Uit NALN se argief: Ena Jansen se eerste onderhoud met Elisabeth Eybers

  • 0

Ena Jansen (Foto: Izak de Vries)

Ter viering van Ena Jansen (geb. 18 Maart 1951) se sewentigste verjaardag vandag, bied die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) dié getranskribeerde artikel van Jansen se heel eerste onderhoud met Elisabeth Eybers, destyds ter viering van Eybers se 60ste verjaardag.

Uit LitNet se argief:

“Ena Jansen se eerste artikel oor Elisabeth Eybers het op 12 Maart 1975 in Sarie Marais verskyn – dit was ’n onderhoud wat sy ter geleentheid van Eybers se 60ste verjaardag met haar op versoek van die redaksie gevoer het. Dit was die begin van ’n jarelange vriendskap tussen Eybers en die destydse 23-jarige Ena wat toe so pas in Nederland begin studeer het.”

So lyk die oorspronklike onderhoud in NALN se argief.

En hier is die transkripsie deur Annelien Diedericks.

Sestig en weer tuis – Ena Jansen

Tien bundels versprei oor bykans 40 jaar maak Elisabeth Eybers onteenseglik die grande dame. En nou, in die Jaar van die Vrou nogal, is sy weer in Suid-Afrika vir ’n besondere besoek van ’n maand lank. Op 26 Februarie het sy jarig geword, soos die Hollanders sê, en dié verjaardag het sy in Suid-Afrika kom vier.

Afstand

Under the hollow roof
The strangers’ voices come –
“The night is dark, and I
     Am far from home.”

    (Walter de la Mare)

Van tyd tot tyd nog steeds die vreemde vraag:
Jy – meestal u – het langsaamaan wel tuis
geraak in hierdie land?
Ek neurie nie die nag
is donker ek is ver van huis
maar knik welmenend vaag
en vals. Ek wortel elders, hoe sou ek my hier
kan tuis maak. Dinge en ek gaan aan mekaar verby
sonder herkenning. Daarom laat hulle my
met rus, versin geen hinderlaag, lê nooit beslag
en daarom kan ek hulle goed verduur.

    (Uit Kruis of munt)

Deur die lensopening is sy skielik in fokus, en die herkenning van haar wye oë, so bekend van foto’s in Junior verseboek en agter op Kruis en munt, is onmiddellik – maar nou is die oë heldergroen, alles is driedimensioneel, en agter die fotobeeld verby strek Elisabeth Eybers se leefruimte en menslikheid uit om te leer ken.

Na hierdie ontmoeting het ek lank uitgesien en my besoekdag is sag en sonnig. Op so ’n dag ry mens nie met die trem nie, en net anderkant Van Schendel se borsbeeld op die Stadhouderskade draai ek af om deur die Vondelpark koers te kry na waar Elisabeth Eybers hier in Amsterdam woon. Ek stap eers deur die buurt en wens een van die emmers winter- en vroeglenteblomme langs die straat het sonneblomme in gehad. Maar die wit en geel gerf oor my arm word tog ’n stukkie son wanneer sy dit neem en in ’n lang vaas skik. Die sonskyndag val helder in die ruimheid van haar Onderdak.

Elisabeth Eybers woon sedert 1961 in Amsterdam en die eerste “net vir ’n jaar”-verblyf het permanent geword. Haar boeke en selfs ’n enorm-pragtige buffetkas wat sy van haar ouers het en meer as 200 jaar oud is, het agternagekom. Teen die wit mure hang skilderye deur onder andere Cecil Higgs, Pierneef, Florence Zerffi en Georgina Orniston, een van twee skilderye wat haar ouers nog van Hugo Naudé as trougeskenk ontvang het en ’n vroeë Jean Welz. Geskiedenis van Suid-Afrika deur WJ de Kock lê op die koffietafel en in die hoek is Breytenbach se fotoboek oor Distrik Ses.

Maar hier het Elisabeth Eybers ook ’n nuwe Amsterdamse leefwyse opgebou. By die voordeur van haar huis waarin sy vanaf Maart 1968 woon, staan die blou fiets waarop sy graag in Vondelpark gaan ry, en in die portaaltjie bo die trap hang jasse van die soort wat ’n mens in Europese winters dra.

Die oop woonvertrek strek die hele lengte van die skraal huis se middelste verdieping uit, en waar ons sit, val die lig helder deur die uitgeboude venster wat uitkyk op die stil Van Breestraat. Die geur van pasgesette Earl Grey-tee draai stadig uit die goudbruin teepot boontoe en aan die ander kant van die kamer rek die sonnetjie nog om die Times Literary Supplement op haar lessenaar by te kom.

Elisabeth Francoise Eybers is sestig jaar gelede op Klerksdorp gebore, in ’n Wes-Transvaalse pastorie getoë; sy was student in letterkunde en kuns aan die Universiteit van die Witwatersrand en ’n ruk lank in die redaksies van Die Moderne Vrou en Die Brandwag. Jonk-jonk het sy begin dig en die veelkantigheid van mens-wees, van vrou-wees, soos sy dit ervaar in die liefde, moederskap en vriendskap, kan ’n mens steeds in haar poësie leer ken en deel.

Vir ’n nuwe Eybers-bundel sal egter nog ’n ruk gewag moet word.

“Ek is nie haastig om te publiseer nie. Ek skryf, maar die volgende bundel sal nie gou verskyn nie,” sê sy wanneer ons oor haar werk gesels. Daar is ’n rykheid en sagtheid in haar wat jou laat voel dit kan nie anders as dat ook die werk waarmee sy besig is, eers volrond moet wees wanneer dit gevoeg word by Belydenis in die skemering(1936), Die stil avontuur (1939), Die vrou en ander verse (1945), Die ander dors. Verse (1947), Tussensang (1950), Die helder halfjaar (1956), Neerslag (1958), Balans (1962), Onderdak (1968) en Kruis of munt (1973).

Haar uitgewer se verjaardaggeskenk is juis ’n gedenkbundel opstelle oor haar werk en sy is, soos ’n mens oor ’n present is (al weet jy naastenby wat jy kry), heel nuuskierig oor die samestelling daarvan. Met die uitsondering van ’n paar bydraes, onder meer een in Nederlands deur ’n vriend, professor Pieter Hennikman, sal die inhoud ’n verrassing wees. Tydens haar kuier in die Kaapse deel van die land sal sy ook die gas van die Afrikaanse Studiekring op Stellenbosch wees en ons raak saam opgewonde oor haar teruggaan na ons land en sy mense – haar vyfde besoek sedert sy in Nederland woon.

By haar suster in Springs en twee van haar vier kinders sal sy ook weer kan kuier. Die oudste, Lisbeth, woon in Johannesburg en haar seun Albert is ingenieur in Durban. Albei is getroud, met drie kinders elk, en sy sal een van die kleinkinders nou vir die eerste keer sien. Marita is ook getroud en woon in Amsterdam, terwyl Jeanne, die jongste (byna 24 en soos haar moeder onder die teken van die Vis gebore), psigologie studeer aan die Universiteit van Amsterdam.

“Jeanne het eintlik die beste aangepas, omdat sy op so ’n ontvanklike ouderdom was toe ons hierheen gekom het. Sy praat byvoorbeeld vloeiend Nederlands terwyl ek self nooit die aksent sal bemeester nie,” sê mevrou Eybers. Maar wanneer die telefoon onverwags lui, gesels sy vlot op haar sagte manier.

’n Mens herinner jou uit haar gedig “Tongval” (in Onderdak) “hoe eiesinnig strotteweefsel is / wat die essensiële taal beskerm”. En jy besef hoe ’n aanpassing in sovele opsigte die oorplanting na Nederland moes wees.

Dit word laat en ná ’n ekstra lekker droë sjerrie en afspreek vir ’n volgende keer, is dit tyd om te gaan. Jas aan en serp om. Buite is die skemeraand skielik koel, maar daar bly in jou ’n warmte ná jy so kon kuier by Elisabeth Eybers.

Foto en artikel: Ena Jansen

Uit: Sarie Marais, 12 Maart 1975, pp40-41

Lees ook:

Ena Jansen (1951–)

Ena Jansen oor Elisabeth Eybers, die literêre dubbelburger

In gesprek met ... Ena Jansen

Die 100ste geboorteherdenking van Elisabeth Eybers

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): ’n onderhoud met Wyno Simes

LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen

Ena Jansen: Afskeidsgeleentheid byeengebring

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top