
https://silwerskermfees.co.za/digital%20films/feature-film-hen/
Die Silwerskermfees skop op 20 Augustus by die Bay Hotel in Kampsbaai af en een van die ses speelfilms is Hen, ’n nuwe film uit die pen van skrywer en regisseur Nico Scheepers. Die persverklaring beskryf dit as “’n kyk-ervaring wat lank ná die eindkrediete klaar gerol het, steeds by kykers sal spook. Wanneer Dawid (Stian Bam) in die veld op ’n familietragedie afkom, maak hy ’n skokkende ontdekking in ’n houtkrat. Wat volg is donker, vreemd en gevul met onsekerheid.”
Hen is ’n psigologiese gruwel wat op ’n afgeleë plaas afspeel, waar ’n gesin die vure aan die brand moet hou teen die donker. Dit is ’n skerp besinning oor oorlewing in die middel van nêrens – en die fyn grens tussen lewe en dood.
Saam met Stian in die rolverdeling is Dawian van der Westhuizen, Amalia Uys, Marelize Viljoen en Anoecha Kruger. Die kinematograaf is Chris Lotz.
Die film is in sy totaliteit in wit en swart geskiet en mens is onseker oor die presiese tydperk waarin dit afspeel. Is dit bloot ’n tyd van versengende hitte en droogte op ’n afgeleë plaas; is dit post-apokalipties, of dalk iewers in die verre toekoms wanneer elektrisiteit, brandstof en kosvoorrade só skaars is dat mense maar net moet oorleef op waarop hulle hul hande kan lê?
Dat daar onheil in die lug is, voel jy van die openingstoneel aan.
Nico Scheepers is ’n veelsydige teatermaker, skrywer, televisiereeks-vervaardiger en het geen bekendstelling nodig nie. Sy oog vir die kamera is fyn geslyp. Dink maar aan sy bekroonde én geliefde reekse, Donkerbos en Nêrens Noord-Kaap.
Vrae aan Nico en Chris:
MR: Dis nie die eerste keer dat jy en Chris saamwerk nie. Hoe het jul paadjies gekruis?
NS: Toe ons besig was om die span aanmekaar te sit vir Nêrens, Noord-Kaap Deel 1, het ek geweet ons gaan met kinders werk, en in moeilike rolle wat baie van almal gaan vra. Dit was my eerste keer op stel en mens hoor gruwelstories oor sekere mense in ons industrie se ego’s ... So, my enigste vereiste was, ek is op soek na ’n DOP wat gaaf is en nie skree nie. En as hy dan ook nog goed is met sy werk, is dit ’n bonus. Chanél Muller (ons vervaardiger) cast altyd haar tegniese spanne nes ons akteurs cast, en sy is ’n meester met dit. Sy het geweet ek en Chris is eende van dieselfde dam. Die feit dat ons op Nêrens Deel 1 en 2, Donkerbos en Hen nog amper presies dieselfde span is, spreek boekdele. If it ain’t broke.
MR: Wat het jy geniet van die manier waarop Chris kamerawerk in vorige projekte aangepak het en het jy van die begin geweet hy gaan die kinematograaf vir Hen wees?
NS: Vanaf die eerste keer dat ek en Chris saam op stel was (Nêrens, Noord-Kaap Deel 1, soos hierbo genoem) het ek geweet ons gaan vir baie jare saamwerk. Meer as sy talent en insig, gaan dit oor ons verhouding: Ons verstaan mekaar. Dieselfde geld vir die res van die span. Om langs hartsmense op ’n stel te staan, waar jou respek vir hulle begin lank vóór hulle ’n kamera optel, of ’n lig verstel – integriteit, eerlikheid en gaafheid. Ek glo dit is waar die regte magic begin. En dit wys op die skerm.
MR: Hen is heeltemal in swart en wit verfilm, wat raar is. Buiten die visuele trefkrag, maak die afwesigheid van kleur sekere tonele selfs meer ontstellend. Hoekom dié besluit?
NS: Ons het baie vroeg besluit om Hen in swart en wit te verfilm. Kleur sou te veel verduidelik, te veel versag. Weg is die warm rooi van bloed of sonlig wat die veld mooi maak. Jy’t bloot tekstuur, beweging en stilte. Dit dwing ’n mens om nader te kyk. Die slagtoneel, byvoorbeeld: Jy is veel meer ingestel op die klanke, die handelinge, die ritueel daarvan. En juis die afwesigheid van kleur laat jou verbeelding harder werk. Dit maak die toneel amper meer ontstellend, want wat jy nie sien nie, spook harder. Ons wou hê die visuele styl moes ’n sekere nugterheid, selfs heiligheid, aan die wêreld gee, asof jy na iets kyk wat lankal verby is, soos ’n droom of ’n herinnering wat jy nie kan losskud nie.
CL: Nico het swart en wit vroeg reeds voorgestel en ek kon dadelik voel dit sou werk. Elke iterasie van die draaiboek wat ek daarna gelees het, het ek dit in swart en wit verbeel en dit het net gepas. Ek kon nie altyd my vinger daarop lê hoekom dit werk nie, maar filmmaak is immers dikwels ’n intuïtiewe proses. Ek glo een van die redes waarom dit werk is as gevolg van die afgeskaalde storievertellingsformaat van Hen. Die storie is so gebrekkig aan oorverduideliking en deur kleur weg te neem, ondersteun dit hierdie idee baie. Dit maak ook die misterie van die tydperk nog meer eienaardig.
MR: Die eerste woorde word eers ná 18 minute gehoor. Wat het jou daartoe gelei om taal só lank terug te hou, en watter rol speel stilte vir jou in die film se emosionele en psigologiese landskap?
NS: Ek dink stilte is ’n wapen om in te span in ’n film soos hierdie een. Daar is spanning in stilte. Afwagting. Vrede. Onheil. Die film was ’n poging om die tekstuur van die klank, die visuele, te gebruik om die storie te vertel, veel eerder as dialoog. Ek vind die stilte van isolasie veel meer vreesaanjaend as ’n jump scare. Daar is ’n groot verskil tussen ’n goedkoop fisiologiese skrik en iets wat stadig soos ’n maaier in jou kop inboor.
MR: Hen begin as ’n eenvoudige reddingsverhaal en verander stadig in iets dierliks en mities. Vertel?
NS: Die film volg nie ’n tradisionele (Hollywood-) struktuur nie, en die konflik ontstaan eerder uit die geleidelike afbreek van die gehoor se verwagtinge. Ek wou iets maak wat soos een lang stuk doringdraad al stywer span, totdat dit uiteindelik knak en dalk nie al die antwoorde gee wat mens verwag nie. Die verskuiwing van geestelik na primitief is vir my onafskeidbaar van die alledaagse menslike bestaan. Aan die binnekant is ons almal diere. Ons dink, eet, het lief en vernietig, omdat dit eenvoudig in ons aard is. Hen wys wat gebeur wanneer al die wagte by die poorte verdwyn.
MR: Die hoenders in Hen is meer as net agtergrond. Wat het jou daartoe gelei om juis die hen as sentrale beeld en titel te kies?
NS: Ek het op ’n plaas grootgeword en wou die onderhandeling tussen lewe en dood op ’n plaaswerf aanspreek. Ek is van kleins af geleer om te moor, want ons moes eet. Ek het nie trauma hieroor nie en geniet tot vandag toe vleis in al sy vorme. Dit is biltong se skuld dat ek nooit ’n vegetariër sal kan wees nie. Maar hierdie kontrak met oorlewing en hoe maklik dit is om die sneller te trek ... ’n lem oor ’n dier se keel ... hoe mens met vet om die bek lag met ’n vol maag, blind vir die dood wat jou hande kan bring omdat jy gevoer is ... Ek vind dít fassinerend. Ek het toe uiteindelik op hoenders besluit oor die inherente simbole van eiers en geboorte, van kloue, vere, moeders en kinders, om só moeiteloos parallelle te skep in hierdie sirkel van plaaslewe.
MR: Hoe het julle die plaas waarop verfilm is gevind en het jy die teks rondom die bestaande geboue gevorm, of andersom, of moes daar goed soos die hoenderhok ekstra bygevoeg word?
Hen is verfilm op ’n meer afgeleë deel van dieselfde plaas waar ons Nêrens verfilm het. Ons het ná 26 episodes in daardie wêreld só lief geraak vir die plaaslike gemeenskap, ons kon nie help om dit weer te gaan doen nie. Die eindelose horisonne en die liefde van die mense daar ... Maar die plek waar ons Hen verfilm het was bietjie anders as Nêrens. 50 km in elke rigting van die naaste beskawing, geen sein, lopende water of elektrisiteit nie en 45 grade in die son. So ja, ons het ’n hele paar dinge nodig gekry om hierdie masjien te laat loop. Die huis waarin ons geskiet het is verlate, en ons het die hoenderhok ontwerp en gebou vir die film. Ek het die film spesifiek vir hierdie huis en hierdie landskappe geskryf.
MR: Op watter stadium in die proses het jy op wit en swart besluit en watter uitdagings het dit aan jou as vervaardiger en regisseur gebring wat jy dalk nie verwag het / nie uitdagings is wat kleurfilm bring nie?
NS: Ons het van die begin af geweet. As mens só kans kry, dink jy nie twee keer nie. Die tekstuur wat hierdie tipe kinematografie aan die storiewêreld gee is verbysterend en was perfek vir Hen. Die son brand warmer en kouer terselfdetyd. Mens moet heeltemal anders aan die kleur van kostuums en grimering dink, so die voorbereiding lyk anders. Maar dit was die regte besluit. Elke druppel van hierdie ongelooflike span se sweet en lang trane is op die skerm – ek kan nie wag dat mense dit beleef nie.

https://silwerskermfees.co.za/digital%20films/feature-film-hen/
Chris Lotz het 30 jaar ervaring as kinematograaf en het verskeie toekennings vir beste kinematografie op sy kerfstok. Hy was die fyn kamera-oog agter ’n gros internasionale televisieprogramme, advertensies en Suid-Afrikaanse dokkies, waaronder Jan (seisoene 1–4) en realiteitsprogramme soos MasterChef SA (seisoen 4 en 5) en al die Kokkedoor-seisoene.
Deesdae is die oorgrote meerderheid van sy werk narratiewe reekse, soos Niggies, Donkerbos (Berlinale Series Selection), Nêrens, Noord-Kaap Deel 1 en 2 en Skemerdans. Die lys kort- en speelfilms waaraan hy gewerk het is langer as sy arm, maar dis The endless river waarop hy regtig die trotsste is.
MR: Wat was die hoofgedagtes oor die kinematografiese ontwerp wat die film gelei het?
CL: Nico en ek het vir iets visueel eenvoudig, strak en klassiek gegaan. Spanning en misterie was alles, so ons het die gehoor net die absoluut noodsaaklike binne die beelde gewys. Ons wou nie die gehoor met ’n lepel voer nie, maar wou eerder die gehoor betrek deur hulle toe te laat om die gapings in hul gedagtes in te vul.
........
Spanning en misterie was alles, so ons het die gehoor net die absoluut noodsaaklike binne die beelde gewys. Ons wou nie die gehoor met ’n lepel voer nie, maar wou eerder die gehoor betrek deur hulle toe te laat om die gapings in hul gedagtes in te vul.
.........
Dit is visuele storievertelling op sy beste. Duisternis en kontras in die beelde was belangrik om voor die hand liggende redes: Daar moes ’n gevoel van die onbekende wees wat onsekerheid meebring en weer bydra tot die spanning van die stuk. Oor die algemeen moes dit ook heeltemal natuurlik en gegrond voel, om die baie eenvoudige leefstyl van die karakters te ondersteun.
MR: Watter uitdagings het die verfilming gebied wat nie met kleur die geval is nie?
CL: Swart en wit was nie eintlik ’n uitdaging om in te werk nie, maar eerder ’n eenvoudiger medium vir my waar ek slegs op komposisie en vorm gefokus het. Die vorm kom natuurlik van die manier waarop lig van voorwerpe in die raam af weerkaats. En om lig te gebruik om dinge te vorm is my absolute gunstelingdeel van skietwerk. Die enigste klein dingetjie wat ek kan sê wat ’n uitdaging was, was dat die omgewing BAIE warm was en swart en wit dit nie regtig oorgedra het nie. Die gehoor sou dit dus moes aflei uit hittewaas en sweet op die karakters se gesigte en uit die tekstuur van die landskap.
MR: Watter voordele het monochroom ingehou om hierdie genre beter toe te lig?
CL: Met monochroom kan jy meer effektief met lig en donker speel. Dit sal ons toelaat om ’n grieseligheid en misterie binne die beelde te skep.
MR: Het jy enige inspirasie / idees gekry uit ander (wit en swart) films oor ’n spesifieke gevoel, en indien wel, watter films?
CL: Nico en ek het ’n aantal swart en wit films gekyk om inspirasie te put en om die soort swart en wit te vind waarna ons gesoek het. Ek sou sê die films van Tarkovsky het ons die meeste geïnspireer, veral Ivan’s childhood.
MR: Wat dink jy is die sukses van monochroom in hierdie storie?
CL: Ek dink die afgeskaalde aard van swart en wit en hoe dit die idee van eenvoudige visuele storievertelling ondersteun het die grootste impak gehad op hoe die gehore voel wanneer hulle daarna kyk. In ’n sekere sin word slegs die nodige visuele inligting met die kyker gedeel.
MR: Hoe voel jy oor die eindproduk?
CL: Ek is regtig tevrede met hoe die film uitgekom het en baie trots op wat ons bereik het. Die film is nie vir almal nie, maar gelukkig was dit nooit die bedoeling nie. Ek dink diegene wat daarvan hou, sal REGTIG daarvan hou.
- Hen is op 21 Augustus om 20:00 in die Rotunda te sien en weer Saterdag om 15:15. Vir die volledige Silwerskermfees-program, besoek die fees se webwerf: www.silwerskermfees.co.za.
Lees ook: