- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
“Koos kom by die poorte van die hemel aan,” begin ’n bekende Stellenbosse professor onlangs sy toespraak. “Hy is baie bly hy word toegelaat, maar na tyd sien hy ’n skare mense wat wag by die ingang. ‘Waarheen is julle op pad, julle is dan in die hemel?’ vra hy. Een draai om en antwoord bot: ‘Ons wag vir die bus om ons terug te neem na Stellenbosch.’”
Hier en daar lag ’n paar proffies lekker, ’n goed-voel-grappie wat, as mens eerlik moet wees, nie juis die ligte uitslaan nie.
Dit laat my wonder: Is daar ’n wenresep vir ’n goeie grappie? Die bemarkingsghoeroes Peter McGraw en Caleb Warren verduidelik dat suksesvolle humor twee eienskappe het: Dit moet die grense toets van wat aanvaarbaar is, en terselfdertyd moet dit onskuldig of goed-bedoeld wees – goedaardig, sou die Hollanders sê. McGraw en Warren noem dit die onskuldige oortredingsteorie. Dis ’n fyn balans, skryf hulle, wat moeilik te handhaaf is hoe meer divers die gehoor, aangesien dit wat aanvaarbaar is deur mense se persoonlike ervarings, kulturele agtergronde en sosiale norme bepaal word.
Die gevolg is dat baie grappies in die werksplek maar flouerig is, veral as die baas dit vertel.
’n Eenvoudige ekonomiese modelletjie kan ons dalk help om die ware koste van ’n grappie te bereken – ek leen een uit ’n skrywe op die Bet On It-blog. Indien die besluit om ’n grappie te vertel gemodelleer word, sou dit soos volg lyk:
Verwagte waarde = (Waarskynlikheid op ’n suksesvolle grappie x Waarde van ’n suksesvolle grappie) – (Waarskynlikheid om aanstoot te gee x Koste van aanstoot gee)
As jy ’n grappie met jou vriende deel, is die verwagte waarde van ’n suksesvolle grappie sê maar R20. As ’n vriend egter beledig voel deur die grappie, sal dit jou dalk R80 kos. Dus gaan jy net ’n grappie waag as jy ten minste 80% seker is dat dit ’n sukses gaan wees. In die werksplek kan ’n slegte grap jou veel duurder te staan kom. ’n Swak-berekende grappie gaan jou dalk ’n paar duisend rand in sosiale kapitaal onder jou kollegas kos. In die ekstreem kan ’n onvanpaste grap jou jou werk kos – kom ons sê ’n verlies van R500 000 of meer. Skielik moet ’n mens ’n reusekans vat, 50 000 teen 1, as jy wil snaaks wees.
Hierdie model tesame met die onskuldige oortredingsteorie help ons ook om ander voorspellings te maak. Die eerste is dat die koste vir dié bo-aan die korporatiewe leer veel groter is as vir juniors. Dit verklaar dalk waarom jou baas minder snaaks voorkom – dis nie noodwendig weens ’n gebrekkige humorsin nie, maar dalk eerder omdat die ekonomiese boetes vir ’n flater beduidend groter is. Omgekeerd beteken dit dat die snaaksste grappies in jou werksplek waarskynlik teetyd by die interns te vinde is. Hul risiko-berekening laat toe vir ’n wyer foutmarge.
’n Tweede implikasie is dat ’n werksomgewing met mense van uiteenlopende agtergronde tot minder humor sal lei. Werksplekke is vandag meer divers as ooit – in Suid-Afrika en elders. Terwyl diversiteit beslis ’n organisasie verryk, verbreed dit ook die spektrum van wat as aanstootlik beskou kan word. ’n Grappie wat een kollega snaaks kan vind, kan ’n ander een beledig. Hierdie heterogeniteit verhoog dus die potensiële koste in ons ekonomiese modelletjie, wat minder ruimte laat vir eksperimentering.
Verder het sosiale media gelei tot ’n wesenlike verandering in die omgewing waarin humor uitspeel. ’n Grappie is nie meer net beperk tot die kantoor nie; dit kan binne ’n oogwink aan die wye wêreld uitgesaai word, wat die poel van mense wat aanstoot kan neem aansienlik vergroot. Só styg die kostes natuurlik verder, wat die waarskynlikheid om ’n kans te waag in die kiem smoor.
Is die onderdrukking van ’n mens se humorsin in die werksplek nou onvermydelik? Daar is natuurlik baie voordele aan humor: Lag verminder stres, bevorder kreatiwiteit en versterk spansamehorigheid. Dít is waardevolle bates in enige organisasie. Die uitdaging is wel om die fyn lyn te navigeer tussen humor wat verenig en humor wat verdeel.
Hiermee kan ekonome ook dalk help. Ons leer by gedragsekonome dat ons besluite beïnvloed word deur sosiale norme en die gedrag van die mense rondom ons. Deur hierdie norme subtiel te vorm (of te nudge) kan organisasies ’n kultuur vestig waar humor beide veilig en verrykend is.
Neem Nando’s as voorbeeld. Hul advertensies is bekend vir hulle skerp (en soms gewaagde) humor, dikwels grappe met sosiale en politieke temas. Hulle slaag daarin om ’n diverse gehoor te betrek deur te fokus op gedeelde ervarings, maar ook deur sensitief te bly vir kulturele verskille. Kyk maar gerus weer na die “Zulu imposter”-advertensie. Die “indringer” is ’n Duitser, en wie hou nie van ’n grappie oor die Duitsers nie? Veral met hulle herkenbare aksent. Dis snaaks, maar sou dit gewerk het as dit ’n Afrikaanse man was? Dis nie dat jy nie mag spot met Afrikaanse mense nie, natuurlik mag jy, maar dit werk eintlik net as jy vir jouself lag. Kyk byvoorbeeld na hoe LekkeSlaap ’n Afrikaanse stereotipe gebruik om ’n (snaakse) punt te maak.
Advertensies gaan natuurlik deur ’n ellelange proses van goedkeuring. Daar is seer sekerlik baie (snaakse) idees wat afgekeur word omdat dit té naby aan die grens van toelaatbaarheid kom. Maar wat van humor in die teekamer, waar daar nie sulke filters is nie?
Hier kan die fassinerende area van kulturele evolusie dalk help. Teorieë van kulturele evolusie suggereer dat goeie praktyke versprei deur meganismes van variasie, seleksie en oordrag. Humor wat voordelig blyk te wees – deur moraal te verhoog of kliëntebetrokkenheid te verbeter – is meer geneig om binne die organisasie aangeneem en voortgesit te word. Om die poel van (snaakse) idees te vergroot, sou organisasies die beloning vir humor kon verhoog of die koste daarvan kon verlaag. Een voorbeeld hiervan is ’n stelsel wat werknemers beloon vir humoristiese idees wat positief bydra tot die organisasie se doelwitte, soos verhoogde verkope of verbeterde spanmoraal. Of begin dalk ’n “humorlaboratorium” waar werknemers kan eksperimenteer met humor in produkte, dienste of interne kommunikasie, met die doel om innovasie te stimuleer.
Leierskap speel ’n deurslaggewende rol in hierdie evolusionêre proses. Wanneer leiers humor modelleer en aanmoedig, stel hulle ’n voorbeeld wat ander geneig is om te volg. Dit skep ’n positiewe terugvoerkring, wat humor in die organisasie se weefsel inwerk.
Dalk moet ons nie so krities wees oor die professor wat ’n grappie gepleeg het nie. Akademici neem hulself baie ernstig op. Dit kan eintlik net goed wees as ons meer vir onsself lag. ’n Busdiens uit die hemel? Nie as jy in Vrydagmiddag-verkeer vassit nie. Ten minste het jy daarbo al die tyd in die wêreld.