Gilbert Gibson (1963–)

  • 0

Gebore en getoë

Gilbert John Gibson is in 1963 op ’n plaas naby Marquard in die Oos-Vrystaat gebore en het daar grootgeword. Sy ouers is William Francis Parker (Willie) Gibson en Catharina Maria (Rina) Thalwitzer en hy het drie susters wat baie ouer is as hy.

Sy pa het moeite gedoen om die jong Gilbert te stimuleer. Toe Gilbert in standerd 4 (graad 6) was, het sy pa agtergekom dat hy van gedigte hou. Hy het bundels van Marlene van Niekerk en Antjie Krog deur die pos bestel. Toe die bundels opgedaag het, het hy die jong Gilbert uit die Kinderkrans geroep om dit vir hom te gee.

Sy eerste verse is reeds toe hy nog ’n skoolkind was, in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer.

Gilbert het baie godsdienstig grootgeword en saans het hy, sy pa en sy ma gesing en huisgodsdiens gedoen. Hy het dus ’n ingebore sin vir religie – die Bybelse inhoud is steeds vir hom ’n verwysing en die ritme en rites word in sy gedigte opgevang.

Die jong Gilbert het by sy ouers, veral by sy pa, ’n liefde vir lees aangeleer, vertel hy aan Adéle Dempers (Volksblad, 25 Januarie 2010). "Ek was nie gek na skool nie, maar het in boeke, in die woord, ingevlug."

In sy latere spreekkamer se wagkamer is daar ’n kitaar en Gilbert vertel aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 7 Julie 2016) dat hy 15 jaar se formele klassieke musiek se opleiding gehad het. "Op Marquard was ’n buitengewoon begaafde musiekonderwyser, Christo Oberholzer, wat my my stuurs soeke na wat ek gedink het jazz was, laat begaan het. Hy het my geleer hoe om te luister, en dat ritme die eerste was van alle musiek. Ek het baie lank daarna besef ritme was die eerste ook van alle woorde."

Verdere studie en werk

Gilbert studeer medies aan die Universiteit van die Vrystaat, waar hy in 1988 die MBChB-graad behaal. In 1989 is hy mediese offisier (tweede luitenant) by die Suid-Afrikaanse Weermag in Pretoria. Tussen 1990 en 1994 is hy kliniese assistent by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Hierna spesialiseer hy in die interne geneeskunde en verwerf die MMed-graad in 1994. Hy praktiseer as internis in Bloemfontein.

Hy neem gereeld deel aan openbare voorlesings van sy gedigte by geleenthede soos die Volksblad-Kunstefees in Bloemfontein en Versindaba in Stellenbosch. By geleentheid is hy ook inwonende skrywer vir Sanlam/LitNet se aanlyn skryfskole, waar gevestigde skrywers ander in die kuns van skryf begelei en oplei.

Sy pa se oupagrootjie, dr James Gibson van Winburg, was van die eerste artse op die Vrystaatse platteland. Om dokter te wees is dus in sy bloed, hoewel hy glo "dokters het nie ’n goeie reputasie met letterkunde nie”, aangesien ’n mens nederig moet wees om te skryf en dokters “in beginsel slimmig, beterweterig, kompleks” is. (Volksblad, 13 Julie 2005)

Gilbert is getroud met Emsie en hulle het ’n seuntjie Francis.

In sy spreekkamer hang ’n foto van sy oupa, ook Gilbert John Gibson. Gilbert vertel aan Charles Smith dat hy oor hierdie oupa van hom droom. Die plaas se naam is Wormwood en die foto is daar geneem. "Ek verbeel my as ek my oupa vergeet, sal hy doodgaan. Ook my pa, om hom nie te vergeet nie."

Hy was lanklaas op die plaas by Marquard – sy oupa en sy pa is reeds oorlede en sy ma het weggetrek – en die Vrystaatse slagvelde, wat baie van die gedigte in sy eerste bundel, Boomplaats (Tafelberg, 2005) se titels is, is metafore wat hy inspan. "Dit skep ’n soort bril, soos Johann Lodewyk Marais wat by Vrede/Harrismith op ’n plaas grootgeword het. Ek het ook so ’n soort bril op. Ek kyk na die wêreld en is bewus van ’n aanhoudende tekort aan reën, die stowwe wat jou wegwaai ... bankrotskap."

Hy is ook baie bewus van die “swarigheid” van die verlede: “Die landelike geskiedenis van die Vrystaat is ’n swaar geskiedenis. Dit is soos die Duitsers, almal het ’n verwysing na ’n oupa of ouma in die konsentrasiekamp.

"Die grond het daardie goed vasgelê, dink ek," sê Gilbert aan Charles Smith in Volksblad van 13 Julie 2005. "Al daai plekname en goed wat ons so ligtelik gebruik, soos Sannaspos, die veldslae, plekname in die Vrystaat, daai plekke verteenwoordig elke geslag. Dit gaan natuurlik nou verlore, maar daai bril is ’n bril wat jy opsit."

Gilbert se voorgeslagte is nou verweef met die geskiedenis. Sy pa se oupa, William Francis Parker Gibson, was die eerste blanke wat by die Slag van Ladysmith verwond is. Daarna is hy na die konsentrasiekamp by Winburg, waar hy dood is. Frederik Schnehage, James Gibson se skoonpa, was by Boomplaats betrokke. Hy is ná die Slag van Boomplaats ter dood veroordeel omdat hy op sir Harry Smith geskiet het. Boomplaats is ook “die plek van die bome”. In die Bybel was Golgota die plek van die bome en in die ou Engelse Bybel praat hulle van die kruis as ’n boom. “Die gedig is tekenend van my storie, van jou vervaging van self, die liefde in God, die hunker na dit wat die woord nie kan sê nie. (...)

"Dit is vir my belangrik om te onthou, want ek dra so bietjie ’n vlag. Ek verteenwoordig – omdat ek so ’n bietjie skryf – goed wat die pa's, oupas en oupagrootjies en hul vrouens en aangeteeldes dalk wou sê, maar nie kon of kan sê nie. ’n Mens is ook maar verweef met dit wat jy is; dis die Darwinistiese beginsel wat sê jy en die universe en die liefde is mos een, jy word een. Die grense vervaag. Dit is hoekom daardie herinneringe belangrik is."

In Boomplaats kom die veldslae in die Boereoorloë kort-kort as titels ter sprake. Hieroor verduidelik hy aan Charles Smith: "Die veldslag, die battle, is nooit-nooit verby nie. Jy kan miskien enkele veldslae wen, maar die groot oorlog duur vir altyd. Dit is waar in verhoudings en dit is waar in die geliefdste van die geliefdes vir jouself, met jou vrou, met jou eie kind word dit geveg. Sensitiewe mans belewe dit altyd met hulle pa's soos hulle ouer word. Dit is die grootste veldslag vir my.

"In Suid-Afrika het ons ook ’n mooi krygsgeskiedenis. As jy skryf, moet jy ’n vertrekpunt hê, want die organiese aard van die gedig is eintlik so dat die gedig self daar is voordat jy reg is vir hom. Dis nou wat ek sien. Jy kry ’n metafoor wat vir die leser iets gaan beteken.

As volwassene debuteer Gilbert met 12 verse in Nuwe stemme 2 en hierdie 12 verse is dan ook opgeneem in Boomplaats. Vir Andries Visagie het dit opgeval dat die nuwe gedigte in die bundel baie beter is as die verse waarmee Gibson in Nuwe stemme 2 gedebuteer het.

Visagie skryf verder (Beeld, 12 September 2005): "Soos die titel van die bundel suggereer, is die historiese stryd tussen Boer en Brit een van die belangrikste bronne waaruit die digter inspirasie put. In 1848 het sir Harry Smith by die Slag van Boomplaats ’n Boeremag onder leiding van Andries Pretorius verslaan in ’n veldtog om die Britse gesag oor die Vrystaat te herstel.

"In Gibson se bundel is daar ’n sterk bewussyn van die oorlogsgeweld en -verlies wat in die verlede die Vrystaters in beroering gebring het. Die digter het klaarblyklik ’n behoefte daaraan om die oorlogsgegewe te skakel met sy eie leefwêreld."

In Tydskrif vir Letterkunde van 2006 skryf Zandra Bezuidenhout: "Die tekste is gelaai en evokatief, goed gekomponeer, met pragtige kadanse. Dit is oorspronklik, verfrissend en ’n genot om te lees, en tegelyk afstandelik en diep betrokke. Hierdie fyn balans, tesame met die slaankrag van delikate metafore en die dikwels inkanterende werking van klein herhalingseffekte, is van die elemente wat van Boomplaats ’n dankbare aanwins vir die Afrikaanse digkuns maak, ook die jongeres gaan aanspreek, en veel goeds vir die toekoms voorspel."

George Weideman het in Taalgenoot (April 2006) Boomplaats as ’n "voortreflike debuut" beskryf, en in Volksblad (11 Julie 2005) sluit Bernard Odendaal sy resensie as volg af: "Boomplaats is nogtans ’n stewige debuut wat ’n klomp treffende gedigte bevat. Dit laat mens uitsien na die verdere ontginning en verfyning van die verskunssoort wat Gibson gekies het."

In 2005 ontvang Gibson met Boomplaats die Protea-prys vir die beste digbundel wat in 2005 verskyn het. Boomplaats was ook op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

Oor die Protea-prys het Gilbert gesê: "Ek voel, veral as iemand wat nie voete midde-in die letterkunde staan nie, maar in die wetenskap, bly en dankbaar oor die toekenning. Ook des te meer omdat daar wonderlike bundels die afgelope tyd in Suid-Afrika verskyn het, soos Izak de Villiers se Jerusalem tot Johannesburg, Charl-Pierre Naudé se In die geheim van die dag en Rustum Kozain se This carting life" (Volksblad, 14 September 2006).

In 2007 verskyn Kaplyn, wat volgens hom baie moeiliker ontstaan het as sy eerste bundel.

’n Tweede boek is iets waarna almal uitsien, veral as die eerste een so goed ontvang is soos Boomplaats. Gilbert het volgens alle besprekings die spook van die tweede bundel bygelê.

Louise Viljoen skryf in Rapport van 26 Augustus 2007 oor Boomplaats dat dit "sterk en energiek" was en dat dit veral gefokus het op die Anglo-Boereoorlog, die hunkering na die geborge bestaan op die plaas, die ouer Afrikaanse letterkunde en die Bybel. In Kaplyn, skryf sy, onderbeklemtoon Gibson hierdie gegewens in ’n groot mate "sodat ’n mens die indruk kry dat hy sommige resensente se opmerkings hieroor ter harte geneem het. Ook die mediese terminologie wat sy debuut so verfrissend gemaak het, word nou spaarsamiger gebruik.

"Die titel van die bundel adem egter steeds iets van die geur van oorlog en gevaar. Die term [kaplyn] word in die woordelys agter in die bundel verklaar as '’n skoon stuk grond tussen twee vegtende lande, spesifiek met die intensie om spore wat die kaplyn kruis op patrollie raak te sien'. (...) Die sfeer van stryd word ook deurgedra tot in die spreker in hierdie gedigte se innerlike lewe, sy ervaring van die liefde en sy belewenis van die alledaagse om hom. Hierdeur ontstaan ’n soort spanning en afwagting in byna elkeen van die verse wat ondersteun word deur die spankrag tussen die verskillende bou-elemente van die gedig."

Viljoen sluit haar resensie af met: "Hoewel daar vir my gevoel in enkele van die gedigte sprake is van ’n onnodige obskuriteit, het die beste ’n lieflike klaarheid in die sin dat hulle helder én afgerond is. Gibson se tweede bundel is in alle opsigte ’n waardige opvolger van sy verrassende debuut."

Joan Hambidge skryf in Volksblad (16 Julie 2007) dat Kaplyn besonderse digkuns is "wat op ’n sobere wyse die wêreld van die mediese wetenskap betrek in verse wat intellektueel en intertekstueel werk. Maar ágter die sobere verse is daar hewige emosie, verlies en pyn sigbaar. (...) Dit is ’n komplekse bundel met ingewikkelde verwysings en verswygings en met elke lees word nuwe verbintenisse tussen verse getrek. (...) Dit is egter nie ’n toeganklike bundel met altyd maklik of toeganklike verse nie. Die gedigte is ingewikkeld en word met elke lees ’n komplekse refleksie op die digterskap. Dit verdien om gelees te word."

In Tydskrif vir Letterkunde (2007) beskryf Zandra Bezuidenhout die verse in Kaplyn as "gestroop, snydend en kompak, maar nie sonder gevoelskrag nie, want die emosie bult uit deur onderbeklemtoning. Suggestie word ondersteun deur klankspel (veral binnerym) en ’n integrering van die taal se natuurlike ritme met die gestileerdheid van die teks. Verrassende kadanse, enjambering en ’n minimale gebruik van leestekens bevorder die vloei van die gedig en verleen daaraan ’n musikale allure wat illustreer hoe eietydse poësie met ’n sterk intellektuele onderbou ook esteties kan bevredig. (...) Kaplyn is ’n hooggestemde bundel; ’n 'donker teks' (81) van (en oor) immer-ontwykende betekenis. Dit vra van lesers om die kaplyn van die poëtiese terrein te fynkam."

Gibson se derde bundel in vier jaar is getiteld Oogensiklopedie en word in 2009 gepubliseer. Vir Fanie Olivier (Die Burger, 29 Maart 2010) sit hierdie bundel Gibson se besonderse soort poësie voort. "Baie word van die leser verwag, maar die beloning maak dit die moeite werd. Gibson hervat die tradisie van die natuurwetenskapsdigters in Afrikaans, soms professioneel soos Casper Schmidt en Phil du Plessis, en soms uit ’n gekweekte belangstelling soos Ina Rousseau en Johann Lodewyk Marais.

"Maar hy gaan op ’n komplekser vlak daarmee om, en daarom word sy bundels deur die verwysings en woordverklarings gekenmerk. Die bundel se voorblad maan daarom ook die lesers: laat vaar alle idees van gemak, julle wat hier binnegaan. (...)

"Dit is ’n lywige bundel – 82 gedigte, party met heelwat onderafdelings. Die ordening van die gedigte is totaal anders as wat ’n mens sou verwag: alfabeties volgens titel – in ooreenstemming dus met ’n woordeboek of elementêre ensiklopedie. Tematies is die ordening dus lukraak en dit is die leser se taak om telkens die (h)oortjie by die klou te bring."

Olivier bemerk ’n verskeidenheid van versvorme en meen dat daar selfs van eksperimentering sprake is wat taal, spelling en vorme betref. Die korter en langer gedigte is hier ter sprake. Woorde word byvoorbeeld aan die einde van reëls afgekap – soms om te rym, maar ook om ander betekenisse by te roep.

"Maar," skryf Olivier, "al dié dinge beteken nie vanselfsprekend dat als geslaagd is nie. Daar is gevalle waar dié tegniese aspekte geforseerd opval en dat funksiewisseling en neologismes wat hiermee saamhang, selfs hinderlik word. Eweneens is die feit dat die oog sonder ophou sien, inneem en sin (probeer) maak, nie altyd suksesvol wanneer dit uitloop op stukke enumerasie nie.

"Ek noem dié voorbehoude slegs omdat oogensiklopedie ’n verbluffende leeservaring is. (...) Diegene wat wyd en veeltalig lees, merk altyd verstom op hoe uitsonderlik die Afrikaanse poësie is as ’n mens die relatiewe [sic] klein aantal lesers in gedagte hou. Met oogensiklopedie bevestig Gibson weer hoe gelukkig ons eintlik is."

In Rapport van 24 Januarie 2010 skryf Louise Viljoen: "Tog, die slotindruk is dat Gibson ’n geraffineerde poësie skryf, en dié bundel is ’n belangrike bydrae tot die veelsoortigheid van die Afrikaanse digkuns. Dit vra om ’n besonder aandagtige lees, en is dus nie vir die haastige leser nie. Op dié wat die geduld het om te lees en te herlees, wag besonderse vondste."

Ook Bernard Odendaal skryf ’n vleiende resensie, in Volksblad (8 Februarie 2010): "’n Uitdagende leeservaring, dié derde bundel van Gibson"; en in Beeld van 29 Maart 2010 skryf Marthinus Beukes: "oogensiklopedie is ’n bevestiging van Gibson se digterskap: slim, berekend, maar ook dikwels ontroerend en deerniswekkend."

Gibson vertel aan Adéle Dempers hoe hy skryf: "Koelbloedig en beredeneerd. Ek beplan ’n gedig en skryf dit per hand in ’n hardebladboek met blokkiespapierblaaie wat ek regop of dwars draai om verskillende visuele beelde van die gedig te kry. Nadat die gedigte geskryf is, tik my ontvangsdame dit en dan begin die beitelwerk aan die gedig, die uitsif van idees, die meet en pas om presies die regte woord te vind."

Vier jaar verloop voordat Gilbert se volgende bundel, [vii], in 2013 by NB Uitgewers uitgegee word. Ingrid Woudstra skryf op LitNet dat die getal 7 ’n heilige getal is wat ’n volmaakte siklus impliseer. "Gibson skryf in [vii] téén die omvatting van vervulling wat die einde beteken of verlies wat juis finaliteit beteken. Verlies van geliefdes en die onvermoë om dit vry te spring, is die hooftema in die bundel. Die digter se verse is 'gebore uit begeerte om die lyn tussen die hier en die onsigbare oor te steek' ('[47]'). Hy skryf tot op die grens van die onbereikbare of onoorbrugbare – hetsy met behulp van taal of deur die gebreke daarvan uit te wys – deur afstand in sy verse in te weef."

Charl-Pierre Naudé is in Volksblad van 23 Maart 2013 baie opgewonde oor [vii]. "In ’n onderhoud op Versindaba verwys Gilbert Gibson na sy gewoonte om skryfbehoeftes bymekaar te maak wat dan vermoedelik instaan vir die skryfdaad.

"Hy bring die begrip 'penumbra' in verband. 'Penumbra' verwys na die ligomlyning rondom ’n vaste sentrum, soos om elke donker wolk ...

"In bostaande paragraaf vind ons twee van die drie vernaamste sleutels tot hierdie digter se werk. Dis ’n digterskap van 'rondom beweeg', van suggestie met die (Derridiaanse) implikasie dat alle betekenis ’n heenwysing is na iets anders (wat miskien verborge bly). (...)

"Die ellips aan die einde van die inleidingsparagraaf bevat die tweede leidraad. Die indrukke in Gibson se 'communiqués' (waaraan die gedigte herinner) is in wese gedeeltelik, of word onderbreek, en die leser moet die ontbrekende invul.

"Die onderwerpe in die verse is die diep persoonlike ervaring, oftewel flarde herinnering en die skerwe pogings tot sinmaking daarvan – en dit raak aan die liefdeslewe, die verhouding met die eie bodem, die huishoudelike manlike sfeer (soos die gereedskapkas), die voorstedelike bestaan en veral die militêre herinnering wat die persoonlike deurweek. Hierdie is politieke verse op hul gans verreikendste – intens persoonlik en oor niks spesifiek polities in die gewone sin van die woord nie (...).

"Die belangrikste (derde) leidraad tot die ontsluiting van Gibson se digkuns is in die aard van die beelding. Dis ’n vorm van elliptiese beelding wat heeltemal sy eie is. Die Amerikaanse kritikus Robert Bly noem sulke beelding 'leaping poetry'.

"Gibson se digkuns is al as 'hermeties' asook 'dig' getipeer, meestal op grond van die bondige sintaktiese aard. Maar sommige prosagedigte (inderdaad praatverse) van Tomas Tranströmer of Ann Carson is ewe 'hermeties' (relatief moeilik ontsluitbaar met baie gelyklopende betekenisse) en dig.

"Die vorm van Gibson se verse – die kort, digte reëls – het min te doen met die relatiewe geslotenheid (met eerste leesopslag) daarvan. Wel speel die verkaptheid van die indrukke ’n rol. Maar die vernaamste indruk vir die hermetiese indruk wat die verse laat, is die wyse van die beeldfunksionering."

Marthinus Beukes is in Rapport van 17 Maart 2013 ewe vleiend. Hy begin sy resensie van [vii] deur te noem dat Gilbert Gibson nie ’n vervelige of voorspelbare digter is nie en dat sy werk na die eerste drie bundels nog altyd verrassend, vernuwend en opwindend is.

"Die Romeinse [vii], eerder as 'Sewe' in die titel, fokus die leser se aandag op numeriese ritmes en volgorde eerder as die singewing van woorde. Die digter se ingesteldheid teenoor woorde se doel om te 'benoem', word so in ’n lig onder druk geplaas. (...)

"Met [vii] verwoord Gibson die gevaarlike, dog kreatiewe spanning tussen volmaaktheid en onvolmaaktheid, verlies en besit, vreugde en verdriet as demonstrasie van ’n 'saamgestelde vlug'. Begrip en troos teen rou wonde is dalk moontlik wanneer die skadulyn tussen mens, God en skepping 'hondgetrou' sigbaar is.

"Hierin slaag Gibson en bewys só dat poësie die kuns is om ’n vers dig te weef – die wesenseienskap van ware digterskap."

Met Vry-, wat in 2015 verskyn het, ontvang Gilbert in 2016 die Elisabeth Eybers-prys vir poësie. Volgens die beoordelaars “konfronteer hierdie bundel die leser met ’n unieke stilistiese wyse waarop temas ontgin word. Hierdeur kom die voorheen bekende Vrystaatse gegewe skielik in ander gedaantes na vore – verryk met ’n verbrokkelende, stamelende broosheid”. Die bundel het meegeding met Daniel Hugo se Takelwerk en Bladspieël van Marlise Joubert.

Oor die prys vertel Gilbert aan Elmari Rautenbach dat sy vrou en kind saam met hom was en hulle was net so verbaas soos hy. "Aandag van buite maak ’n digter eintlik ongemaklik. En in elk geval is so ’n evaluasie maar redelik subjektief – daar is vrek goeie digters in Afrikaans, veral as jy die volume van ons kleinerige letterkunde in ag neem. ’n Boekbekroning gaan eintlik meer om die poësie in die breë – dis ’n erkenning ten eerste aan almal wat gedigte lees en skryf."

Die beoordelaars vir die Elisabeth Eybers-prys het melding gemaak van Gibson se gebruik van leestekens "wat soos selfstandige betekenende elemente (soos 'woorde') ingespan word – ’n skryfstyl wat herinner aan tekengebruik in die digitale omgewing". Rautenbach wou weet hoekom hy so gefassineer is met leestekens. Gibson vertel haar dat dit ook Petra Müller was wat hom attent gemaak het op hoe finaal en watter volledige stop ’n punt is.

"Ek dink leestekens werk vir my soos musieknotasie in gedigte. Spasies. Pouses. Skeppers van verwagting. Uiteraard irriteer dit sekere lesers, soos kritici my tereg al op gewys het, maar in my interne poësie is dit logies dat leestekens, soos gespanne enjambement en interne (ver)wringing van idioom en taal, meganismes is waarmee ek dig – voorwerpe om onderwerpe van te maak."

In 2016 is die Suid-Afrikaanse Letterkunde-prys vir poësie aan Vry- toegeken. Gibson het aan Jo Prins gesê dat die ontvanger nie so belangrik is nie – "solank daar ’n bietjie aandag kom op taal, veral Afrikaans en die kleiner inheemse tale, is dit goed."

In Vry- dig Gibson oor familieverhoudings, die liefde, jeugherinneringe en die Vrystaatse landskap. Die titel verwys na die Vrystaatse ruimte waarin hy grootgeword het en steeds woon, vertel hy aan Maricelle Botha (Bloemfontein Courant, 9 Julie 2015), "maar dit dui ook op die ontglippende aard van betekenis in die alledaagse lewe. Digters skryf gewoonlik maar oor goed wat vir hul bekend is.

"Die Vrystaat is waar ek grootgeword het en is een van die temas in my bundel, maar ek dink dit is maar net ’n metafoor. Ek dink nie dit maak regtig saak wat jy as metafoor gebruik nie. Dit gaan oor hoe die eksterne landskap die mens beïnvloed en hoe die eksterne landskap in die mens geïnternaliseer word en hoe dit jou eintlik verander.

Hy vertel verder aan Botha dat hy ’n gedig baie maal oorskryf. "My persoonlike skryfproses het oor die jare nie werklik verander nie. Ek dink ek raak net meer geslyp. Jy raak mos vaardiger as jy langer met iets omgaan."

Oor sy verbintenis met die Vrystaat en die invloed wat dit op sy vorming gehad het, vertel Gilbert aan Elmari Rautenbach in Die Burger van 7 Julie 2016: "Toe ek nog ’n kind was, het ek baie mense met die aarde sien stoei. Die grond was nie jou vriend nie, maar in koue en ryp, vloede en droogte jou teenstander. Boere was nie dust-whisperers nie. Hulle was in ’n stryd om oorlewing. Die Vrystaat was die geografiese agtergrond hiervoor – en ’n metafoor vir enige plek in die land of op aarde. Die grondheid van die wye wêreld herinner my elke dag hieraan – dan onthou ek hoe ’n mens die 2 kilometer van die koshuis af skool toe geloop het, en hoe vuil jou voete van die stof in die ongeteerde strate geword het. Stof, soos Petra Müller my vertel, wat jy nooit van jou voete kan afskud nie. Die weer is anders in die Vrystaat. Dis hard en wild en ongenaakbaar, sodat selfs Bloemfontein baie dae, veral in die winter, voel soos ’n woestyn met water. Dis my wêreld."

Oor die invloed wat hierdie Vrystaatse wêreld neerslag in sy poësie vind, verduidelik Gilbert aan Elmari Rautenbach: "Die ruimte waarin ’n digter hom vind, word sy stramien – waarop hy borduur. By my is dit hier en nou die Vrystaat. Die wêreld om die digter staan in die poësie soos ’n pool bo ’n magnetiese naald: Dit is nie die gedig self nie, maar skemer in die gedig, soos iets wat gedurig ontglip, net-net deur. Die digterlike ruimte en die wêreldse ruimte (in Marquard en Bloemfontein) staan eintlik in spanning teenoor mekaar. Hoe beter jy die landstreek met sy mense, dinge, taal en idioom ken, hoe meer vervreem dit jou van die aardse en aardelike bestel. Dis op sy beste maar ’n voortdurende geveg tussen die 'jy' en die ’nie-jy' daarbuite."

Rautenbach het ook melding gemaak van "bloed en die slagveld" wat deurlopend in sy digwerk voorkom en daaroor verduidelik Gibson dat digters wat ook geneeskundiges is, dit maar doen – "jy dink nie daaroor nie. Maar bloed en gevegte en ander metafore vir en van venyn is ’n ander storie. Daaroor dink jy. Oorloë, nie net van buite nie, maar van binne veral. Innerlike demone en tussen-kwaad-en-goed en emosionele terminalisasie en al daai. Dis waarmee digters hul deurposte bestryk."

Oor Vry- skryf Joan Hambidge (Rapport, 16 Augustus 2015) as volg en ook oor Gibson se gedigte in die algemeen: "Gilbert Gibson se gedigte bevat kenmerke van EE Cummings en Gert Vlok Nel. Dit is gedigte wat die skryfproses vooropstel en die leser lei in die proses van skryf: Hierom vind ons aandagstrepe, verbrokkelde reëls, gedronge sintaksis, semantiese eilande en vele ander opsetlike speletjies wat die gedig verklaar tot halfklaar artefak.

"Die leser word uitgenooi om mede-skrywer (mede-speler) te wees. Soms is die geheimenisse obskuur; ander kere kan jy die gedig se sluiting vind in jou aweregse assosiasies.

"Dis moeilik om hierdie bundel op te som. Vry – soos in Vrystaat, vryval, vrywees, liefhê, en al die ander assosiasies soos vrye versvorm, word opgeroep in hierdie bundel. Die gedig as gedig word in ’n komplekse talige wêreld aan die leser voorgestel: soms huiwer dit in die droombestaan; ander kere voel dit vir (hierdie) leser asof ’n mens in die studeerkamer van die digtende dokter staan wat sy eie siening gee van hermeneutiese poësie. (...)

"Gibson se gedigte is nie maklik nie. Hy skryf gekodeerde gedigte. In dié bundel tree hy in gesprek met die kanon: Dikwels is daar net die voorletters van die digter (DJO of vWL of Sheila Cussons of GVN) wat aansluit by hul werk. Hy is immers soos Gert Vlok Nel by uitstek ’n digter wat on-poëtiese gedigte skryf en die leser uitdaag om sy eie betekenis by te sit. (...)

"Dit is ’n bundel vir die speurende leser. Dit is gedigte wat nie dadelik hul geheime prysgee nie, maar wanneer jy dit ontrafel, is dit ’n genoeglike ervaring."

In Beeld van 12 Oktober 2015 skryf Marius Crous dat hy nog altyd gemengde gevoelens oor Gilbert Gibson se digwerk gehad het. Hoewel Gibson gesien word as ’n eksponent van poësie wat ondeurdringbaar is en moeilik lees ("hermetiese poësie"), voel Crous dat sy verse "so swaar gaan aan retoriese oordaad dat hy dié truuks benodig om die gedigte te laat werk".

Crous haal dan vir Alfred Schaffer aan wat op LitNet geskryf het: "Ek ken baie slegte 'moeilike' gedigte, en net so baie slegte 'toeganklike' gedigte. [Die leser se geduld] moet dan wel beloon word - die leser moet aan die einde van die dag nie for a ride gevat word nie."

En dan sluit Crous af: "Hier en daar verras Gibson my as leser met sy beeldspraak en sy eiesoortige manier van dinge beskryf.”

In 2017 verskyn Gilbert se volgende bundel, Die sin van die hut, by Human & Rousseau.

Oor hierdie bundel skryf Bernard Odendaal in Rapport van 11 Februarie 2018 dat die bundel se titel kom uit die motto voorin wat ’n vertaalde aanhaling is uit Gaston Bachelard, ’n Franse filosoof, se boek oor ruimtelike poëtika, waarin die ruimtes in en om die huis die fokuspunt is. "Die huis en onmiddellike omgewing word as ’t ware ’n beeld van die intieme binnelewe van drome, herinnerings, verlangens, en verbeeldingsvlugte – dus ook van hoe dit deur omringende, groter werklikhede geraak word.

"'Sin' en 'hut' is die kernwoorde van dié titel met sy betekenisambivalensies. Naas die binnelewe slaan dit op die aardse verblyf in die breë. Die voorlopigheid, strydvolheid en bedreigdheid van die eie en veral die verhoudingslewe – dus ook die betekenisvolheid daarvan – staan in die kalklig. (...)

"Gibson laat ’n mens, op verskeie, boeiende maniere in sy onderskeie bundels, weer en weer lees om die kloutjie by die oor te (probeer) kry. Of sodoende stééds ’n herbeligting van menslike ervarings in die hand gewerk word, staan myns insiens nie so vas nie."

In Woorde wat weeg beskryf Joan Hambidge Die sin van die hut as "’n ryk, geskakeerde bundel", en op Versindaba sluit Louise Viljoen haar resensie van hierdie bundel as volg af: "Dit het nou al ’n gebruik geword om in resensies te verwys na die feit dat Gibson een van Afrikaans se hermetiese digters is, dat sy werk geheimsinnig en geslote is en dat dit die toegespitste aandag en aktiewe medewerking van die leser vra om ontsluit te word. ’n Vraag wat by die lees van Die sin van die hut by die leser opkom, is waarom Gibson kies om hierdie geslote soort poësie te skryf. Breyten Breytenbach het indertyd in sy tronkmemoir, The true confessions of an albino terrorist, vertel dat hy die gedigte wat hy in die tronk geskryf het, doelbewus ingewikkeld en geslote gemaak het omdat hy nie sy mees intieme en persoonlike gevoelens wou blootlê aan die bewaarders aan wie hy dit moes oorhandig aan die einde van elke dag nie. Dit mag wees dat Gibson doelbewus geslote poësie skryf om ten minste ’n gedeelte van die belewenis (emosioneel, metafisies, sensueel) wat hy in die gedigte probeer vasvang, geheim te hou. Daar is dus iets paradoksaal aan hierdie soort poësie: dit word geskryf en gepubliseer sodat dit gelees kan word, maar daar is terselfdertyd ’n behoefte om iets daarvan privaat te hou en nie álles prys te gee in die gedig nie. Dit is juis hierdie terughoudende element in Gibson se werk wat dit so fassinerend maak vir die leser wat dit wil agterhaal, maar weet dat dit onmoontlik is. Om jou hand te waag aan die interpretasie van ’n geslote bundel soos hierdie is beide ’n waagstuk en ’n avontuur.

"Ten slotte is Die sin van die hut ’n lieflike en diep-melankoliese bundel wat nie anders kan as om die leser te raak nie. Vir die leser wat hom- of haarself wil oorgee aan die droomagtige gang van die verse, die verrassende spronge en metafore, die emosionele intensiteit en die evokatiewe sfeer wat hier opgeroep word, sal dit een van die hoogtepunte van die jaar wees."

En op LitNet skryf Ilse de Korte: "Van die gedigte is by tye ondeurdringbaar en by tye slaan die absolute skoonheid van die betekenis jou weer weg. Dit is soos om buite ’n pragtige huis te staan wat jy slegs deur ’n venster of hier en daar ’n oop deur kan bekyk. Op ’n tafel sien jy miskien ’n pragtige vaas en dan weer net ’n stukkie van ’n skildery. Maar jy weet dit is ’n kunswerk. Jy weet jy wil nog sien en so rek jy jou nek om net dalk ’n beter blik te kry."

Oor sy rol as digter vertel Gilbert aan Elmari Rautenbach: "Ek haal asem omdat ek moet. Ek skryf omdat ek wil. Wat die langtermyngevolg daarvan is, is baie dae vir my onduidelik; vaag. Dit maak jou soos ’n priester in ’n ateïstiese dorpie: iemand met eintlik maar min sosiale mag, maar tog interessant. Die digter moet bo alles die waarheid praat. Eintlik moet ek sê: Die digter moet bo alles ’n waarheid praat. Enige waarheid. Selfs die waarheid gelieg" (Die Burger, 7 Julie 2016).

Publikasies

Publikasie

Boomplaats

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042626 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Protea-prys vir beste digbundel in 2005

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kaplyn

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045489 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

oogensiklopedie

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048312 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie vir Poësie 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

[vii]

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624058847 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: NB-uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vry-

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798170536 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Elisabeth Eybers-prys vir poësie 2016
  • Suid-Afrikaanse Letterkunde-prys vir poësie 2016 (Sala-toekennings)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die sin van die hut

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780798176934 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van artikels oor en deur Gilbert Gibson beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top