Donkerster deur Annerle Barnard: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Donkerster
Skrywer: Annerle Barnard

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637007351

Annerle Barnard kán skryf. Dis nie altemit nie en met hierdie heerlike spanningsverhaal sal sy waarskynlik nóg lesers wen. Donkerster is weliswaar ’n jeugverhaal, maar daar is op die aarde niks wat volwassenes sou keer om dit ook te lees nie.

Die verskeie stories, in het korte

Barnard vleg ’n hele aantal verhale ineen en sy doen dit vernuftig.

Carli is ons hoofkarakter, mooi meisiekind, slim ook. Sy hou nie baie van skool nie, maar Hilda, die skool se grootste nerd, is haar maatjie. Die tweede grootste nerd is Sam. Sy maak met hom ook maats.

  • Carli crush op die skool se krieketheld, wat natuurlik ’n fout is. Maar dis lekker om raakgesien te word. Dis een ding om nerds vir maats te hê, gans iets anders as die hoofhartebreker skielik langs jou kom sit tydens pouses ...
  • Is Carli ’n nerd? Ja. Sy is ’n antistroperaktivis. Sy het baie volgers op die sosiale media en sy werk baie hard, want sy wil ’n veearts word. Meer nog: Sy is maats met Hilda en Sam. Maar Carli is baie sexy ook. Die mooie krieketheld sien haar raak ... Nou ja. Lees maar self.
  • Dan is daar Stef. Hy is al ouer, darem net ses jaar ouer. Carli dink nie dis ’n probleem nie. Hy werk as ’n rekenmeester by sy pa se firma, ry ’n Porsche en lyk soos ’n model. Daar is ’n Rolex aan sy arm. Wanneer hy vir Carli soen, besef sy dat selfs kriekethelde nog baie het om te leer. Ongelukkig dink haar ouers nie Stef is ’n goeie idee nie, wat Stef laat opmerk dat hy nou beter verstaan hoe Romeo en Juliet gevoel het.
  • En moenie van Xander vergeet nie. Hy is ’n nerd met ’n bril. Hy ry amper Carli se troetelvarkie dood. Maar Xander sonder sy bril is deksels sexy.

Oukei. Ek hoop julle raak nou al lus om te weet wat dan gebeur. Nou het ek nog nie eens by die spanningsverhaal uitgekom nie!

Carli is nie verniet besig met ’n veldtog teen stropers nie. Oral om hulle word leeus wreed doodgemaak. Daar is ’n groot sindikaat, wat leeubene verkoop, aan die stroop. Hulle is meedoënloos.

Wie wil die mooi dingetjie se pote afsny? (Foto: Izak de Vries)

Carli se pa is ’n veearts. Hy weet van diere. Hulle het vriende wat leeus rehabiliteer, of op hul plaas aanhou as die roofdiere nie meer vir hulself kan sorg in die veld nie. Is hierdie plaas volgende? Nie as Carli en haar jonger boetie dit kan keer nie! Kan twee skoolkinders egter ’n gewapende bende stop? Lees maar self. Dit gaan ek nie verklap nie.

Skoolsport en skoolsports

Zelda Bezuidenhout se uitstekende roman Quinn se jaar van kwik vertel kaalkop hoe seuns soms saamwerk om meisies lelik tweede te laat kom, alles skynbaar in ’n poging om hul eie gewildheid te laat styg.

In Donkerster neem Barnard dit verder: Wat gebeur as daar meisies ook aan hierdie klub behoort? Wat doen hulle aan ander meisies om hul eie status te verhoog?

Al is Donkerster heeltemal kuis genoeg dat selfs my skoonpa dit sou kon geniet, is nie al die skoolkinders daarin ewe kuis nie. Daar is naakfoto’s wat gestuur en sonder toestemming rondgestuur word en daar is lipstiffiepartytjies. (Ek vermoed selfs my skoonpa sal kan uitwerk hoe ’n ou op een aand ses verskillende lipstiffiemerke op sy ... wel, dáár kan kry.)

Anders as in Quinn se jaar van kwik is dit nie die hoofkarakter nie, maar Carli se beste maatjie Hilda wat besluit die skool se coolste bende, bekend as die Untouchables, is dalk nie onaantasbaar nie; veral nie toe die skool besluit om die meisies te straf en die ouens uit te los nie. Tóé gaan Hilda ballisties.

Lees gerus self.

Pret, met skop

Ek vind dit wonderlik dat skrywers moeite doen om skoolboelies aan te pak. Vir té lank is daar geknipoog as daar gemors word met swakker of onskuldige kinders. Dis lekker as die skynbaar onaantasbare kinders ’n bietjie op hulle neuse moet kyk. Barnard doen dit boonop sonder om in morele wroegsessies te verval. Hilda, ’n vreemde buitestanderkaraktertjie, is sterk genoeg om met die hulp van haar maats die skoolsituasie betekenisvol te beredder, sodat Carli op die hoofstorie kan fokus. Dit is positief, want anders word Carli soos Supervrou wat als kan en moet doen.

Carli se ingewikkelde liefdeslewe word ook besonder knap hanteer.

Die spanningsverhaal stu egter die roman voort; dit is heerlike pret. Ek kon nie ophou lees nie.

Daar is wel goed wat pla: Barnard gebruik haar karakters se dialoog die hele tyd om inligting oor te dra wat eintlik deur ’n verteller, of toneel, geskets moes gebeur. Dit gebeur regdeur die boek en dis gewoon steurend.

Ook is daar ander irritasies, soos ’n ooraanbod van inligting in sekere gevalle. Hoekom die leser moet weet hoeveel ampère Carli se pa se sweismasjien is, of hoe dik die stafies is waarmee sy graag sweis, bly ’n raaisel.

Nie een van die goed wat ek as irriterend ervaar het, neem egter weg van die genot waarmee die storie ontvou nie.

Teen die einde van die teks was ek ’n enorme Carli fan en baie bly oor die keuses wat sy maak.

Die titel

Donkerster se titel kom uit die sterrekunde en verwys na die geweldige energie wat afgegee word deur sterre wat in ’n lewensbedreigende fase van hul bestaan is. Carli se donker energie kom ook onder sulke omstandighede los. Dit alles word ondersteun deur verskeie verwysings na Rainer Maria Rilke se gedigte – wat in ’n Engelse vertaling voorgehou word, al is Hilda Duitssprekend. Sam, wat skynbaar nogal goed is met tale, lees die Engels en so maak Barnard die Engelse teks geloofwaardig.

Donkerster is slim. Dit is ’n heerlike storie en hierdie leser kon nie anders nie as om van die karakters te hou. Selfs Carli se kleinboet is ’n oulike klein blikskottel.

Donkerster is vet pret, ook vir die volwasse leser.

Lees ook:

’n Lesersindruk van Spel deur Annerle Barnard

Gif deur Annerle Barnard en Franco V Heyn: ’n lesersindruk

Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Annerlé Barnard

Die Swartgat | Wetenskapfiksiekompetisie

LitNet wag op jou lesersindruk!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top