
Hennie van Deventer skryf op sy blog:
Die sterfhuis van die gevierde NP van Wyk Louw in Linden, Johannnesburg, is gesloop, lees ek vandag op die voorblad van Beeld. Nog ’n historiese baken verdwyn eenvoudig van die aardbol en skaars ’n haan kraai.
Die treurige nuus oor die huis herinner aan ander vreemdhede rondom Louw se dood waarvan die ergste sekerlik is die verloop van sake met sy as. Sy biograaf, JC Steyn, stel dit aangrypend:
Wie die as gestrooi het, weet niemand meer nie; wanneer dit gebeur het, dit onthou niemand. Niemand kan sê waar presies die stoflike oorskot van een van SA se grootste manne rus nie.
’n Eerste vreemdheid rondom sy heengaan was dat die nuus aanvanklik nie, soos verwag kon word, hoofopskrifte gehaal het nie – anders as byvoorbeeld die dood van Langenhoven of Totius.
By Die Volksblad is op 18 Junie 1970, die dag van sy dood, voorrang gegee aan ’n lank vergete griepepidemie (ver van ’n Covid-19!) wat die land in 1970 geteister het. Die oggendblaaie van 19 Junie maak ook nie een sy dood hoofberig nie, selfs nie “sy koerant”, Die Burger, nie.
Steyn, meen lakonies dat die nuus oor die verlies van Louw vir die Afrikaanse taalgemeenskap ’n “bietjie verdring” is deur ’n hoofberig oor ’n Tory-oorwinning oor die regerende Arbeidersparty in die Britse verkiesing op 18 Junie. (Was die Konserwatiewe Party se sege werklik vir Suid-Afrika gewigtiger nuus, kan ’n mens wel vra.)
Ná Louw se dood het talryke hoofartikels en huldigingsartikels verskyn. Die koerante het ná ’n bra flouerige wegspring hard gewerk om die aanvanklike agterstand in te haal. Maar uitwis, dit kon hulle nie.
Verdere stof tot nadenke bied sy roudiens op Maandag 22 Junie in die NG kerk Linden, destyds ’n Afrikanerhartland. Ook dit was kleiner as wat terugskouend verwag kon word. Die diens was “informeel en sonder hoogwaardigheidstedoe”, het Rykie van Reenen in die Sondagblad Die Beeld berig. Geen lede van die kabinet was teenwoordig nie. Die diens is deur 600 mense bygewoon volgens Die Transvaler; deur 350 aldus The Star en deur 300 aldus die Rand Daily Mail.
Die grootste ironie sou volg. Die plan was om Louw se as te strooi by Verlatenkloof, naby sy geboortedorp, Sutherland. ’n Gedenkplaat sou teen ’n rots kom, soos vir C Louis Leipoldt in die Hantam. Louw se broer Gladstone (die digter WEG Louw) sou daarvoor sorg. Niks gebeur egter nie. In 1976 besluit Louw se weduwee, Truida (Pohl), en dogter Nakkie Human, eggenote van uitgewer Koos Human, toe maar om die taak op hul skouers te neem. “Anders raak dit nooit gedoen nie!”
Sutherland sê dit is reg met die nis. Huisgenoot-joernalis Franz Kemp (in lewe eggenoot van Louw se joernalisdogter, Reinet, wat in 2022 ook oorlede is) word gestuur om die kissie met as by die ondernemer te gaan haal.
Maar as? Watter as? Die begrafnisondernemer was uit die veld geslaan. Niemand het hom gevra dat die as in bewaring gehou moet word nie. Lank tevore is dit reeds in die tuin van herinnering by die krematorium in Braamfontein gestrooi!
Truida Louw het toe maar net ’n plaat, soos al die ander, teen die muur van herinnering laat aanbring. Daarop staan eenvoudig: NP van Wyk Louw, digter, 1906-1970.
“So was hy uiteindelik finaal ‘naamloos onder die naamloses’, soos hy een maal in 1950 wou wees”, skryf Steyn roerend. Dit is ’n einde wat byna so aandoenlik was as dié van Mozart, wie se liggaam saam met vreemdes in ’n massagraf gestort is.
Bronne:
Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord deur Hennie van Deventer, Naledi 2023.
NP van Wyk Louw, lewensverhaal deur JC Steyn, Tafelberg 1998
Foto: Deur Onbekend - Foto-Beeld, PD-SA, via WikiMedia
Lees ook:
Vernuwing, vervreemding en taalvariante. N.P. Van Wyk Louw se Nuwe verse en die eietydse poësie


Kommentaar
Ek was jare terug 'n erfenispraktisyn. En dan ook, argivaris. Daar word in teorie so 2 % van alle rekords bewaar. In praktyk, veel minder. Water en ligte. Personeel. Die erfenis, daai staan agter in die tou. En mens verstaan dit. Gesondheid. Onderwys. Infrastruktuur. Polisie. Welsyn. Daar is so baie sake wat 'n groot deel van die koek opeis vir die staat om net basies te kan funksioneer.
Des te meer is dit 'n uitdaging as jy 'n kwynende, sterwende klein volkie is, wat gesmul het aan die wigte en teenwige aais kriem. Jou taal, jou digters, jou kultuur, sterwend. En onder die vloek van apartheid.
Maar, daar is nog veel om te geniet! Die Taaitenniek sink, maar die views is nog mooi, selfs op 'n sinkende skip.
Ek is hier in Linden en wil graag gaan kyk waar sy huis was. Wat is die adres? Sy huis in Parktown Ridge is seker nog daar as iemand die adres weet. Sy kleinkinders weet sekerlik. Sy en Truida se nederige nis is in Wespark Begraafplaas.
So stel die liberale ook darem belang in die nasionalis en Broederbonder NP van Wyk Louw se laaste huis. Wys jou net hoe groot kunstenaar hy was!
As jy die Wespark Begraafplaas ingaan, ry oor die kruising, met die grafte van die Westdene-ramp aan jou linkerkant. Loop tussen die grafte deur, na 'n muur met nisse: NP se nis is links in die muur.