|
||||||||
Opsomming
Die navorsingsvrae wat in hierdie artikel gevra word, is of Deleuze en Guattari se skisoanalise ’n ingang tot Gilbert Gibson se hermetiese en elliptiese poësie in Vry– (2015) kan bied. Op inhoudelike vlak: Bied die skisoanalitiese begrippe territoriumskepping en refrein insig in die uitbeelding van die spreker-subjek in die bundel? Verder, op strukturele vlak: Kan Deleuze en Guattari se begrip taalstottering en hulle teoretisering oor risoom ’n invalshoek vir die taalgebruik in die bundel bied? Deleuze en Guattari se skisoanalise dien as teoretiese vertrekpunt en word as ’n poststrukturalistiese leesbenadering gekontekstualiseer. Die eerste afdeling van die artikel behels die uitbeelding van die spreker se subjektiwiteit. In hierdie afdeling word die skisoanalitiese begrippe territoriumskepping, asook die samehangende begrippe refreine, milieus en ritmes as analitiese instrumente gebruik. Die vorm van die verse in die bundel word aan die hand van Deleuze se begrip taalstottering, eerstens as ontbinding van die taalsisteem en tweedens as deterritorialisering van taal, ondersoek. Daar is bevind dat die deterritorialisering van taal as ’n simptoom van die deterritorialisering van die subjek gesien kan word. Daar blyk ’n nomadiese subjek aan die woord te wees in die bundel – ’n subjek wat oprys uit veelvoudige komponente en voortdurende wordings ondergaan. Die risoomagtige en gedeterritorialiseerde aanwending van taal in die bundel is nóg ’n teken dat daar ’n nomadiese spreker-subjek aan die woord is, omdat die gedigte op vormlike vlak dieselfde prosesse ondergaan as wat inhoudelik plaasvind in die vorming van die spreker se subjektiwiteit. Die deterritorialisering van taal in Vry– weerspieël dus die inhoudelike deterritorialisering van die subjek.
Trefwoorde: Afrikaanse poësie; Deleuze en Guattari; deterritorialisering; Gibson, Gilbert; nomadiese subjektiwiteit; refrein; risoom; skisoanalise; taalstottering; territorialisering; territoriumskepping; Vry– (2015)
Abstract
A Deleuzo-Guattarian investigation into territorialisation and the stuttering of language in Gilbert Gibson’s Vry– (2015)
The main question asked in this article is whether Deleuzo-Guattarian schizoanalysis provides a successful reading strategy for Gilbert Gibson’s collection of poetry Vry–, published in 2015. This collection of Afrikaans poetry has been described by critics as both hermetic and elliptic, posing a challenge for a more traditional close reading analysis. There are several tools in the arsenal of schizoanalysis that seem to lend themselves to an analysis of Gibson’s collection. This investigation is limited to only a few of these tools: territorialisation, deterritorialisation, reterritorialisation, refrain, nomadic subjectivity, stuttering of language and rhizome, among others. Furthermore, this investigation takes place on two levels: First, the content of the poetry is analysed by means of territorialisation and refrain in order to establish the kind of subjectivity that is represented in the collection. Then the formal aspects of the poems are considered alongside Deleuze’s concepts stuttering of language and rhizome. In summary, the following questions are asked: Can Deleuzo-Guattarian schizoanalysis provide a successful reading strategy for Gibson’s collection Vry– (2015)? Do the schizoanalytic tools territorialisation and refrain provide insight into the representation of the subject in the poems? Lastly, does the two-part concept of language stuttering and rhizome illuminate the meaning-resistant language utilised by the poet in this collection?
The theoretical framework used in this article is Deleuzo-Guattarian schizoanalysis. Deleuze and Guattari jointly published L’Anti-Oedipe (Anti-Oedipus) in 1972 and Mille plateaux (A thousand plateaus) in 1980, the latter from which most of the concepts used in this article, originate. These texts mark a milestone in the development of post-structuralist theory. Their publications have, however, gained a reputation for being difficult to interpret, and there are many critics who denounce their style of theorising. Massumi (1987:ix) speaks to this in the foreword of the English translation, A thousand plateaus: “This is a book that speaks of many things, of ticks and quilts and fuzzy subsets and noology and political economy. It is difficult to know how to approach it.” However, despite the difficulty and criticism associated with schizoanalysis, this article attempts to narrow the broad theoretical approach down to a few well-defined and, most importantly, functional tools for analysis.
The methodology involves, firstly, providing some theoretical background by clearly delineating the difference between structuralist and post-structuralist approaches to textual analysis. This contextualises Deleuzo-Guattarian schizoanalysis. Then the following concepts are introduced in order to utilise them in the analysis: first, territorialisation, which refers to the ways in which living beings establish boundaries within their environments in order to make up a territory. Within this territory there are certain patterns of behaviour and habits that form a refrain; repetitions that contribute to the subjective experience of “home”. Then the opposite of territorialisation, namely deterritorialisation, which Deleuze and Guattari (1983:322) describe as a “coming undone”. The first section of the article explores subjectivity, especially whether there are signs of a “nomadic subjectivity”. In this case nomadic should not be taken literally. The subject in Vry– is not nomadic in the sense that he continually travels from one point to another; rather, he is quite settled in his environment and is well established in his personal and professional lives. However, the article argues that this subject is nomadic in the sense that he is continually territorialising (establishing rhythms and habits within certain boundaries) and deterritorialising (escaping from those rhythms and boundaries), followed by reterritorialising – re-establishing boundaries and thereby repeating the process.
The second section of the investigation looks at the formal aspects of the collection and asks whether the language indeed “stutters” as a result of the language system itself’s being deterritorialised or coming apart. This article is limited in the sense that it does not consider Gibson’s entire oeuvre, but rather focuses exclusively on his fifth collection, Vry– (2015), although this “stuttering style” is also characteristic of Gibson’s style in earlier collections. Furthermore, the analysis is limited to utilising only a few of Deleuze and Guattari’s schizoanalytic concepts.
The main finding is that in this collection of poetry the deterritorialisation of language is symptomatic of the deterritorialisation of the subject. In other words, there is a nomadic subject present in this collection that is continually territorialising and establishing his boundaries. At the same time, this subject is not a static subject and keeps deterritorialising and reterritorialising by means of a constant re-evaluation his place in relation to others and to the world around him. Therefore, the hermetic and elliptic style of language used in this collection could be seen as symptomatic of this deterritorialising subject. The formal characteristics of the poems (breaking the language down, undoing it, dividing meaningful wholes into smaller constituents) reflect the way in which the subject continually reconstitutes himself and reconsiders his position in relation to everything else in the world around him. In summary, the formal deterritorialisation of language is symptomatic of the deterritorialisation of the nomadic subject in this collection of poems.
Keywords: Afrikaans poetry; Deleuze and Guattari, Deleuzo-Guattarian; deterritorialisation; Gibson, Gilbert; nomadic subjectivity; refrain; rhizome; schizoanalysis; stuttering of language; territorialisation; Vry– (2015)
1. Inleiding
Gilbert Gibson debuteer as skoolkind in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde (Terblanche 2018). Twaalf van sy verse wat in Nuwe stemme 2 (2001) opgeneem is, vorm later deel van sy debuutbundel, Boomplaats (2005), waarvoor hy die Protea-prys ontvang. Daarna verskyn Kaplyn (2007), Oogensiklopedie (2009) en [vii] (2013) voordat sy vyfde bundel, Vry–, in 2015 verskyn en die Elisabeth Eybers-prys en die Suid-Afrikaanse Letterkunde-prys vir poësie ontvang. Gibson se sesde en mees onlangse bundel, Die sin van die hut, verskyn in 2017.
Vry– bestaan uit 80 gedigte verdeel in drie afdelings. Die titel verwys volgens die parateks op bladsy 91 van die e-boek enersyds na “Die Vrystaatse ruimte waarin [die digter] grootgeword het en steeds woon” en andersyds na “die ontglippende aard van betekenis, selfs te midde van die alledaagse ervaring van die gesinslewe, die spreker se lewe as mediese dokter en sy jeugherinneringe” (Gibson 2015). Volgens Charl-Pierre Naudé (in Terblanche 2018) is daar by Gibson ’n “digterskap van ‘rondom beweeg’, van suggestie met die (Derridiaanse) implikasie dat alle betekenis ’n heenwysing is na iets anders (wat miskien verborge bly)”. In aansluiting hierby vind Odendaal (2015) dat Gibson ’n “belangrike eietydse verteenwoordiger van die meer ‘hermetiese’, oftewel geslote of moeilik toeganklike” poësie in Afrikaans is. Hy word deur Visagie (2009) bestempel as erfgenaam van ouer digters in die Afrikaanse kanon, soos D.J. Opperman, Wilma Stockenström en Breyten Breytenbach, vanweë die hoë eise wat aan die leser gestel word. “Saamgedronge beeldgebruik [...], innoverende strukturering en woordspel” (Odendaal 2015) is veral kenmerkend van Gibson se poësie.
Behalwe sy aansluiting by die hermetiese tradisie word die elliptiese aard van die bundel ook deur verskeie resensente uitgewys. Die weglatingsteken in die titel dui vir Odendaal (2015) op voorwaardelikheid wat as tema in die bundel ontgin word. Alle moontlike voltooiings van die woord word opgeroep en daar word nie berus by ’n enkele voltooiing wat die ander moontlikhede uitsluit nie. Naudé (in Terblanche 2018) merk op dat “[d]ie indrukke in Gibson se [poësie] in wese gedeeltelik [is], of [...] onderbreek [word], en die leser moet die ontbrekende invul. [...] Dis ’n vorm van elliptiese beelding wat heeltemal sy eie is.” Ook Hambidge (2015) beklemtoon dié aspek van die bundel in haar resensie:
Dit is gedigte wat die skryfproses vooropstel en die leser lei in die proses van skryf: hierom vind ons aandagstrepe [...], ons vind verbrokkelde reëls, gedronge sintaksis, semantiese eilande en vele ander opsetlike speletjies wat die gedig verklaar tot halfklaar artefak. Die leser word uitgenooi om mede-skrywer (mede-speler) te wees. Soms is die geheimenisse obskuur; ander kere kan jy die gedig se sluiting vind in jou aweregse assosiasies.
Opsommend is die twee vernaamste eienskappe wat vir resensente uitstaan in Gibson se werk dus die hermetiese en elliptiese aard daarvan.
Lourens (2013) identifiseer soortgelyke kenmerke by Gibson in haar studie “Die moontlikhede van Julia Kristeva se revolusionêre poëtiese taal: ’n ondersoek na ’n leesstrategie vir Gilbert Gibson se hermetiese poësie in [vii]”. Sy voer aan dat die term hermeties gebruik kan word “om oorkoepelend na poësie te verwys wat op assosiatiewe verbande steun en besondere insette van die leser verg” (2013:3).
Waar Lourens in haar studie Julia Kristeva se teorie oor semiotiese taal as leesstrategie vir Gibson se bundel [vii] voorstel, gaan hiérdie artikel Deleuze en Guattari se skisoanalise gebruik om sowel die vorm as die inhoud van Gibson se bundel Vry– (2015) te ondersoek. Wat die inhoud van die bundel betref, veral die uitbeelding van die spreker se subjektiwiteit, word territoriumskepping en die refrein in die ondersoek ingespan. Veral die begrippe territorialisering en deterritorialisering is hier ter sprake. Kragtens die hermetiese en elliptiese skryfstyl van die bundel kan Deleuze se begrip stottering van taal betrek word, veral sy essay “He stuttered” (1994), asook sekondêre bronne deur Hardcastle Jones (2013), Stevenson (2009) en O’Sullivan (2009). Ook Deleuze en Guattari se begrip risoom word by die talige bespreking van die bundel betrek. Hier word veral gesteun op Newmann (2006) se artikel “Paterson: the poem as rhizome”.
Opsommenderwys word die volgende navorsingsvrae gestel: Kan Deleuze en Guattari se skisoanalise ’n ingang tot Gibson se hermetiese en elliptiese poësie in Vry– bied? Op inhoudelike vlak: Bied die skisoanalitiese begrippe territoriumskepping en refrein insig tot die uitbeelding van die spreker-subjek in die bundel? Laastens, op strukturele vlak: Kan Deleuze en Guattari se begrip taalstottering en hulle teoretisering oor risoom ’n invalshoek vir die taalgebruik in die bundel bied?
Die metodologie van die ondersoek behels dat eerstens die onderskeid tussen strukturalistiese en poststrukturalistiese leesbenaderings gemaak word om Deleuze en Guattari se skisoanalise te kontekstualiseer. Die skisoanalitiese begrippe territorialisering en deterritorialisering word daarna inleidend beskryf om as teoretiese instrumente in die ondersoeke na die inhoud en die vorm van die bundel op te tree. Die eerste afdeling van die ondersoek behels die uitbeelding van die spreker se subjektiwiteit. In hierdie afdeling word die skisoanalitiese begrip territoriumskepping, oftewel die skepping van ’n groep objekte, idees en persone wat ’n tuiste uitmaak (Goodchild 1996:219), asook die samehangende begrippe refreine, milieus en ritmes as instrumente in die inhoudelike ondersoek gebruik. Die vorm van die verse in die bundel word aan die hand van Deleuze se begrip taalstottering, eerstens as ontbinding van die taalsisteem en tweedens as deterritorialisering van taal, ondersoek. Die omvang van hierdie artikel is beperk in die sin dat slegs Gibson se Vry– deel uitmaak van die ondersoek en dat slegs enkele van Deleuze en Guattari se begrippe ingespan word.
2. Literatuuroorsig
Die humanisme ontwikkel as denkrigting in die filosofie na aanleiding van die Verligting se idealistiese vooropstelling van die mens se subjektiwiteit: Menslike rede word as die vernaamste beslisser van alle waarheid, goedheid en geregtigheid geag (West 2007:154). Volgens West vind daar met die ontwikkeling van hermeneutiek as interpretasieteorie ’n wesenlike vertrek van die humanistiese ideaal in die filosofie plaas. Die hermeneutiek weerspieël volgens West ’n toenemende bewustheid van die ingewikkeldheid van wedersydse kommunikasie. Hermeneutiese beginsels word dus nie meer net in uitdagende gevalle gebruik nie, “but all the time, since mutual understanding between subjects can never be taken for granted” (West 2007:159–60).
Hermeneutiek stel die sosiale en linguistiese konteks waarbinne ’n teks tot stand kom, voorop en verplaas dus die subjek uit die sentrum. Ferdinand de Saussure (1857–1913) bou gevolglik voort op hierdie aanvanklike antihumanistiese denkrigting met sy teorie van strukturele linguistiek, ’n teorie wat later die hoeksteen van die strukturalistiese benadering word (West 2007:164). De Saussure maak ’n primêre onderskeid tussen taal (langue) en spraak (parole): Taal, as ’n sisteem van tekens, bestaan onafhanklik van die spesifieke uitings van individuele sprekers van die taal. West verwoord die implikasie van hierdie onderskeid soos volg: ’n Spreker kan iets sê of bedoel slegs met behulp van ’n taal wat bestaan vóór daardie uiting kan plaasvind. By implikasie kan die betekenis van ’n uiting nie bepaal word in subjektiewe terme nie; nóg fenomenologie nóg sielkunde kan lig werp op semantiek (West 2007:164).
Omdat betekenis op hierdie manier losgemaak is van die bedoelende subjek, word betekenis vir De Saussure eerder gesitueer in die verhouding tussen die teken (die woord as ’n opeenhoping van klanke of geskrewe karakters) en die betekende (die begrip of betekenis wat die teken verteenwoordig) (West 2007:165). Die blote bestaan van verskillende tale is vir De Saussure ’n bewys van die arbitrêre aard van die verhouding tussen die teken en die betekende – daar is dus geen inherente verband tussen die woord en die begrip in enige taal nie. Betekenis berus daarom op bepaalde verhoudings tussen tekens:
Since the sign has no necessary core which must persist, it must be defined as a relational entity, in its relation to other signs. The meaning of a term like “blue”, for example, depends on the particular colour contrasts which language allows: blue is whatever is not green or red or yellow and so on. (West 2007:165)
De Saussure se strukturele analise van betekenis versterk die antihumanistiese rigting, omdat betekenis nie langer aan die individuele sprekende subjek toegeskryf kan word nie. Sprekers kan slegs danksy die voorafbestaande sisteem van linguistiese en semantiese teenstellings in die taalsisteem sinvol kommunikeer (West 2007:166). Strukturalisme as benadering poog dus om taal en ander menslike handelinge op ’n wetenskaplike wyse te behandel met verwysing na die mees basiese elemente en die maniere waarop hierdie elemente in verhouding tot mekaar staan.
In reaksie op De Saussure se strukturalisme voer Jacques Derrida ’n poststrukturalistiese argument wat ontwikkel tot die benadering van dekonstruksie. In drie seminale publikasies in 1967 voer Derrida aan dat daar in die Westerse kultuur ’n vooropstelling van binêre denke bestaan, soos wit teenoor swart, manlik teenoor vroulik, gesproke teenoor geskrewe taal, onder meer (Mambrol 2016). Derrida teoretiseer dat hierdie binêre teenstellings ook hiërargieë uitmaak en dat een term uiteraard bo die ander bevoordeel word binne die Westerse kultuur (Mambrol 2016). Deur middel van dekonstruksie beoog Derrida om die grense tussen hierdie binêre teenstellings op te hef. ’n Strukturalistiese benadering gaan van die veronderstelling uit dat enige teks ’n selfstandige entiteit is en dat die betekenis van die verhoudings tussen die onderskeie elemente van die teks afgelei kan word. In teenstelling hiermee beklemtoon die dekonstruksietegniek juis die onbeslisbaarheid van tekste:
Deconstructionists [...] see works in terms of their undecidability. They reject the [structuralist] view that a work of literature is demonstrably unified from beginning to end, in one certain way, or that it is organized around a single centre that ultimately can be identified. As a result, deconstructionists see texts as more radically heterogeneous. […] Undecidability [...] is never reduced, let alone mastered in deconstruction. (Mambrol 2016)
Alhoewel die dekonstruksietegniek sommige van die uiteenlopende moontlikhede wat deur ’n teks produseer word, kan uitlig, is dit onmoontlik vir die leser om een finale, permanente betekenis te vind.
’n Volgende mylpaal in die poststrukturalistiese beweging was die publikasie van Deleuze en Guattari se Capitalism and schizophrenia, wat bestaan uit Anti-Oedipus in 1972 en A thousand plateaus in 1980. Saam skryf hulle verder Kafka: towards a minor literature (1975) en What is philosophy? (1994). Die interpretasie van Deleuze en Guattari se werk is uitdagend vanweë die ongewone skryfstyl en struktuur van hulle tekste. A thousand plateaus neem ’n risoomagtige vorm aan, teenoor die tradisionele lineêre volgorde van argumente en hoofstukke. Oor dié teks skryf die vertaler Brian Massumi in die voorwoord:
This is a book that speaks of many things, of ticks and quilts and fuzzy subsets and noology and political economy. It is difficult to know how to approach it. What do you do with a book that dedicates an entire chapter to music and animal behaviour – and then claims that it isn’t a chapter? That presents itself as a network of “plateaus” that are precisely dated, but can be read in any order? (Massumi 1987:ix)
Volgens Deleuze (1977:25) is A thousand plateaus “like a set of split rings”– enige plato of begrip pas in by enige ander een. Die uitleg van die teks hang saam met Deleuze en Guattari se projek om ’n alternatiewe styl van denke, waarin die klem op prosesse in plaas van produkte lê, daar te stel:
For ages people have used [concepts] to determine what something is (its essence). We, though, are interested in the circumstances in which things happen: in what situations, where and when does a particular thing happen [...]. A concept, as we see it, should express an event rather than an essence. (Deleuze 1977:25)
Deleuze se voorafgaande filosofie is een van verbindings waarin hy, soos Derrida, afsien van lineêre of hiërargiese strukture ten gunste van ’n onbegrensde horisontale uiteensetting waarin verskillende punte voortdurend in nuwe verbindings met mekaar tree (Rajchman 2000:4). Teenoor die hiërargiese strukturering van begrippe binne die strukturalistiese benadering word daar dus ’n alternatiewe oriëntasie ingeneem waarin ruimtes van onbepaaldheid en onvoorspelbaarheid bestaan: “zones that are precisely not completely determined or localizing, where things may go off in unforeseen directions or work in unregulated ways” (Rajchman 2000:5). Deleuze beskryf die skisoanalitiese benadering soos volg:
What we call a “map”, or sometimes a “diagram”, is a set if various interacting lines (thus the lines in a hand are a map). [...] We think lines are the basic components of things and events. So everything has its geography, its cartography, its diagram. What’s interesting, even in a person, are the lines that make them up, or they make up, or take, or create. [...] That’s what we call “schizoanalysis”, this analysis of lines, spaces and becomings. (Deleuze 1977:33–4)
Hierdie benadering waarin ruimtes van onbepaaldheid en onvoorspelbaarheid in berekening gebring word, blyk goed toepasbaar te wees op die dikwels elliptiese en meerduidige verse in Vry–.
Enkele studies in Afrikaans waarin Deleuze en Guattari se skisoanalise toegepas word, sluit in Anker se doktorale proefskrif, “’n Ondersoek na die uitbeelding van die nomadiese subjek in die werk van Breytenbach en Strachan” (2007), Stander se 2012-studie oor Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper as mineurletterkunde, Barendse se 2016-ondersoek na dierwording in Willem Anker se toneelstuk Samsa-masjien, en Coetzee se MA-verhandeling oor die nomadiese subjektiwiteit in Willem Anker se Buys in 2020.
3. Territoriumskepping
Met betrekking tot die vormlike en inhoudelike ondersoek van Gibson se bundel wat in hierdie artikel geskied, is die Deleuze-Guattariaanse begrippe territorialisering en deterritorialisering van spesifieke belang. In The Deleuze & Guattari dictionary verduidelik Young, Genoska en Watson (2013:307) dat in Deleuze en Guattari se werk die mens aan die grens tussen dier en masjien lê, oftewel tussen die materiële aarde en die transendentale kosmos. Terwyl daar sonder twyfel ingebore, biologiese funksies by die mens aanwesig is, soos aggressie, seksualiteit en gemeenskapsgevoel, is dit nie die geval dat hierdie ingebore instinkte die proses van territorialisering by the mens voorafgaan nie. Ons is nie territoriaal omdat ons inherent aggressief is nie; ons is eerder aggressief omdat ons territoriaal is (Young e.a. 2013:307) – met ander woorde, dit is eerder die instink tot tuisteskepping wat primêr is. Die drang na die skep van ’n tuiste of territorium lei dan tot die reorganisasie van verskeie ander biologiese funksies, soos aggressie en seksualiteit, in diens van die proses van territorialisering: “The animal or human being acts (individually or in groups) [...] in order to establish itself in its environment, to create a border between inside and outside” (Young e.a. 2013:307).
As territorialisering dan die mens se vernaamste instink tot organisasie van die Umwelt (die perseptuele wêreld waarbinne enige organisme bestaan en as subjek optree) is, met ander woorde, die skep van betekenis binne ’n spesifieke konteks, kan deterritorialisering as teenhanger beskou word. Volgens Parr (2005:66) is daar verskeie maniere waarop Deleuze en Guattari die proses van deterritorialisering in hulle oeuvre beskryf. In Anti-Oedipus praat hulle byvoorbeeld van deterritorialisering as “a coming undone” (Deleuze en Guattari 1983:322). Parr is van mening dat deterritorialisering dalk die beste verstaan kan word as ’n beweging wat verandering voortbring: “In so far as it operates as a line of flight, deterritorialisation indicates the creative potential of an assemblage. So, to deterritorialise is to free up the fixed relations that contain a body all the while exposing it to new organisations” (Parr 2005:67). In Capitalism and schizophrenia (1977) onderskei hulle twee tipes deterritorialisering: relatiewe en absolute deterritorialisering. Absolute deterritorialisering behels volgens Goodchild (1996:217) die beweging oor die drempel tot waar elemente hulle eie wêrelde begin uitmaak volgens outonome prosesse, waar relatiewe deterritorialisering die beweging uit een territorium uit na ’n ander behels, oftewel “leaving home and travelling in foreign parts” (Goodchild 1996:218). Vir die doeleindes van hierdie bespreking gaan slegs op relatiewe deterritorialisering gefokus word.
Deleuze en Guattari pas die begrip relatiewe deterritorialisering op verskeie teoretiese kontekste toe, insluitend kuns, musiek, letterkunde, filosofie en politiek. Parr neem as voorbeeld die komponis Olivier Messiaen, na wie Deleuze en Guattari in A thousand plateaus verwys. Messiaen het voëlsang in sy komposisies gebruik. In plaas daarvan om gewoon die voëlsang na te boots of te “vertaal” na bladmusiek vir die klavier, het hy die voëlsang en die klavier op só ’n manier byeengebring dat dit die territoriums van beide oorspronklike “liggame” (naamlik die voëlsang en die klavier) getransformeer het:
Here the distinctive tone, timbre and tempo of birdsongs were fundamentally changed the moment these elements connected with musical organisation. Similarly Messiaen’s compositional style also changed when it entered into a relation with birdsong, whereby these compositions could be described in terms of a becoming-bird. (Parr 2005:68)
Die klavier en die voëlsang het op gelyke voet met mekaar in aanraking gekom; die territorium van die klavier, met voorafbepaalde note, tempo’s en ritmes, is nie bevoorreg bo die territorium van die voëlsang nie. Volgens Deleuze en Guattari vind ’n “becoming-bird” plaas:
Suppose a painter “represents” a bird; this is in fact a becoming-bird that can only occur to the extent that the bird itself is in the process of becoming something else, a pure line and pure color [...]. The painter and musician do not imitate the animal, they become-animal at the same time as the animal becomes what they willed. (Deleuze en Guattari 1987:304–5)
Met ander woorde, die skilder of komponis weerspieël nie eenvoudig die voël nie; sy of haar komposisie word die voël, terwyl die voël terselfdertyd hale en kleure of note, tempo en ritme word. Met verwysing na dans verduidelik Deleuze en Guattari (1987:305) dit soos volg: “[I]n the becoming-spider of the dance, which occurs only to the extent that the spider itself is supposed to become a pure silhouette, pure color and pure sound to which the person dances.” Opsommenderwys het dit nie hier te doen met vertaling nie, eerder ’n direkte (moontlik affektiewe) ervaring van die interaksie tussen twee liggame, insluitend “mentale” liggame soos idees.
Die proses van territorialisering is vir Deleuze en Guattari belangrik, omdat hulle die ervaring van die territorium as die wortels van die vorming van subjektiwiteit beskou (Janz 2001:392). In What is philosophy? (1994) gebruik Deleuze en Guattari die begrip geofilosofie as ’n filosofie van die aarde, een wat erkenning gee aan die eb en vloed van natuurlike lewe (Janz 2001:393). Ons, as individue en as ’n spesie, is voortdurend besig om ons territorium te definieer en herdefinieer en ons verhouding met die aarde te heroorweeg (Janz 2001:394). Volgens Janz (2001:394) rys geofilosofie bo die aksies en interaksies van milieus uit. Hierdie milieus word ’n territorium wat deur middel van die kreatiewe magte van die refrein gedeterritorialiseer word (Janz 2001:394).
Milieu is ’n Franse woord wat enersyds na “omgewing” verwys en andersyds konnotasies het soos “middel”, soos in “midde-in” jou omgewing wees, en selfs “medium”, in die sin dat jy deur ’n bepaalde voertuig (liggaam) jou onmiddellike omgewing ervaar (Young, Genoska en Watson 2013:193). Deleuze en Guattari bied ’n unieke invalshoek op milieu wanneer hulle aanvoer dat milieus uit periodiese herhalings bestaan en dat die lewende wese voortdurend aan die beweeg is van een milieu na ’n ander – milieus oorvleuel dus met en informeer mekaar (Young e.a. 2013:193). Janz (2001:396) stel dit dat ons wêreld gelaag is met ’n menigte milieus en verduidelik verder soos volg: Ons begin deur ons ruimtes te merk, onsself te laat geld deur middel van objekte, taalgebruik, gebare en so meer. Die vel begrens nie die liggaam nie, die grense van ons liggame is iewers verder, oral waar ’n ruimte geïdentifiseer kan word as ons s’n, byvoorbeeld. Hierdie area kan uitbrei of krimp na gelang van die klere wat ons aan het, die manier waarop ons ons besittings om ons rangskik op ’n tafel, of die taal wat ons gebruik. Die milieu verander voortdurend en is voortdurend gelaag met ander milieus (Janz 2001:396).
’n Territorium is daarom nie gelyk aan ’n milieu nie, maar eerder ’n herhaling van handelinge wat die vermoë het om milieus te beïnvloed en affekteer (Deleuze en Guattari 1987:314). Die territorium is, met ander woorde, die produk van ’n territorialisering van milieus en ritmes (Deleuze en Guattari 1987:314). Die milieu is, in Deleuze en Guattari se verduideliking, die stabiele en gekodeerde patroon wat die organisasie van die omgewing van lewende wesens uitmaak (Young e.a. 2013:194). Hierdie milieu as patroon kan getranskodeer word of deel vorm van ander, groter milieus (Young e.a. 2013:194). Territoriumskepping is van belang vir ’n ondersoek na die subjektiwiteit in die bundel van Gibson omdat die self, vir Deleuze, niks anders as ’n refrein of ’n stel gewoontes is nie: “The self is nothing, quite literally, apart from its habits” (Janz 2001:396).
Deterritorialisering en reterritorialisering word moontlik gemaak deur die refrein, oftewel die stel gewoontes waardeur ons voortdurend besig is om ons territorium te herbedink en te rekonstrueer (Janz 2001:394). Volgens Janz (2001:395) is die refrein “an auditory notion, a repetition that determines a territory”. Die refrein is ’n lied wat organiseer met die doel om chaos te bekamp (Janz 2001:395). Met ander woorde, “[f]rom chaos, milieus and rhythms are born” (Deleuze en Guattari 1987:313) en van milieus en deur middel van ritmes word territoriums voortdurend geskep en herskep. Deleuze en Guattari se begrip territorialisering is geïnspireer deur die werk van die Duitse etnoloog en bioloog Jakob von Uexküll (1864–1944). Parr (2005:68) stel dit in The Deleuze dictionary (2005) soos volg: “For [Von Uexküll] a ‘territory’ refers to a specific milieu that cannot be separated from the living thing occupying and creating the milieu, so that the meaning of a milieu [...] is affective.”
In Von Uexküll se studies oor dieregedrag sit hy die biologiese proses van territoriumskepping uiteen en kom tot die slotsom dat daar geen betekenis buite konteks, oftewel, buite ’n milieu of territorium, moontlik is nie. In ’n skisoanalitiese benadering hou hierdie insig verband met die begrip nomadiese subjektiwiteit, wat in die volgende afdeling bespreek word. Let daarop dat nomadiese hier nie letterlik bedoel word nie, maar dat nomade eerder deel vorm van ’n tekstuele strategie.
3.1 Nomadiese subjektiwiteit
Gibson benadruk die verhouding tussen mens en milieu as tema in ’n onderhoud met Maricelle Botha: “[Die Vrystaat as metafoor in die bundel] gaan oor hoe die eksterne landskap die mens beïnvloed en hoe die eksterne landskap in die mens geïnternaliseer word en hoe dit jou eintlik verander” (Botha in Terblanche 2018). In die gedig “teen die kant van die vry–” is daar sprake van hierdie wisselwerking tussen die subjek en sy omgewing: “teen die kant van die vry– / staat staat die voetheuwels van die maluti’s wat / in die aand net na stilte luister en jou in staat / stel om hier te oorleef” (23)1. Die spreker is uitgelewer aan die ruimte om te oorleef, maar die ruimte is nie sonder agentskap nie en is byvoorbeeld in staat om te luister.
Op hierdie punt van die bespreking is dit nodig om die tipe subjektiwiteit wat in die bundel aanwesig is, aan die hand van die begrip nomadiese subjektiwiteit te oorweeg. Janz (2001:395) sê die volgende oor die nomade:
The nomad traverses a territory, not as one who is traveling between different points or toward destinations, but as one who “relays” between intermediate points. The nomad is not the migrant, who goes from one point to the next, but rather one whose space is distributed openly and indefinitely.
Met ander woorde, die nomade deterritorialiseer voortdurend deurdat hierdie persoon die omgewing bepaal en terselfdertyd deur die omgewing bepaal word (Janz 2001:395).
Daar is dus sprake van dubbele deterritorialisering in die gedig “teen die kant van die vry–”: Die spreker internaliseer die landskap net soos wat die landskap “luister” en daardeur ook die vermoë het om die spreker te internaliseer. Die internalisering van die landskap by die spreker blyk uit die volgende reëls: “as toe oë toe die / stof om lehata en die garingbome sien”; met ander woorde, die landskap is in die subjektiwiteit van die spreker ingeprent en hy kan hierdie beelde selfs “met toe oë” in sy binnewêreld sien.
Volgens Braidotti (2014:163) verg die begrip nomadiese subjektiwiteit ’n heroorweging van subjektiwiteit self: “We need to learn to think differently about the kind of subjects we have already become and the processes of deep-seated transformation we are undergoing.” Een van die grondstellings van poststrukturalisme is die vooropstelling van taal as die samestellende struktuur van menslike subjektiwiteit (2014:163). Die implikasie is dat taal nie eenvoudig ’n instrument vir kommunikasie is nie, maar eerder die ontologiese terrein is deur middel waarvan ons subjektiwiteit tot stand gebring word (2014:163). In Braidotti (2014:164–5) se woorde:
The fundamental theoretical point: that language is an ontological precondition for the constitution of the subject and in some ways “external” to it, while at the same time it is constitutive of the subject. What this means is that the relation to socio-symbolic structures, the relation to others, is the defining feature of all subjects and of our common humanity.
Braidotti (2014:165) is verder van mening dat dit die skrywer se taak is om die swaartekragtrek van Foucault se meesterteken (“master signifier”) te weerstaan en dit teen te werk. Die gevolg is dat die taal in onverwagse rigtings beweeg:
The writer tricks (Deleuze’s style), decodes (Foucault-like), unveils (Derrida) or seduces (Barthes) language into directions it was not programmed to follow. Writing so as to make the master signifier falter (Foucault), stutter (Deleuze), expose its drive to mastery (Derrida), reveal its affective core (Barthes) are all variations on the theme of loosening the despotic grip of language over the process of subject formation and of making sense.
Nomadiese denke behels ’n web van verbindings wat tot stand kom op die “zig-zagging paths of shared subjectivity and not merely on the tightrope of identity” (Braidotti 2014:168). Die subjek is ’n proses wat bestaan uit konstante verskuiwings en onderhandelings tussen verskillende vlakke van mag en begeerte.
Deleuze en Guattari ontwikkel die begrip nomadologie in A thousand plateaus (1987). In die voorwoord beskryf Massumi (1987:xii) die aard van nomadiese denke soos volg: Nomadiese denke is nie opgesluit in ’n geordende innerlikheid nie, dit beweeg vrylik in die uiterlikheid. Dit rus nie op identiteit nie, dit werk met verskille. In nomadiese denke word daar nie onderskeid getref tussen die drie domeine van voorstelling, naamlik subjek, begrip en wese, nie. Dit vervang ’n beperkende analogie met ’n geleiding wat geen perke ken nie.
Die nomadiese subjektiwiteit rys op uit veelvoudige komponente – “what philosophy of mind calls a ‘society of mind’ composed of a population of ‘autonomous agents’” (Bonta en Protevi 2004:6). Volgens Anker (2007:21) dui die Deleuze-Guattariaanse begrip deterritorialisering “op ’n proses van ontvlugting uit territoria, uit begrensde ruimtes, in die wydste sin van die woord”. Die nomadiese subjek is voortdurend aan die deterritorialiseer, daarom is hy of sy altyd bewegend en veranderend. Die klem word gelê op die subjek as ’n altyd veranderende stel verbindings en konneksies. Die gedig “die kind is die som van my geheue” (44) eggo hierdie idee van die subjek as netwerk wanneer die geheue van die spreker soos volg beskryf word: “’n wêreld van sensoriese snellers om / toe deure oop te sluit / ’n netwerk van drome gelaag” (reëls 2–5). Die nomadiese subjek is niks meer as hierdie stel “gelaagde drome” nie, oftewel die fiksionele choreografie van vele vlakke van ’n relasionele self (Braidotti 2014:169).
In “stil op die werf” (25) is daar ’n soortgelyke wisselwerking wat tussen die ruimte en die spreker plaasvind:
stil op die werf, wind gaan lê
diere laat my met rus
aarde strek uit soos môre hele dag
voor die venster staan
’n bottlebrush/ kom binne, sê boom
gemerk gereed gaan.
Hier word die grense tussen die spreker se binne- en buitekant opgehef, sodat die boom die vermoë het om met die spreker te kommunikeer en hom in te nooi: “kom binne, sê boom / gemerk gereed gaan”. Hierdie reël skakel met die idee van die territoriale merk. Von Uexküll praat van sekere merkers of tekens wat vir die lewende wese in hulle onmiddellike omgewing of Umwelt uitstaan.
Volgens Agamben (2004:40) veronderstel Von Uexküll ’n radikale diversiteit van perseptuele wêrelde wat, alhoewel hulle wedersyds uitsluitend is en nie in staat is om met mekaar te kommunikeer nie, almal volkome interverbonde is, asof elkeen deel van ’n reusagtige musikale komposisie is. Eenvoudiger gestel ervaar verskillende organismes hulle wêrelde op uiteenlopende maniere. Von Uexküll (2010:35) vergelyk byvoorbeeld die sintuiglike vermoëns van mense met ander wesens soos onder meer bosluise, seeanemone en jellievisse en kom tot die slotsom dat elke wese sy omgewing noodwendig op ’n eiesoortige manier ervaar. Die Umwelt van ’n wese bestaan dus uit “more or less [a] broad series of elements [called] ‘carriers of significance’ or ‘marks’ which are the only things that interest the animal” (Von Uexküll 2010:36). Janz (2001:396) verduidelik verder:
Animals [...] mark their territory using a variety of signs, including urine and excrement, odors, and sounds. The specific objects used to sign these (the milieu) may change, but the territory itself remains the same over the change of milieu-objects, just as one’s home may be populated with different objects over time, while at the same time maintaining the home’s homeliness.
Von Uexküll (in Agamben 2004:45) stel die leser bekend aan die leefwêreld van die bosluis, wat hy so beskryf: “a tiny insect who, suspended from a bush’s branch, waits for its prey, be it man or animal, so as to drop upon its victim and drink its blood”. Die mens kan hom of haar in die ervaring van die bosluis indink:
Let us try to imagine the tick suspended in her bush on a nice summer day, immersed in the sunlight and surrounded on all sides by the colors and smells of wildflowers, by the buzzing of the bees and other insects, by the birds’ singing. But here, the idyll is already over, because the tick perceives absolutely none of it. (Agamben 2004:46)
Die bosluis het nie oë nie en vind haar pad deur middel van haar vel se ligsensitiwiteit. Sy word bewus van die aankoms van haar prooi slegs danksy haar reuksintuig. Die reuk van bottersuur, wat deur die kliere van soogdiere vrygestel word, is vir die bosluis ’n teken om haar pos te verlaat en blindelings op haar prooi te val. As sy gelukkig genoeg is om op ’n warm wese te beland (wat sy waarneem deur middel van ’n spesiale orgaan wat sensitief is vir temperatuur), is haar jagtog suksesvol. Daarna gebruik sy haar tassintuig om die area op die vel met die minste hare te vind voordat sy haar vaslê in die weefsel van haar prooi. Nou kan sy tydsaam ’n stroom bloed opsuig (Agamben 2004:46).
Agamben (2004:46) veronderstel dat die bosluis ten minste hou van die smaak van die bloed, of dat sy dit ten minste kan proe, maar Von Uexküll het eksperimenteel bevind dat die bosluis geen smaaksintuig het nie. Sy neem enige vloeistof in waarvan die temperatuur ooreenstem met dié van die bloed van soogdiere. Ná sy die bloed ingeneem het, val sy grond toe, lê eiers en gaan dood. In die geval van die bosluis bestaan die Umwelt uit slegs drie merke of tekens: eerstens die reuk van bottersuur wat voorkom in die sweet van alle soogdiere; tweedens die spesifieke temperatuur wat ooreenstem met die temperatuur van soogdierbloed; derdens die aard van soogdierpelse wat harig is en deur nabygeleë bloedvate van bloed voorsien word.
Von Uexküll bevind dus dat daar geen betekenis bestaan wat onafhanklik van ’n ervarende wese is nie. In die geval van ’n menslike subjek bestaan die ervaring van die Umwelt uit die tekens waarop die subjek kies om te fokus, en daarom is die betekenis van ’n subjek se omgewing noodwendig subjektief. Alles kry betekenis deur die mens: “die gras vind sy pad na betekenis deur stof / die stof deur wind / en die wind deur mens” (64, reëls 8–10).
Deleuze en Guattari se begrippe territorialisering en deterritorialisering is in ’n mate abstraksies van Von Uexküll se oorspronklike, konkrete teorie. Smith en Protevi (2020) werp lig op territorialisering deur dit te onderskei van die prosesse van kodering en stratifikasie. Hulle meen dat die begrippe op die volgende manier aan mekaar verwant is: kodering is ’n ordeningsproses en dit wat georden word, word ’n liggaam. Terwyl stratifikasie die oprig van hiërargieë tussen hierdie liggame as geordende strukture is, is territorialisering die kontrasterende proses van ordening deur middel van samestellings van verskeie sulke liggame om samevoegings of montages (“assemblages”) uit te maak, oftewel “an emergent unity joining together heterogeneous bodies in a ‘consistency’” (Smith en Protevi 2020). Die interaksie van hierdie liggame in ’n konsistensie is nie lineêr of hiërargies nie – “nature and the interactions of living things, following Von Uexküll’s insights, [is] a symphony. It is not ‘an impulse triggering an action’, but [...] motifs, counterpoints and refrains” (Young e.a. 2013:307). ’n Konsistensie is dus ’n gelyke vlak waarop uiteenlopende materiële wesens in verbinding tree met mekaar.
Verbindings is uiteraard ’n sentrale deel van Deleuze se filosofie wat “ten gunste [is] van ’n grenslose veld waarin ’n mens altyd van een singulêre of eenmalige punt na ’n volgende beweeg, waarna hierdie punte weer met iets anders verbind word” (Anker 2007:21). Deleuze en Guattari is voorstanders van ongereguleerde, oop en vry netwerke wat hulle onder meer “konsistensies”, “risome” of “oorlogmasjiene” noem (Anker 2007:21). Volgens Rajchman (2001:50) is “[t]he question of Deleuze’s logic [...]: what [might it] mean to think in terms of multiplicities rather than identities or propositions[?]”.
In “plante in die huis” (51) word die milieu van die spreker se tuiste beskryf met verwysing na die plante wat voorkom: “plante in die huis. / moeite soos gifbessie en sering / voor die vensterbank halfhartig / katbos en die swemmende indruk van wilde-als”. Hier is weer sprake van die ophef van grense tussen die binne- en buitekante, omdat daar juis van buiteplante binne die grense van die huis gepraat word. Dié plante is daarom nóg merkers van die spreker-subjek se territorium. Om weer vir Janz (2001:396) by te haal: “Our bodies do not stop at our skin, they stop somewhere beyond, where our space becomes identified as ours” – daarom is die spreker en die plante albei deel van die konsistensie wat die tuiste uitmaak.
Ook in “soos niks. onder ’n vlieër” (46) is daar sprake van ’n soortgelyke samevoeging van uiteenlopende elemente: “en die wind gaan oor / die stof, en die stof is die restant van / gras” (reëls 3–5) en “[...] die wind / gaan oor vlaktes in / my slaap die wind waai oor die / blare van ’n graswoud op my slape / en in my mond” (reëls 11–15). In sowel “plante in die huis” as “soos niks. onder ’n vlieër” is daar ’n montage van liggame wat op gelyke vlak met mekaar verbind: Gifbessie, sering, katbos, wildeals en die gras, die tong, die oor, die wind, die stof, die blare en die subjek is alles elemente wat deel is van mekaar en mekaar op ’n wesenlike wyse beïnvloed en bepaal. In die reëls “die gras hier [...] maak die tong / skepties, maak dat weerklank die oor ontwyk” (64, eie kursivering) word die invloed van die elemente op mekaar se skepping benadruk – die elemente maak mekaar omdat hulle saam deel uitmaak van ’n konsistensie. Die wedersydse invloed van die spreker-subjek en sy omgewing dui op ’n nomadiese subjektiwiteit omdat die nomade voortdurend deterritorialiseer. Met ander woorde, die nomade beïnvloed die omgewing terwyl die omgewing terselfdertyd ’n verandering in die nomade teweegbring.
3.2 Refrein
In ’n reeks essays oor skisoanalise getiteld The machinic unconscious (2011) gebruik Guattari die musikale begrip refrein as teoretiese instrument om lig te werp op die herhaalde beelde, gebare en rituele wat sowel mens as dier se sosiale lewens orden. Later, saam met Deleuze in A thousand plateaus, bied hulle voorbeelde van refreine in die vorm van voëlsang, wat paring en territorialisering bewerkstellig, asook die voorbeeld van ’n kind wat ’n deuntjie fluit uit vrees vir die donker. Eerstens is die refrein ’n merker van die territoriums van mense of diere, soos waargeneem word in etnologie. ’n Voël fluit om sy territorium met klank te begrens, om die ander voëls te laat weet dat dit sý area is. Ook mense gebruik klank in hulle territoriumskepping: “A housewife sings to herself, or listens to the radio, as she marshals the antichaos forces of her work. Radios and television sets are like sound walls around every household and mark territories (the neighbor complains when it gets too loud)” (Deleuze en Guattari 1987:311).
Tweedens behels die refrein die skep van orde te midde van ’n ongestruktureerde en ongeordende omgewing deur middel van herhalings – dit is die oplê van bekende patrone in ’n onbekende ruimte om ’n stabiele sentrum vir die subjek te skep. In Machinic unconscious verduidelik Guattari (2011:107) hierdie proses soos volg:
A child singing in the night because it is afraid of the dark seeks to regain control of events that deterritorialized too quickly for her liking and started to proliferate on the side of the cosmos and the Imaginary. Every individual, every group, every nation is thus “equipped” with a basic range of incantatory refrains. The trades and corporations of ancient Greece, for example, possessed their own kind of sonorous seal, a short melodic formula called “nomos”. They made use of it to affirm their social identity, their territory, and their internal cohesion.
Die stabiele sentrum is egter nie ’n afgehandelde produk nie. Dit is eerder ’n voortdurende proses en hang nou saam met herhaaldelike territorialisering en deterritorialisering as komplementêre prosesse. Deleuze en Guattari (1987:311) skryf:
Finally, one opens the circle a crack [deterritorialiseer mens], opens it all the way, lets someone in, calls someone, or else goes out oneself, launches forth. One opens the circle not on the side where the old forces of chaos press against it but in another region, (a new region) one created by the circle itself [reterritorialisering]. [...] One launches forth, hazards an improvisation. But to improvise is to join with the World, or meld with it.
Die tydelike stabiele sentrum word deur middel van ’n vluglyn onderbreek: “One ventures from home on the thread of a tune” (Deleuze en Guattari 1987:311). In Braidotti (2014:179) se bespreking van die nomadiese subjektiwiteit skryf sy oor die funksie van vluglyne: “The point of nomadic subjectivity is to identify lines of flight, that is to say a creative alternative space of becoming.” In die plato “Of the refrain” in A thousand plateaus (1987) bespreek Deleuze en Guattari ook die moontlikheid van die liefdespaar as vluglyn. Hulle (1987:324) verduidelik: “As in courtly love, a color ceases to be territorial and enters a ‘courtship’ assemblage. The territorial assemblage opens onto the courtship assemblage, which is a social assemblage that has gained autonomy.” Met ander woorde, die alledaagse territoriale konsistensie omvorm, as gevolg van romantiese liefde of aangetrokkenheid, tot ’n hofmaak-konsistensie. Hulle (1987:324) verwys as voorbeeld na die paringsritueel van die Australiese grasvink:
[W]hen the male does not make the nest and confines himself to transporting materials or mimicking the construction of a nest [...], he either courts the female holding a piece of stubble in his beak (genus Bathilda), uses the grass stem only in the initial stages of courtship or even beforehand (genera Aidemosyne and Lonchura), or pecks at the grass without offering it (genus Emblema).
Alhoewel die mannetjiesvink nie meer verantwoordelik is vir die bou van die neste in dié spesifieke spesie nie, behou die grasstingel ’n bepaalde gedeterritorialiseerde betekenis. Daarom is die grasstingel ’n gedeterritorialiseerde komponent, oftewel ’n “assemblage converter” (Deleuze en Guattari 1987:324–5). Volgens Deleuze en Guattari (1987:325) is dit asof magte van deterritorialisering die territorium affekteer en veroorsaak dat dit oorgaan van die alledaagse territoriale montage na ander tipes montages, soos paringsdanse by vinke. Die grasstingel en die refrein is twee voorbeelde van sulke magte, oftewel twee agente van deterritorialisering.
Die spreker-subjek in Vry– verwoord iets van die refrein in die gedig “dit.[neem: / ’n.tydomtot.verhaal.te]kom” (40): “[...] die.bekende’.patroon / ... [van.dinge.wat verander]. [...]” (reëls 2–3). Die ervaring van die nomadiese subjek is juis die voortdurende oplê van gewoontes en patrone (die refrein) in diens van territorialisering voordat daar weer gedeterritorialiseer word, oftewel voor die hele proses weer herhaal word. In “’n ruk na spreekure” (78) word enkele van die spreker se konkrete gewoontes en patrone genoem: “’n ruk na spreekure lei / jy my aan die hand huis / toe al met die oewer van die bloemspruit langs / om die verbeende bleek van rûe kom / die skemer wind om ons hare die klere / wat ons aanhet, oor die brug en die / ongesnoeide bome” (reëls 1–7) en “en ons sal trappe klim na ons kamer / en onder die groute van beurtkrag na me- / kaar staar en peusel aan gebakte / hoender, gemengde groente, rys; en / met die nag anderkant stilstaande gordyne / sal jy jou bloes oor jou skouers skil / die res sonder versoek (want jy is verslaaf / aan my) jy dring jouself in my / mond, word stil in die / slaap wat soos ’n akkedis / uit die bed klim en opreis / van die vloer, deur die toe ruit, / op tot in die blink laning bome, / en dan die maan” (reëls 12–25).
In hierdie gedig word die territoriale montage, met ander woorde die gewone leefwêreld van die spreker, in ’n hofmaakmontage omskep. Die liefdespaar as vluglyn word geïllustreer in die slot van die gedig: “[...] [jy] word stil in die / slaap wat soos ’n akkedis / uit die bed klim en opreis / van die vloer, deur die toe ruit, / op tot in die blink laning bome, / en dan die maan” – daar het ’n ontvlugting uit die begrensde territorium plaasgevind, uit die immanente na die transendentale, die tipe oopmaak vir die wêreld waarvan Deleuze en Guattari (1987:311) praat: “One ventures from home on the thread of a tune.” Boonop is dié gedig ’n sterk intertekstuele verwysing na Breyten Breytenbach (2001:44) se “herfsaand” en is dus in sigself ’n vluglyn wat “herfsaand” as vertrekpunt neem. Vergelyk byvoorbeeld die slotreël van Gibson se gedig soos hier bo bespreek met die slotreëls van “herfsaand”: “(ek is verslaaf aan my klein vrou) / ek sal uit haar tong drink, ons sal soos klipsalamanders / op die kooi klouter / van die vensterbank tot op die eerste blink nok / en dan die maan” (2001:44).
Patrone wat aan die spreker bekend is en in die loop van sy lewe herhaal word, kom dikwels in die bundel voor, soos in “as kind ongewoon” (10):
as kind ongewoon met ma afgevlieg kaap toe
vir vreemde familie gaan kuier van
bloemfontein af soontoe met die boeing en terug met die viscount
[...]
ons vlieg meer geredelik, kompakte bagasie
soontoe met die boeing, terug met die viscount.
Daar is by die spreker ’n refrein in die vorm van die pendel tussen die Kaap en Bloemfontein wat in hierdie geval bydra tot die ordening van sy jeugherinneringe en skakel met sy huidige ervaring as volwassene. Ook in “op maandae maak die oog ’n hoek” (31) is daar sprake van ervarings wat hulle mettertyd herhaal en sodoende die ervaring van die spreker op ’n voorspelbare manier orden: “op maandae maak die oog ’n hoek met / die venster” (reëls 1–2) en “[...] volgende week / herhaal ’n mens die slawestand / knoffel, waatlemoen, uie, prei” (reëls 12–14). Die hoek suggereer ook ’n verhouding: Die oog maak ’n hoek met die venster wat hulle deelname aan ’n bepaalde konsistensie uitwys. Die konsistensie van die oog met die venster maak die ervaring van die “[...] bome en twee / kransduiwe [wat] vlerk aan vlerk voor plae verdwyn” vir die spreker moontlik. Dit skakel weer eens met die idee van die nomadiese subjek wat sy of haar omgewing skep terwyl hy of sy terselfdertyd deur die omgewing geskep word. Die oog en die venster vorm een “liggaam”, een geleiding wat dan uitbrei om die bome en twee kransduiwe ook in die konsistensie in te sluit. Hierdie konsistensie vind, volgens die gedig, op Maandae plaas. Verskillende konsistensies vind op die ander dae van die week plaas: “dinsdag begin die groot klok lui”, “woensdag gaan die rooi see oop” en “sondag plant jy rose” (reëls 4, 6 en 12). Die reeks konsistensies waarvan die spreker herhalend deel vorm, kan as ’n refrein gesien word: Dieselfde patrone en handelinge word week ná week herhaal.
Die beklemtoning van die montage of konsistensie wat in ’n voortdurende skeppingsproses verkeer, skakel met Janz (2001:395–6) se teoretisering oor milieus en die refrein:
When we are at home, we have a set of rhythms that define a place as home. There are codes – items are placed in a way meaningful to those that know a place as home, and only partially accessible (if at all) by others. But these codes are never fixed; [...] First, we change them just by living in and with them. Second, the milieus are constantly interacting with each other, changing the coding of the rhythms we have set up. [...] My subjectivity lies in the set of rhythms and repetitions I have found to be useful.
Ook in “my eerste gedaante het jou” (86) is tekens van die ineenvlegting van onderskeie wesens en word die verhouding tussen die spreker en sy geliefde met die “dier en gras” vergelyk: “[...] daar’s ’n plek / anderkant die uitmond van ’n vlei / waar dier en gras vir mekaar gemaak / is, waar ek liggies aan jou raak” (reëls 10–13). Daar is dus die suggestie dat die spreker en sy geliefde op dieselfde manier as die dier en gras “vir mekaar gemaak / is” en dat hulle verbind is met mekaar deurdat hulle aan mekaar raak. Volgens Braidotti (2014:182) kan die proses van nomadiese “wording” as ’n nadruklike nabyheid beskou word, oftewel “intensive inter-connectedness. Nomadic shifts enact a creative sort of becoming; they are a performative gesture that allows for otherwise unlikely encounters and unsuspected sources of interaction, experience and knowledge”. Die nomadiese subjek is dus voortdurend in ’n staat van wording (“becoming”). Volgens Braidotti (2014:171–3):
Becoming has to do with emptying out the self, opening it out to possible encounters with the “outside”. [...] “[The nomadic subject is] an affective and highly receptive subject which quite simply is not one, not there, not that – it is always becoming.” [...] It is crucial in fact to see to what extent processes of becoming are collective, intersubjective and not individual or isolated: it is always a matter of blocks of becoming. “Others” are the integral element of one’s successive becomings.
In “ek stap van die rant af ek soek die fontein” (30, reëls 1–8) word daar eksplisiet na die verhouding tussen die spreker en sy tuiste verwys:
ek stap van die rant af ek soek die fontein/ ek sien die huis tussen
die bloekoms uitsteek/ eintlik net die dak wat in venyn/ die een-
tonigheid vorentoe verbreek// en tussen die langgras deur/
verwag ek die donker gang/ met mure tot stilte gekeer/ en my laat
bang// word vir iets wat jy voel/ al nader aan die werf. so/ wat ek
eintlik bedoel/ is die honde sien my hulle oë/ ovaal en my lyf is ’n
huis/ ’n huis waarin die honde bly/ en ek voel ontuis/ voor die rante
wat my bevry// [...]
Die spreker verwag “die donker gang/ met mure tot stilte gekeer” – die binnekant van die huis is dus bekend aan hom. Dan sien hy die honde en sy “lyf is ’n/ huis/ ’n huis waarin die honde bly” – die bekendheid van die huis en die honde is verborge binne die spreker. Die idee van territoriumskepping as skans teen vrees vir ’n chaotiese, onbekende buitekant blyk uit die volgende reël: “ek voel ontuis/ voor die rante / wat my bevry//”. Dit is tekenend van ’n refrein by die spreker: die bekendheid van die territorium van die huis en die honde bied vir hom sekerheid en vastheid. Die nomadiese subjek is egter voortdurend met deterritorialisering besig. Om ontuis te voel is (om weer Parr 2005:67 by te haal) simptomaties van die proses van deterritorialisering: “[T]o deterritorialise is to free up the fixed relations that contain a body all the while exposing it to new organisations.” Die spreker voel dus ontuis voor die rante omdat die rante juis ’n vluglyn uit die territorium van die tuiste verteenwoordig.
Die spreker se ervaring van sy tuiste blyk uit die bekende patrone in sy alledaagse lewe in die gedig “voor in my bakkie lê vir die skyn” (33, reëls 4–16):
en wit middeljare is ek goed vir die bakkie.
goed vir die honde kos gee braai in die wind
belasting betaal een maal per jaar gaan skiet help met die kind
se huiswerk geskenkbewyse koop vir die familie naby en ver
[...]
en die diesel ruik na industriële troos dit is inder-
daad ’n stap in die regte rigting. want in die motorhuis lek
die ongemak van buisligte deur die vensters
[...]
die binnekant van die bakkie voldoen aan die nodige plan
’n stuurkajuit, ’n opening uit
[...]
In hierdie geval word die gevoel van sy tuiste geskep deur sy roetine en herhaalde gedragspatrone: Hy gee die honde kos, braai, betaal belasting, gaan skiet een keer ’n jaar, help met die kind se huiswerk, koop geskenkbewyse vir familie, ens. Daar is egter sprake van ongemak by die spreker oor hierdie bekende patrone: “[...] in die motorhuis lek / die ongemak van buisligte deur die vensters”. Ook die slotreël, waar die “opening uit” die stuurkajuit beklemtoon word, is tekenend van die refrein as voortdurende proses. ’n “Opening uit” suggereer ’n oopmaak vir die wêreld, met ander woorde, die moontlikheid van ’n vluglyn uit die bekende roetine uit.
In “ver wes van die uitdaging in en om die huis” (35) is daar ook sprake van ’n begeerte by die spreker om uit die bekende patrone van sy tuiste te ontsnap:
ver wes van die uitdaging in en om die huis versuim die bloute oor
ons die aanhoudende pad tot allendale verby/ in plaas van kalmte
die woestyn wat ons binnekort betree, [...]
[...]
[...] van ver kan jy die padstal om die draai sien
asof vorentoe die vaart en die woorde in ’n lugspieël tussen
die kosmos langs die pad ons rit stramien/ oomblikke voor
die hemel oor die aarde oor windpompe teen die horison opstaan
en teen die droë winde roei vir onsigbare water wat beweeg, en in
die raamwerk van beweging beteken
Daar is ’n wesenlike verskuiwing van fokus wat in die gedig plaasvind: van “jy kan die padstal om die draai sien” na “oomblikke voor / die hemel oor die aarde oor windpompe teen die horison opstaan”; dit wil sê die fokus op die immanente en nabygeleë (die padstal) skuif na die transendente (die kosmos en die hemelliggame). Dit is tekenend van Sellars (1999:5) se beskrywing van Deleuze en Guattari se benadering van geofilosofie:
This [approach] is a re-orientation of thought from the perspective of the organism and organic life to the perspective of the cosmos and nonorganic life. From this new perspective one will understand life not as a form, or a development of form, but as a complex relation between differential velocities.
Deleuze (in Sellars 1999:5) skryf: “[S]top thinking of yourself as an ego (moi) in order to live as a flow (flux), a set of flows in relation with other flows, outside of oneself and within oneself.” Dit is duidelik dat die spreker op reis weg van die huis af sowel letterlik beweeg as bewus word van sy deelname aan ander “bewegings”, soos dié van die kosmos, die hemel, die aarde en die horison. Daar is duidelik tekens van hierdie oopmaak vir die wêreld deur middel van ’n vluglyn – dit skakel met Deleuze en Guattari (1987:311) se beskrywing van die vluglyn uit die bekende refrein: “[O]ne launches forth, hazards an improvisation.” Met ander woorde, die spreker stel homself oop vir ’n nuwe verhouding met die wêreld, ’n onbekende improvisasie – “to improvise is to join with the World, or meld with it” (Deleuze en Guattari 1987:311). Die spreker wil dus op ’n nuwe manier en in ’n nuwe verhouding met die wêreld “in die raamwerk van beweging beteken”.
3.3 Gevolgtrekking
In die eerste afdeling van die artikel is daar gekyk na hoe die inhoud van territoriumskepping en deterritorialisering verband hou met die tipe subjek wat in die bundel uitgebeeld word. Vir Deleuze en Guattari is die vorming van die subjek gesetel in die ervaring van die territorium. Territoriumskepping is instinktief by die mens en omdat die mens ’n unieke posisie tussen dier en masjien het, het ons die vermoë om biologiese en sosiale funksies te reorganiseer om tuisteskepping te bewerkstellig.
Die teensy van die proses van tuisteskepping is deterritorialisering, oftewel die neem van vluglyne uit die georganiseerde territorium uit. Deterritorialisering stel die subjek bloot aan nuwe verbindings en deelname aan nuwe konsistensies. In Vry– is daar ’n sterk verhouding tussen die spreker en sy ervaringswêreld. Daar is verwysings na die fisiese landskap (“die voetheuwels van die maluti’s”) en die invloed wat die ruimte op die spreker uitoefen (“die gras hier neem my gevange”). Daar is ook verwysings na die spreker se ervaring van sy voormalige en huidige tuistes, soos in “stil op die werf” en “ek stap van die rant af ek soek die fontein”. Dit is duidelik dat die spreker soms die proses van tuisteskepping uitoefen. Dit is egter ook duidelik dat die spreker soms wil ontvlug uit hierdie tuistes uit, soos in “ver wes van die uitdaging in en om die huis”. Daarom is die begrip nomadiese subjektiwiteit by die bespreking ingenooi. ’n Nomadiese subjek is oop en onbepaald en verander voortdurend deur in nuwe verbindings en konsistensies te tree. Dié subjektiwiteit is ’n geleiding wat bestaan uit veelvoudige komponente wat aanhou groei en verander. Die nomadiese subjek is dus ’n proses van verskuiwings en onderhandelings, en ’n vaste eindpunt word nooit bereik nie.
As die spreker-subjek in Vry– as ’n nomadiese subjek gesien word, werp dit lig op sy ambivalensie teenoor sy tuistes – hy skep tuistes en patrone, maar daar is ook by hom ’n begeerte om daaruit te ontvlug. In Deleuze-Guattariaanse terme is die nomadiese subjek ’n stel gewoontes en herhalende patrone wat voortdurend verander. Die skisoanalitiese begrip refrein is op hierdie punt van die bespreking betrek. Die refrein is die proses waarby bekende patrone in onbekende situasies opgelê word. Deur middel van ’n vluglyn uit ’n georganiseerde territorium word ’n kreatiewe ruimte geskep waarin anders-wording kan plaasvind. Deleuze en Guattari identifiseer die liefdespaar as voorbeeld van ’n refrein, oftewel, as agent vir deterritorialisering. Dit blyk uit die bespreking dat Gibson se spreker-subjek duidelike ooreenkomste met ’n nomadiese subjek toon deurdat hy ook voortdurend in die prosesse van territorialisering en deterritorialisering verwikkel is.
4. Taalstottering
In hierdie afdeling van die artikel gaan die bundel op vormlike vlak ondersoek word.
Waar Deleuze en Guattari aanvoer dat die ervaring van die territorium die vorming van die subjek voorafgaan, is Braidotti van mening dat dit eerder taal is wat die samestelling van subjektiwiteit moontlik maak. Daar word dus gekyk na die spreker se aanwending van taal in die bundel en hoe dit die uitbeelding van sy subjektiwiteit beïnvloed.
Die idee van letterkunde as die beoefening van die vreemdmaking en nuutmaking van taal het sy oorsprong by die Russiese formaliste. Dié groep, insluitend onder meer Viktor Sjklofski en Roman Jakobson, vorm in 1917 in Rusland (Eagleton 1996:2). Hulle oefen invloed uit op latere denkers soos Michail Bakhtin en die strukturalisme as denkrigting in sy geheel. Volgens Eagleton (1996:3) het die formaliste aanvanklik literêre werke as ’n arbitrêre samestelling van elemente of funksies gesien wat almal die eienskap van vervreemding of disoriëntering gemeen het: “What was specific to literary language [...] was that it ‘deformed’ ordinary language in various ways” (Eagleton 1996:3).
Die formaliste was van mening dat die roetines van alledaagse spraak, ons ervarings van en reaksies op die werklikheid afgestomp of geoutomatiseer word (Eagleton 1996:3). Deurdat poësie die leser dwing om opnuut bewus te word van die taal, word die geykte persepsies weer vernuwe en vervars (1996:3). Hy beskryf dit soos volg:
Literary discourse estranges or alienates ordinary speech, but in doing so, paradoxically, brings us into a fuller, more intimate possession of experience. Most of the time we breathe in air without being conscious of it: like language, it is the very medium in which we move. But if the air is suddenly thickened or infected we are forced to attend to our breathing with new vigilance, and the effect of this may be a heightened experience of our bodily life. (1996:4)
Heelwat later staan die verband tussen taal en die liggaam ook sentraal in Julia Kristeva se teoretisering oor Plato se idee van die chora, wat na ’n voedsame, moederlike ruimte verwys (Schippers 2011:46). Kristeva se verwerking van die chora is al op verskeie maniere geïnterpreteer: as verwysing na die uterus, as metafoor vir die verhouding tussen moeder en kind, en as die temporale periode wat die spieëlstadium (“mirror stage”) voorafgaan (Schippers 2011:46). Volgens Lourens (2013:11) is poëtiese taal, vir Kristeva, “taal wat die onsêbare probeer verwoord, waar laasgenoemde ’n oorblyfsel is van die semiotiese chora”. Poëtiese taal is, volgens Kristeva, “méér as net grammatika, sintaksis en selfs woordeskat, maar [’n taal] waarin spesifiek ’n sensoriese belewenis sy afdruk laat” (Lourens 2013:11). Dit sluit aan by Gibson se uitlatings oor sy eie werk, veral dat lesers nie noodwendig “’n logies sluitende ‘betekenis’ [in sy werk moet soek] nie, maar [hulle eerder moet] oopstel vir die emosionele impak van die gedig” (Lourens 2013:3). In Gibson (2013) se woorde gaan die gedig “tog in sy wese oor die emosionele gevolg, en nie oor die narratief nie”.
Deleuze neem, in “He stuttered” (1994:28), ’n ander rigting in met die konseptualisering van die stottering van taal: “It is when the language system overstrains itself that it begins to stutter, to murmur, or to mumble.” Hy (1994:23) onderskei hierdie stottering van die blote stottering van karakters in dialoog. Dit is nie ’n verwysing na die individu wat stotter in sy spraak nie, maar na die skrywer wat die taalsisteem in sigself laat stotter. Deleuze (1994:24) voer aan dat só ’n stottering van taal moontlik is slegs omdat enige taalsisteem in ’n voortdurende onewewigtigheid verkeer: “[I]f the system bifurcates – and has terms [which] traverses a zone of continuous variation – language itself will begin to vibrate and to stutter, and will not be confused with speech.” Deleuze (1994:25) is van mening dat ’n goeie skrywer soos ’n vreemdeling in sy eie taal is, selfs wanneer hy in sy moedertaal skryf: “He is a foreigner in his own language: [...] he shapes and sculpts a foreign language that does not preexist within his own language.” Dit gaan vir Deleuze daaroor om die taal in sigself te laat huil, stotter, mompel of fluister. Hy is van mening dat die kreatiewe stottering van taal “is what makes language grow from the middle, like grass; it is what makes language a rhizome instead of a tree, what puts language in a state of perpetual disequilibrium” (Deleuze 1994:27).
Stevenson (2009:80) verduidelik dit soos volg: “Language now has a ‘foreign language within’ it because it is in the process of overcoming itself, becoming-other or becoming-foreign to itself.” Vir Stevenson (2009:80) word taal werklik poëties eers “when it confronts its own ultimate limit and the silence that lies beyond it”. O’Sullivan(2009:247) verbind die stottering van taal met die Deleuze-Guattariaanse begrip mineurletterkunde, wat oor drie eienskappe beskik: 1) die vooropstelling van die affektiewe en intensiewe eienskap van taal – “a minor literature stutters and stammers the major”; 2) die politiese aard daarvan; en 3) die gemeenskapsgesindheid daarvan.
In ’n mineurletterkunde word die taal oopgemaak “to a howling outside/inside. It is these moments of noise – or glitches as we might call them – that free language from itself [...] by putting it into contact with other forces” (O’Sullivan 2009:249). Met “glitches” verwys O’Sullivan na die stottering van die majeurtaal. Die stottering van taal skep ’n onbepaalde ruimte en daarom ook die moontlikheid vir ’n veelvoudigheid van vertakkings en dus ’n veelvoudigheid van moontlike wêrelde (2009:251). Hy verduidelik verder:
We might say then that the glitch names two moments or movements. To break a world and to make a world. In fact these two are never really divorced from one another: to dissent means invariably to affirm some where/thing else. To affirm an elsewhere we have to turn from that which is already here. The glitch is then a moment of critique, a moment of negation – but also a moment of creation and of affirmation. Indeed, the glitch [...] is the “sound” of something else, this something different attempting to get through. (O’Sullivan 2009:251)
Met Deleuze en Guattari se begrip mineurletterkunde poog hulle om ’n alternatiewe benadering te bied, ’n benadering wat vir hulle veral toepasbaar is op Franz Kafka se werk (Young e.a. 2013:197). Hulle voer aan dat Kafka se karakters gemoeid is met die sosiale montages (“assemblages”) waarvan hulle deel uitmaak eerder as met interpersoonlike probleme rondom die familie en die huwelik (Young e.a. 2013:197). Al Kafka se karakters se gevoelens en gedagtes word deur eksterne magte bepaal – hetsy burokraties, geregtelik of kapitalisties. Vir Deleuze en Guattari gaan mineurletterkunde gepaard met ’n hoë aantal deterritorialiserings – dit is letterkunde waarin algemene, dominante kodes en konvensies laat vaar word (Young e.a. 2013:197).
Hardcastle Jones (2013:9–10) identifiseer verskillende wyses waarop taalstottering kan plaasvind, naamlik deur middel van die ontbinding van taal asook die deterritorialisering van taal: “The first procedure is an issue of what language is; the second, an issue of communication.” Beide stotteringswyses het ’n vreemdmaking tot gevolg wat die algemene idee uitdaag dat taal altyd vlot, duidelik en herkenbaar behoort te wees. Beide is maniere om ’n vluglyn te neem, ’n vertrekpunt van die bekende en geykte patrone in die taalsisteem:
A line of flight is a way and a means: it is the trajectory a body takes in its becoming(-otherwise) but it’s also the movement that allows bodies (of all kinds) to come together and do more than each was able to do on its own. Lines of flight are creative. (Hardcastle Jones 2013:25–6)
Op dieselfde manier as wat die nomadiese subjek voortdurend deterritorialiseer deur middel van vluglyne, kan ook taal gedeterritorialiseer word. Die eerste wyse waarop hierdie proses in die bundel onder bespreking plaasvind, is deur middel van die ontbinding van die taalsisteem as gevolg van oorspanning. Deleuze (1994:26) verduidelik dit soos volg:
Language is subject to a double process of choices to be made and sequences to be established: disjunctions or selection of similars; connection or sequel of combinables. As long as language is considered as a system in a state of equilibrium, disjunctions will necessarily be exclusive (we do not say “passion”, “ration”, “nation” all at once, we must choose) and connections progressive (we do not combine a word with its elements with the gearshift in the neutral or by alternating between drive and reverse). But away from the state of equilibrium, disjunctions become included and inclusive and connections become reflexive [...]. Each word is now divided, but it is divided in itself (fat-cat fatalist-catalyst); and it is also combined, but combined with itself (gate-rogate-abrogate). It is as if the entire language had begun to roll from left to right, and to toss from back to front. (Deleuze 1994:26)
Stottering deur middel van die ontbinding van taal vind dus plaas as gevolg van “working on or playing with choices and combinables” (Hardcastle Jones 2013:43). Ontbinding verwys uiteraard na afbreek of aftakeling, soos in Deleuze se voorbeeld van “fat-cat fatalist-catalyst” – in plaas van ’n keuse tussen “fat” en “cat” word dit eerder gekombineer, so ook met die keuse tussen “fatalist” en “catalyst”, asof die proses van die vorming van “fat-cat fatalist-catalyst” uitgebeeld word. As die frase bloot deur middel van keuses en nie kombinasies nie geproduseer word, sou daar gekies moes word tussen “fat” en “cat” en weer tussen “fatalist” en “catalyst”, wat byvoorbeeld “fat fatalist” of “cat fatalist” of “fat catalyst” of “cat catalyst” tot gevolg kan hê. Die stottering van taal waarvan Deleuze hier praat, het dus te doen met die ontbinding of aftakeling van die proses van skryf, veral met betrekking tot die keuses en kombinasies wat taal in ewewig normaalweg toelaat.
In Vry– is daar ’n aantal gedigte waarin ’n eiesoortige aanwending van leestekens geskied, soos in die gedig “steel.[ ’n trekkerbattery om:” (29):
steel.[ ’n trekkerbattery om: ’n ou motor aan()die gang te kry
..breker.die.wag.hond[en – e]..wag & begin+te. blaf .
en.ry[duiseligheid]seker../[of-]bang
+deur.die’ogiesd raad h ei-ning.....oupa{komuitgehardloopuit..:
die.’huis.’uit die slaap}op. ’n.drafstap.
./hy.lyk.jonger>&gesond.//..ditlyksoos’nrooi.
steel.[ ’n trekkerbattery om:
Hier kom letterlik ’n ontbinding van die woorde in die gedig voor, soos in “ogiesd raad h ei-ning” waarin “raad” byvoorbeeld as selfstandige onderdeel van die woord beklemtoon word. In plaas van die uitoefening van ’n keuse tussen “draad” en “raad” word albei ingesluit. Daar is ook ’n spel met die leser se ervaring van die teks, soos met “oupa{komuitgehardloopuit..:” wat ’n versnelling suggereer en dus bydra tot die oordrag van die inhoud, asof die spreker se oupa so vinnig uitgehardloop kom dat daar nie tyd is vir spasies tussen die woorde nie.
’n Soortgelyke gedig is “dit.[neem:/’n.tydomtot.verhaal.te]kom” (40, reëls 1–3) waarin die volgende reëls voorkom:
dit.[neem:/’n.tydomtot.verhaal.te]kom
:die.reg.tot/ter.sprake\\die.bekende’.patroon
...[van.dinge.wat.verander].die.tweede\\na(tuur-die verdiende loon).
Hier is byvoorbeeld ’n interessante spel met die woord “natuur” wat ook as “na tuur” gelees kan word, wat ’n veelvoudigheid van betekenis tot gevolg het. Dit kan gelees word óf as die bekende uitdrukking “tweede natuur” óf as ’n “tweede na tuur van die verdiende loon”, met ander woorde, ’n terugkyk daarop, ’n tweede tuur of blik daarop.
Die laaste voorbeeld van hierdie tipe ontbinding is “...=_gehoor[jou.hart.be(d)aar]” (49):
...=_gehoor[jou.hart.be(d)aar]//dat+jou+huis
en//jou.drome(waar_geword.het
+.[en-my-aardse.(besetting) jou]=van
a [a]ngesig..tot..aangesig her-inner –
...=_aan[iets.wat.getuig] dat-ons.eens.saam,
nou..vervaag[en.opsetlik]@herinnering//
gehoor.tot-stilte klaar.
Eerstens is dit opmerklik dat die woord “herinner” opgebreek word in die vorm “her-inner” wat ’n interessante konseptuele implikasie het. Om jou te herinner aan iets is tog om dit te “her-inner”, daarom weer oproep in die binnewêreld. Dit het tot gevolg dat die betekenis van “herinner” deur die leser heroorweeg word. Ook “jou.hart.be(d)aar” het terselfdertyd ’n abstrakte betekenis – die hart wat gewoon bedaar en tot rus kom; maar ook “jou.hart.beaar” kan hier aan bod kom, wat ’n meer fisieke betekenis tot stand bring – ’n hart wat beaar is, is gewoon ’n werkende hart. Ook “a [a]ngesig” is ’n visuele uitbeelding van die sin van die woord: die “a” en die “[a]” in die woord “aangesig” is van aangesig tot aangesig met mekaar, wat die betekenis sodoende versterk deur middel van die onkonvensionele aanbieding van die woord. Laastens het die opkapping van “eens.saam” ook ’n veelvoudigheid van betekenis tot gevolg: Dit roep enersyds die “dat ons eens saam [was]” op, met ander woorde, dat die twee subjekte eenmaal bymekaar was. Andersyds is dit ook “eensaam”, wat die huidige gemoedstoestand van die spreker as gevolg van die “eens saam wees” uitbeeld.
Hierdie taalstottering deur middel van die ontbinding van taal kom ook in die meer konvensionele gedigte in die bundel voor, soos in “’n formele tegniek in jou gewrigte” (84, reëls 6–9):
[...] leun jy terug
met die statiese onsekerheid van hare oor jou nek
en die nek buig plegtig in wording tot ineen-
storting, [...]
Veral in die frase “wording tot ineen- / storting” word spanning geskep deur die aanvanklike “wording tot ineen” wat ’n eenwording of volmaaktheid oproep, gevolg deur die res van die woord “storting” wat dadelik die teenoorgestelde betekenis van ’n ongedaanmaking oproep.
Gibson voer ook ’n interessante spel met die kombinasies van woorde, een van die kenmerke wat Deleuze uitlig in die stottering van taal en wat bydra tot die vreemdmaking van skynbaar bekende woorde. Vergelyk die volgende twee voorbeelde: “[...] weke se / werk verwerk en geld vergeld [...]” (uit die gedig “laaste, herinnering aan ma daar”, 19, reëls 19–20); asook “teen die kant van die vry– / staat staat die voetheuwels van die maluti’s wat” (uit “teen die kant van die vry–”, 23, reëls 1–2). Herhalings en rangskikkings van soortgelyke woorddele het die effek dat hierdie woorde opnuut oorweeg moet word, in meer as net die alledaagse sin daarvan. In die gedig “die vry–” word die woord eers op die volgende reël voltooi: “die vry– / staat het ’n horison / waarvoor ek oor die stoep kan kyk” (9, reëls 1–3). Dieselfde tegniek word herhaal in “ons het half in die middel”: “ons het half in die middel van die vry– / staat gebly [...]” (13, reëls 1–2) en “die laaste keer dat my swaer piet”: “[...] my nuttelose dreiging om hom vry– / staat toe te nooi [...]” (14, reëls 7–8), laastens ook in “teen die kant van die vry–”: “teen die kant van die vry– / staat staat die voetheuwels van die maluti’s” (23, reëls 1–2). “In die middel van die vry– / staat” roep ook die konnotasies van Deleuze en Guattari se milieu op en lê klem op die verhouding tussen die spreker en sy omgewing: hy is “midde-in” die milieu van die Vrystaat.
Die tweede wyse waarop taalstottering geskied, volgens Hardcastle Jones (2013:25), is die deterritorialisering van taal deur middel van vluglyne, oftewel “carrying language off on a line of becoming”: “Deleuze calls this second movement the process of ‘deterritorialization’: a procedure of taking everyday concepts, thoughts, bodies, and languages, and putting them to new uses” (2013:44). Hier vind stottering op die linguistiese vlak plaas deur ’n spel wat die plastisiteit van sintaksis beklemtoon (2013:62). Hardcastle Jones (2013:48) skryf:
In “He stuttered”, Deleuze gives a few examples of writers who fiddle with syntax in order to deterritorialize language – to make it stutter. These writers insert repetition, digressions and “zones of vibration” into their texts [...]. Repetition of syllables, for example, makes a word disjointed and decomposed. Digression (understood as starting to say one word but switching to another) points to an open-endedness of meaning and a stopping-and-starting. Repetition and digression overlap with [...] choices and combinables, respectively. Repetition is a response to not choosing the “right” word, once and for all. Digression embodies the non-progressive flow of language as a system in disequilibrium, where meaning and sense are subject to continuous variation.
Op sintaktiese vlak kom daar stottering in die bundel voor wat op soortgelyke manier as met die ontbinding van taal veelvoudige betekenisse tot gevolg het. In “anderkant die wilgerbome by die spruit” (48, reëls 1–7) byvoorbeeld is daar ’n verbuiging van die sintaksis wat óf “asof stukkies glas / en die omliggende rante buig/ onder die gewig van sonsondergange en gras” beteken, óf “die / dun oë van bleshoenders ruig/ asof stukkies glas”, en dan buig “die omliggende rante onder die gewig” – daar is onopklaarbare dubbelsinnigheid as gevolg van die spel met sintaksis:
anderkant die wilgerbome by die spruit rits die
dun oë van bleshoenders ruig/ asof stukkies glas
en die omliggende rante buig/ onder die gewig van
sonsondergange en gras; riete staan blond
om die kop van die aarde elke individuele spriet
’n vals skaduwee/ langs verweerde hekpale
word erosieslote bestendig [...]
Dieselfde veelvoudigheid kom in “net na sononder kom die bevel” (57, reëls 1–5) voor:
net na sononder kom die bevel bresler’s flat
te verlaat om sonder ’n gids na die volgende
in die donker teen doringdrade vas en die reun stuit
die regte pad teen hoë koppie uit/ die stilte
van oorloë laat vlamme oor die klipperige grond
Die reëls kan óf lees “die reun stuit / die regte pad teen hoë koppie uit / die stilte” en dan “van oorloë laat vlamme oor die klipperige grond...” as ’n volgende frase, óf “die stilte / van oorloë laat vlamme oor die klipperige grond ...”Behalwe die blote veelvoudigheid word daar ook soms ’n spanning deur middel van hierdie veelvoudigheid geskep, soos in “en toe jou pa dood” (68, reëls 1–2). Die eerste twee reëls lui soos volg: “en toe jou pa dood die boom voor die venster roer- /loos teen dagbreek verset daar buite [...]”. Die spanning wat tussen die boom wat eers lewendig “roer” en onmiddellik daarna “roerloos” verklaar word, dra by tot die suggestie van die skynbaar skielike en onverwagse dood van die geliefde se pa.
Sintaktiese weglatings dra weer by tot die elliptiese aard van die verse, soos in “in negentienseweensewentig stap ons” (17):
in negentienseweensewentig stap ons soos
kiewiete by hulle huis in kom nou
sê die gange ’n vreemde reuk
pa lyk anders as myne maak gou sê
oorbekend [...]
[...]
bestier ’n massey ferguson
deur die grensdraad
die stukkende sparre terwille beste tyd van.
Die leser is genoop om die slotreël, “die stukkende sparre terwille beste tyd van”, self uit te pluis. ’n Moontlike interpretasie is dat dit ten spyte van die ongeluk met die trekker die beste tyd van die spreker se lewe was, omdat hulle vermoedelik as stout kinders die trekker se sleutel gesteel het en in die grensdraad vasgery het.
Die sintaksis word ook verbuig in “laaste, herinnering aan ma daar” (19–20, reëls 3–7):
[...] by
vensters uit leuen marquard winburg al
die pad deur droogte na die wind dat droom ek
haar sien net sy en een miljoen in woorde
wat vlees geword het [...]
Veral die vreemde konstruksie van “dat droom ek / haar sien net sy en een miljoen in woorde / wat vlees geword het” roep die soms onlogiese verloop van drome op. Later in die gedig (reëls 32–4)
[...] het die telefoon diep in die
graf van die slapende plaashuis gelui
ek het jou sê sy ek het nie.
Die slotreël is uitdagend, omdat dit nie net weersprekend is nie – “ek het jou [...] ek het nie” – maar boonop sintakties onvolledig is. Dit verwys egter terug na vroeër in die gedig, na
[...] daai jaar
toe ek lokvalle moes bou omdat ma in plattelandse skemer
begin sing het, en haar drie maal hoor vlug
by my verby [...] (reëls 20–3)
wat moontlik ’n agteruitgang by die spreker se ma suggereer en wat lig werp op die vreemde konstruksie van die slotreël. Die spreker se ma was dalk nie meer in staat om logiese uitings te maak nie en dit word dan verder beklemtoon deur die assosiatiewe gang van drome en in hierdie geval die spreker se droom van sy ma.
Die deterritorialisering van die standaardtaal vind deur middel van verskeie vluglyne in die bundel plaas, soos onder meer die ontbinding van taal, die verbuiging van sintaksis, elliptiese reëls en veelvoudige betekenisse. Die deterritorialisering van taal kan dus as simptoom van die deterritorialisering van die subjek gesien word. Met ander woorde, die aanwending van taal in die bundel weerspieël die nomadiese subjektiwiteit se voortdurende deterritorialisering. Voordat daar in die taalgebruik tuisgegaan word, word dit opnuut onderbreek en verbuig, oftewel gedeterritorialiseer.
4.1 Risoom
Deleuze stel die risoom teenoor die boomvormige struktuur ten einde die gevestigde, lineêre denkpatrone uit te daag en om ’n meer kreatiewe en dinamiese denkwyse daar te stel (Stagoll 2005:13).
Dit is nuttig om eers die boomstruktuur te beskryf voordat die risoom as teenhanger ondersoek word. Die boomstruktuur behels dat daar ’n onveranderlike begrip of idee heel boaan die struktuur is. Alle ander begrippe word vertikaal onder hiérdie ordeningsprinsipe gerangskik in die vorm van die boom, die stam en die wortels. Stagoll (2005:13) beskryf dit soos volg: “The ordering is strictly hierarchical, from superior to subordinate, or transcendent to particular, such that the individual or particular element is conceived as less important, powerful, productive, creative or interesting than the transcendent.” Sodra die ondergeskikte elemente in só ’n boomstruktuur gerangskik is, is dit nie moontlik vir hierdie elemente om in horisontale verbindings te tree met ander elemente nie – hierdie vertikale, hiërargiese posisies is finaal en onveranderlik. Boonop is die boom ’n selfstandige, geslote sisteem wat bloot gelyk is aan die som van die dele daarvan; dit is niks meer of minder as die bepaalde verbindings tussen die dele van die boom nie. Stagoll (2005:14) verduidelik dat “the tree is ‘fixed to the spot’ and static. Any remaining movement is minimal and internal to the system rather than exploratory or connective.”
In die inleiding van A thousand plateaus verduidelik Deleuze en Guattari (1987) die model van die risoom as ’n antihiërargiese organisasie van kennis en erkenning van aansluitings en verhoudings tussen oënskynlik uiteenlopende idees en objekte. Botanies gesproke is ’n risoom ’n netwerk, dikwels ondergronds, wat aseksueel voortplant en geen sentrale punt het nie. Elke deel van die risoom is vrugbaar: Enige deel wat afgebreek word van die res mag dien as ’n nuwe beginpunt – ’n nuwe bron van lewe. Hierdie model van ’n vrugbare, gedesentreerde netwerk wat onderbreek kan word sonder om tot niet te gaan, verteenwoordig die sisteem van verbindings waarna Deleuze en Guattari in hulle werk verwys. Anders as die botaniese risoom, wat deur ’n enigheid van botaniese materiaal gekenmerk word, het Deleuze en Guattari se risoom noodwendig ’n heterogene komposisie – dit bring verskillende soorte materie in produktiewe kontak met mekaar (Newmann 2006:62).
Soos Deleuze en Guattari (1987:20) dit stel, is die risoom “not a question of this or that place on earth, or of a given moment in history, still less of this or that category of thought. It is a question of a model that is perpetually in construction or collapsing, and of a process that is perpetually prolonging itself, breaking off and starting up again.” Teenoor die boomstruktuur stel Deleuze en Guattari dus die risoom. Die begrip verskyn vir die eerste keer in hulle werk oor Kafka, waarin hulle aanvoer dat sy verhaal “The burrow” die nielineêre struktuur van ’n risoom aanneem: “[H]is work lacks the usual linear narrative structure and can be ‘entered’ into at any point to map out connections with other points” (Young e.a. 2013:262). Verder is die inhoud van hierdie verhaal ook tekenend van die risoom, aangesien dit met prosesse te doen het, “whether unending bureaucratic or juridical processes, or those involving becoming-animal” (Young e.a. 2013:262). In A thousand plateaus stel hulle die volgende vyf eienskappe van die risoom: 1) oopheid vir verbindings teenoor geslotenheid; 2) semiotiese verbindings met uiteenlopende liggame (“assemblages”) teenoor die opsigselfstaande (“self-contained”) aard van die boomstruktuur; 3) veelvoudigheid en onbepaaldheid teenoor statiese eenheid; 4) ontwrigting in die struktuur wat lei tot segmentasie en laagvorming; en 5) kartografiese uitbreiding, oftewel die voortdurende skep van nuwe punte op ’n kaart teenoor die blote naspoor van bestaande punte (Deleuze en Guattari 1987:7–13). Volgens Colman (2005:232) is risoom ’n begrip “that ‘maps’ a process of networked, relational and transversal thoughts, and a way of being without ‘tracing’ the construction of that map as a fixed entity”. Die risoom is dus enige netwerk waarin onderskeie elemente in kontak gebring word met mekaar: “Any part within a rhizome may be connected to another part, forming a milieu that is decentred with no distinctive end or entry point” (Colman 2005:232). Verder beklemtoon Colman (2005:233) die risoom as instrument om veelvoudigheid uit te lig:
To think in terms of the rhizome is to reveal the multiple ways that you might approach any thought, activity or concept – what you always bring with you are the many and various ways of entering any body, of assembling thought and action through the world.
Daar is verskeie voorbeelde van gedigte in ’n risomatiese styl in die bundel. Die openingsgedig is ’n versameling van reëls uit die res van die gedigte in die bundel en vorm ’n tipe onkonvensionele inhoudsopgawe. Die hele bundel kan dus gesien word as ’n versameling risoomagtige vertakkings van dié eerste gedig (ongenommerde bladsy, oorspronklike deurstreping):
die vrystaat het ’n horison voor eendag weer ’n see
en alhoeminder aarde wat ouer word in die geheue van
water/ wat voor die rant fonteine bedoel/ en tot stof
jou voete vergader// waar leë parke die slaap
van biblioteke namaak/ tot anderkant die wilgerbome
by die spruit/ waar die hart bedaar en skeibare vulkane tot
niks versaak// die horison lê bedags soos woede voor die deur
soos honde uitgestrek in die tuin/ ’n anderheilige soek na
iets wat water/ onder formele tegniek bedek// die brein
is ’n gedaante wat aspirasies faal/ wat in die styl
van vlakte nie lig in jou oë verbeel nie/ en dus snags
jou slaafsbemin/ die horison van binne af, in
Die openingsgedig bevat verwysings na die volgende titels of reëls in die res van die bundel: “die vry– / staat het ’n horison” (“die vry–”, 9, reëls 1–2), “alhoeminder aarde behou” (“soos niks. onder ’n vlieër”, 46, reël 18), “oud geword geheue” (“oud geword geheue”, 18, reël 1), “my kind wat water was” (“my kind wat water was”, 24, reël 1), “ek stap van die rant af ek soek die fontein” (“ek stap van die rant af ek soek die fontein”, 30, reël 1), “prewel se naam is stof” (“prewel se naam is stof”, 36, reël 1) en verder die titels “al wat oor is in die leë park”, “in my slaap is ek ’n bibliotekaris”, “anderkant die wilgerbome by die spruit”, “...=_gehoor[jou.hart.be(d)aar]”, “verlang na vulkane”, “en hier is nie vallei waarin skeibare waters”, “woede het”, “honde by die agterdeur”, “’n anderheilige drie-eenheid”, “hier was iets meer”, “tipies op water is ’n vlugtige”, “’n formele tegniek in jou gewrigte”, “onder die steriele doeke van jou brein”, “hy het die gewone aspirasies”, “iets hang in jou oë” en “ek;[beminuslaafs]”.
’n Verdere kenmerk van die risoom is die ontwrigting van die lineêre struktuur in ruil vir ’n horisontale of selfs sirkulêre rangskikking. Sirkulêre en herhalende inhoude lê klem op die gedig as proses – dit verloop nie van punt A na punt B in ’n logiese volgorde nie; dit volg ’n stel verbindings wat in alle rigtings geskied en herhaling toelaat. Die eerste en laaste reëls van “steel.[ ’n trekkerbattery om:” (29) is tekenend van só ’n sirkulêre gedagtegang: “steel.[ ’n trekkerbattery om: ’n ou motor aan()die gang te kry / [...] steel.[ ’n trekkerbattery om:” – ook die dubbelpunt aan die einde van die slotreël dui op ’n sirkulêre voortsetting wat die leser terugstuur na die eerste reël om die hele gedig weer oor te lees. Ook “wanneer jy jou naels en” (76) verloop op só ’n herhalende, risoomagtige wyse:
wanneer jy jou naels en iets soet genoeg
om tande te beseer wanneer jy die lippe byt wanneer
jy ophou beur gedagtes soos whippets
[...]
[...] dinge in die
pos onoopgemaak wanneer jy jou jy
sal stop wanneer hou jou asem op
[...]
wanneer jy jou naels en iets soet genoeg
om tande te beseer wanneer jy die tong insluk.
In die volgende drie gedigte word ’n risoomstruktuur aangetref in die nielineêre manier waarop ’n aanvanklike vertakking van die risoom deurlopend met verskeie ander punte verbind word. Die gedig verloop dus assosiatief volgens die verskillende aanvullings vir ’n enkele aanknopingspunt, soos “die horison” (9, reëls 4–12) in die eerste voorbeeld:
die horison is ’n verknoopte skoenveter
wat ’n mens deursny met ’n rooi knipmes
die horison is jou tong
die horison staan in die lug voor ’n fluitspeler,
maak jou vir slange bang
die horison is subtiel soos ’n sweempie
[...]
die horison lê soos ’n gevalle mas
Dieselfde struktuur blyk uit “soos niks. onder ’n vlieër” (46), waarin “die wind” as soortgelyke aanknopingspunt optree:
soos niks. onder ’n vlieër is die wind van
liefde ’n hinderlaag wat na onweer kom
en die wind gaan oor
die stof [...]
[...]
[...]/ die wind is die
verduideliking van dromige hallusinasies
[...]
[...]/ die wind
gaan oor in vlaktes in
my slaap die wind waai oor die
blare van ’n graswoud [...]
[...]
dan kom die wind, die gras, en heilig: die niks.
Die slotreël is dubbelsinnig en kan gelees word in die sin dat “die niks” heilig is, of dat die mens en die wind en die gras die niks “heilig”, oftewel, die niks heilig maak, met hulle aanwesigheid. Die niks kan moontlik gelees word as dit waarna Spinoza (in Braidotti 2014:169) verwys as “[t]he roar which lies on the other side of silence [...], the raw cosmic energy that lies within, beneath and alongside the subjects and underscores the making of their cultures, civilizations and societies”. Deleuze en Guattari (1987:313) verwys na die chaos waaruit milieus en ritmes gebore word – “die niks” kan dan as hierdie chaos gelees word waaruit die subjek en die montages waarvan hy deel vorm, tot stand kom. Die niks of chaos word dan geheilig deur die subjek as konsistensie.
In die derde voorbeeld is dit “die pad” wat as herhalende element in die risoomagtige gedig optree (50):
jy het min tyd ’n pad te beskryf dan
word dit iemand anders se pad
en sal die pad verdwyn. langs die pad staan
’n koord van voëls op telefoondrade
[...]
die gaping tussen die voetsool en die pad soos
die gaping tussen tande en die stil
tong. kom jy by ’n kruising in die pad nes
the road less travelled twyfel-
agtig die verskil.
Die inhoud van die gedig weerspieël ook die onophoudelike beweging van die nomadiese subjek. Soos wat Rajchman (2000:22) dit beskryf: “As one thus passes from one zone or ‘plateau’ to another and back again, one thus has nothing of the sense of a well-planned itinerary; on the contrary, one is taken on a sort of conceptual trip for which there preexists no map [...] and never be quite sure where one will land.” Die “pad” na subjektiwiteit is onvoorspelbaar: “jy het min tyd ’n pad te beskryf dan / word dit iemand anders se pad / en sal die pad verdwyn” (reëls 1–3). Verder verwys die “kruising in die pad” en “the road less travelled” juis na die vluglyne deur middel waarvan die nomadiese subjek voortdurend deterritorialiseer. Die veilige territorium word agtergelaat om die subjek bloot te stel aan nuwe verbindings en om ’n nuwe konsistensie te vorm – daarom “the road less travelled” teenoor die pad wat aan die subjek bekend is.
Soortgelyk aan die openingsgedig is daar ook sommige gedigte wat deur middel van ’n reeks semiotiese vertakkings verloop, soos “wie is die stil kind” (53), waarin elke reël die assosiatiewe kiem vir die daaropvolgende reël lewer om ’n reeks semiotiese vertakkings uit te maak:
wie is die stil kind? die stil kind is ’n dwaling in die woestyn
wat is die woestyn? die woestyn is ’n ander weergawe van die see
waarvandaan kom die see? die see is van die toekoms vergeet
wat vergeet die toekoms? dit vergeet die wit van wolke
[...]
wat is troos van hande? troos van hande besweer die angs
wat besweer die angs? die kwelling wind besweer die angs
wat is kwelling wind? die kwelling wind is stilte in die kind.
4.2 Gevolgtrekking
Die risoomstruktuur toon ooreenkomste met die struktuur van nomadiese subjektiwiteit, omdat albei klem op kombinasies en verbindings lê. Behalwe die opvallende risoommatige struktuur van sommige gedigte is daar ook bewyse van inhoudelike risoommatigheid. Soos uit die eerste afdeling blyk, kom die prosesse van territorialisering en deterritorialisering by die subjek sterk aan bod in die gedigte. Die uitbeelding van hierdie prosesse is kenmerkend van die risoomstruktuur wat klem op beweging en opeenvolging lê – die gedig as uitbeelding van ’n proses is ’n risoom, teenoor ’n gedig as uitbeelding van ’n statiese eenheid of eindproduk.
5. Ten slotte
In hierdie artikel is daar gefokus op die wyse waarop Gilbert Gibson se vyfde digbundel, Vry– (2015), aansluit by Deleuze en Guattari se poststrukturalistiese benadering tot taal. Eerstens is Deleuze en Guattari se teorie binne die poststrukturalistiese beweging, as reaksie op Saussure se strukturalistiese benadering, gekontekstualiseer. Teenoor hiërargiese strukturering en ontledings van tekste word ’n alternatiewe oriëntasie ingeneem wat onbepaaldheid en onvoorspelbaarheid in berekening bring. Verskeie resensente is dit eens dat voorwaardelikheid en onvoltooidheid kenmerkend van Gibson se poësie is. Die navorsingsvraag wat dus gestel word, is of Deleuze en Guattari se benadering ’n suksesvolle leesstrategie vir die bundel kan uitmaak. Dié benadering is op sowel vormlike as inhoudelike vlakke toegepas. Wat die inhoud betref, is die begrip territoriumskepping van Deleuze en Guattari, met verwysing na Von Uexküll se oorspronklike invloed, as instrument ingespan om die uitbeelding van die spreker-subjek in die bundel te ondersoek. Die spreker is vergelyk met Braidotti asook Deleuze en Guattari se begrip van ’n nomadiese subjek. Dit blyk dat die verhouding tussen die spreker, sy landskap en sy tuiste in die bundel beklemtoon word en dat daar wel sprake van territoriumskepping by hom is. Daar is egter ook sprake van ’n begeerte na ontvlugting van hierdie bekende omgewing en patrone by die spreker en daarom is die begrip refrein ook betrek om verder lig te werp op die voortdurende proses van tuisteskepping deur middel van bekende patrone en gewoontes, asook periodiese deterritorialisering en ’n oopmaak vir nuwe rangskikkings en verhoudings met die buitewêreld.
Inhoudelik is die bundel aan die hand van Deleuze en Guattari se begrippe risoom en taalstottering bespreek. Met die uitsondering van enkele gedigte blyk die bundel in sigself ’n risoomagtige vorm aan te neem wat afsien van lineêre strukturering en klem op ’n horisontale, assosiatiewe struktuur lê. Met betrekking tot taalstottering is sowel Deleuze se seminale essay “He stuttered” as Hardcastle Jones se behandeling van Deleuze se teks en Stevenson en O’Sullivan se konseptualisering van taalstottering bespreek. Twee tipes taalstottering is in Gibson se bundel geïdentifiseer, naamlik ontbinding van die taalsisteem, wat te make het met bepaalde keuses en rangskikkings deur die digter, en deterritorialisering deur middel van vluglyne, wat onder meer die verbuiging en onvolledige sintaksis in die verse in berekening bring.
Die territoriumskepping en deterritorialisering wat uit die inhoud van die bundel blyk, dui daarop dat ’n nomadiese subjek aan die woord is – ’n subjek wat oprys uit veelvoudige komponente en voortdurende wordings ondergaan. Die risoomagtige en gedeterritorialiseerde aanwending van taal in die bundel is daarom nóg ’n teken dat daar ’n nomadiese spreker-subjek aan die woord is, omdat die gedigte op vormlike vlak dieselfde prosesse ondergaan as wat inhoudelik deur die spreker beskryf word. In hierdie bundel is die deterritorialisering van taal ’n vormlike uitdrukking van die inhoudelike deterritorialisering van die subjek.
Bibliografie
Agamben, G. 2004. The open: man and animal. Stanford: Stanford University Press.
Anker, W.P.P. 2007. Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach. Doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Barendse, J. 2016. Die “grense van menswees” en insekwording in Willem Anker se Samsa-masjien (2015). LitNet Akademies, 13(3):1–25. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2016/12/LitNet_Akademies_13-3_Barendse_1-25.pdf.
Bonta, M. en J. Protevi. 2004. Deleuze and geophilosophy. A guide and glossary. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Boundas, C.V. en D. Olkowski (reds.). 1994. Gilles Deleuze and the theatre of philosophy. New York: Routledge.
Braidotti, R. 2014. Writing as a nomadic subject. Comparative Critical Studies, 11(2–3):163–84.
Breytenbach, B. 2001. Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte (1964–1975). Kaapstad: Human & Rousseau.
Coetzee, E. 2020. Wildheid, mens-dier-figure en ander grensbewoners in Willem Anker se Buys (2014): Die affektiewe uitwerking van die nomadiese subjek op die leser. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Colman, F.J. 2005. Rhizome. In Parr (red.) 2005:231–3.
Deleuze, G. 1977. Negotiations. Vertaal deur M. Joughin. New York: Columbia University Press.
—. 1994. He stuttered. In Boundas en Olkowski (reds.) 1994:23–30.
Deleuze, G. en F. Guattari. 1983. Anti-Oedipus. Vertaal deur R. Hurley, M. Seem en H.R. Lane. Minneapolis: University of Minnesota Press.
—. 1987. A thousand plateaus. Vertaal deur B. Massumi. Minneapolis: University of Minnesota Press.
Eagleton, T. 1996. Literary theory: an introduction. Minnesota: University of Minnesota Press.
Gibson, G. 2013. Gilbert Gibson in gesprek met Amanda Lourens oor sy nuutste digbundel, [vii]. Versindaba. https://versindaba.co.za/2013/03/11/onderhoud-met-gilbert-gibson (9 November 2022 geraadpleeg).
—. 2015. Vry–. Kaapstad: Human & Rousseau.
Goodchild, P. 1996. Deleuze and Guattari. An introduction to the politics of desire. Londen: Sage Publications.
Guattari, F. 2011. The machinic unconscious. Essays in schizoanalysis. Vertaal deur T. Adkins. Los Angeles: Semiotext.
Hambidge, J. 2015. Gilbert Gibson. Vry– (2015). Woorde wat weeg. https://joanhambidge.blogspot.com/2015/08/gilbert-gibson-vry-2015.html (9 November 2022 geraadpleeg).
Hardcastle Jones, K. 2013. Deleuze’s “stuttering”: decomposition, deterritorialization, and pushing language to its limit. https://kellyhjones.files.wordpress.com/2014/03/deleuzes-stuttering.pdf.
Janz, B.B. 2001. The territory is not the map. Place, Deleuze and Guattari, and African philosophy. Philosophy Today, Winteruitgawe, ble. 392–405.
Lourens, A. 2013. Die moontlikhede van Julia Kristeva se revolusionêre poëtiese taal: ’n ondersoek na ’n leesstrategie vir Gilbert Gibson se hermetiese poësie in [vii]. Stilet, 25(2):1–28.
Mambrol, N. 2016. Deconstruction. Literary theory and criticism. https://literariness.org/2016/03/22/deconstruction (9 November 2022 geraadpleeg).
Massumi, B. 1987. Translator’s foreword. In Deleuze en Guattari 1987:ix–xv.
Newmann, A. 2006. Paterson: Poem as rhizome. William Carlos Williams Review, 26(1):51–73.
Odendaal, B. 2015. Resensie: Vry– (Gilbert Gibson). Versindaba. https://versindaba.co.za/2015/08/18/resensie-vry-gilbert-gibson (9 November 2022 geraadpleeg).
O’Sullivan, S. 2009. From stuttering and stammering to the diagram: Deleuze, Bacon and contemporary art practice. Deleuze Studies, 3(2):247–58.
Parr, A. (red.). 2005. The Deleuze dictionary. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Rajchman, J. 2000. The Deleuze connections. Cambridge: The MIT Press.
Schippers, B. 2011. Julia Kristeva and feminist thought. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Sellars, J. 1999. The point of view of the cosmos: Deleuze, Romanticism, Stoicism. The Warwick Journal of Philosophy, 8:1–24.
Smith, D. en J. Protevi. 2020. Gilles Deleuze. In Zalta (red.) 2020.
Stagoll, C. 2005. Arborescent schema. In Parr (red.) 2005:13–4.
Stander, A.S. 2012. Taal wat stamel, stotter en struikel: Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper (2010) as mineurletterkunde. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Stevenson, F. 2009. Stretching language to its limit: Deleuze and the problem of poiesis. Concentric: Literary and Cultural Studies, 35(1):77–108.
Terblanche, E. 2018. Gilbert Gibson (1963–). ATKV|LitNet-Skrywersalbum. https://www.litnet.co.za/gilbert-gibson-1963 (9 November 2022 geraadpleeg).
Visagie, A.G. 2009. Van opstopper-gedigte tot muurpapierverse. Andries Visagie in gesprek met Louis Esterhuizen. Versindaba. https://versindaba.co.za/tag/verhalende-verse (9 November 2022 geraadpleeg).
Von Uexküll, J. 2010. A foray into the worlds of animals and humans: with a theory of meaning. Vertaal deur J.D. O’Neil. Minnesota: University of Minnesota.
West, D. 2007. An introduction to continental philosophy. Cambridge: Polity Press.
Young, E.B., G. Genoska en J. Watson. 2013. The Deleuze and Guattari dictionary. Londen: Bloomsbury.
Zalta, E.N. (red.). 2020. The Stanford encyclopedia of philosophy. https://plato.stanford.edu/entries/deleuze (9 November 2022 geraadpleeg).
Eindnota
1 Die nommers by aanhalings uit die gedigte verwys na die bladsynommers in die gedrukte boek.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.

