Tien vrae: FJ Labuschagne oor Beseringstyd

  • 1

 

Skrywers oor hul nuwe boeke: FJ Labuschagne oor Beseringstyd.

Waarom het jy Beseringstyd geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Ek was jare lank obsessief gewees oor alle aspekte van rugby speel en dan spesifiek die motivering agter die spel. Dis iets wat uitgeskryf moes word. Beseringstyd het ontstaan uit die idee van vriendskap uit, want dis wat rugby vir my is. Dit is ’n tema wat figureer regdeur die boek. Dis ’n verhaal wat respek afdwing omdat dit inspirasie soek uit die opstaan wat die mens elke dag moet doen. In hierdie opsig is Beseringstyd tegelyk ’n kanon en ’n requiem vir die lewe. Ons span het voor ’n soortgelyke krisis gestaan as dié in Beseringstyd. Die een oomblik, lewe in al sy volheid en dan ’n afwesige stilte wat ten hemele skree. Dan die stukke rondom jou en ’n keuse: staan of val.

Wat was die moeilikste aspek van die skryf van hierdie boek, en hoekom?

Karakters dryf die storie, nie andersom nie. Toe ek besluit het om Beseringstyd te skryf moes ek lank en hard gaan sit om te werk aan die karakters. Jy laat die karakters ontwikkel en dan oorneem. Dan vertel die storie homself. In die afbreek en weergee van emosie bestaan die gevaar dat jy nie jou leser sal bereik nie omdat jy in geyktheid kan verval. Weer eens, ek het myself oorgegee aan die karakters dat hulle oorneem. ’n Skryfskool by Jeanette Ferreira – een van my groot hoogtepunte as ek terugdink. Die Universiteit van Pretoria se kreatieweskryfwerk-winterskool. Riana Scheepers het daar die prosa groep gelei en ek het toe midde stywe kompetisie die prys ontvang vir die beste prosastudent. Madri Victor het bygestaan met manuskripontwikkeling en toe het Izak de Vries namens my uitgewer ook insette gelewer. Die punt wat ek maak, is: om ’n boek te publiseer is die literêre ekwivalent van uitdraf in die groen en goud. In die Beseringstyd-milieu is ek die kaptein, maar ek het ’n span agter my.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Daar was nie enige dooie punte nie. Ek het die hele proses baie geniet. In die aande as ek moeg en moeilik by my huis instap na rugby, het ek die vensters wyd oopgegooi en die Pretoria-naglug geruik en geskryf. Beseringstyd het vir my ’n verlengstuk van die rugbyveld geword en die rugbyveld was ’n baie gelukkige plek. 

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wát?)

Ek wou realistiese karakters skep wat die storie moes dra. Die res van Beseringstyd volg uit die wisselwerking tussen die karakters se verhale en hoe hulle op die pad van die Kaap tot in Pretoria beland. Ek het lank gesukkel met Reghardt, Chase se vriend. Toe skryf ek Genesis. Ek het uiteindelik Genesis in Beseringstyd ingewerk, wat die rede is hoekom Beseringstyd so lekker gespierd is. Die doel was om die leser tot in die binnekring te bring van universiteitsrugby en die siel van ’n studenterugbyspeler. Is dit dan ’n rugbyboek? Nee. Die verhaal speel af tydens ’n rugbykompetisie, maar rugby is die manier waarop daar gegryp word na die bekende, na die verlede, toe dinge sin gemaak het. Rugby word ’n uitdaging, om aan te hou speel. Om ten spyte van die lewe, in plaas van die kantlyn te kies, op die veld te draf.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Die visie was vir my om te skryf sodat die verhaal lees soos ’n fliek – die leser moet vervoer word tot op die rugbyveld en van daar na die binnekamers van die siel. Ek glo ons is daar met Beseringstyd.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Dis lekker om te weet dat iemand, iewers, net soveel genot gaan put uit die lees van my boek as wat ek gehad het met die skryf daarvan.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek het hierdie jaar begin met my pupilskap by die Pretoria-balie. My boek is op die rakke, my doktoraal is suksesvol verdedig. Ek is gelukkig getroud met ’n wonderlike, mooi en intelligente vrou. (Sadé is ’n finalejaar-veeartsenykundestudent aan Onderstepoort.) Al my doelwitte het realiseer en toe besef ek daar is nog een uitstaande. Toetrede tot die advokatuur was nog altyd my plan A gewees en ek beplan om alles in die stryd te werp met hierdie nuwe uitdaging. Na ’n dekade as spesialisprokureur by ’n top firma het die tyd aangebreek om nuwe horisonne te ontdek. My lesers versoek almal ’n opvolg en ek sal dit graag vir hulle wil gee, maar hulle sal geduldig moet wees. Hopelik, indien ek in die toekoms ’n opvolg van genoegsame kwaliteit pen, sal daar een wees. Maar vir nou het ek nuwe uitdagings.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Ek het nie skryfhelde nie. Merendeels omdat ek nie glo in helde nie, maar ook omdat ek nie daarin glo om mense op trone te plaas nie. Dis onregverdig vir die persoon en vir jou. Ek het egter respek vir elke skrywer – dit is harde werk om ’n boek op die rakke te kry.

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Ek is nie bereid om ’n mening hieroor uit te spreek nie, merendeels omdat ek nie ’n mening het nie. Ek glo egter dat die landskap gesond is. Die literatuur lewe, beweeg. Dis vir my mooi.

En wat is jou gedagtes oor die toekoms van die Afrikaanse boek?

Ek is meer gesteld op die lesers en wat hulle soek om te lees. Ek sal graag meer mense wil sien boeke vat. Oor die uitgewersbedryf laat ek my nie uit nie. Ek is nie 'n uitgewer nie.

  • 1

Kommentaar

  • Jacques Williams

    Brilliant book, kan dit nie neergesit het nie. Was self ’n rugbyspeler, was bietjie teleurgestel oor einde. Wou gehad het Sam en Chase moes getrou het. Wat van ’n part 2 van beseringstyd met jul kinders Chase, Retard en almal s’n?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top