
Gehore kry insigte van die akteurs en vervaardigers met die gesprekke nadat die films vertoon is. Hier sit van die spanlede van Min of meer en Bly.
Woorde: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts met die nuwe Canon R6
Die 13de kykNET Silwerskermfees het die afgelope naweek ’n hoogtepunt bereik met die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks). Natuurlik kon daar net ’n handjievol wenners wees, maar vir vier glansdae by The Bay Ho0tel in Kampsbaai het die land se voorste akteurs, regisseurs, kinematograwe en vervaardigers hul oomblikke van glorie op die blou tapyt geniet.
Die fees is ’n belangrike geleentheid om die Suid-Afrikaanse film- en TV-bedryf uit te bou, gehore te ontwikkel, mentorskap aan jong filmmakers te gee, en plaaslike inhoud – beide nasionaal en internasionaal – te bevorder.
Tina Kruger, feesprogrambestuurder, vertel: “Saam met die wêreld- of Suid-Afrikaanse premières van die jongste rolprente vertoon die Silwerskermfees die werk van jong talent in ’n reeks diverse kortfilms en kort dokumentêre wat met die fees se finansiële ondersteuning en mentorskap vervaardig is.
“Kortfilms deur ervare filmmakers is daarop gemik om gehore te roer en opkomende talent te inspireer. Die propvol feesprogram sluit paneelbesprekings, werkswinkels en bedryfsgerigte meesterklasse in wat deur bekende plaaslike en internasionale kenners aangebied word.
“Die Silwermark bied by die fees die geleentheid vir inpersoon-voorleggings aan beide kykNET en Showmax in ’n verskeidenheid inhoudskategorieë. Die fees wys ook uitgesoekte films elders in Kaapstad, met opwindende gratis gemeenskapsvertonings in minder gegoede woonbuurte.”
Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premiumkanale, sê op die eerste dag dat die films wat hier te sien is, dalk ’n jaar in beplanning is van die SSF se kant, maar vir baie jare as idees en drome bestaan het. “Wat julle hier sien, is ’n samekoms van ’n klomp spanne se gedagtegange oor jare.”
Hy het gesê die kortfilms is die hartklop van die fees en dis “stories wat net moet vertel word”. Hoe reg is hy nie!

Die span van die speelfilm Finding Optel is van links Jesse Brown, Zenobia Kloppers, Rodney Goliath, Maurice Carpede, Euodia Samson en Mikayla Brown. Jesse en Mikayla was die film se regisseur en Mikayla het ook die draaiboek geskryf en die hoofrol gespeel.
Suzaan Keyter, kykNET se publisiteitsbestuurder, berig in ’n onlangse artikel in The Guardian dat jongmense weer terugstroom na fliekteaters. “Die gehore se aptyt is daar; en die projekte is in beweging. Elke jaar se nuwe idees wat aanvaar word, word ontwikkel en op ’n verskeidenheid platforms vertoon.”
In een van die gesprekke word daar aan die vervaardigers en regisseurs gevra watter wenke hulle het vir ander wat ook graag hul films, dokkies of kortfilms op die SSF wil sien. Daar was glo bykans 500 aansoekers om by die SSF betrokke te wees. “Hou aan probeer, en as jou idee nie werk nie, bly skaaf,” kom die antwoord telkemale.
Ek het egter by ’n hele paar kortfilms uitgestap en gedink daar is nog nie genoeg geskaaf nie. Hieronder kom onder meer Die superette, Hier en Bly by my op. Goeie idees, goeie kinematografie, goeie akteurs, maar die storielynne val gruwelik plat.
My gevoel oor die kortfilms en dokkies wat ek wel gesien het, is dat die opkomende filmmakers hulle amper beter van hul taak gekwyt het as hul gevestigde eweknieë.

Die span agter Hen gee insigte na afloop van die vertoning. Van links sit Marianne de Klerk, kykNET-toesigvervaardiger, Nico Scheepers, draaiboekskrywer en regisseur, Chris Lotz, kinematograaf, Chanél Muller, medevervaardiger en aktrise wat ook in My f*k, Marelize! speel, en Regardt Botha.
Elke aand ry ons terug na ons verblyf by die nuut opgeknapte City Lodge Hotel V&A Waterfront, omdat The Bay Hotel propvol glanspersoonlikhede is. In die motor word die dag se flieks bespreek, en oor ’n glas wyn in die pragtige kroeg torring ons ons gedagtes behoorlik uitmekaar.
Ek besef tyd en geld is altyd ’n kwessie, maar ek het al by vorige feeste by kortfilms uitgestap en gewens dié lekkerte kon vir ewig aanhou, omdat dit so geloofwaardig is. Vanjaar was daar minder kortfilms wat my hart gesteel het. Sommige het baie goed begin, soos Kinnetafel, maar halfpad stoom verloor en dan so ’n afgejaagde, onrealistiese einde gehad dat dit my skoon oorbluf het.
Weens tydsbeperkinge kon ons nie Ark, Tussen die kwashale, Totsiens Selina, Engel, Melkbrood, Amazeze enTussen hemel en aarde sien nie. Van dié wat ons wel gesien het, gee ek my indrukke.

Carissa is in verskeie speelfilmkategorieë genomineer, waaronder beste draaiboek en beste regie (Jason Jacobs en Devon Delmar – agter op foto), beste redigering (Devon Delmar), beste speelfilm, en beste aktrise (Gretchen Ramsden voor).
’n Paar wat wel uitstaan:
In die kategorieë vir kortfilms deur gevestigde en opkomende filmmakers maak Min of meer skoonskip met beste draaiboek vir ’n kortfilm (Anél Wood); beste regie (Cindy Swanepoel); beste kortfilm en beste aktrise (Liezl de Kock). Die film vertel die verhaal van ’n egpaar wat die vrou se droom om ’n meermin te wees, met groot deernis omarm. Aanvanklik lyk die storielyn laf en die figure is effe komies, maar die ontknoping onthul ’n groot emosionele litteken en hoe mense op hul eie manier met verlies omgaan. Die onderwerp is met soveel deernis aangepak dat ek met trane uit die teater is.
My gunsteling is egter Alma op pad. Die jaarlikse vakansie vir ’n middelklas gesin breek aan, maar hulle besluit teen hul gewone wegbreek na Voetplaatpark. Alma se ma, wat smag na verandering, bespreek teen haar man se wense vir hulle ’n vakansie by ’n nuwe plek, terwyl die 12-jarige Alma net gefokus is daarop om die hele reis met haar videokamera vas te lê.

Lourens en Charlotte Jacobs, die akteur Luan Jacobs se ouers. Lourens is die hooffokus in die dokkie Verander.
Die nuwe plek is egter nie geskik vir die gesin se behoeftes nie, en ’n reeks teleurstellings volg. Die 12-jarige Alma se begrip vir haar ma is verbasend volwasse, maar wanneer die spanning tussen haar ouers breekpunt bereik, moet Alma besluit wat om te bewaar en wat om te laat gaan.
Daar is soveel van my grootwordjare in die film, van vroeg opstaan vir ver ry vir vakansie, padkos, foto’s en video’s maak, dat dit amper voel soos ons familiefilm. Die skerp angel aan die einde van die film is onverwags, maar geweldig doeltreffend.
My algemene gevoel oor die dokkies by die fees is dat ons filmmakers in ’n paar kort jare baie goeie dokkiemakers geword het.
Maar ook hier het ek ’n stuiwer vir die armbeurs. Al is dit ’n dokkie, het jy ’n rede daarvoor nodig: dalk ’n kort inleiding om te sê hoekom ek moet omgee; waaroor dit gaan; hoekom die dokkie nóú gemaak is; hoekom dit nóú relevant is – ongeag hoe interessant dit is.
Twee waaraan ek nou dink: Gham! Ons het lyn en Verander was uitstekend verfilm, het heerlike pitkos gelewer, en is albei belangrik as deel van ons land se verdeelde (gedeelde) erfenis, maar dit is nie by één van die twee verduidelik hoekom dit kop en skouers bo die ander inskrywings uitgestaan het nie.
Gham! Ons het lyn is ’n intieme kyk binne die wêreld van Die Temple Boys van Ravensmead, wie se virale Afrikaanse treffers in die Gqom-genre eens na ’n ontsnaproete uit die Kaapse Vlakte gelyk het. Drie jaar ná hul TikTok-roem worstel die groep met verbrokkelende drome, identiteit en volwassenheid.

The heart is a muscle wen beste speelfilm en ook beste oorspronklike klankbaan in ’n speelfilm (Tapiwa Musvosvi). Dis die rouste blik op grootword op die Kaapse Vlakte, die kans om effe weg te kom, maar altyd die letsels van jou verlede saam te dra.
Die akteur Luan Jacobs se dokkie, Verander, “volg die emosionele en politieke reis van Lourens Jacobs, voormalige hoof van sekuriteit vir president Nelson Mandela. Dit werp lig op wie Lourens was voor Suid-Afrika se demokratiese oorgang in 1994 en ondersoek sy rol in ’n tyd van politieke spanning en verdeeldheid. Ná die verkiesing word Lourens gekonfronteer met die uitdagende opdrag om Mandela te beskerm – ’n man wat die vorige regering as ’n “terroris” beskou het. Die film delf in die komplekse, dikwels teenstrydige waarhede gedurende sy diens, asook sy lewe ná sy vertrek uit die presidensie. Aan die hart van die verhaal lê die verhouding tussen Lourens en sy seun, Luan – ’n aangrypende verkenning van lojaliteit, botsing en uiteindelike versoening tussen twee generasies”, volgens die feesgids beskrywing.
Ek geniet die ontdekkingsreis waarop Luan saam met sy pa gaan en besef hoe geslote ’n groot deel van hierdie land se pa’s in die ’70’s, ’80’s en ’90’s geleef het (myne ingesluit). Ek wonder of dit bloot die aard van ons lewens, met politieke geheimhouding aan die orde van die dag, was en of die gebrek aan emosionele eerlikheid mans daarvan weerhou het – of onbevoeg gemaak het – om hul emosies te wys. Die film gee ’n goeie oorsig oor die onrus in Suid-Afrika onder die apartheidsregering en die oorgang na demokrasie, maar wys ook hoe gewone mense in moeilike omstandighede hul werk moes verrig.

Zandélle Meyer is aangewys as beste vroulike byspeler in ’n speelfilm vir haar rol in My f*k, Marelize!. Hier staan sy saam met die regte Marelize Horn.
Die dokkie wat my as joernalis baie geïnteresseer het, was Felix by die koppie, wat handel oor die werk van ’n nuusfotograaf, Felix Dlangamandla. As een van Suid-Afrika se voorste fotojoernaliste het hy byna elke groot nuusgebeurtenis gedek. Maar dit is sy ervaring van die Marikana-slagting wat die fokus is van dié dokkie. Dis noodsaaklik dat hierdie stories vasgevang word, want met die sluiting van Beeld (waar Felix werksaam was), het nog ’n nuusstem stil geword, en soos een van die insigte van Alet Pretorius, ’n fotojoernalis, tereg uitlig: “As daar nie joernaliste en fotograwe was wat die storie kon vertel nie, wat sou gebeur as niemand dit gedoen het nie? Dan sou niemand die waarheid geweet het nie.”
Die dokkie Jan Bloed misluk vir my jammerlik, omdat dit ’n gulde geleentheid was om in die kop van ’n bendemoordenaar te klim, maar dit nooit ontgin word nie – oor hoe groot die bendeprobleem werklik is, hoekom kinders by bendes aansluit, en hoe mense só gewetenloos kan moor. Die storie is hol. Daar is darem insigte dat jong kinders wat sonder pa’s grootword, mentors in bendelede vind en dáár soms die enigste liefde en soort van pa-figuur ontdek.
Maar dan kom jy by die dokkie Vet vannie land en die gehoor sit tjoepstil, meegevoer.

Danielle McDonald (vervaardiger en regisseur), Pieter van Wyk en Konrad Raubenheimer (kinematograaf) van die kort dokumentêr, Vet vannie land.
“In die afgeleë, onherbergsame Richtersveld en sukkulente Karoo woed ’n stryd teen tyd en georganiseerde misdaad. Suid-Afrika se unieke, endemiese vetplante word tot op die rand van uitsterwing gestroop, na die Ooste gesmokkel en aanlyn verkoop. En terwyl die internasionale sindikate miljarde dollars in die sak steek, word die plaaslike inwoners ’n appel en ’n ei betaal om hul lewens op die spel te plaas.
“Hierdie kort dokumentêr volg die briljante botanis Pieter van Wyk se pogings om ons land se uniekste ekosisteem teen ineenstorting te beskerm. Saam met toegewyde natuurbewaarders en opgeleide speurhonde word die wêreld van onwettige vetplanthandel ontbloot. Te midde van dié ekologiese ramp, ontvou ’n storie van veerkragtigheid en hoop,” lui die beskrywing.
Vet vannie land staan vir my kop en skouers bo enige ander film – hetsy dokumentêr of nie – uit. Ek was dus verheug toe dit nie net wegstap met pryse vir beste kort dokumentêr nie, maar ook vir beste regie (Danielle McDonald) en beste redigering (Jurg Slabbert).
In die bespreking na afloop van die vertoningvan Bliksems in Bothaville en Vet vannie land is die ster van laasgenoemde dokumentêr, Pieter van Wyk, ook daar.

Neels Clasen speel Tiaan Horn in My f*k, Marelize!.
“The quiet heroism of the botanist,” beskryf die paneelleier die fliek. Danielle het vertel: Toe sy en Konrad Raubenheimer (kinematograaf) in die park aankom, het hulle twee besef hierdie was ’n fout: hier is niks. Tot hulle saam met Pieter in die veld ingaan en alles lewe kry. “Pieter het ons sag gemaak vir die Richtersveld.”
Konrad sê 20 jaar gelede het mense nog aandag gegee as jy praat van uitsterwing, maar nou raak mense gewoond aan die idee. “Dis moeilik genoeg om mense te kry om in ’n halfuur genoeg om te gee oor plante, so ons het maar gehoop hulle gee om oor Pieter.”
Pieter het vertel hy het met ’n bewondering vir die natuur grootgeword maar die afgelope vyf, ses jaar het dit al moeiliker geword om bloot in bewondering te bly, want hy het besef vir baie van hierdie plante en diere is dit die einde. “Nie net vetplantstroping nie, mynbou, ontwikkeling, klimaatsverandering, daar is geweldig groot bedreigings.
“Daar is ’n oorlog en hierdie is net een beeld van een oorlog vir die omgewing. Want daar is baie oorloë, selfs vir mense soos ons wat in die Richtersveld bly. Ons – en veral die Nama-mense – is die armste miljoenêrs.
“Hierdie is besig om uitsonderlik groot te word en dis maar net die begin. Gelukkig is daar hoop. Ek is die karakter in hierdie film, maar daar is honderde mense wat saamwerk.”
Hy het op vrae uit die gehoor oor hoe die publiek kan help om die stroping en uitwissing te voorkom, geantwoord en gesê: “Groei ons uit die moeilikheid uit. Kweek hierdie plante by jou huis, ondersteun jou plaaslike, geakkrediteerde kwekery.”
Die temas wat vanjaar vir my uitgestaan het by die fees: verlies, versugting, drome waaraan jy bo alles moet bly vasklou om te oorleef, is soos ’n goue draad verweef. Dis die rofstoeier Kill Switch oftewel Roger Wilters wat in Bliksems in Bothaville verklaar: “Jy is goed genoeg om die beste te wees. Jy moet nooit ophou droom nie”, wat dit goed verwoord.

Zandré Coetzer, regisseur, en Brett Michael Innes, draaiboekskrywer van My f*k, Marelize!
Ook die meermin-ma in Min of meer se mantra: “Dis beter om teen die stroom te swem, as om in die see van hartseer te verdrink” tref diep. En dan haar gewaarwording dat ons dikwels onbewus is dat die min wat ons het, genoeg was, maar dat ons dit oorgesien het terwyl ons droom vir meer.
Die ma in Alma op pad se woorde dat sy geen lewe het nie, dat daar meer as bloot net die alledaagse moet wees, is ook ’n eggo vir soveel ander films.

In die kategorieë vir kortfilms deur gevestigde en opkomende filmmakers maak Min of meer (plakkaat heel voor) skoonskip met beste draaiboek vir ’n kortfilm (Anél Wood), beste regie (Cindy Swanepoel), beste kortfilm, en beste aktrise (Liezl de Kock).
By die glansryke kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV sê Waldimar daar is ook talle nuwe tendense wat in vanjaar se films merkbaar was. “Die sielkundige gruwel Hen verskuif grense in tegniek, genre en aanslag – ons kan nie wag om die reaksie van gehore te sien nie,” sê hy.
“Terwyl die vere waai in Hen, waai die klere in Showmax se Khaki fever. Met Khaki fever is dit opwindend om te sien hoe stromingsdienste die grense van Afrikaanse vermaak herverbeel.”

Zandélle Meyer is aangewys as beste vroulike byspeler in ’n speelfilm vir haar rol in My f*k, Marelize! – met haar fiets op die blou tapyt.
Hy sien ook in hierdie titels ’n voortgesette entoesiasme om te eksperimenteer. “Dit is belangrik om risiko-aptyt te behou namate ons almal saam planne maak om gehore na teaters terug te lok. Want die heel grootste sonde wat inhoudmakers kan pleeg, is om hul gehore te verveel.”
Waldimar het ook by die toekennings onthul dat ’n dokumentêre reeks oor Leon Schuster vanaf 1 Oktober op kykNET uitgesaai gaan word, en dat talle van sy films vanaf September op M-Net gaan wys.
Die film Finding Optel het my aan Amélie of The Truman Show of Pleasantville herinner. Daar waar mense in ’n veelkleurige roomysagtige wêreld vasgevang is, waar dinge oënskynlik eenvoudig is. Dit was aanvanklik lig en mooi, maar het hier en daar van die spoor afgeval en op die ou einde die hele film vir my bederf. Die nadraai oor waar die hond Optel heen is, was totaal onrealisties en uit pas met die res van die film.
Zandélle Meyer is aangewys as beste vroulike byspeler in ’n speelfilm vir haar rol in My f*k, Marelize!, en Je-ani Swiegelaar is aangewys as beste aktrise in ’n speelfilm vir haar rol in dieselfde film. Die film is ook die feesgunsteling. Soos een man vir my in die skemerte van die saal vertel: “Die chicks het hulle oë uitgehuil. Ek het nie gehuil nie, net lekker gefliek en o so lekker gelag vir daardie paal-vasryery!”

Die Horn-familie op wie My f*k, Marelize! geskoei is, is van links Tiaan, Heidi, Wilmari en Marelize. Hulle het spesiaal afgevlieg om die bloutapytpremière by te woon.
Meer oor die fliek en die mense daaragter hier is hier te lese.
Ek het die film baie geniet, maar dis nie my feesgunsteling nie – dít lê tussen Hen, The heart is a muscle en Carissa, drie baie uiteenlopende films, maar elkeen ’n waardige wenner.
Die beskrywing van die grootworddrama Carissa lui as volg: “’n Jong vrou in ’n dorpie in die Cederberge word uit haar ouma se huis verjaag en beland op die rooibosplaas van haar vervreemde oupa. Sy droom van sukses en opwinding in die stad, maar die plaas verander haar onherroeplik. Wanneer die ontwikkeling van ’n luukse gholflandgoed die voortbestaan van die dorpie en die plaas bedreig, kom sy voor ’n moeilike keuse te staan: Gaan sy haar stadsdrome najaag, of veg vir die behoud van die rooibosplaas?”

Carissa is in verskeie speelfilmkategorieë genomineer, waaronder beste vroulike byspeler (Wilhelmina Hesselman), wat hier saam met Hendrik Kriel poseer. Hulle het die ouma en oupa in Carissa gespeel.
Carissa is in verskeie speelfilmkategorieë genomineer, waaronder beste draaiboek en beste regie (Jason Jacobs en Devon Delmar), beste oorspronklike klankbaan (Frazer Barry, Devon Delmar en Mikhaila Alyssa Smith), beste klankontwerp (Tim Pringle), beste redigering (Devon Delmar), beste kinematografie (Gray Kotzé), beste kostuumontwerp (Cleveland Hopp), beste produksieontwerp (Cleveland Hopp), beste manlike byspeler (Elton Landrew), beste vroulike byspeler (Wilhelmina Hesselman), beste speelfilm, en beste aktrise (Gretchen Ramsden).
Gretchen se vertolking van ’n jong meisie wat doelloos deur die lewe voortstrompel en onvermydelik afstuur op dieselfde bose kringloop van alkoholmisbruik, swangerskap en vasgevang bly, het my hart gebreek. Haar drome is vir die groot stad, maar sonder opleiding of ondervinding van enige aard sou sy ook daar heel moontlik deur die lewe ingesluk word. Carissa se storie is alle jong meisies wat in arm gemeenskappe vasgevang is, se storie.
En dan kom jy by Hen en jy sien dat jy met ’n meesterstorieverteller te make het.

Die span agter die speelfilm My f*k, Marelize!
Dit het nie verniet bykans al die kategorieë vir speelfilms ingepalm nie: beste akteur (Stian Bam), beste draaiboek en regie (Nico Scheepers), beste klankontwerp (Tim Pringle), beste kinematografie (Chris Lotz), beste redigering (Regardt Botha), beste grimering en haarstilering (Jolene Cilliers), en beste kostuumontwerp (Sulet Meintjes).
Aanvanklik het ek gedink dit moes ook beste film wees vanjaar, maar Nico se woorde in die paneelbespreking na die tyd dat hierdie nie ’n fliek vir almal is nie, slaan die spyker op sy kop: “Maar ek het besef ek moet films maak wat ek wil kyk en dis hoe hierdie fliek gebeur het.”

Die viermanskap van Die Temple Boys van Ravensmead, wie se virale Afrikaanse treffers in die Gqom-genre die wêreld op hol het, se storie is vertel in Gham! Ons het lyn. Hier is hulle saam met ander lede van die filmspan voor die vertoning.
Toe hy gevra word watter genre die film is en wat die boodskap daaragter is, het hy bloot gesê dis storiegif as jy besluit op die boodskap en vir mense wil sê wat hulle moet sien en ervaar.
Ek volstaan hier met ’n twiet wat ek tydens die fees gestuur het: “Die blou tapyt en springmielie-boksies wag, tabberds gestoom vir vanaand se première van unieke Afr fliek – swart en wit nogal. Is dit distopies of gruwel of bonatuurlik. Besluit jy. Maar weet: Nico Scheepers is aan die stuur. (Die skakel bied meer agtergrond oor waaroor die fliek gaan en wat die denkproses daaragter was.)

Die keuses van kortfilms, dokkies en speelfilms was lekker divers vanjaar.
The heart is a muscle wen beste speelfilm en ook beste oorspronklike klankbaan in ’n speelfilm (Tapiwa Musvosvi). Dis die rouste blik op grootword op die Kaapse Vlakte; die kans om effe weg te kom, maar altyd die letsels van jou verlede saam te dra.
Die beskrywing lees: “’n Groep vriende in Kaapstad geniet ’n braai saam, maar die dag word ontwrig toe Ryan se seun vermis raak. Dit lei tot ’n reeks voorvalle oor die naweek wat spanning in Ryan se vriendskappe en huwelik veroorsaak. Ryan se destruktiewe optrede terwyl hy desperaat na sy seun soek, veroorsaak verdere argumente. Onbekende gebeure uit die verlede word onthul, terwyl Ryan homself in die een moeilike situasie ná die ander bevind, ten spyte van sy beste bedoelings. The heart is a muscle is ’n humanistiese drama oor die genesing van trauma, wat van generasie tot generasie oorgedra word, en vergifnis. Dis die storie van ’n man wat leer dat om ’n beter pa, eggenoot en vriend te wees, hy eers moet leer om homself te vergewe.”

Die twee sussies in die Horn-familie se regte én filmlewe is van links die aktrise Nichola Viviers en die ware sussie, Wilmari.
Dit skakel goed in by die boodskap van Jan Bloed en hoe die sondes van jou vaders jou nooit verlaat nie. En hoe die afwesigheid van goeie mentors en pa-figure die samelewing van binne uitkalf.
Iets wat wel vanjaar vir my uitgestaan het, is die tersaaklike temas wat filmmakers gekies het: van grootword op die platteland, bendegeweld, polisiebrutaliteit en mishandeling in ’n huwelik tot die kankerstryd en die effek wat dit op gesinne het, en die verlies aan ’n geliefde. Baie sosiale kwessies wat ons mens maak, is op deernisvolle en insiggewende maniere aangespreek.
Film en teater is die spieël van ons samelewing, en dis lekker om te sien hoe jong filmmakers die kwessies hul eie maak, en op baie interessante maniere. Luister byvoorbeeld na die woorde van die hoofkarakter in Hen waar hy bid voor ’n kruis teen die muur: “Beskerm ons teen dit wat ons weet en dit wat ons nie weet nie.”
Dis die woorde van The National Film and Video Foundation Fund se insetsel wat dit saamvat: “When stories are no longer told and retold, the people are forgotten ...”

Elkeen verdien ’n ster op die blou tapyt.
Lees ook:

