"Ek wil hê die leser moet die pad saam met Clint Bonthuys stap"

  • 1

Titel: Puntemasjien
Outeur: Christo Meyer
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426813

Puntemasjien is ’n jeugroman met rugby as sentrale tema. Dit speel op ’n fiktiewe Bolandse dorpie af. Die hoofkarakter, Clint, word na die Boland-proewe genooi, met die oog op ’n plek in die Cravenweekspan.

Daar is struikelblokke in sy pad, soos die aanranding van sy vriendin, Yolandi, asook die verdwyning van haar ma asook sy pa se drankprobleem. By sy eie huis wag daar nog ’n yslike skok op hom. Hy besluit om hom aan die proewe te onttrek, maar sy liefde vir rugby is so diep gewortel dat hy nie sommer sy rug op die spel kan draai nie. Sy afrigter oorreed hom om sy besluit te heroorweeg en met sy aanmoediging begin lewenslesse uit dié sportsoort Clint se lewe verander.

..................

“Vrouemishandeling, ontvoering, tienerseks en selfmoord is maar enkele temas waaroor ek nie huiwer om te skryf nie. Dit is harde realiteite wat nie geïgnoreer kan word nie.”

Cliffordene Norton gesels met Christo Meyer oor sy  jeugroman.

Wat het jou geïnspireer om hierdie boek te skryf?

Foto: verskaf

Navorsing het bewys dat vandag se tieners nie mal is oor lees nie. Hulle sal ure op sosiale media deurbring, in plaas daarvan om met ’n goeie boek te sit en ontspan. Hier verwys ek natuurlik nie na voorgeskrewe boeke nie. My grootste inspirasie vir hierdie boek was om weer ’n leeslus by die jeug aan te wakker.

Hoeveel beplanning doen jy voordat jy begin skryf?

Ek beplan my stories soos die idees by my opkom en dan maak ek op my selfoon ’n nota daarvan. So byvoorbeeld besluit ek nooit vooraf hoeveel karakters in ’n verhaal gaan wees nie. My karakters het ’n gewoonte om hulself te kom aanmeld, soms laat in die nag as ek sukkel om te slaap.

Edwin Lombard, deesdae nuusredakteur by Cape Argus, het in sy dae as redakteur by Son op Sondag vir my goue advies gegee: “Begin altyd ’n storie met die einde in gedagte”. As deel van my beplanning pas ek daardie raad in al my stories toe.

Wat was die grootste struikelblokke en/of hoogtepunte wat jy tydens die skryf van die boek ervaar het?

Om eerlik te wees, ek onthou nie juis enige struikelblokke tydens die skryfproses nie. Alles het taamlik glad verloop. My grootste kommer was dalk die onsekerheid of ’n uitgewer belang sou stel om die boek te publiseer.

Van die hoogtepunte was die uitdaging om die storie uit beide die hoofkarakter, Clint Bonthuys, sowel as sy vriendin, Yolandi, se perspektief te skryf en om tussenin ’n bietjie Kaaps ook in te werk. Clint was later nie net die hoofkarakter nie, hy het begin voel soos iemand wat saam met my op skool was. ’n Doodgewone matrikulant wat ook skelm agter die skoolsaal rook‎, probleme by die huis het en met meisies wat hom bewonder.

Ek oorweeg dit sterk om ’n opvolg te doen, iets soortgelyk aan FJ Labuschagne se Beseringstyd, maar daaroor moet ek en my uitgewer nog gesels.

Puntemasjien spreek baie ernstige temas aan. Wat is die voordele en nadele hiervan? Ervaar jy enige huiwering om daaroor te skryf?

Vrouemishandeling, ontvoering, tienerseks en selfmoord is maar enkele temas waaroor ek nie huiwer om te skryf nie. Dit is harde realiteite wat nie geïgnoreer kan word nie. Die voordeel hiervan is dat die leser dit kan aanspreek wanneer ’n vriend of familielid in die werklike lewe daarmee gekonfronteer word, maar die nadeel is ook dat daar steeds mense in ons samelewing is wat verkies om nie hieroor te praat nie.

Hoe spreek jy ernstige temas aan sonder om vir jou jong lesers te preek?

Jong lesers is slim. Hulle sal gou agterkom as ’n skrywer vir hulle probeer preek en daar en dan besluit om nie verder as die eerste hoofstuk te lees nie. Gelukkig is die ernstige temas in Puntemasjien deel van die storielyn en hou ek die leser aan die raai oor wat volgende gaan gebeur, in plaas daarvan om dit prekerig te laat klink.

Wat lei tot die grootste verandering in jou hoofkarakter, Clint, se lewe?

Ek wil nie te veel oor die storie weggee nie, want ek wil graag hê die leser moet vanaf die eerste hoofstuk die pad saam met Clint Bonthuys stap. Tog voel ek die volgende deel uit hoofstuk 20 speel ’n groot rol in die verandering in Clint se lewe:

Toe Clint die hekkie‎ oopstoot, draai al die koppe in sy rigting. Sy ma kom soos ’n besetene by die voordeur uitgehardloop met ’n polisievrou aan elke sy. 

“Clint,” sê sy ma terwyl haar oë in trane swem. “Waar was jy heelmiddag? Ek het jou probeer bel, maar jou selfoon was af.” Die uitdrukking op sy ma se gesig maak hom angsbevange.

“Wat is dit, Ma? Hoekom kyk Ma my so snaaks aan?”

“Dis ... dis jou pa. Iets het met hom gebeur.”

Watter skryfadvies sou jy as ’n aspirantskrywer waardeer het?

Ek is een van daardie bevoorregte skrywers wat oor die jare talle stukke skryfadvies van begaafde verhaleredakteurs ontvang het, al was dit soms net om te sê my styl en uitbouing van die tema is nie op standaard nie. ’n Skrywer moet nooit kritiek persoonlik vat nie en dit eerder sien as ’n manier om te verbeter. Hier dink ek byvoorbeeld aan Esme Mittner by Sarie, Bennie Fritz by Huisgenoot, Corlia Fourie by rooi rose asook Leon van Nierop, Dineke Volschenk en onlangs Melt Myburgh by Vrouekeur.‎

My eerste kortverhaal het in 2011 in die Son-koerant verskyn en sedertdien is ek ’n huishoudelike naam by hierdie publikasie, waar ek ook so een keer ’n maand ’n vervolgverhaal skryf. Ek is groot dank verskuldig aan Melvin Whitebooi, Edwin Lombard, Andrew Koopman en veral Eldridge Jason, wie se jeugroman, Gerook, onlangs weer herdruk is.

My advies aan aspirantskrywers sal wees om soveel as moontlik te lees en nooit moed op te gee nie. Deure gaan oop op tye wanneer jy dit die minste verwag.

  • 1

Kommentaar

  • Hekkie Mowers

    Christo Meyer se boeiende en beskrywende skryfstyl, is iets wat my altyd fassineer. Sy karakters is mense met wie se emosies jy kan assosieer en op jou as leser se lewe kan toe pas. Christo het die kuns ontwikkel om tot sy lesers gehoor te spreek en hul deel van die storie te maak. Ek sien uit om na sy toekomstige werke.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top