Poësie as ’n proses eerder as ’n voltooide produk: ’n onderhoud

  • 1

Elzanne Coetzee gesels met Natasha Harmse oor enkele skisoanalitiese begrippe en die toepassing daarvan op Gilbert Gibson se bundel Vry–, na aanleiding van Natasha se LitNet Akademies-artikel: “’n Deleuze-Guattariaanse ondersoek na territoriumskepping en taalstottering in Gilbert Gibson se Vry– (2015)”.

Om sommer met die deur in die huis te val: Omdat die teorie waarvan jy gebruik maak in jou artikel wat onlangs in LitNet Akademies verskyn het, soms moeilik kan wees om te verstaan, sal jy asseblief die hoofbegrippe waarop jou ondersoek steun, in breë trekke verduidelik? Ek praat hier van skisoanalitiese begrippe soos territoriumskepping, nomadiese subjektiwiteit, refrein, taalstottering en risoom.

Pasop dat jy nie só hard (op jou kop) val dat jy begin skryf oor die skisoanalise nie! Of selfs dat jy die huis só oopval dat jy jou op ’n vluglyn bevind nie. Maar alle grappies op ’n stokkie. Om dié teorie beter te verstaan, is dit belangrik om te weet dat Deleuze en Guattari in ’n groot mate op die psigoanalise reageer. Ek weet nie naastenby genoeg om my uit te laat oor die invloed wat Freud se psigoanalise op ons moderne Westerse denke tot vandag toe nog uitoefen nie, maar ek vermoed dis ’n hewige invloed. So, die filosofiese projek van hierdie twee denkers is om ’n alternatiewe stel denke daar te stel. Waar Freud aanvoer dat elke mens ’n vaste psigiese “kern” het wat grootliks bepaal word deur byvoorbeeld die omstandighede van jou ouerhuis en die onderlinge verhoudings tussen jou en jou gesin (dink byvoorbeeld aan die infamous Oedipale/Elektra-kompleks), sê Deleuze en Guattari nee, dit is nie so eenvoudig nie. Daar is nie vaste psigiese kerne nie ­– ons is “nomadiese subjektiwiteite” in die sin dat ons van een oomblik na die volgende verander en ontwikkel. Ons “ek-hede” is, soos die voortdurende beweging van ’n nomade, ook voortdurend besig om aan te pas by ons omstandighede, nuwe goed te leer en nuwe verhoudings te smee. So, as ’n mens aanvaar dat elke “ek” in die wêreld eintlik ’n proses is en geen vaste “eindproduk” is nie, dan kan ’n mens begin anders dink aan konsepte soos tuistes (territoriumskepping is vergelykbaar met tuisteskepping). Vir Deleuze en Guattari is ’n “ek” niks meer as ’n stel gewoontes nie. Hier gebruik hulle die metafoor van ’n musikale “refrein” om die patroonmatigheid van ons daaglikse gewoontes en herhalende gedragspatrone voor te stel. “Jy” is jou gewoontes en patrone. Meer spesifiek: Jy skep vir jou ’n tuiste deur middel van hierdie herkenbare gewoontes en patrone. Dit is dus baie ver van Freud se idee dat jy ’n vaste en aparte “iemand” is, losmaaklik van jou omstandighede, gewoontes en gedrag. In dieselfde trant is risoom ’n reaksie op die hiërargiese boomstruktuur: ’n Boom het wortels en ’n stam en takke en blare heel boaan en hulle staan in ’n bepaalde hiërargie teenoor mekaar. Die wortels is “onder” en die blare is “bo”. Die “risoom” is (om Deleuze-hulle se beeld te leen) soos miselium: Daar is nie sprake van “bo” en “onder” nie; dis ’n lineêre struktuur waarin alles ewe belangrik is. Freud sal sê jou verhouding met jou pa is bepalend van jou persoonlikheid. Deleuze en Guattari sal sê al jou verhoudings en verbindings is ewe bepalend.

..........
Ons “ek-hede” is, soos die voortdurende beweging van ’n nomade, ook voortdurend besig om aan te pas by ons omstandighede, nuwe goed te leer en nuwe verhoudings te smee.
..........

Hoe sou jy die digterlike skryfproses verduidelik vanuit ’n Deleuze-Guattariaanse perspektief? Is ’n gedig ooit “voltooid”? 

Deleuze en Guattari sal sê nee, ’n gedig is nooit voltooid nie, omdat dit ’n proses eerder as ’n produk is, maar ook omdat die gedig nie onafhanklik is van die spesifieke leser en die tydstip waarop dit gelees word nie. In hulle benadering is ’n gedig nader aan ’n “situasie” of “gebeurtenis” as aan ’n vaste produk.

Hoekom is Gilbert Gibson se bundel Vry– (2015) juis so ’n gepaste bundel om deur die lens van hierdie teorie te lees? Kan jy ’n gedig of twee ter illustrasie noem?

Sommige mense is krities teenoor die benadering waaruit jy hierdie vraag stel. Die heersende sentiment in die literatuurkritiek blyk te wees dat die teks sentraal behoort te staan en dat teorieë ingespan word om die teks te belig en beter te verstaan. Ek dink egter in hierdie geval het dit so ’n bietjie andersom gebeur en die bundel Vry– het juis uitgestaan as ’n gepaste bundel om deur die lens van hierdie teorie te lees. As ’n mens die skisoanalise baie rofweg opsom as ’n vermoeidheid met prosesse teenoor eindprodukte, dan is dit veral dié bundel se onbepaaldheid en onafheid wat dit goed leen tot hierdie teoretiese benadering. Kyk byvoorbeeld na die slotreëls van die gedig “in negentienseweensewentig stap ons” (17): “bestier ’n massey ferguson / deur die grensdraad / die stukkende sparre terwille beste tyd van.” Die digter laat dit onvoltooid, en wanneer dit deur die lens van die skisoanalise gelees word, dui dit op ’n beklemtoning van die gedig as voortdurende en onvoltooide proses.

..........
So, terwyl jy deel is van daardie “gebeurtenis” wat ’n “plek” soos die Vrystaat is, word jy terselfdertyd beïnvloed daardeur en beïnvloed jy dit ook met jou aanwesigheid.
..........

Wat is volgens jou die belang van die titel van die bundel en die tema van die Vrystaatse landskap in Vry–

Myns insiens dui die titel veral op die invloed wat jou omgewing op jou menswees uitoefen. Ook dat omgewings nie statiese en afgeronde entiteite is nie. ’n Plek, soos die Vrystaat, is ’n gebeurtenis, dis ’n versameling mense en diere en plante en dinge wat mettertyd kom en gaan. So, terwyl jy deel is van daardie “gebeurtenis” wat ’n “plek” soos die Vrystaat is, word jy terselfdertyd beïnvloed daardeur en beïnvloed jy dit ook met jou aanwesigheid. Dis ’n alternatiewe manier om te dink oor jou tuisdorp byvoorbeeld nie as iets wat heel objektief en selfstandig is nie, maar as iets wat sowel bepalend is van jou subjektiwiteit as beïnvloedbaar is deur die rol wat jy daarin speel of gespeel het op ’n bepaalde tydstip.

In die lig van die skisoanalise, wat is die funksie van die (soms vreemde) vorm/styl van Gibson se gedigte (in die besonder die gedigte waarna jy verwys in jou artikel)?

Die funksie van hierdie tipe gedigte is om die klem te lê op die skryfproses in plaas daarvan dat ’n mooi, netjies-afgeronde, finale gedig “uitgestal” word.

Moet poësie toeganklik / maklik verstaanbaar wees? Anders gestel: Wat is die punt van ontoeganklike, moeilik verstaanbare of hermetiese gedigte?

Dit hang grootliks af van wat jou siening van die funksie van poësie in die geheel is. Sommige mense sal sê dat ontoeganklike poësie ’n mors van tyd is, want die doel is tog om die ding te verstaan? Ek dink die idee dat ’n gedig ’n boodskap het wat aan die leser oorgedra word, hang saam met hierdie siening. Maar weer eens is daar alternatiewe benaderings, soos miskien dié van Francis Bacon wat sê (oor sy eie benadering tot kuns): “I’m not trying to say something, I’m trying to do something” – so miskien gaan dit nie altyd oor verstaanbaarheid nie, maar soms oor die ervaring of belewing van ’n gedig, of die reeks assosiatiewe gedagtes wat afgeskop word deurdat ’n mens probeer sin maak van só ’n betekenis-weerstandige gedig.

..........
Ons word van die een oomblik na die volgende blootgestel aan nuwe verbindings en verhoudings en ervarings, daarom is ons voortdurend besig om anders te word.
..........

Jy skryf: “Deur middel van ’n vluglyn uit ’n georganiseerde territorium word ’n kreatiewe ruimte geskep waarin anders-wording kan plaasvind.” Kan kuns aanleiding gee tot ’n mens se “anders-wording”? Waarna verwys “anders-word”?

Om terug te verwys na Deleuze-hulle wat sê dat die subjek ’n proses is: “anders-wording” is ’n noodwendige gevolg van hierdie proses. Ons word van die een oomblik na die volgende blootgestel aan nuwe verbindings en verhoudings en ervarings, daarom is ons voortdurend besig om anders te word.

Ek dink dikwels aan die skisoanalise as ’n tipe teengif vir die nihilisme en eksistensiële angs. Hoe het die teorie van Deleuze en Guattari dalk bygedra tot jou eie lewensuitkyk en benadering tot (skryf-) kuns?

Ek hou van jou beskrywing van die teengif! Ek dink nihilistiese perspektiewe spruit baie maklik uit ’n stelsel van binêre denke en ’n tipe oorvereenvoudiging van die wêreld: God teenoor die duiwel, wit teenoor swart, mans teenoor vroue, ens. Veral vir mense wat nie in daardie netjiese boksies pas nie, begin ’n mens wonder of jy enigsins in die wêreld inpas. Maar dan besef ’n mens daar is alternatiewe. Die skisoanalise skep juis ruimte vir kompleksiteit en goed wat buite die gewone boksies val. Dit beteken dat veelvoudige (soms teenstrydige) perspektiewe op ’n samehangende manier oorweeg kan word. Dit is veral relevant, dink ek, as ’n mens dink aan die kompleksiteit van die hedendaagse Suid-Afrika waarin verskillende tale en rasse en kulture en geskiedenisse en invloede ’n eenheid vorm. So, met behulp van alternatiewe denkwyses kan ons wegbeweeg van die binêre verduidelikings soos “ons” teenoor “julle”, die “good guys” en die “bad guys” in ’n bepaalde hiërargie rangskik. Deleuze en Guattari se styl van denke is nader aan die grondbeginsel vir improv-komedie: “yes, and ...”, elke nuwe verbinding bou voort op die vorige een, alles op ’n gelyke vlak. Dit klink dalk alles baie idealisties, maar miskien help dit ons om ’n begin te maak aan ’n nuwe manier van dink oor gedeelde ruimtes en komplekse verbindings.

Lees ook:

’n Deleuze-Guattariaanse ondersoek na territoriumskepping en taalstottering in Gilbert Gibson se Vry– (2015)

Nie-akademiese notas by die lees van Vry- deur Gilbert Gibson

Dizain, vir Gilbert Gibson

  • 1

Kommentaar

  • Joan Hambidge

    "Ek weet nie naastenby genoeg om my uit te laat oor die invloed wat Freud se psigoanalise op ons moderne Westerse denke tot vandag toe nog uitoefen nie, maar ek vermoed dis ’n hewige invloed."

    Inderdaad het Freud steeds ’n impak op ons denke. Op die Versindaba-webtuiste (www.versindaba.co.za) is ek besig met ’n reeks oor Freud: Gallop, Felman, Sollers, onder andere.

    "Hoe lees ons?" is die titel van die reeks.

    Goeie onderhoud.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top