![]() |
Carina van der Walt gesels met akademici uit verskillende dissiplines uit die Lae Lande, wat hulle onvermoeibaar besig hou met Afrikaans of met Suid-Afrika. Wie is die man of die vrou agter die boek, die projek, die navorsing of op die leerstoel? Waaroor gaan die boek, die projek, die navorsing? Hoe geïnspireerd sit ’n wetenskaplike op ’n leerstoel vir bande met Suid-Afrika? |
Ena Jansen beklee vir ’n derde aaneenlopende termyn die leerstoel vir Suid-Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam (UvA). Haar termyn sal tot Maart 2016 strek. Die leerstoel word deur die Suid-Afrika Instituut van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam beheer. Die Van Ewijck-stigting in Kaapstad dra ook by tot die koste. Een van Jansen se talle opwindendende take verbonde aan hierdie besondere leerstoel was die begeleiding van ’n doktorale studie oor ubuntu as strategie in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Dit is pas agter die rug. Ons gesprek begin by haar eie doktorale proefskrif (1992), wat uitgeloop het op Afstand en verbintenis – ‘n studie oor Elisabeth Eybers. Die gesprek neem spontaan sy loop na haar werk oor die posisie van huisbediendes soos dit gerepresenteer word in die Suid-Afrikaanse letterkunde en haar reeks lesings in Zuid-Afrikahuis. Uiteindelik herlei ’n paar vrae oor haar lewe in twee wêrelde die gesprek terug na Eybers.
I
Jansen het Eybers reeds in 1975 ontmoet toe sy ’n onderhoud vir Sarie met haar moes voer. Eybers het toe 60 geword. Ten spyte van ’n groot onderdomsverskil het hulle van die begin af mekaar goed verstaan. Hulle vriendskap het geleidelik via die poësie gegroei. Jansen het Eybers as “lyfdigter” leer waardeer.
Daar is vir Jansen baie ooreenkomste tussen hulle. “Eybers het in 1961 van Johannesburg na Amsterdam verhuis en ek weer van Amsterdam na Johannesburg toe in 1984 – vir ’n tyd lank. Ons het dus mekaar se wêrelde bietjie geken. Boonop was ons albei predikantsdogters met ma’s wat meer Engels en wêrelds was as ons pa’s. Elisabeth het ’n heerlike gevoel vir humor gehad en ons kon lekker saam lag.”
Jansen het die bloemlesing en CD Klinkklaar (2008) met ’n vyftigtal gedigte help uitgee en het ’n inleiding daarvoor geskryf. Dit is die enigste kommersieel beskikbare klankopname van Eybers se stem. Dit het tot stand gekom op inisiatief van Eybers se dogter Marita Wessels.
Die klankopnames is oor twee dae gemaak, om Eybers se eetkamertafel. Die enigste ander klankopnames is in die 1960’s in Brussel gemaak en lê in die argief van die Wêreldomroep. Vir Eybers was ’n gedig ’n baie intieme gesprek en moes dit veral so bly. Geen verhoogoptredes vir haar nie:
Vooruitlopend op die nag van die poësie
Aan ongepaste blootstelling verwant
is die digkuns as dit skaamteloos paradeer,
waggelend op stelte, luidspreker in die hand.’n Sigbaar moeë en skielik emosionele Jansen lig die sluier oor Eybers se laaste paar dae.
“Dit sou op 26 Februarie haar verjaarsdag gewees het. Ek het nog nie by haar graf op Zorgvliet uitgekom nie. Ek moes klasgee en daardie aand optree by die leeskring in Zuid-Afrikahuis. In 2007 het ek my eerste vyf jaar as hoogleraar met ’n simposium oor families in die Tropenmuseum gevier. Elisabeth was ’n paar weke daarvóór baie siek en swak. Ek was byna elke dag by haar, behalwe die drie dae voor die simposium. Op die oggend na die simposium moes ek kies tussen haar éérs besoek en ’n wandeling. Op pad terug van die wandeling af het my selfoon by die tramhalte gelui. Dit was haar dogter Jeanne. Elisabeth was pas oorlede. Ek het dadelik gegaan.”
In die akademiese wêreld het ’n nuwe neiging posgevat. Dit is lesings van ongeveer ’n halfuur lank op YouTube. Die oorsprong van The Last Lecture lê by ’n Amerikaanse professor in rekenaarwetenskappe, Randy Pausch. Hy was terminaal toe hy op 8 September 2007 sy laaste lesing gegee het: “Really Achieving Your Childhood Dreams”.
Waaroor sal jou lesing gaan as iemand jou vra om deel te neem aan The Last Lecture?
“Dit sal afhang van waarmee ek op daardie stadium besig is. Op die oomblik werk ek aan die representasie van huisbediendes in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Die finale voorbereiding van my manuskrip, Soos familie,is aan die gang. Dit sal hopelik voor Kersfees by Protea Boekhuis verskyn.”
Hoe het jy by die tema uitgekom?
“Ek kan nie so lekker onthou nie. Daar was ’n paar intellektuele beginpunte. Ek het byvoorbeeld ’n boek gelees soos Antoinette Burton se Dwelling in the Archive.Ezekiel Mphahlala het in Down Second Avenue op ’n aangrypende manier oor sy herinneringe aan sy ma vertel. Ek het ’n artikel vir Stilet geskryf, ook bydraes oor bediendes virdie herinneringsboek Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar en Woordeloos tot verhaal. In die herinneringsboek het ek gebruik gemaak van foto’s in die argief van ons gesin se foto-albums. Waar en wanneer is bediendes saam met my en my tweelingsussie afgeneem toe ons klein was? Die ander artikel se naam is ‘Dis tyd dat Boytjie van die werf af kom’.Dis ’n uitspraak van die pa in Jan van Tonder se Roepman. Daarin staan die Rademan-kinders en toekyk hoe hulle pa die bediende se seuntjie wegstuur na sy sogenaamde ‘tuisland’. Ek het hierdie trauma deurgetrek tot by die Reitz 4.
“In JM Coetzee se Age of Iron speel die huishulp Florence ’n sentrale rol.Die bediendekwessie is vandag steeds groot in Suid-Afrika. Soos familie is gaan oor literêre representasie, maar het als te make met migrasie, geskiedenis en sosiologie. Ek wys dat letterkunde oor die werklikheid gaan, maar ook weer bepalend is vir die maniere waarop ons na die werklikheid kyk. Stuart Hall praat van die ‘cycle of representation’.
“Persoonlikis Soos familie ’n hommage aan Cecilia Magadlela, ’n Xhosavrou in Johannesburg met wie ek ’n vyf-en-twintig jaar lange verbintenis het. Al die bediendes in Soos familie is stadsvroue, want dis heeltemal ander tipes verhoudings as in plaasromans. Die skakels tussen wit en swart, stad en platteland word dikwels deur die vroulike huisbediende in die stad beliggaam.”
Op dié manier lewer Jansen ’n dubbele bydrae om rasse- en genderverwante diskriminasie in Suid-Afrika te ontmasker.
Jansen is tans besig met haar gebruiklike reeks lesings in Zuid-Afrikahuis aan studentegroepe van die UvA en die Vrije Universiteit (VU). Die tema vanjaar is letterkunde oor Kaapstad en Johannesburg. Vir Kaapstad moes die studente 13 Uur van Deon Meyer lees en sy behandel onder andere gedigte van Wilma Stockenström, Antjie Krog en Loftus Marais. Vir Johannesburg moes die studente Triomf lees en Jansen behandel onder andere Drum-tekste, gedigte van Wally Serote en die werk van Ivan Vladislavi?. Stadsromans weerspieël ’n belangrike onderdeel van die kontemporêre Suid-Afrikaanse letterkunde.
Cecilia Magadlela wil teruggaan na Butterworth, na haar mense in die Oos-Kaap. Jy help haar met die bou van haar huis daar. Sou jý permanent teruggaan Suid-Afrika toe?
“Ja, ek sou daarvan hou, so goed as permanent. Ek is baie lief vir Johannesburg én die Kaap. Ek woon sedert 2001 vir ’n tweede periode in my lewe in Amsterdam. Die eerste periode het tien jaar geduur. Ek’s nou al weer twaalf jaar hier.”
Romantiseer jy nie Suid-Afrika nie?
“Nee, ek dink nie so nie. Ek lees die koerante en weet dat baie dinge skeefloop. Ek gaan twee maal per jaar elke keer vir ses weke Suid-Afrika toe. Dan woon ek in Kaapstad.”
Ervaar jy tekens van vernederlandsing in jouself?
“Ek het absoluut vernederlands, maar ook definitief Afrikaans gebly. Dis lankal dat ek nie meer dink ‘óf ... óf’ nie, maar ‘én ... én’. As ek hiér is, verlang ek Suid-Afrika toe, maar as ek daar is, verlang ek nie eintlik terug Nederland toe nie. Kyk, ons woon fantasties in Amsterdam in ’n heerlike woning digby die Rijksmuseum. Ek kon nie vir ’n lekkerder plek vra om te bly nie. Ons sal maar sien waar ons ons later wil vestig. Dis nie die tipe vraag waaroor ek definitiewe uitsprake kan maak nie.”
Het jy ooit ’n liefde/haat-verhouding gehad met Suid-Afrika of met Afrikaans?
’n Baie twyfelagtige “Hmmm, nee-e …” lei Jansen se antwoord in.
“Ek was baie sterk teen apartheid gekant. Dis hoekom ek destyds nie teruggegaan het nadat ek my studie aan die Universiteit van Utrecht voltooi het nie. Al my kollegas wat saam met my studeer het, het teruggegaan, maar ek wou nie. Totdat ek ’n tydelike pos by Wits gekry het. In daardie tyd was ek saam met Johannesburgse vriende baie aktief in die politiek en kon ek ’n bydrae lewer.”
Weerhou die huidige politieke toestand met onder andere geweld en bedreiging van joernalistieke vryheid jou nie?
“Ja, maar ... Dit sal my tog nie weerhou nie. Dis ’n verskriklike ontnugtering hoe dinge tans ontwikkel. Die situasie voor 1990 was egter absoluut onregverdig en onhoudbaar.”
Jansen het in 1996 weer begin om gereeld in Amsterdam te kom kuier. Die euforie van vryheid ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing het nog in die lug gehang. Sy het ’n nuwe liefde ontmoet. Hulle is nog steeds saam.
“Mens leef jou wêreld so groot of so klein as wat jy daarvoor kans sien.”
As jy nou ’n Last Lecture moet gee voordat jy teruggaan Suid-Afrika toe, sou dit steeds dieselfde onderwerp wees oor die representasie van bediendes?
“As ek nou régtig ’n allerlaaste lesingmoet gee, sal dit ’n ontleding wees van die gedig ‘Uitsig op die Kade’ van Elisabeth Eybers.”
Uitsig op die kade
Nouliks vertolkbaar wat hulle my vertel,
spreeus, eksters, meeue, eende, kraaie, al
die ywerige dagloners van die wal,
die reier so afgetrokke opgestel.Ek mis myself steeds minder. Ek bedoel:
as steeds meer buitedinge my gaan boei
dan sintels van inwendige gevoel
tintel dit of ek selfafstotend groei.Vermindering neem waarneembaar toe. Ek hoop
om te voldoen aan omgekeerde bloei
en leeg genoeg te loop om vol te loop
met wat vanuit hierbuite binnevloei.
- Prof. Ena Jansen by 'n eksemplaar van Klinkklaar en Afstand en verbintenis.
Lees Carina van der Walt se vorige artikel in die reeks, In gesprek met ... Willy Martin.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
Kommentaar
Hierdie is so 'n fassinerende onderhoud met 'n merkwaardige vrou! Welgedaan