
Duifeling deur Lize Albertyn-du Toit (Human & Rousseau, 2024)
Duifeling
Skrywer: Lize Albertyn-du Toit
Uitgewer: Human & Rousseau (2024)
ISBN: 9780798184236
Lize Albertyn-du Toit se debuutroman, Die kinders van Spookwerwe, was in 2020 op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapport-prys en die ATKV-prys vir prosa. Haar tweede roman, Duifeling, verskyn in 2024 en die verhaal is weer gesitueer in die Noord-Kaap, hierdie keer in die dorpie Rooiduin. Sara Koordom land hier aan om by die Boskatte in te trek om te help met die versorging van klein Kuikentjie Boskat.
By die lees van hierdie roman is ek deurentyd daaraan herinner dat fiksie ’n bewaarplek vir kulture en gebruike en maniere van menswees is. Dit blyk uit die erkennings dat die skrywer meer as vier jaar se navorsing gedoen het:
Met groot dankbaarheid aan almal wat ruimhartig hulle huise, hulle stories en hulle menswees aan my toevertrou het. Duifeling was ’n reis van oor die vier jaar. Ek is hartlik verwelkom in gesellige kookskerms, mierhuise, matjieshuise en baksteenhuise, in veeposte en sinkhuise teen 46 °C. Daar was boepensblou donderweer en salige maanligaande. Muskiete en vlieë. Heerlike kos. Donkievleis en afval. (331)
Soms gaan die dialoog oor in Nama en die vertaling vir daardie gedeeltes word in die voetnotas gegee, soos wanneer een van die meisies op Rooiduin swanger word en die vroue besluit dat sy gesmeer moet word:
“Ons gaan sommer almal saam vir die smeer. Ek is lankal lus om weer bietjie Nama te gooi.” Korreltjie sien alreeds die heerlike kuier langs die rivier by die !Guri-aos se rondehuis.
“A, tita ge |nai ||napa ||khawa sarisa ra tura. Nētsē da ge amase !āb ama ||khoaxase sada ge |nai gere |huru khami go hâ i” (77), wat in die voetnota gegee word as “Ja, ek is ook lus om weer daar te gaan kuier. Ons was darem woelig daar by die rivier in ons jong dae.” (77)
Die groep vroue van Rooiduin tree op soos “’n hele ooitrop [wat] saam met [Hettie stap]” (77), insluitend !Guri-aos, wat “ons mense se smeerouma” (79) is, en Ant Korreltjie wat haar wysvinger swaai: “As ek daai mannetjie die dag opspoor, draai ek sy strot kort by sy nersderm om. Hy sal vir die antie mooi moet verduidelik van sy verdamping.” (77)
Sara se verhoudings met Ouma Spriet, Ant Korreltjie en Kuikentjie is die spil van die verhaal:
Op ’n hoogtetjie ’n entjie weg gaan sit sy en kyk hoe die maan homself agter die klipberge uitlig. Ontasbaar mooi hang hy en maak van die rivier ’n silwer lint. Sara Koordom, gaan dit jou plek word? En jou mense? wonder sy in haar binneste. Sy krap met ’n stokkie in die sand. ’n Vierkant. Deel dit in vier en in elke blok skryf sy ’n naam: Spriet, Korreltjie, Kuikentjie, Sara. (92)
Sara begin hierdie tweede lewe op Rooiduin met niks. Stadigaan vind sy haar voete deur ’n klein inkomste van haar werk by Mister Thünemann se winkel. Nadat Sara haar eerste loon ontvang, neem sy vir Kuikentjie na Bidkonstant om te kyk wat te koop is in die winkels:
By die winkelvenster sê Sara: “Sit jou hande agter jou rug. Jy moenie die glas vuil vat nie.
Kuikentjie vergaap haar. “Sy’t mooi klere aan, nè, Sara?”
“Sy het, nè,” sê Sara vriendeliker.
“Eendag as ek groot is, wil ek ook sulke klere hê. En koopskoene,” sê Kuikentjie en swaai haar lyfie heen en weer.
“Eendag-eendag stap ons twee windmaker in hierdie strate af met ons nuwe klere. Dit sal darem lekker wees.” Sara hurk langs Kuikentjie en wens saam. “Watter kleur rokkie sal jy wil koop?” (55)
Wanneer Sara later ’n blommetjieslap as Kersgeskenk by die Thünemanns kry, dink sy daaraan om haar eie rok te maak.
Sara neem die pakkie en maak dit by die een kant oop. Loer in. Trek iets netjies toegedraai in wit sneespapier uit. Vou dit oop. Sy herken die lap. Dis die mooiste, mooiste blommetjieslap.
[...]
Kuikentjie vryf daaroor. “Wat gaan jy daarmee maak?”
Sara staan op en vou die stuk lap oop. Dis groot genoeg vir ’n rok. Sy vou dit om haar lyf. “Miskien ’n rok? Wat dink jy?”
“Hoekom dra jy nooit jou kopdoek nie?” vra Kuikentjie uit die bloute.
[...]
“Sit dit op, Sara.” Kuikentjie hou die kopdoek uit na haar.
“Wanneer ek iets met die lap gemaak het, dan gaan ek,” sê Sara en gee haar ’n drukkie. Vou dan die kopdoek en lap saam op en sit dit terug in die kas. (87–8)
Ek lees dié lap as ’n simbool – eers van Sara se nuwe lewe vol nuwe moontlikhede, net soos al die moontlike goed wat met die lap gemaak kan word. Dit is egter eers wanneer die waarheid oor haar verlede uitkom – en “die waarheid is soos ’n koedoehoring, hy draai altyd terug” – dat sy die lap uiteindelik kan gebruik.
Dis ’n aangename verrassing wanneer Hennerik en Mieta Kaliempie van Die kinders van Spookwerwe ook hulle verskyning in Duifeling maak, soos om ou vriende onverwags weer raak te loop. Ek hoop van harte om dalk weer vir Sara Koordom iewers in Lize Albertyn-du Toit se volgende roman raak te loop.
Lees ook:
Resensie: Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-du Toit
Poësie as ’n proses eerder as ’n voltooide produk: ’n onderhoud