Elisabeth Eybers (1915–2007)

  • 2

Gebore en getoë

Elisabeth Françoise Eybers is op 26 Februarie 1915 in die pastorie van die NG Kerk op Klerksdorp gebore as die tweede van drie dogters. Sy was net ’n jaar oud toe haar vader, John Henry Eybers, ’n beroep as predikant na Schweizer-Reneke in die destydse Wes-Transvaal aanvaar het. Daar het sy haar kinderjare deurgebring en ook skoolgegaan. Haar moeder, Elisabeth Susanna le Roux, was ’n wiskunde-onderwyseres en het op 26-jarige ouderdom hoof van die Oranje Meisieskool geword, waar sy en John mekaar ontmoet het. Hy is in 1962 oorlede en sy in 1968.

In Herinnering se wei het Elisabeth Eybers geskryf dat haar kinderjare, as sy terugdink, nie net die gelukkigste tyd van haar lewe was nie, maar ook die belangrikste en deurslaggewendste. ’n Groot deel van haar dag het uit dagdromery bestaan. "My dagdrome het my weer voortdurend na die onbekende en tartende toekoms gevoer. My voorstelling van die lewe was fantasties en intens-emosioneel. Dit was grotendeels bepaal, nie deur my waarneming van die lewe van die grootmense rondom my nie, maar deur die bonte mengelmoes van avontuurverhale, liefdesromans en biografieë wat ek verslind het. Dit sou op die een of ander manier 'merkwaardig' wees, nooit saai of alledaags nie. Ek sou wonderbaarlike reise maak en allerlei avonture beleef, of anders sou ek ’n weldoener van die mensdom word of moontlik ’n kunstenares op een of ander gebied.

In Eybers se vroegste herinneringe is dit nie persone wat so ’n groot rol in haar kinderlewe gespeel het nie, maar voorwerpe. Iemand het vir haar toe sy drie jaar oud geword het, ’n koppie en piering van dun, spierwit porselein present gegee. "Op die piering was die laggende gesig van ’n langhaarskaaphond, en op die koppie het ’n gestreepte kat gestaan met ’n blou strik om sy nek. Die piering het die eerste dag al uit my hand gegly. (...) Die 'katkoppie', om teen dergelike ramp bewaar te word, is toe op die boonste rak van die muurkas gebêre. Elke oggend ná ontbyt het Moeder of Vader die hoë klavierstoel voor die rak neergesit en my opgetel om daarop te staan en na my katkoppie te kyk. Ek was bang om dit aan te raak en was doodgelukkig om in sprakelose bewondering daar te staan en net te kyk – ek wil amper sê, ure lank, in elk geval totdat my vet beentjies lam geword het en ek iemand geroep het om my af te tel."

Sy het ook ’n Hollandse lappop, Martha, gehad wat saans saam met haar gaan slaap het. In een stadium het haar pa vir haar ’n sagte blou bal gebring en hoewel sy nie binne daarmee mag gespeel het nie en sy te bang was dat dit vuil gaan raak as sy buite daarmee speel, het sy alleen in ’n hoekie van die pastorie se tuin of die kerk gaan sit met die blou bal daar sodat sy daaraan kon ruik en snuif.

Sy het verder in Herinnering se wei vertel: "Die pastorie waarin my susters en ek grootgeword het, was ’n afgesonderde selfgenoegsame wêreldjie waarin my ouers die rol van goedgesinde en alwyse despote gespeel het. Omdat Vader nie gereeld soggend soggends die huis ter wille van sy werk verlaat het nie, het hy ’n belangriker plek in ons lewe ingeneem as wat in die meeste dorpsgesinne die geval was. Hy was ’n afgetrokke, kontemplatiewe persoon, ’n leser en student, maar terselfdertyd baie prakties en behendig in die klein dingetjies wat vir kinders so belangrik is. Pyl-en-boog, pampoenfluit, woer-woer, papiermannetjies en dies meer het hy ons leer maak, en ek het altyd voorkeur gegee aan dergelike speelgoed bo meisieagtige goed soos slaappoppe en teestelletjies.

"Omdat daar geen seun in die gesin was nie, moes ons vanselfsprekend allerlei take verrig wat meisies nie gewoonlik doen nie. Vader het ’n deskundige oog gehou oor die versorging van die melkkoeie, kalwers en varke en oor die bewerking van die groot vrugte- en groentetuin. Ons was wat dit betref selfonderhoudend, en daar was meer werk as wat die tuinhulp kon behartig. Vader was uiters puntenerig en dit was moeilik as mens help tuin natlei om die grondwalletjies presies te gooi soos hy verlang het."

Sy het vertel dat hulle tuin ’n "lushof" was en dat daar ’n plekkie in die tuin was wat baie min son gekry het. En daar het Elisabeth Eybers vir haar ’n bankie van boomstompe gemaak en kon sy haar afsonder sodat niemand haar kon kry nie.

"In die kerksaal het ek my eerste skoolonderrig ontvang. (Die dorpskool was chronies te klein, en daar is altyd klasse gehou in die kerksaal, in die Gereformeerde kerk en in die vrymesselaarslosie.) Dit was net ’n hanetreetjie van ons agterdeur en ek kon altyd speeltyd huis toe kom om tee en beskuitjies te geniet. Ook vir ’n ander doel kon ek huis toe kom: my moeder, wat ons grootgemaak het volgens die Kaap-Victoriaanse tradisie waarin sy self grootgeword het, het ons ten strengste verbied om speeltyd saam met ons maats te draf na die end van die peperlaning waar twee sinkkonstruksies gestaan het met ’n afskorting tussenin waarop in groot, ornamentele rooi letters DAMUS en HEERE geskilder was. Teen hierdie verbod het ek geen beswaar gehad nie, want dit was hoeka ’n onwelriekende buurt, maar wat ek tot in lengte van dae as ’n onreg beskou het, was die feit dat sy daarop aangedring het dat ek ’n driekwartier voor die skool se normale sluitingstyd moes huis toe kom. Ek was naamlik ’n senuagtige en enigsins tingerige kind en sy het gemeen dat die skooldag te lank en vermoeiend vir my was. (...)

"Ek was meer as twee jaar onder die gemiddelde ouderdom van my klas, sodat ek, wat lewenswysheid en fisiese ontwikkeling betref, agter was by my maats terwyl ek hulle in ander opsigte vooruit was. Dit was nie soseer ’n kwessie van intelligensie nie, maar eerder dat die atmosfeer tuis en die groot aantal boeke wat ek gelees het my tot vinniger ontwikkeling gestimuleer het. Hoe dit sy, my eerste skooljare was vervelig en dikwels ongelukkig. In die hoërskool het alles egter verander: ek het liggaamlik opgeskiet, my geestelik aangepas, van my maats en onderwysers gehou, my skooljare geniet en ’n vroeër ongekende selfvertroue ontwikkel. Op dertienjarige leeftyd het ek ontdek dat ek hou van opstelle skryf en veral ons Engelse onderwyser het my uitgelok om my hierop toe te lê. Ek sal nooit vergeet wat dit vir my beteken het toe hy eendag onder ’n opstel wat ek vir huiswerk moes doen, in plaas van die gebruiklike puntetoekenning en opmerkings in rooi potlood eenvoudig 'Thank you' geskrywe het. Dit was ook aan hom te danke dat my eerste pogings tot verseskryf in Engels geskied het."

Sy het vertel van oom Manie wat ouderling was en ook koster. Hulle kinders was baie erg oor oom Manie, wat nooit ordentlik geleer lees en skryf het nie, maar wat oor ’n natuurlike intellek beskik het. "As Vader weg was, wat taamlik dikwels gebeur het – die gemeente het destyds tot diep in Betsjoeanaland (vandag Botswana) gestrek en hy moes op bepaalde Sondae buitedienste hou in die verskillende wyke – het een van die dorpsouderlinge gewoonlik die diens waargeneem. Ons was altyd bly as dit oom Manie se beurt was, want hy het ons nooit op die ellelange en stoppeldroë 'Spurg-jon' vergas nie, maar het uit die vuis ’n oorspronklike redevoering gelewer van agter die kateder wat onder die preekstoel gestaan het.

"Vader se preektrant was sober en innig, sonder die dramatiese stemverheffings en gebare wat destyds menige dominee se forte was, en meestal ver bo ons kinderlike begripsvermoë. Gedurende sy preke het ons meer met ons oë as met ons ore ingeneem: die lang, regop gestalte in die swart toga, die asketiese profiel en die gevoelige skraal hande wat langsaam en liefderik oor die blaaie van die oop Boek beweeg het.

"Daar was iets onwêrelds, iets misties-ontroerends in die weeklikse getuienis van ’n diep en opregte geloof in die Bo-tydelike, iets wat ons van kleins af onbewus aangevoel het en wat dit vir my tot vandag toe onmoontlik maak om te duld as daar spottend of uit die hoogte oor godsdiens gepraat word deur diegene wat persoonlik geen godsdienssin het nie. Wanneer oom Manie gepreek het, was dit egter soos ’n klein vakansie in die kerk: hy het oor die alledaagse gepraat, selfs die 'hemelske' was nooit te ver van die 'aardske' nie, ons het sy beeldryke taal geniet, en veral sy afwykings wat soms aan die komiese gegrens het as hy hulle so ver gevoer het dat hy met ’n 'Waarmee was ons flussies nou weer besig?' moes terugkeer na die hooftema. (...)

"Oor die algemeen was ek in my sosiale verhoudings minder gelukkig as in die beskutte atmosfeer van ons huislike lewe waar niks wat lelik, materialisties of ru was, geduld is nie. Van kinderpartytjies hét ek nooit gehou nie; die maats met wie ek anders so lekker saamgespeel het, het skielik vreemdelinge geword in ’n atmosfeer van onverteerbare eetgoed, onsinnige speletjies, lawwigheid en vuilpraatjies. Waarskynlik was die feit dat ek van kleins af ’n swak maag gehad, grotendeels daarvoor verantwoordelik. Alle partytjies het op dieselfde manier geëindig: ’n saamgestelde ellende waarin die elemente van mislikheid, eensaamheid, weersin en verveling deurmekaar gevloei het, het op my toegesak, en ek het dikwels gewens dat ek ’n man was en in die middeleeue geleef het, sodat ek ’n kluisenaar kon word."

Eybers het later aan Ena Jansen as volg oor haar kinderlewe, veral die kuiers aan haar ma se familie in die Boland, vertel (Amanda Botha in Die Burger, 5 Maart 2005): "Ons het 'n paar dae gereis van Schweizer-Reneke af. Soms in ’n hotel oornag, soms by kollegas van my pa. My pa het gereken 30 myl per uur was ’n goeie maksimum.

"My ouma het ’n huis gehad met die naam Zonnendal. Die naam van die straat is later verander na Murraystraat, maar ek weet nie meer wat die naam eers was nie. Van daar kon ’n mens maklik stap na die Eersterivier. Ek was ’n sieklike kind en was byna dood aan longontsteking. Ek het daarom ’n keer weke lank by my ouma gebly. Ek was toe seker so nege of tien jaar oud. Ek het baie by die rivier gaan speel. Ek kon goed boomklim. Hulle het gedink dit sou nie verstandig wees as ek van Stellenbosch weggeneem word binneland toe tot ek gesond is nie. Ons was ook baie in Gordonsbaai. Die strandhuis se naam was Thalassa. Dit beteken 'see'. Ons het strandlangs Strand toe gestap. My ouma se nooiensvan was Bosman. Haar getroude van was Le Roux. My oupa is betreklik jonk oorlede. In die see by Drieankerbaai . . . Daar was vier dogters en een seun.

"Min seuns is ’n ou kwaal in ons familie – ek het self drie dogters en een seun. Toe Bert gebore is, het die dokter vir my gesê: 'It's a boy.' Toe vra ek die dokter: 'Is it really a boy?' Hy sê toe: 'If it isn't a boy, it's a jolly good imitation!'

"My moeder was die oudste kind. Almal het haar Lily genoem. Haar regte naam was Elisabeth Susanna. Sy is nog deur pres Steyn gevra om die eerste hoof van die nuwe Oranjemeisieshoërskool in Bloemfontein te word. My oom Theo, die broer van my ma, was hoof van klassieke tale aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het nog in Nederland kom studeer en is met 'n Nederlandse vrou getroud, aunt Nell.

"My ma se ander susters was ook geleerd. Aunt Hannah het onderhoof van Pretoria Girls' High geword. Aunty May – haar naam was waarskynlik Marianne Maria – maar dit was die mode in die tyd op Stellenbosch om Engelse name te gee, het die hoof van Bloemhofmeisieshoërskool geword.

"'Marianne Maria' was ook my suster se doopname. My ouers het haar en my suster Jeanette later Stellenbosch toe gestuur omdat hulle talente gehad het, musikaal was. Ek het geen talente gehad nie en het daarom tot matriek op Schweizer-Reneke gebly en is daarna na Wits toe. Aunt Margie – haar naam was seker Margaretha of so iets – was lektrise in geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch."

"My ma se oupagrootjie was Bernard le Roux. Ons is nie Hugenoteafstammelinge nie. Hierdie Bernard was in die lyfwag van Napoleon op St Helena. Baie van die lede van die lyfwag wou nie teruggaan Frankryk toe nadat Napoleon dood is nie. Bernard le Roux het Suid-Afrika toe gekom. Sy kinders het blykbaar wynboere geword. Die spelling van my naam is Frans: Elisabeth met 'n 's'. My tweede naam is Françoise."

Sy het op 16-jarige ouderdom aan die hoërskool op Schweizer-Reneke gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Op sestienjarige ouderdom gaan Eybers na Johannesburg om verder te studeer aan die Normaalkollege en aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy vertel in Herinnering se wei: "Ek was in baie opsigte nog ’n blote kind toe ek oorgeplant is uit die rustige veiligheid van my jeugomgewing in die studentelewe van Johannesburg. Gedurende my eerste jaar in die vreemde omgewing het die knaende heimwee na my ouerhuis my letterlik siek gemaak na liggaam en gees. Vanuit al die pynlike konflikte wat gedurende dié periode van aanpassing ontstaan het, het ek begin om die verse te skryf wat ’n paar jaar later in my eerste bundel opgeneem is."

Sy het in 1934 haar BA-graad behaal en haar BA Honneursgraad (in die eerste klas) in 1936. Die titel van haar verhandeling was “Die ontwikkeling van individualisme in die Afrikaanse liriek”.

Na die verwerwing van haar honneursgraad het sy in die joernalistiek as lid van die kunsredaksie by Die Vaderland gewerk en ook in 1936 as redakteur van die tydskrif Die Moderne Vrou.

Met haar skryfwerk het Elisabeth Eybers deel gevorm van die Dertigers en soos baie van die ander in die groep het sy aanvanklik in Engels geskryf en het sy ook ’n "voorliefde getoon vir musikale en oratoriese effekte" (Kannemeyer 1978:461). As student het sy vanaf 1832 tot 1936 verse geskryf wat verskyn het in Umpa, Die Huisgenoot, Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, Volksblad en Die Vaderland. In hierdie verse was daar duidelike invloed van Tennyson, Walter de la Mare, Shakespeare, die Tagtigers van Nederland, en later ook van Roland Holst, Rupert Brooke, WEG en NP Van Wyk Louw en CM van den Heever te bespeur.

In Desember 1937 trou sy met die later bekende sakeman Albert Wessels, die skrywer van Moffie en sy maats (1938) en Tog sterker (1941). Hulle het in Johannesburg gaan bly en drie dogters en ’n seun is uit die huwelik gebore.

Sy het nie net gedigte geskryf nie. In die laat 1930's en vroeë 1940's is daar van haar sketse en verhale in Die Brandwag en Die Huisgenoot opgeneem. JC Kannemeyer het gemeen dat hulle "van ’n suiwer aanvoeling vir taal en sfeer getuig" en twee van die stukke is in 1957 in die bundel Kwartet opgeneem. Hierdie twee stukke bied ’n blik op die emosies van ’n 13-jarige skoolmeisie en ’n huisvrou se amusante belewings met haar huishulpe.

Sy het ook gedurende daardie tyd resensies oor die werke van onder andere Van Wyk Louw, WEG Louw, CM van den Heever, HA Mulder, J van Melle en MER geskryf en sy was ook nie skaam aan polemieke deel te neem nie, waaronder teen Abel Coetzee en Pieter Graavesand. Sy het ook EC Pienaar skerp aangevat oor "wanopvattinge in die kritiek en literêre beskouing”.

Elisabeth Eybers was nie iemand wat baie in die openbare oog verskyn het nie, maar in 1963 het sy in Brussel in ’n lesing oor haar eie werk gepraat wat die begryp van en insig in haar werk verduidelik het.

Sy het ook van vroeg af ’n groot belangstelling in vertalings getoon en hoewel sy nie baie vertalings gedoen het nie, is daar in haar tweede bundel, Die stll avontuur (1939), vyf vrye vertalings uit Duits opgeneem en in Neerslag (1958) het sy tien sonnette van die Franse skrywer José-Maria de Hérédia herdig. In 1959 het Die os en die esel en die krip verskyn wat ’n vertaling van Jules Supervielle se Le boeuf et l'âne de la crèche was. Daarvoor het sy in 1961 die Akademieprys vir vertaalde werk ontvang. Olga Kirsch het haar bygestaan toe sy in 1948 in The quiet adventure ’n keuse uit haar eerste vier bundels gemaak het. Dit is saam met die oorspronklike in ’n Engelse vertaling gedruk. Die verse wat hier saamgebring is, vorm ’n eenheid "deurdat die verse almal oor die wording van ’n vrou, van haar voorbereiding vir die lewe tot ’n voorlopige aanvaarding van die dood handel". Vir Kannemeyer (Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I) word die vertalings "dikwels ontsier dier die ritmiese onbeholpenhede. Lomp omskrywings, te maklike rymoplossings en swak woordkeuse."

Teen die tyd dat Elisabeth Eybers in 1961 na Nederland vertrek het, het daar reeds sewe digbundels uit haar pen verskyn: Belydenis in die skemering (Nasionale Pers, 1936), Die stil avontuur (Van Schaik, 1939), Die vrou en ander verse (Constantia, 1945), Die ander dors (Constantia, 1946), Tussensang (Constantia, 1950), Die helder halfjaar (Constantia, 1956) en Neerslag (Nasionale Boekhandel; ook GA van Oorschot, 1958).

Eybers se professor, CM van den Heever, was die persoon wat die titel van Belydenis in die skemering voorgestel het. Vir JC Kannemeyer was die hoogtepunt van hierdie debuutbundel die gedig "Maria" wat sy in 1933 geskryf het toe sy 18 jaar oud was. Dit is oorspronklik in Die Vaderland van 26 Junie 1936 gepubliseer en vir Kannemeyer kan dit beskou word as ’n "klein wonderwerk" in daardie stadium van haar digwerk en bly dit "een van die groot gedigte van die dertigerjare en van die Afrikaanse letterkunde as geheel".

Sy het in 1943 die eerste maal die Hertzogprys ontvang, vir haar eerste twee bundels, Belydenis in die skemering en Die stil avontuur.

Die gedigte in Die stil avontuur toon ’n duidelike vooruitgang op die eerste bundel, hoewel nie een van die gedigte so goed soos "Maria" is nie. Hierin is die belangrikste tema dié van die verhouding tussen twee jongmense, die ervaring van die jong vrou as bruid en dan dié van die swanger vrou en die vooruitsig en vrese van die eerste kind se geboorte. Vir Kannemeyer (2005:171) neem "Die geskenk" met sy "aanwending van die vrye vers ’n besondere plek in haar vroeë poësie in".

Die eerste elf gedigte van Die vrou en ander verse (1945) sluit wat tema betref, sterk aan by die laaste verse van Die stil avontuur, terwyl die verse in Die ander dors (1946) "skielik heftiger en wranger klink en word die onmiddellike emosies deur die aanspreking van ’n jy, die gebruik van die objektiewe derde persoon of die aanwending van Bybelse of mitologiese en skrywersgestaltes van die self af weggestoot" (Kannemeyer 2005:171–2).

Met Tussensang, wat in 1950 uitgegee is, kom die eerste tydperk van Eybers se digkuns tot ‘n einde en het dit ook, hoewel tentatief, die tweede periode aangekondig. Volgens Kannemeyer is dit sowel tematies as verstegnies “’n heterogene versameling". Dit bevat nog altyd verse oor die moederskap en jeugwêreld, maar daar is ook nou verse oor ’n Europese besoek wat ’n "nuwe sintuiglikheid" tot gevolg het. Daar is slegs twee sonnette in die bundel, terwyl sy ook met "balladeske verse nuwe moontlikhede vir haar digkuns open" (Kannemeyer 2005:73).

Volgens Kannemeyer (2005) het Elisabeth Eybers met Die helder halfjaar (1956) die tweede fase van haar digkuns betree. In hierdie bundel het sy haar gewend na ’n "gestroopter, naakter en aardser vers. Teenoor die tematiese beperktheid van haar eerste werk het sy hier ’n wyer belangstellignsveld wat ’n verruiming van die woordeskat uit onder meer die biologie, anatomie en skeikunde meebring, die preokkupasie met die spesifiek-vroulike laat afneem en die besinning oor die taak van die kunstenaar as poëtiese boustof benut, terwyl die vrou-moeder-tematiek by ander gebiede ingeskakel word en die doodsmotief in die suiweringsmotief opgaan of in ironiese verse met ’n beweeglike soepel vaart neerslag vind."

Ook in Neerslag, Eybers se volgende bundel (1958), is haar ingesteldheid meer gefokus op die digterskap en ’n "verbreding van die tematiese beperktheid van [haar] poësie. Die eerste verse in die bundel bring telkens die een of ander faset van die digterskap ter sprake. Dit wissel van die uiteenlopendheid van die kunstenaar, sy oopgesteldheid, sy onsekerheid of gebrek aan wysheid tot die siening van die poësie as ’n middel teen gedaanteloosheid of vloeibaarheid en die magiese vermoë wat die beswerende woord besit" (Kannemeyer 2005:174).

In 1961, na haar egskeiding, het sy en haar jongste dogter na Nederland vertrek en hulle in Amsterdam gevestig. Dit sou aanvanklik net vir ’n jaar gewees het, maar die verblyf het permanent geword en Elisabeth het langer as veertig jaar in Amsterdam gewoon.

Elisabeth Eybers was vanaf 1973 in ’n verhouding met Pieter Hennipman, haar "partner" tot sy afsterwe in Julie 1994. Hy was professor in teoretiese ekonomie aan die Universiteit van Amsterdam.

Hoewel die meeste verse in Balans, wat in 1962 verskyn nadat Elisabeth Eybers na Nederland is, in Suid-Afrika hulle ontstaan gehad het, het die laaste verse in Nederland ontstaan en in hierdie derde periode van haar digkuns het sy meestal geskryf oor die moeilike aanpassing in ’n vreemde land. "Basies handel die bundel egter oor ’n mens wat haar balans probeer terugkry ná die emosionele krisis tydens en onmiddellik ná haar egskeiding." Ook Onderdak (1968) bring die temas van "ontwrigting en ontbering, die moeilike aanpassing van die immigrant in ’n nuwe land, die vreugde as sy deur ’n nuwe liefde in die vreemde 'onderdak' vind, al blyk dit later dat sy hierdie minnaar deur die dood verloor" (Kannemeyer 2005:175).

Eybers se Nederlandse tydperk het gestrek vanaf Balans tot haar laaste bundel, Valreep / Stirrup cup, wat in 2005 verskyn het. Lina Spies het in haar bydrae oor Elisabeth Eybers wat in Perspektief en profiel (1998) opgeneem is, geskryf dat die "personasie wat in 1956 in Die helder halfjaar op die voorgrond getree het, in hierdie tydvak ’n verdere groei en rypwordingsproses deurmaak. Die vreugde aan sintuiglike waarneming bly behoue."

Spies het verder opgemerk dat veral in haar bundels ná die publikasie van Einder in 1977 "wen die lewe aan intensiteit waar sy bedreigende teenpool, die dood, steeds naderskuif. Maar lewensdrif en belewenis van die liefde in sy talryke vorme laat hierdie einder telkens weer 'vergly'."

Lina Spies noem Respyt (1993), Nuweling (1994) en Tydverdryf/Pastime (1996) Elisabeth Eybers se drie "ouderdomsbundels". In eersgenoemde "gaan dit om die toegestane tyd vir die vereffening van skuld reeds ná die vervaldag. (...) In teenstelling met haar natuurlike neiging tot selfinkeer – wat die ouderdom weens liggaamlike verswakking boonop al hoe sterker afdwing – besef die oudgeworde digteres dat die impulse vir 'vertolking' (die kreatiewe drif) van buite kom en ’n afweer is teen die dood.”

Oor Respyt (1993) skryf Daniel Hugo in Die Burger (2 Maart 1993): "’n Waarmerk van poëtiese nugterheid by Elisabeth Eybers is haar trefsekere eenwoord-bundeltitels. In ’n koor opgestel klink hulle sedert 1950 so: Tussensang, Neerslag, Balans, Onderdak, Einder, Bestand, Dryfsand, Rymdwang, Noodluik, Teëspraak, en nou in 1993 op haar agt-en-sewentigste verjaardag: Respyt. By die bundel met sy vyftigstuks verse is die negentien gedigte ingelyf van Teëspraak wat in 1991, na aanleiding van die toekenning van die PC Hooft-prys, aan haar oorhandig is. Die titel Respyt slaan sonder ontwyking op die tyd van grasie wat die digteres gegun is voor sy die 'onskendbare' en 'onomkeerbare rang' (vergelyk 'Uitkoms' en 'Evolusie') van doodwees ontvang. ’n Respyt is die kort uitstelvergunning na die vervaldag van skuldvereffening. En die tyd vul sy sinvol met die skryf van verse, woeker sy met haar poëtiese talent. (...)

"Naas uitmuntende gedigte staan daar in Respyt ’n klompie wat te lig of persoonlik anekdoties van aard is. In die laasgenoemde kategorie val 'Vir H' wat in ’n Afrikaanse en Engelse variant aangebied word. (Terloops, dit is merkwaardig dat ons eerste vroulike digter in Afrikaans, wat ook ’n ereplek in die Nederlandse letterkunde verower het, haar al hoe meer in haar moeder se taal, Engels, begin uitdruk.) Maar vitterigheid daargelaat. Dit is ’n bundel wat enige aantal herlesings kan deurstaan, en telkens nuwe patrone laat ontdek. Eybers stel dit self vroumeesterlik so in die gedurfde sonnet 'Feesgangers': Sodra jy die dinge wat blindelings opduik lees om hul samespel te noteer, dan begin jou fees. As digter bly Elisabeth Eybers my heldin in die vreemde. Mag die Rentmeester haar respyt onbepaald verleng."

Elisabeth Eybers het in 1989 die Ou Mutual-letterkundeprys vir Rymdwang (1987) ontvang. Sy kon nie die funksie bywoon nie, maar het in ’n brief wat haar dogter Elisabeth Bradley voorgelees het, geskryf: "Die Suid-Afrikaanse regering het ’n afgod gemaak van suiwerheid en superioriteit. Afrikaans het spontaan, sonder voorskrifte en stelreëls, ontwikkel uit isolasie, op ’n groot afstand van die Nederlandse oerbron, uit wisselwerking van rasse en groepe wat in ’n soort smeltkroes op mekaar ingewerk het, goddank vóór daar ’n owerheid opgestaan het wat ’n fetisj (of afgod) gemaak het van suiwerheid en superioriteit.

"Mag hierdie taal, naas die wêreldtaal Engels, waaraan ons ook oneindig veel te danke het, voortlewe in die mond van miljoene Suid-Afrikaners wat mekaar ’n menswaardige bestaan gun. Die toekenning van die prys beteken vir my een verrassing ná die ander. Dat ek wat 28 jaar gelede Suid-Afrika verlaat het, my nog in soveel belangstelling in my land van herkoms mag verheug. Ek is ’n ouderwets-introverte digter wat dit waardeer dat die borgmaatskappy van die prys verwag dat (ek) iets mee te deel het wat op een of ander manier 'tot algemene nut' mag wees. Ek is en bly ’n produk van Suid-Afrika. In die beoefening van my ambag is die Afrikaanse taal my kosbare instrument." (Die Burger, 12 April 1989)

Eybers se volgende bundel is Nuweling, wat in 1994 gepubliseer is. AP Grové het in Beeld van 10 Oktober 1994 geskryf dat mense wat eers met Elisabeth Eybers se latere bundels kennis gemaak het, haar "teruggetrokkenheid en die inkrimping van haar digwêreld" sou ervaar het. Dus sal hierdie "nuweling" nie vir hulle "nuut" voorkom nie. "Ook hier val dit op, miskien sterker as vroeër, hoe die mens se gepeins en sy onmiddellike node die digwêreld vul: liggaamlike ongesteldhede, siektetoestande, eensaamheid, slapeloosheid en kwellings wat met die klimmende jare gepaard gaan. Die natuur speel hier haas geen rol meer nie en slegs by uitsondering word die aandag na buite gerig, soos byvoorbeeld in ’n aarselende onderhoud met ’n joernalis, of in die huldigingsvers wat die digteres aan die nagedagtenis van haar moeder wy. Dit is ’n besonder treffende gedig waarin dié kunssinnige vrou meesterlik geteken word soos wat sy as pastoriemoeder daarin geslaag het om 'n waardige balans tussen die uiterstes van selfverloëning en selfhandhawing te vind. Dit is hoofsaaklik ’n introverte bundel waarin die mens met homself te rade gaan. (...)

"Daar word in die bundel meermale na die digteres se ouderdom verwys. Maar die naderende tagtig jaar ten spyt bly sy steeds in staat om haar situasie formeel te beheers. Dit verseker dat hierdie hoogs persoonlike bundel nooit ekkerig word nie. Dit val byvoorbeeld op in die sitate dat daar telkens van 'jy' en 'jou' pleks van 'ek' en 'my' gepraat word. Dis simptomaties van dié poësie wat eerder bespiegelend as belydend, beskoulik as liries wil wees. Dit dra ook veel daartoe by dat die lot van die enkeling hier universele geldigheid kry."

Tydverdryd/Pastime is die eerste bundel waar die Afrikaanse teks saam met die Engelse teks wat sy self geskryf het, verskyn. Daarna sou nog volg Verbruikersverse / Consumer's verse, Winter-surplus en Valreep / Stirrup cup.

Oor Tydverdryf het TT Cloete in Beeld (20 Mei 1996) geskryf: "Elisabeth Eybers se jongste digbundel bevat ’n twintigtal gedigte in Afrikaans en Engels. Teenoor elke Afrikaanse gedig staan sy Engelse teenhanger. Die vertalings is van Eybers self. Omdat die Afrikaanse teks elke keer eerste staan (links op die dubbelblad), kan mens daaruit miskien aflei dat die gedigte oorspronklik in Afrikaans geskryf is en daarna in Engels vertaal is.

“Die Engelse gedigte klink egter nie na vertalings nie en die Afrikaanses ewe min. Dit is seker onmoontlik om vas te stel watter gedig die eerste daar was en of daar dalk sprake kan wees van ’n gelyktydige of gedeeltelik gelyktydige ontstaan.

"Die Engelse gedigte klink in enkele gevalle vir my eenvoudiger en gemakliker as die Afrikaanses. In ander gevalle is daar interessante verskille in hierdie Siamese tweelinge, soos in die slotverse van die twee slotgedigte, 'Gevleuelde woorde / Famous last words', met hulle tydsverskille, wat elke keer iets anders sê.

"Wat ons in die bundel sien, is die baie goed bekende Elisabeth Eybers, die eenlingfiguur wat voortdurend met haarself in gesprek is. Soos mens dit ken uit haar vroeër werk, is daar gereeld die verwysing na die eie persoon as ’n 'jy', iemand in die tweede persoon. Hierdie afstandperspektief het baie uit te staan met haar skerp analitiese gees. Teenoor hierdie jy of ek staan dikwels dan ’n ander jy, nie altyd die alter-ego nie, maar selfs die alter-ego is nie altyd enkelvoudig nie.

"Bekend in Eybers se gedigte, tot in hierdie bundel toe, is haar kritiese, ondersoekende sintuig. Dit is dwaas om te verwag dat ’n skrywer voortdurend moet vervel of verkleur. Bach is Bach, herkenbaar. Dit gaan juis om die herkenbaarheid. Achterberg bly Achterberg. Om jouself gelyk te bly, is ’n verdienste. Die groot figure in alle kunssoorte het hulle eie stempel, die kleineres nié. ’n Mens kry net die indruk dat van die herkenbare gedigte in Eybers se jongste bundel nie so sterk is as hulle voorgangers nie.
"In ’n groot mate bevat die gedigte in Tydverdryf/Pastime dieselfde temas, taalgebruik en gedigvorme as die vroeëre bundels, met ’n voorliefde vir die koepletstrofe, die tersine en kwatryn. Soos altyd skryf sy steeds ’n deeglik afgeronde en versorgde gedig, met ’n sin vir simmetrie en metrisering. Mens waardeer haar volgehoue sin vir ’n klassieke ewewigtigheid en presisering. (...)

"Die ouderdom, die onkeerbare aftog, die sloping, die gestroop word, die doodloopbaan, niks hiervan plaas egter 'n demper op die digterskap nie. Daar is ’n terugdink, maar ook ’n vooruitkyk na die onontwykbare, ook ’n koppige volharding, met iets ondoofbaars of onuitroeibaars, ook in die skryf van gedigte. Die sterkste eienskap van hierdie gedigte is die ironie, wat nog altyd een van die verdienstes van Eybers se gedigte was. (...)

"Tydverdryf/Pastime is 'n beskeie bundel en behoort nie tot die beste van Eybers nie, maar dit is ’n merkwaardige bundel van iemand wat oor ’n lang periode, sonder opspraak, met ’n aantal sterk bundels die Afrikaanse letterkunde van vroeg in hierdie eeu tot laat gedien en uitgebou het."

Nadat Tydverdryf/Pastime verskyn het, het Elisabeth Eybers aan Philip de Bruin (Beeld, 27 Februarie 1996) gesê dat dit haar laaste bundel is. "Ek word vandag 81. Tydverdryf is my laaste bundel. Ek is nou klaar," het sy aan De Bruin gesê.

Gelukkig vir Afrikaans en al Elisabeth Eybers se bewonderaars en lesers was dit toe nie so nie. De Bruin het ná haar volgende bundel, Verbruikersverse / Consumer's verse weer met haar ’n onderhoud gevoer (Beeld, 21 Junie 1997). Oor die titel het sy verduidelik: "Ek weet nou nie of almal daarvan sal hou nie, maar nou ja. Omtrent 'n derde van die gedigte is in Engels, met die subtitel Consumer's Verse. Waar kom die titel vandaan, vra jy. Wel, ek het net die gevoel gehad dat vergeleke met baie moderne verse is myne nogal taamlik verstaanbaar.”

In Die Burger (10 September 1997) skryf Joan Hambidge in haar resensie: "'n Gevoel van wanhoop het oor my gekom toe ek hierdie bundel ontvang het. Is dit die uitgewer se poging om vir oulaas nog poësie uit die groot digter te pars? Gaan dit nie net knutselwerk wees van 'n ou mens nie? Sal dit nie ons 'classy heldin' soos Antjie Krog haar noem se beeld aantas nie? Wát kan sy nog sê op hierdie hoë ouderdom?

"Die bundel is ’n verrassing. Ofskoon die gedugte Eybers ironie en wrangheid nie orals te bespeur is nie, het ons nog hierdie meesteres aan die woord. Self-ironies, self- verminderend, en ja, tegnies so góéd in beheer. Miskien moet Human & Rousseau vir Ena Jansen vra om ’n keur uit die ouer verse saam te stel, want in Verbruikersverse staan daar mooi goed. Ek is minder gaande oor die Engelse pogings. Hulle mis haar steek, haar angel. Eybers in Engels klink vir my net nie reg nie, omdat 'n mens so bederf is deur die (dubbel) segging, die sub-teks en skerp metaforiek. (...)

"Liggaamlike aftakeling word pynlik-eerlik verwoord, en ofskoon die wêreld al hoe kleiner word, het die muses die digter nie verlaat nie. Woorde het haar nié in die steek gelaat nie."

In 2005 op haar 90ste verjaardag het Elisabeth se laaste bundel, Valreep / Stirrup cup, verskyn. Oor die "saamskrywery" van Afrikaans en Engels het Ena Jansen in Die Burger van 5 Maart 2005 aan Amanda Botha vertel: "Die afgelope jare werk Elisabeth Eybers altyd paarsgewys aan haar gedigte. Afrikaans en Engels bestaan vir haar naas mekaar, daag mekaar uit, vul mekaar aan. Soos haar moeder en haar vader. Soms skryf sy ’n gedig eers in Afrikaans en dan bewerk sy dit in Engels, of sy skryf dit eers in Engels en dan volg later haar bewerking daarvan in Afrikaans.

"Wanneer Eybers in Engels dig, is dit nie omdat sy volksvreemd is nie, maar omdat dit haar moedertaal is. Die moedertaal van die eerste Afrikaanse digteres was dus Engels, iets wat haar geensins daarvan weerhou het om Afrikaans se groot digteres te word nie.

"Engels het in die afgelope dekade steeds meer Eybers se tweede digterstaal geword. Die laaste drie bundels bevestig dit met die dubbeldoor-titels, Tydverdryf/Pastime, Verbruikersverse / Consumer's verse, Winter-surplus en nou Valreep / Stirrup-cup .

Hierdie titels is vir Ena Jansen treffend: "Elisabeth Eybers se wêreld het klein geword, word hoofsaaklik binnenshuis geleef, maar haar verbeeldingswêreld bly intakt. Daaroor het sy nog beheer, daarin kan sy nog kom en gaan waar sy wil – haar vermoë om nog steeds die juiste woord te vind, gee haar daartoe ’n vrybrief. En hierdie vermoë wil sy bly uitbuit so goed en kwaad as wat dit kan. Daarom buig sy haar nie alleen in Afrikaans op haar so kenmerkende ironiese, humoristiese, skeptiese en relativerende wyse oor die klein gebeurtenisse van alledag, oor haar angste en verwagtings in verband met die naderende einde nie. Só doen sy ook in Engels."

In Die Burger van 23 Mei 2005 skryf Lina Spies só oor Valreep: "By geleentheid van Elisabeth Eybers se 90ste verjaardag op 26 Februarie het haar 21ste bundel, Valreep/Stirrup-cup, verskyn. Gesien haar statuur kan mens dit nie ’n mondigwording noem nie, maar wel ’n gebeurtenis waaraan die magiese assosiasies wat 21 oproep, kleef. Dit bevestig haar digterskap as seker die merkwaardigste in Afrikaans. Dit vra ook om beoordeling binne die verband van ’n oeuvre wat ’n vrouelewe oorspan. Nie dat dit nie in eie reg gelees en waardeer moet word nie.

"Gedurende die lang periode waarin Eybers aan die woord is, het sy sporadies in Engels geskryf. Sedert Tydverdryf/Pastime (1996) dig sy tweetalig. Streng gesproke is die titel Nederlands en Engels. Alhoewel die HAT ook 'valreep' aangee, is dit onbekend in Afrikaans: ‘'n touleer om langs ’n skip af of op te klim'. Die voorbeeldsin lui: '’n Glasie op die valreep' (verklaar as 'afskeidsdrankie'), en dis presies wat 'stirrup-cup', treffend in Afrikaans vertaal met 'loopdop', beteken, en wat die bundel wil wees: die bewoording van wat ’n bejaarde op die valreep van die lewe dink, voel en ervaar. (...)

"In Valreep dwing die spel bewondering af met volmaakte vormbeheersing. Hiervan het Eybers geen greintjie ingeboet nie. Sy het nooit eksperimentele poësie geskryf nie, maar met woorde het sy gespeel: al die betekenisnuanses uitgebuit, tallose neologismes geskep, Nederlandse woorde spontaan laat opgaan in Afrikaans om die gedig iets bekends én vreemds te gee. In dié lig moet ook die skep van ’n Engelse ekwivalent van ’n Afrikaanse gedig (of andersom) gesien word. Die perspektief van die bejaarde word in die aanvangsgedig vooropgestel. Ons moet dus nie onrealistiese verwagtings koester van die verse nie. Van dié laatoes verse kan nie verwag word om die vonk en sintuiglikheid van die vroeë werk te hê nie.

"Wat waardering afdwing, is die spel en hoe dit gespeel word in die aansig van die einde. Poësie is nie net ’n onontbeerlike bemagtigingsmiddel van die bejaarde nie, maar het ook die taak om 'onversoenbaarhede' te probeer rym ('Versinsels'): versinsels wil graag hul uiterste doen om liggaam en siel met mekaar te versoen, nie soseer om die werklikheid te onthul as om sy tekortkoming aan te vul nie. Wat van voortgesette versinsels nou? Hoe lank kan jy hulle nog blindelings vertrou om jou dag na dag op die been te hou?

"Versinsels kom uit die skeppende verbeelding en is ’n sinoniem vir drome en fantasieë teenoor die werklikheid en daadkragtigheid – bekende opposisies by Eybers. In 'Skielike ontmoeting' besef die ek-spreker dat sy die dood nie onbepaald kan vermy nie; sy 'trotseer' hom reeds as iets wat 'plotseling opdoem, groot/ en onverbiddelik'. Maar hy ewenaar haar eie 'besluitloosheid'.

"As agnostikus ontbreek dit haar aan voorbereiding vir haar ontmoeting met die groot onbekende, en vra sy: 'Hoe op aarde moet jy ’n geskikte beleid/ sonder nodige voorskrifte sameflans/ – of reken jy dalk op ’n tweede kans?' ('Oorweging'). Die ironie is onmiskenbaar. 'Hoe op aarde', ’n retoriese uitroep, kry hier die betekenis van die onmoontlikheid om op aarde te glo aan iets bo- of buite-aards. Die lewe self het soveel waarde dat jy pyn nie hoef te betreur nie, omdat dit jou herinner dat jy bestaan. (...)

"Die wete dat die lewe nie onbepaald duur nie, hou die troos in dat die treurproses oor die dood van ’n kind nie tot in die oneindige strek nie. Die bundel sluit met twee kwatryne oor die dood van haar enigste seun. Hul trefkrag lê in die 'bekoelde' wyse waarop hulle uitdrukking gee aan verlies en verdriet. Dié kwatryne bevestig wat poësie in wese is: meesterlike beheer oor die woord teenoor ’n onbeheerste voortstromende geswymel, wat te veel eietydse 'poësie' kenmerk. Ek is Eybers dankbaar vir haar blywende, kompromislose 'kieskeurigheid' in verband met die 'yk van poësie'."

Elisabeth Eybers is al as die grootste vroulike digter in Afrikaans bestempel, en as ’n mens in gedagte hou dat sy die eerste vrou is wat ’n digbundel in Afrikaans gepubliseer het en dat sy die enigste vroulike lid was van een van die belangrikste digtersgeslagte in die Afrikaanse letterkunde, naamlik die Dertigers, is so ’n stelling glad nie vergesog nie.

Ook is sy die eerste vrou wat die Hertzogprys verower het, en die enigste skrywer buite Nederland wat met die PC Hooft-prys vir Nederlandse letterkunde bekroon is (1991). Benewens al die belangrikste literêre pryse in Afrikaans wat aan haar toegeken word, ontvang sy ook die Constantijn Huygens-prys in 1978 vir haar hele oeuvre en die Herman Gorter-prys vir Kruis of munt in 1975. In 1978 word sy ook bekroon met die Reina Prinsen Geerlig-prys voor Zuid-Afrika vir al haar werk tot op daardie stadium. Dit maak van haar een van die weinige Afrikaanse skrywers wat op daardie tydstip buite haar eie land bekroon word.

Nadat sy die PC Hooft-prys ontvang het, het Nederlandse kritici as volg oor haar geskryf: "Vir Nederland se literêre kritici is die taal waarin Eybers skryf een van die belangrikste bronne van betekenis in haar digwerk. Kees Fens van die dagblad NRC Handelsblad skryf dat die gedig 'Februarie' ’n dubbele wêreld en ’n dubbele tyd is. Dit is iets wat eie is, en tog vreemd – dit hang van die leser af. Vir die Afrikaanse leser sal die eerste strofe van 'Februarie' vreemd wees. Hier word die donker, grys Nederlandse winter beskryf. Die Nederlandse leser verstaan op sy beurt die tweede strofe nie. Hier beskryf Eybers die maand Februarie as die 'voorspel van herfs'.

"Fens meen dat haar vele gedigte oor herfs en winter haar vreemdelingskap in Nederland verraai. Dit konfronteer haar met die essensie van haar bestaan – ’n tussen- en tersyde posisie. 'Sy skryf in haar eie handskrif op die ruite van ’n vreemde huis. Hardnekkig, want die taal is Eybers self. Dit is die manier waarop sy haarself uitdruk, maar dit maak haar en alles om haar vreemd. Dié vervreemding maak haar gedigte dikwels indrukwekkend.' Die grammatikale eienskappe van Afrikaans en die manier waarop dit die tegniese aspekte van Eybers se werk beïnvloed, word uitgebreid deur kritici ontleed. Fens meen dat dit ongelooflik is hoe Eybers eentonigheid in haar werk vermy. Daar is ’n hoë digtheid en beknoptheid in haar reëls. Fens skryf dat Eybers ’n meester van beknoptheid is. Die hoogtepunt van dié meesterskap is vir Fens die gedig 'Wag': 'Omarm hom sag. Jy het hom, aarde, en jy mag hom hou. Langer dan elke vrou. Ek hou die wag.'

"‘Dít is ongetwyfeld groots. En dít met ’n paar woorde. Die gedig is daarom verteenwoordigend: Elisabeth Eybers skryf die mooiste liefdes- en skeidingsgedigte. Eybers se voortdurende vasstelling van haarself teenoor mense, die verlede, die jeug, die ouderdom, die tyd, die buitewêreld en dood, hou haar gedigte oor soveel jare en soveel bladsye heen lewendig. Volgens Fens bly Eybers se voortdurende bevestiging en ontkenning van haar vreemdelingskap in Nederland indrukwekkend. Die proses van vreemdheid wat vertroudheid geword het sonder dat Eybers haarself verloën, is enig in sy soort. Só het dit in die verlede nie baie gebeur dat iemand Nederland en sy mense so voortdurend beskryf nie. Eybers se werk word daarom ’n 'spieëlskrif' genoem; gedigte wat die poësie van Nederland verruim.”

’n Ander kritikus, Willem Kuipers van De Volkskrant, skryf dat mense wat die taal- en politieke probleme van Eybers se werk op die agtergrond skuif, nie kan ontken dat ’n digterlike versameling van hoë gehalte met die toekenning van die PC Hooft-prys bekroon is nie.

“Eybers is ’n digteres wie in ’n enkele reël van haar werk herken kan word. Die onversetlike en selfsinnige grondtoon van haar werk tesame met die oënskynlike huislikheid is aspekte wat die leser aanspreek.” (Gawie Keyser, Die Burger, 23 Februarie 1991)

Engelse digters soos Yeats en Graves het ’n groot invloed op haar as skrywer gehad en sy is ’n bewonderaar van die Nederlandse skrywer Nijhoff. Eybers was vier tale magtig, naamlik Frans, Engels, Nederlands en Afrikaans, en van haar gedigte, soos "Voorbereiding" in Die stil avontuur en "Slak" in Balans is deur André Piot in Frans vertaal. Sy is in 1961 bekroon met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys vir Vertaalde Werk vir haar vertaling van Jules Supervielle se Die os en die esel van die krip.

Eybers ontvang ook eredoktorsgrade van vier universiteite: die Universiteit van die Witwatersrand in 1972, die Randse Afrikaanse Universiteit in 1979, die Universiteit van Pretoria in 1982 en die Universiteit Stellenbosch in 1990. Met die toekenning van die eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria word vermeld dat sy dit ontvang uit erkentlikheid vir die menslikheid wat uit haar werk spreek en omdat sy een van die belangrikste woordkunstenaars in die ganse Nederlandse taalgebied is.

In 1975, met geleentheid van Eybers se 60ste verjaardag, word die bundel Ter wille van die edel spel onder redaksie van Miep Nienaber-Luitingh gepubliseer en haar 70ste verjaardag word in 1985 in Duitsland gevier met ’n handgedrukte uitgawe van twaalf van haar gedigte uit die bundel Bestand. ’n Duitse vertaling in oorleg met die digter en die vertaler Hans Ester verskyn naas elke Afrikaanse gedig. Slegs 200 eksemplare van die prestige-uitgawe deur die meesterdrukker Arno Piechorowski van die Aldus-Presse Reicheneck is gedruk.

Tydens die 150-jarige feesviering van Eybers se geboortedorp Klerksdorp word sy vereer deur ’n gedenklesing wat deur Alba Bouwer aangebied is. In 1990 ontvang sy in Nederland ’n goue erepenning met ’n oorkonde van die Stigting Jan van Riebeeck vir haar letterkundige prestasies en die bevordering daardeur van die Afrikaanse taal en kultuur. In 1991 word sy verkies tot erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en in 1994 maak die Akademie en die Albert Wessels Trust bekend dat die Elisabeth Eybersbeursfonds gestig word wat jaarliks 'n prys toeken aan óf ’n Suid-Afrikaner óf ’n Nederlander met die doel om die kultuurbande tussen Suid-Afrika en Nederland te bevorder.

In 1990, met Elisabeth se 75ste verjaardag, word die bundel Uit liefde en ironie: Liber Amicorum Elisabeth Eybers met Hans Ester en Ernst Lindenberg as redakteurs gepubliseer.

In 1995, haar 80ste geboortejaar, word haar digkuns gevier met ’n simposium aan die Universiteit van Amsterdam te midde van toenemende belangstelling in Nederland in die Afrikaanse letterkunde. ’n Nuwe bloemlesing, Uit en tuis, saamgestel deur Hans Ester en Ena Jansen, is terselfdertyd aan Eybers oorhandig. Ander publikasies wat ook in 1995 verskyn om saam te val met haar 80ste verjaardag, is Die gespitste binneblik deur JC Kannemeyer, Eybers se nuwe Versamelde gedigte, Uit en tuis en Die enkel taak: die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson deur Lina Spies. In 1996 verskyn Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam deur Ena Jansen.

In 1998 bring Salomé Combrink die program Doepa teen opdroog op die planke by die Aardklop Kunstefees, waar 14 van Eybers se gedigte deur Wilhelm Joubert getoonset is en opgevoer is deur Mathys Roets, Susan Coetzer en Suzette Eloff.

Op 26 Februarie 2005 reël Zuid-Afrika Huis in Nederland in samewerking met Querido Uitgewery ’n byeenkoms rondom Elisabeth Eybers se 90ste verjaardag. Ena Jansen, Hans Ester en Tomas Lieske lewer toesprake en die sopraan Julia Bronkhorst sing van Elisabeth se getoonsette gedigte. Elisabeth en haar drie dogters is almal teenwoordig. (Haar seun Bert is is Desember 2002 oorlede.) By dié geleentheid is ’n eksemplaar van Valreep aan haar oorhandig.

In 1997 het die FAK haar vereer met hulle Prestigeprys vir poësie. Die FAK se Prestigeprys is tydens 'n besoek van die FAK se voorsitter, Chris Swanepoel, en die hoof uitvoerende beampte, Hennie de Wet, in haar huis in Amsterdam aan Eybers oorhandig. In 1999 ontvang Elisabeth Eybers die Orde vir Voortreflike Diens van president Nelson Mandela. In 2007 is die Orde van Ikhamanga in die goue klas aan haar oorhandig.

In 2003 het Sandra Prinsloo op kykNET ’n onderhoud met Eybers gevoer wat op die program Sandra op ’n drafstap uitgesaai is. Thalyta Swanepoel het in Die Burger van 14 Mei 2003 oor hierdie onderhoud berig: "Eybers sê sy kán haar ’n lewe sonder poësie indink, maar sy is tog bly dit is nie verbied nie. Op die vraag wat anders sy sou kon doen, sê sy sy het ’n aanleg vir tekenkuns. ‘Ek het graag portrette geteken.'

"Sy mis die Suid-Afrikaanse klimaat, maar het nooit daaraan gedink om terug te gaan nie. 'Ek het die lewe hier vryer gevind. Die mense se uitgesprokenheid het my opgeval. Die Hollanders is veel reguiter. Ons het mooier maniere gehad in Suid-Afrika, veral om mense se gevoelens nie seer te maak nie.'

"Eybers is oorbluf wanneer Prinsloo haar vra hoe sy voel om as die 'grootste lewende Afrikaanse digter' beskryf te word. 'Hoe bedoel jy die beskrywing? Niemand het dit nog ooit vir my gesê nie.'

"Eybers is die enigste Afrikaanse digter wat tegelyk in Nederland en in Suid-Afrika gepubliseer het. Dit is boonop nie nodig om haar werk te vertaal om dit verstaanbaar te maak nie. Hieroor is sy beskeie en sê sy kan tog nie oordeel nie. 'My geheue word swakker, of liewer, woorde ontglip my. Ek kan nie eintlik praat oor poësie nie.'

"Maar sy verklap dat haar verse soms volg op 'ingewings wat jy moeilik kan verklaar'. En dat dit haar doelwit is om verstaanbaar te dig omdat 'n mens tog daarvan hou om te verstaan wat jy lees."

Elisabeth Eybers is op Saterdag 1 Desember 2007, in Amsterdam oorlede. Sy is in die Zorgvlied-begraafplaas aan die Amstel in Amsterdam ter ruste gelê. Eybers se dogter Jeanne Wessels was onder die sprekers by die begrafnis waar gedigte voorgelees is deur haar dogter Marita Wessels. Ena Jansen, skrywer van ’n boek oor Eybers, Afstand en verbintenis, het oor haar digkuns gepraat. Ander sprekers was die Proust-vertaler Therese Cornips, die digter Toon Tellegen en die uitgewer Jan Kuijper. Eybers het nog ’n dogter, Elizabeth Bradley, agtergelaat.

Huldeblyke

    • Ena Jansen: "Dat ’n 'eerste digteres' in ’n taalgebied, so ’n belangrike literêr-historiese figuur, 70 jaar lank so konsekwent uitstekende gedigte sou skryf, en selfs die afgelope jaar nog enkele gedigte geskryf het, is ’n verstommende gegewe. Sy laat ’n absoluut uitsonderlike oeuvre agter. Presies die helfte van haar lewe het sy in Suid-Afrika gewoon en die ander 46 jaar in Amsterdam: ’n lewe in ’n uitsonderlike balans. Met groot liefde en dankbaarheid herdenk ek haar lewe en haar werk. Ek is verdrietig, maar weet dat haar lewe goed was so. Ek was my altyd bewus van die uitsonderlike voorreg wat ek gehad het om haar van so digby te ken. (...)

"Eybers se poësie is só veelkantig en ryk dat jy telkens weer met ’n ander invalshoek ’n nuwe, avontuurlike ontmoeting met haar en haar woordwêreld kan beleef. Jy kan op soek gaan na haar vergestaltings van vroue van alle leeftye, van twyfelaars, moeders en kinders, van geliefdes, van migrante en buitestanders; jy kan gedigte oor siektes, bome, reise, heimwee, die weer of uitsigte groepeer. Jy kan let op die verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika, haar verlange na jeug en ruimte, haar opvattings oor menslike waardigheid, haar metafore en neologismes, haar dubbelpunte en vraagtekens.

  • Die Burger,hoofartikel: "Met die oorlye van die digter Elisabeth Eybers, wat gister in Amsterdam begrawe is, het Afrikaans en Nederlands ’n kragtige band verloor. Eybers, wat in 1961 ná ’n traumatiese egskeiding na Nederland verhuis maar in Afrikaans bly dig het, is ook in Nederland as ’n 'eie' woordkunstenaar beskou. In Suid-Afrika is sy twee keer met die Hertzogprys (1945 en 1971) bekroon, terwyl die Nederlanders haar met drie van hul hoogste eerbewyse vereer het, te wete die Herman Gorterprys (1974), die Constantijn Huygensprys (1978) en die PC Hooftprys (1991).

"Daar is geen ander skrywer wat op dié manier met soveel gemak wydsbeen oor die skeidslyn tussen Nederlands en Afrikaans gestaan het nie; geen ander skrywer wat die 'mistieke band', in die woorde van NP van Wyk Louw, só beliggaam het nie. Al was dit om geen ander rede nie, laat Eybers se heengaan ’n geweldige leemte. Sy moes die band tussen die twee tale aan die gang help hou in die donker tye toe die politieke verskille gedreig het om hulle onherroeplik uitmekaar te skeur. Gelukkig het apartheid nog in haar leeftyd tot ’n einde gekom, en kon sy dit nog self beleef dat ’n nuwe wedersydse belangstelling [...] ontstaan. Dis nie dat Suid-Afrika en Afrikaans die gemoedere in Nederland beheers nie. Inteendeel, vir die gemiddelde Nederlander is dié land, soos hulle daar sê, 'ver van mijn bed'."

Tog is ’n oplewing van taalgevoel daar merkbaar, hoofsaaklik weens die Europese integrasieproses en die toestroming van miljoene vreemdelinge. En in die proses neem die belangstelling in Afrikaans ook toe. Eybers kon hierin weens haar hoë ouderdom slegs ’n beperkte rol speel. Maar met haar heengaan kon sy die bevrediging smaak dat haar twee tale stadig­aan weer nader aan mekaar groei." (Die Burger, 7 Desember 2007)

  • André P Brink: "Die laaste van die grotes. Haar bydrae sal nog ’n lang tyd nie na waarde geskat kán word nie. Haar werk het ’n stil diepsinnigheid waarsonder die letterkunde armer is." (Die Burger, 3 Desember 2007)
  • Kerneels Breytenbach: "As uitgewer kan ek net sê dat dit ’n baie groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde is – sy is werklik een van ons vernaamste digters. Sy was ook een van die nederigste mense wat ek geken het. Sy het altyd gevra om haar groete oor te dra as ek enige van haar ou kennisse raakloop wat haar nog onthou. Ek was altyd baie verbaas om agter te kom dat sy opreg gedink het mense het van haar vergeet.” (Die Burger, 3 Desember 2007)
  • Koos Human: "Ek was betrokke by die uitgee van tien van haar bundels en haar versamelde gedigte. Ek onthou haar as ’n vriendelike, innemende mens wat baie beskeie was. Haar bundels is in Nederland deur Querido gepubliseer. Sy was een van die suksesvolste digters in Nederland wat gehalte en verkope betref.” (Die Burger, 3 Desember 2007)
  • Beeld, hoofartikel: "Elisabeth Eybers word dikwels beskryf as die Afrikaanse digter wat as eerste gepubliseerde vroue-digter in Afrikaans die 'pad oopgeskryf het' vir vroue ná haar. Maar dit is eintlik ’n heeltemal te eng siening van haar, die digkuns en natuurlik talentvolle vroue. Dit is waar dat sy saam met NP Van Wyk Louw en Dirk Opperman een van die 'grotes' van Afrikaans was in ’n tyd dat die Afrikaanse literatuur deur mans oorheers is, maar sy was aan die einde bloot een van ons beste digters. Haar nalatenskap is haar werk – gedigte met statuur, geskryf oor ’n leeftyd. Haar laaste bundel is twee jaar gelede gepubliseer, toe sy 90 was. Haar werk is hoog geag, nie alleen in Suid-Afrika en in Afrikaans nie, maar ook in Nederlands – en dus in Europa. As sodanig was sy een van die [min] Afrikaanse digters wat die waarderende internasionale gehoor gekry het wat sy verdien het. (Beeld, 5 Desember 2007) (Dieselfde berig was in Volksblad, 6 Desember 2007.)
  • Aucamp, Hennie:

    Vier kwatryne vir Eybers

    Slagspreuk
    Met woorde van ’n redery
    het ek dié kompliment berei:
    dit was wel daar, maar in jóú spraak
    word die sonnet opnuut volmaak.

    Tafelrede
    “Ek word van ironie verdink,”
    het Eybers by ’n fees gesê;
    geslepe is haar retoriek:
    sy het in dubbelpraat belê.

    Kuras
    Gestreng en Wes-Transvaals
    het haar digtertaal gebly,
    al het sy ook van liewerlee
    in poldernewels ingegly.

    Lied
    Hiermaals, namaals, in die niet
    klink altyd nog die kokkewiet:
    onbreekbaar is die klankverbinding
    tussen sangers en hul lied.

  • IL de Villiers:

    Hertogin

    jou helder halfjaar is in my donsbaardjeug verby
    die prof het statig voorgelees gepraat van herfstigheid
    in elke woord van hierdie vrou van by die veertig
    die hersenskim van die verdriet en vreugde en vrees
    nog meer as vyftig jaar sou herfs en winter aanhou bloei
    – met jou déél van die fluisterende getye – soos amandelbome
    daardie eerste vryheidsvoorjaar teen die heuwel uit by Praag
    waar jong ma’s langs die brug sit met hul babatjies wat slaap
    jy sou weer liefde vind én trane afvee oor die dood: jou kind
    in later foto’s lê dié skraal spore in jou oë tog bly jy hertogin
    van al ons poësie jy het dit immers jonk met skugter woord
    gewaag en toe al strakker. wit blom jou verse in ’n voljaarboord.

  • Lucas Malan:

    Afspraak

    Die uurwerk het haar enkel taak
    weer stip volbring. Op ’n wintersdag
    om kwart oor tien, op die tweede vlak
    aan ’n kade, het die klok gestaak.
    Kort tevore het die laaste uur geslaan.
    Terstond het die merels buite verstom,
    lont geruik en vervaard uitgeflap
    na die Vondelpark. Daar, met krom
    nek geboë in rougebaar, dryf nóg
    so vorstelik, eenkant, ’n swaan.

  • Joan Hambidge:

    Elisabeth Eybers (1915–2007)

U het vér van ons gestaan
in ’n klein liniaalland,
op die Stadionkade, A’dam;
soms vererg, soms verras,
hoe jonges oor die einder
met u kalwers ploeg, ironies.
Só bly u een van ons
(naastenby, naderhand),
al dig u in ’n tussentaal:
immigrant én emigrant
– tegelykertyd, subiet –
opgevang óf gestulp
in ’n versus vir die niet.

  • Johann de Lange:

    Nadors

    Eybers, ’n remix  
    Die aard van verslawing is dat dit ontydelik kwel.
    Verniet of jy, soos in ’n ou ballade, op die duur
    jou daarvan losmaak met ’n kuur.
    Die ritueel van cold turkey is vasgestel.
    Vreemd, van onthouding word nie veel vertel.
    Waar vind mens ’n volhardende gedig
    om jou oor daardie wilskrag in te lig,
    daardie sonderlinger hel?

  • Petra Müller:

    Amsterdam

    Die grag is eindeloos omdat dit
    wegval in ’n waterweg. Refleksies wel, en wieg.
    Daar daag ’n vaalveld uitgestrek tot aan
    ’n horison, en bo die horison die geel son
    van geregtigheid. Die vrou staan stil, sy trek
    die tjalie digter om haar tenger lyf en keer
    haar stadig na die graghuis om. Maar kyk nog
    een maal terug: ek het dit reggekry om nie te lieg.

  • Wilma Stockenström:

    Die blaar

    Blaar wat moeg word van hang en val.
    Ek is die blaar. Die val eindeloos.
    Waarop staan die boom vanwaar ek val?
    Waarin? Die boom weet nie.
    Ek val van ’n boom van geen kennis,
    maar ek weet ek het gehang van groen tot bruin.

  • Fanie Olivier:

    roulynolie

    die bloedende praktyk het jy vroeg gedistilleer
    dit daarna dekadeslank ruimskoots gereduseer
    tot on- en uitgeskrewe teorie van rym en ritme
    getregter, opgevang in teer en seer en weer

(Al die bostaande gedigte het in Rapport, 7 Desember 2007 verskyn.)

In 2009 het Human & Rousseau Klinkklaar uitgegee. Dit is ’n hardebandboek met ’n CD waarop Elisabeth Eybers 50 van haar eie gedigte voorlees. Die gedigte is deur Ena Jansen uitgesoek en sy het die voorwoord geskryf. Dit is in Suid-Afrika en Nederland uitgereik. Ena Jansen het meer oor die projek vertel: "’n Digter wat haar eie werk voorlees, bied deur die pouses of versnellings wat sy in versreëls lê, as’t ware regie-aanduidings van hoe haar gedig moet 'klink'.

"Elisabeth Eybers self wou nooit optree op poësiefeeste nie en haar dogter Marita Wessels moes soms ­namens haar moeder op­getree het. Sy’t toe die idee gekry om ’n CD van haar eie voorlesings te maak en vir my gevra om by ­uitgewers te hoor of dit aftrek sou kry. In Suid-Afrika is die ervaring met poësie-CD’s maar sleg en daar was nie belangstelling nie. Ek het toe vir Eybers gevra of sy dan nie sommer self haar gedigte wou lees nie en tot ons stomme verbasing het sy ingestem, mits ek die keuse sou maak. Ek het toe ongeveer 50 gedigte gekies uit die ongeveer 900 wat sy in 70 jaar geskryf het.

“Marita het ’n klankman gehuur en op die oggende van 18 en 28 November 2005 het ons vier om Elisabeth se eetkamertafel gesit en die opnames ­gemaak. Selfs tóé het uitgewers getwyfel, maar Marita wou ná haar moeder se dood hoe dan ook die CD self probeer versprei. Ek het Querido weer genader en hulle wou toe wel baie graag die boekie met CD uitgee. Marita het gesorg vir die redigering van die meesterkopie in Hilversum. Op die valreep was Human & Rousseau bereid om ’n gedeelte van die oplaag oor te neem sodat die tradisie voortgesit kon word waardeur ’n Eybers-bundel altyd sowel in Nederland as Suid-Afrika verskyn.”

Oor die bydrae van Eybers se eie stem tot die gedigte merk Jansen teenoor Willem de Vries (Die Burger, 24 Februarie 2009) op: “Om ’n gedig stilletjies vir jouself oor en oor te lees is maar die beste manier om ’n gedig regtig goed te beleef en te interpreteer. Maar goed, dis ’n baie geldige vraag of die CD agter in Klinkklaar iets toevoeg aan ons belewenis van die ‘stillees’ van haar gedigte. Wat ek self treffend vind, is hoe sterk interpreterend sy lees. Tegelykertyd lees sy ’n gedig baie selde opvallend anders as wat ek dit self altyd al ‘gehoor’ het, danksy haar indrukwekkende klankopbou.”

Jansen vertel Eybers was in haar rol as digter tussen Afrikaans en Nederlands ’n baken vir Afrikaans tydens die jare van ­kulturele-boikot-aksies. “Deurdat sy altyd in Afrikaans bly skryf het, het sy vrou-alleen die plek van Afrikaans in Nederland warm gehou. Wat dít betref, was sy ’n eenpersoonsbaken in moeilike tye, ’n bietjie soos Helen Suzman in die parlement was, ’n leeftydgenoot wat sy bewonder het. Sy’t as’t ware ’n hawe gebou waar ander Afrikaanse digters soos Stockenström, Krog, Naudé, Snyders, Oliphant, Van Niekerk, Pieterse en soveel ander ­ná 1990 in Nederland kon kom vasmeer.”

Oor die keuses vertel Ena aan De Vries: “Ek het gedigte gekies wat ek self goed ken omdat ek hulle so goed vind en wat ek haar daarom baie graag ’n keer hardop wou hoor lees. Maar natuurlik moes ek baie ander gedigte weglaat wat ek as ewe belangrik beskou. Agteraf dink ek soms dat ons nog ’n paar oggende lank opnames moes gemaak het, dalk vir ’n volgende CD maar in ieder geval as ‘brokke respyt’ vir tyd en ewigheid!”

Dit is opmerklik om te hoor hoe Afrikaans Eybers gebly het ná al die tyd in Nederland. Tydens die opname in 2005 het sy reeds 45 jaar lank in Amsterdam gewoon; haar laaste besoek aan Suid-Afrika was in 1979, vertel Jansen.

Vir baie van Eybers se Suid-Afrikaanse lesers “het sy altyd iets asketies, geheimsinnig en baie stil uitgestraal. Om haar nou uiteindelik te hóór is daarom vir baie mense ’n ontroerende ervaring. Ek dink dit is juis omdat sy so lank hier gewoon het dat sy die twee tale duidelik as af­sonderlike tale beskou het.

“Eybers het dikwels na haar pa se mooi Karoo-Afrikaans verwys en baie nagedink oor Afrikaans in vergelyking met Nederlands. Met haar dogters en met Afrikaanse vriende het sy altyd Afrikaans gepraat. Sy kon ­Neder­lands goed praat, maar het, soos die meeste Afrikaans­sprekendes trouens, haar Afrikaanse aksent behou. Selfs ná byna 50 jaar in Nederland.”

In Die Burger van 7 September 2012 het Raymond Willemse berig oor die manuskrip van Die stil avontuur wat deur Antiquarian Auctions opgeveil is. Die manuskrip is vir om en by R103 000 aanlyn aan ’n onbekende Suid-Afrikaner verkoop.

Tony Mills van Antiquarian­ Auctions het vertel: “Slegs twee belangstellendes het deelgeneem. Dit kan dalk wees omdat die bod met R100 000 begin het. Die veiling was vir ’n week oop. Teen Woensdag het dié twee, albei van Suid-Afrika, op die manuskrip begin bie. Die finale bod is ook op dié dag gemaak.

"Ons is glad nie verbaas dat die manuskrip soveel gehaal het nie. Dit is net ’n teken hoe belangrik Eybers se werk en ook Afrikaans is.”

Die manuskrip bestaan uit 84 bladsye, in rooi ink, in haar eie handskrif, met korreksies, byvoegings en deurhalings. Die gedigte is net op een kant van ’n bladsy geskryf.

In 2014 het Media24 aangekondig dat daar ’n jaarlikse Elisabeth Eybers-beurs vir digkuns in Afrikaans of Engels toegeken sal word. Die prys is bedoel vir digbundels wat deur Media24 se uitgewersgroepe uitgegee is. Vroeër het digbundels saam met kortverhaalbundels, dramas en romans om die WA Hofmeyr-prys meegeding. Dié prys is ingestel om uitnemendheid en vernuwing aan te moedig en erkenning te gee aan digters wat die grense van die digkuns deur hul werk verskuif. Net oorspronklike werk (geen vertalings nie) sal in aanmerking kom en die beoordelaars sal op die uitkyk wees vir uitnemende skryfwerk en vars poësie.

Publikasies:

Publikasie

Belydenis in die skemering

Publikasiedatum

  • 1936
  • 2de druk 1957
  • 3de uitgawe 1975

ISBN

0624007057 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1943

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die stil avontuur

Publikasiedatum

  • 1939
  • 1943
  • 1945
  • 1947
  • 1949
  • 1955
  • 1958
  • 1962
  • 7de uitgawe 1975
  • 7de uitgawe, 2de druk 1982

ISBN

06267003737 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1943

Vertalings

Engels; vertaal deur outeur en Olga Kirsch, 1948

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vrou en ander verse

Publikasiedatum

  • 1945
  • 1949
  • 1955
  • 1963
  • 1967
  • 1969
  • 2de uitgawe 1975
  • 3de uitgawe 1981

ISBN

  • 0624007049 (hb)
  • 0624015491 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Constantia
  • ’s-Gravenhage: Stols
  • Pretoria: De Bussy
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ander dors

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1950
  • 1956
  • 2de uitgawe 1975
  • 2de uitgawe, 2de druk 1977

ISBN

0624007073 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Constantia
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tussensang

Publikasiedatum

  • 1945
  • 1950
  • 1951
  • 1955
  • 2de uitgawe 1977

ISBN

  • 0624009259 (hb)
  • 0624009599 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Constantia
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die helder halfjaar

Publikasiedatum

  • 1954
  • 1956
  • 1957
  • 1966
  • 1971
  • 1974
  • 2de uitgawe 1981

ISBN

  • 0624005089 (hb)
  • 0624015505 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Constantia
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kwartet. Saam met MER, Ina Rousseau en Henriette Grové

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1959
  • 1960
  • 1962
  • 1965
  • 1974

ISBN

0624006255 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Versamelde gedigte

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1958
  • 1965
  • 1977
  • 1990
  • 1995
  • 2004

ISBN

  • 0798133791 (hb)
  • 0798144483 (hb)

Uitgewer

  • Amsterdam: GA van Oorschot
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Neerslag

Publikasiedatum

  • 1958
  • 2de uitgawe 1975

ISBN

0624007065 (hb)

Uitgewer

  • Amsterdam: GA van Oorschot
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Balans

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1968
  • 1972
  • 1977

ISBN

07981101857 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onderdak. Gedigte. November 1962 – Junie 1967

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1974
  • 1980

 

ISBN

0798103795 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kruis of munt

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1975

ISBN

0798102918 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1973
  • Herman Gorter-prys 1975

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Einder

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1978
  • 1980

ISBN

0798107650 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1977
  • WA Hofmeyr-prys 1978

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Gedigte 1936–1958

Publikasiedatum

  • 1978
  • 2de uitgawe 1982

ISBN

  • 0624011445 (hb)
  • 0624017338 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Gedigte 1958–1973

Publikasiedatum

1978

ISBN

9021461919 (hb)

Uitgewer

Amsterdam: Querido

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Voetpad vir verkenning: kritiese opstelle. Ingelei deur JC Kannemeyer

Publikasiedatum

1978

ISBN

0798108754 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kritiese opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Bestand

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798113448 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1982
  • WA Hofmeyr-prys 1983
  • Louis Luyt-prys 1984

Vertalings

Duits (Zwölf Gedichte) deur A Piechorowski

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Gedigte 1962–1982

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798117486 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Dryfsand

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798118822 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Rymdwang

Publikasiedatum

1987

ISBN

079812220X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ou Mutual-prys 1989

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Noodluik

Publikasiedatum

  • 1989
  • 1993

ISBN

079812590 (hb)

Uitgewer

  • Reutlingen: Aldus-Presse Reicheneck
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Duits vertaal deur Arno Piechorowski en Hans Ester, 1993

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Versamelde gedigte

Publikasiedatum

  • 1990
  • 1995
  • 2004

ISBN

  • 0798133791 (hb)
  • 0798144483 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau
  • Amsterdam: Querido en Van Oorschot

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Teëspraak: rondom die PC Hooft-prys

Publikasiedatum

1991

ISBN

0798129212 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Respyt

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798130784 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ou Mutual-prys 1994

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Nuweling

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798133287 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Uit en tuis: Afrikaanse verse uit Amsterdam. Saamgestel deur Ena Jansen en Hans Ester

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798133856 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

’n Pastoriedogter

Publikasiedatum

1995

ISBN

Handgedrukte eksemplare

Uitgewer

Reutlingen: Aldus-Presse Reicheneck

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Tydverdryf = Pastime

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798135239 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Engels vertaal deur skrywer

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Verbruikersverse = Consumer’s verse

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798137223 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Amsterdam: Querido

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur skrywer

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Winter-surplus

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798137622 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Valreep = Stirrup-cup

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144866 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur skrywer

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Klinkklaar

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150576 (Hardeband met CD)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Voorlesings van Eybers se gedigte

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasies oor Elisabeth Eybers

 ’n Keur van artikels oor en deur Elisabeth Eybers op die internet

Bronne:

  • Herinnering se wei: Afrikaanse skrywers oor hulle jeug. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1966
  • Jansen, Ena. 1998. Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam. Amsterdam: Amsterdam University Press
  • Kannemeyer, JC. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. I. Kaapstad: Academica
  • Kannemeyer, JC. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Kaapstad: Human & Rousseau
  • Van Coller, HP (red). 1998. Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: Van Schaik
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-02-25

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek is op soek na die gedig "Maria" van Elisabeth Eybers". Kan julle my miskien help, asb? Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top