Nie-akademiese notas by die lees van Vry- deur Gilbert Gibson

  • 1

vry_omslag

vry-
Gilbert Gibson
Human & Rousseau
ISBN: 9780798170536

***

bloed is vir vir my
soos gras vir waltwhitman

"gras"
- GG
uit oogensiklopidie

die gras hier neem my gevange en maak die tong
skepties

"die gras hier neem my"
-GG
uit Vry-

Met Gilbert Gibson is niks voor die hand liggend nie.

Hoewel jy hom ook moeilik sal miskyk:

/ voor kloppers se winkel staan ‘n ou man hy het ‘n inkvlek op sy vingers (p 27)

Vir reisigers wat Bloemfontein besoek, maak gerus ‘n draai by Kloppers, alles behalwe ‘n urban legend. (Akademies het Afrikaans se laaste klokke in Durban gelui, berig die Boekbedonnerde Darryl David onlangs in Rapport en vele taalaktiviste spreek hul kommer uit oor Afrikaans, in die akademie, ook by daai ou bastion van ‘n Stellenbosch.  Sou Steyn sy kop kon laat sak op die Rooi Plein, skat ek hy sou simboliseer wat almal wonder.)

Dank die sterre dus vir Kloppers.

woede het narratiewe obsessie van my tong geword (p 58)

Vir hulle sal die inkvlek op die ou man se vinger ‘n gerusstellende teken wees dat daar hier in die Hartland wel nog gedig word, en dat die poësie ook goed versorg word; hulle sou selfs ‘n tweede asem geskep het met Gibson se groeiende oeuvre op ons voorstoep.

Nog een opmerking oor die inkvlek.

Die teken van ‘n deelnemer aan demokrasie sou ook uitgeken word aan ‘n inkvlek op sy vinger, wat na ‘n verkiesing vir soms weke, selfs maande, sigbaar is.

Ek het gestem, ek het ‘n stem. Ek is dus vry.

Of is ek net kwansuis
vry-?

En so is Vry-.

Die stem van die vry digter, afgesonder, uit die literêre akademiese kringe, intensief besig met sy

werk (toevallig in ‘n hospitaal)

sy vrou het daarna vertel
hy is onverwags. aan ‘n gewone hartaanval (p 88)

my hande is die verhaal van ‘n blanko tjek en jy vul dit in
ek kry ‘n werk ek ry na werk en bewerk my skuld/ (p 58)

reis

was skaars ‘n paar dae in londen toe iemand sê kom ons ry
met die trein Stratford toe. Stratford upon.

herinneringe

die laaste keer dat my swaer piet by my gekuier het was
vir die bring van ‘n vlekvryebraaier

 en gesin

die kind is die som van my geheue (p 47)

 opgesom: die kuns van (moderne) Afrika-dig in die middel van die land.

beloofde land daar is bloed aan jou tandvleis
daar’s bloed aan jou deur

Ek dink dit is die rede hoekom lesers so passievol oor Gibson raak. Ek staan net die ander dag in ‘n uitgelese geselskap tussen ‘n klomp jongmense. Die geselskap kry so ritseling toe dit by Gibson kom. Die plaaslike boekwinkels mag nie uit kopieë van sy werk raak nie, noem ‘n student wat boeke verkoop naby Kloppers. Konstant is die aanvraag, word berig.

Niemand sal die progressie in sy werk en sewemyllaarse tree wat hy vanaf debuut en sedertdien gegee het miskyk nie. Veral sal mens wonder: waarmee volg hy sy kragtoer op in ‘n gestroopte deel van die land met alles behalwe ‘n glansryke omgewing?

Is dit hoekom die digter in Vry- ‘n soort kajuitraad hou? Dalk wou hy vir eers opsom voor ons verder gaan.

In die eerste handel van sy bundel, klinies verdeel (1), word suggereer dat die digter opsetlik terug wou keer na minder kompleksiteit, na dae dalk selfs voor sy debuut, voor sy graduering , voor sy eerstes: kind, vrou, toe hy nog naïef was oor selfs die dood:

en jy is die dood p 9

Ander voorbeelde geleen uit titels wat oorloop in die gedigte:

as kind ongewoon met ma afgevlieg kaap toe (p 10),
dertig of so jaar terug haley se komeet in pa se telefoongesprekke …(p 12),
ons het half in die middel van die vry-staat gebly my hare in hoofsaak altyd kort gesny (p 13),
as kinders (ek & drie susters in die plaas-dam gedoop) (p 15)

Sorgeloos.

Dit is by die nabetragting waar die digter ‘n nuwe vryheid vir homself oopskryf en die leser uitdaag om ook te onthou, fyner te observeer, te soek vir ooreenkomste, te lees met verwagting, te weet - tussen ons en hom is die lewe gewoon.

Mens wil amper glo dat die leser uitgedaag word om dieselfde lug in te kom asem en ook om hier uit die middelpunt te kyk wat die digter bedoel, met

die vry-
staat het ‘n horison (p 9)

skop hy af.

Geografies leun hy op sy onmiddellike omgewing.

Die verwysings wat ook persoonlike ruimtes, geheue en gebeure uit kinderjare insluit. 

En dit is in hierdie terugblik wat hy ons ook weer herinner aan bv oogensiklopidie waar hy die leser geleer het hoe om die oog as ‘n soort poëtiese gereedskapstel te gebruik.

Wanneer die brein en die oog saamwerk om nuwe poësie te skryf. Die antisipasie van wat net om die draai wag, neem hy hier op ‘n hersiene kragtoer met die herdefiniëring van onder meer leestekens (-) en skep hy hersiene ritmes met die her-gebruik van titels in gedigte.

Dit is sy klemverskuiwende afbreek in die versreël waarmee hy spanning  en antisipasie skep. ‘n Onverwagse vertroue tussen homself en die leser.

Wees gewaarsku: as hy sy verbeelding loslaat soos byvoorbeeld in ek;[beminuslaafs] gaan lesers, hoe gesout ook al, alle bekende en onbekende lees tegnieke moet inspan om agter die digter se ritmes te kom en die oomblik te ontsyfer tot hy jou dan tref.

Want selfs wanneer die slaaf in ons almal omskryf is skitter die vry- (of hoop).

- Van Wyk Louw

die germaan in my bemin
jou al is jy swart soos jy (p 72)

Waaksaam vir afleidings of ontknopings tree hy met respek in gesprek met sy voorgangers, nooi hulle in sy lewe en neem hy vrymoedigheid om deel te neem in die klassieke digkuns.

Vir sy voorgangers wat die fondasies tot sy kuns berei het verwys hy en huldig hy, verwysings na vWL, BB, SC, CLL, GVN, DJO ("van die wilde vark wat ek en francis daar geslag het").

Die digter annekseer die hele speelveld waarop gedig kan word - van die ontoeganklike tot die gestroopte eenvoud:

ek het alles die (p 74)

Gibson sê in ‘n onderhoud by die Vrystaat Kunsfees (Julie 2015) dat hy nie met ‘n leser in gedagte skryf nie. Daarom wanneer hy skanse lig tot in sy binneruimtes sy unieke stem veral klokhelder gehoor word:

homerus, fluister jy. homerus

ook

en dus snags jou slaafsbemin

Om sy vyfde bundel onder die knie te kry moet die leser nie teveel hoop op enige maklike sleutels vir ontsluiting nie.

Natuurlik sou mens niks anders verwag van die uiters begaafde digter nie, vir sy “on”-akademiese, alles net the same to me-lesers (want vir hulle skryf hy graag, hoewel nie bewustelik nie), is die tonele bekend, maar, soos ‘n kameralens aspris uit-fokus gedraai, ons sien wat gebeur, maar kan nie die name, plekke en besonderhede uitmaak nie.

***

Maar moenie vrees nie, vir ons wat van sy eksperimentele (ek noem dit die Frank Zappa’s van Afrikaans), (in ii)

 …=_gehoor[jou.hart.be(d)aar] en

ek;[beminuslaafs] of

soos.//[ ‘n invalide.sit&doodgaan&buurdogter:bring

gewoond geraak het, vir ons is daar genoeg om te ontsyfer(ing).

Vir die digbundelkopers in Afrikaans is dit goed bekend dat Gibson hoogs intuïtief, uiters af-ritmies (ek val myself vir oomblik in die rede- in sy vorige bundel vii [39] skryf hy,

eenkeer in die bakkie ‘n ryloper
op harrismith
keith jarrett geluister)

nou om Jarrett in die hooglande van die Vrystaat te luister is soos om kabeljou in Kaapstad te eet

ja af-ritmies, binnelands, eksperimenteel en aspris uit-voeling. En die dromerigheid.

in my slaap is ek ‘n bibliotekaris ‘n
salmvanger langs ‘n breë rivier/ p 44

Dit is waar ons die empatiese digter/dokter (pa, eggenoot, reisiger, versamelaar, groot-menskind), ontmoet, waar Vry- op sy gemaklikste gebeur en waar hy direk met die leser se emosie werk.

my skene pleit bo die grond ‘n lewe uit
my nek buig elke dag oor ‘n hospitaalbed (p 58)

Dis met sy fragmente geskrif waar sy binne mens duidelik verskyn, sommer in die eerste 20 gedigte objektiveer hy die atmosfeer waarin hy skryf.

teddiebere (10)
kumquats (11)
kam (13)
fotos (14)
massey ferguson (17)
rooi kruiwa/bloufiets (18)

Hierdie bundel staan op sy eie, maar mens ontneem jou die genot van die einste versameling as die leser nie probeer om die skakels tussen sy werke te vind nie.

Die digter se lewe blyk nie drasties te verander het vanaf sy debuut nie; ouderdom en moontlik ontwaking as gerekende skrywer is van die bykomstighede waarop ons nou ook kan let.

Sy posisie in Afrikaans gaan van krag tot krag, kort voor lank, so word voorspel, kan hy selfs bekend raak as die grandeurs original wat ‘n generasie jong bekroonde digters help vestig het.

  • 1

Kommentaar

  • Wonderlik, kan nie wag om hierdie bundel aan te skaf en dit te verslind nie! (Ek het reeds Die sin van die hut en VII.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top