Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Van Afrikaans gepraat deur Christo van Rensburg

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


 

Christo van Rensburg

Christo van Rensburg is een van Suid-Afrika se bekendste linguiste. Hy was veral bekend vir sy werk op Afrikaans se dialekte en sy navorsing op die Afrikaans van die Griekwas, wat hy dikwels saam met Hans du Plessis gedoen is, bly ’n toetssteen in die hedendaagse linguistiek.

Ná hy matrikuleer aan Erasmus Hoërskool in Bronkhorstspruit, onderneem Van Rensburg sy tersiêre opleiding aan die universiteite van Pretoria, Leuven en Marburg. Hy werk as dosent en navorser aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat, die Universiteit van Pretoria en die Noordwes-Universiteit, waar hy tot met sy dood ’n navorsingsgenoot was.

Vir sy omvattende navorsing het Christo van Rensburg vroeër vanjaar, op 18 Junie, die CJ Langenhovenprys vir taalwetenskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Hy was jare lank ook op die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Van Rensburg is oorlede die aand toe hy aan die bladproewe van hierdie boek gewerk het. Hans du Plessis het die projek verder bestuur namens die gesin.

Van Afrikaans gepraat is dus ook ’n viering van Christo van Rensburg se bydrae tot Afrikaans.


 

Opsomming

Van Afrikaans gepraat
Christo van Rensburg
Niefiksie, Sosiolinguistiek
Uitgewer: LAPA

ISBN: 9780799384765

Waar het Afrikaans begin? Wie het eerste Afrikaans gepraat? Was die Kaap regtig Hollands?

Hoe het die Khoi en die Portugese met mekaar handel gedryf?

Watter rol het slawe gespeel in die ontstaan van Afrikaans?

Wat is die invloed van townships op Afrikaans?

Hoe het die verskeie trekke Afrikaans beïnvloed? Die taalkontak wat daaruit gevolg het, of selfs ook die vrees vir taalkontak, is een van Afrikaans se belangrike stories.

Die skryf van Afrikaans het op verskillende maniere begin, met sterk invloede uit die Islam. Afrikaans se standaardisering gaan met heelwat vertellings gepaard.

Van Afrikaans gepraat is ook in Engels beskikbaar as Finding Afrikaans.

Die boeke is moontlik gemaak deur ’n ruim skenking van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en is ’n koproduksie tussen Malan Media en LAPA Uitgewers. Dit word deur LAPA bemark en versprei.

Oor Van Rensburg se vorige boek, So kry ons Afrikaans, het Dr. Willa Boezak gesê: “Dit het my lewe verander. Dit het van my ’n taalaktivis gemaak.”


 

Uittreksel

Ons kan hier begin …

Hoekom verskyn en verdwyn daar vreemde goed so oor die water, sou die vroeë inwoners aan die Kaap, die Kaapse Khoi-Khoin, hulle in die sestiende en sewentiende eeu sekerlik baie keer afgevra het, toe hulle die eerste seilskepe gesien het. En wat wil hulle hê? Die Khoi-Khoin sou dalk ook gewonder het of die antwoorde op hulle vrae ook “ander mense” beteken het, en of daardie mense Khoi sou verstaan. Eers later toe die skepe en hulle bemannings vir kort rukkies aan land begin kom het, sou hulle antwoorde begin kry. Die Kaapse Khoi-Khoin het later self ’n deel van ’n vraag geword, en self ook ’n deel van die antwoord.

Die Khoi-Khoin het seelangs so halfpad tussen Europa en die Ooste gewoon, op ’n gerieflike rusplek vir die seevaarders. Dit was een deel van die antwoord, en daaraan kon hulle niks doen nie. Die skepe wou die Ooste vanuit Europa seelangs bereik, en skaars speserye en ander handelsware weer terugneem Europa toe. Die ou handelsroetes waarmee hulle die Ooste vroeër oor land bereik het, kon nie meer gebruik word nie. Kaap om het die enigste manier geword, en die Kaapse stilhougeleentheid het die lang reis in korter vaarte opgedeel. Dié seereise was onmenslik lank, en het van ses tot agt maande geduur. Die seevaarders kon uitrus, en die siekes kon probeer herstel. Die onderbreking kon help om die sterfgevalle op die skepe te bekamp: Tot soveel as 15%-20% van die uitvaarders wat uit Nederland gekom het, het nooit hulle bestemmings bereik nie.

Wat van vars kos en water? Op die skepe kon kos net vir ’n kort rukkie eetbaar gehou word, en water kon net nie vars bly nie. Om die reis te onderbreek en die voorrade aan te vul, het vir die seevaarders na ’n eersteklasoplossing gelyk wat elke keer kon werk wanneer die lang seereise na die Ooste toe aangepak word, en ook wanneer hulle daarvandaan af terugkom. Hoekom kon hulle nie by die Khoi-Khoin wat veebesitters was, vars vleis kry nie? Dit is die tweede deel van die antwoord. Dit het die Khoi-Khoin betrek by die skepe wat hulle sien verbyvaar het. En by alles wat met so ’n skip saamgeseil het.

Die riviere wat van Tafelberg af see toe geloop het, was ’n oplossing vir die vraag na vars water. Groengoed is van die hange van Tafelberg af gebring, en siek seevaarders kon na die land toe kom, en daar vir ’n tydjie versorg word.

Maar water was nie sommer net vir skep nie. Nie soos in Europa nie. Vir die Khoi-Khoin en vir hulle vee was water ’n belangrike besitting. Iets waarvoor daar geveg kon word! Daar moes onderhandel word voordat iemand daarvan kon deel. ’n Vroeë verbyvaarder, Bartolomeu Dias, het hom in 1488 in die huidige Mosselbaai vasgeloop toe hy besluit het om sy leë watervaatjies te laat volmaak. Hy kon sy situasie nie aan die Khoi-Khoin verstaanbaar verduidelik nie, hulle het die aanvul van sy waterbronne as eiegeregtigheid gesien, was nie daarmee tevrede nie, en het sy matrose van die waterstrome af weggejaag.

Die Portugese was na ons wete die eerste seevaarders uit Europa wat by die Kaap aangedoen het. Ná Dias het Francisco d’Almeida, wat onderkoning van Portugees-Indië was, in 1510 in Tafelbaai aan land gegaan. Dit het vir hom sleg afgeloop. In ’n skermutseling met die Khoi-Khoin het hy en byna 100 lede van sy geselskap die lewe gelaat. Daardie landing was betekenisvol: Vir die seevaarders uit Portugal was dit ’n aanduiding om die Kaap te vermy, hulle het aangedikte verhale oor die wreedheid van die Kapenaars onder die seevaartgemeenskap versprei, en self uit die Kaap weggebly. Sou die Khoi-Khoin vandag ’n Portugese aanleerderstaal gepraat het as die Portugese nie besluit het om die Kaap te vermy nie? Dit is moontlik. Lank ná 1510 was daar nog Kaapse individue wat met Portugese name gespog het, en plekname soos Infantarivier en Saldanhabaai herinner Suid-Afrikaners vandag nog aan daardie toentertydse Portugese besoeke. In die sewentiende eeu is Portugees weer aan die Kaap gehoor, wat nuwe inkomelinge uit die Ooste uit met hulle saamgebring het.

Die Khoi-Khoin het anders na weiding gekyk as na water. Hulle het hulle kuddes vrylik ná die eerste reëns laat wei, en het dan weer voortgegaan, na nuwe weivelde toe. Bos en plante was vir almal se vrye gebruik – allemansgoed. Hulle moes net nie verhoed word om die weiding te gebruik nie!

Verbyvaarders het aangehou om hulle reise te onderbreek en het land toe gekom om voorrade aan te vul of om hulle kragte te herwin. Die Khoi-Khoin kon toe sien hoe die skepe lyk en dat daar mense daarin is, en hulle het agtergekom dat hulle mekaar se tale nie kon verstaan nie. Matrose het ook op ’n keer naby Tafelbaai vir ’n paar maande lank gewag om weer opgepik te word ná ’n stranding. Hulle het mekaar effens beter begin ken.

Van 1795 af het vlote uit Nederland op pad na die Ooste toe verskillende aanmeerplekke aan die suidpunt van Afrika gekry. Tussen 1610 en 1650 het 363 skepe uit Nederland aan die Kaap anker gegooi. Op hierdie skepe het die bemanning, van verskillende herkomsplekke in Europa, die Hollands wat hulle geken het so effektief as moontlik as kommunikasietaal probeer gebruik. Die verskillende groepe Kaapse Khoi-Khoin het al hoe meer vertroud geraak met die taal van hierdie besoekers en hulle gewoontes. Behalwe Nederlands het hulle Engels ook gehoor. In daardie periode het 62 Engelse skepe, naas 23 skepe van ander moondhede, die Kaap besoek.

Die seelui se voortgesette soeke na kos en water het ontmoetings tot gevolg gehad met verreikende taalgevolge. Twee belangrike geboorteplekke van tale, het navorsers al van vroeg af gevind, is handelsplekke en werksplekke. Met Afrikaans was dit nie anders gesteld nie. Die Khoi-Khoin is dikwels met brood en skeepsbeskuit aangemoedig om handelstransaksies op die skepe of in die onmiddellike omgewing van die skepe te beklink. Nuwe woorde is ingespan om sake beter te laat vlot, en is oor en weer gebruik. Die seelui het vroeg in die sewentiende eeu die woord kierie by die Khoi-Khoin geleer, wat ’n verhaal vertel van humeure wat tydens die ruiltransaksies handuit geruk het. Een van die oorsake van die onderonsies? Die handelaars het mekaar nie verstaan nie.

Die Khoi-Khoin het nie sommer hulle beste beeste verruil nie. Die beeste vir ruiltransaksies was nie van skougehalte nie, en is klanknabootsend boebas of bou genoem, ’n nuwe klanknabootsende woord wat die Hollanders sowel as die Khoi-Khoin kon verstaan. Die Khoi- Khoin het hulle spogbeeste gwiessa genoem.

Die begin van Afrikaans

Toe die Khoi-Khoin probeer om Hollandse woorde aan te leer, was dit die begin van Afrikaans. Baie van hierdie Afrikaans het iets van Hollands in gehad, en iets van Khoi. Die woorde het nie fleksie vertoon nie en by die naamwoorde het lidwoorde ontbreek: Enkele van die redes waarom dié taal bekend is as Khoi-Afrikaans. “Alle gedeflecteerde werkwoordsvormen gelden voor mij als ‘Afrikaans’”, het Den Besten oor die identifikasie van die tale in sulke taalkontaksituasies aangevoer (Den Besten 2006:32). Khoi-Afrikaans dateer van 1595 af. Toe die Hollanders wat in die Ooste gaan handel dryf het in 1652 ’n meer permanente halfwegstasie aan die Kaap opgerig het, is Khoi-Afrikaans al vir 50 jaar lank gepraat. Hierdie vyftig jaar was die eerste periode in Afrikaans se geskiedenis. (Van Rensburg (2016) bespreek hierdie periode in meer besonderhede.) In die gesprek oor die geskiedenis van Afrikaans word soms daarop gewys dat Khoi groot invloed op Afrikaans uitgeoefen het. Vir die taalreisiger is die vraag: Hoe kan dit wees as Khoi-Afrikaans dan die eerste Afrikaans was?

Dit was vir besoekers en Europese taalkundiges belangrik om meer van Khoi te weet. Thomas Herbert het in 1626 al ’n lysie van 21 Khoiwoorde en hulle betekenisse opgestel toe die skip waarop hy was vir 19 dae in Tafelbaai vasgemeer het (Nienaber 1963:21). Hy het met ’n vroeëre besoek, terwyl ’n storm hulle na die Kaap toe gedryf het, vir sy pa geskryf hoe bang hy vir die Khoi-Khoin was – wat gewys het hoe ver die Portugese seevaarders se bangmaakstories gestrek het ná die d’Almeidavoorval. Die belangrikste besoeker, wat Afrikaans betref, was De Flacourt. In 1648, op pad na Mauritius toe waar hy Goewerneur was, het hy by Saldanhabaai aangedoen, en ná tien jaar met sy terugkoms het hy vir drie weke daar vertoef. De Flacourt het toe ’n Khoiwoordelys van 221 woorde en frases opgestel, met Franse verklarings. Baie woorde uit Khoi-Afrikaans het ook daarin voorgekom, en is ná spellingaanpassings goed herkenbaar as Afrikaans. Die belangstelling van waarnemers het nie by Khoi-Afrikaans gelê nie: Hulle wou meer van Khoi weet, en van die besondere manier, uit ’n Europese oogpunt, waarop die Khoi-Khoin hulle klanke gevorm en uitgespreek het. Vandag is baie van daardie eerste woorde uit Khoi-Afrikaans steeds deel van Kaaps. Daar is ander wat weer in Standaardafrikaans ingevoer is.

Die woord bro-kwa is al in 1623 opgeteken. Daarin staan bro vir die Hollandse woord brood. Vir die Khoi-Khoin was dit nie maklik om die -d aan die einde van woorde uit te spreek nie. En die tweede woorddeel? Kwa dui in Khoi ’n versameling aan. Die versameling Gri-mense staan steeds as die Grie-kwa bekend. Vir die versameling broodsoorte, brood en skeepsbeskuit, was daar kwalik ’n beter woord as bro-kwa.

En vandag? In die Kaap hoor mens nog gel vir geld, en han vir hand, ’n oorblyfsel van die -d/-t wat die Khoi-Khoin nie aan die einde van woorde uitgespreek het nie. Elias Nel se karakters in die binneland, anderkant die Hottentots-Hollandberge, dra name waarin -kwa soms voorkom, soos Martiens Hessekwa. Die -kwa gedeelte van bro-kwa is later geskryf as -goed, en kom voor in woorde soos ma-goed en Willem-goed. Die Afrikaanse woordelys en spelreëls wat in 2017 verskyn het, erken die gelykwaardigheid van al die soorte Afrikaans, en hulle erken woorde wat op -goed eindig as Standaardafrikaans. ’n Lekker lang geskiedenis wat daardie woorde het, merk ons taalreisiger op.

Woorde soos gee en more wat van Hollands verskil (vgl. geven en morgen) is in die Khoi se Aanleerdersafrikaans opgeteken voordat ander Afrikaanssprekendes dit gebruik het, en is in 1917 in die eerste Afrikaanse woordelys en spelreëls al erken as Standaardafrikaans. Ondersoekers wat nie hierdie data as die oudste Afrikaans beskou nie en na eerste optekenings soek, kry baie optekenings van Afrikaanse woorde eers heelwat later: Die eerste optekening van gee is byvoorbeeld eers in 1812 gemaak. Indien besoekers iets van Hollands ken, maar nie Khoi nie, het die Khoi-Khoin hulle gehelp en ’n Khoi-woord gemaak waarin ’n vertaling ingebou is, soos gee+ma vir gee wat eintlik gee-gee beteken (ma = gee in Khoi). Leeugamka lyk ook so, bestaan vandag nog, en beteken leeu-leeu (ka = rivier).

In hierdie vroeë Khoi-Afrikaans het woorde soos beker, bord, kis, kam, pyp (vir rook), en rug nie van Hollands verskil nie. Siek is gebruik vir slegte tabak.

Dit lyk of die woord mouscap wat uit Afrikaans se eerste periode kom se eerste woorddeel ’n klanknabootsing is. Maar daardie woorddeel wys op ’n verskynsel wat al vir meer as vierhonderd jaar in die Kaap gehoor word waar die -r aan die einde van woorde nie uitgespreek word nie, soos verseke (vir verseker). ’n Mouscap is ’n ooi, ’n moerskaap in Hollands. Nog woorde uit daardie tydperk is ou vir gee, wat vandag dwarsoor Suid- Afrika gehoor word, wata (vir water), en korang (vir koring), woorde met ’n -a- in die eindlettergreep wat baie voorkom in Afrikaans se dialekte.

AHM Scholtz het in 1995 ’n Lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie geskryf, waar daardie -a- ook in die eindlettergreep voorkom.

Is hierdie vroegste Afrikaans ook te sien in Afrikaanse woorde soos doring, garing, horing, karring, lantering, toebehorings, bending (bende), en in die eiename Lawwerskaaing en Maartings? Heel moontlik was dit die gevolg van die manier waarop die Khoi-Khoin Hollands gevelariseer het toe hulle dit aangeleer het, en wat in die volkstaal lank daarna, in die negentiende eeu, nog produktief was. Die bekende taalkundige J du P Scholtz het in 1963 onthou dat daar van die Engelse woord fashion op hierdie manier fessing gemaak is, en die perdekarretjie, die phaeton, is ’n feiting genoem.

Plante met medisinale waarde se Khoiname het wyd bekend geword. Plantkundiges het by matrose van die plante gehoor en so vroeg soos 1611 het hulle soektogte met die hulp van die Khoi-Khoin onder meer dagga (Cannabis) opgelewer. In 1668 is hulle ook aan boegoe bekend gestel. In later jare het inwoners van die Richtersveld vir hulle ’n wortel wat goed is vir slaaploosheid, angstigheid, hoofpyne, maagprobleme, aandagafleibaarheid en kroniese moegheid gewys. Die naam van dié wonderwortel? In Khoi-Afrikaans dra hy baie name, waaronder: balerjan, balerjaar, balderja, balderjaar en balderjan – ’n heerlike rondskuif aan ’n naamlegkaart om hierdie name uit te bring by die Latynse familienaam Valerianaceae (ook valeriaan genoem), wat die Khoi-Khoin by die botaniste gehoor het!

Die Generale Vereenighde Nederlantsche Geoctroijeerde Oostindische Compagnie of die Vereenigde Oost-Indische Compagnie of ook die VOC was een van die invloedrykste maatskappye wat die wêreld nog geken het. Hulle het besluit om in 1652 ’n verversingstasie aan die Kaap te begin, en meer skepe wat in groot vlote saamgeseil het, met groter bemannings wat verskillende tale gepraat het, het aan die Kaap kom oorbly. Net ’n klein groepie VOC-werknemers, sowat 90, het in die begin onder Jan van Riebeeck uit Nederland in die Kaap aangekom. Hulle bestuurstaal, Hollands, het die Kaapse taalverhoog lank gedomineer, hoewel Hollands nooit die algemene spreektaal aan die Kaap was nie. Ander tale is gehoor, en nog nuwe aanleerderstale is begin. Die periode in Afrikaans se geskiedenis van vrye kontak tussen die Khoi-Khoin en die besoekers op die verbygaande skepe het tot ’n einde gekom.

Verskeie moondhede het die Kaap permanent in die oog gehou. Die oplossing wat die Kaap gebied het om lang reise te onderbreek, was een van die redes. ’n Ander rede was sy ligging: Die Kaap was strategies geleë om ook vir militêre doeleindes gebruik te word. Hoe dit ook al sy, al hoe meer mense het steeds by die Kaap aangedoen, en al hoe meer tale is hier gehoor. Party mense het hier kom bly en hulle tale saamgebring. Ander was net vir ’n tydjie besoekers hier, op pad na ander plekke toe, of op pad huis toe nadat hulle om die aarde geseil het.

Die handelsomgewing verander

Tussen 1595 en 1652 het die Khoi-Khoin die gang van die ruiltransaksies van hulle vee en die handelsomgewing bepaal. As die onderhandelings hulle nie geval het nie, het hulle met hulle vee weggetrek van die skepe af. Die periode waartydens die Khoi-Khoin ’n besluitnemende rol kon speel, en die spontane aard van daardie taalkontak, het in 1652 tot ’n einde gekom. Nou het slagters van die VOC na die Khoi-Khoin toe gekom, en die tyd van lekker lang sakekuiers was verby. Die VOC het die kapteins van die Nederlandse skepe opdrag gegee om die nuwe handelspos aan Tafelbaai te ondersteun. Dit het die lukrake en sporadiese ontmoetings kuslangs, met die rondtrekkende groepe Khoi-Khoin wat hulle na willekeur vir ruiltransaksies kom aanmeld het, of die skepe uit nuuskierigheid besoek het, beëindig.

Tolke het ’n al hoe belangriker rol in die meer gestruktureerde veeruiltransaksies begin speel. Wie sou ooit kon sê hoe nuttig die Khoi- Khoin se aanleerderstaal, Khoi-Afrikaans, te pas sou kom? Iemand wat dié taalkennis effektief gebruik het, was Autshumato (Herry), wat uit die vroeë Kaapse geskiedenis goed bekend is. Hy het ook iets van Engels geleer terwyl hy ’n jaar daar deurgebring het. Van Riebeeck het die uiting nosie by hom gehoor en neergeskryf. Wat het Herry probeer sê? Dit was Engels waarmee hy gespog het, en hy het no sir gesê. Interessant is dit dat hy die -r van sir nie uitgespreek het nie, wat by moeskaap (ooi = moerskaap) ook die geval was, en wat vandag nog by baie sprekers van Kaaps die gebruik is. Herry het ’n belangrike nuwe rol as tolk en onderhandelaar vervul. Hy het sy posisie gaandeweg gebruik om beheer te probeer uitoefen oor die handelstransaksies. Moes die Khoi-Khoin se vee dan nie beskerm word nie?

Ander invloedryke Khoi-Khoin, soos Doman, het Herry se voorbeeld gevolg. Doman se naam word dikwels in verband gebring met Dominee, maar in Khoi beteken sy naam stem, wat beter by sy rol as tolk gepas het. Hy was tot aan die einde van 1657 vir ses maande in die Ooste, waarheen Van Riebeeck hom gestuur het, en was soos Herry goed geposisioneer om die VOC se onbillike handelspraktyke met die veebesitters te ondermyn. Hierdie houding het meegebring dat die tolke later belangrike rolle in versetoptredes teen die VOC gespeel het. Doman het ook bande met die Strandlopers gehad, soos Klaas Das ook, en Eva, wat bekend is uit haar opname in die Van Riebeeckhuishouding.

Die belangrikste gevolg van die verandering wat in die handelsomgewing plaasgevind het, was miskien dat die Khoi-Khoin die beheer wat hulle voor 1652 oor die veeruiltransaksies gehad het, moes prysgee. Ná 1652 kon die Khoi-Khoin die veekopers nie ontglip nie, en het hulle mettertyd te veel van hulle vee kwytgeraak. Die besoekende skepe het ’n onversadigbare behoefte aan vleis gehad wat die Khoi-Khoin se veestapel uitgeput het. Schoeman, wat bekend was vir sy argivale navorsing, het bereken dat elke VOC-werknemer ’n halwe kilogram vleis per dag ontvang het, en die bemannings van die skepe en die siekes in die hospitale ook. Honderd en twintig jaar nadat die verversingstasie begin is, het een skip byvoorbeeld 2 500 kg vars vleis gedurende sy aanlêtyd ontvang (Schoeman 2014:83).

Schoeman het ook ’n reeks boeke geskryf oor die “Kolonie aan die Kaap”, soos hy die VOC-nedersetting genoem het, van 1619 af totdat die Britse besetting in 1795 daaraan ’n einde gemaak het. Daardie gebruik van kolonie word hier gevolg. Vleisvoorsiening was een van die faktore wat die sukses van die verversingstasie in die nuwe kolonie help bepaal het. Die Khoi-Khoin het die belangrike handelsvennootstatus wat hulle as veebesitters en vleisvoorsieners geniet het, baie gou verloor. Die gerugte van hulle groot troppe vee wat êrens wei, was nie waar nie, en hulle veestapel was gou uitgeput. Die Kompanjie het hulle toe op hulle eie veekrale verlaat. Die Khoi-Khoin se onbestendige veebesit kon nie die basis vorm waarop ’n volhoubare ekonomie gebou kan word nie, veral nie as die veebesit nie deur ’n ander stabiele inkomstebron gesteun word nie. Bredenkamp (1982) het ’n opmerking gemunt wat dié verandering goed gekarakteriseer het. Hy het gesê die vee-eienaars het sonder hulle vee veewagters geword.

Met hulle verlies aan status as veebesitters, onderlinge tweespalt, nederlae in twee oorloë teen die Kompanjie en die moontlik onregmatige verkoop van hulle grond, pokke-epidemies, en nog ander gebeurtenisse, was die Khoi-Khoin genoodsaak om die funksies wat hulle aanleerderstaal, Khoi-Afrikaans, gebied het, toenemend te ontgin. Met kennis van Khoi- Afrikaans was dit moontlik om by boere ’n bestaan as plaasarbeiders te maak, en as transportryers, smouse, gidse, huishulpe, ens., eers op die buitewyke, en later oor ’n al groterwordende gebied, mettertyd tot diep in die binneland in. Hulle aanleerderstaal, wat vir lank nog naas Khoi as keusetaal gebruik is, was wyd verstaanbaar. Khoi-Afrikaans het hulle kommunikasiemedium geword en ’n deel van hulle daaglikse bestaan, ’n situasie wat meegebring het dat hulle moedertaal al hoe meer op die agtergrond verskuif is.

Khoi of Khoi-Afrikaans? Die Europeërs het aangevoer dat Khoi heeltemal te moeilik was om aan te leer. Hulle het van hulle moedertale se kant af na die groot verskille met Khoi gekyk. Met Khoi-Afrikaans was dit nie die geval nie, daar was ooreenkomste waarby hulle maklik kon aanhaak. Alle tale kan egter aangeleer word. Dit is bekend dat daar van die latere koloniste was wat Khoi goed kon praat. ’n Reisiger, Jacobus Coetsé, het in 1770 tot by Warmbad, in die huidige Namibië, gereis. Hy het Khoi so goed geken dat hy Khoi gepraat het wanneer Afrikaans ook sou deug. Daar was veeboergesinne wat in die agtiende eeu Khoi goed kon praat.

Khoi skrik Europese buitestanders maklik af met sy vreemdheid, byvoorbeeld met sy keelklanke, en die verskillende klapklanke wat mekaar so vinnig kan opvolg. Sulke buitestanders praat dan maklik met afkeer oor die indruk wat Khoi maak, soos mense maar maak oor dinge wat vir hulle totaal vreemd is. Die bekende skryfster Dalene Matthee belig ’n ander kant van Khoi. Sy skryf in ’n boek oor Eva Krotoa se dogter, Pieternella, dié taal klink soos klippertjies wat diep in ’n kleipot skud, met stukkies voëltaal tussenin.

Die Khoi-Khoin was beter gemotiveer as die VOC-personeel om ander tale aan te leer. Een reisiger skryf dat hy in 1671 naby die hawe gereelde gesprekke met ’n Khoi-Khoi in Frans kon voer. Ietwat later, word vertel, kon ’n Khoi-Khoi, Pego, naas Nederlands en Portugees ook verskeie Oosterse tale praat. In ander nedersettingsgebiede het dit ook gebeur dat die nedersettingstaal die doelwittaal geword het. Naas die Kaapse Khoi-Khoin het daar in die sewentiende eeu ook groot getalle Khoi-Khoin in die binneland gewoon, ver van die mark- en die nuwe werksplekke af, in verskillende stamverbande soos hulle eeue lank gelewe het. Daar het Khoi-Afrikaans ook later ’n moedertaal geword.

Die impak van al die nuwe mense in die Kaap op die lewensomstandighede van die Khoi-Khoin het verder gegaan as taalbeïnvloeding. Hoe gaan dit hulle lewenswyse vorentoe raak? Hulle het self daaroor besin, en het hierdie vrae in 1660, tydens die vredesonderhandelinge ná die Eerste Khoi-Khoi-oorlog, self aan Van Riebeeck gevra. Was die gang van sake wat in die Kaap merkbaar was en waaroor hulle ongelukkig gevoel het, werklik noodsaaklik? Net so min as wat Van Riebeeck toe ’n antwoord kon gee, so min kan ons dit vandag gee. Oor die taalgevolge van daardie onvoorsiende kontak tussen die sprekers van die verskillende tale aan die Kaap, het die deelnemers daaraan eintlik maar min te sê. Daardie proses is nog steeds nie uitgespeel nie.

Wat ons vandag darem wel weet, is dat daar in daardie vroeë tyd begin is om Afrikaans te praat.

Watter tale het die koloniste in die beginjare gepraat? In Van Riebeeck se eerste groepie was dit oorwegend Hollands, maar nooit net Hollands nie. Lateraan het al hoe meer mense uit Europese lande aangekom, baie uit Duitsland uit. Toe die koloniste hier aangekom het, was Nederland in ’n oorlog met Engeland gewikkel wat in daardie lande tot ’n ernstige resessie gelei het. Werk in die Ooste was ’n uitkoms vir Europeërs wat van heinde en verre bymekaargeraap is. Hulle kon darem geld verdien, al was dit die lae lone wat die VOC betaal het. Iets was darem beter as niks.

Die Khoi-Khoin-strandlopers is goed bekend uit Van Riebeeck se dagboek. Hy het met empatie oor hulle en ander Khoi-Khoi-individue geskryf, hulle name opgeteken, en hulle familieverbande. Ander goewerneurs het dit nie gedoen nie. Van Riebeeck se dogter het later, tydens ’n Kaapse besoek, baie moeite gedoen om haar vroeëre oppassers op te spoor, waaronder Eva Krotoa. Van Riebeeck se seun Abraham het die Kaap ook besoek. Hy het goewerneur-generaal van Nederlands-Oos- Indië geword, van 1709 af tot met sy dood in 1713. Dit was die hoogste pos in die VOC in die Ooste.

Die Strandlopers wat die 1652-VOC-geselskap raakgeloop het, was verarm deur onderlinge twiste. Vee was rykdom, en hulle het nie meer vee gehad nie. Ander Khoistamme, dieper in langs die Weskus, het meer vee besit, maar was nie die veebaronne wat die Hollanders hulle voorgestel het nie. Ondernemers soos Autshumato en Doman het as tussengangers tussen die Khoi-Khoin en die Hollanders opgetree. Die kontaktaal van die Khoi-Khoin wat van 1595 af dateer, het nie nét ’n marktaal gebly nie. Dit het onderhandelaarsfunksies bygekry en is ook gebruik om geskille wat uit handelsituasies en ernstiger konfliksituasies tussen die Khoi-Khoin en die Hollanders gespruit het, te besleg. Khoi-Khoiwerknemers wat in Hollandse huise gewerk het, sou van die Hollands van die elitewerkgewers aangeleer het. Soos wat dit in ander taalkontaksituasies ook die geval is, het hierdie Khoi- Khoin hulle nuwe kennis onder mekaar uitgestal en hulle vaardigheid in Khoi-Afrikaans uitgebrei.

Die eerste Afrikaans teks

Naas die opgetekende woorde uit die kontak tussen die Khoi-Khoin en die seelui, bestaan daar Khoi-Afrikaanse teksgedeeltes uit die eerste dekades nadat die Kaapse verversingspos begin is.

’n Plantkundige wat ook ’n mediese dokter was, Willem ten Rhyne, het die eerste samehangende sinne van ’n vertelling in Khoi-Afrikaans neergeskryf. Hy het een en twintig jaar ná die Hollanders se koms aan die Kaap, in 1673, vier weke daar deurgebring. Tydens sy Kaapse verblyf het hy met ’n paar Khoi-Khoin vriende gemaak en hulle het mekaar gereeld ontmoet, skryf hy. Dit was drie maande ná die begin van die Tweede Khoi-oorlog van 1673 tot 1677. Ten Rhyne hoor toe van ’n voorval tydens die oorlog waar ’n medevegter van Ten Rhyne se Khoi-Khoi-vriend gesneuwel het. Ten Rhyne, wat nie ’n linguis was nie, het daardie vertelling opgeteken. Die spreker het vertel dat Kompanjiesoldate hom ná sy kameraad se dood met die dood gedreig het. Ten Rhyne het die eerste Khoi-Afrikaanse teks van verskeie sinnetjies met 28 woorde só neergeskryf:

Dat is doet: Was mak-om? Duytsman altyt kall-om: icke Hottentots doot mak-om: Mashy doot, icke strack nae onse groote Kapiteyn toe, die man my soon witte Boeba ge-me.

[Wat is die dood? Wat maak dit saak? Die Hollanders sê altyd: ek maak Hottentotte dood. Maskie! (= Almaskie; alhoewel/ tog). (As ek) Dood (is), (gaan) ek reguit na ons groot kaptein toe. Die man sal my sulke wit osse gee.]

Die spreker was van Khoi-Khoin-herkoms, wat blyk uit sy betrokkenheid by die oorlog, en die taal was redelike goeie Khoi-Afrikaans. Hy dra kennis van die Christelike geloof, wat van blootstelling aan Hollands getuig. Dit val op dat die uitspraak doet (wat afwissel met doot), vandag nog in die Kaap gehoor word, byvoorbeeld in loep x loop. Maskie (heelwaarskynlik uit Portugees) kom vandag ook nog in Kaapstad en omgewing voor. Khoi is gebruik in die woordeindes by mak-om, kall-om en ge-me. Kall(-om) kom van die Engelse call=roep wat uit kontak van voor 1652 met Engelse skeepslui kan kom. Mak en ge is Afrikaans (maak en gee). Die taalkontakspore van Khoi-Afrikaans wys in die uitgang van icke en die vokaal by Kapiteyn waar Khoi nie -p- + -t- (kaptein) uitgespreek het nie, asook in die Khoiwoordvolgorde waar die werkwoord nie ná die onderwerp icke staan nie. Daar is ook ’n klanknabootsing soos wat aanleerders in ’n vroeë stadium gebruik: boeba.

In ander vergelykbare tekste van Khoi-Afrikaans kom ons as vorm vir die onderwerp voor, en die vervoegings by werkwoorde ontbreek, soos in hedendaagse Afrikaans. Vanselfsprekend sou mens sulke vertellings in Khoi-Afrikaans al vóór 1673 ook kon hoor, maar dit is nie opgeteken nie.

Ten Rhyne se optekening is deel van die versameling van die vroegste Afrikaanse tekste wat behoue gebly het. Daar bestaan nog ten minste 11 ander soortgelyke optekenings ook, wat by Ten Rhyne se teks aansluit. Uit 1672, ’n jaar vroeër, is ’n vergelykbare sinnetjie in Khoi- Afrikaans van sewe woorde opgeteken, maar Ten Rhyne se teks is groter van omvang en bevat meer taalbesonderhede.

Hierdie tekste se Afrikaans help dat ons die stukke van die talelegkaart van Afrikaans beter bymekaar kan voeg. Dit kom uit die sentrale gedeelte van die ou nedersetting in die Kaap, en die taalreisiger staan verbaas oor hoeveel reste van vroeë Khoi-Afrikaans steeds daar gehoor kan word.

Lees ook

Van Afrikaans gepraat: ’n onderhoud met Hans du Plessis

LitNet Akademies-resensie-essay: Só maak Afrikaans ons

Die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans

Genadendal: ’n erfenisjuweel

Beginafrikaans

Onderhoud: Waar het die spoor van Afrikaans as onderrigtaal begin?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top