
Foto: verskaf
’n Dokkie van vyf episodes oor Leon Schuster, die poetsbakker, filmmaker en storieverteller, is tans op kykNET te sien. In die vyf episodes word daar gekyk na Leon se jeugjare in Bloemfontein, sy jare as radio-omroeper en die latere sukses wat hy met rolprente soos You must be joking en Mama Jack behaal het.
Leon is vanjaar by kykNET se jaarlikse Silwerskermtoekennings vir die rolprent- en TV-bedryf vir sy lewenslange bydrae tot die vermaakbedryf vereer.
Hy praat in die dokkie openlik oor die foute wat hy in sy professionele en persoonlike lewe gemaak het en openbaar ’n kant van Leon wat Suid-Afrikaners nie ken nie. Daar is beslis humor en vermaaklike staaltjies en uittreksels wat jou weer sal laat skaterlag, maar daar is ook baie emosie.
“Leon Schuster is ’n nasionale skat en seker naas Madiba, oor generasies heen, die bekendste mens in Suid-Afrika,” sê Rian van Heerden, wat die gespreksvoerder is en wie se produksiemaatskappy, Provoco, die reeks vervaardig het.
Rian sê Leon “was ongetwyfeld een van my gunstelinghelde en ongeag van watter kultuur jy kom, kon hy jou laat lag tot jou maag pyn”.
Maar Leon se eerste woorde in die eerste episode ruk jou: “Charlie Chaplin het gesê hy huil net in die reën, want dan kan niemand sy trane sien nie.”
Dan gaan hy voort: “Jy kan nie vir die publiek wys jy is hartseer nie, want hulle het ’n grapjas-persepsie van jou – iemand wat hulle laat lag. Jy kan nie jou ware gevoelens openbaar nie.”
Hy sit teen kussings in sy sonkamer en erken dat hy nie die huis kan verlaat nie, want twee rugoperasies het hom in voortdurende pyn en sy beweeglikheid is minimaal.
As Rian aan bekendes soos Eddie Eckstein, Carike Keuzenkamp, Jack Parow, Helen Zille, Alfred Ntombela (ook bekend as Shorty), Rob van Vuuren en Desmond Dube vra wat is die eerste gedagte wat by hulle opkom as hulle Leon se naam hoor, is die antwoorde natuurlik – meestal – “grapjas”, “stout ou oom” of “moeilikheid”. Dit is egter die aktivis en aktrise Lillian Dube wat sê dat hy “die deur vir meeste komediante geopen het” en Rob se woorde: “hy is ’n kultuurfenomeen” wat jou laat besef dat hy groter as sy grappe is en hopelik meer van die ware Leon in die dokkie sal wys.
Kenneth Nkosi, die akteur en vervaardiger, sê Leon het alles verander. “Dit was nie net meer oor swart komedie nie, dit was oor Suid-Afrikaanse komedie, want hy het vir almal poetse gebak,” wat sake in perspektief stel.
Leon Schuster het in die tagtigs en negentigs die komedie verskaf toe ons land dit die nodigste gehad het. Ons kon almal vir die lawwigheid lag en vir ’n paar minute vergeet hoe ons land brand.
Ek gesels met Rian (RvH) en Leon (LS) oor die ervaring:
Rian van Heerden
MR: Hoekom het jy besluit om ’n dokkie oor Leon te maak?
RvH: Dit was vir my vreemd dat sy storie nog nooit in diepte vertel is nie. Ek wou graag die uitdaging aanpak om sodoende hopelik sy nalatenskap te verewig.
MR: Hoe lank moes jy hom bearbei voor hy ingestem het en wat was sy besware teen die dokkie?
RvH: Dit het nogal ’n paar maande gevat! Ek dink nie selfverheerliking is in Leon se aard nie en die media het hom oor die jare oorversigtig gemaak.
MR: Hoe lank het jou navorsing geduur en hoe lank was die verfilming?
RvH: Ons navorsing was nogal ekstensief en het etlike maande voortgeduur en aanhou voortduur tydens die produksie. Ons het ongeveer vier maande aan die reeks verfilm.
MR: Het jy iets in jou navorsing opgespoor wat jou verbaas het/ander insigte oor Leon gegee het?
RvH: Ek dink dit was meer tydens die onderhoude dat ek iemand ontdek het wat heeltemal anders is as wat hy in die media voorgestel word, ’n diep siel wat geweldig onseker maar uiters kreatief is.
MR: Hoe het jou persepsie oor Leon verander ná die proses afgehandel is?
RvH: Leon het na die hele proses ’n goeie vriend geword.
MR: Hoekom is dit nodig dat Leon met ’n dokkie vereer word?
RvH: Om die eenvoudige rede dat dit nog nooit behoorlik gedoen is nie. En dit is uiters nodig dat Leon tydens sy leeftyd kan terugkyk op sy lewe en besef wat hy vir die land beteken het.
MR: Wat was die grootste uitdaging en die grootste oorwinning wat jy met hierdie dokkie ervaar het?
RvH: Die grootste uitdaging was om tussen Leon se massiewe hoeveelheid kreatiewe werke die regtes te kies vir die reeks om sy storie behoorlik te vertel. Die oorwinning was om te hoor dat Leon self ingenome is met die reeks (sovêr!).
MR: Wat is jou wens vir Leon en die toekoms?
RvH: Ek wens vir Leon minder pyn toe. En ’n spesiale iemand om sy lewe te deel.
Leon Schuster
MR (aan LS): Wat is jou loopbaanhoogtepunt?
LS: Daar is verskeie hoogtepunte, maar my heel eerste candid movies (You must be joking en Oh Shucks ... It’s Schuster) staan uit, want dis waar my rolprentloopbaan begin het. Oh Schucks ... It’s Schuster het my op die map gesit. So, ek sal altyd dankbaar wees dat mense so mal was daaroor. Maar Mama Jack was die grootste leerskool. Om daai karakter te ontwikkel was ’n ongelooflike uitdaging, maar ek het dit so geniet. Nie almal was mal daaroor nie, maar my hart was in die karakter en ek het ongelooflik baie uit haar geleer.
MR: Watter skets uit al jou films laat jou vandag nog lag?
LS: Beslis die “slang in die taxi”-poets asook die tannie wat my “gedokterde” jogurt probeer!
MR: Hoe voel jy oor die stand van komedie en poetse vandag?
.......
“Poetsfilms het vervaag in die laaste tyd. Ek verstaan nie die rede daarvoor nie. Poetsbak is in ons gene en dit sal nooit ongewild wees by mense nie.” – Leon Schuster
.......
LS: Poetsfilms het vervaag in die laaste tyd. Ek verstaan nie die rede daarvoor nie. Poetsbak is in ons gene en dit sal nooit ongewild wees by mense nie.
MR: Wat was jou grootste uitdaging met die maak van die reeks?
LS: Net om die reeks te maak was die uitdaging! Veral omdat Rian die vrae gevra het en hy doen gewoonlik kontroversiële onderhoude. Ek was bang hy maak ’n swaap van my. Maar ek het die proses op die lang duur baie geniet. Dit was goed vir my siel.
MR: Hoe voel dit noudat die meeste van die episodes uitgesaai is? Voel jy verlig, of blootgestel?
LS: Ek is baie verlig. Alhoewel ek nie hou van selfverheerliking nie.
MR: Jy is 73, waaroor het jy die grootste spyt en waarop is jy die trotsste in jou lewe?
LS: Ek is spyt oor my egskeiding. Ons kon dalk dit maak werk. Ek is die trotsste op “Hie’ kommie Bokke” asook die feit dat ek met my movies dit kon regkry om mense van alle demografieë skouer teen skouer in die teater te laat sit en saam te laat lag.
.......
“Ek is die trotsste op ‘Hie’ kommie Bokke’ asook die feit dat ek met my movies dit kon regkry om mense van alle demografieë skouer teen skouer in die teater te laat sit en saam te laat lag.” – Leon Schuster
.......
MR: Wat is jou wens vir hierdie dokkie?
LS: Ek hoop kykers kry die waarheid. Die rou waarheid. Nie die Schucks-waarheid, Mr Bones-waarheid of Mama Jack-waarheid nie – die Leon-waarheid. Komediante is mense wat gewoonlik vereenselwig word met grapjasse en grapgatte, maar inherent is hulle eintlik baie diep mense. En ek dink ’n bietjie van daai diepte skemer deur.
MR: Wat wil jy nalaat as jy die dag nie meer hier is nie?
LS: Ek wens my liedjies kan voortleef. Dat jong sangers dit eendag kan opneem en sing. Ek hoop ook dat my movies nie sal verdwyn nie en steeds ’n redelike invloed op die Suid-Afrikaanse samelewing sal hê en mense sal saamsnoer.
- Schuster word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook:
Suid-Afrikaanse filmmakers wys hul slag by 13de kykNET Silwerskermfees: ’n feesoorsig
Rian – 16 dinge wat ek nié moes sê nie deur Rian van Heerden: ’n lesersindruk
Agterstories: Waarom is jou baas nie snaaks nie? Die ekonomie van humor in die werksplek

