […] ik herinner mij dat zij vertelde dat zij die ochtend haar moeder aan de telefoon had gehad om het over die prijs te hebben – ik was er mij toen zeer van bewust dat ik dat niet meer kon doen […] De combinatie van het gedicht van Antjie Krog en de opmerking van Marlene Dumas heeft mij de richting in gestuurd van mijn eerste 'Voice mail'-gedicht (waarin ik de onhandigheid van mijn moeder met betrekking tot de techniek als een soort scherm om haar dood neerzet, zodat de lezer niet direct doorheeft dat ik een dode toespreek). Later dat jaar volgde er nog een 'Voice mail'-gedicht; en toen ik eind dat jaar het verzoek kreeg van Carl Niehaus en Robert Dorsman om een gedicht met betrekking tot Zuid-Afrika, lag het voor mij dan ook voor de hand (gezien de ontstaansgeschiedenis van de 'Voice mail'-gedichten) dat dit gedicht hierbij kon aansluiten.”
Zuiderent verken in “Telefoon uit een thuisland” dus nie slegs die vreemde land nie, maar die reikwydte van sy poëtiese seggingskrag. Slegs in sy gedig kan hy probeer om die dooie moeder te bereik, hoe tevergeefs hy by voorbaat ook weet dat dit is, soos wat blyk uit die slotreëls “want ik hoor// al een hele tijd niets dan mezelf.” Zuiderent kon sy droefheid en eerbetoon aan sy moeder en sy onthutsende vreemdheid in ’n “wilde” land sekerlik op ’n veel direkter manier verwoord het, maar soos wat Odile Heynders (2006:13) onlangs nog oor poësie opgemerk het: “Met een gedicht wordt nooit een directe mededeling aan de lezer gedaan. […] De dichter schrijft een gedicht omdat hij de taal wil uitproberen, oprekken of zelfs veranderen.” Dit doen Zuiderent met “Telefoon uit een thuisland” nie slegs deur die poëtiese funksies van taal te aktiveer en uit te buit nie (onder meer deur die terza rima-versvorm, die inbedding van die gedig in ’n reeks, en die verskillende literêre tradisies waaraan sy gedig appelleer). Die fatiese, konatiewe, emotiewe en referensiële taalfunksies wat Jakobson ’n halwe eeu gelede in sy opstel oor poëtiese taal verduidelik het, word almal ingespan en geaktiveer, sodat “Telefoon uit een thuisland” ’n komplekse en oortuigende teks is.[16]
As blyk van huldiging en weerwoord het ek Zuiderent se gedig in Afrikaans vertaal.[17] Terwyl hy ter wille van kommunikasie met sy Nederlandse ontvanger(s) die vreemdheid van Venda “verplaaslik”, gedomestiseer, het, wil ek nou weer op my beurt probeer om hierdie vir Suid-Afrikaanse lesers vervreemdende verplaaslikings in ’n omgekeerde rigting soms te verduidelik, mak – of liewers weer wild? – te maak. In my, letterlike, vertaalpoging volg ek Zuiderent op die voet – uiteraard deur ook soms eiewys agter die “wegwyser van my eie hand” aan te loop.
Telefoon uit een thuisland
Ma, met mij, de stem van je zoon,
we zijn er nu niet, want we zijn even weg,
niet zo lang, ma, twee maanden, niet meer,en als je vindt dat de zomer te nat is,
moet je maar denken dat wij opnieuw
in de winter zitten, zo is het nu eenmaal,al zie je dat nooit op de zendingskalender,
want dun zijn de jurkjes daar, wit als de velden
de overhemden, stropdassen weinig,en waar zelfs de voorganger niet
in het zwart hoeft, moet het wel gaan
om een stuk paradijs dat nu pas ontdekt isdoor Apeldoornse verspieders – je zegt niets
terug, de lijn lijkt wel dood,
dus ik hoop dat je mij toch verstaat(we hebben Mount Petra beklommen, een berg
als een heilig pretpark, waar je een trap op kon
met in betonnen treden teksten uit de bijbel,dat had je mooi gevonden, als je nog lopen kon:
het smalle pad omhoog met prachtig zicht
op wat een thuisland heette, diep beneden,woonwoestijn van veertig jaren droogte,
je had het met je bijna blinde ogen zelfs gezien
zonder te weten hoe je daar vandaan kwam;wij zochten er boesmantekeningen,
maar ze wisten van niets, zeiden ze,
waarschijnlijk had God ze zelf uitgewist;één man zei, ja, hij kende niet alleen de Heer,
maar Holland ook, dus Lelystad en Kampen,
daar had je al genoeg afvalligheid – dat je het weet;nee, dan de natuur, je hebt vast wel gehoord
van de apenbroodboom, die heet hier baobab
of mooier kremetart en dat is nu precieswaarom de apen zich het ongans eten,
het is de kleur van custardpudding
die je 's zondags voor ons maakte; of neemde kunst: er zit hier in de buurt een man,
Hlungwani, die Jezus met een voetbal
rond laat rennen, geheel in hout; ook heeft hijNieuw Jeruzalem gemaakt, dat willen wij
gaan zien, ik weet wel dat je niet gelooft
in beelden en dat je voetbal, want op zondag,zondig vindt, maar ze worden niet vereerd of zo,
het zijn meer plaatjes voor de zondagsschool,
en dan van hout; het zal zoeken worden trouwens,want bordjes zijn hier niet; ook gaan we naar Spioenkop,
Bloedrivier, waar pa als knaap verhalen over las –
je merkt, je bent voortdurend bij ons, net als pa)maar wat ik zeggen wil, waarom ik bel, je zult het
niet geloven, we zitten nu een dag of wat in Venda,
Vendaland, een huisje bij het zendingsveld, al zijn hierook bijzondere ruïnes, maar die kan niemand wijzen –
het lijkt wel of heel Afrika in God is opgelost;
wel zie je vlakbij ziekenhuizen groepjes,die zitten langs de weg te zingen en
te bidden om genezing en (dat vraagt
wat meer van je verbeelding) om regen;stel je voor het parkeerterrein bij Refaja
en het hele dorp of tenminste die van de kerk
houden buiten een picknick, Jan Knikof een andere ouderling gaat voor,
dan zingen ze psalm 103, alle verzen,
maar ook 's-Gravendeel is bekend enzovoort,verderop een groepje uit Strien,
die zijn komen lopen, ze zitten
gehuld in ruiten dekens wat te spittenin zacht gepofte suikerpee, roosteren
de onderweg gevonden kwakkels en bidden
dat het droog blijft vannacht,binnen zijn een zwarte dokter, Gods genade,
en een meisje achteruit de Hoeksche Waard
met pa bezig, Piet Aardoom maakt foto’s,zodat in Vendaland straks een kalender
hangt met pa van zijn laatste jaeger ontdaan
en iemand van hen die blij oproeptom vooral toch te geven voor Holland,
want daar is god noch gebod, ze liggen
er bleekjes dood te gaan in een beden van Eden als thuisland allang geen idee meer,
je begrijpt, ma, als de zomer verregent,
wees maar blij dat je bent waar je bent,want een nacht voor de deur van Refaja
had je evenmin overleefd als welk paradijs;
ma, ik leg je nu neer, want ik hooral een hele tijd niets dan mezelf.
Oproep uit ’n tuisland
Ma, dis ek, dis Ma se seun wat praat
ons is nie nou tuis nie, want ons is vir ’n rukkie weg,
nie vir lank nie, Ma, net vir twee maande, nie langer nie,en as Ma dink dat die somer daar baie nat is,
moet Ma maar onthou dat ons sowaar weer
in die winter is, dis mos maar hoe dit is,al sien mens dit nooit op die sendingkalender nie,
want dun is almal se rokkies daarop, wit soos die velde
die hemde, min mans dra das,daar waar selfs die voorganger nie
’n swart pak dra nie, moet
dit wel ’n stukkie paradys wees wat onlangs ontdek isdeur Apeldoornse verspieders – Ma sê niks
terug nie, dis asof die lyn dood is,
dus ek hoop dat Ma my tog verstaan(ons het Petraberg beklim, ’n berg
soos ’n heilige pretpark, waar mens ’n soort leer uitklim
met op die sementtrappe tekste uit die Bybel,Ma sou daarvan gehou het as Ma nog kon loop:
die smal pad boontoe met sy pragtige uitsig
op wat ’n tuisland genoem is, diep daar onder,’n woonwoestyn ná veertig jaar se droogte,
selfs Ma sou dit met Ma se byna blinde oë gesien het
sonder om te weet hoe Ma weer daar af sou kom;ons het Boesmantekeninge daar gesoek
maar hulle weet van niks, sê die mense,
waarskynlik het God dit self uitgewis;een man sê, ja, hy ken nie net die Here nie,
maar Holland ook, dus Lelystad en Kampen,
daar’s baie heidene – dit weet Ma nou;nee, dan oor die natuur, Ma het seker gehoor
van die aapbroodboom, hier noem hulle hom die baobab
of mooier nog die kremetart en dis nou presieshoekom die ape hulleself katswink eet,
dis die kleur van vlapoeding
wat Ma op Sondae vir ons gemaak het; of watvan kuns: hier iewers woon ’n man
Hlungwani, wat Jesus met ’n sokkerbal
laat hardloop, heeltemal van hout, ook het hy’n Nuwe Jerusalem gemaak, ons wil gaan
kyk, ek weet wel dat Ma nie glo
aan beelde nie en dat Ma dink sokker, op Sondag gespeel,is sonde, maar die beelde word nie vereer nie,
dis meer soos prentjies vir Sondagskool,
houtprentjies; ons sal wel vreeslik moet soekwant hier’s nie bordjies nie; ons gaan ook Spioenkop toe
en na Bloedrivier waaroor Pa as seun nog stories gelees het –
Ma sien, ons dink baie aan Ma, net soos aan Pa)maar wat ek wil sê, hoekom ek bel, Ma sal my
nie glo nie, ons is vir ’n paar dae in Venda,
Vendaland, in ’n huisie in die sendingveld, al is hierook besondere ruïnes, maar geen mens kan ons wys waar nie –
dit lyk amper asof die hele Afrika deur God ingesluk is
al sien jy naby hospitale groepieswat langs die pad sit en sing en
bid om genesing en (dit vra
’n bietjie meer van ons verbeelding) om reën;verbeel Ma die parkeerterrein by Refaja
en stel Ma voor dat die hele dorp of ten minste die kerkmense dan
buite sit en piekniek hou, Jan Knikof ’n ander ouderling lei die diens
dan sing hulle Psalm 103, al die versies,
maar ook die liedjie ’s-Gravendeel is bekend, ensovoorts,verder weg ’n groepie uit Strien
wat al die pad gestap het, hulle sit
gehul onder geruite komberse ’n bietjie en peuselaan gebakte suikerbeet, rooster
kwartels wat hulle langs die pad gevang het en bid
dat dit droog bly vannagbinne is ’n swart dokter, goeie genade,
en ’n meisie agter uit die Hoekse Waard,
met Pa besig, Piet Aardoom neem foto’ssodat in Vendaland volgende jaar ’n kalender
sal hang met Pa sonder sy laaste winterondergoed
en een van hulle wat vol vreugde uitroepdat almal tog moet bydra vir Holland,
want daar heers god nog gebod, die mense lê
daar bleek en doodgaan in ’n beden het van Eden as tuisland geen benul meer nie,
Ma verstaan, as selfs die somer uitreën
moet Ma maar bly wees om te wees waar Ma iswant ’n nag voor die deur van Refaja
sou Ma net so min oorleef het as watter paradys ook;
Ma, ek sit nou neer, want ek hooral ’n hele tyd niks behalwe myself nie.
Bibliografie
Brillenburg Wurth, Kiene en Ann Rigney. 2006. Het leven van teksten. Een inleiding tot de literatuurwetenschap. Amsterdam: Amsterdam University Press.
Boomsma, Graa. 2009. Van bombast barsten en dan verder. In Leerdam e.a (reds.) 2009.
Brown, Duncan. 2006. To speak of this land. Identity and belonging in South Africa and beyond. Scottsville: University of KwaZulu-Natal Press.
Coetzee, J.M. 1988. White writing: On the culture of letters in South Africa. Sandton: Radix and New Haven; Londen: Yale University Press.
Darian-Smith, Kate, Liz Gunner en Sarah Nuttall (reds.). 1996. Text, theory, space. Land, literature and history in South Africa and Australia. Londen en New York: Routledge.
Eybers, Elisabeth. 2004. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau; Amsterdam: Querido.
Foster, Ronel, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.). 2009. Over grenzen / Oor grense. Een vergelijkende studie van Nederlandse, Afrikaanse en Vlaamse poëzie. Leuven en Den Haag: Acco.
Heynders, Odile. 2006. Correspondenties. Gedichten lezen met gedichten. Amsterdam: Amsterdam University Press.
Jakobson, Roman. 1960. Linguistics and poetics. In Sebeok (red.) 1960.
Jansen, Ena. 1996. Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam. Pretoria:
J.L. van Schaik Uitgewers.
Jonckheere, W.F. 1996. Vir vryheid en reg. Suid-Afrika in die spieël van die Nederlandse poësie (1890-1990). Leidse Opstellen nr. 25. Leiden: Dimensie en Howick: Brevitas.
—. 1999. Van Mafeking tot Robbeneiland. Zuid-Afrika in de Nederlandse literatuur 1896-1996. Nijmegen: Vantilt.
Leerdam, Guido e.a. (reds.). 2009. Nieuwsbrief voor afgestudeerden van de opleiding Nederlands aan de VU 33.
Lemaire, Ton. 1996. Verloren landschap. De Gids 159(2):120–23.
Marais, Johann Lodewyk (samest.). 1990. Groen. Gedigte oor die omgewing. Pretoria: HAUM-Literêr.
—. 2009. C. Louis Leipoldt en J. Slauerhoff se gedigte oor die Ooste. In Foster, T’Sjoen en Vaessens (reds.) 2009.
Marais, Johann Lodewyk en Ad Zuiderent (samests.). 1997. Ons klein en silwerige planeet. Pretoria: Van Schaik.
Sebeok, Thomas A. (red.). 1960. Style in language. Cambridge, Mass.: MIT Press.
Van Coller, Hennie en Bernard Odendaal. 2009. Die verhouding tussen die Afrikaanse literêre sisteme. ’n Chronologiese oorsig. In Foster, T’Sjoen en Vaessens (reds.) 2009.
Van Halsema, Dick, Johan Koppenol en Ben Peperkamp (reds.). 2009. Uitgaan op niveau. Vriendenboek voor Ad Zuiderent. Amsterdam:Stichting Neerlandistiek VU en Münster: Nodus Publikationen.
Van Gorp, H., R. Ghesquiere, D. Delabatista en J. Flamend. 1986. Lexicon van literaire termen. Stromingen en genres. Theoretische begrippen. Retorische procedes en stijlfiguren. Leuven: Wolters.
Wickens, Gerald E. 2008. The baobabs: Pachycauls of Africa, Madagascar and Australia. Berlyn: Springer Science + Business Media.
Zuiderent, Ad. 2000a. Jij als geen ander. Amsterdam: Querido.
—. 2000b. Van Dietse dichten tot Oor die Eenheid van die Digbundel. Wat hebben Zuid-Afrika en ik met elkaar te maken. Stilet, 12(2):23–38.
http://www.mukondeni.com (8 Desember 2008 geraadpleeg)
http://nl.wikipedia.org/wiki/Voicemail. (15 November 2009 geraadpleeg).
Eindnotas
[2] Die Nederlandse digters van wie elk ’n gedig opgeneem is, was Robert Anker, J. Eijkelboom, Anneke Brassinga, Anton Korteweg, Benno Barnard, Luuk Gruwez, C.O. Jellema, Anna Enquist, T. van Deel, Arie van den Berg, Huub Beurskens, Anton van Wilderode, Gerrit Kouwenaar, Christine d’Haen, Herman de Coninck, Gerrit Komrij, Eva Gerlach, Peter Ghyssaert, Hans Warren, Ed Leeflang Willem van Toorn, H.H. ter Balkt, Jacques Hamelink, Ad Zuiderent, H.C. ten Berge, J. Bernlef, Dirk van Bastelaere, Arjen Duinker, Elma van Haren, Maarten Doorman, Judith Herzberg, Erik Spinoy, Leo Vroman en Rutger Kopland (in volgorde van opname). Die Afrikaanse gedigte verteenwoordig ook die room van die Afrikaanse poësie met bydraes deur onder andere Elisabeth Eybers, Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström, Antjie Krog en Marlene van Niekerk. Die titel van Ons klein en silwerige planeet is ontleen aan die beroemde versreël uit Nuwe verse (1954) van N.P. Van Wyk Louw. Louw het in 1948 ’n eredoktorsgraad van die Rijksuniversiteit van Utrecht ontvang en hy was die eerste hoogleraar Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam na die Tweede Wêreldoorlog, van 1950 tot 1957.
[3] Die inisiatief het van Marais uitgegaan na aanleiding van sy omgewingsbloemlesing Groen uit 1990, wat slegs Afrikaanse gedigte bevat het.
[4] Ter geleentheid van Zuiderent se afskeid het die vriendeboek Uitgaan op niveau (Van Halsema e.a. 2009) verskyn, asook ’n spesiale nommer van die Nieuwsbrief vir afgestudeerdes van die opleiding Nederlands aan die VU (Leerdam e.a. 2009).
[5] Hierdie gedig het ter geleentheid van die jaarwisseling 1998-1999 in ’n oplaag van 90 eksemplare by Mikado Pers in Den Haag verskyn, “bestemd voor vrienden en bekenden van auteur en drukker”.
[6] Sien http://nl.wikipedia.org/wiki/Voicemail (15 November 2009 geraadpleeg).
[7] Zuiderent het die woord stempos ’n keer van ’n Suid-Afrikaanse kollega gehoor en hy gebruik dit dikwels verwonderd as voorbeeld van die soort vindingryke woorde (soos duikboot en duikweg) wat Afrikaans kenmerk.
[8] Dante het die terza rima gebruik in sy La divina commedia (begin 14de eeu), waarin hy sy reis deur die Hel, Vaevuur en Paradys beskryf. My dank aan een van die keurders vir hierdie waardevolle wenk, wat nog veel uitvoeriger uitgewerk sou kon word.
[9] Sien die webwerf http://www.mukondeni.com vir meer informasie oor die gebied, ’n kaart en die kunstenaars.
[10] ’n Pragtige boek oor kremetartbome is geskryf deur Wickens (2008). Europese kennis van die Afrika-baobab dateer terug na die Renaissance. Die eerste botanis wat self ’n baobab in sy natuurlike habitat gesien het, was Michel Adanson (1727–1806), ’n student van die Franse botanis Bernard de Jussieu. Op reis in Senegal as boekhouer in diens van die Compagnie des Indes was hy veral onder die indruk van die enorme omvang van die stam en die feit dat dit lyk asof die wortels bo aan de stam groei. Hierdie vervreemdende beeld is steeds dominant. Linnaeus het die boom in sy Species plantarum ter ere van Adanson die Adansonia bahobab genoem, maar in Afrikaans is dit veral as kremetart bekend. Gerrit Fourie se gedig “Kremetart” benut hierdie gegewens en kom voor in Marais (1990) se bloemlesing Groen. Die boom word in die eerste reëls “Ondersteboboom, wortelkop, oergestalte/ herder van horisonne, habitat vir hordes” genoem. Om die baobab heen het baie volksvertellinge en religieuse seremonies ontstaan. Naby Tshipise in die Limpopo-provinsie is ’n beroemde kremetart wat 27 meter hoog is met ’n omvang van 26 meter. Dit word gemeen dat die boom waarskynlik 4 500 jaar oud moet wees. Dit is duidelik dat ook die reisiger Zuiderent gefassineer is deur die kremetartboom.
[11] Zuiderent het in Dordrecht skoolgegaan en sy pa is in die plaaslike Refaja-hospitaal oorlede. (Persoonlike mededeling van die digter in ’n e-pos van 25 April 2009.)
[12] n Belangrike bron is M. Drayer e.a. se boek Zending in Venda-land, uitgegee in Rotterdam en Hilversum in 1975. Eksemplare is op www.marktplaats.nl verkrygbaar.
[13] Volgens Heynders (2006:19) vra ’n gedig altyd om plasing in ’n konteks. “Al lezend gaat men na wat de verankering is van het gedicht in een reeks of bundel, hoe de historische constructie om het gedicht heen staat en wat de poëtica is die in het gedicht tot uiting komt. Geen enkele tekst is ongebonden, altijd is er een schakel naar tijd en plaats.” Spesifiek oor “correspondenties” skryf sy (2006:19): “Welk eerder gelezen gedicht helpt om dit specifieke gedicht te begrijpen, te becommentariëren en in een ander perspectief te zien? […] Het gaat erom gedichten met elkaar in verband te brengen, er andere gedichten doorheen te laten klinken.”
[14] Jonckheere (1999:6) skryf: “Watter rol die populêre skrywer Louwrens Penning se Suid-Afrika romans […] gespeel het, sal waarskynlik nooit presies gekwantifiseer kan word nie. Sy reeks gewilde jeugromans met hulle ongenuanseerde en eensydige karakteriserings, uitgegee in verskeie ‘omnibusse’ of versamelbundels wat tussen 1896 en 1927 verskyn het en waarvan sommige in oplaes van soveel as 100 000 gedruk is, het sonder enige twyfel ’n sterk invloed uitgeoefen op die geïdealiseerde beeld wat baie mense van die destydse Suid-Afrika gehad het.”
[15] Dit is interessant om te merk dat Zuiderent se vennoot in die Klein en silwerige planeet-projek juis reisgedigte sentraal stel in sy bydrae tot Over grenzen / Oor grense (Marais in Foster 2009:199–231) om op raakpunte tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme te wys.
[16] In ’n belangrike onlangs-gepubliseerde literatuurwetenskaphandboek, Het leven van teksten (Brillenburg Wurth en Rigney 2006:48-52), word die “revolutionaire” bruikbaarheid van Jakobson se teorie vir die lees van poëtiese tekste steeds hoog aangeprys.
[17] Ek het die gedig vertaal as “Oproep uit ’n tuisland”, tydens dagvlug KL597 oor Afrika na Kaapstad op 13 November 2008 en voltooi in die Bamboo Café met uitsig op die Melville-koppies in Johannesburg op 12 Desember 2008. Die vertaling was bestem vir Uitgaan op niveau. Vriendenboek voor Ad Zuiderent bij zijn afscheid van de Opleiding Nederlandse Taal en Cultuur van de Vrije Universiteit in Amsterdam op 24 april 2009 (Van Halsema e.a. 2009). Die vertaling en kort begeleidende essay “‘van Eden als thuisland allang geen idee meer’ – Ad Zuiderent op stap in Venda”, staan op pp. 75-82. Ek het dit ondertussen sterk uitgebrei en verwerk tot ’n akademiese artikel. Hiermee my groot dank aan die redaksie en twee keurders vir hulle waardevolle wenke.

