Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis: ’n lesersindruk

  • 0

Drie vroue en ’n meisie
Hans du Plessis
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799386110

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Drie vroue en ’n meisie, deur Hans du Plessis geskryf, is ’n roman wat in 2017 verskyn het en deur LAPA uitgegee is. Die boek bestaan uit 51, deels kort hoofstukke. Oor die algemeen is die lees baie lekker en ’n mens vorder vinnig met die teks. Vir mense wat belangstel om na die storie te luister, sou ek graag aanbeveel om na Maroela Media se webwerf te gaan. Hulle bied ’n boekvoorlesing van die boek, klik hier.

Nou ’n paar woorde oor die boek se voorblad. Daarop pronk ’n meisie – dit is wat mens eerste sien. Verder is daar delwers met hulle gereedskap geïllustreer. Die voorblad met die groot beeld van die meisie het my eers onder die indruk gelaat dat dit ’n romanse is. Moontlik word met hierdie indruk gespeel omdat die boek se ondertitel “Vooroordeel is die een sonde wat niemand onaangeraak laat nie” is. Ek sou egter daarvan gehou het as die voorblad nog drie kleiner beeldjies van vroue van verskillende ouderdomme getoon het wat al hoe meer deursigtig word hoe ouer die vrou is, omdat dit hoofsaaklik oor vroue in verskillende generasies handel. Ons leer Katryn Coetzee se voormoeders ken en hoe hulle in armoede gelewe het.

Dit is Katryn wat by die skryfkundeprofessor se kantoor ingestap kom en sê: “Ek het vir Prof ’n storie om te skryf” (9). Hy het twee bronne: Aan die een kant is daar sy eie pa se herinnerings oor oupa Piet wat inspekteur van onderwys in die destydse Wes-Transvaal was, en aan die ander kant is daar Katryn se ma se aantekeninge. Die professor besluit dan om die storie van die vroue te skryf. Voor Katryn die professor oortuig het om die storie te skryf, moes sy haar ouers oortuig, want hulle was teen die idee van ’n roman gekant. Veral haar pa wou nie hê dat sy vrou al die vernedering moet herleef nie.

In die eerste deel gaan dit om Amléth, Angus Murray se vrou. Albei het sak en pak van Skotland af Miersehoop toe gekom. Angus was ’n delwer, en soos alle delwers probeer hy om ’n diamant te vind wat so groot is soos ’n skaapkop. Veral in die eerste deel word dit duidelik dat die delwer aanhou delf omdat hy dink dat hy net een groot diamant moet vind om van sy sukkelende bestaan bevry te word. Angus sê deurentyd dinge soos:

“Ek gaan verder soek sodat ons een van die dae ryk kan teruggaan huis toe” (26)

“Nog net ’n paar blinkes en ons kan ons kind in Skotland gaan grootmaak” (43).

“Nog net een of twee grotes en ons kan huis toe gaan” (60).

Is dit hoop of begeerte? Alhoewel Angus bewus daarvan is dat diamante ’n mens net “teister en molesteer” (61), hou hy aan delf en sê: “Nog net ’n rukkie en een groot diamant” (67). En Amléth vra vir die soveelste keer: “Is dit regtig die moeite werd om verder te delf?” (67). Angus se antwoord is: “As ek nog net twee goeie diamante kry, gaan ons terug” (67). Lyk my delwers se tydeenheid is diamante, nie maande nie.

Naas al die swaarkry en gesukkel is daar ook mense wat omgee. Daar is die bywoners Gert en Hetta Minnaar; hulle is Afrikaners. Die Skotse Amléth ken nie hulle taal nie, hulle verstaan haar weer nie, maar “respek en liefde hoef nie baie te praat nie” (18). Wat die Murrays en die Minnaars gemeen het, is dat hulle uit ’n laer klas is en weet wat dit is om verwerp te voel. Wanneer Amléth en Hetta by mekaar kuier, haal Amléth haar Victoriaanse teestel uit. Sy het dit van haar ma geërf en dit was al wat sy kon saambring.

Amléth gee geboorte aan ’n dogtertjie wat hulle Cathy noem. Cathy word grootgemaak deur Hetta en Gert Minnaar, want Amléth is oorlede. Al wat sy aan haar dogter kon nalaat, is die Victoriaanse teestel.

Die boek se tweede deel vertel dan Cathy se storie. Na Hetta se dood trou Gert met Stienie Losper. Sy hou daarvan om mense grensloos te irriteer en om tweedrag te saai. Sy het twee dogtertjies. Op die Losper-tonge lê altyd vernedering. Hulle trek in Gert se huis in. Vir Cathy verbeter dinge nie. Sy is die ongewilde stiefkind. Sy moet skoonmaak, kos maak en beleef steeds minagting. Toe sy eendag met haar stiefsusters baklei, val ’n koppie van die Victoriaanse teestel uit haar stiefmoeder se hand en breek. Dit word nog erger. Sy word verkrag en van die man bly net die skoen agter. Daardie skoen help Jopie Deysel, die seun van die plaaseienaars Hennie en Gertruida Deysel, om met Cathy te trou. Hulle het drie kinders: Katrina (Katryn se ma), Hester en Jopie.

Die Lospers moet stad toe trek en Stienie wil die ou teestel saamvat. Cathy is ontsteld, want dis immers haar teestel. ’n Rusie ontstaan waartydens die teepot uit Stienie se hand val. “Stukkend op die vloer. Die slag is soos ’n geweerskoot in Cathy se ore” (180). Nou is daar net twee koppies en ’n gekraakte suikerpot oor.

Jopie Deysel sterf en Cathy trou met Dors Ferreira. Hulle trek stad toe. Cathy het gedink om só van die armoede weg te breek, maar sy word weer teleurgestel. Dors het vir haar gelieg en sy verstaan hoekom hy so gou wou trou. Weer is daar mense wat omgee. ’n Buurvrou help Cathy met koffie, brood en suiker. “As die armes mekaar nie help nie, dan vreet die rykes ons op” (263).

En toe breek Cathy se laaste Victoriaanse koppie. “My laaste ene,” sê sy en druk die laaste stukkie porselein teen haar bors vas (275). Die teestel is ’n tema wat die leser die hele tyd begelei totdat daar niks meer oor is nie – daar bly niks  meer van die Skotse verlede oor nie.

Die boek se derde deel gaan oor Katrina Coetzee, Katryn se ma. Ons kom nie baie oor Katrina te wete nie. Sy vertel ’n bietjie van haar herinnerings van Varkensfontein en die boek kom vinnig tot ’n einde sonder dat daar weer sprake van Cathy is. Dit het my as ’n leser gepla, want die slot is vir my nie afgerond nie. Ek sou liewer meer van Cathy en Katrina wou gelees het as van ’n teenswoordige tugsaak oor ’n professor se verhouding met sy student. Ek verwys na Katryn en haar skryfkundeprofessor wat saam navorsing oor Varkensfontein se mense gedoen het.

Al was ek ’n bietjie teleurgesteld met die einde van die roman, bly dit ’n aangrypende verhaal. Elke keer wanneer ek die boek weer opgetel het, is ek weer direk in die storie in verplaas. Dit mag dalk vreemd klink, maar soms het dit gedurende die lees vir my gevoel asof my gesig met stof bedek is, al het ek op my rusbank gesit en gelees. Ek het saam met die verhaal se karakters koffie gedrink, nagedink en gedroom. Ek bly nou sit met die gevoel dat ek nie net in die grond gedelf het nie, maar ook in mense se lewens. Du Plessis is ’n noukeurige beskrywer van mense en omgewings: “God het geen berge of bosse oorgehad toe Hy die land moes maak” (12); “By ons in Skotland is dit kouer, maar dit voel nie so nie. Hier is die wind droog en onvriendelik, soos die mense” (21); Dit is “soos ’n vyand wat haat” (25). Elkeen van Katryn se voormoeders haat die Hoëveld en dit trek deur die hele boek. Du Plessis se kunsvol-geweefde dialoë beeld mense se verhoudings en geaardhede oortuigend uit. Lesers sal geraak word deur Katryn se voorgeslagte en hulle swaarkry.

Daar is ook raakpunte met die Boereoorlog. Hetta en Gert Minnaar het mekaar in ’n konsentrasiekamp leer ken waar die dood aan die orde van die dag was. Niemand kon terug plaas toe gaan nie, want alles is afgebrand. Al wat oorgebly het, was die verskroeide aarde. Die Minnaars het later uitkoms as bywoners gesoek.

Naas al die swaarkry en armoede is dit egter ook ’n verhaal van twee diamante wat amper honderd jaar later eers by hulle bestemming uitgekom het.

Lees ook:

Drie vroue en ’n meisie: ’n onderhoud met Hans du Plessis

Drie vroue en 'n meisie deur Hans du Plessis: ’n resensie

Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top