Spel
Annerle Barnard
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624092889
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Spel, Annerle Barnard se derde jeugroman en wenner van die goue Sanlam-prys vir jeuglektuur in 2021, het my van die eerste bladsy af meegesleur. Die kleurvolle karakters, boeiende storielyn en temas het gedurig deur my gedagtes gemaal, selfs wanneer ek nie aktief besig was om die boek te lees nie.
Die verhaal speel af in ’n distopiese toekoms waar die mensdom bykans uitgewis is deur oorloë en virusse. Geneties aangepaste mense, bekend as transterrane, kuborge en androïede, regeer die wêreld en misbruik die handjie vol gewone mense wat oorleef het. Alles behoort aan die staat en alle vorme van religie is verbode. Tegnologie word gesien as die oplossing vir alle probleme en selfs die kos is kunsmatig.
Lukas Brand, ’n 17-jarige seun, en sy beste vriend, Dimpho, bedryf ’n bestaansboerdery op Bainsvlei buite Bloemfontein. Hulle leef onder die radar en kweek of aas wat hulle nodig het om te oorleef. Hulle eenvoudige bestaan word omvergewerp wanneer die robotte skielik gevaarlike moordspeletjies met gewone mense begin speel. Hulle ontmoet vir JJ en Jolene, twee tieners op vlug van aggressiewe botte, op een van hulle aastogte en neem hulle plaas toe vir beskerming. Kort voor lank eskaleer die situasie egter so drasties dat hulle gedwing word om die plaas te verlaat. Wat nie een van hulle besef nie, is dat Dakian, die leier van die transterrane, besig is om Lukas en die gebeure rondom hom te manipuleer. Lukas het iets wat Dakian wil hê en Dakian sal nie skroom om te moor en martel om dit te kry nie.
...
Soos in haar vorige boeke gee die skrywer nie aan ’n karakter ’n naam as hy of sy nie ’n geskiedenis het en ’n belangrike bydrae tot die storie maak nie.
...
Hoewel die wêreld van Spel bevolk is met uiteenlopende en interessante karakters, was Lukas by verre my gunsteling. Hy is intelligent en innoverend, maar ook wantrouig met ’n plofbare humeur. Sy worsteling met sy omstandighede en diep vriendskap met Dimpho het my dadelik emosioneel by die verhaal betrek.
Jolene, as vroulike hoofkarakter, is sexy, vurig en onafhanklik. Sy ondersteun Lukas en daar vorm vinnig ’n hegte band tussen hulle. Sy worstel egter met haar eie geheime en trauma. Hoewel ek baie van haar gehou het, het ek soms gesukkel om vat aan haar te kry. Sy het soms te sexy en te perfek gevoel, maar dit was moontlik ’n doelbewuste tegniek van die skrywer, in ag genome haar rol in die klimaks van die verhaal. Ek sou graag ’n opvolgverhaal uit haar perspektief wou lees om haar beter te leer ken.
JJ, as stadsjapie wat sukkel om op die plaas aan te pas, was aanvanklik vreeslik irriterend, maar hy het my later ’n paar keer verras en baie dieper in my hart gekruip as wat ek verwag het. Hy het ook vir Lukas en Jolene aan Romeo, die kuborg, voorgestel wat uiteindelik die rol van ’n ouer broer of vaderfiguur vir hulle aangeneem het.
Dakian, die leier van die Seavissime transterrane, is die personifikasie van boosheid. As hy iets wil hê, kan niks of niemand hom keer nie. Uit die optrede van Julius, sy adjudant, is dit duidelik dat sy onderdane hom uit vrees eerder as lojaliteit gehoorsaam. Boonop is daar ’n vete tussen hom en sy halfbroer Sirio, die leier van die Siriane, ’n ander groep transterrane. Hierdie eienskappe maak hom ’n vreesaanjaende antagonis, maar ek het telkens gewonder presies hoekom hy so boos is. As leser was ek nog altyd geïnteresseerd in booswigte se agtergrond en ek het hierdie ekstra dimensie met Dakian gemis.
Benewens die hoofkarakters word daar deurgaans nuwe karakters in die verhaal ingeweef wat nie net die spanningslyn snaarstyf trek nie, maar ook ekstra dimensie aan die wêreld van Spel verleen. Soos in haar vorige boeke gee die skrywer nie aan ’n karakter ’n naam as hy of sy nie ’n geskiedenis het en ’n belangrike bydrae tot die storie maak nie.
Die taalgebruik en dialoog is geloofwaardig, maar ook gepas vir die wêreld waarin Spel afspeel. Gevatte sêgoed soos “virtual reality se bodem bliksem uit”, “ontspan my maat van yster en plaat” en beskrywings soos “JJ spring by die deur uit soos ’n wurm vrygelaat deur ’n kuberkraker” laat die wêreld lewendig en werklik voel.
Die boek pak verskeie kontemporêre temas soos klassediskriminasie, menseregteskendings en totalitarisme aan, maar die ekologiese tema oorheers en is die spil waarom die hele verhaal draai. Die donker toekoms wat in Spel beskryf word het weke lank by my gespook omdat dit amper onafwendbaar voel veral teen die huidige tempo waarteen ons die planeet en mekaar verniel.
Spel is ’n wonderlike toevoeging tot die Afrikaanse jeugfiksie. Hoewel dit geklassifiseer word as wetenskapsfiksie met fantasie-elemente, is dit gegrond op deeglike navorsing wat dit meer soos realistiese fiksie laat lees. Ek kan dit ten hoogste aanbeveel vir lesers van 14 jaar en ouer. Hoewel jonger tieners ook die boek sal geniet, is daar enkele gewelddadige tonele wat sensitiewe lesers kan ontstel. Hierdie tonele is egter nie besonder lank of grafies nie en belangrik om die wêreld waarin Lukas en sy vriende hulleself bevind realisties uit te beeld.