Titel: Die kinders van Spookwerwe
Skrywer: Lize Albertyn-du Toit
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798177207
Lize Albertyn-du Toit se debuutroman Die kinders van Spookwerwe (2019) handel oor die Kaliempies-gesin: ouers Mieta en Hennerik en hulle seun Milano, wie se storie in die Bo-Karoo begin en later na die Boland iewers in die 1970’s verskuif. Wanneer hulle lewens onherroeplik deur tragedie verander word, moet hulle leer om vrede te maak met die dood, wat elke aand “met sy koue pote saam in jou kooi” (69) klim.
Mieta Kaliempies is ’n aangrypende karakter waarsonder geen huishouding of boerdery sou kon voortbestaan nie. Mieta is bekend daarvoor dat sy “werk soos ’n masjien” (106), en sy werk omdat dit ’n helende uitwerking op haar het: “hoe harder sy kan werk, hoe beter” (290). Selfs Hennerik spot teen die einde van die roman: “Gee vir Mieta Kaliempies iets om skoon te maak en sy is gelukkig” (241).
Dit is egter nie noodwendig geluk wat Mieta in haar handewerk vind nie. Dit blyk dat sy eerder troos vind in die voorspelbaarheid en patroonmatigheid van werk, wat sterk kontrasteer met die onvoorspelbaarheid van onbeheersde emosies. Een oggend wanneer sy kwaad is vir Hennerik, is dit “[d]ie gewone skoologgendroetine [wat] die prop op haar bottel” (191) hou. Sy maak staat op die patrone in haar lewe wanneer sy sukkel om vrede te maak met iets, soos wanneer sy in rustelose nagte haar breiwerkpatroon in haar kop herhaal: “1 regs, 2 aweregs, 1 regs, brei 3 uit 1, 3 aweregs tesame. 1 regs, 2 aweregs – doen dit twee keer. Dan weer van die begin af: 1 regs, 2 aweregs, 1 regs, brei 3 uit 1, 3 aweregs tesame. 1 regs, 2 aweregs – doen dit twee keer. Oor en oor sê sy dit vir haarself op. Dalk kom die slaap” (69).
Die roman bevestig van die staanspoor af dat die natuur ’n integrale deel van die gesin se bestaan is. Behalwe vir die wyse waarop hulle daagliks met die omgewing omgaan vir hulle oorlewing, word die natuur ook as simbool van erfenis aangebied. Milano leer die geheime van die veld by Geelsuiker, wat op sy beurt by sy eie pa geleer het: “die man wat sy neus leer om die veld te ruik, sal fyn begin ruik. As hy sy oë leer om te kyk, sal hy sien, en as hy sy ore leer om baie goed te hoor, sal hulle hom vertel wat die veld en die wind sê” (154).
Ook vir Mieta is roosmaryn spesifiek ’n belangrike merker van haar erfenis omdat dit haar aan haar pa herinner. Daar was “’n roosmarynplantjie by die agterstoep. Dit onthou sy baie helder, want sy het altyd daaraan gevryf en aan haar hande geruik, net soos [haar pa] gemaak het” (71). Wanneer sy haar eie agterstoep in die Karoo het, stuur Mieta ’n paar takkies roosmaryn saam met kuiergaste wat vertrek omdat “[d]ié tog te lief geraak [het] vir die kruiesmakie so met die vleis saam” (134).
Die roman spog verder ook met aangrypende natuurtonele, en die lewe in die veld word op ’n besonderse wyse uitgebeeld: “’n Akkedis blits onder ’n bos in. ’n Lewerik triedelie vooruit van bos tot bos. Op ’n haak-en-steekbos maak die karoolangstertjie alarm: tjiek-tjiek, tjiek-tjiek. Ragfyn toktokkiespoortjies loop in die sand. Kapokdonsies lê onder graspolle ingewaai. Janfiskaal het sy sprinkaan op ’n driedoring se tak gespies” (147). Die natuurverskynsels word ook op ’n interessante manier met mekaar verbind met metafore soos “[d]ie rooi- en geelvinke is opgepof en hang soos ryp vrugte aan riete en takke, besig om neste te bou” (282), en die “spierwit wolkies [wat wei] soos skaaptroppe tot anderkant die vlakte uit” (117).
Ten slotte is Die kinders van Spookwerwe ’n aangrypende roman wat handel oor die Kaliempies se ontwikkeling as gesin, ten spyte van, maar soms juis te danke aan, die struikelblokke wat oor hulle pad kom. Dit is ’n roerende verhaal wat inderdaad, soos die voorblad beloof, “soos die vaal stof van die Bo-Karoo diep in jou hart kom lê”.


Kommentaar
Ja, die boek was een van my top leeservarings van 2019. Ek hoop die skryfster skryf nog.
Moes die boek twee maal deurlees want kon net nie genoeg kry van die Kaliempies nie. My teruggeneem na my kinderjare op n karooplaas. Ek het elke bladsy ingedrink! Kan nie glo dis haar debuut nie.
Een van die mooiste Afrikaanse boeke wat ek gelees het. Ek sal dit sommer, soos Erna Lochner, weer 'n keer lees. Lize, ek hoop jy skryf nog baie boeke!
Het spesiaal die boek gekoop om nou in "Lock Down" te lees. Ek het lanklaas so 'n lekker gemaklike leeservaring gehad - 'n pragtige storie, en ek lees elke nou en dan eers 'n beskrywing van iets vir my man voor. Baie dankie, dis spesiaal!
Pragtige boek. Het die realistiese beskrywings van die natuur en menslike emosies so geniet. Plaaswerkers is die hart van ’n plaas en so baie hang van hulle af vir ’n suksesvolle boerdery.
Die verhaal behoort vir n prys genomineer te word. Só goed geskryf! Die natuurtonele, beskrywing van afval skoonmaak en jakkalsjag!! Puik!!!